Annalise Wiid

Strome water in ’n dorland – kerk in die woestyn

Dubai. Wêreldstad van woestyn en water, welvaart en ongekende vernuwing. Dr Deon Bester en sy vrou, Susan, het 11 maande gelede uit die NG gemeente Paarl-Vallei daarheen getrek om die Afrikaanse gemeentes in die Verenigde Arabiese Emirate te bedien. ANNALISE WIID het gaan kuier en verwonderd teruggekom.


Die bootvaart om die stad van die see-kant te sien. Vonkelblou edelsteen, geset in sand. Wêreldbekende landmerke: Die “skip”-hotel, wat bol staan, ’n gespande seil, wit van die wind. Skuins daaragter buig ’n gebou soos ’n golf, gereed om te breek. Uitgestrek lê honderde beeldskone geboue in eindelose skakerings van blou en beige. En bo alles toring die Burj Khalifa ’n indrukwekkende 828 meter die lug in. My eerste indrukke van Dubai.

Toeriste vaar met klein houtbootjies oor die Dubai Creek. Gaan snuffel in ’n spesery-souk (mark) wat vibreer van kleur en geur. Drentel deur Deira, ou Dubai, se skraal stegies en eenvoudige huisies, die tuiste van destydserelvissers.

Die kontras tussen die antieke en die moderne stad is enorm: Onveranderde eeue-oue kultuur omring van onbeteuelde ontwikkeling. Waar die sky, volgens hulle Sheik, nie die limit is nie, maar merely the beginning. Ongeveer 120 000 Suid-Afrikaners vind deesdae hier ’n heenkome. In ’n omgewing waarin geloof óf groei, óf verander, óf verdwyn.

So word daar ’n mannekamp in die woestyn gehou.

Deon en Susan woon in Dubai, maar hy bedien ook die Afrikaanse gemeentes in Abu Dhabi, die hoofstad van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), 140 km suid, en Ras Al-Khaima, 115 km noord daarvandaan. Elke dorp se kerk verskil – soos maar hier by ons ook. Dáár, dalk net ’n bietjie meer opvallend.

En die lewe het ’n ander ritme daar. Dis ’n Moslemland. Daarom is Vrydag aanbiddingsdag. Nie Sondag, soos by ons nie. In Dubai hou hulle dus Vrydagoggende kerk. In die Arjaan-hotel. Die gemeente is ’n ge­moe­­delike, gesellige klomp – ongeveer 280 sterk, wat vrees­lik lekker sing en graag ná kerk saam kuier.

Saterdag rus almal. En Sondag begin die nuwe werkweek; soos ons Maandag. Sondagaande preek Deon dan in Ras Al-Khaima. ’n Kleiner, valer, platter stad as Dubai, naby verruklike ruwe berge, byna soos ons Richtersveld.

Ras Al-Khaima se mikrogemeente (14 as hulle op volle sterkte is) hou kerk in Werner en Erica Ferreira se huis. In ’n groot vertrek met ’n leerbank, ’n snoekertafel en ’n lekker kuierhoek. Werner se oupa was ’n Springbok-bokser. Sy wengeveg-trui hang geraam teen die muur. Sy bokshandskoene rus in ’n glaskas. Hier woed nie meer gevegte nie. Net toe ons erediens begin, roep ’n imam iewers lank en luid ook sy volgelinge op tot gebed. Naas-bestaan.

Maandagaande, wanneer die VAE-werksweek al op ’n draffie is, preek Deon in Abu Dhabi. Dié ongewone werkritme stel unieke uitdagings aan preekmaak. Die Abu Dhabi-gemeente ontmoet in die St Andrews-saal van die Anglikane. Merkbaar bly om mekaar te sien. Van die drie gemeentes, voel hierdie die meeste soos tradisionele kerk.

Maar ook anders: Die banke is oorgetrek met grofgeweefde Arabiese rooi patroontjie-lap – mooi, soos dié van kamele se saalklede. Abu Dhabi is ook anders as Dubai. Strenger. Meer besadig. Die stad word oorskadu deur die stil, wit, Grand Mosque. Waarin toeris­te en pelgrims kosmopolitaans, kaalvoet en oopmond, hulle saam aan die indrukwekkende skoonheid verstom.

’n Vierde Afrikaanse gemeente, in Al Ain, word deur ds Hannes van Wijk bedien. In Dubai hou die ge­meen­te ook nog Dinsdagaande ’n manne-bidgroep en Woensdae ’n Bybelstudie vir vroue. Geloofsfamilies gee uitdrukking aan een van die gemeente se leuses: Jou naaste familie in die sandland! Een maal per maand kuier die manne ook in die woestyn om die Woord.

Mense ry ver kerk toe, dikwels ’n halfuur of meer, en dít na ’n harde werkdag. Hulle toewyding is indruk­wekkend. “Wanneer die gemeenskap van gelowiges nie meer ’n luukse is nie, maar ’n noodsaaklikheid word, dan verander dinge,” meen Deon. “Gemeen­te­le­de leef met ’n baie mooi bewussyn van mekaar. Mense is op mekaar aangewese hier in die vreemde. Hulle help mekaar graag: met blyplek, met raad; om werk te soek. Hulle leen selfs vir mekaar hulle karre.”

Soos Jesaja 32 se strome water in ’n dor land. Die skadu van ’n groot rots in ’n kaal wêreld.

Abu Dhabi se Sheikh Zayed Groot Moskee, bedoel as ’n simbool van vrede, maar tog ook ’n groot sigbare herinnering daaraan dat Islam hier die norm is.

Een van Deon se vriende vergelyk sy aansteeklike energie met dié van ’n Duracell-hasie. ’n Mens kan een­voudig nie by hom wees en nie lus voel vir die lewe nie. Hy is ’n wydbelese, sistematiese en praktiese denker. Mens-lief. Reguit en opreg. Werk graag met preek­reekse. Lering is vir hom belangrik; die pennie moet drop. As opgeleide life coach weet hy ook hoe om stra­te­giese vrae te vra wat mense se denke stimuleer en hulle help om hul eie insigte te vind.

Hoe het hy en Susan in Dubai beland? Ds Gert Els het 10 jaar gelede die gemeente saam met Piet Vorster en ander lidmate gestig. Deon het Gert kom aflos vir twee weke sodat hy kon gaan vakansie hou. Toe Gert later aftree, het die VAE-gemeentes gevra dat Deon hom opvolg.

Dit het beteken dat hy sy predikantsbevoegdheid in die NG Kerk moes prysgee, want slegs die Suid-Afrikaanse gemeente in Londen word amptelik as deel van die NG Kerk gereken. Dit het hom nie gekeer nie. Hy versorg die Afrikaanssprekende Christene in die verre Arabiese land met opsigtelike liefde.

Watter effek het die skuif Dubai toe op hom en Susan se persoonlike geloof gehad?

“Dankbaarheid en vertroue. Ons het geleer dat ons vertroue in die Pantokrator moet wees. Die Heerser oor die heelal. Ons het ook geleer dat dit nie werklik help om self bekommerd te wees oor dinge nie. Jesus was reg! Om te bekommer gaan niks verander nie. Vertroue in God wel. Afhanklikheid van God wel.

“Nuwe vrae bring nuwe antwoorde en insig. Daar is ’n hongerte hier na God en die kerk. Ons is inderdaad mekaar se naaste familie in dié sandland. Om in die Midde-Ooste te woon is om in die brandpunt van die wêreld se storms te woon. Dis opwindend! Dink net aan al die getuienis-geleenthede,” antwoord die man met die missionale hart.

Susan is besturende verpleegkundige by Medi-Cli­nic se daghospitaal in die Dubai Mall. Daar werk 72 dok­ters. Dit is groot en besig! Met verpleegpersoneel van oraloor die wêreld. ’n Mens se getuienis word deur­gaans met jou menswees gelewer.

Ander Suid-Afrikaners werk meesal in die VAE as vlieëniers, ingenieurs, uitvoerende hoofde van groot on­dernemings, bouers, onderwysers of medici. Som­mi­ge mense is alleen daar; hulle gesinne moes nood­gedwonge in Suid-Afrika agterbly.

In dié Arabiese land geld natuurlik streng sosiale en maatskaplike reëls. Mense uit alle wêrelddele is wel­kom, maar moet onthou: Hulle is gaste in die land. Om daar te werk is ’n voorreg. As jy jou nie goed gedra nie, stuur hulle jou eenvoudig huis toe.

Tydens Ramadan word byvoorbeeld van buitelan­ders verwag om met nóg groter bedagsaamheid die land se tradisionele geloofsgebruike te respekteer. Om dan selfs net bedags water te drink in die openbaar, en so­doende iemand in sy Ramadanvas te steur, is onaanvaarbaar.

Die Emirate is merkwaardig: Hulle het selfs ’n mi­ni­sterie van “tolerance and happiness”. Oor die algemeen verloop dinge daar rustig en glad.

Soms is dit egter ook ’n wispelturige, onvoorspel­ba­re plek. Eendag, terwyl ons die eerste 7-ster hotel in die wêreld groot-oog bewonder, kry Deon ’n oproep: ’n Gemeentelid, uitvoerende hoof van ’n groot maatskappy, het pas sy werk verloor. “Dit is nie ongewoon of ’n skande nie. Dit gebeur met baie mense. In die VAE kan jy, as gaswerker, onmiddellik afgedank word – sonder enige rede of verduideliking. En jy het geen regte nie. Daar is nie ’n hof waarheen jy kan vlug om jou te beskerm nie.”

Die Arabiese hitte omsingel jou: skroeiend, oorwel­di­gend. Asof iemand ’n kosmiese oonddeur neffens jou oopgemaak het. Die kwik kan tot 50 grade en hoër styg, met ’n ewe hoë, verswelgende humiditeit. Susan vertel: “Hoogsomer is dit sommer 39 grade wanneer jy soggens opstaan.”

Oral is genadiglik baie effektiewe lugverkoeling. Boonop is die land so veilig – mense laat selfs hulle motors voor die winkel luier sodat die lugverkoeling kan aanhou werk terwyl hulle inkopies doen. En niemand steel die kar nie!

Die winkelsentrums is groot en baie – daar is 60 in Dubai. Een meer indrukwekkend as die ander: Dié een het ’n ski-oord. Daardie een ’n akwarium. Of ’n Grand Prix-renbaan. Vir ontspanning ry die Suid-Afrikaners fiets. Swem. Hulle stream musiek, flieks of rugbywedstryde. Of vaar met hulle 4×4’s die eindelose duine in en gaan braai in die woestyn.

Sommige mense herdefinieer hulle waardes en geloof in ’n nuwe land. Trudie Grobbelaar, wat in Abu Dhabi werk, sê haar perspektiewe het verander in Arabië. “Nou sien ek net ‘goeie’ en ‘slegte’ mense; nie meer swart en wit nie. En ek sien baie meer goed as kwaad.”

Die foto en logo wat die Afrikaanse gemeentes in die Verenig­de Arabiese Emirate nou gebruik.

Wanneer sy terugkom Suid-Afrika toe, wil sy min­derbevoorregtes help om selfversorgend te wees. Om groentetuine te plant. Sy wil mense bemagtig met kennis. “Want,” sê sy, “ek het in die VAE ervaar hoe dit voel om soos ’n slaaf te werk. En om in die minderheid, die mindere, te wees.”

Truda van Straaten is nou vir haar tweede rondte en negende jaar in Dubai. Haar man, Dick, is ontwikkelingsbestuurder van ’n maatskappy wat asemrowende hotelle daar bou. “My eerste ervaring van Dubai was: Al my groen is weg!” lag sy.

“Maar hier is stilte,” vul Narina Maritz aan, ’n radio­grafis van Bettiesbaai, wat Dubai se 8-baan verkeer moes leer trotseer. “En ek het die Here hier in die stilte herontdek.”

Vir beide hierdie vroue is dié warm woestyn nie ’n slegte ervaring van versoekings, verdwaal en verval nie. Maar eerder ’n verruil-dit-vir-niks Hosea-ervaring van: Die Here het my na die woestyn toe gebring om my opnuut weer die hof te maak.

– Vir meer inligting, skakel dr Deon Bester by +971521024257 / drdeonbester@afrikaansvae.church of Pieter Swanepoel by +971551038246 / voorsitter@afrikaansvae.church. Besoek ook www.afrikaansvae.church of soek “Afrikaanse Gemeentes VAE” op Facebook.

As deurstap jou deurdring

Die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe het op Woensdag 1 Maart 2017 ’n groot kunswerk voor die Fakulteit Teologie se hoofingang op Stellenbosch opgerig. Woensdagnag, 8 Maart, het ’n stormsterk suidoostewind die kunswerk verniel en moes dit om veiligheidsredes verwyder word. ANNALISE WIID was bevoorreg om te gaan “deurstap” voor die wind begin waai het.


Dit is belaai met simboliek – van watter kant jy dit ook al bekyk. Beide die kunswerk, en die wind. En waag jy om, letterlik, deur die kuns­werk te stap, waag jy ook dat dit onuitwisbare spore in jou verbeelding trap.

’n Enorme net span tussen die twee hoë, sterk-geankerde palmbome voor die kweekskool. Wat gaan hier aan? Mense wonder instinktief: Wat beteken dit? Staan nuuskierig nader. Klein papiertjies, flertsies wit en geel, sit aan die net vas, soos aan ’n web. Dit wapper tussen die bome en die baie blou lug; hang tussen hemel en aarde.

Kom ’n mens nog nader, ervaar jy: Die halfdeursigtige net sper nie af nie. Dit verdeel nie noodwendig nie. Daar is ’n opening. Byna soos ’n oopgevoude tentflap. ’n Mens kan daardeur gaan. Daar’s ’n anderkant.

Eers af by die kweekskooltrappies – dorp se kant toe. Deur die net. Dan van die straat se kant af weer terug deur die wasigheid. Van een perspektief na die ander. Simbolies, aktueel, hier op die “kerkgrond” waar teologiese debat en mens-waarde mekaar voortdurend soek en deurkruis. Hier waar leiers gekweek, of soos Strijdom sê, “grootgemaak word”.

In die kweekskool-konteks kom die Bybel-beeld van ’n sluier onwillekeurig na vore: Wat verdoesel; wat kennis, begrip kan verhoed. Of wat weggeneem word vir ’n helderder sien; wat God kan onthul. Ook die voorhangsel-beeld – wat skeur en heeltemal ’n nuwe, onverwagte deurgang skep. Geheel nuwe moontlikhede oopmaak.

Die detail van die papierflentertjies aan die net val ’n mens op. Dit is armbandjies. Elk met sy eie nommer. Soos toegangskaartjies by events. Of hospitaalbandjies met ’n operasie. Wat jou merk. Eien. Bevestig: Jy was daar. Jy het daardie spesifieke ervaring beleef. Deurleef.

“Elke mens ervaar waterskeidings,” sê Strijdom: “Gebeure, oomblikke, besluite, gedagtewendings, wat die lewe onherroeplik verander. Omkeer.”

Die anastrofie van deurstap. Waar kom hy aan dié vreemde, interessante titel vir sy installasie? “Ek het by professor Daniël Louw gaan kers opsteek. Vir hom gevra: Gee my een woord. Nie iets so voorspelbaar soos ‘metamorfose’ nie. Iets wat méér sê …”

Soos die kunswerk, lok die titel jou ook om te vra: Wat beteken anastrofie dan? Anastrofie, as taalverskynsel, is om die normale sinskonstruksie te skommel; om woorde in ’n ander orde as gewoonlik te gebruik; ’n omkeer van die konvensionele. Sodat ’n mens die klem anders sien, hoor, ervaar. Met ’n verskerpte bewussyn. Dit is presies wat Strijdom van der Merwe se kunswerke doen.

Langs die een voor die kweekskool was hierdie verduideliking van anastrofie: “transitive meaning to upset, to turn upside down, to turn round. In die Hebreeus verwys dit na hālak wat ’n weg aandui wat óf positief óf negatief kan wees. Dit dui op die uitdaging om kennis in praktyk oor te skakel en dan ’n ander pad te stap; dit dui ook op ’n turning movement. Die betekenis van die konsep is binne ’n meer spirituele raamwerk van houdingsverandering in die lig van singewende momente.”

Strijdom self is nie ’n kerkganger nie; wel ’n baie spirituele persoon. “Vir jare, sedert 1980 al,” vertel hy, “roep die mooi ruimte voor die kweekskool my. En hoewel ek die installasie daar opgerig het, is dit nie noodwendig godsdienstig nie. Dit moes toeganklik bly vir enigeen. Interessant. Verrassend. Selfs vir ’n ateïs. Dit het verskillende betekenisse vir verskillende mense. ’n Kankerlyer, wat ná behandeling skoon is, is aangegryp deur die kunswerk; deur die gevoel wat dit by haar gelaat het: Ek is daardeur. Ek is anderkant uit.

Prof Johan Cilliers, van homiletiek, skryf aan Strijdom ná die verwoestende wind: “Dalk is dit ook nie vreemd nie … jou kunswerke is so deel van die natuur, dat die natuur dit (mettertyd) ook weer terugneem … Ek het gister vir die studente uit Jesaja voorgelees: Mense is soos ’n veldblom – as die wind(!) daaroor waai, is dit weg … Dankie dat ons die skoonheid/broosheid van jou kunswerk kon beleef …”

Prof Hendrik Bosman, van Ou Testament, en waar­nemende dekaan, skryf:

“Dankie vir die waardevolle bydrae wat jy gelewer het om nadenke te stimuleer oor onder andere die toeganklikheid van die Fakulteit Teologie. Jou kunswerk kan as ’n verwysingspunt gebruik word in toekomstige besprekings oor transformasie, werwing van nuwe studente, ensovoorts …”

Vir Strijdom van der Merwe gaan dit juis hieroor: Die konsep sowel as die gesprekke en nadenke wat dit tot gevolg kan hê. Om ’n kunswerk soos Die anastrofie van deurstap lyflik te beleef, is om daarná voortdurend ’n rykdom saam te dra: Vir altyd staangemaak in die landskap van jou verbeelding.

Sinvolle teologie in splinters en skerwe

Professor. Buitengewoon. Emeritus. Dekaan. Kunstenaar. Breedgeskouerd. Saggeaard. ANNALISE WIID het die veelsydige Daniël Louw in Stellenbosch se kweekskool-kapel ontmoet – omring van sy kunswerke.


Regs hang Daniël se Opstanding-skildery: Chris­tus beur op uit ontstellende koerantberig-skeur­sels oor die geweld van mens teen mens; breek die stukkend stúkkend. Aan ’n ander muur hang ’n klip-Jesus; in die aardse kleure van die Ceres-Karoo. Bossiebruin, stofvaal, bloedwarmroes, klipkoue-ystergrys. Dit is verstommend dat iets só hard, só seer, dit so sag kan maak binne-in ’n mens!

Daniël het self die klip gaan loskap in die Warmbokkeveld. Dit met ’n bakkie aangery Stellenbosch toe. Aanvanklik wou hy daarmee net ’n kruis bou. Maar met die aflaai, val die stukke klip só, dat die ge­krui­sigde Jesus daarin lê: Gebroke, broos en eindeloos liefdevol.

“Dit ruk my,” het ’n kollega gesê, en die klip is so vasgemessel teen die fokusmuur van die klein kapel. Die messelaar het dit met spykers en draad geanker. Hy wou dit later weer verwyder. Nee, het Daniël gekeer, dit pas, dit móét daar wees. En eerder nog do­ringdraad bygevoeg: “As simbool van die vyandskap, venyn, verwydering tussen mense. In oorloë, konsen­tra­siekampe, tussen die treinspoor en die lokasie – gaan kyk maar – oral het doringdraad mense afge­kamp, ingeperk, verneder. Christus trek ons skerwe in homself bymekaar.”

Kuns-vonk vat vroeg vlam

Daniël onthou hoe lekker “Sub A” se skryf en teken vir hom was. Van vóór skool af al het hy daarvan gehou om goedjies te maak; om speel-speel te bou. Toe sy kuns-juffrou in standerd 1 personeelkamer toe hardloop om met een van sy kunswerke by haar kollegas te spog, het die kuns-vonk in hom waarlik vlamgevat. Haar opwinding het hom laat verstaan: Ek het ’n aanvoeling; ek kan iets waardevols skep. Sy het vir hom haar olieverf gebring. Gevra: Skilder vir my iets. Hy het nou nog die skildery met die pot en rooi Poinsettias.

Deur sy skooljare het hy aanhou teken. Maar in later jare was daar nie tyd nie. “Teen 1983 het ek egter besef: Ek gaan dood! Hier is iets binne my wat eenvoudig moet omgeskakel word tot kuns. Nou vind ek: Ek moet jaarliks iets doen, anders ontwikkel ek nie.”

As kunstenaar soek ’n mens na hoe jy jouself kan uitdruk. Toe die kapel by die kweekskool gebou is, het Daniël met glas begin eksperimenteer. Finansies was te skraps vir loodglas. Toe beskilder hy die gewone vensters.

Eendag sien hy op Gansbaai ’n stuk glas – een van daardie dubbel-glaspanele – wat stukkend geslaan is tydens ’n inbraak. “Jy weet mos, dit breek nie, dis so ge-brittle – en dit maak die mooiste patrone!” Hy vra of hy dit mag kry. En besef: Die man wat dit vir hom gee sien glad nie die skoonheid daarin nie. Hy sien net weggooigoed.

Daniël skilder toe ’n agtergrond met sagte bloue en plak die gebroke glas daarop. Hy noem dit: Ek sien ’n nuwe hemel kom. “Dít is kuns,” sê hy: “Om te sien wat onsigbaar is; en dit vir ander sigbaar te maak. Die kunstenaar bring na vore wat ander mense nie sien, hoor of verstaan nie. Dít is die verskil tussen prentjies en kuns. Kunstenaars help mense om betekenisvol oor die aard van dinge, gebeure te kan gesels.”

Op ’n dag, toe hy weer so ’n dubbel-glaspaneel gaan koop, vra hy sommer daar by die winkel vir die verkoopsman: “Het jy ’n lekker groot hamer? Ek wil die glas stukkend kap.” Die man se reaksie was: “Is djy mal in djou kop? Allie anne mense soek heel glas. Hulle moan assitie perfek issie. Djy’s my eerste customer wat geld betaal vir ’n heel ding en dit dan wil opsmash.”

Daniël werk nou gereeld met splinter-glas. “Glas gee die gevoel van son. Dit breek en kaats die lig so mooi – op soveel fassinerende maniere. Jy het net die regte agtergrond en genoeg verbeelding nodig om iets wonderlik daaruit te skep.”

Gebrokenheid gebruik hy ook gereeld. Dis meer as net ’n woord. Dit is ’n manier van wees. Dit is die medium waarmee hy werk; ongeag of hy besig is met glas, klip of verf. Om skoonheid te skep uit stukke en skerwe, is vir hom ook die kuns van die lewe. ’n Vrou vra eendag, na aanleiding van een van sy kunswerke, of die man baie aggressie in hom het, dat hy die glas so stukkend kap? Sy het nie verstaan nie. Inteendeel. Hy dra baie heling in hom. En deernis. Barm­hartigheid.

In ’n Japanse tuin

Gebrokenheid en volkomenheid lê langs mekaar. Dít het Daniël in ’n Japannese tuin besef: Hy het een oggend, in Kioto, nuus ont­vang dat hulle sesde kleinkind, waarmee sy skoondogter toe al ’n paar maande swanger was, aan Edward-sindroom ly; wat misvor­ming meebring. In die middel van die tuin was 15 rotse gepak (die getal van volkome geluk en vrede in Japannese lewensfilosofie) – maar vanaf enige hoek kon ’n mens slegs 14 van hulle op enige ge­gewe oomblik sien (die getal van gebrokenheid en pyn).

Daniël se glaskuns weerkaats in die gang buite die kapel. Daniël Louw vind dat “kuns ons kan help om die bewoënheid van God te ontdek”. Foto’s: Annalise Wiid

“Ons sien 15 ook nooit in die lewe nie. As jy nie kan aanvaar dat lyding, weerloosheid, gebrokenheid, deel is van die werklikheid van hierdie lewe nie, dan is jy altyd ongelukkig. Jy moet die estetika in gebrokenheid vind. En este­tika het weinig te doen met mooi of lelik. Dit het te doen met waarde oopbreek. Ons sesde klein­kind het, saam met die gebro­kenheid, ook die vrede van 15 gebring.”

Dit was ’n stilgeboorte. Daniël het hom vasgehou; hom gedoop; hom oorgeplaas in die passie en omgee van God. “Want dit is hoe God vir my is: By my tot in die dood. En dit is hoekom Goeie Vrydag goed is: God is lelik, weerloos: Verlatenheid wat in verlatenheid roep. Gestroop. En getrou. Die aakligheid van God, is ook sy skoonheid.”

“You cannot calculate life. Ons kan die lewe nie wetmatig bereken of beheer nie.

Die dag van God is die dag van gebeur; die Bybel se ‘agtste dag.’”

Daniël het, as kunstenaar, mens en teoloog hierin gegroei: Op 26, ná studie in Duitsland, bedank hy ’n pos by departement Filosofie, om ’n beroep na Wynberg-gemeente te aanvaar, waar hy vyf en ’n half jaar bly. Daarna ’n kort tydjie by Stellenberg-gemeente. Einde 1977 beroep die Fakulteit Teologie hom as se­nior lektor in Praktiese Teologie en Pastoraat na Stellenbosch.

Teologie wat hoop gee

Mettertyd word ’n onrus in hom wakker: Iets is teologies verkeerd. Soekend na geloofwaardigheid, besef hy: “My raamwerk van teologie begin val anders uit as die dogmatiese ‘formules’ vanuit ’n paradigma wat God hoofsaaklik sien as kousaal-oorsaaklik, alwetend, almagtig en onveranderlik. En wat werk met ’n enkelvoudige splitsing tussen liggaam en siel. Ons denke het gestol in almag-kategorieë, wat nie weerloosheid en medelye kommunikeer nie.

“Die ou stryd in die kerk oor die beeld van God, het vir my toenemend na spekulasie begin lyk. Tot ek stadig maar seker begin sien het: Die kerk se paradigmatiese raamwerk word gevoed uit abstrakte, teoretiese etiek. Uit die soeke na logiese, finale, verklarende antwoorde oor goed en kwaad, reg of verkeerd; uit die aanname dat die mens bloot net sleg, totaal verdorwe is.

“Maar Genesis begin met God, die kunstenaar, wat op en af spring. Die letterlike betekenis van die woorde teken ’n huppel-in-die-stap-Skepper, wat kinderlik-opgewonde uitroep: Wow! Dit is goed, baie goed!

“Ons het ’n estetiese teologie nodig. Estetika is die basis-woord waarop die kerk sy hele teologie en etiek moet skoei. Ons moet heel eerste vra: Wat is sinvol? Wat gee hoop? Waarvoor is die mens bestem? Vóór ons vra: Wat is reg of verkeerd? Estetika is meer fundamenteel as etiek. Estetika verklaar nie. Is nie voorspelbaar nie. Ruk jou derms uit. Estetika soek: Waar is jy? Die onwetendheid van God, sy ‘waar is jy?’, is dié punt in die Bybel wat vir my illustreer dat God my liefhet: Dat hy, soos die verlore seun se pa, dwalend van kommer, vir my wag, oor my wonder, wesenlik omgee en méé-ly … Estetika is empaties. God wil troos, omarm, heelmaak.”

Skielik gryp Daniël ’n pen. Maak sy tande daarmee skoon, krap daarmee in sy oor. “Ek kan sien jy hou nie daarvan dat ek dit doen nie,” lag hy. “’n Mens kan ’n pen daarvoor gebruik, maar nie my tande, my oor of die pen is daarvoor bedoel nie. Verstaan jy? Estetika hanteer of gebruik iets – ’n medemens, die lewe, jou liggaam – waarvoor dit bedoel is. En die mens is bedoel, bestem om lief te hê.”

Maar daarom ook: “As jy liefhet, ly jy. Want nie een van ons kan onvoorwaardelik liefhê nie. Dit is godsonmoontlik. Om dan te vra: ‘Wat in my blokkeer die liefde; wat in my verhoed dat my naaste liefde ervaar’, is die pynlikste vraag ooit! ’n Mens moet broos wees, nie in beheer nie, om lief te hê; medelye te ervaar; barm­hartig en ontfermend te leef.

“Estetika help ons méér daarmee as slim etiek, of vaste formules oor reg-en-verkeerd.”

Kuns en die kerk

Daniël sê: “Die beeldestorming van die Reformasie, wat alle kuns uit die kerk geban het, het kuns verkeerd verstaan. Beeld, vorm, lyn, kleur en taal, wil God nie vasvang en manipuleer nie; dit is ikonies, simbolies, metafories, heenwysend na die onsigbare. ‘Geen afbeelding van God’ beteken nie ’n portret nie. Dit dui eerder daarop dat ons God nie moet laat stol tot wat ons kan beheer met ons sintuie en beperkte, dikwels selfsugtige, begeertes nie.

“God is ’n werkwoord, ’n belofte-woord, ’n eindelose doenende dáár-wees, kniediep in ons weerloosheid. Ek is wat Ek is. God is om te wees … Kuns help óns ook om te wees. Kuns werk met ons skerwe, met paradoks. Dit stel onversoenbaarhede langs mekaar, bring die onsigbare na vore. Kuns konfronteer ons met die kernvrae van die lewe. Maar, bowenal, help kuns ons om God se bewoënheid te ontdek.”

Kruispad-Bybelboer

“Ek is geroep om ’n dominee te wórd, nie om een te wéés nie,”Gerjo Ben van der Merwe, skrywer van Kruispad-dagstukkies wat weeksoggende op duisende rekenaarskerms verskyn. ANNALISE WIID het met dié interessante kruis tussen dominee en nie-dominee gesels.


“Ek skryf vir myself – om die Bybelteks te verstaan. As die lesers wil inluister, is hulle welkom. Ek is nie ’n akademikus, ’n teoloog of ’n filosoof nie. Kyk, ek het mos my drie jaar-BA in vyf jaar ingeprop. Want, ek het alles gedoen – busse en restaurante bestuur, besproeiing ingesit. Swot was nou nie juis my beste vak nie. Maar ek het vasgetrap, en toe ek uiteindelik my BTh ook kry, het my ma gesê sý verdien dit ook, so baie soos sy moes bid!”

Gerjo Ben, laatlam, ten spyte van sy ouers se deeglike voorsorg, is ’n broerskind van Boerneef. Sy pa, Gerjo, het 120 gesange berym. Hy is ’n gebore woord-mens en boundary pusher.

Sy vrou, Renata, vertel: “Ek het In a pit with a lion on a snowy day, deur Mark Batterson gelees en besef: Dit is hoekom Kruispad so gegroei het. Gerjo Ben jaag leeus. Hy skrik nie vir uitdagings of hindernisse nie. Hy druk deur.”

Ná kweekskool was hy die eienaar van ’n kwekery en toe het hy gaan boer. “Oom Kosie Bredell, van Dellrust, het my alles geleer van wynmaak, van plaas en mense bestuur. My geleer van swaar en seer en spanning. En die opwinding om ’n wingerd te troetel tot jy die verlangde geure in hom perfek enhance het.”

Genot lê oop en bloot op Gerjo Ben se gesig as hy oor dié vormende jare praat.

Later is hulle Wolwedans toe. ’n Plaas met perfekte terroir. “Jy weet mos – alles wat die druif nodig het: Grond, ligging, helling, son, die seeluggie wat die koelte inwaai …” Dit het ook geblyk die perfekte terroir te wees waarin Gerjo Ben as Kruispad-skrywer kon groei.

“Eendag sê ek vir myself: Jy is 40. Jy het teologie studeer. En jy vergeet na vyf minute wat jy soggens gelees het. Ek het vir myself begin skryf. Om te onthou. Te probeer verstaan. Om die Bybelteks in my lewe te integreer. Toe vra ’n vriend, Pieter Roussouw: ‘Ek sukkel ook. Stuur asseblief vir my wat jy soggens skryf.’ Ek het dit gedoen. Drie jaar lank. Drie maal ’n week. Religiously (no pun intended).”

Groot glimlag. “En toe ervaar ek die Here (wat ek nog nooit hoor praat het nie, want ek kan nie stilsit nie, daarom skryf ek), die Here sê vir my: ‘Gertjie, stuur dit vir meer mense.’ Toe stuur ek dit vir die squash club, die skoolkomitee, vriende, familie. So het Kruispad begin.”

En toe ontplof dit; groei tot ’n huidige leserstal van derduisende. En Gerjo Ben word voltyds nie-dominee-nie van ’n virtuele kerk, wat mense ontmoet waar hulle is – op hulle skerms.

“Mense praat mos deesdae met hulle vingers en hoor met hulle oë.”

Dit het ook nie net by e-pos-dagstukkies gebly nie. Kruispad is tans beskikbaar op Twitter, Whatsapp, Instagram, en op hulle eie toep (app), Crossroad247. Mense luister Kruispad ook op Kaapse Kansel, Radio Namakwaland en Kanaal 7 in Namibië.

Renata stap die pad styf teen Gerjo Ben. Sy proef­lees alle skryfwerk en doen ook radio-opnames. Hulle drie kinders, Alet-Mari (19), Mia (17) en Benno (15) help ook met die bediening. Talle vrywilligers ook, landwyd – mense wat wil teruggee omdat hulle ontvang het: Vertalers, verpakkers, versenders, rekenaarvaardiges. 25 reaksie-spanlede volg binne 24 uur, persoonlik, elke gebedsversoek op. Stuur dit deur na ongeveer 200 voorbidders. Johan Laten, akteur en dramaturg, vul die Kruispad-skryfwerk aan met optredes.

Kruispad-stukkies het reeds in drie boeke verskyn: Op pad, Opletloop, en Saamloop. Die nuutste bundel, Loop en val, word op 23 Augustus saam met Elvis Blue op Stellenbosch bekend gestel.

Binnekort begin Gerjo Ben, Coenie ­Schoeman van Carpe Diem, en Stephan Jou­bert ook ’n seminaar aanbied, wat kerke kan help om tussen Sondag en Sondag met hulle mense te kommunikeer.

Die Kruispad-visie is: God se woord in vandag se woorde. Daarom gebruik Gerjo Ben hoofsaaklik Die Boodskap-vertaling – hoe­wel hy ook wyd lees uit “die oorspronklike Engels”. “Ek het ’n verantwoordelikheid,” sê hy.

Die lewe was, is steeds, sy “field training”.

“Soms het die duiwel ons amper gepootjie, maar ons ken ook die Here se voortdurende en verstommende voorsie­ning. Mark Batterson, daai ou van die Lion-boek, skryf: ‘Faith is embracing uncertainty. Ons verruil die journey vir niks!’”

Gerjo Ben noem homself ’n teerstraat-prediker, wat sy droom leef: “Om mense te help, is my grootste kick. En om te sien hoe God reguit houe met ’n krom stok kan slaan. Aan Hom al die eer. “

Besoek www.kruispad.247.org.za of stuur ’n e-pos na ebyb@kruispad.com vir meer inligting.

’n Stilwordplek ‘in Jesus se slipstream’

“Ry dwarsdeur die dorp. Waar die laaste stop grondpad word, hou jy aan tot by die houthek. As die poorte oopmaak, sal jy sien: Ons huis is die eerste kamer links in die hemel.” So beduie die Van Schoors die pad na hulle retreat-plek op Greyton waar ANNALISE WIID gaan kuier het.


Greyton ís hemels. Prentjie-mooi. Kunste­naars­paradys. Anderkant die riviertjie, neffens Ge­na­dendal. Knus. Weggesteek. Ver van die groot­pad en die rotteresies.

Ds Gys van Schoor gooi inderdaad die poorte oop. Gul. Gasvry. “Kom groet eers die berg,” nooi hy. In die raam van akkerboomtakke, lê ’n koel, groen kloof. ’n Asemrowende, lewende skildery. Anders met elke seisoen, elke sonsopkoms, elke sterrenag.

Gys maak koffie terwyl Thea, Gys se vrou, my die tuin wys. ’n Paadjie kronkel speel-speel tussen geelhout, wilde katjiepiering en suurlemoengras. Thea ken al die groeigoed se name. Ek teug hulle geure in. Verlustig my in spatsels pienk, pers, wit, oranje. Son tussen my blaaie. Suikerbekkies sing.

Daar is iets onbetwisbaar geestelik aan goeie koffie om ’n greinhouttafel. Met botterbroodjies vars uit die oond. Eerlik, gemeensaam, aards. Soos Gys en Thea se geloof.

Thea droom al sedert 1983, van vóór hulle troue af al, oor ’n stilwordplek soos dié. ’n Veilige ruimte waar mense tot verhaal kan kom en heel word. ’n Ont­vlug­ting – nie uit die werklikheid nie; eerder uit oppervlak­kig­heid, diep lewenswaarhede in.

Gys was eers predikant op Malmesbury, later So­mer­strand in Port Elizabeth, en het afgetree in Dur­ban­ville-Moe­dergemeente.

Hy vertel: “In 1998 het ek ’n ‘helder oomblik’ beleef: Ek het besef ons kan nie so aangaan nie. Ons, die kerk, gaan dit nie maak nie. Ons sal moet re-frame en re-train.

“Toe al het ek begin soek na ’n geskikte retreatplek – vir twee jaar lank, maar niks gekry nie. Ook maar goed. As ons nou terugkyk, besef ons, ons was toe nog glad nie gereed om so iets aan te pak nie. Jou eie woestyn maak jou meer deurdag en sensitief om mense te ondersteun.”

Daarna, het hulle inderdaad, drie jaar lank, ’n eie woestyn deurkruis. Gys beskryf dit as “die slegste tyd in ons lewe. So erg, ek het my geloof verloor. Maar, weereens, as ons nou terugkyk, sien ons: Daar het soveel goeie goed uit daardie woestyntyd gekom. Ons het Jesus herontdek!”

In 2004 het Gys ervaar die Here sê vir hom: “Jy is amper 50, maar Ek en jy gaan oor begin. Ek gaan vir jou een woord gee. En dit gaan jou ’n leeftyd vat om daardie een woord te ontdek, te ontgin en te integreer. Jesus.”

“Dit klink sleg,” sê Gys, “maar, weet jy, na jare in die bediening, is meeste dominees waarskynlik ’n bietjie verveeld met Jesus. Uitgekuier. Hulle het mos lank geleer en gepreek oor Hom. Wat bly oor om oor opgewonde te raak? As ’n mens só dink, misgis jy jou met Jesus.”

Sedert 2008, bied Gys, in vennootskap met Communitas, ’n driejaarkursus in spirituele ontwikkeling vir predikante aan. ’n Reis, met twee retreats per jaar. Voorheen moes hulle die retreats virtueel of op ander plekke aanbied. Maar nou het Greyton aangebreek: Met ’n verwelkomende grasdakhuis, omring deur ’n interessante gemeenskap.

Om tot hier te kom, was vir Gys en Thea ’n intense geloofsreis. Vier keer het hulle Greyton-planne platgeval sodra dit van die grond af wou kom. Dit het hulle só moedeloos gemaak, dat Gys begin dink het: Ek het God seker verkeerd gehoor of verkeerd verstaan. Hy het nie. Maar hy het geleer daar is iets soos “death of a vision”. “En dit is vital,” sê hy. “Die feit dat ons vandag hier sit, is ’n gift.”

Die ander ding is: “Waiting is active”. Iets gebeur in jou, en met ander, terwyl jy wag. Medegelowiges uit Winterton, Pretoria, Durbanville en Namibië het in die wagtyd ’n trust saam met Gys gestig. Ander kollegas het begin saamwerk.

’n Sielkundige ook. Die Trustees van die Sentrum vir Geloofsvorming het hulle gedra. Toe alles uiteindelik in plek val, was dit groter as woorde: ’n Helende huis onder die berg se blad. Met ’n stroompie aan sy voete.

Thea, ’n verpleegkundige en limfedeem-terapeut, voed en versorg die retreat-gaste. Beide Gys en Thea is geestelike begeleiers, “spiritual directors”. En geleidelik betrek hulle Greyton se inwoners en infrastruktuur by hulle retreat-droom. In ’n simbiose van aardse spi­ri­tualiteit. Wat lei tot egte menswees.

Ons is nie die antwoord nie, herinner Gys telkens. “Ons deel net wat ons geleer het, en besig is om te leer. Ons reise kruis met medegelowiges s’n. En ons groei saam, opgevang in Jesus se slipstream.”

Deur die oë van weerloosheid

Dr Charlene van der Walt se woorde, haar teenwoordigheid, skakel ’n lig aan: Verhelderend. Ondersoekend. Soos die lamp wat ’n dermatoloog nader trek om so goed as moontlik te sien. En te genees. ANNALISE WIID het met Charlene op Stellenbosch gesels, waar sy in Oktober 2016 voltyds aangestel is as dosent met die fokus op Gender en Gesondheid.


Charlene is 12 jaar gelede gelegitimeer. Sy was eers predikant in Grahamstad. Later in Maitland, aan die afskeep-kant van Kaapstad. “Waar mense géén sosiale kapitaal het nie. Waar sommiges onder die brug woon. En voel hulle word nie gehoor nie.” Sy het navorsing gedoen vir Inclusive and Affir­ming Ministries (www.iam.org.za). En sy het ook reeds sedert 2012 deeltyds MTh-studente met die fokus Gender, Gesondheid en Teologie aan die US begelei.

Sy ry met ’n Vespa-bromponie. Oral. Selfs in die gie­tende Kaapse reën. Sy is sonder smuk. En beslis nie bang nie. Gewillig, gewoond, om weerloos te wees. Maitland toe het sy soms trein gery. “Dán weet jy van jou weerloosheid.”

Nou hang haar foto teen die Fakulteit Teologie se muur. Haar naam sit netjies op ’n blinkswart bordjie bo haar kantoordeur.

“Ja,” sê sy, “Stellenbosch en Maitland – so uiteenlopend. Maar dit is ons landskap, né? Party goed werk, party goed nie. Party mense kan hulle veiligheid koop, ander nie. In dié land leef verskillende waarhede teen­aan mekaar. Bewussyn daarvan is belangrik. ’n Mens se sosiale konteks informeer ongetwyfeld, dikwels on­gemerk, die manier waarmee jy met die Bybel omgaan.”

Charlene is, soos haar vriend prof Gerald West van die Universiteit van KZN, ’n “socially engaged Biblical scholar”.

“Ek kan nie los van my konteks preek nie,” verdui­delik sy. “Maar ek mag die evangelie ook nie verdraai of verwater nie. Dit moet goeie nuus bly – selfs vir die mees weerlose mens, vir dié wat nie eens ’n gemaksone hét nie. Dít is die uitdaging: Dieselfde “goeie nuus” in beskutte Stellenbosch sowel as in weerlose Maitland.

“Weerloos”. Sy gebruik die woord dikwels. Hoekom staan dit vir haar so sentraal? “Omdat dit die storie is wat ek leef. Vandat ek weet van myself, van baie klein af, weet ek dat ek gay is. En alles en almal sê: Nee, dit kan nie. Jy mag nie. Moet dit nie sê nie!”

Vir 37 jaar het sy nie gepraat nie. Tot ná die Algeme­ne Sinode van 2015. Op 12 November 2015, by die US Fakulteit Teologie se Eendag-konferensie oor Self­de­geslagverhoudinge, het sy vir die eerste keer in die openbaar gepraat. Waagmoedig. Blootgestel. Weerloos. (Die video is op YouTube beskikbaar.)

En toe … 2016 se Buitengewone Algemene Sinode. In die ná-lig daarvan, vra Charlene: Hoe nou vorentoe ná die trauma? “Jy weet, 2015 en 2016 se twee sinodes was vir baie mense soos: Ons nooi jou vir ete, maar sodra jy aansit en jou mes en vurk optel om te begin saameet, word die bord skielik voor jou weggevat. En jy hoor: Eintlik is jy nie genooi nie.”

“Ons moet praat. Maar ‘namens praat’ het ’n rakleeftyd,” meen sy. “Vir te lank het ons óór mense gepraat. Of námens hulle. Dit het tyd geword om mét mekaar te praat. Maar ons sukkel. Dis moeilik, selfs ongemaklik om oor seksualiteit te praat. ’n Mens moet mooi dink, versigtig trap. Ons het nie die woordeskat nie.”

Dié dilemma word prakties aangespreek in die MTh met die fokus Gender, Gesondheid en Teologie, waar sy en kollega prof Julie Claassens studente begelei in ’n tweeledige interdissiplinêre proses: Om woorde te vind vir ’n genesende gendergesprek, sodat mense volledig kan leef en kan floreer. En om goeie, teologies-geïnspireerde hermeneutiese prosesse te volg. Die Kerk van Swede is hulle hoofborg.

Slegs 10 studente per jaar. Vanuit verskeie dissiplines: Praktiese Teologie, Ou Testament, Nuwe Testament, Jeugwerk, en wat nog. “Dink net aan die moontlike gesprek-scenario’s vorentoe,” sê Charlene. “Hulle gaan te doen kry met kinders in ’n gemeentekonteks; met gendergeweld; met MIV; met verlossing …! Ons ontwikkel die taal vir allerlei sulke gesprekke saam met hulle. Help hulle om netwerke, sisteme, verbande te identifiseer. Alles is so kompleks. Niks gebeur in isolasie nie. Ons skep dinamiese gesprekspasies. Praat, dink, luister, ontdek. Stel bloot. Leer van mekaar. Konfronteer die moeilike vrae.”

Die terugvoer van oud-studente, soos byvoorbeeld dominees Rethie van Niekerk van Port Elizabeth, Rudi Swanepoel van Johannesburg, Michelle Boonzaaier van IAM, is vir Charlene wonderlik. Om te sien hoe almal van hulle kreatief inisiatief neem en konkreet ’n verskil maak, werklike hoop bring.

Charlene van der Walt is tuis in haar vel. In haar beroep ook. Sy hoef vir niemand verkleurmannetjie te speel nie. Die US het haar voltyds as lektor aangestel. Nie ondanks die feit dat sy gay is nie. Ook nie omdat, as ’n toegewing, nie. “Ons het jou insette en intellek nodig,” sê die aanstelling. “Jou perspektief: Vertroud met weerloosheid. Buitestander wat die binnekring help belig. Helend. Jou wese is vir ons ’n volledige aanwins!”

’n Voorbrand teen die vuur

Op 3 Januarie 2017 breek ’n verwoestende brand uit in die berge teenaan Somerset-Wes. Binne ure hang ’n verstikkende rookwolk oor die hele Helderbergkom. Binne daardie selfde ure word die NG kerk Hottentots-Holland ’n byenes van bedrywigheid: Noodvoorraad-beheersentrum. ’n Voorbrand teen die vuur. Annalise Wiid was daar.


Regop blonde kuifie Estevan Gous en sy ma, Linda, bring bottels water, sap, plastiekglasies en Niknaks kerksaal toe. Hy is vyf. “Dis vir die fire fighters,” sê hy. Groot bewondering. Gretige hulp. Hulle bydrae is ’n druppel in ’n baie dors emmer wat binne ure so vol word dat dit na alle kante toe oorloop.

Buite dreun helikopters. Aanhoudend. Dringend. Roet sif oor alles neer. Dit lê later in ’n dik swart laag op voorstoepe, swembaddens, diere, motors. ’n Stormsterk wind dryf dit binnetoe. Bekleedsels, wasbakke, vensterbanke. Tot in mense se ore, hare, longe. Swart sneeu. Uur na verswelgende uur.

Ds Hennie Fouché van Hottentots-Holland help om energiekoeldrank-stroop aan te maak en dit in honderde kleiner bottels te skink. Hy werk haastig. Die goed moet by die mense kom wat dit nou dadelik nodig het.

Tussendeur vertel hy: Ná die groot vloed in 2013, het die gemeente geregistreer as ’n dienspunt vir verspreiding van voorraad tydens noodomstandighede. Toe hierdie brand gistermiddag uitbreek, het hulle gewoon op sosiale media laat weet mense kan bydraes kerk toe bring.

Ds Hennie Fouché van Hottentots-Holland help 'n vrywilliger om energiekoeldrank-stroop te meng en in kleiner houers te skink.

Ds Hennie Fouché van Hottentots-Holland help ’n vrywilliger, Eraneé le Roux, om energiekoeldrank-stroop te meng en in kleiner houers te skink.

“Die reaksie is byna oorweldigend. Sommige het nie eens die Facebook-posts gesien nie. Kom sommer op hulle eie. Nie net gemeentelede nie. Ook ander welwillendes. Seker so 50/50,” reken hy.

Debbie Laubscher lyk na ’n regte raakvatter. Sy koördineer grootliks die bedrywigheid in die kerksaal.

“Is jy ’n gemeentelid van Hottentots-Holland?”

“Nee.”

“Waar gaan jy dan kerk toe?”

“Dis ’n lang storie. Ek vertel jou anderdag oor ’n koppie koffie.”

Sy glimlag. Nou vertel sy eerder hoe hulle met ’n vorige groot brand besef het hoe belangrik vrywillige hulp is.

“Daarom het ons gistermiddag eenvoudig in die kar geklim en rondgery op soek na ’n plek waar ons iets kan beteken. Toe ons by Hottentots-Holland-gemeente verbyry, sê my man: ‘Kom ons help hier!’”

“Gistermiddag het ons nog buite gewerk, maar die rook en hitte was so erg, dat ons gou binnetoe moes skuif,” vertel ds Hennie verder.

Nou is die kerksaal amper te klein. Mense stroom onophoudelik in. Bring wat hulle kan. Brood – die kerkkombuis bult. Grondboontjiebotter, eiers, vrugte. Die tafels kreun. Oogdruppels en groot potte Vaseline. Lip Ice; Rehydrate. Waardevolle, praktiese bydraes.

Hottentots-Holland se kerksaal wat binne ure omskep is in 'n bedrywige depot waarvandaan kos en water wat deur mense van die gemeenskap geskenk is, verpak en na brandstryders en brandslagoffers versprei is.

Hottentots-Holland se kerksaal wat binne ure omskep is in ’n bedrywige depot waarvandaan kos en water wat deur mense van die gemeenskap geskenk is, verpak en na brandstryders en brandslagoffers versprei is.

Vrywilligers pak dit so vinnig soos hulle kan in sakke – 10 van alles wat inkom. Vir maklike verspreiding. Aangewese persone neem dit dan na die brandpunte. Meer as 120 brandstryders is deur die nag ontplooi. Hulle is gedaan!

Dit is 38 grade buite. Wie weet hoe warm dan in die vuur! Skaars 3 km van die kerk is dele van die geskiedkundige wynlandgoed, Vergelegen, in ligte laaie. Verder weg is die luukse Bezweni Lodge reeds as. Baie gemeentelede moes hulle huise verlaat. In arm buurte is mense aan hulle lot oorgelaat. Almal se longe brand van rookinaseming.

Drie dae lank werk vrywilligers by die kerk. ’n Mens hoor Afrikaans, Engels, Kaaps. Uitroepe van dankbaarheid, sugte vol medelye.

Nicole Bartels smeer vir ure aaneen broodjies: “We came late last night and volunteered. I attend Urban Voice church.”

Langs haar werk Dunita van der Walt, ’n lidmaat van Vishoek-gemeente en student in teologie aan die Bible Institute of South Africa.

Links van haar, Ashley Meaker: “I believe in Christ, but I don’t believe in going to church,” sê sy.

Nicole kyk oor die bedrywige saal vol natgeswete, onselfsugtige, naaste-dienende mense. “This is church”. Net so.

“Dit is duidelik,” sê ds Hennie, “mense, baie mense, wil regtig graag help.” Dié wat nie onmiddellik kan nie, kom skryf hulle name en telefoonnommers op ’n lys vir later. Een lidmaat sê: “Dit is waarom ons ’n gemeente is – vir die gemeenskap! Hier is nou ’n goeie geleentheid om dit wat ons altyd vir mekaar vertel te kan doen.”

Debbie wens net meer ouers wil hulle kinders bring om te kom help. Dit is ’n gulde geleentheid om hulle aan naastehulp bloot te stel. Hulle te laat ontdek hoe wonderlik dit is om as gemeenskap saam te werk. En om iets vir iemand anders te doen sonder dat jy daarvoor betaal word. Net uit blote liefde!

Twee uitgeputte brandslaners loop met swaar treë by die kerksaal in. In dik, donker beskermende oorpakke. Vuilgewerkte handskoene hang, verwelk, aan hulle heupe vasgegordel. Niemand weet hoe erg dit in die vuur is nie. Dit is nie iets wat jy ooit kan oorvertel nie. Die kerk se toilette is tot hulle beskikking. En binne verwelkom vriendelike mense hulle met yskoue drinkgoed. Oomblikke se verposing. Lafenis. ’n Voorbrand teen die binne-vuur van vermoeienis en vergeefsheid.

Excel is ’n gelukkige dominee-woord

Communitas se Sentrum vir Predikante­begeleiding ver­an­der oppervlakkige spreadsheet-evaluering-erva­rings (soos in Microsoft Excel) – van óf sterretjies óf swart kolle – in werklike, vrugbare, diepgaande excel-erva­rings – van inspirasie tot uitmuntendheid. In ’n opvolg van die artikel in Kerkbode van 18 November, skryf Annalise Wiid meer hieroor.


Dominee Nioma Venter van Worcester het onlangs die Sentrum vir Predikantebegeleiding se evaluasie-ervaring op Volmoed meegemaak.

Nioma is ’n goeie leier: prakties en geloofsonderskeidend. Sy kan strategies dink; maklik en duidelik kommunikeer. Tog het sy, vroeër vanjaar tydens haar sabbatsverlof, selfondersoekend oor haar bediening gewonder: Hoe gaan ek vorentoe? Wat wil ek nog doen? Dalk by mediasie en versoeningsprosesse betrokke raak?

Sy het dr Pierre Goosen (PSD vir predikantebegeleiding) gaan sien. “Kom Volmoed toe,” het hy aanbeveel.

“Dit was vir my net goed,” vertel Nioma. “Jy kry twee kollegas wat jou deur die proses begelei. Vir drie dae het jy twee mense wat net op jou fokus. En hulle is gaaf! Hulle wil jou help. Die prioriteit wat daar aan jou gegee word, is uitsonderlik. Ek het so bederf gevoel. ’n Mens kry die ervaring van saam. Jy word nie van bo na onder beoordeel nie. Jy en jou begeleiers word ’n span.

“Elke groepie van drie werk in ’n afsonderlike lokaal. Meestal met rollespelle. Hulle skep vir jou ’n denkbeeldige situasie met tipiese dominee-goed. Alledaagse dinge wat in ’n gemeente gebeur. Soos: Jy kom terug van verlof af en daar lê 11 uiteenlopende goed in jou in-mandjie … Hoe hanteer jy dit?

“Dis verstommend hoe die rollespel (wat nogal uitputtend kan wees) jou verplaas na die werklikheid. Agterna pluis jy en jou twee kollegas uit hoekom jy optree soos jy optree. En jy sien ’n klomp goed raak wat jou help om jouself en jou bediening beter te verstaan.”

Communitas se Sentrum vir Predikantebegeleiding bied vier maal per jaar so ’n verrykende ervaring aan.

“Met ’n ander dinamika as gewone evaluasie,” verduidelik ds Theunis Botha van die sentrum. “Vra en luister is deurlopend baie belangrik. Hulle vra kritiese vrae. God-vrae. Spieël mekaar se reaksies, vaardig­hede. Dit is interessant: Die begeleiers groei ook. Hulle spieël ook voortdurend hulleself in die proses.

“Dit kan soms nogal ontnugterend wees. Vir party mense is dit ’n ongemaklike spieël. ’n Mens hoor jou eie vrese, vroomheid. Maar die proses is nooit onveilig of beskuldigend nie. Hoewel die sentrum nie die plek is vir pastorale gesprek of terapie nie. Die begeleiers is eerlik en ferm, hulle en die dominee kyk mekaar vas in die oë, maar met groot deernis. Die proses bevry: Dit help jou uit as jou kokon te klein is. Dit help jou om groeigeleenthede te onderskei. Dit help met fokus en waardering. Met wat gooi ek uit en wat wil ek vashou.”

“Dit het my regtig baie gehelp,”Nioma. “Ek het byvoorbeeld begin verstaan hoekom ek spanning ervaar wanneer mense vra dat ek hulle sal mentor. Ek kon duidelik sien dat ek goed is daarmee om mense te motiveer en te mobiliseer. Ek werk gemaklik met groot groepe.

“Maar in een-tot-een-situasies ervaar ek soms ’n leemte in myself, voel ek ontoereikend. Ek kan goed planne maak. Maar dis een ding om die plan te maak en ’n heeltemal ander ding om ’n individu te begelei en te mentor om daardie plan deur te voer.”

Kerkrade word deurgaans betrek. Vooraf met ’n gesprek tussen die sentrum en die gemeente se dagbestuur of diensverhoudingekommissie. Agterna met terugvoer.

Die proses begin met ’n vraelys wat die dominee invul. Die dominee se lewensmaat, ’n kollega, ’n vriend of vriendin, ’n administratiewe persoon, en ’n leier in die gemeente (kerkraadslid) vul ’n soortgelyke vraelys in.

Dieselfde areas wat deur die vraelys getoets word, word dan as kriteria vir beoordeling deur die bege­leiers gebruik tydens die rollespel.

Ná hulle drie dae saam, word die resultate van almal se vraelyste dan bo-oor die gevolgtrekkings gelê wat die dominee en die begeleiers saam gemaak het. ’n Grafiek word getrek wat al nege die belangrike bedie­ningsvaardighede inkorporeer en verreken.

Daaruit sien ’n mens duidelik, sê Theunis, hoe die twee aspekte, luister en vra, bymekaarkom en soos hand en handskoen pas. Ook waar die dominee se ervaring en die gemeente s’n ooreenkom of van mekaar verskil.

Daaruit word dan ’n persoonlike ontwikkelings­plan vir die dominee saamgestel. Dit help Communitas weer om gepaste hulpmiddels en kursusse vir domi­nees se spesifieke behoeftes te identifiseer en te ont­wikkel.

In ’n opvolgfase word die dominee toevertrou aan ’n mentor vir ’n volgende 9 tot 12 maande se begeleiding op die reis om gestelde doelwitte te verwesenlik.

Van die 110 persone wat reeds die proses deurloop het, rapporteer 83% dat dit hulle gemotiveer het om moeite te begin doen met die groeiareas wat geïdentifiseer is. Uiteindelik gaan ’n mens van die ervaring weg met verhoogde bewussyn: Bevestig in jou sterk punte en gereed om te excel.

Vir meer inligting, kontak: Adrienne Bester by bestera@sun.ac.za of 021 808 3382.

Gelukkige dominees – ’n juweel vir ons kerk

Daar is dominees met haglike ervarings van sogenaamde prestasie­beoordelings. Baie sien dit as ’n las, ’n kruis, selfs ’n vernedering. Hoofsaaklik omdat dit dikwels koud en klinies aangepak word. ’n “Evaluering”, nee ’n ervaring by Communitas se Sentrum vir Predikantebegeleiding is egter iets om na uit te sien. Annalise Wiid het gaan uitvind.


Ek ontmoet vir ds Theunis Botha by die aarbei­plaas buite Stellenbosch. Oor iets so lewegewend soos die Sentrum vir Predikantebegeleiding gesels ’n mens op ’n mooi plek, oor goeie koffie.

Theunis, voorsitter van die sinodale kommissie vir predikantebegeleiding, is ’n dominee by Stellenbosch-Welgelegen. Hy en dr Pierre Goosen, PSD vir Predi­kan­tebegeleiding, administreer die Sentrum. Maar meer as dit: Hulle koester en voed gelukkige dominees met betekenisvolle bedienings.

“Hierdie is ’n juweel vir ons kerk,” is Theunis se eer­ste woorde. “Ons evalueer nie; ons neem waar – in ’n gron­dige, deursigtige proses. Ons beoordeel nie, ons be­gelei – met gesamentlike insig en oorleg.”

Hy verduidelik: “Dominees kry redelik gereeld kom­plimente of klagtes. Iemand bel ’n dominee mis­kien Sondag na die diens en sê dankie vir die goeie preek. Of tree die dominee aan oor iets wat pla; of as hulle meen die dominee maak droog.

Maar gewoonlik gaan dit kwalik dieper as die op­per­vlak. Niemand gaan sit ooit langs ’n dominee (in ’n oop, volwasse gesprek met baie liefde), en gee eerlike te­rugvoer oor die dominee se bediening en menswees nie.”

Die Sentrum vir Predikantebegeleiding doen wat ander nie doen nie. Die Engelse woord “excel” spring on­willekeurig in my gedagtes op. Die Sentrum ver­an­der oppervlakkige spreadsheet-evaluering-ervarings (soos in Microsoft Excel) – van óf sterretjies óf swart kolle – in werklike, vrugbare, diepgaande excel-erva­rings – van inspirasie tot uitmuntendheid.

Twee betekenisse van die woord excel. Twee heeltemal verskillende ervarings.

Daar is nog twee belangrike woorde: Saam en spieël. Dié twee woorde som ’n begeleiding-ervaring by die Sentrum goed op.

Dit werk so: Dominees gaan vir drie dae Volmoed toe, ’n retreat-toevlug buite Hermanus. Eenkant, vry van steurnisse. Daar kry ’n dominee twee opgeleide be­geleiers en hulle gaan saam deur ’n baie interessante, weldeurdagte proses. As kollegas. Hulle staan op gely­ke voet. Daar is geen sprake van ’n “van-bo-af-be­oor­deling” nie. Net van saam soek na toenemende insig.

Die proses (wat al sedert 2009 fyn bedink, beplan en ontwerp word) behels vrae, gesprek en rollespel. Die dinamika daarvan word deur die loop van die drie dae ’n spieël wat vir die dominee wys: So is ek; so doen ek; so ervaar mense my – my gemeente, my kerkraad, my kollegas.

In deurlopende eerlike terugvoer-gesprekke met die twee begeleiers, word spesifiek gefokus op nege be­kwaamhede, wat belangrike boustene is in enige do­mi­nee se bediening, naamlik: geestelike volwassenheid; geloofsonderskeiding; emosionele volwassenheid; leierskap; afrigting en mentorskap; effektiewe kom­munikasie; denkvermoë; besluitneming; eienaarskap en verantwoordbaarheid.

Al bogenoemde en nog meer funksioneer saam en interafhanklik in ’n dominee as bedienaar van die Woord. “Dit is presies wat dominees doen; hulle is VDM’s – Verbi divini minister,” verduidelik Theunis.

“Kelners wat die Woord en versoening vir mense bring. Maar in die proses word hulle heen en weer ge­slinger. Soms gaan ’n dominee, deur die loop van een enkele dag, van ’n sterfbed na ’n geboorte na ’n stukkende huwelik na ’n finansiële kommissievergadering.

“En almal verwag dat die arme mens deurgaans ’n tevrede, toegewyde, in beheer prediker moet wees. Dikwels raak die las en onhaalbare verwagtings net te groot. En dominees begin bloot funksioneer. Auto pilot kry hulle deur die dag. Sommige brand uit. Word futloos. Hulle vuur finaal geblus. Die sentrum wil dit verhoed, dit help verander …”

Hulle “spieël” die dominee se menswees en bedie­ning op drie belangrike vlakke. Eerstens word daar gewoon gevra: Wat doen die dominee? En hoe doen die dominee dit?

Tweedens: Hoe beïnvloed die dominee mense met dit wat hy of sy doen? Wat gebeur in die dominee se verhoudinge met mense? Wat is die gemeente se verwagtinge? En wat is die dominee se visie van homself of van haar roeping? En hoe en waar kom dié twee by­mekaar? Kry die dominee dit werklik reg om mense se lewe aan te raak deur sy of haar bediening?

En dan derdens: Slaag die dominee daarin om die gemeente uit te lig, te inspireer en te transformeer tot iets groter as voorheen? Is daar ’n helder visie vir groei? En kry mense deur die dominee se bediening ’n groter prentjie van God en sy Gees en van gemeenskap?

Ná so drie dae voor die spieël voel ’n deelnemende dominee nie platgeslaan deur ’n onrealistiese, onvrien­delike excel sheet van moets en moenies nie. Eerder aangevuur en lus om te excel in die bediening waartoe hy of sy geroepe voel en verbind is.

Lees meer hieroor in Kerkbode van 2 Desember.

Vir meer inligting, kontak Adrienne Bester by bestera@sun.ac.za of 021 808 3382.

‘Turksvy-temas’ wat jou lewe kan laat slinger

GESPREK SONDER EINDE
Deur Chris van der Merwe
Uitgegee deur Lux Verbi, 2016
Resensie deur Annalise Wiid


As die siel luister, spreek alles wat leef ’n taal …” Hierdie woorde van die Vlaamse digter Guido Gezelle vorm die vertrekpunt van Chris van der Merwe se Gesprek sonder einde. En dit is waarskynlik ook die raakste opsomming van Van der Merwe as skrywer. Hy skryf luisterend, ondersoekend oor dinge wat die verstand te bowe gaan. Hy is ’n man van woorde en van die Woord. En hy nooi die leser uit tot gesprek; laat die leser saam luister, saam dink, saam praat – oor ’n God van liefde en ’n geloof vol teenstrydighede. 

gesprek-sonder-eindeBy die boek se bekendstelling sê Chris: “Ek het geleer om met skoon oë na die wêreld te kyk. En, in eerlike gesprek met God, herontdek hoe radikaal die evangelie is.” Sy nering – hy is ’n afgetrede dosent in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde – maak hom sensitief vir tekste: die Bybelteks, sowel as dié van digters en ander skrywers wat hy aanhaal. Ook vir die mens se brose aard en sy rol in God se verhaal. Chris ondersoek turksvy-temas soos die wedersydse effek van trauma en geloof op mekaar, asook teenstellings soos lig en duisternis; storms en stilte; vreugde en verdriet – en hoe ’n mens, in die konteks van die Christelike geloof, samehang kan vind wanneer jou lewe tussen dié pole heen en weer geslinger word.

Reguit vrae. Moeilike antwoorde. Soms maklik verteerbare kos, soms vaste voedsel, soms selfs aanvegbare teologie. Soos enige gesprek oor God: vol nuan­ses, sonder einde. Soms is daar geen antwoorde nie, net die luisterende oor van soekende geloof. En die diep, ryk, sprekende lewe van Christus. “Omdat die aarde en elke aardgebeurtenis en die son self, en tot die verste ster, tesame net een groot vertelsel is oor Hom en ons …” soos die skrywer NP van Wyk Louw gepas aanhaal.

* In Kerkbode van 22 Julie 2016 is ’n 10 vrae-gesprek met prof Chris van der Merwe.

’n Lang tafel van vrede

Melkhoutfontein en Stilbaai: twee gemeenskappe ongeveer 10 kilometer uitmekaar. Badisa en verskeie ander rolspelers het ’n besondere brug tussen hulle begin bou – met ’n lang tafel en lekker kos. Annalise Wiid het Cornelia Gilomee, maatskaplike werker van Badisa Stilbaai, daaroor uitgevra.


Hulle droom al lankal van brûe bou. Maar hoe? Waar begin ’n mens? Wat sal werk? “Hulle” is Badisa (die NG en VG kerk se gemeenskaplike barmhartigheidsdiens), die plaaslike polisie, die personeel van Ouma Lena Huis (’n nasorgfasiliteit in Melkhoutfontein), en vrywilligers uit albei gemeenskappe. Op ’n dag besluit hulle: Droom is nie genoeg nie, kom ons pak die bul by die horings! Kom ons dek ’n tafel …

Eerste munisipaliteit toe, om te praat oor praktiese goed soos genoeg tafels en stoele. En oor strate toemaak. Vir hoeveel mense hoop hulle? Dalk so 500, het Cornelia geskat.

Daar was uiteindelik 1 200. Kaartjies is teen R10 verkoop. Almal moes kon kom. Hulle wou so graag gesinne saam om ’n tafel hê, wat sit en gesels; kuier, nie net eet en waai nie. En hulle het gehoop dat mense oor grense sal kuier. Grense van kleur, ouderdom, status en, en, en … Nooit gedink hulle gaan soveel méér reaksie kry as waarop hulle gehoop het nie.

Verskillende kerke het saamgewerk. Die United Church het wortelslaai gemaak. Die manne van die AGS, NG Kerk en die Baptiste het kom help hoender braai. Huis Stilbaai, vir ouer persone, het noedelslaai berei. En Soeterus, die tehuis vir ouer persone in Melk­houtfontein, en die VGK’s het aartappelslaai gemaak. Badi­sa het net die bestanddele gegee. Verskeie kerke se lidmate het kolwyntjies gebak vir nagereg, help kaartjies verkoop en tafels aangery. Ná die tyd het almal ingespring en help opruim. Dit was ’n grootse spanpo­ging. En dit was mooi.

kinders-met-balonne

Vrolike kinders met heliumbalonne. Dié aand het hulle gehoor dat as die Gees van God ’n mens daardie ekstra innerlike krag gee, kan jy ook soos ’n heliumballon styg.

Onbedrukte koerantpapier is vir tafeldoeke gebruik. Vroue van beide gemeenskappe, Melkhoutfontein en Stilbaai, het die tafels versier. Met blomme uit hulle tuine. Sommer uit die veld ook. Takke en dennebolle. Melkhoutfontein se vroue het duisende vlaggies gemaak, wat hulle bo die lang tafel gehang het. Vreugdevol!

Simply smooth, ’n “live band” van Riversdal, het agterop ’n lorrie musiek gemaak. Die fees-atmosfeer was onbeskryflik. “Ons wou mense bederf,” sê Cor­ne­lia, “ons wou nie sommer net CD’s speel nie”.

Die burgemeester was daar. Dr Trevor van Louw, direkteur van Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Pedagogie, het kom praat oor die belang van gemeenskapsbetrokkenheid. Hy was so aangedaan – hy kon kwalik praat. Het gesê hy kan nie glo wat hy sien nie. Ronel du Preez, wat een Saterdag per maand die Melkhoutfontein-vroue geestelik bedien, was ook daar.

O ja, en daar was heliumballonne. Hordes van hulle! Van die “carers” by die kliniek het kom help ballonne opblaas. Een vrou wou weet hoe werk dit? Waarom bly ’n ballon vol helium in die lug; styg eintlik net hoër en hoër. Maar ’n ballon met gewone lug in sak grond toe.

“Sonder dat Ronel hiervan weet, praat sy die aand by die lang tafel oor gewone ballonne en heliumballonne. En sy gebruik dit as ’n voorbeeld van ons eie lewe. Hoe ons, soos gewone ballonne, maar soms ­bietjie grond toe sak en laag lê. Maar as God se Gees vir ons daardie ekstra innerlike krag gee, kan ons ook, soos heliumballonne, uitstyg.”

Die aand by die lang tafel is die ballonne losgelaat, as ’n simbool van vrede. Hulle wou eintlik graag wit duiwe gebruik het, maar die man met die duiwe kon dit nie maak nie. Toe vat hulle maar die ballonne. Laat dit oor hulleself los, met die wens, die bede, dat mense ook vrede tussen mekaar sal loslaat; dat hulle die vrede vrye teuels sal gee.

“Daar was regtig families,” vertel Cornelia. “Oupa, Ouma, Ma, Pa, kinders – oor geslagte. En jy weet, dikwels werk dit mos so: Wit sit eenkant, bruin anderkant. Nie daardie aand nie. Mense het eenvoudig die tafels volgemaak soos hulle aangekom het. Van ’n kant af. Hulle het nie afgeskei van mekaar nie. As iemand plek gehou het vir iemand anders, was dit vir geliefdes.”

Die meerderheid mense was uit Melkhoutfontein. Maar daar was goed 80 na 100 Stilbaaiers. Selfs ’n paar tannies en ooms van die aftree-oord. “Onthou dis ouer mense. Hulle gaan nie sommer uit in die aand nie.”

Dié eerste langtafelfees is verlede jaar op 25 November gehou. Hierdie jaar gaan hulle dit weer doen. Op 24 November. En dit gaan nog groter wees. En ’n bietjie anders. Zane Meas (Neville van 7de Laan-faam), gaan die spreker wees. Daarna bly hy en sy span helpers vir nog ’n week aan, om werkswinkels aan te bied oor lewensvaardighede vir gesinne.

Waar die geld vandaan kom? Soms wonder ’n mens, twyfel ’n mens. Maar die Here voorsien, want dit is koninkrykswerk. Daar was laasjaar borge en baie goedgunstigheid van mense. Hierdie jaar nog meer. By die stil baai se fontein van langtafel-vrede.

Sê God ook ‘Sela’?

Sela: Pause, and calmly think about that.

Kerk: ’n Stroom lewe-water – enkeldiep, knie­diep, heupdiep, uit ’n God-bron. Mooi, toe­gank­like, voedende, verkwiklike lewensguns. Dié Esegiël-beeld lê heelweek op die sinode-tafels. ’n Beeld van toeganklike, onbesoedelde oorvloed.

Kerk: ’n Droë loop. Soveel soutkuile. Gromstemme. Fronse. Verwarring. Agterdog. Onkunde. Blindekolle. Vrees. Ook lewensnoodsaaklike poele. Dié werklikheid, in honderde nuanses en gedaantes, sit in mense se harte om die sinodetafels. Almal is dors.

My instap-ervaring by die buitengewone si­no­de, Maandagmiddag, was een van spanning. Mense wat ongerus, onseker is oor mekaar. Mense wat nie weet wat om van mekaar te verwag nie. Wat nie weet wie aan wie se kant is nie. Of sterk vermoed wie sekerlik nie aan wie se kant is nie. Lugtig: Die rivier is nie altyd of vanselfsprekend veilig nie.

Deur bospaadjies wat oor jare uitgetrap is, kom hulle aan: Manjifieke groot bokke. Sebras en blouwildebeeste. Maar hulle kom buig onrustig om saam te drink. Bedag op krokodille wat onder die oppervlak skuil. Versigtig vir leeus wat in die langgras op loer lê.

Hoog teen die rivierwal kom ander bokkies behoed­saam nader. Hulle waag dit nie sommer tussen die ander in nie. Weerloosheid maak hulle sku. Dit is ’n hartseer ervaring. Hulle word nie uit die staanspoor spon­taan nader genooi nie.

Want die sebras en blouwildebeeste, hoewel hulle meestal saam wei, groet mekaar by die rivier in regs­taal, met woorde soos “moontlike laster” en “vervol­ging”. Verbete op soek na ’n uitweg. ’n Vlugplan. Ver­de­dig, beveilig. Natuurlik. Daar is immers altyd iewers ’n bedreiging.

Dalk is dit dáárom dat baie van hulle nie die bokkies se oë sien nie? Hulle sien net die bokkies-klere. Wat het van ons geword? Hoe het ons tot hier gekom? Hier, waar ons gesteurd kibbel oor T-shirts, terwyl ons die mens binne die T-shirt miskyk en bespreek?

Ons veg teen (of vir) hulle met meesal robuuste selfversekerde uitsprake. Ons maak aanmatigende uitsprake oor die lywe met (of by tye – o ongemaklike ge­dagte! – sonder) daardie swart #liefde-is-liefde hem­pies. Terwyl ons dikwels die hart wat binne-in daardie lyf se borskas klop en pyn nie ook in ons eie har­t herken nie.

Hoe het ons tot hier gekom? Hier, waar “hulle”- en “ons”-taal onbedagsaam gebruik word. Hier, vlak by die helder stroom. Met lankuitgetrapte bospaadjies?

Ek het my hart beangs vasgehou en gewonder: Wat gaan die komende dae saam oplewer? Gaan ons mekaar kan vind? Kan hoor? Is ons ruim genoeg vir “ons”? Of gaan ons mekaar finaal verloor? En toe word ek ontstel en ontnugter en verras.

Die diere het lank rondgetrap, deurmekaar gemaal. Die water bemodder. Mekaar ingeasem. Sommige sebras en blouwildebeeste het koppe gestamp. Ander het saamgekoek – koppe bymekaar. Daar is baie stof op­geskop. Harde hoewe. Skerp horings. Skouers skuur. Party het gesê: Staan hier, hier is die water onbesmet. An­der het gesê: Drink daar, daar vloei die stroom on­gehinderd.

Gaandeweg het die gewoel effe bedaar. By tye skielik weer opgevlam. Soms het die bokke selfs roerloos stil net geluister. Diep gedink. Weeg, moenie tel nie, het een gevra. Ons weeg nie net woorde nie, ons weeg lewens, het ’n ander gemaan, bepleit. Hoe durf ons besluit, uitsluit, wegwys van die blink water, het party gewonder. Hoe durf ons nie, was die teenvraag.

Hoe maak bokke vir mekaar ruimte? Staan nader of staan opsy? Watter soort kerk is ons? Belangrik of belaglik? Ballinge of bevryde(r)s? Of is ons onvermydelik beide?

In weke soos hierdie, wonder ’n mens: Hoe wyd kring ons klippies-in-die-water rimpels regtig? Wie gee werklik nog om wat hier bepraat en besluit word? Behalwe ons uitsonderlik lojale LGBTIQ-lidmate en hulle familie en vriende.

Die meerderheid mense het waarskynlik min erg aan ons teologiese tafeltennis. Hulle het lankal hulle eie menings gevorm. Wens nou net dat ons rigting kry. Ophou karring! Posts op sosiale media lag ons uit. Koe­rantbriewe sug. Kritiseer. Met reg. Kerk? Onbe­nul­lig vir baie.

En deurgaans staan daar bokkies op die rand. Nie net rooibokkies nie. Bruinbokkies ook. En alleenbokkies. Drumpelbokkies. Lieflike diere.

Ek het hierdie week, vermoeid en besorg, al die bokke dopgehou. Op die rand. En tussen mekaar. “Sien jy dit, mens?” Die Esegiël-woorde eggo – oor die stroom. Oor die trop ook? Toe ek weer sien, is die bokkies daar bo teen die rand almal weg!

Ai, ai, ai! “Amen”die sebras en die wildebeeste. Hulle vat hande, seën mekaar. Vat hulle onderskeie voetpaadjies huis toe. Terwyl die ander bokkies, verwilderd, hardloop vir skuiling. Sien jy dit mens? Sela.

Annalise Wiid is ’n vryskutjoernalis.

‘Kom preek vir ons in Pakistan’

Schalk van Wyk het al afgetree as predikant, maar was tog nog betrokke by die bediening. En toe word hy rektor van ’n Bybelkollege in Pakistan. Hy het vir Annalise Wiid vertel van die vreemde, wonderlike pad waarop die Here hom geneem het.


Een Sondagaand laat lê hulle nog en lees. Dis eintlik al slaaptyd. Toe piep sy foon met ’n vriend­versoek op facebook. Van ene David John. Hy onthou die grappie van die oom wat gesê het: “Ik ken al genog mense,” maar aanvaar dit niete­min.

Oomblikke later kom die volgende versoek: “Come to preach and teach in Pakistan.”

“Ek het dadelik gereageer met: ‘As soon as possible.’ En vir my vrou, Marieke, gesê: ‘Wat nou hier gebeur bepaal, beslissend, my lewensbestemming vir die komende klompie jare.’ Ek het dit net gewéét.” Toe sit hulle die lig af en gaan slaap. Dit was Februarie 2014.

tromme

Ds Schalk van Wyk word met trombegeleiding verwelkom waar hy ’n preek moet gaan waarneem.

Hoewel die kerk se getuienistaak en sendingwerk hom altyd na aan die hart gelê het, het Schalk in sy ganse lewe nooit ’n begeerte gehad om Pakistan te besoek nie. Hy was gelukkig as ’n gemeente-dominee: in Mosselbaai-Suid, Suider-Paarl en Kleinmond. In 2012 emeriteer hy. Hulle trek Kaap toe, en hy word deel van die bediening aan bejaardes by Bergsig-gemeente in Durbanville.

Byna 10 000 km noordoos daarvandaan, in die Pakistanse stad Khanewal, woon twee broers: Peter en David John. Hulle pa, Rehman John, was ’n Engels-onderwyser, ’n man met ’n besorgde hart – veral oor die kerk in Pakistan, wat werklik swaar kry.

In dié sterk Moslemland, is Christene by verre in die minderheid en meesal baie uitgelewer. Rehman John wou hulle beskerm en versorg. Hy het hom daarvoor beywer om los, ongebonde Christene in klein gemeentetjies bymekaar te bring. En het ook, met sy beperkte Bybelkennis, pastore vir die klein gemeentes opgelei.

Rehman is in 2009 oorlede, op 58. Sy mantel val toe outomaties op sy twee seuns, Peter en David – beide nog onder 30. Vyf jaar lank het hulle, saam met die pastore van die gemeentes, gevas en gebid dat die liewe Heer vir hulle iemand sal stuur om hulle te help. ’n Ouer man, met wysheid en insig, wat vir hulle teologies leiding kan gee. En op ’n dag het hulle geweet: Hulle moet vir Schalk van Wyk in Suid-Afrika kontak.

Hoe op aarde hulle dit so haarfyn geweet het, het Schalk nog nooit uitgevra nie. Hy was nog te oorweldig met die uit-die-bloute “friend request” op sy (toe nog net Afrikaanse) facebook-blad. En met die verrykende en verreikende gevolge daarvan. Hulle het nie eens gevra of hy kan “teach and preach” nie. Was selfs ook nie heeltemal seker waar Suid-Afrika is nie. Het net gevra: “Kom.” Wat is die kanse?

Nadat hulle mekaar oor ses maande op Skype leer ken het, is Schalk in September 2014 vir die eerste keer oor Pakistan toe vir ’n twee weke lange besoek.

“Die nood van die vervolgde kerk het my aan die hart gegryp. En ek het myself baie onbeholpe gevoel op die ys,” onthou hy.

Peter en David woon met hulle gesinne in die “Christian colony” in Khanewal. Feitlik elke dorp het so ’n klein Christen-ghetto. Die mense is geweldig arm, want Christene kry nie maklik werk nie. Of dan net die laagsbesoldigde werke, soos stene maak en die vuilste plaaswerk. Of hulle skrop vloere vir “mêrrims“, al is hulle ook hoe slim.

Die Sondag voor hy soontoe gevlieg het, preek Schalk by Durbanville-Bergsig uit 2 Timoteus 4:7. “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou …”

Hy gee ’n verleë laggie. “Pakistan is ’n gevaarlike plek vir ’n Christen. ’n Mens is nie 100% seker jy kom weer terug nie.”

Die eerste ding wat die twee John-broers doen toe Schalk in Pakistan land, is om hom na hulle pa se graf te neem. En wat is sy grafskrif? 2 Timoteus 4:7. Toe Schalk vir die twee jongmans vertel dit was sy preekteks die vorige Sondag het hulle, oorstelp, net gelag. Die ys was gebreek.

En toe vra hulle” “Will you be our dad?” Dit was so maklik soos om te sê: “I will.”

Schalk is omtrent by die diep kant in. “’n Mens is heeltemal oorbluf,” vertel hy. “In die eerste plek laat hulle waaghalsige bestuurders ons taxi’s stadig en vervelig lyk. En niks kan jou op die aanslag op jou sinne voorberei nie. Al jou sintuie voel verward en totaal van balans af: oorweldig deur ’n magdom van vreemde kleure, klanke, geure, teksture, kos. En die toilette! Sommer net ’n hurk-gat in die grond. Dit vang jou skoon onkant.

“En dan is die mense nog so arm ook. Hulle huisies is bitter klein. Dikwels is daar net een kamer. Kerk­raadsvergaderings, gebedsbyeenkomste, band practise – alles vind dikwels op die dubbelbed plaas, want daar is nie ander plek nie. Snags slaap ’n mens so na aan mekaar, ’n mens verdwaal in mekaar se drome!”

Maar ’n mens raak dit mettertyd ’n bietjie meer gewoond. En jy raak baie gou vreeslik lief vir die mense. Schalk vermurwe sommer as hy vertel van Peter en David se ma, Rinie, hulle vroue, Sanita en Kommal, en Peter se dogtertjie, Libby. Almal het hom spontaan in die familie opgeneem. Almal noem hom “dad”.

bid

Ds Schalk van Wyk bid vir ’n Pakistanse man.

Maar ’n besoek daar is glad nie ’n vakansie nie, hoor. Kerk-hou is ’n lang affêre. Eers sing en bid hulle vir twee ure voor Schalk aan die woord kom. Dan preek hy. Maar hy probeer dit kort hou, ter wille van die mense wat dan reeds so lank sit. So ’n halfuur, want onthou wat hy in Engels sê, moet nog in Oerdoe getolk word. Dan word dit nóg ’n uur.

“Maar,” vertel Schalk, “laat ek dit dan net waag om ‘amen’ te sê, dan sê die tolk eenvoudig ‘no’. Die mense wil net nog en nog en nog hoor. En daarna volg hulle vorm van pastoraat: voorbidding. Dis soos in Jesus se tyd. Mense stroom nader met gesondheids-, finansiële en verhoudingsbehoeftes: En jy lê hande op en bid en bid en bid …”

Wat preek hy? Homilie. Hy lees die Bybel. Verduidelik. Pas toe. Eenvoudig. Sy tolk, Simon, is ’n pastoor. En ’n briljante krieketspeler. Hy sou waarskynlik die nasionale span kon haal, as hy nie ’n Christen was nie.

Natuurlik is daar voortdurend die gevaar van Christen-wees. Schalk mag nooit alleen uit die huis gaan nie. Hy mag ook nie sommer met die kinders in hulle straat, met Libby se maatjies, praat nie. “Die Taliban weet van alles,” waarsku sy Pakistani-vriende hom.

Wat die erns daarvan veral by hom laat tuiskom het, vertel Schalk, is toe hy vir Simon vra: “Dink jy ooit daaraan dat iemand ’n bom in julle midde sal laat ontplof terwyl julle kerk hou?” En Simon antwoord: “Dis nie ’n kwessie van of nie; eerder wanneer …”

Die Christene, veral die grootmense daar, het geen illusies nie. Volgens Sjaria-lasterwette is dit geregverdig om hulle te skiet of te stenig. Enige tyd.

Maar dit perk Schalk of die John-broers nie te veel in nie. Vir die volle duur van sy tyd daar gebruik hulle hom maksimaal. Hy preek sommer op twee, drie plek­ke per dag. Hulle klim eenvoudig in ’n riksha-taxi of op ’n motorfietsie en daar gaan hulle. Partykeer is dit groot sports. Deesdae verstaan Schalk al genoeg Oerdoe om te hoor wanneer die Pakistani’s laggend vir me­kaar sê: Kyk hoe geniet die whitey nou homself!

Oor die afgelope twee jaar het Schalk se bediening daar toenemend vorm aangeneem.

rehman-se-graf

Peter (links) en David John by die graf van hulle pa, Rehman John.

“Ek het veral besef dat my persoonlike roeping te make het met hulle pas­tore wat opleiding dringend nodig het. In die geloof het ons ’n plek gehuur, en Timothy Bible College is gebore. Nou is ek ’n rektor. Dié pretensieuse titel vir die kollege se enigste pak-eseltjie laat my verleë en die studente trots voel. Dit gee ’n bietjie status aan hulle alma mater. Ons het op die oomblik 18 studente gekeur. Hulle is dapper. Om ’n pastoor in Pakistan te word, is nie noodwendig ’n doodsvonnis nie, maar jy loop voortdurend in die skadu van die Taliban, en dít is die skadu van die dood.”

Schalk gee klas via die internet, en telkens wanneer die Here geld voorsien, vlieg hy om vir ’n paar weke fisiek by hulle te wees.

Tans is hulle in die proses om die gemeentes wat hy daar help bedien, as die Uniting Reformed Church of Pakistan te registreer. Hy het vir hulle verduidelik dat kerkeenheid baie belangrik is en dat gereformeerd beteken: Die geloof alleen, die genade alleen, Christus alleen, die Skrif alleen en die eer van God alleen. Hulle kies entoesiasties om gereformeerd te wees en wil graag met ons kerke hier affilieer.

Die 18 studente is brandarm en kan nie self vir hulle losies betaal nie. Die bediening help ook Peter se vrou, Sanita, om verder te studeer. Sy is skrander en wil graag ’n naskoolse diploma in wetenskap en wis­kun­de behaal. Dit sal haar kanse om werk te kry, verbeter. Sy het nog ’n klein bietjie meer as ’n jaar nodig om haar studie af te rond.

Schalk hoop dat van ons gemeentes hier ’n student sal aanneem en verder help. Hy het saam met sy pro­jek­span van Kleinmond ’n maatskappy sonder winsbe­jag gestig, sodat skenkers seker kan wees dat die aan­wen­ding van hulle geld onder die toesig van ’n on­­afhanklike groepie direkteure geskied en jaarliks ge-oudit sal word.

In Oktober vanjaar besoek hy weer vir twee weke sy studente. Dit is vir hom baie belangrik om hulle persoonlik en beter te leer ken. Schalk wil ook graag soveel as moontlik Suid-Afrikaanse gemeentes besoek om van die baanbreker-werk te vertel. Van sy lewensveranderende kontak met dié mooi mense van “groot geestelike gehalte”.

– Stuur ’n e-pos na swvanwyk@gmail.com om kontak te maak met ds Schalk van Wyk.

Groei het nie ’n ouderdomsperk nie

Groei is ’n groot woord as ’n mens nog leer om te lees – ’n hele vyf letters! Groei is ook ’n groot woord in gemeenskappe en verhoudings – dit spruit stil-stil uit vormende verbintenisse en dra verrassende vrug. Dít ondervind die kinders sowel as die afgetrede grootmense van Hoekwil se leesprojek weekliks. ANNALISE WIID het een Donderdagmiddag saam met hulle gaan groei.


Hoekwil is pragtig! Die klein dorpie in die Suid-Kaap lê lepel agter die groter, baie bekende Wildernis se rug. Skaars 5 km vanaf die N2, deur die vlei, en oor die rant, skuil die klein juweel.

Hoekwil se dorp-hart het vier kloppende kamers, wat bruis van mens-aktiwiteit: In die middel staan die NG gemeente Die Vleie se kerkgebou. Weerskante daarvan is ’n groot aftree-oord en ’n bedrywige deli met vrolike bont vlaggies al om die stoep. En net oor­kant die straat lag kinders op die laerskool se speelgrond. Rondom die dorp lê welige groen melkplase, natuurlike woude en denneplantasies. En effe opsy die woonbuurt Touwsranten.

Ds Hans Roux (links) help vir Cheslyn Snyman by hulle tafel op die verhoog.

Ds Hans Roux (links) help vir Cheslyn Snyman by hulle tafel op die verhoog.

Magda van Zyl wag my verwelkomend voor die kerk­saal in. Ek vra nie uit nie. Aanvaar sommer sy is die kerk se sekretaresse. Kom eers later my fout agter.

Sy stel my voor aan Hans en Valerie Roux, die dryf­krag agter Die Vleie se leeshulp-projek. Ons herken mekaar dadelik. Het al vantevore ontmoet, toe Hans nog predikant was op Worcester. Dit gaan ’n lekker middag word …

Binne wag klein tafels, elk met twee blou sagte sitplekstoele, reeds netjies en buite hoorafstand van mekaar gerangskik. In die saal, op die verhoog en in die klein vertrekkies langsaan. Die kinders gaan nou-nou hier instorm, sodra die skool uitkom.

Intussen pak Hans prettige leesboeke voor op die verhoog uit. Hy groepeer dit volgens vlakke van leesvaardigheid. Van heel-in-die-begin se eenvoud, tot ’n bie­tjie verder tot nog ’n bietjie moeiliker. En lekkerder.

tannie-en-seun

Valerie Roux en Nickolus Klein is besig met ’n woordspeletjie terwyl die ander koppe gebuig besig is om te lees.

Valerie sorteer papiere; pak potlode, skêre en plas­tiek­sakkies met woorde op ’n tafel uit. Die kinders word met ’n bussie aangery van Laerskool Touwsranten af. Die grootmense wat hulle met leesvaardigheid kom help, stap meesal sommer straat-af tot by die kerksaal.

Almal is ooglopend bly om mekaar te sien. Glimlagte. Gretigheid. “Daar’s jou oom,” hoor ek ’n opgewonde stemmetjie.

Gou verdeel hulle in klein groepies. Nie meer as twee kinders by elke volwassene nie. Heel eerste sing die kinders vir my ’n dankie-liedjie wat hulle spesiaal geoefen het. Omdat ek vir Kerkbode oor hulle kom skryf.

Hulle moes dit eintlik gesing het wanneer ons totsiens sê, maar hulle kan nie wag nie, het te lank uitgesien. Klaar gesing, gaan die grootmense en kinders saam verhoog toe. Die kinders kies self uit watter boekies hulle wil lees. Dan koers elke groepie na hulle eie tafeltjie toe en sit koppe bymekaar.

Ek dwaal tussen hulle deur. Neem foto’s. Luister. Verkyk my: geduld en aanmoediging vat hande met leergierigheid en plesier. “Kyk,” beduie ’n vrou met ’n sagte stem, “die b se magie bult hierdie kant toe, en die d s’n staan daai kant toe, sien jy?”

By ’n ander tafel lê ’n klomp los woorde uitgesprei. Hier word sinne gebou. Een van die kinders wil ’n sin maak met seun. Hy vat egter die woord neus. “Klank hom vir my,” vra sy grootmens-helper. “N-e” begin hy, en snap dadelik: “Nee, maar dis mos neus dié; ek soek vir seun!” Baie in sy noppies dat hy die verskil so gou kon sien.

Adriano Jansen (links) moet mooi kyk om nie “seun” en “neus” met mekaar te verwar nie. En tannie Maggie Heyneke is amper blyer as hyself wanneer hy die regte ene kies. Regs is Floressa le Roux ook besig om woorde uit te soek. Foto's: Annalise Wiid

Adriano Jansen (links) moet mooi kyk om nie “seun” en “neus” met mekaar te verwar nie. En tannie Maggie Heyneke is amper blyer as hyself wanneer hy die regte ene kies. Regs is Floressa le Roux ook besig om woorde uit te soek.

Een dogtertjie lê met haar kop teen ’n tannie se ­skouer en luister lekker terwyl haar maatjie voorlees. Party haak nog by baie woorde vas. Ander lees al feitlik vlot.

‘Ag nee, Oom’

Na ’n halfuur se saamlees, slaan een van die kinders die ghong: Kadwa! “Ag nee, Oom,” sê Hans se seuntjie, teleurgesteld. Die enetjie by Magda se tafel loer vinnig hoeveel blaaie van sy boek nog oor is. Kyk verlangend na haar. Wens hy kon dit nog gou klaar lees. Maar hulle moet groet; die bussie terug Touwsranten toe wag. En daar, by Seven Passes (’n plaaslike gemeenskapsontwikkelingaksie) se huiswerkprogram, wag sop en broodjies.

Nadat die kinders weg is, koffie en koek die lees-helpers nog ’n rukkie gesellig saam. Die meeste van hulle is pensionarisse en lidmate van Die Vleie. Net twee is jongmense wat weekliks oorry van Wildernis af. Elke Donderdagmiddag van 14:00 tot 14:30 kom lees die grootmense saam met die kinders.

Hans vertel: “Eendag het Wilmi Dippenaar van Seven Passes by die kerk kom praat oor hulle werk in die gemeenskap. Sy het genoem dat hulle ’n leesprojek vir laerskoolkinders begin het, en hulp sal waardeer. Toe ons vra wie wil help, meld 22 vrywilligers aan!”

Dit lyk nie of een van die 22 spyt is nie. Inteendeel, hulle gloei behoorlik. Val mekaar amper in die rede om vir my te vertel hoe die betrokkenheid by die kinders hulle lewe verryk. En dis nie dat hulle le­we voor­heen arm was nie. Hulle kom uit interessan­te be­roepe en plekke. Maar die projek voeg op ’n be­son­dere manier lewenswaarde toe.

Vir Hans, die oud-predikant met die pastor-hart, is die betrokkenheid by die kind se lewe die beste: “Dit is so bevredigend om mettertyd die kind te sien oopmaak. Om te ervaar hoe verhouding ontstaan. ’n Mens leer ook sy omstandighede ken. My outjie het byvoorbeeld vandag vertel hy en sy ma het saam gepraat en hulle het besluit hulle gaan vir die goeie – hulle gaan ’n verskil maak. Dis wonderlik om sy vordering te sien.”

Salmon Gerber is ’n gebore Olifantshoeker. So het Hoekwil toentertyd bekend gestaan, toe sy pa daar patatranke gekweek het. Vir hom is betrokkenheid by die leesprojek ’n “sielsaak”. Hy weet waar die kinders vandaan kom, sê hy. Hy wens net elke Donderdag daar was meer tyd. Dit is so positief om te sien hoe die kinders probeer. En groei. Soms sak enetjie weer te­rug. Dan vermoed jy dit gaan seker weer swaar by die huis.

’n Geroepenheid

Willie Verwey, ’n oud-skoolhoof, en sy vrou, Rhea, glimlag oor die Touwsrantertjies. “Dis vir ons ’n geroe­penheid om te kan help,” sê hy. “Wie van die kinders sou andersins vandag ’n halfuur gelees het? Hulle sou waarskynlik net gespeel het, of dalk kattekwaad aangevang het. Dit is wonderlik om te dink ons maak ’n belegging om die kinders se toekoms te verbeter. Ons leer self ook baie – veral van die bruin gemeenskap. ’n Mens kry mos nie altyd die geleentheid vir kontak met ander gemeenskappe nie. Nou geniet ons dit so. Dis lekker kinders dié!”

Magda, wat ek met die ontmoet-slag as die sekretaresse aangesien het, is vandag vir die eerste keer hier. Afgetrede mense ry baie rond. Of kuier by hulle kinders wat ver woon. Hulle is nie vanselfsprekend elke Donderdag op die dorp nie.

So was daar toe vandag te min vrywilligers om individuele aandag aan al die kinders te gee. Toe vra Hans of Magda se Bybelstudiegroep nie wil kom help nie. En daar kry sy toe die oulike seuntjie wat nie wil ophou lees toe die ghong slaan nie. Wat haar hand vashou toe hulle groet. Dit was vir haar so lekker, sy dink hulle sal dalk van nou af elke Donderdag voor Bybelstudie eers ’n bietjie kom lees …

boekies

So lyk van die boekies wat in Die Vleie se leesklas gebruik word.

Valerie, Hans se vrou, is die baie beskeie, waagmoedige dryfveer agter die gemeente se betrokkenheid. Sy vertel: “Die eerste Donderdag was ek bitter bang! Ek weet nie wie dit die ergste ervaar het nie: ek, die vrywillige helpers (sommige van wie nog nooit met die onderwys van kinders te doen gehad het nie) of die kinders self nie. Maar meteens het ek die ou bekende gevoel ervaar: Dis maar net kindertjies vir wie ek iets kan gee en beteken, kindertjies wat ek kan lief hê. Dis net ’n groot kans wat aan my gegee word, sommer so, in my hande.

‘Waar daar liefde is …’

“En toe elke kind tuisgekom het by ’n helper, was ek diep dankbaar en verwonderd. Want, asof hulle al lang paaie saamgestap het, het helper en kind mekaar gevind en saamgewerk. Ek sien elke week hoe drukkies uitgedeel word, hoe kinders prys-plakkertjies op die kop kry; sien hoe ’n helper hande klap omdat ’n kind iets reggekry het, hoor hoe ’n kind skaterlag van vreugde – en ervaar met ’n diep en nederige wete: Waar daar liefde is, daar is God die Heer!

Natuurlik werk alles nie altyd uit soos ’n mens dit wil hê nie. Ons program en die skool se program bots soms of die vervoer is skielik nie beskikbaar nie of die sportbyeenkoms geniet voorkeur en dan is ’n mens maar geneig om gefrustreerd te raak. Maar die positiewe weeg soveel swaarder.

Ons weet nie of die leesprogram volhoubaar is nie. Ek weet net: Met soveel welwillendheid en gewilligheid, moet die kinders iets ervaar van hoe dit is as mense vir jou omgee. Hulle sal nie gou die oom of tannie vergeet wat hulle weekliks laat voel het dat hulle nie verloorders is nie, maar geliefdes.”

Wilmi Dippenaar, die direkteur van Seven Passes, is baie tevrede met die leesprojek se vordering en met die vrugbare samewerking wat tussen Die Vleie en Seven Passes begin groei. Gemeentelede het boeke geskenk wat hulle kleinkinders al ontgroei het. Die biblioteek gee maandeliks ’n blok-lening van 20 boeke. “Laat die kinders tog net lees!”

’n Graad een-onderwyseres het die vrywilligers kom touwys maak. En ná elke lees-sessie word ’n verslagvorm voltooi om die kinders se vordering te moni­tor. Kinders wat te stadig vorder, word na ’n reme­dië­rende onderwyser verwys.

“Ek sien wonderlike groei op alle vlakke,” sê Wilmi. “Nie net wat leesvaardigheid betref nie; ook in die gemeenskappe se nader groei aan mekaar. Ons almal blom!”

Besoek ook www.sevenpasses.org.za vir meer inligting.

Krulkop-Kara sit haar voet neer

Kara van der Merwe was nooit soos ander kinders nie: Sy het kleindag eerder Fiela se kind gekyk as Teletubbies. Nou is sy 15. En steeds min gepla oor wie die jongste tiener-celeb se nuwe boyfriend is. Sy sit eerder haar voet neer teen kindermolestering. Annalise Wiid het langs haar gaan staan.


Kara wou van altyd af aktrise word – behalwe vir die keer toe sy ’n perd wou word, maar dit was oor sy ’n fliek gesien het waarin ’n perd die hoofrol speel. Sy’s ook ’n gebore filantroop. Op 12 wou sy al ’n veldtog begin om kinders te help wat sonder skoene leef. Nou help sy kinders op ’n ander, groter, manier.

Kara speel die rol van Carli, die jonger sussie, in Dis ek, Anna, die fliekweergawe van Anchien Troskie se gelyknamige boek. Die fliek het haar so aangegryp dat Kara Sit jou voet neer in Julie 2015 geloods het: ’n Bewusmaking- en fondsinsamelingveldtog. Sy wil mense aanmoedig om standpunt in te neem teen seksuele geweld teen kinders.

Ek, Annalise, wou nie die fliek gaan kyk nie. Ook nie die boek lees nie. Die tema ontlok weerstand en aaklige emosies in my. Maar wat ’n mens wil vermy, kom lê soms ongevraag langs jou: Ek en Kara word genooi om saam op te tree by ’n vrouetee van Keimoes se NG gemeente Neilersdrift. Vooraf word ons saam bederf met ’n pedikuur by ’n wonderlike spa. Armlengte van my af lê krulkop, goeie-hart Kara. Ek begin uitvra. Sy vertel besielend van Sit jou voet neer terwyl terapeute ons voete sagkens pamperlang …

Carli se storie

“Dit het nie met my gebeur nie,” sê sy heel eerste. Haar storie is anders as Carli, haar fliek-karakter, s’n. In die fliek werk dit so: Anna se ouers skei. Later sterf haar pa. Toe dit gebeur, verloor Anna haar vlugplek, vertel Kara. Anna se ma trou toe weer en Carli word uit die tweede huwelik gebore – met ander woorde Carli is eintlik Anna se stiefsussie.

Kara se ma, Mariza, gee haar ’n stywe, trotse druk na afloop van haar praatjie by Neilersdrift se vrouetee. Foto: Annalise Wiid

Kara se ma, Mariza, gee haar ’n stywe, trotse druk na afloop van haar praatjie by Neilersdrift se vrouetee. Foto: Annalise Wiid

Die stiefpa molesteer vir Anna. Hy dreig: As jy nie stilbly en saamspeel nie, gaan ek dit met Carli ook doen. Anna sê wel vir haar ma én vir die dominee. Hulle glo haar nie. Help haar nie. Toe Anna swanger word, gaan sy weg.

Jare later kom Carli, toe 16, haar soek en konfronteer: Hoekom het jy my nie beskerm nie, Anna? Maar Anna het gedog sy het! Sy het dan alles verduur en “saamgespeel” juis sodat Stiefpa vir Carli moet uitlos! Hy het nie. Dié besef is ’n mespunt-oomblik: Ook Carli het harder en harder geskree; en niemand het gehelp nie.

Dowe ore

Hoeveel kinders se krete val op dowe ore? Die statistiek is skrikwekkend, sê Kara. Maar dis eintlik die ding van die generasies wat haar gal werk.

“My ouma het vir ons vertel van die onderwyser wat hulle gehad het – hy het so aan die meisies gevat. En my pa sê by hulle was ’n seun met wie dit ook gebeur het. En hier is ek, van ’n volgende generasie en ek sien met hoeveel kinders gebeur dit steeds: 3 uit 5 dogters, 2 uit 5 seuns in Suid-Afrika word aan seksuele molestering blootgestel deurdat iemand vir hulle eksplisiete materiaal wys, met hulle daaroor praat, aan hulle vat, of erger. Dit hou dan nie op nie!”

Haar oë is groot, hartseer. “Ons generasie móét opstaan, prontuit sê dis verkeerd, ons voet neersit, praat oor die gevolge … Maar ons het die ouer generasies nodig om ons daarmee te help!”

Kara het op Potchefstroom grootgeword. Haar ouer suster, Maxine (21), studeer nog daar. Kleinsus, Lienka (6), en haar ouers, Leon en Mariza, woon deesdae op Greyton, waar hulle ’n gastehuis en restaurant bedryf. Kara home school vanjaar, sodat sy tyd kan inruim om by skole en ma-en-dogter-tee’s te praat oor Sit jou voet neer.

Vanoggend, voor ons spa-behandeling, het Kara reeds vier praatjies by skole in die Keimoes-omgewing gelewer. Netnou, as ons klaar is, wag nog drie … Ná sy vanoggend by die laerskool gepraat het, het een dogtertjie begin huil. Dan weet ’n mens mos. En jy wonder hoe gaan sy weer heel word. Wie gaan haar help?

Wyse vrou

Die terapeut se hande wat rustig my voete vryf, herinner my aan ’n wyse vrou: Destyds, nadat vriende van my se dogtertjie verkrag is, het dié vrou haar skoonheidsalon toe geneem: vir ’n rugmassering en manikuur – dat sy net weer veilige aanraking kon voel. En mooi hande kan sien.

Kara het by Childline gaan werk om meer te leer oor die groot taak en noodsaak van opvang en luister en heelmaak. “Hulle het al die nodige expertise om kinders te help. Ook wonderlike boekies wat spesiaal geskryf is, amper soos vir skool – want hulle moet die kinders van nuuts af leer wat reg en verkeerd is.

“Ek was geskok om te sien daar is boekies vir 0-2 jaar. Ag, jinne, dis sulke klein kindertjies! My eie sussie is 6. Maar dit help my. Ek weet hoe ek met haar praat. So, ek praat op dieselfde vlak met die kleintjies by laerskole. ‘Daar was ’n apie en ’n jakkals,’ vertel ek vir hulle. ‘Die jakkals was ’n famielievriend. Apie het hom vertrou. Eendag sit Jakkals ’n skerp klip onder Apie se arm. Steek dit weg, fluister hy, dis ons geheim. Apie kry seer. Apie is skaam …’ Ons het ook ’n temaliedjie: The beat of our feet.”

Kara praat natuurlik ook met hoërskoolleerders en volwassenes. “Dis moeilik. ’n Mens wil niemand bang praat nie. Net waarsku. En, ja, soms ook konfronteer. Die ou gesegde, ‘kinders moet gesien word, nie gehoor nie’ is verkeerd. Kinders móét gehoor word!” Kara is kaalvoet, kaalvuis. Maar nie skerp nie. Gevoelig, intelligent, inspirerend.

Kara, die spreker, vat die verhoog by Neilersdrift se vrouetee. The way she carries herself vang die gehoor in ’n speldval-stilte vas: Sy is ’n versnit van onskuld, kennis, vasberadenheid en hoop. Kara praat oënskynlik maklik. Kort. Tien minute, toe is sy klaar. En die gehoor is anders: Meer ingelig, bemagtig, gereed vir ferm voet-neersit.

Vals skuld

“Dit is nie jou skuld nie,” beklemtoon sy vir die slagoffers. Skaamte en vals skuld word ’n wrede, verwikkelde las vir slagoffers. Dit hou hulle gevange, laat hulle stilbly. So kom die oortreders skotvry. Slagoffers kan egter survivors word deur te praat. Snaaks, die woord “survivor” het mos meer woema as oorlewende.

kara-annalise-en-ander

Na afloop van Kara se optrede het sy en Annalise (met die pienk trui) skoene uitgetrek saam met verskeie vroue wat die geleentheid bygewoon het, om voet-foto’s te neem vir Sit jou voet neer se facebookblad.

Waar kry Kara woema? Haar wyse ouers het goed gedink oor haar filmrol as Carli. Hulle het haar vooraf net sekere dele van die draaiboek laat lees. Later eers die volledige fliek laat kyk. Hulle help Kara fyntrap op die duwweltjiepad: Beskerm waar nodig, troos haar as die saamgestelde ellende van baie kinders op baie plek­ke te veel raak.

Oor God sê Kara: “Ek het nooit gevoel ons is ’n gesin van net vyf nie. Altyd ses. Hy was nog altyd deel van ons. Bid is chat. Terwyl ek koffie maak of hare was. Nie formeel nie. Natuurlik, soos asemhaal. Hy is in die gehoor as ek met mense praat. Goedkeurend. Ek perform nie vir Hom nie. Ons is ’n team. Ek weet God voel die slagoffers se pyn. En Hy wil help.”

Hoe voel God oor die oortreders? Daarmee sukkel sy, eerlik: “Ek moet nog daaroor dink. Dis moeilik.”

Ja, sy is senuweeagtig voor sy iewers gaan praat. Omdat jy op dun ys van teer emosies beweeg? vra ek.

“Nee,” antwoord sy dadelik, “die ys word al hoe dikker onder my. Elke keer as ek iewers optree, staan daar meer kinders agter my. Ons kollektiewe stem word al hoe harder, meer beslis. Dis eerder dat ek senuweeagtig voel oor of ek die regte woorde sal kies om die omvang en skrikwekkendheid binne tien minute vir die gehoor deur te gee. En hulp en hoop vir die kinders.”

Die haas onverwoordbare verklank moeilik.

Gister, by die hoërskool, was daar ’n meisie. Sy het my vreeslik styf kom druk na die tyd. Ek weet: Iets in daai druk sê dankie – dankie dat jy weet, dat jy verstaan, dat jy praat waaroor ek nie kan nie!”

Duidelike stem

Kara is ’n sagte, duidelike stem vir die stemloses. Sy gee vir kinders woorde om oor hulle ervaring te kan praat. Sy spoor ook ouers en volwassenes aan: Praat met julle kinders: voorkomend, beskermend, bevrydend, bemagtigend. En as daar molestering was: helend, troostend, begrypend. Slegs een uit elke nege kinders praat as dit met hulle gebeur het. Sê dit nie alreeds genoeg nie? Van die vrees. En die bedreiging wat hulle ervaar. Die skaamte, vernedering, die isolasie.

Daarom werk die Sit jou voet neer-beeld so goed. Dit sê meer as wat blote woorde kan. Oral waar sy gaan neem Kara foto’s van voete. Haar voete saam met celebs, slagoffers, kinders. Saam met enigeen wat saam met haar voet neersit: Tot hier toe en nie verder nie. Stop alle geweld teen kinders. Nou!

Soms skerm mense: My voete lyk nie goed nie, dis onversorg; ek kan nie my skoene voor ander uittrek nie. Dan vra Kara net: “Dink jy die gemolesteerde kind het enigsins ’n keuse gehad oor uittrek of nie?”

Sy weet nie hoe lank sy met die Sit jou voet neer-veldtog sal voortgaan nie. Dalk gee sy dit eendag oor aan Childline. Maar wat doen sy dan? Sy móét iets doen. Onbeteuelbare filantroop. “Die armoede oral om ons – het jy gesien daar’s kinders wat sonder skoe­ne skool toe kom in minus-temperature,” vra sy, opreg ontroer.

Maar dis anderdag se deuntjie daardie. “Môre,” vertel sy, “gaan ek Black Rock toe, naby Hotazel. En die mense van Warm Sand soek my ook nog.” Skerp Klip. Hel-warm: Pynlike plekke om jou voet neer te sit ter wille van ander se heelword.

– Besoek www.sitjouvoetneer.co.za, die facebookblad Sit jou voet neer en www.childline.org.za vir meer inligting.

Groot genade anderkant ’n geweerloop

Koos en Lucia Oosthuysen, ’n emeritus-egpaar van Noordhoek, gaan gereeld, vrywillig, tronk toe. Hulle fasiliteer ’n reis van herstellende geregtigheid wat deur Hope Prison Ministry in verskeie Wes-Kaapse gevangenisse aangebied word. Annalise Wiid was ’n week lank saam met hulle agter tralies.


Dis 08:15. ’n Maandagoggend in Mei. Ek ontmoet Koos en Lucia voor die Pollsmoor-gevangenis in Tokai, buite Kaapstad. Koos, met sy hartlike, dawerende lag. Lucia, klein, energiek en baie liefdevol.

Ons ry saam deur die afgeskilferde groen hekke waarop geskryf staan: “Correctional Services – a place of new beginnings”. Hier word ’n verbysterende byna ­8 000 gevangenes aangehou. Vir party bring dit, wonderbaarlik, ’n nuwe begin …

Tony getuig

Tony Carlisle vertel van die trauma wat hy moes trotseer as gevolg van ’n skietwond in sy rug tydens ’n gewapende roof.

Hoe het Koos (82) en Lucia (77) hier beland? Hulle dogter moes Pollsmoor vir nagraadse studie besoek en het toevallig aanbieders van herstellende geregtigheid daar ontmoet. Sy het haar ouers daarvan vertel en dit was die begin van ’n volgende hoofstuk in hulle, reeds interessante, lewe.

Koos was predikant in die NG Kerk in Afrika, Paarl, Stellenbosch, Franschhoek, Wellington en King Williams Town. Hy was ook betrokke by die Xhosa-Bybelvertaling en -grammatikaboeke. Lucia was ’n onderwyseres. Nou fasiliteer hulle, byna tien jaar al, ’n nuwe begin in gevangenisse.

’n Proses

Herstellende Geregtigheid (of Restorative Justice) is nie ’n program nie. Dis ’n proses – eintlik ’n leefreis – om die skade wat deur misdaad veroorsaak is, waar moontlik, te herstel. In die oortreder, sowel as die slagoffer en die gemeenskap.

Jonathan Clayton, die aanbieder en direkteur van Hope Prison Ministries, is self ’n oud-gevangene. Hy het ’n vier jaar-vonnis vir bedrog uitgedien; in hierdie einste Pollsmoor. Met sy vrylating die grond buite die hek gesoen en belowe: Here, ek kom nóóit weer terug nie.

Jonathan is inderdaad ’n mengsel van teoloog, akrobaat, nar en sielkundige. Hy skroom nie om eensklaps iets onverwags te doen om ’n belangrike punt te illustreer nie. Hier demonstreer hy wat dit beteken om ’n broer vir ’n tweede en derde myl op ’n moeilike pad te dra.

Jonathan is inderdaad ’n mengsel van teoloog, akrobaat, nar en sielkundige. Hy skroom nie om eensklaps iets onverwags te doen om ’n belangrike punt te illustreer nie. Hier demonstreer hy wat dit beteken om ’n broer vir ’n tweede en derde myl op ’n moeilike pad te dra.

Maar toe kom hy tóg – nie as gevangene nie, maar as bevryder. Vir 28 jaar al is hy ’n baken van hoop.

Met die jare het hy sy kursus só verfyn dat waarnemers wêreldwyd van Swede tot die Seychelle kom kers opsteek. Hy is ook onlangs Pretoria toe ontbied om 350 amptenare van Korrektiewe Dienste met die beginsels van herstellende geregtigheid uit te daag.

Koos beskryf Jonathan as ’n mengsel van teoloog, grapjas, sielkundige, akrobaat en regsgeleerde.

Ons kry Jonathan en ’n groepie medewerkers by Medium B se ingang. Stap tussen hemelhoë draadheinings, met ekstra rolle doringdraad bo-op, by trappies af – vlak, vir kettingvoete wat net kan skuifelstap. Dan deur ’n lang lewelose gang en swart staalhekke wat ons skielik uitspoeg in ’n bontgeverfde ruimte.

Ingeperktheid het ’n reuk soos ou yster: Dit los ’n smaak in jou mond.

Een en twintig mans in oranje oorpakke kom sit, vrywillig, vir ’n week, drie aan elke tafel, by ’n fasiliteerder. Jonathan dring aan op skoon, wit tafeldoeke. Dit is menswaardig.

Bendes

By my en Lucia se tafel sit Johnny (27) met die maklike, breë glimlag. Hy het ’n “tear-of-death-tatoeëermerk” onder sy regteroog – die bewys dat hy, as inisiasie-daad tot ’n bende, iemand vermoor het.

Koos en Lucia Oosthuysen lag lekker vir een van Jona­than se vele grappies.

Dennis (23) pluk-pluk deurgaans skamerig en senuagtig aan sy ken. Heel week wonder hy of sy bende sal opdrag gee om sy girlfriend te skiet? Sy het by ’n ander bende oor hulle geklik.

Andries (51), wat lief is vir sy kind, is ’n ou gangster: afgestomp, gehawend. Gewere is sy ding. Gou beskikbaar, gou gebruik, gou weer weggesteek. Net een keer geglip, toe vang die cops hom.

Dié drie (skuilname is gebruik) het saam meer as 50 misdade gepleeg. Al drie is ook lid van die “number”: 26’s, 27’s, 28’s. Tronkbende-boeie sluit stywer as ’n tronksel.

Herstellende geregtigheid vra indringende, konfronterende vrae. Waar het die gevangenes se lewe begin skeefloop? Wie het húlle mishandel, misbruik, weggesmyt? Lewensverhale; nie verskonings nie. Die meeste gevangenes se stories is “multi-layered”. Laag-op-laag leed.

Ek wonder skepties: Kan ’n mens eerlike antwoorde uit kriminele monde verwag? Hulle is self sinies. Vra, sommer daardie eerste dag al: Kan ’n mens regtig ver­ander? Jonathan glimlag net …

Hy verskuif die fokus na hulle slagoffers. Tony Carlisle, ’n parapleeg, kom vertel hoe hy in die rug geskiet is tydens ’n gewapende roof. Hy verteenwoordig die fisiese, finansiële, emosionele en geestelike skade wat hulle kollektief aan mense berokken het.

Nie een oortreder kan ontsnap uit dié tromp-op konfrontasie met die effek van hulle misdade nie. Die nugter, naakte werklikheid wat aandring: Kyk, kyk! Sien jou slagoffer se skrik, die skade. Voel die pyn. Dit is deur jóú toedoen. Aanvaar verantwoordelikheid daarvoor.

‘Ek skrik nou’

Hulle reageer: “Ek het nog nooit só daaraan gedink nie”; “ek het nie verstaan hoe ek operate nie”; “dit challenge my nou baie”; “ek skrik nou vir myself”. Dit lei tot deurdagte gesprekke oor denkfoute, verkeerde aannames, swak keuses, goeie waardes. Ek ervaar ’n sprankie hoop. Selfs deernis.

Maar daardie aand kom die verpletterende nuus: Winnie Rust, die vrou met die lewensleuse, “Laat die liefde jou lei”, is in haar eie huis vermoor. Alles in my rebelleer teen teruggaan tronk toe. Ek wil eerder saam met die massa-mens skreeu: Sluit hulle op! Smyt die sleutel weg! Misdadigers verander nie. Mooi broodjies bak met moordenaars en messtekers is pêrels voor die swyne.

Maar herstellende geregtigheid se wydingslied sing elke oggend: “You will always be a child in my eyes.” En daagliks sê ons vir mekaar: “The good you do today will be forgotten tomorrow. Do good anyway. What you spend years building may be destroyed overnight. Build anyway. People who really need help, may attack you if you help them. Help them anyway.”

God het onbeteueld lief. Hoe durf ek my rug draai?

Ek gaan dus tóg terug. Steeds kwaad. Diep hartseer. Méér oortuig: Misdaad steel nie nét die slagoffer se lewe nie. Die oortreder s’n ook. En ons het almal net één lewe!

Ricardo Sloster se storie onderstreep die wonder-waarde van een lewe. Ricardo, die reuse-man, wat so lekker kan lag. Sy oë is blinkbruin spoelklippe – sag van baie swaarkry. Jonathan het hom een Sondag toevallig in Pollsmoor ontmoet – “dik-gerook”.

Twee dae daarna, vertel Jonathan se vriend, Mike, vir hom hoe naelskraap hy ’n gewapende roof oorleef het: Drie ouens het helder oordag ingestorm, wapens teen hulle kop gedruk, die vroue vasgebind. Om die vroue te beskerm, het Mike waaghalsig met die rowers onderhandel: Hy sal hulle help om alles uit die huis te dra én hulle kan met sy kar vlug. “Deal,” sê die leier-rower.

‘Bid vir my’

Terwyl Mike help meubels dra, val sy besigheidskaartjie uit sy sak. Die rower tel dit op, sien daarop dat hy ’n predikant is, en vra: Bid vir my, asseblief, my naam is Ricardo.

“So, Jonathan, as jy dalk ’n Ricardo-ou in Pollsmoor raakloop, wees tog goed vir hom,” het Mike gevra. “Ek dink nie hy is gemors nie. Hy het potensiaal.”

Ricardo

Ricardo Sloster raak nou nog hartseer as hy dink aan die leed wat hy mense met sy misdade aangedoen het. Hy het egter handomkeer verander en leef nou ’n wonderlike getuienis van God se groot genade uit.

Ricardo was byna vyf jaar lank verhoorafwagtend, in maksimum sekuriteit. Met soveel ernstige klagte teen hom, dat hy ’n vonnis van 75 jaar sou kon kry.

Toe word Jonathan sy vriend. Teen die tyd dat Ricardo moes hof toe, het sy advokaat vir Jonathan gevra: “Kom praat met my oor die jongman. Jy ken hom. Watter vonnis dink jy is gepas?” Jonathan het 25 jaar aanbeveel. Hy glo in genade, maar hy glo ook misdadigers moet verantwoordelikheid dra vir die gevolge van hulle dade.

Ricardo het 10 jaar van sy vonnis uitgedien. En verander van ’n gewapende rower tot ’n saggeaarde, liefdevolle, wyse, rustige man van God: ’n pastor, gelukkig getroud met ’n gelowige vrou wat hom heelhartig in sy bediening ondersteun.

As “field director” van Hope Prison Ministries begelei hy honderde gevangenes, veral jeugmisdadigers, op die reis van herstellende geregtigheid. Hoewel hy nog op parool is, vertrou die owerhede hom met vrye toegang tot vyf verskillende tronke.

Ricardo se diep berou oor die emosionele skade wat hy mense aangedoen het, maak steeds seer. ’n Seuntjie was destyds so getraumatiseer deur ’n roof, dat hy nou nog onmiddellik die deur sluit wanneer hy ’n vertrek binnegaan. Nóóit in sy lewe wil hy wéér so onverhoeds gevang word en so vreeslik groot skrik nie. Ricardo raak, ná 12 jaar, steeds bewoë wanneer hy aan die kind se angs dink.

Verander?

Kan geharde misdadigers werklik verander? Ek het onverwagse hoop in vasgekeerde oë sien blink toe Ricardo vertel dat God steeds genadig is, selfs al druk jy jou geweerloop in ’n verskrikte mens se gesig.

Aan die einde van die week van herstellende geregtigheid bemiddel Jonathan ’n openhartige gesprek tussen die gevangenes en hulle families. Dapper eerlikheid is die wagwoord. ’n Pa huil stil, gebroke, oor sy kind se wangedrag. ’n Ma sug: “Ag, en dan is hy nog my babykind ook”. ’n Suster kom konfronteer: “Jy het my hart gebreek en my huwelik aan bo-menslike stres onderwerp.”

Die span

Die span fasiliteerders en waarnemers hou nabetragting voor Medium B na ’n dag se intensiewe gesprekke. Koos sit links voor. Lucia staan regs. Net links van haar staan Jonathan Clayton, die direkteur van Hope Prison Ministries wat die week se kursus, Herstellende Geregtigheid, aangebied het. Links van Jonathan staan Frank Steufen, ’n gevangeniskapelaan uit Zürich wat die week kom waarneem het om sy eie bedie­ning te verbeter. Die man met die kruk (Paul) en die een met gevoude arms (Geoff) is beide gelowige oud-gevangenes wat nou waardevolle bydraes tot huidige gevangenes se herstelproses lewer.

Die gevangenes kry ook kans om vrae of vergifnis te vra, indien hulle daarvoor gereed is. Een sê beslis: Ek wil verander. Sy skoonma omhels hom. Noem hom “seun”.

Die ander 20 wik en weeg nog. Jonathan verkies sulke eerlikheid bo ’n oor-emosionele “bekering” sonder blywende vrug.

Tien van hulle erken betrokkenheid by tronkbendes. Ter wille van oorlewing, glo hulle. “Niemand is al deur ’n number doodgemaak omdat hy sy hart verander het nie,” gooi Jonathan vir hulle ’n draaibal. Hy weet. Hy was mos self hier.

Die einde van die week beteken nie die einde van die reis nie. Dit word opgevolg met nog agt weke se individuele gesprekke. Indien die gevangene en die slagoffer daarna beide instem, kan daar ook ’n gesprek tussen oortreder en slagoffer gereël word. Dié intensiewe saamstap en herstelproses kan tot drie jaar duur. Geen haas nie. Net geduldige hoop.

Ons groet voor die gehawende groen New Beginnings-hekke. Koos en Lucia, wat Matteus 25 so ráák-leef, ten spyte van hulle jare, verstom my. “Skryf daar,” sê Koos laggend, “as die kerk iets aan misdaad wil doen, moet hulle nie met die owerhede gesprekke aanvra nie. Laat hulle met die manne self kom praat. Hiér kan mens ’n verskil maak!” En ’n nuwe begin.