Anton Doyer

Gelowig en groen

Prof Johanné Cilliers het in “Omgewingspraatjies” op RSG op 27 Januarie aanbeveel dat ons in die stede eerder die “groen infrastruktuur” (dit wil sê natuurlike ekosi­­steme) beskerm en bevorder. In plaas daarvan om groot, peperduur en onooglike kunsmatige strukture te vestig om dienste soos die suiwering van gryswater, skoon lug, leefbare temperatuur en vrugbare grond te lewer.

Die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP) moedig regerings aan om ’n monetêre waarde te plaas op ekodienste in die hoop dat dit die mens sal verhoed om so roekeloos daarmee om te gaan.

Feit is dat die “lethal cocktail” van habitat-vernieti­ging, die invoer van indringerspesies en klimaatsverandering – alles die gevolge van menslike ingryping – ekositeme sodanig beskadig het dat ’n katastrofale in­­eenstorting al waarskynliker word. Vreemd dat ons versigtig werk met ons spaargeld, maar ons omgewings­kapitaal verkwis. Tog kan ons dit volhoubaar benut deur die vriendelike drietal praktyke van volhoubaarheid, naamlik die gebruik van sonenergie, bewaring van biodiversiteit en chemiese hersiklering.

Gelowig en groen

Omgewingsrubrieke en -programme dra uiteraard meer in diepte-inligting en interpretasie oor. So word RSG se “Omgewingspraatjies” Saterdagoggende al deka­des lank deur topkundiges hanteer. Tans neem prof Johanné Cilliers van Noordwes-Universiteit die leiding.

Op 10 Februarie wys sy daarop dat 30% van seedier- en 71% van seevoëlsterftes plastiekverwant is. Dit bring perspektief op die skatting dat teen 2050 die massa plastiek ter see groter gaan wees as dié van vis.

Plastiek is nie bio-afbreekbaar nie en vorm mettertyd mikroskopiese toksiese “korreltjies” wat deur marine-organismes ingeneem word. Dit veroorsaak grootskaalse vrektes – en beland ook op ons borde in vis- en skulpdiergeregte!

Geoloë identifiseer verskillende tydperke in die ge­skiedenis van die aarde, byvoorbeeld die ys-, brons-, ystertydperke; sommige ekoloë meen dat ons nou op die vooraand staan van die “plastiek”-tydperk – met al die skrikwekkende nadele daaraan verbonde.

Gelowig en groen

Einde verlede jaar word berig dat huise in Bloemfontein reeds vir drie dae sonder water is – en dat dit die lot is van nog 30 ander munisipaliteite.

Hierdie brokkie nuus oor die radio bring ’n pleidooi van dr Charles Fourie, geoloog en waterkundige, in herinnering. Hy vra dat ons water “menswaardig”, dit wil sê met respek, sal bejeën en hanteer omdat hierdie lewensnoodsaaklike hulpbron skaars is.

Volgens hom is die hoeveelheid seep, sjampoe en chemiese skoonmaakmiddels (steurstowwe) wat maandeliks in die Hartbeespoortdam beland gelykstaande aan 1 000 vragte van drietonvragmotors! Alles natuurlik afkomstig uit huise en industrieë geleë in die opvangs­gebied van die dam.

Weerkundiges waarsku dat droogte soos die afgelope twee jaar in die Kaap, die “normale” patroon van die toe­koms gaan wees.

Beperkte kwantiteit water en onrusbarend lae kwa­liteit water weens besoedeling voorspel landswyd groot druk op bruikbare watervoorraad.

Gelowig en groen

Die radio-nuusberig vermeld kortliks dat by die COP12-byeenkoms, een van dié grootste in die naam van wilde diere, in Manila daarvan kennis geneem is dat die “groot katte” se oorlewingstatus nou “kwesbaar” is.

Dit sluit die leeu in wat ons mos as die “koning” van die diereryk beskou. Vir talle wildtuinbesoekers is ’n blik op dié sinnebeeld van dapperheid, krag en onoorwinlikheid ’n gekoesterde hoogtepunt. In Spreuke 30:30 word hy beskryf as “die magtigste van al die diere wat vir niks stuit nie”.

Dat hy nou weerloos staan teen ons, die mens wat sy habitat stelselmatig vernietig en hom stroop vir die gebruik van sy liggaamsdele, is bykans ondenkbaar. Tog is sy getalle op ons vasteland van ±200 000 ’n eeu gelede tot die huidige ongeveer 2 000 verminder en sy spesie in 62 Afrikalande totaal uitgewis. Eish!

Dié hartseer prentjie laat ’n mens nogal wonder oor waarop die ongebreidelde bevolkingsgroei en die gevolg­like grondbesetting ten koste van die integriteit van die skepping afstuur.

Gelowig en groen

Gewone programme en nuusberigte help ons om fyner te kyk en te luister na die welstand al dan nie van planeet aarde.

So word daar op 12 Desember 2017 in ’n nuusberig op RSG gemeld dat die Wêreldbank voortaan nie meer olie- en gasontginning gaan ondersteun en befonds nie maar slegs projekte wat daarop gemik is om hernubare energie te verskaf deur gebruikmaking van die son en wind.

Dit herinner aan die opmerking van die ekonoom Dawie Klopper in ’n finansiële program op dieselfde radiostasie vroeër die jaar dat sonkrag in die VSA fossielbrandstof as hulle vernaamste energieverskaffer verby gesteek het. Skitterende nuus!

Die skadelike gevolge van fossielgedrewe elektrisiteitsopwekking sluit nie net grootskaalse lug-, grond- en waterbesoedeling in nie, maar ook die uitputting van die beperkte onderaardse bronne. Inderdaad stem bogenoemde ontwikkelings in die VSA en Wêreldbank ons tot nadenke oor ons eie energieverbruik en -bronne in sonnige Suid-Afrika.

Gelowig en groen

Tussen talle draers van eko-nuus soos webwerwe, tydskrifte, pamflette, boeke en konferensies, is die daaglikse nuusberigte wat koerante, TV en radio in ons huise indra, seker die toeganklikste bron van inligting oor die welsyn van ons planeet.

In dié verband sou ’n oplettende waarnemer ’n verskuiwing bemerk het: Waar die nuus tot in die verlede vir baie jare gedomineer was deur drie aktuele temas, te wete politiek, finansies en misdaad, met so dan en wan ietsie oor die weer en een of ander besondere natuur-verskynsel, het dié prentjie nou verander.

Omgewingsnuus, veral oor natuurrampe en ekstreme weerstoestande waaronder storms, droogtes, tornado’s, brande, ongekende maksimum- en minimum-temperature, is vir die laaste paar jaar prominent deel van hoofberigte.

Onrusbarend, ja, want ons wil ons mos graag afgrens van minder goeie nuus; tog is daar gelukkig ook hoopgewende berigte tussenin. Boonop word ons ook op die hoogte gehou van belangrike tendense.

Gelowig en groen

’n Hart wat warm klop vir die omgewing, is uiters belangrik, maar ongelukkig is dit nie genoeg as dit nie opgevolg word met ’n eko-oog en -oor wat fyn kyk en luister nie.

Daarsonder is die kans goed dat ons goeie bedoelings met die aarde en ons roeping om dit te versorg heeltemal kan ontspoor. ’n Sprekende voorbeeld hiervan is klimaatsverandering: Die meeste van ons is erg besorg oor die skadelike effek daarvan, tog hou ons onwetend vol met ’n lewenspatroon wat dit vererger.

Bewustheid van die toestand van ons planeet is gelukkig binne bereik van ons “gewone” mense en nie eksklusief die terrein van kundiges nie – daarvoor sorg die gemaklike vloei van inligting via die verskillende kommunikasiemediums.

Deur kennis te neem daarvan kan elkeen van ons ’n redelik volledige prentjie vorm van wat aan die gebeur is en wat gepaste ingryping van ons verg.

Gelowig en groen

Robert Nengwekhulu, water- en omgewingskonsultant, sê: “People ask me why I am so obsessive about water conservation. I ask them if they have children.”

Die verbruikersweergawe van “Carpe diem” is: “Eien jouself so vinnig, soveel moontlik toe, ongeag die konsekwensies.”

Om uiteenlopende redes is onmiddelike behoefte-bevrediging ’n saak van dringendheid vir sowel super welvarendes altoos op soek na opwinding, sowel as vir desperaat armes op soek na middele om te oorleef. Daarom kan ’n visie op die welstand van die nageslag verdof of heeltemal verdwyn.

In hierdie verband geld die eko-wysheid van Charles Birch: “The rich must live more simply so that the poor [toekomstige generasies] may simply live.”

Om ’n gestroopte, besoedelde, toksiese, wispelturige en karige planeet aan hulle na te laat waarin hulle ’n waardige bestaan moet probeer maak, is om die minste te sê ongevoelig en gewetenloos. Is dit nie hoe ’n eko-hart Spreuke 16:8 verstaan nie?

Gelowig en groen

Die Oranjerivier het afgekom en die Vrystaatse vrou was een van vele wat na die skouspel van die Augrabies-waterval kom kyk het. In antwoord op die vraag van die omroeper na haar gewaarwordinge, sê sy in ademlose verwondering: “Ek besef hoe groot God en hoe klein ek is.”

Verwondering – ’n skaarserwordende emosie in die verbruikersamelewing. Dit lyk of ons in ons frenetiese geskarrel na die bopunt van die suksesleer en die gepaardgaande gejaag na materiële rykdom net nie tyd of energie daarvoor het nie – geen wonder nie dat God in ons tyd toenemend kleiner en die mens al groter geag word.

Dawid staar in verwondering na die glansryke hemelruim – diep onder die indruk van die grootheid van die Here en die onbenulligheid van die mens. Luisterend na sy getuienis in Psalm 8:2-4 wonder ek of ons, toe ons verwondering verloor het, nie iets uiters kosbaars kwytge­raak het nie.

Gelowig en groen

Die Duitse teoloog Jürgen Moltmann waarsku dat die skei­ding wat ons maak tussen God en aarde, kan lei tot ’n godlose siening van die natuur en ’n natuurlose siening van God – ’n beskouing wat noodwendig rampspoedige eko­logiese gevolge inhou omdat die aarde dan uitgelewer word aan menslike willekeur. 

’n Eko-hart verstaan dat volgens die Skrif, God en aar­de onlosmaaklik verbonde is: Hy het die wêreld geskape (Gen 1), onderhou dit op ’n daaglikse basis (Ps 104:27-30), is diep daaroor begaan (Ps 36:6-7), maak Hom daarin bekend (Jes 11:9); sluit dit in in sy heilsverbond (Eseg 36) en les bes, herskep dit in Christus (Ef 1:10).

Omdat dit só is, weet die eko-hart, leef ons in sy Skepping met eerbied, dankbaarheid en opmerksaamheid om iets van sy teenwoordigheid daarin raak te sien. Daarom treur eko-harte wanneer die aarde onnadenkend deur die mens beskadig, besoedel, uitgebuit en ekosisteme en spe­sies selfs vernietig word – veral waar dit gedoen word uit selfsugtige motiewe.

Gelowig en groen

“Pas op,” sê Jesus, “en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie” (Luk 12:15). Kenmer­kend van die verbruikersamelewing waarvan ons deel is, is gierigheid, dit wil sê die begeerte na meer goed.

Die voortgang van die verbruikersekonomie vereis dat mense steeds meer koop. Die reklamewese oortuig ons vin­dingryk dat geluk in die oorvloed van jou rykdom lê – presies waarteen Jesus waarsku.

Feit is dat jou besittings jóú kan besit, bedoelend daarmee dat jou hart so in beslag geneem word deur materiële rykdom dat daar nie meer plek is vir betekenisvolle, le­wensverrykende en kostelose(!) aktiwiteite nie, soos om: in die natuur en saam met vriende te ontspan, tyd met jou gesin te bestee … Gevolglik ontaard ons in eensame, angstige, selfs depressiewe wesens wat rondskarrel om geluk te vind en boonop grootskaalse ekologiese skade aanrig.

Gelowig en groen

Jesus se woorde “Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” vra na die belyning van ons lewensprioriteite met sy wil – ’n saak van die hart dus. Drie insigte is nodig vir die kweking van ’n eko-hart:

Eerstens, in die vreugde om vir die aarde te sorg. Sy voorsien onselfsugtig alles wat ons benodig om te leef: grond, water, suurstof, warmte, minerale – daarom is dit lou­ter vreugde om uit dankbaarheid aan haar terug te gee;

Dan, in die voorreg van roepingsvervulling. God plaas ons as sy verteenwoordigers in sy skepping – omgewingsorg is dus ’n onlosmaaklike praktiese deel van ons aan­bid­ding;

Laastens, in die verpligting teenoor komende geslagte. ’n Stukkie eko-wysheid lui: Ons beskik nie oor die aarde om daarmee te doen wat ons wil nie, nee, ons leen dit van die generasies ná ons om dit ongeskonde aan hulle terug te besorg.

Gelowig en groen

Welkom terug ná die afgelope feesseisoen waartydens jy hopelik goed gerus en ook ’n gawe ervaring in die natuur gehad het. Vandag begin ons ’n nuwe reis waarvan die mikpunt ’n persoonlike (dieper) betrokkenheid by om­ge­wingsorg is. Daarvoor is nodig:
1. Die kweking van ’n eko-hart. Daarmee word bedoel ’n grondige waardering vir die skepping en ’n verstaan van ons eie plek in die groter prentjie;
2. Die ontwikkeling van eko-oë en -ore, dit wil sê ’n fyn ekologiese ingesteldheid en raaksien van wat besig is om te gebeur in die skepping; en natuurlik
3. Geoefende eko-hande en -voete, dit wil sê ’n aktiewe persoonlike betrokkenheid by omgewingsorg ten einde ’n verskil te maak.

Nou ja, hier gaan ons, maak vas jou sitplekgordel – mag dit ’n opwindende rit vir ons almal tot die beswil van die aarde wees!