Kan gelowiges van ander godsdienste ook kinders van God wees?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Danie Nel van Wynberg skryf:

As daar net een God is, waarom is daar so baie godsdienste? Is hulle al­mal ewe waar, of dalk ewe verkeerd? Is sommige meer waar as ander? Het hulle iets in gemeen soos wat die New Age en ander bewegings dit wil hê? Kan mense wat toegewy is aan hulle eie godsdiens, maar nog nooit ’n billike geleentheid gehad het om Jesus Christus te leer ken nie, ook gered word? Kan hulle ook kinders van God wees? Kan ons iets leer van ander godsdienste? Hoe getuig jy teenoor mense van ’n ander godsdiens?

Daar is twee populêre antwoorde op hierdie vrae: (a) Jy aanvaar dat jou geloof die enigste ware geloof is, en dat almal wat nie soos jy glo nie, vir ewig in die hel sal brand; (b) Jy aanvaar dat daar meer as een pad na die hemel is, en dat elkeen getrou moet wees aan die openbaring wat hy of sy van God gekry het. Hierdie twee uiteenlopende antwoorde het volgens vele teoloë in die vakgebied wat daarmee besig is – die teologie van die godsdienste – egter nog nooit goed gewerk nie. Beide antwoorde klop ook nie met die Bybelse tekste wat sulke vrae probeer antwoord nie.

Die mees algemene fout is om Bybelse tekste, wat nie bedoel het om sulke vrae te antwoord nie, as maatstaf te gebruik om te bepaal wie dan nou eintlik gered gaan word. Voorstanders van ’n meer eksklusiewe standpunt sal in hierdie verband byvoorbeeld tekste soos “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6) vir hulle aanspraak gebruik dat slegs Christene gered sal word. Die probleem is dat hierdie teks eerder bedoel het om geloofsekerheid aan Jesus se volgelinge te kommunikeer as om ’n uitspraak te gee oor die ewige lot van mense wat nog nooit ’n billike geleentheid gehad het om die evangelie te hoor nie. Daarvoor is tekste soos Paulus se gesprek op die Areopagus-heuwel, soos opgeteken in Handelinge 17:16-34, meer geskik omdat die fokus daar duidelik val op mense wat vanweë onkunde nog nie die evangelie oor die kruis en opstanding van Christus gehoor het nie.

Die eerste riglyn wat ons uit Paulus se aangrypende gesprek met die Griekse filosowe kan leer, is dat alle mense in ’n bepaalde verhouding met God staan (v27-29): “God het hulle gemaak om Hom te soek … Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons … Aangesien ons dan self van God afstam …” Paulus gee volgens sommige geleerdes selfs te kenne dat die Atheners God aanbid sonder om kennis van Hom te hê (v23). Hy sluit hier moontlik aan by ’n interpretasie van die skeppingsverhaal in Genesis dat elke mens na die beeld van God geskape is. Dit beteken volgens Gereformeerde Skrifverklaarders dat elke mens die saad van geloof in God in hom of haar het. Calvyn verwys in hierdie verband na die semen religionis waarmee elke mens geskep is. Hierdie saad kan ontkiem, sodat die mens ’n werklike geloofs­verhouding met God kan aanknoop wat uiteindelik tot verlossing kan lei. Wat maak ons egter met mense wat nog nooit van die Ou Testament en die Nuwe Testa­ment gehoor het nie? Dit blyk uit die teks dat God Homself wel aan sulke mense open­baar. Geeneen van die Atheners kon sê dat hulle ver van God af is nie. Hy wat hulle gemaak het om Hom te soek, het Homself op een of ander wyse aan hulle bekend gemaak. Sommige Gereformeerde teoloë verwys in hierdie verband na die algemene openbaring as wyse waarop die Here Hom aan alle mense bekend maak. Die besondere openbaring is die openbaring wat ons in die Skrif kry, met sy hoogtepunt in Jesus Christus as die ware Lig van God. Ons behoort ook aan God se algemene openbaring aan alle mense erkenning te gee as ons met mense van ander gelowe praat. As ons die indruk skep dat hulle vir die eerste keer by ons van die ware God hoor, kan dit as besonder ar­rogant beleef word – wat Paulus blykbaar probeer vermy binne die konteks van Handelinge 17. Die meeste sendelinge sou kan bevestig hoe indrukke van meerderwaardigheid, wat Christene dikwels onbedoeld oordra, hul getuienis kragteloos maak.

Die tweede riglyn is dat die evangelie volgens ’n historiese pad tot mense en nasies kom. Met die evangelie bedoel ons dat Jesus Mens geword het, dat Hy aan die kruis vir ons sonde gesterf het, dat Hy opgestaan het uit die dood, dat Hy verhoog is aan die regterhand van God, en dat Hy die belofte van die Heilige Gees ontvang en uitgestort het. Toe dit 2000 jaar terug gebeur het, het dit nie eensklaps tot alle mense deurgedring nie. Die evangelie kom langs ’n his­toriese weg deur sendingwerk en prediking tot mense. Voordat Paulus met die Atheners op die Areopagus-heuwel gepraat het, het hulle nog nie van Jesus Christus geweet nie. Die mense wat nog nooit in Palestina was nie, het ook nie die O.T. geken nie en nog nie gehoor van ’n Messias wat sou kom nie. Selfs baie jare nadat Jesus gekom het, was daar miljoene mense wat gesterf het sonder om die evangelie te hoor. Wat sê Paulus vir ons oor hierdie mense? “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer…” (v30). Dit is nie hulle skuld dat hulle die evangelie nog nie gehoor het nie, want ons lees in v26 dat die Here self bepaal wanneer en waar die verskillende nasies op die aarde sal woon. Mense wat weens historiese en geografiese redes nie ’n billike geleentheid gehad het om die evangelie te hoor nie, se onkunde sal volgens die Woord deur God “oorgesien” word. Die Here sal regverdig oor hulle oordeel (v31). Die moontlikheid bestaan dat hulle ook sy kinders kan wees.

Die derde riglyn: wanneer mense egter wel ’n billike geleentheid gehad het om boodskap van die kruis en die opstanding van Jesus te leer ken, stel dit hulle voor ’n keuse. Dit vra volgens v30 van hulle om ’n beslis­sing te maak. Daarom praat Christene nie met mense van ander gelowe net omdat dit interessant of leersaam of in die mode mag wees nie. Die uiteindelike doel van sulke gesprekke is om sulke mense die geleentheid te bied om hulle geloofsvertroue op Jesus te plaas wat ook vir hulle gesterf en opgestaan het. Dit bied geloofsekerheid aan hulle wat hulle weens onkunde nog nie gehad het nie.

Die vierde riglyn is dat die Here die Een is wat oordeel (31). Ons word geroep om te getuig, en nie om regters te wees nie. Ons mag nie namens die Here bepaal wie eendag in die hemel en wie eendag in die hel sal beland nie. Hy sal die wêreld regverdig oordeel “deur ’n Man wat Hy uitgekies het” – Jesus Christus. Jesus sal dus self besluit of Hy gelowiges van ander godsdienste gaan red of nie. Dit klop met ander tekste in die Nuwe Testament wat Hom as die enigste Verlosser bely. Mense van ander gelowe neem om verstaanbare redes aanstoot wanneer Christene hulle of hul voorouers by voorbaat in die hel sien brand.

Die vyfde riglyn is dat ons nie ooreenkomste tussen godsdienste moet gebruik as aanknopingspunt vir ons getuienis nie. Paulus praat van godsdienstigheid en van tempels en kultusdiens, maar sluit elke keer in antitese daarby aan (God is anders …). Hy sê nie dat Christene ook sulke goed ken en dat hulle daarom ’n sinvolle pad met mekaar kan saamloop nie. Hy sluit in teenstelling daarby aan. Hy praat byvoorbeeld van tempels, maar sê nie dat daar ook ’n tempel in Jerusalem staan nie. Hy sê eerder dat die Here waarvan hy hulle vertel, nie in tempels woon wat met hande gemaak is nie. Hy is die Here van die hemel en die aarde. Elke godsdiens se elemente vorm ’n geheel wat ook nie daarvan los gemaak kan word nie. As ons byvoorbeeld met ’n Moslem sou praat, help dit nie om die Koran met die Bybel te vergelyk nie. Die Koran vervul ’n ander funksie binne die Islam as die Bybel binne ons geloof. Dit sou meer korrek wees om die Bybel met Mohammed en die Koran met Jesus te vergelyk. Dieselfde sou geld wanneer ons met aanhangers van die Bhakti-praktyk en die Amida-Boedhisme sou praat wat die begrip van genade ken. By die Bhakti beteken genade iets anders omdat hulle nie die skuldlas van sonde ken nie. Dit sou verkeerd wees om ooreenkomste te tref en daarby aan te sluit. Dit kan sulke mense mislei. Die kern van die evangelie gaan per slot van sake oor ’n dinamiese verhouding met die opgestane Christus en nie oor godsdienstige praktyke nie.

Die sesde riglyn is dat gesprekke met mense van ander gelowe jou verwondbaar maak. Aan die begin van die gesprek het die filosowe Paulus ’n kletskous genoem, en aan die einde het sommige hom uitgelag. Daarom is dit geweldig belangrik om voordat ons dit sou waag om met mense van ander gelowe te praat, eers seker te maak dat ons eie oortuiging sterk en stewig staan. Jy moet seker maak dat jy jou 100% kan skaar by die openbaring wat die Here aan jou gegee oor die verhouding met Hom wat die evangelie moontlik maak. Dit is die goeie nuus van die evangelie wat bou op die soenverdienste van Jesus aan die kruis. Dit is waarby jy staan of val en waaroor jy in nederigheid getuig. Jy wyk nie daarvan af nie en jy maak ook nie verskoning vir die inhoud van hierdie boodskap nie, aangesien die aanhangers van ander godsdienste dit ook van jou verwag.

Dit is waaroor ’n Moslemvrou, wat tot bekering gekom het, getuig met die titel van die boek wat sy geskryf het: “I dare to call Him Father”. Dit is die regte rede waarom ons sendingwerk behoort te doen: sodat mense as kinders van God geloofsekerheid kan kry. Die “God daarbo” vir wie sy bang was, het vir haar die Vader geword met wie sy as kind in verhouding kan tree.