Lei die Here die kerk op onverwagse maniere?

Burgerlike howe hoef nie buite rekening gelaat te word wanneer die leiding van die Here gesoek word nie, skryf LOUIS JONKER.


Met die onlangse hofsaak teen die NG Kerk wat in die Hooggeregshof afgespeel het, het baie mense weer die Du Plessis-saak van die laat 1920’s onthou. Prof Johannes du Plessis, wat professor aan die Teo­logiese Seminarium in Stellenbosch was, is deur die NG Kuratorium by die Ring van Stellenbosch vir kettery aan­gekla vanweë sy sienings oor die Skrif. Die Ring het prof Du Plessis onskuldig bevind, maar die kuratorium het toe na die Kaapse Sinode geappelleer. Die Sinode verwys die saak toe terug na die Ring van Stellenbosch, en die opdrag word aan laasgenoemde gegee om ’n staat van beskuldiging teen die professor op te stel. Weer eens het die Ring hom onskuldig bevind, en wéér het die kuratorium na die Kaapse Sinode geappelleer. Hierdie keer het ’n spesiale sinodesitting besluit om Du Plessis sy leerbevoegdheid te ontneem. Prof Du Plessis was daarmee sy werk kwyt. Hy het hom toe tot die Kaapse Hooggeregs­hof gewend waar sy regspan hom voortreflik verteenwoordig het, en hy die saak teen die NG Kerk gewen het. Die uitspraak was dat hy onskuldig bevind word, en dat hy in sy pos by die Kweekskool herstel moes word. Dit het nooit gebeur nie, want die NG Kerk het gekies om eerder aan hom sy volle traktement tot en met sy aftrede te betaal. Prof Du Plessis is egter kort na die hofsaak – in 1935 – oorlede.

En nou, in 2019, het ’n groep lidmate weer die NG Kerk voor die hof gedaag oor die besluit rondom selfdegeslagverhoudings wat by ’n spesiale Algemene Sinodesitting in 2016 geneem is. Sommige het gemeen dat dit die kerk – en die Here! – tot oneer strek dat die “vuil wasgoed” van die kerk so in die openbaar gewas word. “Waarom nie eerder hul kleinlike gevegte binne die kerk hou nie?” wou sommige kritici van die kerk weet. “Dit berokken die kerk tog net skade – veral nadat die uitspraak ten gunste van die lidmate en teen die kerk gemaak is,” het ander geredeneer. Nog ander het gemeen dat dit ’n streep trek deur die aanspraak van sinodale vergaderings dat besluite onder leiding van die Heilige Gees geneem word.

Het hierdie kritici nie dalk reg nie? Moes die Du Plessis-saak, en die selfdegeslagverhouding-saak, nie maar eer­der ter wille van die Here se eer uit die hof gehou gewees het nie?

Die Du Plessis-standbeeld wat vir die eerste keer in 2006 na die terrein van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch verskuif is.

Ten diepste gaan hierdie gesprek oor die vraag: “Hoe lei die Here die kerk?” Natuurlik moet alle besluite wat by ’n sinode tuishoort nie sommer maar net voor die voet na burgerlike howe geabdikeer word nie. Maar, myns insiens, moet burgerlike howe ook nie buite rekening gelaat word wanneer die leiding van die Here gesoek word nie. Binne die Gereformeerde tradisie verstaan ons dat die Gees van God ons nie meganies nie, maar eerder organies lei. So verstaan ons byvoorbeeld ook die inspirasie van die Skrif. Die Bybel het nie tot stand gekom deurdat die Gees van God op ’n meganiese wyse ingespreek het in skrywers wat eenvoudig willoos moes neerskryf wat die Here wou meedeel nie. Die Gees van God werk eerder organies deur menslike omstandighede heen, deur menslike persoonlikhede, deur die geskiedenis, deur sameloop van omstandighede. En vandag sou ons daaraan kon toevoeg: ook deur die wetenskappe en deeglike navorsing.

Ons kan dus ook nie die leiding van die Heilige Gees by sinodevergaderings op ’n meganiese manier verstaan nie – so asof ons net genoeg moet bid, moet wandel-in-die-Woord, moet onderskeidingsvermoë aan die dag lê, totdat ons kan kleim dat die Gees ons gelei het. Natuurlik is al hierdie dinge uiters be­langrik om ons afhanklikheid van die Here te bely. En natuurlik lei die Here ons primêr deur die Woord. Maar, as ons glo dat die Gees van God organies werk, moet ons nie uitsluit dat die Here ook menslike omstandighede, wetenskaplike resultate, deeglike navorsing, en ja, ook burgerlike regsprosesse kan gebruik om die kerk te lei.

As ons terugkyk op die geskiedenis van hierdie twee waterskeidinghofsake in die NG Kerk se lewe, moet ons dit nie miskyk as die Here dalk daardeur iets vir die kerk wil sê nie. Ons moenie só die beeld van die kerk in die samelewing probeer beskerm, dat ons miskyk dat die Here dalk deur gewoon menslike, burgerlike regsprosesse vir ons wil wys hoe die geregtigheid moet lyk wat ons moet uitleef nie. Dalk is dit beter om ons broosheid te erken, ons onvermoë te bely, en dankbaar te wees dat die Here van die kerk ons ook op onverwagse maniere kan lei.

Die Du Plessis-standbeeld is vir die eerste keer in 2006 na die terrein van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch verskuif. In die Duitse taal word ’n onderskeid gemaak tussen ’n “Denkmal” en ’n “Mahnmal.” ’n Denkmaal herinner aan iets positiefs en moedig tot navolging van die positiewe aan. ’n Maanmaal herinner aan iets negatiefs, sodat dit nie weer moet gebeur nie. Die Du Plessis-standbeeld is beide: ’n denkmaal vir die uitsonderlike bydrae wat professor Du Plessis tot teologiebeoefening in die NG Kerk gemaak het, maar ook ’n maanmaal dat ongeregtigheid nie weer op dieselfde manier moet geskied nie. Die burgerlike howe het ons gehelp om laasgenoemde te besef.

Prof Louis Jonker is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teo­logie.