Selfdegeslagverhoudings: Stryd én herstel

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Marietjie van Loggerenberg skryf :

“Hoe kan ons mekaar verryk? (want) ons wil eintlik nie hof toe gaan nie …” Dié vraag kom onlangs van ds Laurie Gaum, een van die 11 lidmate wat die kerk “hof toe” gevat het. En die opmerking kom van dr Gustav Claassen, die kerk se algemene sekretaris, wat die NGK se 2016-beleid “in die hof gaan verdedig” het. Dis natuurlik ná afloop van die hofuitspraak gedoen.

Op sosiale media en in Kerkbode is die etiek en die motiewe van die twee opmerkings deur beide kante van die spektrum bevraagteken en uitmekaar getrek. Maar as ’n mens fyn luister hoor jy tog iets anders, iets wat jou opgewonde maak. Vir my klink dit soos subtiele herstelpogings (repair statements). Het ons nie hier te make met die beligga­ming van twee partye in ’n verhouding wat sleg skeef geloop het nie? Oor jare is daar vele woorde geui­ter, besluite geneem en dade gepleeg wat tot berou­volle insidente in hierdie verhouding gelei het. Maar tog lyk dit of hulle mekaar nie wil los nie. Dit is asof hulle nie moeg word om mekaar die eintlike vraag in enige verhoudings­konflik te bly vra nie:”Is jy nog daar vir my?”

Dr Sue Johnson, ’n Kanadese klinie­se sielkundige en verhoudingsterapeut, meen dat die doel van enige konflik in verhoudings is om te veg vir die herstel van die emosionele diskonneksie. Wan­neer ons nie meer konflik het nie, gee ons nie meer om nie. Die verhou­dingsmaats soek bevestiging op die vraag:”Is jy nog daar vir my?” Volgens professor John Gottman, wêreldbe­kende verhoudingskundige, maak verhoudingsmaats van herstelpogings, of “repair statements” gebruik om die emosionele gaping te probeer oorbrug. Ek wonder of beide Gaum en Claassen met bogenoemde opmerkings nie eintlik elkeen ’n “repair statement” wou waag nie: “Ons kan mekaar verryk” en “ons wou eintlik nie hof toe gaan nie.” Dit is asof hulle ’n bietjie sagter begin praat, asof hulle versigtig ’n bietjie nader aan mekaar begin kruip.

Hulle opmerkings maak dat ek ds André Muller (vorige NG predikant en stigter van die Reformerende (gay) Kerk in Pretoria, 25 jaar gelede) se preek Sondagaand by die bogenoemde twee “repair statements” wil voeg. Sy teks kom uit Matteus 27:11-26. Na aanleiding van wat Pilatus met Jesus gedoen het, vra ds André wat elkeen van ons met Jesus doen. Hy praat veral oor die intieme band tussen Jesus en sy kerk as liggaam van Christus. Wat ons dus aan die kerk (ons en hulle) doen, doen ons aan Jesus. Gevolglik maan hy die gemeente om, al het hulle hoe swaar gekry agv die ander kerke se verwerping en onwaardige behandeling, altyd respekvol te bly. Nie een van sy gemeentelede mag neerhalend of afbrekend praat of optree teenoor enige persoon of kerkgenootskap wat die evangelie van Jesus Christus verkondig nie. Elke lidmaat van ’n kerk is die liggaam van Christus. Deur hierdie ou, soms vergete perspektief word die “ons” en “hulle” dan eintlik almal “ons” – een in Christus. Om so te skerm vir die NGK sou ook kon bydra om die emosionele diskonneksie te herstel.

Sou hierdie drie herstelpogings nie die moontlikheid tot omvangryke en versoenende gesprekke in kleingroepe, gemeentes en sinodes kon bied nie? Indien ons hierdie baie brose herstelpo­gings miskyk, mis ons dalk net ’n beginkans tot herstel van die erg be­ska­digde verhouding tussen die LGBTI gemeenskap en die NGK – iets wat ’n hof nie kan doen nie.

Dr Marietjie van Loggerenberg is ’n pastorale narratiewe terapeut.