Kerksaak: Appèl kan nog kom

’n Week ná uitspraak in die saak wat toegesien het dat die NG Kerk in die hooggeregshof in Pretoria beland het, het kerkleiers nog nie finaal besluit of hul sal berus by die 57-bladsy uitspraak nie.

“Die kerk sal uiteraard deur die loop van die komende dae die uitspraak saam met ons regspan bestudeer en dan besluit of daar redes is waarom ons aansoek sal doen om te appelleer,” het dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die kerk, verlede Saterdag luidens ’n persverklaring gesê en bygevoeg dat daar 15 hofdae is vir hierdie besluit om afgehandel te word.

Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, het op Vrydag 15 Maart op Stellenbosch bevestig dat die lede van die Algemene Taakspan Regte (ATR) intussen wel ’n aanbeveling voorberei het. Hy was nie by magte om die inhoud van die aanbeveling bekend te maak nie, maar dit sal nou met die dagbestuur van die moderamen gedeel word.

Dit sal bepaal of regspanne enersyds weer moet opsaal en of die kerk hom andersyds by die 2015- eerder as 2016-standpunt ten opsigte van selfdegeslagverhoudings sal bepaal, soos regter Joseph Raulinga in die uitspraak in die Noord-Gautengse Hooggeregshof beveel het.