Ons groot waagstuk tydens Pinkster

Lesse uit die ‘loopgrawe’: Praktiese wenke vir ander gemeentes

Een van die grootste uitdagings binne die kerk is fragmentering, skryf Johan Visser. Hier deel hy hoe hulle juis dit teenwerk by Woodland Hills gemeente in Bloemfontein.

Om ’n inklusiewe gemeentelike benadering te hê is niks nuuts as gesprek op ons kerk se tafel nie en tog bly ’n omvattende jeugbediening maar altyd ’n groot uitdaging binne die gemeente-opset. As jeugleraar besef ek eerstens dat bedieninge aan kinders en jeug nooit losstaande van die ander bedieninge in die gemeente moet staan nie. Daar moet altyd gepoog word om intergenerasioneel te funksioneer, waar oud en jonk mekaar kan bedien.

Ek vermoed dat een van ons grootste uitdagings binne die kerk fragmentering is. Kinders en jeug word apart bedien en eendag as hulle klaar met kategese is, is hulle vervreemd van die kerk. Tog het elkeen ook hulle eiesoortige ruimtes nodig en moet dit gegun word.

Ons as gemeenteleiers se hartklop moet wees om ons jongmense mooi te begelei op hulle geloofspad op soek na hulle identiteit en roeping in die lewe. As geestelike selfstandige jongmense begin ons kinders dan ’n lewe wat Jesus navolg, maar vir dit om te realiseer hou ons as ’n jeugbedienings-bestuurspan die “4 Skappe” gereeld voor oë waarbinne elkeen kan floreer en ontwikkel ten opsigte van geloofsvorming na ge­loofsvolwassenheid. Die 4 Skappe is Vennootskap – Ouer­skap – Mentorskap – Vriend­skap.

Ek gee graag een praktiese voorbeeld van hoe ons ’n sterk ouerskapfokus gehad het vir 2018. Ons as gemeente het dit goed gedink om die Pinkstergeleentheid te gebruik as ’n ma­nier hoe ons die klem kon ver­sterk op ouerskap, familiewees en geloofsgewoontes. Ons het dus ’n familiepinkster gehou waar ons die tema en materiaal: “God se Ekstreme Makeover Plan” behandel het. Om energie te kon skep het ons met die afskopgeleentheid van Pinkster vir “Buster & Bella” gekry as produksiespan waar hulle ons tema kom versterk het met hulle lied: “Kom ons Bou!” Oumas en oupas wat nie eens kleinkinders naby gehad het nie en ver gebly het, het selfs kom saam kuier.

Die geleentheid was vir seker ’n groot risiko en het baie waagmoed geneem. Ek is maar te dankbaar dat die kerkraad ingestem het en daar vertroue was in die groter visie. Was die geleentheid maklik en het alles glad verloop? Nee, maar gelukkig nie … Jy sien, toe word ons verras dat God ons nie net kom ontmoet in die stiltes nie, maar selfs die sogenaamde harde stemme van kinders wat lag en praat word toe heilige oomblikke binne die ruimte van ontmoeting.

God dink somaties. Hy vind behae in die wonder van die eenheid van sy mense. Hulle verbondenheid gee aan Hom eer. Die handhawing van hierdie teologiese vertrekpunt in die jeugbediening is ook nie altyd eenvoudig nie. Wees sterk en dapper!