Gesoek: Beter teologie en ‘radikale stuff’

Die Bybel is wysheid van 2 000 jaar, sê Piet Naudé. En dominees se werk is om dit te interpreteer, aldus dié teoloog wat deesdae aan die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool verbonde is. Maar het die kerk genoeg kundigheid oor kapitaal-vorming, belasting, beurse en die stelsels wat die radikale verdeling van rykdom in Suid-Afrika instandhou? Hy het aan Le Roux Schoeman gesê:


Die kerk is oor die algemeen baie goed om sigbare, onmiddellike nood te verlig. Soos ’n ambulansdiens. ’n Plek brand af en die kerk kom gee kos. Daar is straatkinders en die kerk neem hulle in die middae in vir skool. Maar die kerk is nie so goed om die strukture in die ekonomie aan te spreek wat die oorsaak van baie van die armoede is nie. En dit is ’n komplekse ding. Ek neem die kerk nie kwalik nie. Jy moet iets weet van ekonomie, jy moet iets weet van sosiale ontwikkeling om regtig ’n bydra te maak.

Die Duitse kerk, byvoorbeeld, of die Amerikaan­se Katolieke biskoppe maak aktief gebruik van hoogs ge­skoolde kundiges in die ekonomie voordat hulle aan­be­velings maak – oor die bankkrisis of digitale gaping. Hulle is baie, baie goed ingelig maar ook nog gerug­steun met goeie teologie. In Suid-Afrika, in ons teologiese opleiding, lê ons swaar klem op filosofiese en taal­kundige kundigheid. Maar ons is byna analfabeties as dit kom by ekonomiese kundigheid. En die oomblik as jy by ongelykheidsdebatte kom, is jy uit jou diepte. Wat die kerk moet aanleer is om die kundigheid wat in ons eie of net buite ons eie geledere beskikbaar is, in te koop om ons te help om beter daaroor te dink. Ons is swak om daardie netwerke te bou wat be­te­ken ons kapasiteit om die strukture aan te spreek is baie swakker as ons kapasiteit om op die oog af vinnig te help … wat nie sleg is nie, maar dit het nie ’n langtermyn effek nie.

Die geheim is jy moet teologiestudente oplei om die Bybel te lees en die konteks te lees. Jy moet jou eie tradisie verstaan. Vakke soos Nuwe Testament, Ou Tes­tament, Kerkgeskiedenis … absoluut crucial … maar dan moet jy kyk hoe die konteks om jou skuif. En in vandag se samelewing is daar twee goed wat, as jy dit nie verstaan nie, jy gaan sukkel om teologies te interpreteer wat aangaan. Die een is ekonomie of ekonomiese stelsels. Die tweede is die totale kommunikasierevolusie wat plaasvind rondom sosiale media, die internet … Daar is net nie ’n manier hoe jy volwaardige kontekstuele teologie kan doen as jy daardie twee goed nie verstaan nie.

Ons leef in ’n kennis-ekonomie. Jy gaan nie ’n impak op die groter wêreld maak met entoesiasme alleen nie. Jy gaan mense emosioneel opsweep. Jy gaan hulle miskien ’n goeie show gee op ’n Sondagaand met jou orkes, maar jy gaan nie regtig skuiwe in die samele­wing (bewerkstellig) nie, want jy het eenvoudig nie die intellektuele geloofwaardigheid om dit te doen nie.

Die probleem (van armoede-opheffing) is ’n teologiese een. In die kerk, wat tot nou toe nog in die familie van NG Kerke nie herenig het nie, kry jy gedurig ’n identiteitsteologie. Met ander woorde jy bevestig die kulturele identiteit van mense. So die NGK of VGK is ’n veilige hawe vir mense wat soort-soek-soort bymekaarkom. Ten spyte daarvan dat jou getalle al hoe meer afneem en daar nie jongmense bykom nie, bly jy daar. Want jy kry bevrediging uit die godsdienstige bevestiging van jou eie identiteit. Waarom kry pinksterkerke dit reg om by ’n ou gebou waar die NG Kerk toegemaak het, in te gaan en binne ’n jaar is daar 5 000 mense op ’n Sondag – met slegte teologie? Want hulle bedryf nie identiteitspolitiek nie … Hulle verstaan ten minste dit. Dat die evangelie nie in die eerste plek daar is om my te bevestig in wie ek is in my taal en my kultuur nie … dit is ’n ou NG Kerk-ding. Dit is ’n univer­sele verskynsel. Religie is dikwels sosiologies ge­sproke nie daar om jou te help om God beter te dien nie, maar om jou te help om jou eie sosiale posisie te bevestig. En daai kanker lê diep in ons tradisie ingebed. En voor ons nie daar gaan uitbreek nie, gaan ons al hoe kleiner word en daarom beteken dit ons gaan al hoe minder middele tot ons beskikking hê en as ons dan wil help, sal ons sê kom ons help maar eers ons eie mense.

Ons moet ook darem nie so negatief wees nie. Daar is fantastiese stories van individuele gemeentes wat dit reggekry het om, onder die genade van die Here en goeie teologie, uit (die raampie van die eie) te klim.

Veral die Ou Testament is duidelik dat as jy nie die struktuur van die ekonomie aanspreek nie, gaan jy nie ’n langtermyneffek hê nie. Kyk maar na goed soos die jubeljaar of sabbatsjaar. Elke sewende jaar moet die land lê. Die land moet rus. Elke sewende maal sewe jaar word alle skuld afgeskryf, die grond wat jy verloor het, word aan jou teruggegee sodat jy weer die samelewing kan herstel. Dit is radikale stuff daai. Dit hang saam met hoe kapitaal belas word, hoe eiendom belas word, hoe digitale transaksies op die wêreld se beurse belas word.

Prof Piet Naudé is die direkteur van die Universiteit ­Stellenbosch se Bestuurskool.