Gelofte ’n fees

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Samuel van Vuuren skryf per e-pos:

Om die Gelofte van Desember 1838 reg te verstaan, moet mens seker jou emosionele bagasie opsy skuif en dit nugter bekyk. Dan vra jy na die aanleiding daartoe en die inhoud daarvan.

Die aanleiding tot die gelofte

’n Groep Christen-sondaars se voortbestaan word ernstig bedreig deur ’n magtige vyand. In hulle benoudheid organiseer hulle en tref maatreëls om hulleself te verdedig. En hulle roep om hulp by die Wese op wie hulle vertroue rus. Dis menslik; selfs Christelik. Ons doen dieselfde, net in ander vorm. Ons bou mure om ons huise, installeer seku­ri­­teits­toerusting. Ons roep God selfs aan om bewaring. Niemand beskou dit as onchristelik nie.

Maar hierdie groep bedreigde Christene besef dat indien die God op wie hulle vertrou hulle bewaar, die oorwinning ’n groot verantwoordelikheid op hulle lê, nl. om nie op eie krag te roem nie, maar die roem en eer te gee aan wie dit behoort – aan God. Hulle aanvaar die verantwoordelikheid en beloof om hulle nageslag te betrek by die gee van die roem en die eer aan God. Die nage­slag pluk immers die vrugte van die oorwinning. Soos ons vandag die vrugte van daardie oorwinning pluk. En die ver­antwoordelikheid behoort te aanvaar.

In die verbondsdoop van die Gereformeerdes kom iets van daardie gedag­te na vore: ons verbind ons kinders aan ons belofte, omdat hulle die kosbare vrugte van ons belofte pluk.

Die inhoud van die gelofte

Soek ons na die kern van die Gelofte in ’n woordjie, vind ons dit nie in “as” (verwys dr Nadia Marais se Kerkbode-rubriek) nie, maar in “want”. “Want die eer van sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hóm te gee.” En hoe is die roem en eer aan Hom gegee:

  • die herinnering aan die oorwinning word as ’n dankdag aan God gevier;
  • die erediens word in stand gehou;
  • die nageslag word opgevoed om in dankbaarheid voor God te leef.

Die eer van die oorwinning hou nie daar op nie:

  • naby die moordtoneel word ’n sen­dingkompleks opgerig;
  • die “opkomende geslag” verkondig die evangelie van Jesus Christus van Kaap Agulhas af, oor Afrika, tot selfs in Nigerië. Met groot ontberinge. Watter ontberinge deurworstel ons vir die voortgang van die evangelie?

Die Voortrekkers het uit twee boeke geleef: die Bybel en die belydenisskrifte. Die “heilige God van hemel en aarde” was die God van Skrif en belydenis: die drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees. Soos miljoene Christene deur die eeue heen, roep hulle God aan. Was dit nodig om die Naam van Jesus te noem?

Let op: die name volk/afrikaner verskyn nie in die Gelofte nie. Dit was ’n ge­wone groep Christen-sondaars wat tot God roep. En God hoor hulle.

’n Uitverkore volk? Inderdaad! ’n Volk vir wie God uitverkies en bewaar het om die evangelie in Afrika te ver­kondig.

My Maker het my, sonder om my te raadpleeg, in sy alwysheid ’n Christen en ’n Afrikaner gemaak. Nageslag van my Christenvoorouers wat diep erns met hulle geloof in die heilige God van hemel en aarde gemaak het. Asook met hulle verantwoordelikheid om hulle nageslag na Christus toe te lei. Ek vier Geloftedag. As ’n dankdag. Om aan God die roem en die eer te gee.

Soli Deo Gloria