‘Ons kinders is stukkend’

Die graad van gebrokenheid onder kinders het “100% toegeneem”, meen Riana Furniss van Steinthal-kinderhuis bui­te Tulbagh in die Wes-Kaap. Sy het aan Conette le Roux vertel dat net God die gebrokenheid wat sy in haar beroep as maatskaplike werker teëkom, kan genees.


Riana Furniss, senior maatskaplike werker en pro­grambestuurder by Steinthal-kinderhuis, begin die skokfeite uitpak waarmee sy elke dag te doen kry. Sy en haar man Robin – wat aan die stuur van dié Badisa-instansie buite Tulbagh staan – werk al 30 jaar by die kinderhuis wat nog in 2000 die grootste in die Suidelike halfrond was.

Net voor die Departement Maatskaplike Dienste die besluit geneem het dat elke provinsie na sy eie stukkende kinders moet omsien, was Steinthal die woonplek van 560 bruin kinders tussen die ouderdomme van twee en 18 jaar. Vandag mag hulle slegs 150 kinders huisves op die groot stuk grond wat in die 1800’s ’n sendingstasie was en wat steeds aan die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) behoort.

In die kleurvolle vroeëkinderontwikkelingsentrum, waar 15 kleuters op ’n reuse ronde kussing probeer wakker word na hulle oggendslapie, verduidelik Riana iets van die gebrokenheid: “Die afgelope tien jaar het die kinders wat seksueel gemolesteer of seksueel gesteister is geweldig toegeneem. Ons gemeenskappe is totaal aan flarde.

Riana Furniss, senior maatskaplike werker, is gedurig op soek na nuwe vorme van terapie wat spreek tot getraumatiseerde kinders. Sy is tans besig met Tension and Trauma Releasing Excercises (TRE). Die oefeninge help jou liggaam om van spanning ontslae te raak.

“Nog iets wat uitstaan is hoe die gewelddadigheid in gemeenskappe toegeneem het. Ons sien dit as ons kinders terugkom van vakansie vanaf hulle ouerhuise. Hulle klim uit die bus met stokke want hulle moes die heeltyd ’n wapen by hulle dra om hulleself te beskerm.”

Robin vertel dat hulle die afgelope paar jaar kos-pakkies saam huis toe stuur omdat daar dikwels te min te ete is. “Dit is ongelooflik hoe die kinders hulle ook voor ’n vakansie onbewustelik voorberei. ’n Week voor die vakansie aanbreek begin hulle minder eet. Die brood, waarmee ons gewoonlik nie kan voorbly nie, bly dan staan.”

“Steinthal is ’n plek van heling,” meen Robin, wat ook onder die kinders as “Pappa Furniss” bekend staan. Maar hoe maak hulle kinders wat so gebroke is, heel?

“Eerstens is dit menslik onmoontlik om soveel gebrokenheid heel te maak. Net God kan dit doen. Maar van ons kant af is ons gedurig op soek na nuwe vorme van terapie. ’n Stukkende kind kan nie by ’n maatskaplike werker se lessenaar gaan sit en praat oor sy seer nie. Breinskanderings wys ’n donker kol by die gedeel­te van die brein wat vir kognitiewe vaardighede verantwoordelik is. Dis vir hulle fisies onmoontlik om in woorde te verduidelik wat hulle ervaar het. Daarom is ons gedurig op soek na nuwe maniere van terapie. Speel is ’n kind se taal. Al drie ons maatskaplike wer­kers is spelterapeute en hulle gebruik byvoorbeeld sand­terapie, musiekterapie en vele ander maniere om ’n kind te probeer help,” sê Riana.

In die middae volg die skoolkinders ook ’n spesiale program. Steinthal het van Anna Foundation, ’n organisasie wat plaaskinders se opvoeding en sosiale behoeftes aanspreek, te hore gekom. Hulle het Anna Foundation se middagprogramme aangekoop en die werknemers van die kinderhuis word ook deur hulle opgelei. Dié organisasie het bevind Wes-Kaapse plaaskinders het meer stimulering en insette nodig as bloot net huiswerk, verduidelik Riana. Hulle volg ook die sport- en dramaprogram op Saterdae.

Kerkbode in gesprek met ’n Steinthal-inwoner.

Volgens Robin is daar vele hartseer stories. Soos die 14-jarige seun wat laasjaar op die grondpad op pad dorp toe doodgery is. Hy het saam met ’n groep tienerseuns een nag uitgesluip. Of die jong seun wat giftige sampioene geëet het, en ten spyte van hospitaalbehandeling, gesterf het.

Maar daar is ook stories wat hoop gee.

Twee boeties is nege jaar gelede na Steinthal gestuur. “Ek en my boetie en ons nefie het die Desembervakansie besluit ons wil ’n beter lewe hê. Ons wil nie soos die res van ons familie op die plaas waar ons vandaan kom gaan sit sonder werk nie,” sê die 17-jarige trots.

Hulle albei is dit eens dat Steinthal vir hulle die regte plek is. “Dit voel soos huis. Die mense hier is baie liefdevol. En die omstandighede is baie beter as by die huis.”

Die 15-jarige boetie is in die Vaardigheidskool, wat op die Steinthal-landgoed geleë is, en hy is besig om ’n agt weke lange bejaardesorg-kursus by Wamakersvallei in Wellington te voltooi. Hy verduidelik: “Ek is baie lief vir bejaardes. Ek het altyd my vriend se ouma en my eie ouma help oppas. Ek het laasjaar diep gedink oor wat ek in die lewe wil doen. Ek het toe met die maatskaplike werker gaan praat en sy het dié kursus voorgestel. Volgende week begin ek met my drie weke prakties by die ouetehuis in Tulbagh.”

“Pappa Furniss”, die man wat al 30 jaar sy roeping by Steinthal-kinderhuis uitleef.

Hy is as driejarige deur ’n motor raakgery toe sy ma in die winkel ingegaan het en hy op die sypaadjie moes staan en wag. Hy het oor die jare baie plastie­se chirurgie aan sy gesig en arbeidsterapie ontvang. “Ek het onlangs daar in Wellington gesit en dink en vir die Here gesê ek is nou tevrede met wie ek is. Ek gaan nie weer hospitaal toe nie.”

Die jonger broer leer hoe om hout- en loodgieterwerk en selfs stoffering te doen maar sy kop staan in ’n ander rigting. “My droom is om eendag ’n brandweerman te word,” sê hy met blink oë.

Albei boeties wil nie hê mense moet hulle jammer kry nie: “Moenie shame sê vir ’n kinderhuiskind nie. Dis ’n voorreg om hier te wees.”

Later tref ek Riana aan waar sy rustig op ’n stel trappe sit. As jy boontoe stap kry jy die maatskaplike werkers se terapiekamers. “Ek is mal oor trap-sit. Ek sit baie middae hier en probeer bietjie afskakel of net my emosies verwerk,” sê sy. Ek wonder: Kan jy van die hartseer wat jy daagliks aanhoor vergeet as jou dagtaak afgehandel is? Riana skud haar kop. “Jy kan nie. Ons probeer nie Steinthal by die huis praat nie. Maar as dit voorop in jou gedagtes is, dan baat dit nie om dit te ignoreer nie. Ek en Robin praat maar met mekaar en bid daaroor. Later besef jy jy kan nie vir alles en almal verantwoordelikheid vat nie.”

En asof sy weet wat ek gaan vra: “Ons is steeds hier omdat ons voel dat ons werk nog nie afgehandel is nie. Ons en die wonderlike personeel probeer Jesus se hande en voete in dié kinders se lewe wees.”
Vir Robin is dit ’n roeping: “God het my geroep om ’n vader vir die vaderlose te wees.”

“Dit bly hartverskeurend”

Dr Jessica Johannisen, ’n maatskaplike werker van Durbanville Kinderhuis, sê sy koester haar roeping, maar dis nooit maklik nie. “My emosies ry heeltyd wipplank. My taak is om hierdie kinders te koester, hulle emosioneel by te staan en hulle weer in liefde te laat glo. Die pyn op hul gesig is moeilik om te ignoreer. Die gedagte aan wat hulle deurgemaak het, is hartverskeurend,” sê sy.

Volgens Jessica is daar 144 kinders wat weens verwaarlosing, verwerping of mishandeling in Durbanville Kinderhuis woon nadat hulle uit hul gesinsomstandighede verwyder is.

Sy deel van die probleme waarvoor sy al te staan gekom het. “’n Kind het my vertel hoe sy pa hom daag­liks met ’n plank geslaan het. Hom sonder kos uit die huis gejaag en oornag buite laat slaap het. Ek het ook onlangs gehelp dat een van ons kinders sy suster vir die heel eerste maal ontmoet. Hy het so breed geglimlag dat sy oë net skrefies was.

“Daar is ook ’n kind met letsels waar sy haarself seergemaak het. Haar bewende lippie en die lelike merke op haar arms. Ek moes ook aan ’n kind vertel dat haar ma vermoor is. Ek moes die dood en die hemel en die betekenis van ’n begrafnis aan haar verduidelik. Ek het haar in my arms vasgehou terwyl ek haar probeer vertroos het.”

Kleurvolle koppies in ’n ry gereed vir tande borsel in die kleuters se wooneenheid.

Maar daar is darem ook vreugdes. Soos toe sy na jare se harde werk, ’n gesin uiteindelik weer kon herenig.

Sy vertel haar werk is meer as ’n beroep; eerder ’n roeping wat sy beskryf as ’n “delikate gee-en-neem-verhouding”.

Kersfonds: Lesers, julle bydraes máák ’n verskil

Altesaam R176 400 is ingesamel vir Kerkbode se 2018-Kersfonds en hierdie bedrag word nou onderverdeel aan kinderhuise regoor die land, volgens Hannelie Matthee, finansiële bestuurder van Bybel-Media, die uitgewer van Kerkbode.

Dit beloop ’n uitbetaling van R4 200 aan 42 kinderhuise soos dié in die stories op hierdie blad, aldus Matthee.

En hoe help hierdie geld?

Antoinette Loots, die prinsipaal maatskaplike werker van Winburg Jeugsorgsentrum in die Vrystaat, het laat weet dat hulle laasjaar se geld aangewend het om die sentrum se ver­sle­te sitkamerstel te herstel en oor te trek. Hier woon 30 Sotho­sprekende kinders vanaf babas tot 18 jaar.

Volgens Antoinette is hulle uiters dankbaar vir die geld. “Die finansiële oorlewing van die sentrum bly ’n uitdaging met die onvoldoende subsidie wat van die staat ontvang word. “Daarom word elke skenking en donasie baie waardeer en met verantwoordelikheid aangewend. Daarsonder sal die sentrum nie kan voortbestaan nie. Ons is diep afhanklik van die goedgesindheid en bereidwilligheid van die gemeenskap om betrokke te wees,” sê Antoinette.

Hier volg ’n lys van die begunstigdes:

Abraham Kriel-Kinderhuis
Abraham Kriel-Kinderhuis
Abraham Kriel-Kinderhuis
Alta du Toit-Sentrum
Andrew Murray-Kinderhuis
Bright Lichts
Catherine Robson-Kinderhuis
Charlotte Theron-Kinderhuis
Christene Revell-Kinderhuis
De La Bat-Skool
Diakonale Dienste Kindersentrum
Die Herberg-Kinderhuis
Durbanville Kinderhuis
Gedenk Jeugsorgsentrum
Huis van Heerde
Instituut vir Blindes
Jakaranda Kinder- & Gesinsorgsentrum
Jannie Roux Kampus
Jeughuis – CMR Joubertina
Kestel Kampus
Kinderoord MTR Smit
Koningsdal Kinder – en Jeugsorgsentrum
Malvern Kinder en Jeugsorgsentrum
Maria Kloppers Kinderhawe
Masigcine Kinderhuis
Môreson ACVV Kinder- en Jeugsorgsentrum
Môreson Kinder en Jeugsorgsentrum
Miqlat, place of refuge and hope
Greytown Kinder en Jeugsorgsentrum
NG Kerk Kinderoord
Nuwe Hoop- Sentrum vir Gehoorgestremdes
Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum
Oosterland Jeugsorgsentrum
Overstrand Kinder- en Jeugsorgsentrum
SA Kinderhuis, Kaapstad
Steinthal-Kinderhuis
Stikland Hospitaalraad
Sunfield Homes
Transoranje Skool vir Dowes
Uitkomstehuis vir Getraumatiseerde Dogters
VGK Kinder Herberg Trust
Winburg Jeugsorgsentrum