Koester daai ontdekkersvreugde – Coenie Burger

Op ’n bedompige dag in die Drakensberge spring ’n paar dominees onlangs in ’n swembad vir ’n bietjie lafenis teen die KwaZulu-Natalse son.

Dis Dag Een van die jaarlikse predikante-konferensie in dié sinodale streek van die NG Kerk en vir personeel van die Drakensville-oord, sowat drie uur se ry buite Durban, is die predikante-groep al iets van ’n instelling. Vanjaar is daar meer as 40 afgevaardigdes waarvan ’n kwart vroulik is. Daar’s ’n paar 20-somethings en nog ’n groepie onder 35 – saam vorm dié groep ’n spesifieke luisterpos vir dr Barry Tolmay, moderator van die streeksinode: vir nuwe idees. As “leier” is sy pos meer een van diens, sê hy. “Voete was”. Hy’t nie juis ooghare vir ou hiërargiese strukture nie, sê Tolmay, wie se eie gemeente as die braaiende gemeente bekendstaan oor hulle ’n gesinsinstelling van Vrydagaandbraai gemaak het.

Maar waaroor praat so ’n groep leraars wanneer die werksessie hervat en die deur in die klein raadsaal toetrek, mag ander vakansiegangers by dié ATKV-oord wonder? Voor in die saal staan dr Coenie Burger. Dié 68-jarige, wat meeste van sy bediening aan voortgesette opleiding van predikante gewy het, staan vir ’n gros kerkmense eenvoudig as “oom Coenie” bekend en sy rustige dog ernstige en akademies-onderlegde aanpak maak hom ’n gewilde spreker. Hy is gevra om te kom praat oor bedieningsvreugde: Is dit regtig moontlik? Maar Burger het slegte nuus gehad vir dié wat ’n kits-ja gesoek het. “As jy na die groot name kyk: Moses, Petrus, Paulus, Jeremia, is vreugde nie die eer­ste ding waaraan jy dink nie. Hulle belangrikste vraag was nie na of dit lekker is nie. Die Bybel sê geroepenes se lewe was nie maklik nie,” sê Burger.

Hy praat gemaklik en deel ruim oor sy eie twyfel en hoop en lewenservaring – gebruik pal die aanspreek­vorm, “vriende” wanneer hy met só ’n groep praat. En haal skrywers aan dat jy voel asof jy deur Amazon se teologie-boek-afdeling scroll. Newbegin, Barth, De Chardin, Wainwright, NT Wright … Maar hy parafraseer ’n gevatte wyse wat op ’n kol as volg geantwoord het toe ’n jong man by hom wou hoor watter boeke hy moet lees: “Wel, daar is Matteus, Markus, Lukas, Johannes … dis omtrent die belangrikste,” skerts Burger.

“Die lewe is moeilik, maar die Here wil nie hê ons moet alewig leef met spanning en angs nie.

Leraars van die NG Kerk in KZN tydens ’n wegbreeksessie in die Drakensberge.

Die evangelie is goeie nuus … goeie nuus. As die evangelie jou nie meer bly maak nie, moet jy met iemand gaan gesels. Dit het met my gebeur oor 40 jaar van die bediening, waar dinge jou deurmekaar krap,” het Burger in die eerste van sy veeldagreeks gesê.

Die boorling van Kimberley-omgewing het gesê – nes daar in die diamantvelde van weleer die verskynsel van “ontdekkersvreugde” was – moet dominees aanhou delf en ontdek in die Bybel. “Raak bietjie begeesterd,” was sy raad.

Sommige predikante neig om “pleasers” te wees, het Burger gewaarsku. Hy het dit teen ’n soort afhanklikheid van die gemeente, wat maak dat die leraar dikwels pendel tussen die wolke en “die gutters”. Komplimente voer hom / haar omhoog; kritiek trek hom / haar ten gronde.

“Ons vreugde sal heen en weer gaan in die bedie­ning as ons nie ons fokus op ons roeping in Christus helder kry nie,” aldus Burger.