Krog skryf mis oor die kosmos

’n Teks deur Antjie Krog getiteld Die nuwe verbond – ’n Misorde vir die universum – is by die Woordfees se mu­siekteaterprogram op Stellenbosch uitgevoer as deel van MI(SA), ’n drieledige uitvoering bestaande uit die Missa Luba, die Misa Criolla en Krog se teks. KERKBODE het aan Krog gevra:


Jy is ’n bekroonde skrywer in vele genres – wat was die uitdaging met die skryf van wat jy as “wetenskaplike mis” beskryf? En, vir die leek soos ek, wat is dit?

Dit beteken dat die skryf in die eerste instansie nie gelei kan word deur inspirasie nie, maar deur wetenskaplike feite – wat was eerste? Wat is afhanklik van mekaar? Byvoorbeeld, ek het nie geweet dat die aarde totaal onstabiel was na die aanvanklike vorming nie, maar toe die maan sterk genoeg geword het, het die maan die aarde gestabiliseer. Dit is ook die maan wat dan die water een­kant toe trek sodat die eerste stukke grond kon begin uitsteek. Op ’n bladsy met eenvoudige lees, sing die woorde reeds van rym en soveel verrassende verbande tussen woorde, beelde en idees. Vat byvoorbeeld: elke keer as ons in oorgawe na mekaar toe draai / doen ons dit onder ’n druisende baldakyn van sterre.

Hoe was dit vir jou om dit as opvoering te hoor? In die stemme van ander?

Om die eerlike waarheid te sê, ek was totaal oorrompel. Wat die geniale Marthinus Basson (regisseur) visueel daarmee gemaak het en die ongelooflike klankvelde wat die briljante jong Antoni Schonken geskep het, was buite enige iets wat ek nog ervaar het. ’n Mis is gewoonlik ’n koor wat sing met ’n paar soliste. Dit is staties. Maar Marthinus het dit gevul met ’n soort visuele kerngloed wat asemrowend is. Wat die musiek betref: Dit is kontemporêr, dus: van nou, mo­dern as jy wil, maar ook absoluut beeldskoon. En dan: Amanda Strydom kan ’n gedig weergee asof sy dit self geskryf het. In kort dus: Dit was vir my ’n wonderlike ervaring en eer.

Antjie Krog. Foto: Antonia Steyn

Jy verwelkom die leser met die eenvoudige “teksvers”: hoe kan ons die planeet versorg as ons nie mekaar kan versorg nie / hoe kan ons mekaar versorg as ons nie die planeet kan versorg nie? Probeer jy ’n tipe algemene omgewingsvernielsug besweer met hierdie werk of hoe sou jy jou doel met die teks beskryf?

Ek probeer keer dat mense natuurbewaring of die konsep ‘groen’ aangryp as ‘easy option’ – dan hoef jy nie aan mense en armoede en onreg te dink nie. Onlangs in Europa is daar groot ophef gemaak van die skoliere wat elke Donderdag uit die skool uit bly en in optogte deur die strate loop en ’n sterker beleid ten opsigte van klimaatsverandering eis. Ag, en almal was so bly en so trots: Die jeug is in opstand en vir iets goeds! Ek was minder opgewonde: Waar was die optogte oor die vlugtelinge wat met bote snags probeer om in Europa te land, waar’s die optogte oor die armoede, die honger, die geweld. As ’n mens vir die natuur omgee, kan jy dit alleen waaragtig doen as jy ook vir mense omgee en andersom.

Al die musikale verwysings, intertekstua­liteit en kruisverwysings is, om eerlik te wees, nogal intimiderend – asof ’n mens diep ingegrawe in die musiekwêreld en liturgiese tradisies moet wees: Watter ba­siese kennis het ek nodig indien ek die volgende vertoning hier­van, by die Suidoosterfees later vanjaar in Kaapstad, ten volle wil waardeer?

Eintlik geen basiese kennis nie. Die program vertel jou dat jy na drie misse gaan luister: Die eerste is ’n Afrika­mis wat net perkussie en stem gebruik en deur ’n Belgiese priester geskryf is. Die tweede is ’n Suid-Amerikaanse mis wat tradi­sionele instrumente en wysies gebruik. Dan is daar die derde mis wat nie God-gedrewe is nie. Die opbou en visuele aanbieding is absoluut pakkend met Bybels wat ’n belangrike rol in die tweede mis speel.

Jou treffende vraag (by watter naam roep ons die universum aan / anders as die onontslote naam god:) word in die stuk beantwoord. Is dit ’n uitnodiging tot vars verwondering vir die skepping of ’n statement oor God self?

Die mis het niks met God te make nie – ’n mis sonder God, dus. Die mis gebruik die geykte taal en liturgie om die integrale samehang van mens en universum te probeer vasvang.

As ’n mens teologies hierna luister, klink dit dalk panteïsties – dat God in alles is: 
O Heilige Bosbakermat
Die nerfste Asemwende van Woude
Verby mirte verby varinggroen
Verby Groendeurglansd
Verby ’n binneste grasbegroeidheid
Ere aan die suis van stomata eerste lig en verste Alge
Wat is jou reaksie op só ’n lees van die teks?

Dit is vir my belangrik dat mense nie dink dit is panteïsties nie. Ek dink nie God is die natuur nie. Wetenskaplik weet ons dat alles wat bestaan opbreek in sterstof, ons is dus alles van mekaar, in mekaar: Ek is die bedelaar, ek leeu, ek sneeu, ek hoor die boom teen die saag skreeu. En die eerste stukkie alg, die eer­ste sianobakterieë het alles wat suurstof inasem begin. Terselfdertyd vul die lyding van mense ’n groot deel van die mis.

Ek verbeel my iets byna aktivisties onderliggend tot die teks, tog is dit meer Psalm as Greenpeace-veldtog. Wat het jy wys geword met die skryf hiervan?

Die mis word genoem: die nuwe verbond – dus eis dit van die mens om om te gee, om aardversorgers te word met ander woorde om om te gee vir alles wat volhoubaar deur die kosmos onderhou word.

Só sê ’n jong Woordfeesganger

Zahn Marais, ’n graad 11-leerder van Stellen­bosch sê as volg oor haar indruk van MI(SA): “Prentjiemooi beelde lei jou op ’n reis deur verskeie wêrelde en rituele wat heelwat emosies en idees by jou kweek. Die dramatiese, presiese bewegings sowel as die hipnotiese musiek vang ’n bo-natuurlike en asemrowende atmosfeer vas wat alles bevraagteken. Die heel eerste Afrikaan­se mis sluit hierdie stuk af. Antjie Krog en Marthinus Basson kon nie beter nie. Van waar af kom die Son en hoe is dit moontlik om in iets so eenvoudig heeltemal vasgevang te word? (Die stuk) is van die begin af lewensveranderend. Hoe vernietig ons as mens die aarde en hoe vernietig dit weer vir ons?”