‘God roep my’

Julius van der Wat is ʼn kerkraadslid, sportman, kunstenaar en werk by ʼn naskoolsentrum. Hy is ook serebraal gestrem.


Julius van der Wat se storie begin toe hy en sy tweelingbroer, Koos, 41 jaar gelede op 11 Junie twee maande te vroeg gebore is. Weens ’n suurstoftekort het Julius breinskade opgedoen wat serebrale gestremdheid veroorsaak het.

“Gelukkig is my breinskade beperk tot die dele in my brein wat die spiere beheer. Daar is niks met my intellek verkeerd nie.” Julius sê dit nie sonder rede nie. “Dis ’n algemene aanname van die samelewing. As hulle iemand in ’n rolstoel sien wat so erg gestrem is soos ek, neem hulle outomaties aan jy is ook intellektueel gestrem.”

Ds Rudi Swanepoel (links aan tafel op die foto hierbo), leraar van die NG gemeente Andrew Murray, sê hy het ontsettend baie by Julius geleer. “Meestal oor vooroordeel: nie net teenoor gestremdes nie, maar ook van enige groep teen­oor ’n ander groep. Julius het my ook geleer om direk met ‘n gestremde mens te kommunikeer en dat jy nie skaam of bang hoef te wees om te vra wat die aard van iemand se situasie is nie.” Foto: Herman Verwey

Koos, vertel hy, is “sogenaamd normaal”. Sogenaamd, want Julius hou nie van die woord “normaal” nie. “Jy kan tien mense vra wat dit beteken en dan gaan jy tien verskillende antwoorde kry. Vir my is jou huidige omstandighede normaal.”

Vir Julius is dit normaal om ’n permanente assistent te hê wat hom bystaan met take wat die meeste mense uitvoer sonder om eens daaraan te dink. Hy skilder op sy rekenaar met ’n pen wat aan ’n helm op sy kop gemonteer is. Hy het sy skoolloopbaan in spesiale skole voltooi en reeds in gr. 2 vir die eerste keer op ’n rekenaar gewerk. Julius sê hy weet van kleins af hy is anders, maar hy verkies om sélf sy andersheid te defi­nieer. Sy lewensleuse is: “I have cerebral palsy. Cerebral palsy does not have me.”

Hy het grootgeword in die NG Kerk en het die Here in sy tienerjare baie be­vraagteken, tot een aand in die koshuis toe hy in sy bed gelê en ’n duidelike stem gehoor het. “Mense kan maar van my verskil, maar ek glo dit was die Here se stem,” sê hy. Die boodskap? “Hoekom bevraagteken jy my so baie? Ek het ’n doel met jou soos jy is in die rolstoel. Wanneer dié doel gedien is gaan ek jou opvat na die hemel en jy gaan loop.”

In Maart vanjaar is Julius van der Wat, hierbo met sy assistent Jafta Morudu, as ouderling in die kerkraad van die NG gemeente Andrew Murray in Johannesburg bevestig. “Ek dink dis tyd dat die ander gemeentes en die kerk mense met gestremdhede omarm en intrek,” sê Julius. Foto: Herman Verwey

Van daardie oomblik af het Julius totale berusting gehad. Dit beteken nie sy dae is maklik nie. Party dae is veral swaar­der, maar Julius sê hy is gelukkig om ’n goeie ondersteunersnetwerk te hê.

Die feit dat hy berusting het oor sy ge­stremdheid is juis een van die kern­aspek­te van gestremdes se ervaring van die kerk wat ’n mens herhaaldelik teë­kom. Want ánder gelowiges het nie noodwendig dieselfde berusting nie … Inteendeel, die dringendheid waarmee sommige mense gestremdes beter wil bid is een van die groot redes waarom soveel gestremdes vervreemd raak van die kerk en van geloof.

Julius sê hy is al deur twee sulke “geloofsbeproewings”. Hy is telkens genooi vir Bybelstudie. Een keer is daar vir hom gebid en hy is hande opgelê. “Onder gebed is die bande wat my vas­hou losgemaak en ek is gesê ek moet opstaan …” Toe hy nie kon nie, moes Julius hoor sy geloof is te min. Nie stérk genoeg nie. By ’n ander geleentheid is daar vir hom gesê dis nié die Here se wil dat hy in ’n rolstoel is nie en dat hy sal loop as hy net “hard genoeg en met genoeg oortuiging bid”.

“Andrew Murray (gemeente) maak nie onderskeid tussen mense nie,” sê Julius. “Dit het regtig vir my ’n tuiste geword … Ek staan op dieselfde voete as ander lidmate, ek gebruik net wiele.” Foto: Herman Verwey

Die ervarings het sy geloof en die vaste wete dat die Here ’n dóél het met hom net versterk, sê Julius. “Ek glo Hy gebruik my oor en oor.”

Julius sê hy glo alle vorme van geloof moet gerespekteer word. “Die probleem kom in wanneer mense hul geloof op my wil afdwing en sê my manier van glo is verkeerd.”

Hy weet van ander gestremdes wat heeltemal van die kerk weggedryf het weens kerkmense se knaende behoefte om hul gestremdheid weg te bid. Dit is wat gebeur wanneer gestremdes nie déél word van godsdiensoefening nie, maar as ’t ware ’n objek daarvan.

Na Julius op ses maande met serebrale gestremdheid gediagnoseer is, was die dokter se raad aan sy ouers om hom in ’n tehuis te plaas, van hom te vergeet en aan te gaan met hul lewe. “Deur die Here se genade het hulle nie geluister nie. Met baie liefde en deur moeilike tye sit ek vandag hier.”

Sy verhaal was die inspirasie vir ’n kinderboek. Sy ervaring as toeskouer van die 2010 Sokkerwêreldbeker is in ’n gedenkboek opgeneem. Hy is ’n Loslit­dag-ambassadeur. Hy het onlangs by die nasionale boccia-kampioenskap (’n balsport vir gestremdes) ’n bronsme­dal­je gewen. Saam met ’n vriendin bedryf hy ’n webwerf oor serebrale gestremdheid. En in Maart is hy as ouderling in die kerk­raad van die NG gemeente Andrew Murray in Johan­nesburg bevestig – die eerste serebrale gestremde kerk­raadslid in dié gemeente se bestaan van 53 jaar.

“Ek dink dis tyd dat ander gemeentes en die kerk mense met gestremdhede, ongeag fisiek of intellektueel, moet omarm en intrek in die gemeente en hulle moet gebruik. Ons is almal hier met ’n doel,” sê hy.

“Mense staar,” sê Julius. “Dan staar ek gewoonlik terug!” Foto: Herman Verwey

Want gestremdes word steeds gemarginaliseer. Soms so onsigbaar, dat mense jou ignoreer. Ander kere weer só sigbaar … “Mense staar,” sê Julius. “Dan staar ek gewoonlik terug!” Hy besef dis omdat mense nie weet hóé om op te tree nie. “Maar hulle kan net kom vra. Hulle moet heel eerste probeer om ’n gesprek met ons aan te knoop. Dit frustreer my eindeloos as ek na ’n restaurant toe gaan en die kelner vra my assistent wat ek wil eet. Ek kan dit nie verstaan nie. Maar dis omdat mense nie kennis het nie.”

Kennis, sê hy, is mag. “As jy wéét kan jy berge versit.”

Net so met bouprojekte, waar daar soms ’n oprit gebou word vir toeganklikheid, maar dan is dit so steil dat dit in elk geval ’n gesukkel afgee. “Hulle moet net vooraf met ons praat,” sê hy.

Andrew Murray se kerkgebou het nie 18 jaar gelede ’n oprit gehad nie. Toe vra Julius – vir homself, maar ook vir ma’s met stootwaentjies en vir bejaardes. Selfs die pastorie, wat voorheen as ’n sentrum gebruik is, het ’n oprit.

Erna Möller is al 32 jaar ’n maatskaplike werker by die Sending aan die Melaatse. Dié organisasie het sewe jaar gelede begin met RampUp, ’n projek wat fokus op mense wat meestal uit die samelewing gesluit word. Möller is RampUp se projekkoördineerder en het vir haar mees­tersgraad navorsing gedoen oor die erva­ring van gestremdes in geloofs­ge­meenskappe. Möller sê baie gestremdes word nié ingesluit by kerke nie, omdat die kerklike lewe vir hulle ontoeganklik is. “Hulle word as ‘anders’ beskou en dikwels nie ingesluit in aktiwiteite of gekies as kerkleiers nie. Hul geestelike gawes word dus nie aangewend nie. Daar word aannames gemaak dat hulle nie in staat is om enigiets te doen nie. Die kerklike gemeenskap verstaan dikwels nie genoeg van die leefwêreld van mense met gestremdhede nie.” Boonop word gestremdhede in sommige kerklike kringe geassosieeer met “straf op sonde”, verduidelik Möller. Haar raad aan gemeentes wat gestremdes tuis wil laat voel, is eenvoudig. “Vra hoe hulle wil deelneem en maak dit moontlik deur toeganklikheid van aktiwiteite en geboue.” Besoek www.rampup.co.za vir nóg praktiese wenke. Foto: Herman Verwey

“Andrew Murray maak nie onderskeid tussen mense nie,” sê Julius. “Dit het regtig vir my ’n tuiste geword  … Ek staan op dieselfde voete as ander lidmate, ek gebruik net wiele.”

Hy sê die leraar, ds Rudi Swanepoel, verwys gereeld daarna dat hulle ’n ge­méénskap is en nie ’n blote gemeente nie.

Julius staan ook sy plek in die res van die gemeenskap vol, met die hulp van sy assistent, Jafta Morudu. Hy beskryf ge­stremdes se persoonlike assistente as “engele, direk van die Here af” en sê Jafta is sy skaduwee. “Sonder hom kan ek nie. Ons is soos broers.”

Julius beskryf ge­stremdes se persoonlike assistente as “engele, direk van die Here af” en sê Jafta is sy skaduwee. “Sonder hom kan ek nie. Ons is soos broers.” Foto: Herman Verwey

Sedert 2002 werk hy smiddae by Helpmekaar Kollege in Johannesburg waar hy leerlinge by die naskool in die rekenaarsentrum met skoolwerk help. Hy sê die gr 8’s is eers maar skrikkerig, maar teen die derde week word hy soos enige onderwyser behandel. Hy glo die kinders het ’n voordeel omdat hulle bloot­gestel word aan ’n gestremde. Sodat hulle nie eendag as volwassenes sal staar óf maak of jy onsigbaar is nie.

Sy raad vir kerke om gestremdes tuis te laat voel, is om nié aannames te maak nie. Om nié gestremdes te gebruik vir eie gewin of roem nie. Om gestremdes nie te dwing om betrokke te raak nie.

“Praat net met ons.”

En in daardie interaksie met Julius van der Wat sal jy ’n kykie kry in die lewe van iemand wat ’n vér pad gekom het. “Nie ondanks serebrale gestremdheid nie,” keer hy. “Mét serebrale gestremdheid.”