Só bly ds uit sop met onderdompeling

In my bediening van meer as 25 jaar in die NG Kerk het ek dikwels die behoefte by lidmate ondervind om by wyse van onderdompeling gedoop te word. Die frustrasie is dat hierdie ouens, ten spyte van gesprekke daaroor, hulle in elk geval êrens laat herdoop het. As geloofsfamilie was ons dan uitgesluit by iets wat hulle beskou as ’n hoogtepunt in hulle geestelike lewe, skryf DS HENNIE PIENAAR van Dalpark Kaléo Gemeente.

Ongelukkig het die feit dat ek as kind gedoop is vir die meeste van ons maar min betekenis. Ons weet bloot dat ons gedoop is op grond van wat ons ouers ons vertel het. Die waarde wat die meeste mense aan die doop het, is meestal gekoppel nie aan hulle eie doop nie, maar aan die dag toe hulle hulle kinders laat doop het. Die belofte wat God daardie dag maak om vir ons en ons kinders ’n God te wees en dat ook ons kinders ingesluit is by die testament wat Hy met sy dood aan ons bemaak het, en veral ook die belofte wat hulle as ouers afgelê het, staan voorop. Die realiteit is dat die meeste van ons lidmate ’n verskraalde betekenis aan die doop koester.

Die doop was van die begin af bedoel om ’n kragtige verwysingspunt van ons nuwe lewe in Christus te wees. Die tradisionele doopformulier wat ons tydens die kinderdoop gebruik, sê uitdruklik dat die doop verklaar: “dat ons en ons kinders verbind word aan Christus wat ons sonde deur sy bloed afgewas het; dat ons ou, sondige lewe saam met Hom begrawe is, maar dat ons ook weer deur sy opstanding lewend gemaak word sodat ons vir die sonde dood is en vir God lewe; dat ons as gedooptes die Here uit dankbaarheid met ons hele lewe moet liefhê, vertrou en dien en dat Hy ons deur hierdie sakrament verseker dat sy Gees in ons wil woon en ons lewe daagliks so regeer dat ons hoe langer hoe meer sy beeld vertoon”.

Die probleem is dat ons die krag van die doop as verwysingspunt van die nuwe lewe verloor het, omdat ons geen geheue daarvan het (anders as wat vir ons gesê is) nie. Baie mense het die behoefte om meer tasbaar te identifiseer met die sterwe en opstanding van Jesus.

Omdat ons as gemeente hierdie behoefte erken en ons lidmate wil lei tot die werklike verstaan van die ryke betekenis van die doop, het ons gemeenteraad goedkeuring verleen dat ons lidmate die geleentheid mag bied om hulle doop (en nuwe lewe in Christus) by wyse van onderdompeling te vier. (Dit was nie ’n proses wat ons gestoomroller het in ons gemeente nie. Die eerste gesprekke het seker omtrent 8 jaar gelede plaasgevind. Toe ons daaroor gestem het, was 60% ten gunste daarvan en 40% onseker of gekant daarteen. Die grootste beswaar was dat onderdompeling te veel lyk op weer doop en dat dit mense kan verwar. Die vrees het ook bestaan dat ons as predikante dalk ons status as leraars kan verloor. Omdat ons meestal eenparig ons besluite probeer neem het, het ons die 40% gerespekteer en vir ’n verdere vyf jaar net by geleentheid gewoon gesprek hieroor met mekaar gevoer. Twee jaar gelede het die gemeenteraad eenparig besluit dat die tyd gereed is om die doop en nuwe lewe in Christus by wyse van onderdompeling te vier. Sedertdien het ons twee sulke Nuwe Lewe-vieringsnaweke per jaar waar ons lidmate na ’n eiland-situasie op ’n wildsplaas neem en hulle die geleentheid gee om hulle doop en nuwe lewe te vier.

Alhoewel ons die wateronderdompeling gebruik as wyse waarop ons die nuwe lewe vier beskou ons dit nie as ’n doop of wéér doop nie. Ons beskou die kinderdoop, wat die meeste van ons ondergaan het, as ’n ware doop.

In ons gemeente werk ons baie sterk vanuit mense se nuwe identiteit in Christus. Water- onderdompeling is vir ons ’n kragtige identifisering met jou nuwe identiteit in Christus. Dit is die vreugdevolle viering (celebration) van die nuwe mens wat jy in Christus is. “Jy het saam met Christus gesterf en ook saam met Hom opgestaan uit die dood. In Hom het jy ’n splinternuwe genetika: kind van God!” Die woorde wat ons by die onderdompeling gebruik is: “In Christus is jy ’n nuwe mens. Die ou mens is dood en die nuwe mens leef saam met Christus.” Hiermee wil ons vir mense ’n tasbare verwysingspunt skep wat hulle help om te verstaan wat reeds by die doop gebeur het en vorentoe vir hulle ’n kosbare baken op hulle reis deur die lewe gaan wees.

Gedurende die naweek werk ons in sewe sessies met spesifieke dooptekste, om mense te help om te sien wat Jesus vir ons voltooi het, wat by die doop reeds gebeur het en om hierdie waarheid op ’n kragtige wyse nuut te vier.

Hierdie viering is iets wat openlik gebeur in ons gemeente, geskied onder die toesig van die gemeenteraad en met liefde en sorg aan mense bedien word. Elke keer wat ek die voorreg as leraar gehad het om kosbare mense te help om die waarheid dat hulle gedoop is te vier – om te sien hoe die vreugde van nuwe lewe deurbreek – was heilige en inspirerende momente in my bediening.

Daar is verskillende redes waarom mense die behoefte het om die doop by wyse van onderdompeling te vier:

  • Wanneer iemand tot bekering gekom het.
  • Wanneer iemand (soos Jesus) homself wil verbind met betrekking tot sy roeping.
  • Wanneer iemand wil bevestig dat hy saam met Christus gesterf het en saam met Hom begrawe is, maar ook deur sy opstanding lewend geword het.
  • Wanneer iemand in hulle geloofslewe teruggeval het en hom opnuut aan God wil toewy.
  • Wanneer iemand siek was of swaargekry het en homself weer opnuut aan God wil verbind.
  • Wanneer iemand ’n behoefte het om die feit dat hy/sy gedoop is (as kind) by wyse van onderdompeling wéér te vier.
  • Wanneer iemand tot ’n ander oortuiging van die doop gekom het.

Lees ook Die doop is nie kinderspeletjies nie

Lees ook Reaksie: Só glo die kerk oor doop

Lees ook Oor doop en gays: Waarheen nou