Aan rubriekskywer: Kom woon saam Geloftefees by

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Prof Sybrand Strauss (emeritus) van Parys skryf:

Dr Nadia Marais van Stellenbosch se rubriek verwys. Sy kom tot die skokkende gevolg­trekking dat “die gelofte se God” nie dieselfde as die drie-enige God van ons Christelike belydenis is nie! Sy sê die Gelofte “is ingebed in ’n logika van geweld en Afrikanertrots.” Daarteenoor moet ons as Christene ons beywer vir vrede en versoening: “God seën nie geloftemakers nie maar vredemakers”.

Onnodig om te sê: Baie kerklidmate het hierdie artikel as verdelend en beledigend beleef. Ek dink eerlik dr Marais is hiperkrities en lees allerlei vermeende booshede in die teks van die Gelofte in. Wanneer het sy laas self ’n Geloftefees bygewoon? Het sy regtig al dié dwalinge daar gehoor en beleef? Hoekom anders dan soveel bitsigheid in haar artikel?

Ek lig net enkele punte uit en lewer daarop kommentaar. Natuurlik is die Afrikaners nie ’n (of: dié) uitverkore volk nie. Sedert Christus se koms bestaan daar nie meer so iets nie. (Vgl Dordtse Leerreëls 2.5: “aan alle volke … sonder enige onderskeid”). Maar die Afri­kaners is, soos elke ander gekerstende volk ’n geroepe volk. Juis daaraan herinner die Gelofte ons keer op keer. God het genadiglik destyds ons voor­ouers by Bloedrivier van uitwissing bewaar, sodat ons vandag ons roeping in Suid-Afrika kan vervul. Dit is om tot eer van God, sover moontlik, die samele­wing volgens Bybelse beginsels in te rig (vgl Ned. Geloofsbelydenis, art 36). Geloftedag, as ’n Christelike volkfees getuig dat ons Christen-Afrikaners ons ganse bestaan aan God te danke het. Daarom is dié dag eerder ’n dag van ver­ootmoediging as wat dit ’n dag van roem is. Ons gee, soos die Gelofte letterlik sê, “die roem en die eer van die oorwinning aan Hom”. Ons weet mos Bloedrivier was nie primêr ’n oorwinning van Afrikaners oor Zoeloes, of van wit oor swart nie, maar van Christendom oor (destydse) heidendom, van beskaafdheid oor (destydse) onbeskaafdheid.

Ek stem met dr Marais saam dat die Gelofte nie as ’n verbondsluiting be­skou mag word nie. Die ontstaan van God se verbond met mense is volstrek eensydig: dit rus op God se beloftes alleen. Mense kan nie sommer die inisiatief neem om allerlei voorwaardelike beloftes soos bv. “As U ons help, sal ons U beloon” maak nie. Maar die bestaan van die verbond is tog altyd tweesydig, sê die teoloë. Derhalwe kan en mag gelowige kinders van die Here, soos die Voortrekkers, op grond van sy beloftes ’n gelofte aan Hom maak. Daarvan is daar talle voorbeelde in die Bybel en in die kerkgeskiedenis. Uiteraard is elke gelofte ’n ernstige saak wat nie ligtelik aangepak mag word nie. Maar dit het die Voortrekkers ook terdeë besef.

Dr Marais beskuldig die Voortrekkers van geweld, weerwraak en self-hand­hawing. Sy sê die Gelofte bots met die Belharbelydenis wat sê dat God aan die kant van die armes en die veront­regtes is. Nou is die vraag natuurlik wie van die twee partye by Bloedrivier die “verontregtes” was: die Zoeloeleër met sy duidelike oogmerk om al die Voortrekkers uit te moor, of die Voortrekkerlaer met sy oortuiging dat die kwaad­doeners, verraaiers en moordenaars gestraf moet word? Miskien is die bevrydingsteologie tog nie so ’n goeie sleutel om die boodskap van die Bybel mee oop te sluit nie.

Ek nooi dr Marais graag uit om saam met my en my familie vanjaar ’n Vry­staatse Geloftefees by te woon. Dan kan ons sommer die res van haar artikel rustig deurpraat.