Kerk se standpunt oor godsdiensregulering

Die hofgedinge rondom pastoor Omatoso, pastoor Bushiri asook die saak van die “Seven Angels” in die Oos Kaap bring die hele saak van die regulering van godsdiens deur die artikel 9, Commission for the Promotion and Protection of the Rights of Cultural Religious and Linguistic Communities (CLR) op die tafel. Seksuele vergrype, mensehandel asook misbruik van godsdiens in die algemeen, soos in hierdie sake ter sprake, word deur die kommissie as voorbeelde voorgehou waarom godsdienstige instansies gereguleer moet word. 

In kerklike geledere is daar egter oor die saak van regulering asook hoe dit moet plaasvind, nie breë konsensus nie. In die kringe van die SARK is daar byvoorbeeld opinies wat reg teenoor mekaar staan. Die NG Kerk se bydra, in sy betoog teen die regulering van godsdiens, is om ’n gedragskode voor te stel vir die gebruik deur godsdienstige groepe. Die CRL se pogings tot regulering word deur die NG Kerk gesien as ’n pogings om godsdiensvryheid ingedrang te bring. Die NG Kerk is van mening dat sulke sake deur gewone wetstoepassing en bestaande wette aangespreek moet word.

Die debat rondom regulering of nie is redelik op die spits gedryf deur ’n National Summit for Religious and Church Leaders (NSRCL) wat op 13 Februarie 2019 te Rhema gehou is. Hierdie beraad is deur sowat 800 kerk en godsdienstige leiers bygewoon. Voor die konferensie is ’n besoek aan pastoor Giet Khoza, wat namens pastoor Ray McCayley verantwoordelik vir die reël en inrigting van die beraad was, deur die algemene sekretaris en prof Pieter Coertzen gebring. ’n Sterk argument vir selfregulering en die gebruik van ’n gedragskode is tydens die ontmoeting aangevoer.  

Die NSRCL het begin met robuste gesprekke. Beswaar is gemaak teen en kritiek is gelewer op die proses wat gelei het tot die beraad. Verskeie vrae en bekommernisse is aangespreek oor die gebrek aan inklusiwiteit van diegene wat genooi is na die beraad, die opstel van die agenda, wat saam met ander dokumente net die aand voor die beraad aan afgevaardigdes gestuur is en die verwagte uitkomste. Kritiek oor die rol van pastoor McCauley en die feit dat dit by Rhema plaasgevind is ook uitgespreek

Nadat bekommernisse van verskeie leiers gehoor is, het die vergadering in verskillende groepe verdeel vir tematiese besprekings rondom: struktuur, proses en inhoud; Regs- en grondwetlike raamwerk; Gedragskode en beste praktyk; Verantwoordbaarheidstelsels vir die samelewing en die godsdienstige sektor; Ontwikkeling van ’n gesonde werksverhouding tussen godsdienstige sektor en CRL, die algemene sekretaris het hierdie sessie gefasiliteer; en kernwaardes vir ons multi-geloofsgemeenskap.

Die belangrikste uitkoms van die beraad was dat dit die begin is van ’n langer proses wat oor die volgende paar maande moet ontvou. Die proses sal so inklusief moontlik wees, met breë konsultasie met godsdienstige leiers op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak. Die verwagte uitkoms is om te verseker dat oplossings vir die uitdagings deur die godsdienstige gemeenskap en die godsdienstige gemeenskap ontwikkel word. Hierdie oplossings sal waarskynlik ’n gedragskode vir godsdienstige leiers insluit. Die beraad het eenparig ooreengekom dat staatsregulering van godsdiens nie ’n opsie is nie. Dit was ook die aanbeveling van die  Parlementêre Portefeuljekomitee in hulle verslag wat op Februarie 2018 uitgereik is.

’n Verdere belangrike uitkoms van die beraad was die oorweldigende konsensus dat dit onvanpas en onaanvaarbaar is dat die CRL-regskommissie vir die kerk moet dikteer om sy sake te reguleer. Die beraad het besluit dat die CRL voortaan uitgesluit word van die proses sodat die Kerk self die geleentheid kan kry om eienaarskap te neem en die nodige oplossings te ontwikkel sonder onnodige inmenging. Die doelwit is dat hierdie proses sal uitloop op ’n verdere beraad in Oktober 2019.

Op 25-26 Februarie is ’n National Consultive Conference (NCC) deur die CRL by St George’s Hotel in Pretoria gehou. Die doel van die NCC is om vir die CRL geleentheid te gee om oor hul aktiwiteite die afgelope vyf jaar verslag te gee asook wat die  CRL se se agenda vir die volgende  vyf jaar sal wees.

Gustav Claassen (Algemene Sekretaris)