“Weerligte u dienaars”

Soms staan ’n mens verstom oor die kragte van die natuur: winde, storms, weerlig – soos op dié foto van ’n storm in Limpopo. ’n Mens kan verstom staan van vrees as hierdie kragte dreig om jou te oorweldig, of ’n mens kan verstom staan van verwondering as jy dié skouspel op ’n veilige afstand kan gade slaan. Hoe ook al, die digter van Psalm 104 het ook na die natuurkragte gekyk. Dit gaan oor in ’n belydenis van God se grootheid: “Dit is U … wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind, U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars …” Dié belydenis van God se grootheid bó sy skepping is iets wat gelowiges vandag nog deel. Veral in landbougemeenskappe, waar mense se lot verstrengel is met wat in die natuur gebeur – droogte of reën, storms of sonskyn – is dit ’n belydenis wat dikwels opklink: Die natuurkragte is u dienaars. Uiteindelik is dit U wat bepaal wat gebeur. Foto en teks: Neels Jackson