Die nuwe (ou) sendingveld

Hierdie gedierte lyk soos ’n oer-dinosourus. Dít en ’n skaam geaardheid is bykans al wat ons weet van ’n varswater seemonster wat al vir eeue lank in die donker dieptes van Loch Ness, Skotland, skuil.

Eeue gelede gewis, want die eerste avonturier wat hom gewaar het was die Ierse sendeling, St Columba, in die eerste eeu nC. Hy kon sy oë nie glo nie. ’n On­dier soos een uit die boek van Openbaring  –  besig om skaapwagters te teister! Sy bevel om te wyk in die Naam van die Here Jesus Christus het dié so die skrik op die lyf gejaag dat Nessie sedertdien baie sku is. Hier­die volksmite verteenwoordig iets van die spi­ritua­liteit van Skotland.

Geloof is skynbaar vir aanhangers wat glo in fabels en feëverhale – hulle met ’n kinderlike verbeelding.  Of dalk hulle wat “onderontwikkeld” is – dié wat glo in iets wat nie werklik bestaan nie.

“Besides faith, there are many other ways of coping with everyday issues, son, you should try anti-depressants,” sê ’n oom vir my vóór ’n begrafnis.  En ek wonder: As die dood jou nie eens tot stilstand ruk nie, wat sál dan?

Dit is die verhaal van ’n nasie met ’n ryk geskiede­nis, veral as dit kom by ontdekkings en nuwe uitvindsels. Noem iets van ingenieurswese, die mediese we­ten­skap of filosofie en ek kan jou amper waarborg dit het sy oorsprong hier.

Ten spyte van al die suksesse is dit ’n nasie wat geestelik verarm het. En ek beleef iets van Jesus se hart wat warm klop vir ’n nasie wat afgedwaal het.

Hier is ’n oorvloed van geld en aardse goed. Niemand ly gebrek nie. Die werkloosheidssyfer is onder 3%! Die meeste stede spog dat hulle geen haweloses het nie.

Ek neem die ander dag deel aan ’n ‘sleepout’ op straat vir die bewusmaking van haweloses … net om later uit te vind dat daar vir die afgelope drie jaar nie meer mense op straat woon nie!

Vir lank het ek gedroom van ’n plek sonder armoede. Waar almal oorgenoeg het, waar niks ooit verkeerd loop nie en misdaad nie bestaan nie.

Dié plek is so, maar dit voel vir my verder van die ware koninkryk af as enigiets anders wat ek nog ervaar het. Dit is asof dit net té goed gaan. Skynbaar het hierdie mense lankal nie meer ’n Redder nodig nie!  Hulle red sommer hulleself.

Maar voor die kerk soos die Nessie-legende ver­dwyn, maak Christenleiers planne. Oraloor poog die Church of Scotland opnuut om hulp te verleen in die plaaslike gemeenskap. Dit is nie ongewoon vir klein gemeentes om ’n koffiewinkel, ’n Charity Shop en ’n Foodbank te bestuur nie. Sodra iemand dan iets van Christus beleef in ander se diensbaarheid by die kontakpunte, oorskadu aanvaarding en liefde die behoefte aan die materiële. En dis mooi.

Wanneer dit gebeur staan ek opnuut in verwonde­ring oor geloofsleiers se vasbera­den­heid om ’n verskil te maak. Ten spyte van die uitda­gings deins die kerk nie terug nie.

Bid asseblief dat God ons sal begenadig om ons lewensroeping hier met entoesiasme en liefde voort te sit en dat veral jong mense hier ’n ewigheidsbesef sal ontwikkel en ’n verlange sal kry om aan die tafel van ons Meester te sit.

▶ Ds Erick du Toit is dominee by Camelon Parish Church in Falkirk, Skotland.