Lidmaatdaling: Die vreeslike moontlikhede van ondersoek

Die NG Kerk word in die openbare media bespreek. In die koerante word gepraat oor ons getalle. In Prontuit, praat Kabous met haar gaste oor die NG en VG Kerk en die kerk in die algemeen se rol in die samelewing. Rubriek- en briefskrywers vul die kolomme met kommentaar oor die NG Kerk. Ds Tienie verbeeld NG dominees en die kerk se wor­ste­ling met die evangelie en menslike voorkeure en dwang. Die NG Kerk is sowaar tans ’n gewilde onderwerp. Ek dink natuurlik dit is ’n goeie ding dat ons so bespreek en besnuffel word. Ek kan my immers net een erger ding voorstel … dat die kerk in die media doodgeswyg word. Dit sou tog kon beteken dat die kerk so mak gemaak is dat ons irrelevant geraak het, weglaatbaar en verswygbaar.

Die vraag is egter of ons vir die regte redes die koe­rant- en fliekmense se aandag trek. Is dit dalk omdat ons gehonger en dors het na geregtigheid? Of is dit omdat ons radikale afhanklikheid van God ons vreem­de goed laat sien en doen het? Of is dit omdat ons so roekeloos gehoorsaam was aan die evangelie dat ons die wêreld met sy vreemde oordele geskok het? Of is dit omdat ons verstaan dat ons ín-Christus-wees die verdelings tussen mense so te bowe gegaan het dat daar nie meer Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie – dat ons in Christus anderkant die na­tuur­like skeidings tussen mense ons identiteit as ge­lo­wiges gevind het? Dit sou wonderlik wees as die koeran­te geskrik het vir die kerk se kontra-kulturele im­pak – so dat ons mense met nuwe oë na ons laat kyk, na die perd van ’n ander kleur as die skuifelende massa wat gedwee die roetes van menslike voorkeure, verdeeldheid en gemak verkies.

Dan wonder ek of die berigte oor die dalende getalle van die NG Kerk die soort nuus is waarmee ek die kerk in die koerant of op TV sou wou laat kom. ’n Mens se eerste reaksie is natuurlik om nee te sê. Dis slegte nuus. Dit is ’n verleentheid. Jou tweede reaksie is om te verdedig en te sê dit is redelik verklaarbaar. Daar is duisende van ons lidmate landuit. Die bevolkings­aanwas en die migrasie van lidmate … dit is maar eintlik ’n natuurlike ding. Niemand hoef eintlik daaroor so ’n groot bohaai te maak nie.

’n Verdere reaksie kan egter ook wees om die aannames wat verskuil is agter die koerantnuus van die dalende getalle te ondersoek. Is die aanname dalk dat die kerk groot mόét wees om ’n groot verskil te maak? Of is die aanname dalk dat die Christelike geloof aan die kwyn is? Is die aanname dus dat as die getalle daal, die invloed van die kerk daarmee saam ook daal? En as dit hierdie aanname is wat maak dat die koerante die nuus op die lamppale geplak het, wat is dan ’n gepaste reaksie op dié nuus?

Mý reaksie word bepaal deur die geloofsaanname dat die krag van die kerk nie geleë is in sy getalle of in die bedrae geld wat dit insamel nie. My aanname is ook dat in die koninkryk van God klein dikwels groot is en groot, klein. Ek werk met die veronderstelling dat God vir Hom ’n kerk uitroep uit die wêreld en hulle, dié uitgeroepenes, dan gebruik waar en soos Hý wil. Daarom het ek intuïtief ’n vreemde verwagting dat hier iets wonderlik aan die gebeur is. Die storielyn wat hier aan die ontwikkel is, is dalk dié van ’n instansie wat om allerhande redes sterk gevoel het, en toe moes ontdek dat hy sterker is as wat hy altyd gedink het, omdat hy nie meer sy krag in homself vind nie, maar in die Een wat hom gevorm het en geroep het tot ­diens. Om een of ander rede voel ek baie tuis in ’n kerk wat nie in homself roem nie, maar in sy vreemde identiteit in Christus. Dit voel vir my meer soos die ware kerk. Die ware kerk is immers mense wat deur God vrygemaak is tot volgelinge van Christus. Dit is ’n gemeenskap van mense wat hulle broosheid verstaan, hulle menslike oordele weer en weer laat vaar, hulle gelykgebreekheid voor God om­arm, hulle afhanklikheid voortdurend beoefen, hulle gestuurdheid ernstig neem, hulle verbondenheid aan mekaar ’n leefwyse maak, en geregtigheid en sorg as nuwe natuur internaliseer.

Die ondersoek na verskuilde aannames bring ’n mens altyd by vreeslike moontlikhede. Sê nou maar die bevolkingsaanwas was steeds vier kinders per blan­ke gesin. Of sê nou maar die land se ekonomie het jaarliks met 5% gegroei. En sê nou maar hier was daarom werk vir almal en ons getalle het om al dié redes gegroei of staties gebly? En sê nou maar dit het by ons ’n illusie geskep dat dit daarom goed gaan met die kerk? Sê nou maar dit het ons minder afhanklik laat voel van God en meer selfversekerd en minder broos en meer verwaand en minder gesteld op ons vreemde identiteit en meer gelykvormig aan die wêreld en min­der kontra-kultureel en meer konformerend aan die voorkeure van mense? En sê nou maar dit het ons meer laat voel soos bewakers van ons waarheid en min­der as soekers na God se waarheid?

Dit ís goed dat die koerante ons dophou en oor ons skryf. Al skryf hulle met aannames vreemd aan die kerk. Dit sal hopelik maak dat ons ons eie voorver­onderstellings ondersoek oor God en sy roeping vir sy kerk en sy verwagting van ’n gemeenskap wat so vreemd is dat ons selfs kan bruis van opwinding terwyl ons getalle daal. Mag die kerk so na sy eie aard leef dat daar nog flieks gemaak word en die koerante nog baie oor ons skryf.

▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.