Kerk en boere dink saam oor grond

Boere, leraars, aka­de­mici en lidmate het twee dae lank na mekaar se hoop en vrese oor grond, klimaats­verandering en politiek geluister, berig LE ROUX SCHOEMAN uit Williston.


Koos Louw ken kommer.

Dit is drie jaar en twee maan­de sedert die Sakrivier genoeg water gehad het om die droë loop langs Williston te bereik, vertel dié deeltydse skaapboer en arts op dié Karoodorp onlangs.

“Ons is maar almal bekommerd oor die toekoms van die landbou,” sê hy. Woorde soos volhoubaarbeid, biodiversiteit, makro-omgewing, sosiopolitiek, kosteknyptang en waardeketting deur­spek sy sinne tydens ’n kort gesprek met hom waar hy in ’n rooi blokkieshemp tussen vriende en mede-boere op ’n Maan­dagmiddag voor die sandsteen NG Kerkgebou staan.

Dis die eerste benerek-kansie tydens ’n twee-dag “Kerklike Grondberaad” wat van 18 tot 19 Maart in dié Noord-Kaapse kerk gehou is. Altesaam 60 mense, meestal boere maar ook ses predikante, het na vyf sprekers kom luis­ter en saam kom braai en gesels oor God en grond.

In die kerk se wit gemeentebakkie het ds Muller Oosthuizen deurgaans bedrywig rondgewoerts om kragop­wek­kers aan ’t klop te hou te midde van die beurtkrag wat op daardie stadium dor­pe­naars se geduld getoets het. Gelukkig staan die klankstelsel binne die kerk sterk teen beproewing. Epie Hoon, skaap­boer van Brandvlei-omgewing, het lank voor die mees onlangse beurtkrag-lollery ’n vier-maal-12 Volt-stelsel vir die gemeente prakseer. “Hier is so 70 ampère-ure se stoorkrag,” het hy in die konsistorie verduidelik. Hy’t ook aan Kerkbode laat val dat ’n kring­tele­visie­kamera regstreeks uit die kerk kan uitsaai na inwoners van die plaaslike ouete­huis wat nie Sondae vir die uitstappie na die erediens kans sien nie. Dis nie duidelik of enige inwoners van Huis Amandelhof ingeskakel het vir die grondberaad nie, maar as hulle het, sou hulle drie Matie-profs, een Noord-Kaap­se dominee en ’n senior kerkman in aksie gesien het.

Die NG Kerk Williston se kerkgebou.

Oosthuizen, die sameroeper, wat al drie jaar op Williston werk, wou die gesprek vóór die verkiesing doen, ja. “Ek het sterk gevoel ons moet die ver­kie­sing ingaan met meer moed,” het hy gesê. “Daar is 500 predikante wat min of meer persoonlik uitgenooi is. Boere-unies, landbouorganisasies … so die feit dat dit op die ou end 95% NG en wit was, het die gesprek na binne gehou … wat ook goed is. Maar as ons in die vorentoegesprekke nie meer belangegroepe kan betrek nie, dan het ons nêrens gekom nie, so ons hoop rêrig daarvoor,” het Oosthuizen laatmiddag op die finale dag gesê.

So wat kon afgevaardigdes hoop om te kom leer by die sprekers en by mekaar oor so ’n gelaaide onderwerp?

Ds Renier Lourens, ’n leraar van Neilersdrift naby Keimoes, het gesels oor menswaardigheid en spiritualiteit.

Dr Coenie Burger, oud-moderator van die Wes-Kaap, asook oud-moderator van die Algemene Sinode (vanaf 2002) het gevra hoe lyk ’n kerk wat die draer van versoening, genesing en hoop is?

Boere in gesprek tydens ’n pouse.

Prof Anton van Niekerk, van Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Filosofie, het gesê Suid-Afrikaners het met ’n morele dilemma te make wanneer dit oor grond gaan: “Hoe gaan ons by ’n model van grondhervorming uitkom wat voormalige onreg sover moont­lik regstel, maar, soos pres Ra­ma­phosa al meermale gesê het, sonder om die eko­no­mie en met name die landbou in die proses ernstig te skaad of te ver­nie­tig?” Van Niekerk, ook die skrywer van boeke soos Die dood en die sin van die lewe en Geloof sonder sekerhede, het hom op die antieke Grieke beroep om afgevaardig­des af te raai van grond-­debát – ten gunste van dialóóg. “Vir Sokrates, by wie ons die meeste oor die aard van dialoog kan leer, begin so ’n gesprek by … die er­kenning van deelnemers om te sê: Al wat ek weet, is dat ek niks weet nie. Ons tree dus toe tot gesprek omdat ons iets wil leer. Ons het nie reeds ’n posisie wat ons wil afforseer nie.”

Dr Ntozakhe Cezula, ’n dosent by die Kweekskool op Stellenbosch, het ’n wyd­lopende Ou-Testamentiese per­spek­­tief op grondbesit gewerp.

Prof Danie Brink, dekaan van AgriWetenskappe aan die US, het gepraat oor vier fasette van verandering wat direk op landbou impakteer:

  • Ekonomie, wat die enkele grootste is.
  • Sosio-politieke faktore, wat ook in wêreldmarkte afspeel.
  • Omgewingsfaktore.
  • Tegnologie, in terme van industriële rewolusies: Die 1700’s se meganisasie, die 1800’s se massaproduksie en daarna outomatisering in die 1900’s en nou, die sogenaamde vierde industriële revolusie wat die era van elektroniese intelligensie is.

Prof Danie Brink van die Universiteit Stellenbosch.

Brink het ook hier in die Sentraal-Karoo gepraat oor die meer algemene op en af in kommersiële boerdery: Aantal bees vermeerder van 6 na 14 miljoen tussen 1970 en 2015. Skaap verminder van 32 na 21 miljoen, met die vooruitskatting so laag as 15 miljoen in die volgende dekade. Reënval in die Wes-Kaap bly inderwaardheid stabiel maar bevol­kingsaanwas en leefstyleise verhoog sodat dit tot waterskaarste lei. Hy het daarop gewys dat hoewel 31% van die grond in Suid-Afrika genoeg reënval kry vir gewasse (“om met mielies en goed te boer”), slegs sowat 3% van grond “lae risiko, prima grond” is. “Of dit in beleggingsterme of boere-klassifikasie is”.

En dan is daar politici. Oor hulle sê Brink: “Daar is regtig agter die skerms ongelooflike sensitiwiteit om nie die land­bou-ekonomiese model katastrofies te versteur nie. Dit gaan nie oor voedsel­sekuriteit nie. Dit gaan meestal oor werk­verskaffing. Dit is die komponent waaroor die grootste kommer bestaan. Elke keer as die president sê die sektore wat hulle kies om ekonomiese groei te laat herleef is mynwese, toerisme en landbou in daai mengsel,” het die predikantseun-dekaan aan sy klein gehoor in die kerk op die hoek van Gots- en Reyneckestraat gesê. Soos vele plattelandse kerke is die gemeentegeskiedenis netjies opgeteken en trots uitgestal in die kerk: “Die Trekbewegings was reeds vanaf 1750-1850 in die Sakrivier-Kareeberg-kontrei. Dit was Boesmankontrei. On­der die lenings-plaasstelsel van goewerneur Cradock, is plase reeds vanaf 1837 uitgemeet aan boere.” Die kerk wat besoekers deesdae begroet is in 1912 gebou. By die hoeksteen is ingemessel ’n Hollandse Bybel, gesangeboek en ander dokumente,” luidens die kerk se info­blaadjie.

Brink praat kortpad as dit kom by die slaggate van die onlangse verlede: “Die eerste fase van grondhervorming (was) aan die hand van restitusie: eise, ondersoeke, waardebepaling en kom­pen­sasie of ruil van die grond. En die nuutste skatting van wat daai eerste ordelike fase van kompensasie gekos het, is R90 miljard. En die sukseskoers was rondom 10% – die behoud van funksionaliteit van oordraggrond was onge­veer 10%. Daar het ons ’n duur les ge­leer.”

Dr Ntozakhe Cezula van die Universiteit Stellenbosch

Maar Brink het nie net statistiek gesels nie. “As mens in so ’n droogte vasry, wat mense aan hulle lyf voel, aan hulle wese voel, is dit nie so maklik om met ’n klomp boekekennis hier in te kom nie – ek dink daar lê baie meer diepte en insig in praktiese boerderykennis en ook in die inheemse en tradisionele ken­nis van hierdie wêreld.”

Brink se “preek” opgesom? “Moenie bang wees vir verandering nie. Moenie dink jy kan dit beheer nie. Of dit tegnologie of ekonomie is. Die vraag is of ons behoorlik toegerus is. Hier is ’n kennisbasis in SA landbou wat van ongelooflike waarde is. Natuurlik moet jy hierdie formaat van gesprek (voortsit). Nie net oor wat gaan word van grondhervorming nie … Maar is daar gesonde visie en leierskap wat uit die landbousektor na vore kom om ’n probleem aan te spreek? Of dit grondhervorming of klimaatsaanpassing is. Die een kan jou vandag oorweldig, die ander môre”.

Buite die kerk gesels ek en Koos Louw weer oor “grondhonger” en een van die boere wat in vraetyd gevra het of Jan Alleman weet dat dit in werklikheid nie finansieel goed gaan met boere nie. “Ja,” sê Koos met ’n goedige glimlag en dink so ’n bietjie na. “As dit vanaand 50 mm reën, gaan daai selfde man môre anders praat.”