Annalise Wiid

‘Nehemia is ons rolmodel’

Bonnievale se gemeenskap het onlangs ’n hele blok wingerd ontwortel. Uitgehaal. Skoongemaak. En in die plek daarvan ’n merkwaardige skool begin bou: Jakes Gerwel Tegnies. Dit staan al half-klaar en huisves reeds 240 graad 8 en 9 leerders. Weer-probeerders sowel as nuwelinge. Die Kaap gons daaroor. Annalise Wiid het gaan kyk.


skuins in die liefde ’n visioen wat die oë ontroer: Bonnievale
die son loop sonder kieries of toue soos reuk deur die land
die aarde rooi en die hemel blou en wolke wit vlieënde tapyte  …
Breërivier ’n slentertong wat diep fluister oor spoelklip en palmiet
agter die rant gooi Happy Valley se mense hul klanke teen die randjies vas

Só dig Breyten Breytenbach oor sy grootworddorp, Bonnievale. Waar die pad van Robertson se kant af deur die randjies uitmond in die vallei van kaas en wyn, daar vat die Breërivier se blink tong sy kronkelgang verder na regs tussen die wingerde en tamarisk-bome deur. Op links lê Happy Valley, toekatyd se “lokasie”, teen die kop. Daar was ook baie jare lank ’n blok wingerd teen die pad.

Nou het Happy Valley en dié wingerd ’n verstrengeling van verhale geword. Soos wingerd-rankies draai die stories deurmekaar: Dié van twee jongmans en hulle oupas; ’n ander jongman en sy pa; ’n skoolhoof wat van ver af gekom het; ’n anti-apartheidsaktivis en akademikus; en ’n bottel Robbeneiland-wyn. ’n Wonderbaarlike weefwerk. Kom ek pak dit vir jou uit.

Philip Jonker se familie boer al sedert 1912 net daar waar jy Bonnievale inkom, op regterhand. Oorkant Happy Valley, op die Weltevrede-landgoed. Wynboere. Sy oupa het nog daai blokkie “skool”-wingerd geplant. Sy oupa het ook geloof, beginselvastheid en waardes in hom geplant: Karakter is belangrik, my kind. Wie jy is bepaal hoe jy dinge doen en wat jy agterlaat …

Wilhelm de Wet se wortels lê weer in Namibië. Sy oupa het nooit skool gegaan nie. Sy ouma het wel laerskool klaargemaak. “Keuses,” sê hy, “ek pluk vandag nog die vrugte van hulle keuses.” En deursettingsvermoë. Sy ouma het gesorg dat sy ma gaan leer het. Hy en sy sibbe kon verder gaan.

Vandag is hy ’n aktuaris. Gevestig genoeg in sy beroep dat hy van die huis af kan werk. “Ons wou ons kinders graag op die platteland grootmaak. Ná ’n paar jaar in Engeland het ons Kaap toe gekom en gekyk na plekke binne trefafstand van Kaapstad. Bonnievale het gewen.” Hy glimlag daaroor.

Wilhelm dien op die beheerraad van Bonnievale Hoërskool. Oor die afgelope jare het ’n somber en kommerwekkende prentjie ontwikkel: Meer as 1 500 kinders uit 11 laerskole in en om Bonnievale ding mee om slegs 350 beskikbare hoërskoolbanke. Dit is ’n hopelose situasie. Wat staan hulle te doen? Wilhelm het sy vriend, Philip, genader. En, soos Nehemia, het hulle mense bymekaar gemaak en begin bid en bou.

Hulle het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gaan sien en dié het gevra: Kry grond, kry 60% van die geld wat gaan nodig wees en kry genoeg mense om die plan te laat werk. Binne ’n week was hulle terug by die minister: “Ons het die grond – 12 hektaar op ’n 100-jaar pag. Ons het nog nie al die geld nie. Maar ons het planne en baie steun uit die gemeenskap.” Die grond moes hersoneer word. Die minister het gedink dit sal ongeveer twee jaar neem. Maar binne net ses maande val alles in plek en kon hulle begin bou.

In die proses om mense bymekaar te maak, mense wat die hele gemeenskap verteenwoordig, mense wat verstaan dat God ’n hart het vir Bonnievale se kinders, het Philip vir Dawid en Mac Kühn, jarelange staatmaker-werkers van sy pa, gaan sien. “Ons sal graag wil hê ons seun moet by wees,” het hulle gevra. So het Curren, ’n jongman uit Happy Valley, ’n onmisbare deel van die span geword.

Curren se pa, Dawid, het lankal die belang van geleerdheid besef. Daarom het hy destyds grond gehuur by die kaasfabriek en met beeste geboer om sy kinders se studies te finansier. Vandag is Curren ’n elektriese ingenieur, die derde trustee van Jakes Gerwel Tegnies en voorsitter van hulle dissiplinêre komitee – streng, maar met ongelooflik baie genade.

“Curren staan eenvoudig op ander voete wat kontak met die kinders betref,” sê Philip. “Hy is ’n skitterende rolmodel. ’n Geestelike mentor. Dit is vir ons baie belangrik. Hierdie is kinders sonder boundaries. Die omvang van gebrokenheid in die gemeenskap is moeilik om te verduidelik. Vergeet van ’n quick fix. Dit is ’n generasie-ding. Dit vra natuurlik ongelooflik baie van die skoolhoof en personeel. Hulle is karakterbouers. Ons wil regtig die identiteit, die eiewaarde van kinders aanraak.” 

“I don’t just see a community being healed, I see a country being healed,” sê Suzanne Smith, die lewensoriëntering-onderwyser.

“Die gemeenskap van Bonnievale het bykans 60 miljoen rand bygedra tot die skool se kostes,” vertel Wilhelm. “Ons het gewoon vir mense gevra: Wat is in jou hand? En hulle het vrymoedig begin gee.”

Drie van die sleutelfigure in die verhaal van Jakes Gerwel Tegnies, by van die bouwerk wat nog aan die gang is. Van links staan Philip Jonker, Wilhelm de Wet en Curren Kühn. Foto verskaf

Dit wissel van groot donasies tot gratis dienste wat enorme bedrae beloop. Die rugbyspan kon byvoorbeeld nie geld gee nie, maar hulle het die wingerd kom uithaal. By die twee plaaslike supermarkte, Spar en Multi Save, kon mense bakstene koop teen R2,50.

Nadat die gemeenskap só 60% van die fondse gegenereer het, het die regering die ontbrekende 40% aangevul. Die Wes-Kaapse Minister van Opvoeding, Debbie Schäfer, is “oorweldig om te sien wat gebeur wanneer ’n gemeenskap so hande vat met die regering. En die manier waarop dit eenheid in ’n voorheen verdeelde gemeenskap gebring het, is merkwaardig.” Die feit dat die skool op tegniese vaardighede sowel as akademie klem lê, maak dat sy dit ’n “miracle school” noem.

Want Jakes Gerwel Tegnies se kurrikulum kan kinders hoofstroom-universiteit toe vat. Maar hulle het ook ’n vaardigheidsbeen – wat op tegniese bekwaamheid fokus: Voedselverwerking, elektriese bedrading, loodgietery, sweiswerk … Die kinders gaan “shadow” by besighede – by die kaasfabriek, by Langeberg-inmaakfabriek op Ashton. Sommer vir twee weke, elke af en toe. Die blootstelling aan die werkplek versterk hulle selfvertroue en selfdissipline. Selfwaarde ook. En hoop, energie en dryfkrag.

’n Lewe met blink oë

“Onthou,” sê Wilhelm, “statistiek wys dat slegs een uit elke vyf mense in die Langeberg-streek matriek het. Ons kinders bestaan dus meesal maar net – sonder visie, opsies of eiewaarde.”

Baie kinders word in die omgewing groot, bruisend met energie en sporttalent, maar sonder geriewe om aan georganiseerde sport deel te neem. Op die agtergrond is die grondverskuiwingsmasjiene besig om berge te verskuif om drie sportvelde by Jakes Gerwel Tegnies te skep om dié leemte te vul. Foto verskaf

“Jy sien nog die kleintjies – so tot op vyf jaar – met blink ogies en glimlagte,” vul Philip aan. “En dan, soos hulle ouer word, skop die begrip van die werklikheid wreed in: Ek is die produk van my omstandighede. En jy sien hoe hulle begin glo hulle is niks werd nie.”

Daarom is Jakes Gerwel, as rolmodel, so belangrik. Sy innerlike sterkte en karakter het gemaak dat hy uitgekom het waar hy uitgekom het. Hy was bereid om oor grense te tree ter wille van versoening. Sy seun, Hein Gerwel, beaam: “There is hope in South Africa. We all work together towards something positive.”

Die visarend op die skoolwapen is vir Philip ’n simbool van uitstyg, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

“Jakes Gerwel was ’n nederige man wat ontsettend baie vermag het,” sê Jakes Gerwel Tegnies se skoolhoof, Albert Mocke. “Jakes was nie ’n boorling van Bonnievale nie. Hy kom uit die Oos-Kaap en was saam met Madiba ’n politieke gevangene op Robben-eiland. Philip het eendag die eiland gaan besoek en gesien die ou wingerdjie wat hulle daar het, lyk maar taamlik verlep en verwaarloos. Hy het ingespring met raad en hulp en die oes was beter. Van daardie oes het hy toe wyn gemaak en vir Madiba geneem. En daardeur het ’n vriendskap tussen hom en Jakes Gerwel ontstaan.

Baie van die kinders in die skool weet nie eens wie Jakes Gerwel was nie. Maar dís hoekom hulle hier is – om te leer. Van verhoudings en karakter en die impak wat mense en kennis op ’n lewe kan hê. Ons het twee onderwysers wat uitsluitlik as karakter-bouers aangestel is.”

Meneer Mocke noem Jakes Gerwel Tegnies ’n entrepreneurskool. ’n Nuwe model, ’n nuwe versnit van akademie en tegniek; ’n nuwe samewerking tussen die staat en die privaatsektor. Hulle is deel van die saamwerk-skoleprogram in die Wes-Kaap. ’n Voldag-, “no fee”-skool met ’n voedingskema.

Hy vertel van ’n seun wat gesê het: “Ek wil na hierdie skool toe kom, want ek wil ’n verskil maak.” Presies soos hyself ook gevoel het: Die dag van sy onderhoud, was die fondasies nog nie eens gegrawe nie. Maar hy het sy werk in Bloemfontein bedank en Bonnievale toe geskuif om letterlik pa-wees te modelleer vir honderde kinders.

“Nehemia is ons rolmodel,” verduidelik Wilhelm. “Toe hy die mure van Jerusalem herbou het, kon mense weer glo die Here het ons nie vergeet nie. In Bonnievale het God meer as net ’n skool kom bou. Hy bou mense; verander harte.”

Drie jongmanne. En hulle oupas, hulle pa’s; hulle vrouens; hulle jong gesinne; vriende; en die res van die gemeenskap wat bereid is om te commit; en die regering wat sê kom ons help julle. En hulle God. Van bo-op die rant gooi Happy Valley se mense nou hulle gelukkige klanke oor die land uit, en roep na elke dorp toe: Julle kan, julle moet dit ook doen! Breytenbach se woorde is nou nóg meer gepas:

my grootvader se heerlike stof lê warm in die heuwels
God sit en droom in ’n mikboom met bril en boek en ’n beker
koffie Hy kyk oor sy handmerke oor die boorde
die waterlope die varingtuine die muildiere die wolke
die stof en van pure blydskap knip Hy sy oë

Kontak Philip Jonker by info@jgeskool.co.za of 084 588 6540 vir meer inligting.

Liefde oorwin vrees

Laurence Mambu bry-rol haar r’e soos ’n tipiese Franssprekende wanneer sy Engels praat. Daarom sit sy, as “foreigner”, tjoepstil in ons taxi’s. Staan eenkant op die skoolgrond. Dit is gevaarlik hier tussen vreemdelinghaters. Xenofobie is nie dood nie. Haar aksent verklap haar herkoms.

Sy het 17 jaar gelede, as 23-jarige regsgeleerde, uit die onstuimige Demokratiese Republiek van die Kongo na Suid-Afrika gevlug. Vir veiligheid. Nie vir ’n beter werk of toekoms nie. Vir blote oorlewing. Maar toe is Suid-Afrika vir haar ’n verpletterende ontnugtering!

Hoekom Suid-Afrika? Want sy het gedink: “Ek moet in Afrika, op hierdie swart kontinent, bly. Dit is my hart-grond. Africa is my home.” Die meeste van haar sibbe is verstrooi oor die wêreld – die VSA, Duitsland, soos baie ander Kongolese.

Laurence het egter Suid-Afrika gekies, want as dogtertjie het sy eendag, toe sy en haar pa saam winkel toe was, Nelson Mandela se kavalkade sien ry. Haar pa het haar ons geskiedenis vertel. Sy was jammer vir ons mense. Vrydae het hulle by haar
skool geld ingesamel vir die arm Suid-Afrikaanse kinders. Gereeld gevas en gebid by die kerk. “Therefore I chose South Africa. I thought they were my brothers.”

Getraumatiseerd deur die oorlog in haar eie land, het sy verwag ons mense sou verstaan: “I was at the end of the road, there was no way out for me.” Tot haar skok loop sy haar toe hier vas teen vreemdelingehaat: swart mense wat ander swart mense soos vyande, soos uitvaagsels, behandel. “We were like a snake out of the forest inside someone’s house.”

Sy het haar bes gedoen om terug te gaan, maar almal in die Kongo het gekeer: “Moenie terugkom nie, mense word doodgemaak hier.” Terwyl almal in Suid-Afrika snou: “Gaan weg, ons wil julle nie hier hê nie!”

“It was too much.” Om uit een ongenaakbare plek in ’n ander, harder een vas te vlug. Uitgelewer.

Hoe verduidelik jy die vrees vir iemand? Jy sit daagliks in taxi’s, altyd angsbevange. Ingehok saam met mense wat jou kinders kan skade aandoen. Daarom ontwortel jy hulle liewer heeltemal. Jy leer hulle nie Frans of Swahili nie. Verdoesel hulle identiteit. Niemand moet kan hoor of sien hulle is buitelanders nie.

In hierdie desperate tyd, ontdek Laurence die MathMom-projek wat uit ’n vennootskap tussen die NG gemeente Sonstraal in Durbanville en die Evangelies Lutherse Gemeente in Elsiesrivier gebore is. MathMoms span die krag van moederliefde in om kinders wiskundevaardig te maak.

In ’n netwerk van gesonde verhoudings skep elke MathMom, vrywillig, ’n veilige ruimte by haar huis waar kinders kan ontwikkel – in baie meer as bloot net somme-maak. Wiskundekennis en lewensvaardighede word vermenigvuldig deur verskeie kursusse en medemenskontak.

En Laurence word ’n MathMom.

Haar gesig verhelder merkbaar wanneer sy vertel. “Meeting the MathMoms was a breakthrough for me. It was like someone just gave me a hug. That was all I wanted. Someone telling me that it will be okay.”

In die daaropvolgende maande het haar familie haar sien verander. Voorheen was haar huisie se gordyne altyd toe, deure gesluit. Sy wou geen kontak met die buitewêreld hê nie. Wou nie raakgesien of van geweet wees nie.

Nou het sy die selfvertroue gekry om haar kinders weer te laat buite speel. Bietjie vir bietjie oorwin sy haar vrees. Want sy begin verstaan: Nie alle Suid-Afrikaners haat vreemdelinge nie.

So word twee gemeentes se omgeeprojek vir kinders ’n veilige hawe vir ’n Kongolese vlugteling. Die ruimte waar sy geborgenheid kry, word een waarin sy weer liefde en geborgenheid kan gee vir ander wat dit nodig het. En deur die gee, kom daar ook genesing vir haarself. Die evangelie se som klop: Liefde ontvang plus liefde gegee is gelyk aan oorwinning oor die vrees.

Lees meer by mathmoms.co.za oor die projek.

Magdalenahuis is die kerk se biesiemandjie vol hoop

’n Ontstellende hoeveelheid rook borrel onder haar kar se enjinkap uit toe Annalise Wiid voor Magdalenahuis stop. Sy is daar vir die onderhoud vir hierdie artikel, maar nou is haar eerste prioriteit net: “Wie gaan my help?” Toe sy daar inbars met: “Ek dink my kar is aan die brand!” besef sy: Presies só dringend soek almal wat hier aanklop, na hulp. Sy vertel verder.


Magdalenahuis is ’n beradingsentrum vir vroue met krisisswangerskappe. Maar hulle doen ook veel meer. Dít vind ek uit om ’n gesellige tafel, met melktert en koffie. Ná ds Stef Esterhuizen, ondervoorsitter van die beheerraad, eers gaan seker maak het my kar verkool nie.

Koelkop. Dié mense bly koelkop in krisisse. Dit is uit die staanspoor duidelik. En dit boesem vertroue in. ’n Mens voel veilig by hulle. Magdalenahuis, ’n dood­gewone huis in ’n voorstedelike buurt, is ’n diens van Badisa – die gesamentlike barmhartigheidsaksie van die NG Kerk in Wes-Kaapland en die VGKSA van Kaapland. Hulle kom al ’n lang pad.

Magdalenahuis het 116 jaar gelede ontstaan, in ’n tyd toe meisies met “ongewenste swangerskappe”, weggesteek en soms selfs verwerp is. Toe was Magdalenahuis ’n veilige skuilplek vir meisies wat nie die swangerskap in hulle gesinne of gemeentes kon deursien nie – tot na die geboorte en waarskynlike aanneming.

Anneke Raubenheimer, maatskaplike werker, sit op een van die stoeltjies wat die vroue in die dagprogram maak. Agter haar lê ook ’n bababedjie. Hulle maak die stoeltjies vir hulleself om op te sit tydens die dagprogram se aktiwiteite. Maar ook om te verkoop om inkomste te genereer.

Selfs in die 1970’s was Magdalenahuis nog bietjie van ’n afskrikmiddel: “As jy jou nie gedra nie, beland jy daar”. Buite-egtelike swangerskap was vir baie mense destyds eenvoudig net sinoniem met sonde en skande.

As die mure van hierdie huis maar kon praat! Van hoeveel angs en hartseer sou dit nie vertel nie. Hoeveel liefde en pyn. Drome en skerwe en heel word en moed skep. Vergifnis en aanvaarding en kop-oplig. Dinge het baie verander, maar ds Stef sê: “Jy sal verbaas wees hoeveel mense steeds hulle mond uitspoel oor meisies wat buite-egtelik swanger raak. Asof mans geen aanspreeklikheid het nie.”

Hier by Magdalenahuis is egter nie veroordeling nie. Net oop arms, begrip en goeie, wyse raad en leiding. Hoewel stenig-woorde soos “sonde” en “skande” nie meer so algemeen gebruik word nie, is Magdalenahuis se diens steeds, en dalk selfs nog meer, relevant.

Deesdae woon meisies nie meer daar in om weg te kruip nie. Vroue met krisisswangerskappe kan wel steeds inskakel vir berading. En word deur ervare maatskaplike werkers begelei tot ’n ingeligte en verantwoordelike versorgingskeuse ten opsigte van hul baba.

Dié wat kies om hul baba te behou, kan inskakel by die program “Eerste Duisend Dae” – die tydperk tussen bevrugting en die kind se tweede verjaardag, wat ’n uiters belangrike grondslagfase vir ’n kind se brein- en vroeëkinderontwikkeling is. Navorsing bewys: Die regte voeding, opvoeding en bystand gedurende dié eerste duisend dae lê die fondasie vir die kind se vermoë om te groei, te leer en te floreer. “Right start, bright future!”

“Ons visie met die Eerste Duisend Dae is onder meer dat hulle ma-wees kan geniet,” sê Stephny du Plessis, die programbestuurder, met indrukwekkende entoesiasme.

Twee deelnemers aan Magdalenahuis se dagprogram versorg hulle groentetuin in die binnehof. Dit lewer genoeg vir ’n gesonde maaltyd elke dag. Foto verskaf.

Magdalenahuis Beradingsentrum is oortuig dat niemand bestem is om deur die lewe oorweldig te word en tou op te gooi nie. Daarom word alle beskikbare metodes aangewend om mense hoop te laat skep en liefde te laat ervaar.

Hedendaags word hierdie weerlose swanger dames, wat meestal uit moeilike maatskaplike omstandighede kom, deel van Magdalenahuis se ondersteunings- en bystandsprogram wat fokus op verantwoordelike ouerskap, lewensvaardighede en om finansieel onafhanklik te funksioneer deur middel van entrepreneurs­ontwikkeling.

Verder fokus die program daarop om maatskaplike kwessies te hanteer deur vroeë intervensie met die doel om mishandeling en uitbuiting van kinders, kindersterftes, onbeplande tienerswangerskappe en MIV te voorkom. Clicks-apteek lewer as gesondheidsvennoot ’n waardevolle bydrae binne die program.

Die meisies kry Maandag tot Vrydag gratis heen-en-weer vervoer en daagliks twee gesonde, gebalanseerde maaltye. Goed vir die ma se lyf en die baba se ontwikkeling. In die binnehof kweek hulle heerlike vars groente. Die naaldwerkprojek maak byvoorbeeld stoele en bedjies uit lap. Lewensvaardighede waarmee die vroue ’n onafhanklike bestaan kan maak. Toe ek daar instap, het hulle pas klaar kolwyntjies gebak. ’n Regte, lekker en doodgewone ma-ding om te doen.

Roxy Delport, tans deel van die dagprogram, is trots op alles wat sy al hier geleer het: “Verf, brei, naald­werk, parenting.” Sy vertel: “Toe ek so vier maande ver was, het ek vir Theresa (Magdalenahuis se dagprogram-assistent) by die daghospitaal ontmoet. Theresa het my van die program gesê, en van hoe hulle my kan help. “Ek was toe baie geworried, Mevrou. So heeltemal op my eie.”

Maar nou is sy nie meer bang nie. Net baie opgewonde. Sy het selfs al geleer hoe om ’n babatjie te bad. Sommer op Thando – een van die ander meisies in die program se babaseuntjie – geoefen. En geleer wat om te doen as ’n kleintjie gastro of koors het. “Alles gaan so goed met my eie baba, ek kon selfs een check-up skip. All is well. En die familie is ook vreeslik opgewonde. Dit is die eerste kleinkind aan beide kante. As dit nie vir Magdalenahuis was nie, Mevrou, waar sou my hulp vandaan gekom het?”

Stephny sê: “Ons werk met mense se diepste seer. Benewens krisisswangerskappe en die eerste duisend dae, lewer ons ook aannemingsdienste aan kinderlose ouerpare. En, onthou, elke egpaar het hulle eie ges­kiedenis van trauma en verpletterde hoop en weer probeer, weer waag. Daarom tree ons sensitief en verantwoordelik tot hulle lewe toe. Ons plaas ons meisies se babas met oorleg. En tussen die geboorte en die plasing het ons spesiale veiligheidsouers wat tydens dié oorgang verseker dat die baba liefde en stabiliteit ervaar.”

Daarbenewens lewer Magdalenahuis ook ’n herkomsdiens – vir aangenomenes of biologiese ouers wat die ander betrokke party wil opspoor. Dit is ’n intens emosionele pad wat te alle tye met groot omsigtigheid, wysheid en deernis benader word.

Daar is natuurlik ook baie ander rolspelers en vrywilligers wat help, mense vir wie dit belangrik is om nie net finansieel by te dra nie, maar ook van hulle tyd te gee. Dit het te doen met liefde. En heelword.

Zanne Stapelberg de Lange, bekende operasangeres en Magdalenahuis se beskermvrou, vertel opgewonde dat haar betrokkenheid by Magdalenahuis haar lewe verander het.

“As ma is ek so bewus van hoe broos ons kinders is. En hoe afhanklik van positiewe invloede. En dat ons hulle ten alle koste moet beskerm. Vir óns kinders is dít ’n gegewe. Maar die meisies met wie ons werk, is so verniel deur die lewe, meeste van hulle se realiteit so wreed en ongenaakbaar, dat hulle nooit die kans gehad het om te droom nie. Magdalenahuis se merkwaardige maatskaplike werkers en vrywilligers help hulle om weer mens te word, om lief te wees vir hulleself en te leer dat hulle liefde werd is. Jy moet hulle oë sien,” sê sy.

Magdalenahuis se suksesverhaal bestaan uit baie mense se omgee. Elsa Botha het 15 jaar gelede al betrokke geraak as veiligheidsouer. “Vir so ’n lang, maer seuntjie,” glimlag sy met heimwee. Die afgelope twee jaar is sy hulle bemarker en fondswerwer.

Elsa is ’n vrolike mens. Sy het drie kinders. Twee van hulle is aangeneem. “Mense vra dikwels vir my: ‘Is jy liewer vir jou eie kind as vir hulle?’ Dan sê ek: ‘Hallo? Eie kind? Hulle is almal my eie!’” Dit lê haar lag en haar oë vol: Sy het hulle onvoorwaardelik, intens en ewe veel lief. Soos net ’n ma kan.

Magdalenahuis is ook betrokke by gemeenskaps­uitreikprogramme. Hierin speel hulle gemeenskaps­werker, Jacque Pondo, ’n enorme rol.

En Janine Higgo, klinieksuster by Clicks-apteek, sê: “Om telkens deur die mense van Klipheuwel verwelkom te word, bly steeds ’n spesiale ervaring met die wete dat dit nie net hulle is wat gehelp word nie, maar ook ons as mens wat deur ons betrokkenheid geleentheid gebied word om ’n klein verskil te kan maak in hulle swaarkry.”

Soos Magdalenahuis ouer word, word die storieboek van mense wat baat gevind het by die sentrum al hoe dikker en meer fassinerend. Soveel babas se lewe is ingrypend verander; mammas is gehelp om deur­dagte besluite oor hulle kinders te neem; kinderlose ouers kon die vreugde van ’n aanneembaba ervaar; aangenome persone is met hulle biologiese ouers en families herenig en gemeenskappe is ingelig oor intimiteit en volwasse, verantwoordelike keuses rondom seksualiteit.

Ds Stef Esterhuizen (ondervoorsitter van die beheerraad), Elsa Botha (bemarker en fondswerwer) en Stephny du Plessis (programbestuurder) vertel opgewonde, oor tee en melktert, van al hulle aktiwiteite en wys ’n video waar Zanne Stapelberg de Lange by ’n funksie saam met die meisies sing.

En sou daar dan, desondanks, ’n swangerskap kom, is Magdalenahuis koesterend daar: Die kerk se biesiemandjie, wat onverwagse, weerlose Moses-babatjies en hulle beangste, moedelose ma’s toevou in veiligheid. Waar liefde onophoudelik uitgedeel word. Waar mense se doodlope omskep word in snelweë. Waar kliënte se gebrokenheid omgekeer word omdat die Here-van-hoop-en-liefde wonders doen wat mense verbaas laat oor die ongekende herstel en genesing wat Hy te midde van soms morsige omstandighede bewerk.

“Sê asseblief baie dankie vir die kerk se steun deur al die jare,” vra ds Stef, met duidelike emosie. Die kerk is ook húlle biesiemandjie.

Geen geboorte is sonder pyn nie. Magdalenahuis s’n was nie. Nie een van die meer as 5 500 vroue wat hulle al gehelp het s’n was nie. Nie ’n enkele aanneming of hereniging is nie. Dit is nooit sonder pyn nie. Maar dit word meestal gevolg deur intense vreugde. Want dit is soos dit is: Diep emosies gaan gepaard met die ontstaan van lewe.

Toe ek uitstap kar toe, en hy staan daar sonder rook en vlamme, voel ek tranerig van verligting. Nie net oor my voertuig nie. Oor die mense van hierdie huis – wat my weer, soos die wyse Aristoteles, herinner het: Hoop is ’n droom wat aanhou selfs nadat ’n mens wakker geword het.

Magdalenahuis se kontakbesonderhede is: info@magdalena.org.za, www.badisa.org.za en 021 948 3637. Die bankbesonderhede is: Magdalenahuis, Absa (Parow 334310), 390520026.

’n Afrika-rivier, ’n pampoenrank en die evangelie van naaste-wees

Dr AnnaMarie de Klerk was 46 jaar lank sendeling in Malawi. Sy tree nou af. ANNALISE WIID het tydens ’n tuisbesoek, ter voorberei­ding op haar terugkeer na Suid-Afrika, met haar gesels oor groei, ontworte­ling en na­la­tenskappe.


Tuis. Waar is tuis vir ’n twee-kultuur mens? So klein en fyn soos sy is, laat AnnaMarie ’n mens aan ’n Afrika-rivier dink. ’n Diep-vloeiende, le­we­gewende stroom: Met, aan die een oewer, Suid-­Afrika – spesifiek Calvinia en Wellington waar haar groot­word- en studie-wortels lê. Aan die oorkantste oe­wer, Malawi – spesifiek Nkhoma, Lilongwe en Ma­lin­gunde, waar haar hart en huis is.

Vóór ons egter oor die roetekaart van haar lewe praat, gesels ons eers gesondheid. Die rede vir haar besoek aan Suid-Afrika in November 2017. Sy is skoon. Die kanker is weg. Maar haar energie ook. “Jou lyf is net te moeg,” sug sy, “jy sien nie kans nie, dit tas jou gees ook aan. Maar die Here vernuwe mens weer.”

Twee seuntjies bid by die KIX-kleuterskool.

Sy het ’n hupstoot kom haal. Die siekte, die behandeling … “Ek het donkerte ervaar, ’n wagtydperk. Dit het my nogal gevang. Vreemde emosies van verlammende aard. Mens is op ’n bus. En jy weet nie waar dit gaan uitkom nie.”
So moes dit seker ook gevoel het toe sy in 1971 Malingunde toe is? Die 23-jarige jong vrou van die Hantam-plaas Rietvlei, waar die kokerbome groei. “Ek was toe darem al voorheen in Malawi. Op ’n studentetoer van Hugenote Kollege, saam met die rektor, prof Johan van der Merwe en ds Gawie en tannie Louise Hugo (afgetrede sendelinge en wonderlike mentors). Ná ’n diens in die Nkhoma-kerk, het ek vir prof Johan en oom Gawie gesê: ‘Ek glo ek gaan terugkom hierheen.’ Die Gees het daar ingespreek in my.”

Sy gaan doen daarna ’n tweejaarkursus in sendingwerk by Hugenote Kollege op Wellington. En nog ’n drie­jaarkursus in maatskaplike werk ook. Ter voorbe­reiding.

“Ek is van Calvinia af met ’n Vollatjie hier op. Moes my moedertjie agterlaat. Dit was kort na my pa se dood.” Maar sy het geweet sy gaan met sy seën. En dat haar sibbe na haar ma sal omsien.

Juffrou Ireen Chagwamo gee klas in die Baptistekerkie van ’n buitepos.

“Die sendingkantoor, as hulpsentrum hier onder, het alles gereël dat ’n mens ’n posisie en akkommodasie het as jy daarbo aankom. Ek moes natuurlik eers die taal leer. Chichewa. 6 Maart 1971, vier dae na my aankoms. Dr Johan Louw, taaldosent op Malingunde, wys na die gebou waar ons klas gehad het, en sê vir my: ‘Dáár gaan jy soggens grammatika doen, maar tweeuur elke middag gaan jy oorstap na Helena Nangondo toe. Sy gaan jou sleutel wees om die taal te leer práát.’ En so was dit. Onder die boom, vir drie ure lank elke middag, oor ’n tydperk van vier en ’n half maande, met die ouer vrou.

“Helena was meer as my taalmentor; sy het my Malawi-ma geword. Toe sy die dag begrawe word, het die mense my hanteer soos haar dogter. My getroos asof my bloed-ma dood is.”

AnnaMarie was nooit alleen nie. Uit die staanspoor is sy begelei, deur mede-sendelinge, sowel as Malawi-vroue. Jeug- en vrouewerkers van die Nkhoma-sinode. “Hulle het my saamgeneem. Skole toe. Bos toe. Vir my getolk toe ek nog onbeholpe was met Chichewa. Hand-aan-hand het hulle my ingelei in die werk. My ge-‘langiza’ – soos ’n dogter tot vrouwees begelei word. Hulle is tot vandag toe my mentors. ‘Ken jouself,’ het ek daardie tyd geleer, ‘dan hoef jy niemand ná te maak nie.’” Sy het ook geleer: “Settle your heart and mind; be content where you are.” Dan word jy oplettend vir wat positief is aan beide kante. En vir wat mekaar aanvul.

AnnaMarie is lank nie meer buitestander nie. “Ek is ’n ‘binne-mens’.” Sy voel saam met haar mense. Het fyn antennas vir nood ontwikkel. Geleer: Jy vra nie: “Hoe gaan dit?” nie. Dan antwoord hulle net “I’m fine.” Jy gaan besoek. Sit. Luister. Vra: Watter uitda­gings beleef jy nou? Die Malawiërs het vir haar ’n nu­we van gegee: Nachisale. Sy is volledig aanvaar. Gogo Nachisale. Familie.

Twee seuntjies bid by die KIX-kleuterskool.

Julie 1971. AnnaMarie skuif na Lilongwe. As “vroue­werkster” hou sy naaldwerk- en kookklubs. Bybelstudie. Word mettertyd onderwyseres, en later hoof van die Lilongwe Home Craft Centre, of die Vroue­skool, soos dit destyds genoem is. Toe was daar in Malawi baie min na-skoolse opleiding vir vroue. Weens die kultuur en finansies, het families eerder hulle ­seuns laat studeer. Nou is dit heeltemal anders. Nou flo­reer die vroue!

AnnaMarie het ook vyf jaar voltyds taalonderrig aan nuwe sendelinge gegee: Suid-Afrikaners, NG, Bap­tiste, Zambiërs, Noorweërs, Nederlanders. Inte­ressant. Nie almal dominees of geestelike werkers nie. Ook tandartse, vlieëniers. “Dit was ’n heerlike, ryk er­va­ring van blootstelling aan ’n verskeidenheid lande, de­nominasies, kerkgenootskappe.”
Jare lank was sy ook sekretaresse/tesourier vir die skakelbeampte by Nkhoma se sinodale kantoor waar sy die administrasie, finansies, in- en uitvoer, en ska­ke­ling tussen die sinodes van die CCAP en die NG Kerk hanteer het. Daar was sy, later, ook deel van die “oorgee aan die CCAP-sinode” – “die tyd toe ons verhou­dings verander het van ‘moeder-kerk en sen­ding-kind’ tot ‘partners’, medewerkers. Toe ons nie meer gestuur het nie, maar begin vra het, begin wag het tot … Meer sensitief … Ek was sekretaresse by al die kommissies. Dis waar Nkhoma Universiteit begin het. Eers was daar die onderwyskampus, die teologiese skool, die groot hospitaal …” 

Daarna is AnnaMarie terug Vroueskool toe op Malingunde. Vroeëkinderontwikkeling het intussen prioriteit geword. Op ’n dag laat weet Gielie Loubser (PSD Jeugbediening, Wes-Kaap): “Die KIX-kids het geld ingesamel. Ons wil fondse skenk vir ’n projek in Malawi wat goed sal wees vir kinders.” R200 000 oor twee jaar. Hulle kon 150 onderwysers oplei! Anna­Marie het Kinderevangelisasie doseer. ’n Vriendin, op­leidingsmetodes.

“Ek en my seun, Fletcher, het 15 skooltjies in die Malingunde-omgewing geïdentifiseer. ’n Mens gaan eers na die hoofman vir toestemming. Hy kry dan sy indoenas bymekaar en saam kies hulle geskikte mense om opgelei te word – so 30 mans en vroue per kursus. “Gielie, ’n paar afgevaardigdes van KIX, asook Kobus en Mariëtte Odendaal, (van Afrika Ekumene en Ge­tuie­nisaksie) het Malawi toe gekom. Die skooltjies saam met ons besoek.” Sommige van die nuut-opgeleide on­der­wysers het daarna hulle eie skooltjies oopgemaak. “Hulle selfwaarde het wortel geskiet.”

Twee ou geboue op AnnaMarie se werf in Malingunde is “binne net 9 maande” opgeknap en tot skool omskep. “Die Lutzvillers, en ná hulle die mense van Alberton-Wes, het hulle skatkamers kom leegmaak daar by ons. Later Calvinia ook. Nie net geld nie. Plafonne ingesit, hulp met elektriese bedrading. Onder­wysers wat ons opleiding en opvoedingsmateriaal kom aanvul … Die geloofwaardigheid van ons Vader: As Hy ’n ding wil doen, doen Hy dit!”
Hulle het tans 50 leerders tussen ongeveer drie en vyf jaar oud. Hulle memoriseer Bybelstories, leer Engels en Chichewa, doen “maths” en “creative activities”. Sit by bankies. Dra mooi uniformpies. As hulle ses word, gaan hulle primêre skool toe, net oor die pad. “Dit gee hulle ’n enorme voorsprong – nie net akademies nie; ook om elke dag te hoor daar is ’n Jesus wat hulle liefhet.”

AnneMarie de Klerk ’n paar jaar gelede saam met haar Malawi-moe­der en taalinstrukteur, He­lena Nangondo.

“Ons het goeie saamwerk-verhoudings met alle vlak­ke van die samelewing. Nou wil ons die kinders wie se ouers nie kan betaal nie, ook intrek. Verbeel jou ’n enkelma van drie, wat water dra vir ’n inkomste. R100 per maand is buite haar bereik. Ons wil ons tentpenne wyer inslaan. Om mense soos sy te help.”

In 46 jaar loop baie water onder die brug deur. “Ek het begin met die vroue, daar op die mat, of onder ’n boom. Ek het sedertdien so baie geleer. Akademies ook.” (In 2016 ontvang AnnaMarie ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Nkhoma.) “Ek is toegelaat om ‘by te voeg’.”

Fletcher, haar Malawi-seun en steunpilaar, het as 15-jarige by die Vroueskool begin werk. Werf gevee. “Ons het gou gesien hy is pligsgetrou. En het die goeie geaardheid, ontvang maklik instruksie. Nou werk Fletch ons skoolbegrotings uit. Behartig die geboue en terrein se onderhoud met ’n viermanspan. As ek sê ons moet nog ’n klaskamer bou, sê hy okay, ek soek solank stene.” Fletch. Pa van vyf. Die jongste, Daniël, is nou amper drie maande oud. Haar hart lê in haar stem as sy van hulle praat. Die groenste bome aan die Malawi-oewer van haar hart-rivier.

AnnaMarie gebruik die beeld van ’n pampoenrank vir haarself: Met wortels hier, maar wat wyd rank en vrug dra, ver vanwaar die saad oorspronklik geplant is. Wat voed. Soms stapelvoedsel is, in droogtetyd. “Ja, soms het my optrede, besluite, keuses en kort humeur oorgeneem bo die inspraak van die Gees. Maar, in ononderbroke trou, hernuwe Hy my hele lewenstyl. Sny die perdeby se geniepsige steekplekke uit.” ’n Mens leer genadig met feilbaarheid omgaan. Ook jou eie.

Haar gesondheid het haar die afgelope vier jaar begin voorberei vir haar komende terugkeer na Suid-Afrika. Tot dan, gee sy haar aandag aan “daardie vrou­tjies wat nooit die kans gehad het om te leer lees of skryf nie.”

’n Oudstudent van AnnaMarie, “een van die sterre van die Vroueskool”, het AnnaMarie opgelei om volwasse geletterdheid te doseer. “Ons het ses vroue geïdentifiseer op Malingunde. Ons kies hulle nie. Hulle moet self kom sê: ‘Ek het ’n behoefte om te leer’. Jy kan nie iemand ontwikkel wat nie wil nie. Hulle doeltreffendheid hang van hulleself af. Dit gee hulle trots.”

Met daardie ses ongeletterde, leergierige vroue werk sy nou. “En a, e, i, o, u is sleutels waarmee ek hulle vertel: Jesus is lief vir jou. Dit is my laaste kans. Voor ek middel April 2018 terugkeer na Suid-Afrika.”  
In 46 jaar is veel bygevoeg. AnnaMarie de Klerk Na­chisale gaan veel moet agterlaat. Die mooi­ste van Malawi wat sy met haar saambring? “Die bewussyn van our in­ter-res­pon­sibility for each other’s need.” Naaste-wees.

Groot uitdagings, groot geloof, groot God – Chancy en Miriam Gondwe se verhaal

Toe hy as tiener tot bekering kom, was Chancy Gondwe geïnspireer deur Paulus se lewe, dat hy gebid het: “Here, gee vir my ’n groot geloof.” Nou lag hy: “Toe gee God vir my groot uitdagings.” Een daarvan was om saam met sy vrou, Miriam, ’n skool te stig – vir kinders en volwassenes. ANNALISE WIID het baie by dié twee geloofs­pioniers geleer.


Chancy en Miriam, en hulle vriendin Magdaleen Goosen, kom drink by my tee. Ons gesels later sommer elmboë-op-die-tafel en oorskry ons af­gespreekte tyd by verre. Toe hulle moet gaan, voel my huis geseën, bevoorreg om hulle teenwoordigheid te kon beleef.

Chancy kom van Karonga, Noord-Malawi; Miriam uit Chiradzulu, in die suide van dié lang, maer land met die meer in sy hart. Chancy was ’n onderwyser; Mi­riam gemeenskapsontwikkelaar. Hulle is lidmate van die Church of Central Africa Presbyterian, deel van die groter NG Kerkfamilie. Die twee het mekaar ont­moet toe albei by die African Bible College studeer het. Aanvanklik val dié brokkies lewensinligting deurmekaar, soos legkaartstukkies, voor my neer. Soos die vertel vorder, maak die prentjie toenemend sin.

Toe Chancy, in 2010, “in blinde geloof” Suid-Afrika toe kom, Stellenbosch toe om ’n nagraadse diploma in teologie te doen, was hy ’n pasgetroude man, met drie jaar ondervinding as opvoedkundige koördi­neer­der by ’n welsynsorganisasie. Miriam het ’n MIV-jeug­pro­gram gekoördineer. Beide was gevestig in hulle be­roe­pe, passievol oor hulle werk.

’n Vriend van Chancy was reeds op Stellenbosch. Dit het vir Chancy soos ’n oop deur na nuwe studie­moont­likhede gelyk. ’n Godgegewe kans wat hy een­vou­dig móés vat. Maar, in sy wildste drome kon hy nie voorsien hoe groot die uitdagings sou wees nie.

“Ek het hier aangekom met hopeloos te min geld,” vertel hy. “Ek het álles gebring wat ek kon. Selfs van ons trougeskenke verkoop. Maar dit was nie naastenby genoeg om my registrasiefooi te betaal nie.” Magda­leen vertel dat sy vriende vir haar gesê het: “Chancy has too much faith.” En by haar gepleit het: “Gaan sê vir Chancy hy moet liewer teruggaan Malawi toe.” Selfs sy pastor uit Malawi, wat ook destyds by die US gestudeer het, het hom op ’n dag in die teologiebiblio­teek gevra: “Is jy seker jy moet hier wees?”

Chancy Gondwe in die VSA, tydens ’n kursus in die opleiding van onderwysers in geletterdheid. Hy pas nou die kennis wat hy daar opgedoen het met vrug in Malawi toe. Chancy glo dat geletterdheid – vir kinders sowel as volwassenes – ’n geskenk is wat menswaardigheid onderskryf en ’n nuwe lewe kan ontsluit.

Terwyl almal rondom hom toe deure sien, het Chan­cy se geloof egter steeds ’n skrefie sien oopstaan. En hoewel heeltemal platsak, het hy geensins getwyfel dat hy op Stellenbosch móés wees nie. “I was so much sure of the opportunity God had opened.”

SIF, die Stellenbosch International Fellowship, van ds Jurie en Magdaleen Goosen, het Chancy se familie geword in daardie tyd. Liefde en dankbaarheid lui, na jare, nog klokhelder in sy stem: “They gave me a sense of belonging.” Geestelike onderskraging. Kos, klere, prak­tiese hulp. “Mense het gou bewus geword van die nuwe jongman; het sy ooglopende potensiaal begin raak­sien,” vertel Magdaleen. “Hulle wou graag by hom betrokke raak en help.”

Toe hy eers sy voete gevind het, het Chancy vir Mi­riam Suid-Afrika toe laat kom. Hulle was per slot van sake nog so te sê op wittebrood. Trou aan hulle aard en ga­wes, het hulle kort voor lank ’n leiersrol by SIF se Sondagskoolprogram begin speel. Dit het baie goed gegaan met sy studies, maar daardie eerste jaar het hy amper sy gradeplegtigheid gemis, want hy moes nog ’n on­moontlike R11 000 se studieskuld delg.

Chancy vertel: “Toe word ek genooi na Helderberg Uitreik se jaarlikse kamp. Ek gaan, maar bietjie teësinnig, want my lewe hang in die weegskaal – ek het nie geweet of ek die volgende jaar verder sou kon studeer nie! Hulle deel my in saam met Nico van Rensburg, ’n man wat ek glad nie ken nie, om te bid. En Nico vra vir my: Watter uitdagings beleef jy nou?”

Ná die kamp het Nico by SIF navraag gedoen oor Chancy se studentenommer. En Chancy het, jubelend en verlig, verstom gestaan oor God se getrouheid en voor­siening. “Ek het dit baie keer al gesien,” getuig hy: “Op die regte pad het jy nie noodwendig van die begin af alles wat jy gaan benodig nie. Maar wanneer jy dit nodig het, op die regte tyd … God is groot!”

Intussen het Miriam volledig deel geword van die SIF-kerkfamilie. Sy het ook by die Universiteit se Spice Group ingeskakel, ’n ondersteuningsgroep vir die vroue van internasionale studente. En dit was goed om te kon praat met “people who have the same struggles”.

Maar Magdaleen het haar dopgehou, gesien die vroue-uitstappies is nie vir haar genoeg nie. “Ek het ge­sien hoe baie en leergierig sy lees, en besef: Dié vrou kan en wil meer doen, maar daar is nie geld nie!” Mag­da­leen bemiddel toe dat Miriam ’n leierskapkursus by ALICT (African Leadership Institute for Community Transformation) in Wellington doen. En dit word nog ’n belangrike legkaartstukkie.

Hoewel die keuring baie streng is, was haar werk-ag­tergrond in Malawi deurslaggewend vir toelating. Maar die kursus het skaars begin, of Miriam besef sy is swanger. Sy druk egter deur en voltooi die intensiewe pro­gram, oggendnaarheid ten spyt. Chancy onthou die tyd so: “Dit was wonderlik en angswekkend gelyk: Die verantwoordelikheid!” Skielik is hy pa, man, student en kerkmuis. Genadiglik slaag hy sy diploma met lof en verwerf sodoende ’n beurs.

Graadeentjies op die speelgrond van die Muliko Literacy-skool wat Chancy en Miriam Gondwe met groot geloof en geduld in Mangochi, Malawi gestig het.

Met die beursgeld registreer Miriam vir ’n nagraad­se sertifikaat in onderwys. Sy verwerf later ook haar hon­neurs daarin. En Chancy registreer vir ’n M in teo­logie, met fokus op gemeenskapsontwikkeling. Die twee studeer hard en doelgerig. Met finansiële onder­steu­ning van ’n Suid-Koreaanse professor, gaan doen hy ook ’n kursus in die VSA: in die opleiding van on­derwysers vir ongeletterdes. Later ook Child Evangelism Fellowship se Super Seminar in Somerset-Wes. En besef algaande: Geletterdheid is sleutel-belangrik om gemeenskappe te help ontwikkel.

Chancy en Miriam bekwaam hulleself so goed as moontlik. Nie om hier die korporatiewe leer te klim nie. Hoewel die Malawi-familie hulle sterk daartoe aan­spoor (“Maak vir julleself ’n goeie lewe in Suid-Afri­ka”) kies die Gondwe’s om terug te gaan na hulle Moe­derland. Om dáár ’n verskil te gaan maak.

En hoe wonderlik doen hulle dit nie! Die gesin gaan vestig hulle in Mangochi, in die suide van Malawi. Aanvanklik wou hulle terug Noorde toe, na Mzuzu, waar Chancy vandaan kom. Dit is Malawi-tradisie: Die vrou gaan bly by haar man se mense na hulle troue. Maar “something wasn’t adding up”.

By ALICT het Miriam geleer om ’n bedieningsplan saam te stel. Te vra: Waar sou hulle gawes die gemeenskap ten beste kon dien? Die antwoord was deurslag­ge­wend: Die hoogste vlakke van geletterdheid in Malawi is in die Noorde, veral in Mzuzu. In die Suide is so veel as 53% van die bevolking ongeletterd. Dit het dus na die beste plan gelyk om terug te gaan na Mangochi, in die Suide. Sonder werk, sonder huis, sonder goed. Met hulle dogtertjie, Lusungu.

Die eerste twee jaar woon hulle by Miriam se ouers. Begin ’n Good News Club met CEF-materiaal: Elke Vry­dag is dit speletjies, liedjies, Bybelstories. En die getalle groei: 30, 40, 50 kinders. Die Gondwe’s bly son­der inkomste. Hou net aan, met klein treetjies. Droom daarvan om ’n skool te begin … Toe hulle nêrens ’n goeie voorskool vir hulle 3-jarige Lusungu kan kry nie, pak hulle die bul by die horings.

Hulle gebruik ’n Theocentric Christian Education Curriculum for Home Schooling, wat Tannie Kietie Smit (91, oud-sendeling en lidmaat by SIF) vir hulle ge­koop het voor hulle uit Suid-Afrika weg is. Die klein kamertjie agter Miriam se ouers se huis word omskep in ’n klaskamer. “Ons het begin met 10 kinders van ouers wat ons ken. Vir die eerste keer het ons toe ’n in­komstetjie wat ons kan begin onderhou,” vertel Chancy.

Miriam Gondwe, met hulle oudste dogter Lusungu op die arm, die dag toe sy haar nagraadse sertifikaat in Onderwys van die Universiteit Stellenbosch ontvang het. Miriam het deur­gedruk met haar studies; swangerskap en gepaard­gaan­de oggendnaarheid ten spyt.

“Ja,” voeg Miriam by, “hy is handig. Hy het alles reggekry. Swaaie ook gebou. Ek hou skool. Ons bou verhoudings met die kinders, personeel en natuurlik indirek ook met die ouers – waarvan 72% Moslem is, maar nie omgee dat hulle kinders by ’n Christenskool leer nie. Die skool groei vinnig. Elke jaar het daar meer kinders gekom. Ons het nou al 90 leerders. Van voorskool tot Graad 2.”

Intussen is hulle tweede dogtertjie, Lingalithu, gebore. Chancy en Miriam het vrywilligers, wat hoërskool klaargemaak het, as hulp-onderwysers begin op­lei. Daar is reeds agt van hulle op die personeel. So­wel as twee gekwalifiseerde onderwysers.

En Chancy het ’n naskoolse program met die tie­ners begin: YouTh-Ink. “Baie kinders slaag nie hulle grade in die openbare skole nie, of val sommer uit. Ek wil hulle motiveer om aan te hou, deur te druk. Daarom het ons nou ook begin met naskoolse klasse: Maandag tot Woensdag in Engels, Wiskunde en Le­wens­vaardighede. Op Donderdae gaan die kindere­vangelisasie-program steeds voort. En Vrydae doen ons basiese rekenaarvaardigheid.”

Boonop bied hulle ’n geletterdheidsprogram vir vol­wassenes aan met vyf klasse in vyf verskillende dor­pies. Chancy het twee vrywillige onderwysers in elke dorpie geïdentifiseer en opgelei. Hy ondersteun hulle deur gereelde besoeke.

“Geletterdheid maak ’n enorme verskil, vir almal,” vertel hy. “Volwassenes kan nou vir die eerste keer hulle name skryf, of dié van hulle kinders. Hulle kan sélf ’n SMS lees van ’n kind wat ver is – sonder die ver­leentheid om te moet hulp vra. Hulle kan Bybel lees. Soveel vryheid, soveel moontlikhede, soveel meer mens­waardigheid! Met geletterdheid gee ons ’n ge­skenk aan vorige en toekomstige geslagte.”

Oor hulle tyd in Suid-Afrika glimlag die Gondwe’s: “Ons is so dankbaar vir die mense om ons, wat ’n verskil in ons lewe gemaak het. En so bewus: God ken jou lewensdoel – wat jy nou deurgaan, is gewoonlik voor­bereiding vir dit wat op jou wag …”

Toe hulle by my wegry, voel ek verryk: Hoe bevoorreg is ons wanneer ons mense soos dié kan binnenooi!

– Kontak ds Jurie Goosen by goosens@isales.co.za as u die nuusbrief van die Gondwe’s wil ontvang.

Vir meer foto’s en videos, gaan na Facebook: Muliko Literacy Project/Royal Kidz Academy.

’n Belegging in my medemens

In Ceres se omgewing boer Wilhelm de Kock met beleggings in sy medemens. En hulle pluk, wedersyds, ’n besonder goeie opbrengs van mekaar. Daarbenewens boer hy ook met appels en pere. ANNALISE WIID het op die plaas De Eiken met hom en sy kollegas gaan gesels.


Net anderkant die dorp vat ’n mens die Bo-Swaarmoedpad. Kronkel deur skurwe steiltes uit. Byna boDe Eiken op jou regterkant. In ’n holte, styf teen Matroosberg se rug. ’n Laslap van die allerlieflikste, glim-groen boorde. Omring van einde­lose klip.

Wilhelm wag waar die plaaspad vurk. Hy ry gou vooruit, sê hy, want die plaas se kore wil graag vir my sing. By die saal sit hulle reeds oorgehaal op die stoep: Almal in wit T-hemde en hoedjies. Terwyl ons eers ’n bietjie koek-en-koeldrank, vertel die vroue: “Nee, ons werk nie in die pakstoor nie – ons vrugte word Ceres Fruit Growers toe gery daarvoor. Ons werk in die boorde. Snoei bome. Pluk. Ons werk vinnig, goed, partykeer onder die manne uit! Doen ook kwaliteitbeheer. Ja, die droogte is kwaai. Op ’n kol het ons gedink ons gaan nie vanjaar veel van ’n oes hê nie. Maar die vrugte vorm nou mooi. Ons het hoop. En ons bid en werk vir die beste.”

Ons. Eienaarskap. Dis húlle plaas ook.

In een deel van die saal word skoolgehou vir die plaaskinders. Die kore sing langsaan vir my, in die agterste deel wat Wilhelm aangebou het en weer wil vergroot – want 12 omliggende plase se mense kom Sondae soontoe vir kerk.

Die koor se eerste note gee my onmiddellik hoen­dervleis! Sterk, helder stemme: Before the world began, you were on his mind … Eers sing net die vrouekoor. Ook hulle Xabara!-liedjie. Loslit. Lekker. Daarna die gemengde koor. Weer ’n gewyde lied: Ek het U lief, Heer. Innig. Dan val die manne weg met Sê vir jou ma ek is die man in jou lewe. Waarop die vroue weerklank: Ag, Ma, gee hom ’n kans; nee, Ma, hy’s glad nie so sleg nie. Dinge sal regkom, solank ek hom net kan liefhê

Die manne sit en luister terwyl die vrouekoor sing. Die “Nuts” in “Nuts for Jesus” agterop hulle hoedjies en T-hemde staan vir Never Underestimate The Spirit.

Later, na verskeie ge­sprek­ke, besef ek: Dít, hierdie inge­steld­heid van “regkom met die liefde”, is in elke hart-grond op hierdie plaas ingespit.

Vanessa Kruger (36) is nou vyf jaar op De Eiken. Sy, haar man en twee seuns, het hierheen gekom “vir ’n beter toekoms – geestelik en finansieel”.

Wat vir haar uitstaan hier?

“Maandae begin ons die week met godsdiens. Ons luister saam na die Woord voor invaltyd. Dit vorm ons. Woensdae ook. Vrydae sluit ons weer die week so af ook, dan met ’n broodjie en koffie daarby. Seisoentyd kom hier mos plukkers wat nie kos het nie.”

“Hier word omgesien na die werkers se behoeftes. Jy’s nie net ’n ‘pay-nommer’ nie. Hier is respek. Meneer Wilhelm ken elkeen op sy naam. Selfs die seisoenwerkers. Hy voel nie soos ’n werkgewer nie, hy is ons mentor. Sy kantoordeur staan oop vir ons. Maak nie saak watter probleem jy het nie, jy kan met hom kom praat. En as hy nie self kan help nie, sal hy vir jou iemand soek wat jou kan help.”

Vanessa het haar NQF4-kwalifikasie hier op De Eiken kom kry. Afstandsonderrig. “Ek en my man albei. Ons het baie ingesit.” Twee jaar later “het Meneer vir my die pos van assistent-produksiebestuurder aangebied. Ek moes plaagbeheer hanteer. Het baie geleer!” Sedert Julie 2017 is Vanessa produksiebestuur­der. Vertroue groei twee kante toe.

Daar word skoolgehou in die voorste gedeelte van die saal, terwyl die koor in die aangeboude gedeelte langsaan sing.

“Ek werk hard. Ek wil tog nie vir Meneer teleurstel nie. ’n Mens raak eintlik hartseer as jy sien wat jy hier op De Eiken het. My kinders vorder. Ons voel veilig hier. Een ding van hier werk: Jy moet belangstel in die plaas se aktiwiteite. Jy word nie geforseer nie. Maar dis goed om betrokke te wees. By die rugbyspan. Of by die koor, byvoorbeeld.”

Hulle was al die algehele wenner van die ATKV se plaaskoorkompetisie. “Die koor is baie lekker. Ons bid saam, praat oor ons dag … En as ons eers begin sing, die atmosfeer … Mens vergeet van als wat sleg is, jy besef daar’s groter dinge …”

Van hangovers na gebedsgroepleier

Freddie Skippers (55) is die koorbestuurder. Ook voor­sitter van De Eiken-skool se beheerraad en president van Bo-Swaarmoed se Puma-rugbyklub.

Hy het nie dadelik in die koor begin sing toe hy in 2007 De Eiken toe gekom het nie. “Ek was toe nog ’n afgedwaalde skapie. Maar toe ek hulle die eerste keer hoor sing, het ek myself in daai koor gesien. Nooit gedink ek sou eendag hulle leier word nie. Ons oefen nou vir die Suidoosterfees. Ons het in Februarie ’n slypskool.”

Freddie, voorheen voorman by die Witzenberg-munisipaliteit en nou spuitoperateur op De Eiken, is van sy eerste vrou en vier kinders geskei weens sy drankmisbruik. De Eiken het hom ’n tweede kans en ’n nuwe lewe gegee. “Hier is ander aktiwiteite waaruit ek genot kan put. Met die koor, byvoorbeeld. Dit het ’n groot impak op mense se lewe. Mens sing ’n boodskap …”

Vanessa en Freddie Kruger met twee van die verskeie trofeë wat die koor al ingepalm het.

Daar is ’n reël: Niemand mag onder die invloed van alkohol sing nie. Maar, sou jy ’n drinker wees, en kom aansluit, word jy nie weggewys nie. Jy word gehelp. Die koor word jou ondersteuningsgroep. Hulle help jou oor die bult.”

Van reëls gepraat, Freddie sê: “Goeie reëls help almal. Die plaas. Die land ook. En ’n leier moet regloop. Vir dié wat agter jou aankom. Meneer Wilhelm – dié man tel my op! Hy is baie ondersteunend.”

Wilhelm is Freddie se mentor. En Freddie mentor weer ander: “Ek motiveer die jongmanne, sê vir hulle: Bly binne jou raampie; dis regtig nie so moeilik nie; kyk mooi – hy’t ’n silwer randjie.” Freddie waardeer die silwer raam. Hy val met ’n glimlag in op ’n Maan­dag­oggend. “Dit is lekker om te gaan werk sonder ’n hangover. Ek staan nou op ’n goeie plek.”

Hoe doen Wilhelm de Kock dit? Reëls en dissipline is belangrik, ja. Maar mense is vir hom nóg belangri­ker. “Ek wou graag iets doen om my mense uit die gat te kry – almal was drinkers. Ek het ’n kleintjie langs haar bewusteloos besope ma sien lê. ’n Kultuur van ge­weld­dadige verhoudings; mens-misbruik; verkrag­ting …”

Hoër lone en beter behuising het nie gehelp nie. “Toe drink hulle net duurder drank. En ek besef: Kosmetiese veranderinge is nie voldoende nie; hulle hele kultuur moet verander.”

Nadat hy Rick Warren se Purpose driven life by Ceres Moedergemeente deurloop het, het Wilhelm meer as ooit geweet: “My mense is mý verantwoordelikheid.”

Hy doen toe met hulle ook Purpose driven life. Vir 40 dae, 20 minute soggens. Voor werk. Vrywillige deelname dus. “Ons het in die winter begin, onder ’n oop afdak. Byna almal het gekom. En ek het net weer gesien: Don’t judge someone on face value. Krap net die roof af, en jy sal sien watter potensiaal die Here in daai mens gesit het.”

Hierna het werkers meer openlik met Wilhelm oor persoonlike probleme begin praat. Aanvanklik was hy uit sy diepte: “Toe die eer­ste drie vroue oor die laaiblad aangeloop kom en sê ‘Meneer moet ons help’, het dit gevoel of iemand my trip switch afgesit het! Maar al drie het daai dag in my kantoor tot bekering gekom.” En mettertyd het die werkers se kultuur, hulle leefstyl, totaal veran­der. Drinkers en daggarokers voel nou eenvou­dig nie meer tuis daar nie.

“Vat nou maar vir Jeffrey. Toe hy hier kom werk soek, bel ek sy vorige werkgewer. Dié sê vir my: ‘O nee, Jeffrey-geduld is bo-menslike geduld!’ Maar Jeffrey, ’n volslae alkoholis, het vir my gevra: ‘Meneer, gee my ’n kans, stap die pad saam met my, ek wil verander.’ Vandag lei hy ons gebedsgroep. Werk hy as betroubare toesighouer.”

Wilhelm vertel storie na storie van verandering en groei. Sy eie groei ook. Hy is voorsitter en koördineerder van Patmos Inter­kerklike Arbeidsbediening, wat in 1995 in die Bo-Swaarmoed-om­gewing ontstaan het. En sedertdien so uitgebrei het, dat hulle 12 000 mense met die evangelie­bood­skap bedien. Deurlopend. In verskeie streke: die Weskus, Hantam, Koue- en Warm Bokkeveld, Sand­veld, Noord-Kaap. Elk met sy eie pastor.

Dina Prins, ’n koorlid, voor haar netjiese huis met die mooie roostuin en Matroosberg op die agtergrond.

Cecil de Kock, (nie familie van Wilhelm nie), die Patmos-pastor van Bo-Swaarmoed, sê: “As ek met die grondpad hier by De Ei­ken inry, voel dit of ek afsak in ’n poel vrede.” Cecil doen berading, Bybelstudies, bidure, huis- en sie­ke­besoeke. Hou kerk. Kampe. En veel meer.

Hy en Wilhelm reik met die plaasarbeiders uit na minder be­voorregtes. So ver as Graafwater en die Steinthal-kinderhuis op Tulbagh. “Ons het lank gedink oor hoe ons ons mense kan help om vir ander goed te wees sonder dat hulle hoef te praat. Nou gaan deel hulle, onder andere, lekkergoed uit op omliggende dorpe. Elke lekkertjie is vasgemaak aan ’n papiertjie met ’n Bybelvers en kontaknommers daarop – wat mense kan bel as hulle hulp benodig. Ons kry soms verstommende reaksie daarop. Of ons gaan maak arm mense se huis skoon. Sorg dat hulle kos het; meubels. Bid vir hulle.”

Altyd ingestel op mense se geestelike groei; na beter verhoudings, wyer horisonne. Hulle gaan “ice camp” wintertyd in die Moordenaarskaroo; vlieg met 40 plaaskinders Johannesburg toe; ry met Patmos se 65-sitplekbus vol werkers Hartenbos toe, selfs Swakop­mund toe. Uitsonderlike projekte; sommige daarvan in vennootskap met die ATKV.

Wilhelm de Kock stuit vir niks as die Gees hom iets op die hart lê nie. “Sommige boere sê vir ons nee, dit kos darem te veel geld’, maar ek sien dit as ’n belegging in my mense. Ons lag en huil en bid en eet saam. En ons oes lojaliteit en goeie koninkryk-verhoudings.”

– Vir meer inligting oor Patmos Interkerklike Arbeids­bediening, kontak:

  • Boland / Witzenberg: Wilhelm de Kock (voorsitter) 072 245 3889.
    Cordre Smith (sekretaris): 082 809 2935.
    Weskus / Noord-Kaap: 060 526 5890.

Noodhulp vir Knysna help tot in die Kaap

Onthou jy die Knysna-brande verlede jaar? Die oorvloedige noodvoorraad wat inge­stroom het? Het jy ooit gewonder wat van die oorskiet daarvan geword het? Annalise Wiid het toevallig uitgevind.


7 Junie 2017. Inwoners van Knysna, Plettenbergbaai en omgewing word oorval deur ’n skrikwekkende brand, aangeblaas deur ’n verwoede stormwind. Bykans 10 000 mense moet oornag uit hulle huis vlug. Sewe verloor hulle lewe. 1 000 brand­bestry­ders word ontplooi. Die grootste getal ooit in ’n enkele rampinsident in die Suid-Afrikaanse geskie­de­nis. Die land is aangegryp. Donasies stapel op. Oorvloedig.

“Die brand van die afgelope klompie dae het nie net die landskap onherroeplik verander nie. Die gebeure sal vir lank in die gedagtes van die inwoners van Knysna ‘ingebrand’ bly,” het ds Eugene Barnard van die NG gemeente Knysna destyds gesê. Dit brand dikwels in die omgewing. Maar die omvang hiervan oortref alle vorige ervarings. Die verhale van mense het een gemeenskaplike boodskap: “Dit was verskriklik!” Die trauma van ontruiming en die vlug voor die brand, terwyl jy in jou gemoed klaar “afskeid geneem het” van huis en haard. Die skuiling neem vir die nag in ’n vreemde huis of saal.

Sommiges het met verbasing teruggekeer na ’n huis wat wonderbaarlik deur die brand gespaar is – ander was nie so gelukkig nie. Maar daar was iets anders wat nie tot as verbrand het nie en dit was die ongelooflike reaksie van mense op mekaar se leed. Maar die reaksie was nie beperk tot die rampslagoffers onderling nie. Die reaksie van die res van Suid-Afrika en selfs so ver as mense in die buiteland, was verstommend. Knysna is letterlik ‘toegegooi’ met liefde in die vorm van kos, klere, komberse en ’n geldjie wat iewers afgeknyp is om te gee.

Ds Why Duvenhage se manne-gebedsgroep en hulle vriende laai van die voo­rraad wat in Knysna oorgebly het. Die man in die middel is Danie van Niekerk.

Conette le Roux het in Kerkbode (19 Junie 2017) berig dat die ring van George, volgens ds Pieter van Santen, “net op een dag ’n astronomiese 25 ton nood­voorraad ontvang het”. Wat natuurlik onmiddellik en ruimskoots na die brandslagoffers en -bestryders versprei is.

Maar het jy ooit gewonder wat van die oorskot geword het? Op ’n dag, laat verlede jaar, toe die skole sluit vir die vakansie, ontmoet ek ’n vrou in die Wimpy by die Engen-vulstasie langs die N2 buite Somerset-Wes. Dit is bloedig warm en almal is lus vir iets koud. Ons staan en wag dus in ’n ellelange tou. En maak geselsies om die tyd te verwyl. Tot my skande kan ek nie eens haar naam onthou nie. Annemarie, dink ek? Maar ek onthou dat sy vir my die wonderlike storie vertel het.

Haar man het vroeg die oggend, voor hulle met vakansie sou vertrek, eers kerk toe gegaan om saam met ’n span mense ’n groot trok noodvoorraad af te laai.

Op my vraag waarvoor, vertel sy: “Dit is die oorskot van die welwillendheidsgoedere wat Knysna toe ge­stroom het. Stellenberg-gemeente vat dit nou verder. Ons is lidmate daar. Knysna het te veel gekry. Meer as wat hulle kon aanwend. Nou is dit met ’n trok aangery na Stellenberg. Baie goed. Soos sommer 1 000 komber­se in ’n baal. En ons gemeente versprei dit na Delft, Khaye­litsha, Merweville, Leeu-Gamka en wie weet waar. Bel sommer die kerkkantoor vir meer inligting.” En daar gaan sy met haar Wimpy-middagete en melkskommels …

Milda Brits van Stellenberg-gemeente vertel: “Daar het inderdaad taamlik voorraad oorgebly wat vir die Knysna-brande geskenk is. Kos, komberse en klere. Amiici Care in George was een van die verspreidings­punte. Amiici Care is ’n nie-winsgewende maatskappy wat ’n passie het om nood te verlig en geleenthede vir groei en ontwikkeling te verskaf.

“Lianca Kruger, een van die direkteure, het vir Stellenberg Naastediens onder leiding van ds Why Duvenhage gewerk. Sy het ds Why gekontak en aangebied dat Stellenberg van die voorraad kan kry om na ons uitreikplekke toe te stuur.

“Stellenberg reik jaarliks uit na ten minste agt verskillende plekke. Nodeloos om te sê dat ons die geleent­heid met albei hande aangegryp het! Ds Why se manne-gebedsbediening het aan die werk gespring en begin reël. Daar is ’n trok George toe gestuur en die voorraad is tydelik gestoor.

“Die manne het die voorraad intussen help versprei na verskillende plekke. Crossroad Crèche, Khayelitsha, Elsiesrivier Care Sentrum, Calitzdorp, Zoar, Leeu-Gamka, Sutherland, Kleinmond, Beaufort-Wes en Shiloh. Ruyterwacht Senior Sentrum se lede het elk ’n kombers gekry. Soos ons weet is die nood groot. Al die goed is met groot dankbaarheid ontvang.”

’n Mens dink onwillekeurig aan die dag toe Jesus die skare gevoed het. Duisende mense kon tot versadiging toe eet van die bietjie wat ’n seuntjie bereid was om te gee. En toe hulle die oorskiet optel, was dit 12 mandjies vol. Dit is goed om te weet: Knysna se oorskiet, van die baie bietjies wat so ruimhartig van reg­oor Suid-Afrika gegee is, versadig en verwonder mense steeds. Want dit blus nou armoede se brand.

Die mooiste taal van Afrika

“Afrika praat mos hierdie mooi visuele taal: Iemand bring ’n hoender vir die Here. Of ’n mens kry ’n hele tros piesangs vir padkos,” gesels Mariëtte Odendaal. Sy het van haar koester-ervarings in Afrika met ANNALISE WIID gedeel.


Mariëtte is ’n kommunikasie-konsultant by Arbeidsbediening Kaapstreek en die Diensgroep Getuienisaksie wat vennote soos die Reformed Family Forum en NetACT insluit. Sy vertel wa­re verhale; geanimeerd; met breë, beskrywende kwas­hale.

“Ek was as dogtertjie al gefassineer deur Afrika en ‘die sending’, soos ons daai tyd gesê het. Ek onthou hoe sit ek in ons plaaskombuis. My pa kom in met ’n brief. Van ’n ou skoolmaat van my ma, op die sendingveld. Ek hoor nog my ma, ’n entoesiastiese Vrouesending­bond­lid, lees – van die ver mense in Malawi, die won­der­like werk …”

Min het Mariëtte in haar kinderdae geweet hoe nou sy en haar man, Kobus, later by die sending betrokke sou raak. In 2007 het Kobus by dr Martin Pauw oorgeneem as taakspanbestuurder vir Afrika-Ekumene van die Diensgroep Getuienisaksie. In 2008 neem Martin en sy vrou, Ilse, die Odendaals op ’n uitgebreide reis deur Afrika – via Namibië en Zambië na al die opwindende plekke waar Kobus voortaan sou werk. Saans, om die kampvuur, vertel Martin sendingstories.

Een aand vertel hy hoe die Portugese owerheid in 1922, onder aansporing van die Katolieke, die NG Sending se werk in Mosambiek stopgesit het. Al die NG sendelinge moes die land verlaat. Protestantse ge­lo­wiges is hewig vervolg. Net ’n paar honderd het ag­ter­­gebly. En hulle moes maar op hulle eie aansukkel, son­­der predikant. Hulle was vir jare op gemeentes van die Nkhoma Sinode, oorkant die grens met Malawi, aan­­gewese vir Bybelonderrig en katkisasie.

Op ’n dag, 55 jaar nadat die werk in Mosambiek stop­gesit is, kom een van hulle leierouderlinge by Mar­tin in Lusaka aanklop. Om opgelei te word as pre­dikant. Hy het met groot moeite, oor grense, son­der paspoort tot daar gereis; net met sy ID en toelatingsbriewe na Zambië se teologiese kollege. ’n Week later was sy vriend ook daar. ’n Paar jaar later nog ’n man.

Etlike dae ná Martin dié verhaal vertel het, woon Mariëtte-hulle die 100-jarige vieringe van die kerk in Mosambiek by. Die hele geskiedenis van die kerk word op­gevoer. Mense sit oral onder die bome. Almal in blou en wit.

“Wie van julle moes destyds vlug vir julle lewe?” vra ds Kruger du Preez. “En,” vertel Mariëtte, die ver­won­dering steeds oorlopensvol in haar oë, “hier verrys hier­die skare, hierdie massa mense. Hulle staan oral om ons op. Dit was ongelooflik! Om die vrug te sien van die opoffering van onder andere daardie drie man­ne: Hoe die kerk aanhou groei het, met so min hulp.”

In Malingunde, Malawi, besoek hulle, saam met AnnaMarie de Klerk, die hoofman oor hoofmanne. AnnaMarie demonstreer vir hom die werk wat onderwyseresse in vroeëkinderontwikkeling met die kinders van Malingunde doen. “Dít was ontroerend,” vertel Mariëtte. “Hoe hartlik hy ons ontvang; in sy huis innooi. Hoeveel agting hy vir AnnaMarie en haar werk het. Hoe hy vir ons dankie sê vir wat die projek vir sy men­se beteken. Jy moes eintlik daar kon wees om die magic te voel!

“O, en dan is daar Morgenster, in Zimbabwe. Die kwa­liteit van onderrig! Ek het gaan insit in een van wyle Henry Murray se klasse – het nog ’n videotjie daar­van. Hy het die wonderlikste ding reggekry. Hy het ’n deurslaggewende rol gespeel om ons susterskerk in Zimbabwe te oortuig om ook vroue op te lei as pre­di­kante en in die bediening te gebruik. Dáárin is sy na­latenskap noemenswaardig.

Ook dat, toe Henry siek word, dit nie ’n krisis was nie. Omdat hy, met wyse vooruitsig, reeds lank tevore vise­rektor van die Teologiese Opleidingskollege geword het. Juis sodat alles naatloos kon voortgaan on­der die leierskap van dr Rotoro, ’n Zimbabwiër, as rektor.”

Die Odendaals nooi dikwels Afrika-studente, wat nagraads verder studeer aan die Universiteit Stellenbosch, om saam met plaaslike kerkleiers by hulle aan huis te eet. “Lekker informeel, om ’n skaapboud. Dan sit ek agteroor en verwonder my aan ons almal wat eintlik maar een groot familie is.”

Dít is wat Afrika-blootstelling haar oor kerkwees geleer het: Voorheen het sy gevoel soos een korreltjie in ’n druiwetros – die NG Kerk waarin sy grootgeword het. Nou be­sef sy: “Ek is deel van ’n hele wingerd. Swart en wit het weggeval. Ek sien, en geniet, myself as een van 7 miljoen broers en susters in hierdie kerkfamilie.”

Alles in Afrika is anders: denke, kos, kle­re, taal, humor. Leefstyl. Huisies van klei, wat, wanneer dit vergaan, bloot weer deel word van die aarde. ’n Klein koolstof­voet­spoor. Baie medemenslikheid. “Afrika verryk my eindeloos,” sê Mariëtte. “’n Mens gaan leer daar; jy gaan nie ‘teach’ nie.”

Hieraan kan ’n mens jou telkens verwonder – hoedat mense wat oor grense be­­weeg en van hulleself gaan deel, om­trent altyd meer terugkry as wat hulle gaan gee het.

Dít is die mooiste taal van Afrika. Dis evangelie-taal.

– Vir meer inligting, lees gerus die boek, A family of reformed churches, re­markable stories of God’s grace, deur Gideon van der Watt en Mariëtte Oden­daal (CLF Uitge­wers).

Hier is gebaretaal se Storie-Baas

Ons maak nie onderskeid tussen volwassenes en kinders nie. Die fokus is op die vreugde van stories vertel en dít kan oud en jonk ewe prettig doen! Dít is die Nal’ibali Trust se ingesteldheid met hulle Story Bosso-kompetisie. Annalise Wiid het Henrico Frans, 2017 se storie-baas in gebaretaal, op Worcester gaan ontmoet.


Henrico Frans (19) is, soos elke bobaasstorie­verteller, ook ’n meesleurende akteur. Moenie dink hy praat gebaretaal slegs met sy hande nie. Sy ganse lyf praat: sy skouers, sy heupe, arms, bene, voete, oë, gesigsuitdrukking – die hele hy word in­gespan om sy wen-storie te vertel.

Dit is ’n eenvoudige verhaal van ’n man wat op ’n snikhete dag deur die son “aangerand” word en be­sluit om in die see te gaan afkoel. Henrico vertel só lekker, jy sién hoe die boepensmannetjie sweet; jy sién sy kokende huisie op sy kaalgeskroeide werf; jy sién hoe hy uitgemergel aansukkel water toe; en jy sién hoe hy uiteindelik, salig, in die koel see dobber. Henrico laat jou eintlik voel asof die koel saligheid oor jousélf spoel.

Nal’ibali, ’n Xhosa-woord, beteken: “Hier is die storie.” September is Story Bosso-maand by Nal’ibali. Dan soek hulle, elke jaar, na uitmuntende vertellers regdeur die land. In al 11 amptelike landstale. Die beste storieverteller in elke provinsie word aangewys, en ’n nasionale Story Bosso-wenner word ook ge­kroon. Nal’ibali het vanjaar 6 500 inskrywings ontvang.

Die NG Kerk se Diensgroep Diaconia is, as deel van hulle vroeëkinderontwikkelingsdoelwit, in vennootskap met Nal’ibali. Saam moedig hulle die vestiging van leesgroepe in gemeenskappe aan. Vanjaar het Dia­conia, vanuit hierdie verbintenis, die vrymoedigheid geneem om Nal’ibali uit te daag: “Wat van gebaretaal?”

“Persone met gestremdhede word so maklik oor­ge­sien en uitgelaat,” verduidelik ds Nioma Venter, PSD Diaconia. “Meestal gebeur dit maar net as gevolg van on­kunde of ’n gebrek aan blootstelling.” Nal’ibali was on­middellik bereid om, met die bemiddeling en hulp van Diaconia, ’n storievertelgeleentheid te skep vir men­se wat gebaretaal gebruik.

Vir 2017 se inskrywings in gebaretaal het Diaconia drie pryse geborg: R1 000 vir die wenner, ’n tweede prys van R500 en ’n derde prys van R300.

In 2018 sal Nal’ibali die kategorie wyd bemark. Hulle hoop om dan inskrywings van oor die hele land te ontvang. Vanjaar kon hulle egter net ’n geleentheid vir uitdunne in Worcester reël. Die Nuwe Hoop Sentrum, De la Bat Skool, die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) Kollege, NID-personeel met gehoorge­stremdheid en enige ander volwassene wat deur die boodskap bereik is, is genooi om aan ’n uitdunrondte deel te neem.

Story Bosso werk so: Enigeen kan inskryf deur ’n stemopname na Nal’ibali te stuur. Maar gebaretaal werk natuurlik anders. ’n Mens moet juis die storie­verteller kan sien! Daarom is video-opnames van die gehoorgestremdes gemaak. Elke storieverteller moes ook ’n ‘voice over’-tolk hê. Iemand wat ’n stem gee aan die gebareverteller se taal.

Die Dowe Familie Kerk (vroeër bekend as die NG gemeente De la Bat, Worcester) het, saam met Diaconia, ’n groot rol gespeel. Lisle Lourens, hulle jeugwer­ker en ook teologiestudent, het die voorlopige uitdunne gereël. Vyf finaliste is uit 15 inskrywings gekeur. Die beoordelaars was Nioma en Nicola Vermeulen van Diaconia (Nicola, ’n voormalige hoofmeisie van De la Bat Skool, is gebore met doofheid), Emsie Joubert (oud-dosent in tale) en Nickus Venter (’n graad 12-dramastudent). Daarna het die Steundienste van NID video-opnames gemaak, wat ingestuur is na Nal’ibali.

Op 2 November het Diaconia en Nal’ibali die drie beste inskrywings en hulle eie gebaretaal Story Bosso tydens ’n prysuitdeling by De la Bat Skool in Worcester gekroon. “Stories is belangrik,” het Nioma by die geleentheid gesê, “dit gee vir ons nuwe woorde; nuwe prentjies. Dit maak ons wêreld groot. Dit laat ons reis, al het ons nie eens ’n kar nie. Dit sit ons voete op die maan.”

Henrico het sy storie van die verskroeide mannetjie en die see self uitgedink. “Ek hou van stories,” sê hy, “en ek wou wys Dowes kán stories vertel.” Hy het in graad 5 al sy eerste storievertel-kompetisie gewen. Nou is hy in graad 10. En Henrico droom daarvan om akteur te word. Maar dit gaan baie harde werk kos. En sy uitdagings, weens sy gehoorgestremdheid en huislike omstandighede is buitengewoon groot. Dalk kan hy eendag by die Dowe TV gaan werk. Of slaan hy nog ’n rol los in 7de Laan!

Hy vertel, met ’n ondeunde onthou-vonkel in die oog: “Tannie Bettie het al in die kleuterskool vir my ge­leer ek kan act. Ek was ’n varkie.” Hy druk sy neus se punt met sy handpalm plat, boontoe. Lag lekker. “Dis daar waar ek my passie vir stories en acting ontdek het.” Nee, hy hou nie so erg baie van lees nie. Maar fliek!

Sy wen-geld? R500 sal hy vir koshuisgeld gebruik. Die res … daarmee gaan dié Story Bosso homself be­derf!

– Besoek http://nalibali.org/ vir meer inligting.

‘Ons dans ’n boodskap van hoop – en dít genees’

As laerskooldogtertjie in Pretoria was balletprentjies vir haar die mooiste. En ’n volkspele-tiekiedraai het haar laat voel sy wil net aanhou draai en draai. Caroline Kotzé van NG gemeente Nelspruit het vir ANNALISE WIID vertel hoe dans mettertyd vir haar ’n uitdrukkingsvorm van die evangelie geword het.


Caroline Kotzé se eerste koordansklas was eers as getroude vrou met drie seuns. Sy het so gesukkel dat sy gedink het sy gaan dit nooit regkry nie. “Maar,” vertel Caroline, “met ons eerste dans in The Reeds (die NG gemeente in Pretoria waar sy toe lidmaat was) het daar iets in my hart begin gebeur toe ons op There is none like You gedans het. Ons het daarna I was made to love You, I was made to worship at your feet gedans. En met hierdie lied het my hart vlam gevat.

“Dans bring my nader as naby aan die Here. Dit bring my by alles gee. My hele liggaam word met energie gevul. En diepte, wat wegraak-oomblikke word, bring daardie vreugde wat my hart te klein laat voel vir die oorvloed. Dan kom die vryheid, die oorgawe, om God net te eer, te loof, te aanbid en te dans van sy grootheid, goedheid, genade en liefde. Asof ek vlerke kry, om dieper, groter te glo. En dit te wil deel.”

Mettertyd het Caroline gesien hoe lofdanse ’n werklike bediening word; nie meer as net “danse” gesien word nie. Sedert hulle verhuising in 2008, skakel sy in by Nelspruit Moedergemeente se lofdansbediening. Daar vul dans maandeliks die Sondagboodskap aan.

Tydens geloofsbedieningsvergaderings ontvang sy ’n lys van preekbeurte en temas. Daarvolgens soek sy dan geskikte aanvullende dansliedere en lê dit as be­die­ningsmoontlikhede voor aan die predikante.

“Mense word werklik daardeur verryk. Die mooiste woorde is wanneer ’n hartseer vrou sê: ‘Julle dans het vanoggend baie vir my beteken, ek het dit so nodig gehad,’ of as iemand anders sê: ‘Julle bewegings saam met die woorde het my hart vanoggend so geroer.’ ’n Ouer leierfiguur in ons gemeente het onlangs opgemerk dat die danse genesend is.  

“Om deel te neem moet ’n mens net kan beweeg, al is dit stadig!” sê Caroline. “Ons dans met ons hart. Geen dansonderrig is daarvoor nodig nie.”

Nelspruit se dansgroep saam met die kinders van die Brakfontein Education Centre, op ’n plaas buite Citrusdal. Tydens hulle onlangse toer na die Wes-Kaap, het die dansgroep pakkies met lekkergoed en ’n speeldingetjie daar uitgedeel. Agter die kinders staan Lorraine Duvenhage, Maritha du Plessis, Lieze Loots en Caroline Kotzé tussen die personeel van die kleuterskool.

Tog choreografeer sy met keurigheid. “Party van die vroue kan weens swak knieë nie meer kniel nie, dan staan hulle terwyl ander kniel. Party kan nie draai nie omdat hulle duiselig word, dan doen hulle net die armbewegings terwyl die ander draai. En dié wat onfiks is, leer gou om korter paaie te vat. Ons het selfs ’n vrou met veelvuldige sklerose wat saamdans.”

Ouderdomme wissel van hoë 20’s tot 72. Caroline lei ook ’n junior Lofdansgroepie, van voorskool tot graad 7. “En dis soveel vreugde om te beleef hoe die dogtertjies dit met oorgawe doen!”

Die danse kring veel wyer as hulle gemeente uit. Na Witrivier en Sabie. Sowel as Nelspruit se Hervormde gemeente. Waar die danse aanvanklik ná die diens geplaas was, sodat mense kon loop as hulle nie daarin belang stel om te kyk nie, is dit nou volledig deel van die erediens. Hulle dans ook nie net in kerke nie, maar by vrouegeleent­hede in ’n tuin, by ’n skoolopening, by ’n karnaval op ’n rugbyveld en vele meer.

Selfs so ver van die huis as Citrusdal: “Tom en Hanneke Ferreira het jare lank ’n plaas bestuur hier in Nelspruit. Hulle is baie lief vir die Here en het ’n passie om mense te verryk en op te lig tot beter. Ons het soms hier by hulle kerk gaan dans. Later het hulle Citrusdal toe verhuis, maar kontak met ons dansgroep behou.

“Toe hulle in 2014 hoor dat ons Lofdansbediening gaan doen tydens blommeseisoen in die Kaap, het Tom gevra of ons nie asseblief hulle werkers wil kom bedien nie. Dit het ’n instelling geword en gegroei. Vanjaar kon ons, buiten lofdansbediening, ook pakkies gaan uitdeel een oggend by ’n kleuterskool op die plaas. Dit was groot lekkerte om die kindertjies en personeel se vreugde te beleef toe ons vra hulle moet saam met ons dans. Die middag het ons ’n ouetehuis in Citrusdal met dans bedien, asook die siek mense besoek, bietjie gesels en boekmerkies uitgedeel.

“Die aand terug op die plaas, het al die plaaswer­kers en kindertjies in die skuur bymekaar gekom, waar ons ’n boodskap gebring het saam met elke lofdans wat ons gedoen het. Dit was lekker om ook daar verrassingspakkies aan almal te kon uitdeel. Voor ons die aand uitmekaar gegaan het, het álmal ’n kring om ons gemaak en vir ons gebid vir die pad vorentoe. Kinderhandjies het warm op ons gerus.

“Een vrou se seëngebed het die Here gedank omdat ons dink hulle is waardig genoeg dat ons hierdie tyd aan hulle afstaan, ‘om die Woord op hierdie manier te bring’. Ons dans ’n boodskap van hoop – en dít genees.”

Kinders moet weet daar is iemand wat omgee

Esmé Brink doen vrywillige werk vir Badisa, die NG Kerk in Wes-Kaapland en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Kaapland se gesamentlike barmhartigheidsdiens. Maar sy en haar man, Charl, is ook pleegouers. Annalise Wiid het na Esmé se verhaal geluister.


“Van die oomblik wat ek die eerste keer oog­kontak maak met hulle en daardie lyfies teen my vasdruk, weet ek dat nie my of hulle lewe ooit weer dieselfde sal wees nie.” So sê Esmé Brink van die kinders wat sy en haar man, Charl, as Badisa-vrywilligers, in hulle huis en hart tuismaak.

Esmé se maatskappy, EB Consulting, behartig jare reeds Badisa se openbare beeld en eksterne kommuni­ka­sie. Maar ’n leemte, ’n onvervulde droom in haar hart, het haar eendag vir ’n maatskaplike werker van Ba­disa laat sê: “As jy ooit ’n pleegouer nodig kry, bel my.”

“Esmé, jy is gek,” het die maatskaplike werker ge­ant­woord. “Jy het reeds te veel hooi op jou vurk.” Sy het geweet van Esmé en Charl se seun, Jandré, wat op daar­die stadium al hulle tyd, aandag en finansies no­dig gehad het. Maar 2 jaar later het die eerste oproep ge­kom: “Ons soek dringend ’n veilige huis vir ’n dogter­tjie …”

“Mense vra my dikwels hoe dit voel om ’n oproep te ontvang dat daar ’n kind is wat my nodig het om vir hom of haar in te staan as mamma. As ek terugdink aan die drie kinders wat ek die afgelope vyf jaar onder verskillende omstandighede moes gaan haal, kan ek dit slegs beskryf as engel-oomblikke,” vertel Esmé.

“Van daardie oproep-oomblik tot wanneer ek in my kar klim om die kind te gaan haal, is daar ’n afwagting in my wat ek nouliks kan beskryf. Miskien is dit die wete dat iemand nou totaal afhanklik is van jou. Of miskien is dit die behoefte om iemand ten alle koste te wil beskerm.

“Alhoewel hierdie nie my eie kinders is nie, verskil die oomblik nie veel van die eerste keer wat jy jou pasgebore baba se stem hoor as hy huil nie. Dit roer iets binne-in jou, iets wat net God daar kon geplant het.”

Shanie, klein Charl op haar heup, en Leon speel in die park.

Dertien jaar gelede het Esmé vir die eerste en enigste keer die geleentheid gehad om ’n kind self in die wêreld te bring: hulle seun, Jandré. Op tweejarige ouderdom is hy gediagnoseer met outisme.

Sy en Charl het ses jaar lank alles in die stryd ge­werp om hom te help om ’n hoë vlak van funksione­ring te bereik. Dit was ’n lang, eensame, emosioneel uit­mergelende reis, met baie dae van wanhoop. Die keuse om nog kinders te hê was moeilik. En na twee mis­krame het sy besef: Hulle sal nie nog ’n biologiese kind kan hê nie.

Aanvanklik was sy verpletter. Kon dit regtig al wees, net hulle drie vasgevang in die daaglikse rituele van outisme? Sonder om normale gesinsrituele te kan er­vaar? Die wens dat Jandré broers en susters moet hê wat sy lewe ook kan verryk, veral as sy en Charl nie meer daar kan wees nie, was net te groot. “Maar,” sê Esmé, “God het reeds besluit, dit sou nie ons hele storie wees nie …”

“Eers het ons Shanie ingeneem (skuilname word ge­bruik om die kinders te beskerm). Sy was vier jaar oud en reeds drie maal uit verskillende omstandighede gehaal en geplaas. Haar eerste woorde aan my was: Are you going to be my mommy today? Dis nou vyf jaar later, haar ma is onlangs oorlede en ons is besig om haar aan te neem.”

Twee jaar later het hulle Leon as nege maande oue baba gekry. Albei sy ouers was dwelm-afhanklik. Van­dag is hy ’n woelige, skattige, intelligente driejarige seuntjie. Hy is by die Brinks geplaas tot hy agttien is.

“Onlangs is ons weer die voorreg gegun om veiligheidsouers te wees vir klein Charl, nou 22 maande. Indien sy ma, wat hom baie liefhet, genoegsaam rehabiliteer, kan hy dalk na haar toe teruggaan.” Ja, dit sal seer maak. Maar Esmé het geleer: Dit is meesal veel erger vir biologiese ouers om hul kind tydelik te verloor, as wat dit ooit vir haar kan wees om die kind aan hulle terug te gee.

“Telkemale as ek my verhaal as pleegouer met men­se deel, is hulle reaksie iets soos: ‘Jy is ’n engel!’ Die waar­heid is, ek is nie. Ek is nie meer spesiaal as enigiemand anders nie. My hart is nie noodwendig groter as joune nie.

“Enige taak waarvoor jy jouself vrywillig beskikbaar stel, is ’n tweerigtingstraat. Ek het nog nooit net opofferings ervaar as pleegouer nie. Mense vra: Hoe word jy lief vir ’n kind wat nie jou eie is nie? Waar kry jy die geld? Die tyd? As ek na elkeen van hierdie kin­ders kyk, kan ek werklik glimlag oor ontelbare oom­blikke wat ek meer vreugde deur hulle lewe ervaar het as deur enige iets anders waaraan ek al geld of tyd span­deer het.”

Charl en Esmé wens eenvoudig dat die kinders se­ker moet wees: In ’n deurmekaar wêreld, met baie hartseer, is daar iemand wat wel vir hulle omgee. En hulle wéét: Elke keer as ’n kind glimlag, glimlag God ook.

Kuns en skoene bring ryker verstaan van God en mens

“Dis lente, tyd van nuwe dinge. Ook Koninkrykstyd, tyd om in die Koning se ryk te werk; elkeen op sy eie manier met eie gawes.” So sê ds Peet Bester van die NG gemeente Fransch­hoek. Hulle het in September ’n lentefees gevier, met die tema: Lewende Water. ANNALISE WIID het daar gaan drink uit ’n verbeel­dingryke kunsfontein.


Die mooie Franschhoekvallei is self ’n skildery in die lente – pienkbloeiselboorde, witkalk­huise, die vrolike deurskyngroen van die jong wingerde – omraam van berge, goddelik blou. In die hart van dié historiese dorp, die poskaartprentjiekerk: Deure oopgegooi vir die plaaslike gemeenskap, sowel as vir kameraklikkende oorsese toeriste.

Hierdie lentefees was hulle eerste probeerslag. ’n Droom uit gemeentelid Herman du Plessis se hart. Hy is ’n ingenieur. Ook kunstige fotograaf. Veral die Se­der­berge se rotsformasies, die lig, die teksture daar, fas­sineer hom. Hy het gedink: “Kom ons hou ’n uitstalling in die kerk, van plaaslike skilders en beeldhouers. En ons kry sangers – maar nie om te kom konsert hou nie, om met ons te kom gesels oor hulle krea­tiewe reis …”

Die uiteinde was drie agtereenvolgende Sondae se in­siggewende en inspirerende lied-en lewe-gesprekke: Neil Büchner, Lize Beekman, ds Peet Bester, Herman du Plessis, Ingrid Maritz (mede-organiseerder) en die uwe, om ’n lang, eerlike, houttafel. ’n Erediens van spon­tane gesels in ’n ruimte waar mens en God mekaar kan ráák.

Onder: Ingrid Maritz staan by die Dankbaarheid-skoenuitstalling in die konsistorie. Voor haar is ds Peet Bester se stapstewel wat hy gedra het op Communitas se Pelgrimstog van Hoop. Met daar langsaan sy seuntjieskoentjie van toe hy klein was en nog nie geweet het watter groot skoene hy eendag sou vol staan nie.

Die kunstenaars het vertel van hulle eerste bewus-word van hulle talent. Hoe hulle dit verder ontgin het; wie hulle rolmodelle was; watter temas oor die jare in hulle kom nesmaak het. En van vormende lewenservarings – waarvan sommige besonder moeilik was, maar wat kreatiwiteit betref, uiters vrugbaar. Lidmate het die gesprekke as “warm, ontspanne, intiem, persoonlik, gemaklik en hartlik” ervaar.

“Die ‘rustic’ tafel se eenvoud en ook onafgewerktheid was vir my ’n mooi metafoor vir die geleentheid,” sê Neil Büchner. “Alles is nie altyd perfek nie; jy deel wat jy het; jy lê jou broosheid neer; jy kuier saam en dra by tot ’n gesprek; en almal het iets om na die tafel toe te bring (nie net die genooide kunstenaar nie).”

Óm die gesprek, het die kerkruim vol gehang van kwilte, foto’s, sketse, akriel-, water- en olieverfskil­de­rye, beeldhouwerke. ’n Ruimte vol waagstukke: mense wat hulle binnestes voor ander blootlê. “Wat is die doel, die funksie van kuns?” vra ds Peet daardie eerste Sondag. Iewers het ek gelees: “The main function of art is to make you feel.”

Peet sê: “Die kerkgebou is ’n plek van inspirasie. En die droom was/is om dit op ’n vars manier te beklemtoon. My rol was om die drie Sondae se kunstenaars te kry en die erediens ook in die tema in te trek. Die idee met die besoekende kunstenaars was: Ons wil hul gawes en talente gebruik om hopelik mense hulle eie waarde te laat besef en om kreatiwiteit aan te moedig en te waardeer. Daarom het ons gekies vir gesprek. Dit was waarlik ’n ervaring dat ons sý stem in die kunste­naars gehoor het.”

Herman vertel: “Die ervarings was in elke opsig so diep en so anders as wat ek kon droom. Tydens die aanloop tot die lentefees, het voorbehoude oor die tipe kuns en kunstenaars wat mag inkom, tot diep ge­sprekke gelei, waar ek soveel van myself en God se ko­ninkryk geleer het: ’n Mens is mos geneig om alle eende wat nie van ons dam is nie, as ‘verkeerd’ te sien. Ook by ons is hierdie stryd tog te lekker aan die gang. Dié wat met mag en mening aan die ou tradisies klou, glo dié wat vernuwing aanpak is op ’n onheilige pad. Die individualiste en avonturiers sien op hulle beurt die tradisionaliste as ’n ergenis.

Met hierdie gehawende kinderskoentjie loof ’n ma die Here vir haar twee kinders, aan die hand van Ingrid se vertelling dat mense in die Ou-Testamentiese tyd dít wat vir hulle kosbaar was op hulle skoensole gegraveer het.

“Maar eintlik is God se koninkryk ’n reusenetwerk van paaie wat al hierdie verskille oorbrug – dit is ’n koninkryk van méér as verdraagsaamheid; van ‘wees lief vir mekaar!’ Liefde beteken dat ek ook uit jou kultuur, jou standpunt, uit jou manier van glo sal leer en ook daarin God se hart sal sien.

“Kritiek het as slypskool gedien. Soms moes ek net ’n bietjie stil staan, reflekteer, en besef: ‘It is not about me!’ Die kerk is juis daar vir mense wat om een of ander rede ’n seer of ’n onsekerheid ronddra.

“Dat ek heeltemal uit my gemaksone was, is ’n reuse understatement! Die avontuur was groter as die mens – en dit is hoe dit hoort. Die terugvoer was oorweldi­gend positief. Ek is baie dankbaar vir wat dit vir ander beteken het.”

Franschhoek se lentefees het lidmate inderdaad geïnspireer om hulle eie menswees met meer waag­moed te verken. Soos Michael Card sing: “Life is a song we must sing with our days / so look in the mirror and pray for the grace / to tear off the mask, see the art of your face …”

In ander se skoene

Dit was nie net Franschhoek se kerkruim wat kuns­lokaal geword het nie. Ook die konsistorie is omskep tot ’n belewenis. Een met die gevoel van ‘trek uit jou skoene, die grond hier is heilig …’

Op lang houttafels, staan hulle uitgestal: Mense se stories in die vorm van ’n verskeidenheid skoene. Stap­stewels en somersandale. Balletskoene. Spesiale 5-toon-oefenskoene. ’n Dogtertjie se houtklompe. Trou-, werk-, dans- en kerkskoene. Bedsokkies – hand­gebrei, van sagte pienk wol. Hoë hakke, nerf-af neuse, gevlekte leer. Army boots – wat nooit ’n landmyn afgetrap het nie. Sommige van die skoene het net hier ter plaatse geloop. Ander het canyons en kontinente deurkruis.

By elke skoen is ’n mens se naam: Andries Hugo, Tienie Fourie, Johan Viljoen, Adrienne Bester, mevrou Malherbe, anoniem. ’n Sendingverpleegster, ’n diplomaat, ’n Two Oceans- en Comrades-atleet … Mense, regte mense se regte, waardevolle, wonderlike, vrees­aanjaende stories. Party het hulle stories binne-in die skoen geskryf. Ander s’n lê langsaan. In ’n trouskoen lê nog ’n bietjie van toekatyd se bont konfetti.

’n Mens glimlag oor Sanet Badenhorst se beskrywing van haar sandale: “naked plastic cubic zirconia fake gold”! ’n Swart seuntjie-skoentjie lê op ’n helder­kleurige Kuifie-boek. Met die deurstap hoor jou verbeelding vet kleutervoetjies tip-tip-tip in ’n gang af hardloop; jong soldate ritmies marsjeer, in gehoorsame gelid: knars, knars, knars. Klassieke musiek vul ’n ouditorium: ’n ballerina draai en val. Die uitstalling laat jou mense se onuitwisbare hartsoomblikke beleef. “Treasures found and lost …” skryf een langs sy skoen.

Dit ruk my terug na die Yad Vashem Holocaust Museum in Jerusalem waar ’n mens – nadat jy jou reeds verstom het aan die toenemende vervolging van ’n volksgroep – opeens oor ’n glasblad loop. En onder jou voetehonderde skoene. Sommer net op ’n hoop gegooi. Gesmyt. Skoene van leer. Of lap. Afgeleef, ópgedra. Elke skoen die stom getuie van ’n mens met ’n storie. Mans, vroue, begaafdes, verliefdes, geleerdes – wat in die Bergen-Belsen-konsentrasiekamp gesterf het. Argeloos eenkant toe gegooi, afgemaak as onbe­langrik. Gaskamer-onbenullig.

Franschhoek se skoenuitstalling is die teenpool: Dit wil juis mense se waarde onderstreep en vier. Ingrid Maritz het kunsgeskiedenis, kommunikasie en drama studeer. Later radio- en televisiewerk gedoen. Sy vertel: “Hierdie fees was vir my regtig ’n heerlike verrassende ervaring, en deurgaans ’n bo verwagting opbouende, verrykende ondervinding gewees. Dit het my ook gehelp om weer my eie kreatiewe voete te vind.

“Die idee van ’n skoenuitstalling het ontspring na aanleiding van ’n preek van ds Jan van Zyl oor Moses en die brandende bos waar hy sy skoene moes uittrek. Daar het ek gehoor dat in die Ou-Testamentiese tye dit ’n gebruik was om jou besittings aan die binnekant van jou sool uit te graveer. Tipe van ’n inventaris. Jou skoene was dus ’n baie belangrike simbool van jou identiteit. En status.

Herman du Plessis, oorstelp van blydskap dat sy droom, om ’n lentefees met kuns in die kerk te hou, so wonderlik waar geword het. Agter hom is een van die foto’s wat hy in die Sederberge geneem het, uitgestal bokant die agterste kerkbanke.

“Dit het my verbeelding aangegryp. Ds Van Zyl het vir my ’n nommer gegee van ’n afgetrede professor in Antieke studies, prof Henriette van Winsen. En met haar het ek ’n twee uur lange gesprek gehad. Daar is ’n vrou wat verstommende kennis het!

“Ná ons gesprek was ek oortuig om voort te gaan met die dankbaarheid-skoene projek. Op daardie stadium het ek nie geweet hoe om dit aan te pak nie, maar ek het gewéét ek moet net voortgaan … dinge sal wel in plek val.

“Omdat ons lentefees se tema gebaseer is op dankbaarheid en ons ons stories met mekaar wil deel, het ek gevra dat elkeen ’n skoen moet kies wat ’n gedagte van dankbaarheid opdiep. Dit kon enige skoen wees, draf, werk, stewel … En wat ’n verrassing was dit om al die skoene te kry. En die kosbare stories!

“Dit was regtig so ’n verdiepende belewenis om hier­die skoene te sien, uit te stal en daarmee te werk, en nog meer van ’n verrassing hoeveel aandag dit geniet het. Mense, toeriste het gestop en gekyk en was elk op ’n manier aangeraak deur die skoene. En die feit dat mens die skoene kon optel en hanteer …

“Almal kan identifiseer met skoene. Herinneringe van liefde, swaarkry, die sweet van drafskoene, die angs van oorlog. Almal het dit begryp en ek het dít nie voorsien nie. Mense het spontaan gesels en gedeel. Dit was die seën waarop ons gehoop het”, sê Ingrid dankbaar.

Idiome soos “sy hart sink in sy skoene” en “om die stoute skoene aan te trek” trap dae ná die uitstalling nog spore in my kop. Ek bedink ook weer die ou waarheid, dat om in iemand anders se skoene te staan of eers ’n ent daarin te loop, begrip en waardering bevor­der. Dit laat jou met ander, oper oë, kyk. Sodat jy nie blindelings oordeel nie. Maar met groter empatie leef en laat leef.

’n Kersieboom met Suid-Afrikaanse wortels blom in Japan

Japan, eksotiese land van die opkomende son, samoerai’s, kimono’s, kersiebloeisels en dip-dak tempels. ’n Rooi kol-vlag en vooruitstrewende ekonomie. Slegs 1% Christene in ’n bevolking van 127 miljoen. Stéphan en Carina van der Watt werk daar. Stéphan is professor in pastorale teologie en sorg aan die Kobe Gereformeerde Teologiese Skool. Carina is tuisopvoeder, gasvrou en kinderbediener. ANNALISE WIID het met hulle gesels.


Die Van der Watts is tans in Suid-Afrika op hulle driejaarlikse besoek van drie maande. Stéphan kry my op Stellenbosch vir ’n cappuccino. In goeie Japannese tradisie, bring hy ’n keu­rige geskenk saam: ragfyn skryfpapier. En miniatuur houtstokkies, waarmee die Japannese vrugte eet – elk in sy eie papierslopie, versier met geparste blomme­tjies. Dit is gemaak deur gestremdes van ’n sentrum waar­by hulle kerk betrokke is.

Ek het soveel vrae: Hoe lyk kerk in so ’n vreemde, anderste kultuur? Hoe hanteer hulle die druk in so ’n vreeslik gedrewe samelewing, met so ’n werk-tot-die-dood-ingesteldheid en verstommende produksievermoë? Hoe kom hulle reg met die taal – ek hoor dis so moeilik om aan te leer? Hoe pas ’n groot Afrika-lyf in daai klein Oosterse ruimtetjies in? Hoe maak ’n mens jou kinders daar groot? En hoekom Japan van alle vreemde plekke?

Stéphan, ’n Humansdorper, voel vir my so gemaklik bekend, soos ’n boerseun-buurseun. Hy lag. “Hoekom Japan? Die kort antwoord is: Beslis nie omdat my skoonouers (Tobie en Annalie de Wet) daar gewerk het en onlangs afgetree en teruggekom het Suid-Afrika toe nie. Eenvoudig net omdat ek en Carina van har­te oortuig is die Here roep ons om daar te wees.”

Hoe het dié oortuiging gebeur?

“Dit was in 2007. Ons was al ’n jaar of wat getroud. En het die vorige jaar ’n maand lank gaan vakansie hou by my skoonouers, wat toe nog in Japan was. Jy moet onthou, ek het so min van Japan geweet, toe ek Carina ontmoet het, het ek nog gedink Hong Kong is Japan se hoofstad!

Dr Stéphan van der Watt besig om klas te gee.

“Dit was vir my lekker om daar te kuier, fassinerend vir ’n vakansie, maar ek het nooit gedink ons gesin sou daar gaan bly nie. Ons was daardie tyd predikantspaar in Aliwal-Noord. Boonop het ek ’n pastorale hart. My fokus lê op die binnekant van ’n gemeente. Ek het myself dus nie as ’n sendeling gesien nie.”

En toe, op 23 Desember 2007, berei hy sy Kerspreek voor. Blaai deur die ou Bybel op soek na ’n spesifieke teks. Blaai verby Jesaja; steek vas by hoofstuk 49:1-7. “Luister na My, eilande, gee aandag, nasies wat ver is!”

Die eilande van Japan was onmiddellik voor sy geestesoog. Die verdere woorde – “Die Here het my ’n belangrike opdrag gegee … Hy het gesê: Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is terug te bring nie; Ek maak jou ’n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik …” – het Stéphan se hart beetgekry. En net nie weer laat los nie.

Hy het die kolletjies verbind; baie gebid; dit met Carina gedeel; en daarna met enkele goeie vriende. Later ook met hulle ouers en gebedsondersteuners. En die Aliwal-gemeente, waar hulle toe maar nog net drie gelukkige jare was.

“So ’n lewensveranderende besluit neem ’n mens nie ligtelik nie. Jy moet onthou, Japan staan bekend as ‘die begraafplaas van sendelinge’”.

Uiteindelik het hulle (met Annlie, hulle eersteling, huilend agter in ’n klein karretjie) hierdie roepingsverhaal gaan deel met sowat 100 gemeentes, waarvan sommige bevestig het dat hulle ook geroepe voel om die Van der Watts in hulle bediening te ondersteun.

En nog 16 maande se voorbereiding het hulle wortels opgetrek.

Vir Carina, wat weens haar grootwordagtergrond nie so veranker aan plek is soos Stéphan nie, was dit dalk ’n bietjie makliker.

Vir hom: “Aanvanklik so oorweldigend. ’n Mens het net geweet: Hierdie gaan taai wees.” Die eerste twee jaar verstaan ’n mens glad nie die taal nie. En hoewel sy skoonouers help brûe bou het, was dit steeds met tye uiters frustrerend en dreinerend.

Dié vrolike, kleurvolle kinderbediening is deel van die werk in Kobe. Carina van der Watt is regs agter.

Hulle tweede kind, Cornelius, is twee maande ná hulle aankoms in Japan gebore, en Carina “moes in Ja­pannees kraam”. Cornelius is kort daarna met ’n rare metaboliese siekte gediagnoseer. Dit was moeilik! Maar wat ’n geloofspad. En watter diep emosionele ban­de het hulle nie gebou nie!

Nou, ná agt en ’n bietjie jaar, gee Stéphan klas, vorm missionale omgeeharte, preek en hou vergaderings in Japannees. “Ek kan praat en luister, maar lees en skryf lol nog. Ek troos my daaraan dat hulle sê net die eerste 30 jaar is moeilik.”

Stéphan besef: “Bediening in Japan is ’n maraton; nie ’n 100 m dash nie.” Die Japannese staan uitermate skepties teenoor die “Christelike Weste” weens die vernietigende bomme op Hiroshima en Nagasaki in die Tweede Wêreldoorlog. In die eenvormige, same­horige Japannese kultuur, is Christenskap ’n baie radikale keuse. Calvyn se “mystical union with Christ” is on­ont­beerlik.

Tog bestaan die Reformed Church of Japan reeds 70 jaar en werk hulle 45 jaar al goed met die NG Kerk saam. Stéphan-hulle, sowel as sy skoonouers, was baie betrokke by hulpverlening tydens die onlangse natuur­rampe – 2011 se tsoenami en die Kumamoto-aardbe­wings verlede jaar. Die “onsigbare” Japannese kerk kon toe sigbaarder word deur hulle openbare meelewing.

By die teologiese skool het elke student ’n storie. Een van hulle vertel van ’n Japannese predikant wat baie jare gelede saam met ’n Amerikaanse sendeling ge­werk het en wat gedink het hulle werk was totaal vrugteloos.

“Maar my oupagrootjie se pa het deur daardie man tot bekering gekom. En ek is reeds die vyfde geslag predikant in my familie.” Vyfdegeslag-Christene is hoogs uitsonderlik daar. Die meeste Japannese Christene is maar eerste- of hoogstens tweedegeslag-ge­lo­wi­ges. So anders as die meeste Suid-Afrikaanse gelowi­ges se ervaring.

Stéphan en Carina van der Watt met hulle kinders onder ’n Japannese kersieboom. Die kinders is van links Annlie, Cornelius, Stephan en Lodewyk.

“Anders.” Stéphan en Carina gebruik dié woord mildelik as hulle Japan beskryf. Anders as Suid-Afrika – dié uiters homogene samelewing: Almal praat een taal. Groepsbelang bepaal individue se gedrag. Dié wat nie inpas nie, onttrek totaal, word hikikomori – ’n unie­ke en raaiselagtige Japannese verskynsel. Anders – dié land waar yin-en-yang-teenstrydighede lepellê. Waar skoonheid, waarheid en goedheid hoog geag word. Waar ’n mens in gesprekke, subtiel, “die lug tussen die lyne lees”.

Ek ontmoet Carina op Stilbaai waar sy en die kin­ders, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan, by haar ouers kuier terwyl Stéphan sy deputasie doen. Sy is nog verrassend energiek ná ’n hele oggend se tuis­onderrig.

Sy beduie opgewonde met klein handjies en glinste­rende, vol leef-lus, terwyl sy vertel: “Ek is ‘made in Japan’. Ons het daar gewoon tot ek vyf was. Toe moes my ouers terugkom Suid-Afrika toe weens sanksies teen die NG Kerk. Na my studies op Stellenbosch het ek weer vir twee jaar daar gaan Engels gee. Dit was dus vir my makliker as vir Stéphan toe ons soontoe trek. Ten minste was die reuk van soja en die swael van die baie warmbronne vir my bekend.”

Carina is dapper, intelligent en onkonvensioneel. En oor jare deeglik gevorm vir die werk wat sy nou in Japan doen. Haar pa, Tobie, was ná hulle terugkeer predikant in Parkheuwel in Port Elizabeth. In haar graad 4-jaar skuif hy na Malabar, ’n Indiër-gemeente van die Reformed Church in Africa. Dit was in die laat 80’s se onlustye. Hulle was die enigste wit mense in die Indiërgemeenskap.

“Ek het altyd anders gevoel. Maar die voordeel daarvan is jy kyk met ander oë, met objektiwiteit, van buite af. En nou ervaar my kinders dieselfde. Hulle voel ook heeltyd anders. Die Japannese kinders is so stil en subdued. Hulle skrik as my kinders hard huil, of uitgelate en lawaaierig is. Ons is die enigste Westerlinge in ons buurt. Ons sien miskien een maal elke vier maande ander Westerlinge. Dit is ’n goeie, vermoeien­de ding, dié andersheid. As Christene is ons mos in elk geval veronderstel om radikaal anders te wees.”

Carina staan baie skoene vol: Hoewel Stéphan ’n baie betrokke en dienende pa is, sluk taalstudies en sy werk baie van sy tyd in. Sy is dus hoofsaaklik verantwoordelik vir hulle vier kinders (nou tussen 10 en drie jaar oud) se tuisonderrig.

“Ja, dis uitdagend en uitputtend, maar die dinamika van die kinders se verskillende ouderdomme en persoonlikhede is ook baie lekker. Ons teken en sing en leer geskiedenis en wiskunde in drie tale en lees CS Lewis, Boerneef …”

Sy hou van feesvier en skep graag familietradisies wat haar gesin saamsnoer.

Benewens “skool”, is hulle huis ook dikwels kuier- en oorslaapplek vir Japannese vriende of buitelandse besoekers. “Ons nooi mense aspris in. Japannese ken nie sulke gasvryheid nie. Dit is ’n demonstrasie van die evangelie. By ons en by die kerk is die enigste plek waar hulle kan ontspan oor hulle Christenskap en oor wie hulle is.”

By hulle vorige gemeente in Tokushima op die Suid-eiland, het Carina ’n baie suksesvolle bediening met kleuters gehad, genaamd Happy Kids. Sy is ook betrokke by die kinderbediening in Kobe, waar hulle sedert einde 2015 woon. En sy gee Engelse klasse vir die kweekskoolstudente.

“Ja, daar is soms baie chaos, maar gelukkig is ek ’n goeie organiseerder,” lag sy toe ek verwonderd vra: Hoe dóén jy dit?

Stéphan en Carina maak die beeld van ’n Japannese kersieboom in my gedagte-tuin staan: ’n Sterk stam met wye sambreel-takke, wat gul uitnooi, skuiling bied. Lieflike blinkswart lyne wat in komplekse patrone kartel. Omgewe van ligte, bewegende bloeisels; asof ’n swerm sagte vlinders by die boom tuiskom.

Suid-Afrika en Japan. Kerk oor kontinente. Ons het ’n boom verplant. Dit is beeldskoon.

– Belangstellendes kan Stéphan en Carina kontak by jsvdwatt@gmail.com of meer inligting by www.missiejapan.co.za kry. Kyk ook na Mission Japan: First Steps in Kobe op youtube.

Genade vloei soos fonteine

Johannes Erasmus Smit was agt jaar oud en besig om bloekomtakke op te tel waarvan hy kruise wou maak vir Paasfees, toe ’n motor hom raakry en baie ernstig beseer. ANNALISE WIID het gaan kuier en varsvloeiende fonteine van onophoudelike genade ontdek – in mense met sagte oë en goeie harte.


Aan die Smitte, wat lidmate is van die NG gemeente Lourensrivier-Strand, se rooi tuinhek­kie hang ’n kruis van saamgebondelde optel­takke. ’n Treffende simbool van die mense wat hier in die Strand woon: vier gesinslede, wat al langer as sewe jaar ondersteun word deur 20 vrywilligers. Bondelhoutjies, saam­gebind met driedubbele toue van liefde. Die voor­hekkie is nie gesluit nie. Anelé, Johannes se ma, het regtig nie nog tyd om elke keer as iemand aanklop, te gaan oopmaak nie. Geliefdes laat hulleself eenvou­dig in.

Die kruis aan die tuinhekkie is een van Johannes se Paaskruise, wat hy as agtjarige gemaak het. Hy en Ane­lé, saam-saam. Hy het vasgehou. Sy het vasgebind. Krui­se sonder smuk: Soms van platgetrapte takke. Grow­we tou. Haar vriendinne was dol daaroor! Johannes het die kruise teen R40 elk verkoop. Hy wou 10% van sy inkomste daaruit vir Bybelverspreiding gee.

Dr Schalk Burger skryf ’n vraag in die swart hardebandboek. Dit is wonderlik om te lees wat Johannes alles in reaksie op die dokter se vrae in die boek geskryf het. Deur net sy arm te ondersteun, het dr Schalk vir Johannes gehelp om met sy familie te kommunikeer.

Hulle het gaan takke optel dié dag, Johannes en ­Anelé. Nie een van hulle het die kar sien kom nie. Die be­stuurder het ook nie vir Johannes gesien nie; die seun­tjie op die skouer van die pad, wat opgewonde om­draai met die bondel takke in sy armpies.

Dit was 26 Maart 2010. So skielik. So onomkeerbaar. Oomblikke wat lewens verander – vir altyd.

Anelé sit skuinskop by die tafel voor die venster. Blaai deur haar bêreboek; vertel die verloop van Johannes se verhaal sedert daardie dag.

Sy het nie regtig die boek nodig nie. Dit help haar net om, soos sy vertel, op die kronologie van gebeure te fokus. Maar wanneer sy van die boek af opkyk, sien sy in elk geval nog alles. Dit is in haar wese ingegraveer. Onuitwisbaar. Deel van haar soos haar asem. Soos haar kind. Hy word vanjaar 16. ’n Skadusnor begin al oor sy bo-lip kruip.

Anelé se oë is die uitsonderlike, deurglansde, ligte blou van ysberge. Maar glad nie koud nie. Vol warm deernis en ontferming. En onuitblusbare vasberadenheid om haar kind op sy gesond-word pad te help.

Daar is sjokoladeblokkies op die tafel. Johannes het self die Mariekoekies daarvoor gekrummel. Met sy regterhand. Sy linkerkant is minder funksioneel. En hy is in ’n rolstoel. Maar “al kan hy nie stap nie, kan hy nog loop op sy pad van genade, liefde, geloof en hoop,” sing Mallies le Roux in ’n lied wat hy spesiaal oor Johannes geskryf het.

Langs die koekies lê ’n swart hardebandboek met die eerste wonderlike woorde wat Johannes self ná die ongeluk geskryf het. Lank daarna.

Johannes oefen elke Woensdag saam met sy drie gunsteling “peute”: van links is Melissa Colborne, Mia Lamprecht en Stephanie Kruger. Al drie is studente in sportwetenskap by die Universiteit Stellenbosch.

Anelé skryf ook. In haar kombuis hang Opperman se woorde teen die muur: “Ek het die wondere van God beskryf en al die monsters uit my hart verdryf.”

Sy stuur maandeliks ’n verslag oor Johannes se vordering aan vriende en belang­stellendes. Dit is deurspek van sy kwinkslae. Sy besondere fyn humorsin is ’n mens-mag­neet. “Kan ’n mens in TransVAAL ook helder kleure aantrek? Kan iemand met BRUIN oë uit die BLOUte kom kuier? Wat doen jy as dit SLEG gaan met die WEL­syn? Kan ’n kabeljou SNOEKer speel?”, vra hy en kikker mense lag-lag op.

Toe iemand Anelé eenkeer ’n “lekker daggie” toe­wens, brom hy onderlangs: “Het sy dan net 23 uur in haar dag?”

“Johannes is agt jaar oud – ’n wonderkind,” skryf Anelé in Oktober 2010, etlike maande ná die ongeluk, oor hoe dit voorheen was.

“Hy tril van opgewondenheid oor die lewe, staan nooit stil nie, kry nooit koud nie. Hy klim die hoogste bome – doen selfs sy huiswerk van tak tot tak. In die graad 3-klas is hy die leier van die Muis-bende. Wanneer hy op die springmat spring, vonkel sy ogies en maak hy sy mond wyd oop sodat ek water met die tuin­slang daarin kan spuit. Hy speel krieket, hokkie, rugby en tennis, doen karate en teken die mooiste pren­tjies. Hy vertroetel hamsters, katte en selfs twee eek­horinkies, Koffiepit en Teesakkie. Johannes dans met die lewe!”

Nou, vertel Anelé, is Johannes feitlik weer volledig dáár, soos sy persoonlikheid tóé was, voor die ongeluk. ’n Kind, nee, nou ’n jongman, wat vrolik wakker word en opgewonde vra: “Wat doen ons twee vandag, Mamma?”

Johannes word op 1 Desember vanjaar 16. Min tieners kan sê: “Ek het my eie persoonlike kransduif wat soms op my kop kom sit.”

Maar dit was ’n lang pad tot hier. Kaalvoet oor skerp klippe: ’n Mens gaan in survival mode. Jy bid die eerste twee nagte om. Later kan jy nie meer bid nie. ’n Wolk geliefdes skaar hulle om jou; sit styf teen jou. Jy hoor: “Ek is die Here jou God. Ek vat jou hand. Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie. Ek help jou.”

Jou kind verbeter nie. Die hospitaal word jou huis. En dan kom die dag wat vreemdes jou kom vra om ’n orgaanskenkingvorm te teken: Die dokters sien geen breinfunksie nie en beveel aan dat die lewe-ondersteunende masjiene afgeskakel word.

Biddende vriende stuur Psalm 46:6: “God sal hom help nog voor die môre kom.” En, onbe­skryf­lik: Johannes begin vanself asemhaal! Maak heelwat later een ogie oop. Begin nog later ge­luid­jies maak.

Desnieteenstaande kom die kliniese uitspraak: Ernstige permanente breinskade. Soek ’n inrigting vir julle seun.

Daar is dinge wat ’n buitestander nie vra nie. Jy laat haar praat. Weet instinktief waar om, eer­biedig, weg te skram. “Some stones are so heavy,” skryf Anne Michaels, “only silence helps you carry them.”

Skerp klippe inderdaad. Maar tussen-in, fonteine van God se sag-vloeiende genade uit mense met omgee-harte. Soos dr Schalk Burger wat hulle, ná 45 dae in die hospitaal, inwag by Intercare Rehabilitasiesentrum in Bellville. Johannes kan nie sien of praat nie. Dr Schalk, wat deel van die span dokters is wat hom behandel het, laat hom skryf. Deur net sy armpie te ondersteun, en met groot geduld te wag tot die agtjarige seuntjie se hand die letters moeisaam vorm.

Die wonder en opwinding van kommunikasie! Johannes skryf goed soos: “Gee vir my water. Ek is lief vir julle. Jesus is hier.” Schalk vra: “Johannes, waar uit die Bybel moet ons vandag vir jou lees?”

“Hebriers 1 skryf Johannes – met ’n kleinlettertjie en seuntjie-spelling.

Op ’n dag skryf Johannes: “Ek gaan praat.”

Anna Albertyn, Johannes (hier 13 jaar oud), en Johannes se ouma, Minnie Smit, na afloop van ’n oefensessie op die blou bal. Anna het Johannes sowat vyf jaar lank gehelp om strekoefeninge te doen om sy spiere soepel te hou.

In reaksie daarop, salf Schalk hom met olie. Maar daar is net laventelolie byderhand. Kon jy nie liewer olyfolie gebruik het nie, skerts Johannes se pa, Willem. Dit ruik ten minste nie so skerp nie. “Olyfolie” is die eerste woord wat Johannes na die ongeluk sê.

Mettertyd word hy sterker; begin sy eens pap en lewelose lyfie weer eet, lag, stap met hulp, redeneer. En vandag vorder hy steeds.

Hulle vra nie hoekom-vrae nie. Dring nie aan op ant­woorde nie. Fokus eerder op wat positief is. Die dag toe hulle Rooikruis-hospitaal toe is om uit te vind of Johannes weer sal kan sien, kry hulle die tyding: Nee, die oogsenuwees is onherstelbaar beskadig.

Anelé vra die aand: “Johannes, wat moet ek vir jou uit die Bybel lees?”

“Mamma, lees Jesaja 41:18.”

“Jy bedoel seker vers 13?” vra sy. “Jy wil seker ons vashou-vers hoor, wat sê: “Ek is die Here jou God. Ek vat jou hand. Ek help jou.”

“Nee, Mamma, lees van vers 18 af,” hou hy vol.

En sy lees: “Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring, en in die laagtes fonteine laat uitborrel.”

“Ag, Mamma, dit sê maar net God is ’n God van die onmoontlike,” reageer sy 11-jarige boetie, Hein, kin­der­lik gelowig. En hulle maak weer, soos die Karoo-oompie gesê het, hulle glo voor hulle bang staan.

Hulle het immers reeds die onmoontlike in Johan­nes se lyf ervaar: ’n Dag na die ongeluk moes ’n deel van Johannes se skedel verwyder word om drukking op sy brein te verlig. Die skedelflap sou op 29 Julie 2010 te­rug­geplaas word. Maar die chirurg het gevind dat daar spontaan nuwe skedelweefsel begin vorm het – nie van die kante af nie, maar in die middel van die opening. Heeltemal buitengewoon op agtjarige ouderdom!

Johannes se “peute” – spraak-, arbeids-, fisio-, emo­sionele intelligensie- en Lyno-terapeute – en die ge­sin se vele vriende, is soet fonteine wat borrel van gees­drif, genade en liefde. Hulle help hom met perdry, Duits, Engels, klassieke musiek, kitaar, lees, biokinetika, wis­kun­despeletjies, geskiedenis en geografie. Noem maar nog.

Johannes het ’n vrywillige versorger wat gereed staan om te help met elke behoefte. Tot ’n haarkapper en ortodontis en kerk-maats wat help met kategese. ’n Besoekende fisio van Randburg het, baie beïndruk met sy gesondword-span, gesê: “Ek het nog nooit so ’n toegewyde klomp mense gesien nie”.

Die kruise wat Johannes gemaak het. Hoewel hy aanvanklik be­plan het om ’n tiende van sy inkomste daaruit aan Bybel­verspreiding te skenk, het hy al die geld wat hy daaruit gemaak het kerk toe geneem. Toe hy dit by NG Lourensrivier se kerkkantoor gaan inbetaal, sê die skriba: “Ds Chris Bester het pas kom vra hoeveel geld ons beskikbaar het vir Bybels.” Ane­lé se suster het ná Johannes se ongeluk die Bybelversprei­dingprojek oorgeneem en kon al ongeveer R45 000 oor­betaal.

Natuurlik het Johannes se versorgers ook gesondheids- of gesinsprobleme. Niemand is mos gevrywaar van skerp klippe nie. Maar almal sê: Johannes is op sy beurt vir ons ’n vars fontein van goedheid. As jy bedruk by Johannes opdaag, gaan jy met ’n glimlag daar weg.

Tannie Anna Albertyn (84), lidmaat van die NG gemeente Helderberg, het Johannes van die be­gin af gehelp met strekoefeninge om sy lyf soepel te hou. Tot 18 maande gelede. Noudat hy ouer word, word hy te swaar vir haar om te hanteer. Maar sy besoek hom steeds. Hulle lag nog lekker oor al hulle oefenkaskenades. En oor die fyn knypies wat hy haar kleindag gegee het – sy enigste selfverdediging wanneer die oefeninge hom seergemaak het.

Johannes se lang wimpers hang donker gordyntjies oor sy groot, blinkswart, intelligente oë. Oë wat ’n mens nader nooi, al kan hulle jou nie sien nie.

’n Vriendin van die gesin, Thea-Rita Kluyts, het ’n ge­bed geskryf oor Johannes se oë. Dankbare, vriendeli­ke, brawe, leergierige, sagte, Jesus-oë: “Oë wat net lief­de sien.” Soos die Griekwapsalm kyk hulle “allie pad boentoe, reg in onse Pa se oge”.

– Lesers wat belangstel om Johannes se maandelikse vorderingsverslag te ontvang, kan Anelé by anele.smit@gmail.com e-pos.

Elna het oor berge en drumpels gereis

Afrika. Die Bybel. Vroue. “My verhaal is méér as mý perspek­tief daarop,” het prof Elna Mouton onlangs op Stellenbosch gesê waar sy oor haar reis as vrou deur “die bediening” gereflekteer het. ANNALISE WIID vertel.


“Ek sit ‘bediening’ met opset in aanhalings­tekens,” sê prof Mouton. Ons het die woord verskraal, meen sy. Ons moet die veelkantigheid daarvan met groter gesag en bevesti­ging erken.

Sy praat met ’n stuk of 30 vroue, elkeen in een of ander vorm van bediening en leierskap van die Wes-Kaapse Sinode van die NG Kerk: predikante, jeugwer­kers, kerkraadslede, akademici en vroue in ander, “on­ge­legitimeerde” bedieninge.

Die vroue sit in ’n halfmaan. O die vrolike … se ju­bel-klanke vul die saal. Vul die vroue. “Luister hierna,” nooi Elna, “luister na die vreugde, die viering van Jesus se geboorte – God wat mens word. En haak vir ’n oom­blik jou eie geboorte daarby aan. Vier weer jou eie lewe, die volle collage van wat jy verteenwoordig, as geskenk; jou unieke hier-wees, nóú.”

O, die vrolike, o die salige … ’n Jubeling met mineur ondertone.

Elna Mouton het in Ceres grootgeword. Sagte vrugte, ruwe berge. “Die vraag wat bly terg, is, hoekom is ek so erg oor ’n berg,” haal sy Carl Boplaas lag­gend aan. Ook maar goed, want berge moes sy dikwels oor. En wat blou lyk van ver, is soms erg skurf van naby. Steil en skerp. Maar Elna Mouton het die kuns bemeester om elke oënskynlike onoorkombaarheid te sien as ’n oorgang, ’n drumpel tot iets verruimend en goeds.

Haar biografie is van kleins af bepaal deur die interaksie tussen Bybel, Afrika, en vroue. “As dogtertjie het ek, hand aan hand, met my ma sendingkerk toe gestap. My ma het die Bybel gelees, bedink, en geleef. Sy was my eerste rolmodel in die teologie.” Ongekompliseerde kinderjare. Nietemin word ’n mens gekonfronteer met die ingewikkeldheid van ’n dikwels onple­sierige wêreld: Boksie-denke. Klasse- en gen­der­diskriminasie. As kind reeds vind Elna “preke met substansie” besielend. Word sy bewus van “die kuns om met die woorde van God om te gaan”.

1969. Matriek. Die aardbewing-jaar. Ceres se on­wan­kelbare berge sidder. Wat kies ’n meisie met ’n verlange om “met mense en oor grense te werk” in dié era as loopbaan? Dit was ’n volle 20 jaar voor die NG Kerk vroue tot die predikante-bediening sou toelaat. Dan maar BA op Stellenbosch met Bybelkunde en Xhosa. Dit gee haar ’n goeie breë basis. Daarna ver­werf sy ’n diploma in Christelike dienswerk aan die Hugenote Kollege.

1975. Canzibe, Transkei, noord-oos van Umtata aan die Wil­dekus. Elna meld aan as kerklik-maatskaplike werker, met die fokus op die jeug. Dít in ’n gemeente met 13 buiteposte. Sy vra raad by die moderator: Hoe sien hy haar rol as jong, wit vrou hier? “Doen wat jy gekom het om te doen, maar wees bereid om tweede viool te speel terwyl jy dit doen.”

“Ek het die heel belangrikste informele opvoeding van my lewe op Canzibe gekry. My identiteit, my verstaan van wie ek is, en wie s’n ek is, is daar finaal gestempel.” Sy bly vir 15 jaar lank in diens van die Oos-Kaap Sinode.

Ná Canzibe is sy Port Elizabeth toe. Hospitaal- en fabrieksbedie­ning. “Om eenvoudig by ’n indivi­du te gaan sit en te probeer inkom in die wêreld van ’n mens … Daar het ek die pastor in my ontdek.”

Sy volg later haar geesgenoot-mentor, Willemien Appel, as hoof- uitvoerende beampte van die Vrouediens op. Destyds rus sy predikantsvroue toe. Anders as nou, waar sy (vroue) predikante oplei. Sy verwerf haar doktorsgraad by die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK), doseer Nuwe Testament aan die Universiteit van Port Elizabeth (UPE).

In Julie 2000 skuif sy Stellenbosch toe. Daar word sy die Fakulteit Teologie se eerste voltydse vroulike dosent. Later ook dekaan. In drie opsigte is dit uniek: Sy is nie ’n man nie, nie gelegitimeer nie, en ongetroud.

“Dink na oor hierdie interseksie: Ek kom uit ’n ánder wêreld, uit ’n bediening en domein waar ek nie behoort aan die dinamika en struktuur van my kollegas nie. Ek het die wyse Oos-Kaapse moderator se raad onthou en gewoon gedoen wat my hand vind en my hart sê.”

Haar Godsbeeld is veranker in Deuteronomium 10:17-19 en Johannes 1:12-14 se beskrywings van krag in deernis en broosheid. Elna praat met groot waarde­ring van vroueteoloë uit Afrika se samewerking aan die boek, Living with dignity, wat in 2016 met die Andrew Murray/Desmond Tutu-prys bekroon is. En Net­ACT – ’n netwerk van Afrika-kweekskole, wat haar lewe en haar lees van Bybeltekste oneindig verryk.

“In die episentrum, waar die Bybel, Afrika en menswees bymekaarkom – dit is waar ek God ontmoet. In die ruimte van stilte én lament, verset én vertroue, nadenke en diepe sin. Ek voel my tuis op drumpels. Waar wêrelde bymekaarkom: wêrelde van etnisiteit, gender, klas, Bybel-interpretasie. Drumpels is dinamiese plekke van verwondering én ongemak, vryheid én risiko, dans én warrelwind. Ryk ruimtes; dog ook kompleks en geskakeerd. Waar niemand staties bly nie.” En tog kan ’n mens daar tuis kom.

Die Here het vir dié Lady ’n droom gegee

Ronél Henning het die gawe van musiek gekry. Sy gebruik dit as orrelis van die NG gemeente Ladybrand. Maar sy doen veel meer daarmee. Sy deel dit in haar agterplaas met die spreekwoordelike Judea, Samaria en die uiterstes van die aarde – en daardeur vermenigvuldig sy die vreugde. ANNALISE WIID het na haar gaan luister.


Orreliste. Só deel van baie gemeentes en ere­dienste, dat ons hulle maklik miskyk, onderskat of oorwerk. Soms aanvaar ons hulle as van­selfsprekend, verdra hulle vir jare, of baklei met hulle oor belaglikhede. Op ’n sinode-video raai Nata­niël tong in die kies aan: As jy wil hê die orrelis moet groet, help haar weg met ’n tjoklitkoek. Maar dikwels wil ons juis nie groet nie, want dié onontbeerlike men­se verryk ons gemeentes mateloos met hulle talent en kleurryke persoonlikhede.

Ronél Henning was 12 jaar lank begeleier van die Dra­kensbergse Seunskoor, vir dirigent en musiekdirek­teur, Bunny Ashley-Botha. Sy het reeds op skool ge­droom om dit te doen. “A life-changing experience! Bunny was ’n groot gees, ’n besondere mentor. Altyd innoverend; besig om te groei,” sê sy. Hy het diep spore in haar lewe getrap; die mens gevorm wat sy vandag is – met sy unieke kreatiwiteit en fyn ontwikkelde sin vir besigheid en verhoudings.

Bunny het ná vroeë aftrede ’n klein Oos-Kaapse skoolkoor gelei tot groot hoogtes. Hy is etlike dae na sy 70ste verjaardag oorlede, kort ná hy ’n boek Drakie Stories, oor sy jare by die Seunskoor, geskryf het. By sy begrafnis het Zwai Bala, ’n oud-Drakie, gesê: “Daar is ’n stukkie van Bunny in alles wat ons doen.”

In Ronél ook. Sy omhels dieselfde waardes en le­wensfilosofie as Bunny. Oefen ook, dikwels onbewuste­lik, lewensvormende invloed uit. Trap sélf diep spo­re in honderde musiekmense se lewe: Kinders wat in­stru­mente wil leer speel. Volwassenes wat uit hulle werkspasie wil ontsnap; hul kop op ander plekke wil sit. Alzheimer-pasiënte wat vind musiek is goed vir hulle geheue.

Ronél Henning agter die klavier. Ronél is ’n lady wat haar gemeente en haar dorp verryk. Sy leef die evangelie op note en in kuns.

Draai links, kort anderkant Ladybrand se klompie winkels, in die rigting van die rant met die sandsteenrotse. Ry ’n slaggat of twee mis, dan sien jy Ladybird International Arts Academy se bordjie regs. Met daar neffens die eertydse Vrymesselaarslosie, wat Ronél gekoop en tot ’n knus klein teater omtower het. Pragtig, in sandsteen se klei-kleur met sagte grysblou afwerkings.

Ronél het in 2003 hier kom nes skrop. Eers die huis ge­koop. Met die baie hoë, toegegroeide muur langs­aan. En elke laaste Donderdagaand van die maand die vier ooms met hulle tasse, pakke en swart strikdasse langs­aan sien ingaan. Later was dit net drie ooms. En toe kom die for sale-bordjie.”

Hoekom hier? Hoekom Ladybrand? En Ladybird?

Toe sy die Drakensbergse Seunskoor verlaat, het sy navorsing gedoen: Waar sou sy ’n volhoubare musiekskool kon begin? Swellendam, Rustenburg of Ladybrand het haar kop-klokkies gelui. Ladybrand se ligging as grensdorp – met Lesotho se invloei van di­plo­matieke personeel en vele nasionaliteite – was deur­slaggewend.

Ladybird, want liewenheersbesies is ’n internasio­naal gewilde simbool van skoonheid en plesier. Ladies was altyd deel van haar lewe: Vroeër jare het sy ’n mu­siekakademie in Lady Grey help vestig. Lady Ronél: Ruimhartige baanbreker.

’n Apteker, rocker en ’n pottebakker

Ons gesels op ’n sonnige wintermiddag in haar “fish bowl” – ’n leefvertrek met groot glasvensters wat die tuin innooi. Lekker kaggel, groot hoop hout, stapels kunsboeke, kussings, mooi skilderye. Ons sit elmboë op die tafel. Groot bekers koffie. Praat land en sand, soos ou pelle.

In die 14 jaar van Ladybird Akademie se bestaan, was hier al begaafdes uit 27 kulture: Pakistan, die ­F­i­li­p­pyne, Rwanda, Uganda, die VSA, Brittanje, Rusland, Hon­garye …

Dokters, diplomate, sendelinge, humanitêre hulp­ver­leners.

Ronél vertel met ’n glimlag van Lieve, verpleegsuster en altvioolspeler uit België: “Sy wou altyd graag on­derrig vir strykers gee. Lieve was die hoof van strykers by Ladybird Akademie. Haar man, dr Bart, ’n gineko­loog in Lesotho, wat ook tjello speel, het saam gespeel in die ensemble.”

“Mense daag net by Ladybird op. Op ’n dag e-pos ’n man uit Dakar: ‘My vrou het ’n pos in Lesotho aanvaar. Ek speel altviool. Kan ek by jou Akademie kom klas gee?’ Nou rig hy ons ensembles en junior strykers af. Die huidige viool- en blokfluit-onderwyser, Ilona Knot, is ’n Nederlandse verpleegsuster wat hier in Afri­ka as sendeling-se-vrou by Ladybird kom inval het. Sy het ses kinders en is ’n bol sportiewe energie.”

Ronél Henning (agter die klavier) maak musiek saam met Elsabé Bartleman (viool), Joané (Fluitbekkie) Beukes en Johan van Heerden (akkordeon). “Ons speel ure saam, lag baie en hulle is nie bang vir oefen van hope en hope bladmusiek nie!” vertel Ronél.

“Die plaaslike apteker, die kinders noem hom ‘Meneer Ribbert’, met die bos rooi hare, gekleurde vere in sy baard en die great stem wat net wil sing, doen die inleidende program met die kleintjies, die Little Ladybugs. Hy werk net drie dae per week in die apteek. Hy het ’n lisensiaat in Drama en Fluit, het pas sy graad 8-sangeksamen geslaag en is ’n skitterende onderwy­ser. Dis lekker vir die kinders om te sien dis nie net ou tannies en vrouens wat musiek gee nie.”

Ladybird Akademie is nie slegs opleidingsplek vir musiekstudente nie. Dit word ook die lanseerplek vir gegradueerdes. In 2013 bel Ronél Vrystaatse Uni­ver­siteit toe, op soek na ’n kitaaronderwyser. Hulle be­veel Jerome Vermaak aan. “Hy is lieflik! ’n Rocker, met the look,” lag sy. Dus doen hulle nou nie klassieke kitaar nie, hulle rock dat die sandsteenkranse antwoord gee.

Afgestudeerde studente kom werk dikwels ’n ruk by Ronél voor hulle verder die wêreld invaar en hulle merk maak. Soos Werner Stander, wat nou sy doktorsgraad in Birmingham doen. Of Leslie Jennings, be­stuur­der van die Vrystaatse Jeugorkes.

Visuele Kuns en Spraak en Drama bly ook nie agter nie. Die jong dramaturg Lize Bosman, die blonde juffrou wat Dinosourus Stories skryf, ry weekliks met haar worshond uit Bloemfontein Ladybrand toe.

Kunsjuffrou, Belinda Pike, teken en verf met haar studente in die ruim ateljee agter in die tuin, waar die goue Vrystaatse lig deur groot glasvensters stroom. In die binnehof van die Akademie is lieflike mosaïeke: Die kunsstudente se werk. Voor die dorpsbiblioteek staan een van hulle beelde: ’n Aardbol met ’n ma en kind wat lees. In die strate pryk muurskilderye. Hulle maak mooi waar hulle kan. Teken met “pavement chalk” prente voor die poskantoor. “Ons is mos nie net hier vir onsself nie.”

Chanel Barnard, Emma Halse en Lida Seagreen as “narrinne” tydens ’n Kersie-Kersfeeskonsert.

Een van Ladybird Akademie se beskermhere van Lesotho, dr Moteane (almal noem hom dr Mot), se lewensleuse is: If you retire, you die. In 2005 begin hy tjello- en klavierles neem. En slaag sedertdien al sy musiekeksamens met meer as 75%.

Ronél meen teorie en struktuur is nie noodwendig nodig om musiekkennis oor te dra nie. “Dit kan soms gevoel en kreatiewe vryheid aan bande lê. Kinders word so oorbestuur in skole, so gedruk om te pres­teer,” sug sy. “By Ladybird kies ons om nie op kompe­tisie te fokus nie, maar op genot.” Tog boet hulle geensins standaard in nie. Daarvan getuig die goeie verslae van hulle eksterne eksaminators.

Hulle eerste kunsonderwyser was The Mud Studio se internasionaal bekende pottebakker, Philippa du Toit. En later kunstenaar en digter, Thandi Sliepen, uit Nederland. Sy het nou haar eie kunsgalery in Ladybrand geopen. En ’n SALA-toekenning vir haar eerste dig­bundel ontvang.

Binnekort wil Ronél die kurrikulum ook met dans aanvul. Waarskynlik Latino met ’n bietjie African Contemporary by. Lekker, iets nuuts!

Die Here se droom

Ronél glimlag: “Die Here het vir my ’n droom gegee. En Hy maak die droom vir my waar. My skooljare-droom om die Drakies te begelei, maar ook my ander drome. Dit word op sy maniere waar.

“Onthou jy die stuk in Jesaja wat praat van die kinderlose wat baie kinders gaan hê? So is dit hier. Die studente word soos kinders in my huis. Dis vir hulle lekker hier. In die somer sit ons in die tuin, in die winter voor die kaggel. Soms kuier hulle so, dat ek hulle omtrent by die deur moet uitvee.

“My ma, Letitia, ’n afgetrede ouditeur, doen ons boeke. En chat by Ontvangs met die ma’s wat vir hulle kinders wag. Sy bring ook weekliks heerlike, vars water uit die boorgat op haar plaas naby Hobhouse. Die studente lief haar; hulle noem haar ‘Oma’.”

Die plaaslike apteker (die kleintjies noem hom Meneer Ribbert) gee klas vir die liewe Little Ladybugs. Van links is dit Minke Fourie, Jessica Warren en Marno de Kock. Hulle is almal vyf jaar oud.

Tans het Ladybird Akademie nege personeellede. Voor hulle weeklikse personeelvergadering, maak hul­le eers saam ’n uur lank musiek. Dan speel die kuns-juf­frou die kontrabas. Hulle hou jaarliks ’n formele per­so­neelkonsert. Almal saam: skeppende kuns, mu­siek, drama.

Soms “kuns swop” hulle vir ’n week – dan doen almal ’n kunsvorm wat hulle nie gewoonlik doen nie. En elke Woensdagmiddag tussen 17:00 en 17:30 hou die leerders konsert in die teater. Die dorp kan kom luister. Dit maak die kinders “verhoogtuis”. En die dorpenaars meer kunsbewus.

Ronél speel sedert 2005 orrel in Ladybrand se NG gemeente. “Met ’n lieflike musiekspan wat klokslag om 08:00 saam met my inval. Ons en die leraar, dr Danie Kleyn­hans, werk vreeslik lekker saam,” vertel sy dankbaar.

“Johan van Heerden, Ladybird Academy se Deputy Director, is my regterhand en sober ondersteuningsba­sis. Johan is een van ons klein gemeenskap se grootste support systems. Hy help almal! Hy is ’n orrelstudent van my, wat my soms Sondae aflos. Hy is ook Sondae ons klankingenieur, Ladybird se teorie-onderwyser en konsertbestuurder par excellence. Sy voltydse werk is egter bestuurder van ’n groot gastehuis in Ladybrand. Johan speel ook dwarsfluit en akkordeon. Hy is ’n besonderse mens.”

Ladybird Akademie en die kerk is baie dieselfde: ’n Klein kosmos. Jy kom hier aan en jy gee wie jy is. En saam is, word ons méér. Soms pas mense nie in nie, maar dit is die uitsondering. As ’n reël droom en gee ons nie vanuit ’n leemte nie, maar vanuit vervulling. Ons reik uit met kuns. En dit maak dat daar ook ’n natuurlike osmose tussen ons en die gemeenskap is. ’n Heen-en-weer vloei. ’n Harmonie. ’n Manier van leef.”

– Vir meer inligting: infoladybird@telkomsa.net