Godsdiensvryheid: Hoe gemaak met dié pastore?

Dit gons behoorlik in die media nadat Alph Lukau, ’n omstrede pastoor verbonde aan Alleluia Ministries International, beweer het dat hy ’n man uit die dood opgewek het.

Foto’s en video’s van die gebeure wat na berig word in Johannesburg plaasgevind het, het wyd op sosiale media versprei. Daar word gesien hoe Lukau bid vir die “lyk” in die kis en hoe die prediker Jesus se naam uitroep. Die man hyg dan skielik na sy asem en kom tot die skok van die kerkgangers en ander omstanders orent in die kis.

Me Thoko Mkhwanazi-Xaluva, voorsitter van die grondwetbevorderingsliggaam CRL (Cultural, Religious and Linguistic Communities), het intussen Dinsdag by ’n perskonferensie gesê die kommissie sal ondersoek instel na Lukau se kordaatstuk. “Ons benader dit met ’n oop gemoed, miskien was dit eg, miskien was hierdie man iewers in ’n lykshuis,” het Mkhwanazi-Xaluva gesê.

Volgens Mkhwanazi-Xaluva is daar honderde godslasterlike voorvalle wat in kerke afspeel. “Dis net die spits van die ysberg,” het sy gesê. Sy het van ’n vrou vertel wie se pastoor haar gedwing het om met hom seksuele omgang te hê, en in ruil daarvoor sal hy haar gesond maak. Mkhwanazi-Xaluva meen mense soos dié het geen ander uitweg as om dit by die polisie aan te meld nie. Juis daarom het Suid-Afrika ’n portuurbeoordelingsmeganisme nodig wat ’n “veilige plek” vir die aanmeld van sulke gevalle sal bied, het sy gesê.

“Die CRL se pogings tot regulering word deur die NG Kerk gesien as ’n poging om godsdiensvryheid in die gedrang te bring. Die NG Kerk is van mening dat sulke sake deur gewone wetstoepassing en bestaande wette aangespreek moet word,” luidens ’n verklaring wat Maandag deur die NG Kerk uitgereik is.

Die kerk se voorstel is eerder ’n gedragskode vir godsdienstige groepe. Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, meen “seksuele vergrype, mensehandel asook misbruik van godsdiens in die algemeen word as voorbeelde voorgehou waarom godsdienstige instansies gereguleer moet word”.

’n Bespreking oor godsdiensvryheid in Suid-Afrika is op 13 Februarie deur godsdiensleiers by die Rhema-kerk in Johannesburg gevoer en dit het aanleiding tot Claassen se verklaring gegee. Godsdiensleiers by die beraad het eenparig ooreengekom dat staatsregulering van godsdiens nie ’n opsie is nie, aldus Claassen.

Claassen meen die belangrikste uitkoms van daardie gesprek was dat dit die begin van ’n langer proses is wat oor die volgende paar maande moet ontvou. “Die verwagte uitkoms is om te verseker dat oplossings vir die uitdagings deur die godsdienstige gemeenskap ontwikkel word. Hierdie oplossings sal waarskynlik ’n gedagskode vir godsdienstige leiers insluit.”

Die volgende beraad van godsdiensleiers oor godsdiensregulering sal in Oktober 2019 plaasvind en volgens Claassen sal die CRL glad nie by die proses oor die volgende paar maande betrek word nie.

Hoe moet godsdiens gereguleer word?

Kyk na die uitslag

Loading ... Loading ...