Ek is oortuig ons kan mekaar in die NGK omarm

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek het verlede jaar ’n stukkie geskiedenis gemaak toe ek die eerste swart vroulike proponent in die NG Kerk geword het. Die vraag is natuurlik wat gaan die NG Kerk met my en ek met die NG Kerk doen? Almal sal saamstem dat my situasie nogal uniek is.

Wat doen Charlotte vanjaar met haarself? Eer­stens gee ek Hebreeus 1 by die Universiteit van Pretoria. Ek geniet die uitdaging om ’n taal en kultuur uit die ou Nabye Ooste toeganklik te maak vir studente uit diverse kulture. Ek raak opgewonde wanneer my studente passievol is oor Hebreeus en dit deel maak van hulle godsdienstige belewenis. Een student het byvoorbeeld die Hebreeuse alfabet geleer deur dit te sing op die wysie van die Onse Vader in Sepedi. Die Hebreeuse alfabet word ’n gebed!

Tweedens, wag ek dat die Here vir my ’n deur oopmaak vir ’n jeugbediening in die NG Kerk. Van my eerste jaar af het ek besef dat my situasie uniek is en dat ek die rol van ’n brug tussen kulture sal moet speel. Onnodig om te sê dat daar soms op die brug getrap word. Ek het egter ’n passie vir jongmense en die uitdagings waarmee hulle in ons samelewing worstel. Ek glo daar is iewers ’n spesiale geleentheid in ’n spesiale gemeente vir my om my passie vir jongmense ook in die kerk uit te leef. Ek is oortuig dat die akademie en kerk nie los van mekaar moet staan nie. Ek droom daarvan om my geloof in die praktyk voor ’n klas en voor ’n gemeente uit te leef.

Ek het tydens my studiejare beleef dat die NG Kerk besig is om te verander en om te verstaan dat ons die­nend by ons gemeenskappe en land betrokke moet wees. Ek is trots daarop dat die NG Kerk my omarm het ten spyte van groot kulturele en sosiale verskille. Ek sien uit na geleenthede om dienend my bydrae tot groter begrip en aanvaarding van alle mense in ons land te maak. Ek wil belê in die potensiaal van jong mense, beide in die akademie en die kerk. Ek droom van ’n kerk waar verskillende tale en kulture, maatskap­like agtergronde en opvoedingspeile saam God se teen­woordigheid kan beleef en ruimte maak vir mekaar om God elkeen op ons eie unieke manier te ontmoet. Ek is oortuig as ’n eerstejaarstudent die Hebreeuse alfabet ’n moderne, kultuurspesifieke gebed kan maak, kan ons mekaar in die NG Kerk om­arm – wit en swart, Ndebele- en Afrikaanssprekende, jonk en oud – almal saam tot diens van die Here wat ons almal aanbid.

Prop Charlotte Bonsiwe Sibanyoni gee klas aan die Universiteit van Pretoria.