Conette le Roux

Diaconia se VKO-droom word ’n werklikheid

Die diensgroep Diaconia in Wes-Kaapland se droom om ’n verskil in Suid-Afrika te maak deur vroeëkinderontwikkeling, is nou ’n werk­­lik­heid.

Só vertel ds Nioma Venter, PSD vir Diaconia, oor hul eenheidsbediening saam met die VGK wat hande met gemeentes en ander vennote vat om kleuters ’n kans te gee om hulle volle potensiaal te bereik.

In ’n tydperk van ’n jaar is daar reeds 173 speelgroepies op die been gebring wat strek oor die Wes-Kaap, Suid-Kaap, Noord-Kaap, Klein-Karoo en die Karoo.

Sedert 2016 het Diaconia ’n vennootskap met Smart­Start, ’n nie-regeringsorganisasie wat die droom deel om deur die ontwikkeling van kleuters ’n langtermynverskil te maak.

SmartStart bied vir “SmartStarters” gratis opleiding, speelgoed, leerdermateriaal, hulpbronne, inhoud vir werkswinkels vir ouers, ’n daaglikse program, ondersteuning en lisensiëring volgens SmartStart se stelsel, verduidelik Nioma. Diaconia dien as franchisor vir SmartStart in die Wes-Kaap.

Diaconia se rol is om gemeentes te inspireer om betrokke te raak in die fasilitering van ’n plaaslike SmartStart-proses en dan dié platform missionaal te gebruik.

“Die ideaal is om ’n champion in ’n gemeente te identifiseer wat die projek sal dryf. Ons help met die assessering van die gemeente se ideale plan van betrokkenheid en bly dan deurlopend in die proses betrokke,” sê Nioma.

“Een van ons mees onlangse mooi verhale is dié van Willem Janse van Rensburg, die koster van die VGK in Laingsburg. Dit is alreeds uitsonderlik dat ’n man as speelgroepleier opgelei word. Willem meen egter dat hy hierdeur weer ’n nuwe doel in sy lewe ontdek het. Hy het sy hele huis uitgeverf, verfraai en ingerig vir sy speelgroepie en is te oulik met die kinders!”

Nog ’n vennootskap is met Nal’ibali, ’n nie-rege­rings­organisasie wat help met die vestiging van voorskoolse leesgroepe, gesluit.

Volgens Nioma is 49 leesgroepe reeds deur kerke en hulle lidmate op die been gebring.

Nioma deel nog ’n mooi storie: “Een van die groe­pies wat my hart warm laat klop is ’n afgetrede onderwyser van Rawsonville wat weekliks ’n speelgroepie besoek en vir hulle lees. Dié kindertjies praat op ’n ma­nier van die oom wat kom lees wat ’n mens net laat besef watter positiewe waarde die blootstelling oor kultuurgrense vir hulle het.”

Nioma wil gemeentes aanmoedig om betrokke te raak. “Hier is ’n dinamiese bedieningsgeleentheid wat feitlik ten volle befonds word deur die vennootskappe wat Diaconia namens die kerk gesluit het en bestuur.” Indien jy betrokke wil raak, kan jy ’n e-pos na nioma@kaapkerk.co.za stuur.

Touwsrivier begin die pad na eenheid stap

Toe die NG gemeente Touwsrivier onlangs vir ds Andrew Esterhuizen van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) bevestig het, het hulle onwetend kerkgeskiedenis gemaak. Conette le Roux het by dié Karoogemeente gaan kuier en meer uitgevind oor die proses van moontlike hereniging met die VGK op die dorp, wat ’n weg vir ander gemeentes in Suider-Afrika kan aandui.

erkhereniging gaan nie gebeur as mense nie besluite neem soos Touwsrivier nie,” sê die VGK dominee wat saam met sy nuwe gemeente in Touwsrivier kerkgeskiedenis maak.

Op 23 Julie 2017 het ds Andrew Esterhuizen die eer­ste VGK dominee geword wat ’n leraar van ’n NG gemeente “in die volle sin van die woord” geword het.

“Die eerste opdrag wat ek het, is om gewoon predikant vir die gemeente te wees. Pastor, herder, leraar waar die normale werksaamhede van ’n predikant ingesluit is. Soos om op Sondae te preek, siekebesoek te doen en ander pastorale take.”

Volgens Andrew is dié deel van die opdrag juis wat sy pos so uniek maak. VGK leraars is al voorheen in die NG Kerk aangestel vir spesifieke take, maar nog nooit om as herder die NG lidmate te bedien nie.

“My tweede opdrag is om die gemeente se visie om ’n multikulturele gemeente te wees, te help verwesenlik. Dit beteken dat Touwsrivier oop is vir almal in die gemeenskap, maak nie saak van watter kerk nie. Maar dis tog ’n spesifieke opdrag om met die VGK op die dorp een te word. Die bedoeling met die tweede opdrag is dat ek kontak moet opbou met die VGK en moet vasstel of hulle hierdie droom om in die een dorp een gemeente te vestig, deel. Ook om vas te stel of hulle bereid is om die pad saam te stap sodat daardie droom ’n werklikheid kan word.”

Volgens Andrew het die nuwe tussenorde, wat dié twee kerke wil help om saam te reis en deur albei kerke se algemene sinodes goedgekeur is, juis dié unieke gebeurtenis moontlik gemaak. Hy vertel die NG gemeen­te en VGKSA in Wynberg se poging tot hereniging in 2008 het skipbreuk gely omdat dié tussenorde nie in plek was nie.

Wanneer jy Andrew uitvra oor sy gevoel om betrokke te wees by só ’n geskiedkundige gebeurtenis, is hy baie nederig. Hy beskryf homself as bloot ’n “begenadigde” in hierdie unieke proses.

“Die kerkraad het ’n kans gewaag om die eerste stap te neem na ’n droom wat wyd gedeel word in die NG Kerkfamilie,” het hy onlangs op dié Karoodorp in sy ken­merkende sagte stem gesê. “Ek is eintlik net hier om die gemeente te help.”

Skuins oorkant Andrew sit Gerhard du Toit wat die afgelope 16 jaar reeds voorsitter van Touwsrivier se kerkraad is. Hy vertel toe hulle ’n VGK dominee be­roep het na hulle gemeente, het die kerkraad nie vir een oomblik besef hulle maak geskiedenis nie. Dit was vir hulle vanselfsprekend, sê hy.

“Toe die vorige leraar bedank, was dit ’n groot skok. Toe het die situasie hom voorgedoen dat ons iemand moet beroep. So het ons vir ds Gielie Loubser van Gemeentebegeleiding gekry om met ons te kom praat. En die dag toe Gielie vra hoe ons sal voel om iemand van die VGK te beroep, was dit doodeenvoudig van al ons lede slegs ’n kopknik. Die kerkraad het nie een oom­blik getwyfel dat dit die regte ding is om te doen nie. Kleur was beslis nie ter sprake nie, solank hy hulle multikulturele droom kon help verwesenlik.

“Wat nou gebeur, is vir my ook ’n nuutjie. Die toekoms van ons kerk lyk vir my nou baie meer rooskleurig as die afgelope 16 jaar. Ons moet hierdie geleentheid omarm. Ek het geen twyfel daaraan dat dié proses gaan werk nie. Andrew het gekom om die voetwerk vir die NG Kerk en VGK in Suid-Afrika te doen.”

Die groot draaipunt

Gerhard woon al die afgelope 42 jaar op Touwsrivier. Wanneer hy terugdink, sê hy hulle gemeente het reeds lank terug besef hulle en die VGK hoort saam. Volgens hom kom die aanloop na dié beroeping eintlik al ’n lang pad. “Hoekom moet ons swaarkry terwyl ons bymekaar hoort?” sê dié finansiële adviseur. “Jy weet, hierdie ‘hulle’ en ‘ons’ het my nog altyd gepla. Beide gemeentes hou al jare lank gereeld saam nagmaal.

“Die laaste 11 jaar is daar ook nie meer net blanke lidmate in die kerk nie. Daantjie Prins, ’n bruin ouderling by Touwsrivier, is byvoorbeeld reeds agt jaar in dié amp. Hy sê eenvoudig hy ‘hoort hier.’”

Maar die groot draaipunt vir albei gemeentes en vir die dorp het gekom toe die Spoorweë in die 90’s uit Touwsrivier onttrek het. Gerhard skets die prentjie: “Binne ’n kwessie van drie maande het sowat 300 ge­sinne die dorp verlaat. Hierdie dorp se woonhuise het leeg gestaan. In ’n stadium het net elke vierde, vyfde huis se ligte gebrand.”

Dít beteken lidmate het weggetrek om elders te gaan werk en die oorblywende, ouer lidmate is uiteindelik ouetehuis toe. Dit alles het daartoe gelei dat bydraes aan die kerk afgeneem het.

Gerhard du Toit, voorsitter van Touwsrivier se kerkraad. “Ons was baie haastig om Andrew te bevestig. Toe ek die derde aand met Pinkster moet preek, het ek gevoel ek crack,” het Gerhard, wat eintlik ’n besigheidsman is, tydens ’n ligte oomblik opgemerk.

“In die besigheidswêreld is vernuwing en verande­ring so moeilik. Want jy het soveel mense wat daarteen skop. Maar dit is ’n middel tot voortbestaan. Ek het dit ook nou in die kerk ervaar. As jy nie bymekaar staan en bymekaar gooi ter wille van oorlewing nie, gaan ons dit ook nie maak in die kerkopset nie. Ek sien geen ander toekoms vir die NG Kerk en die VGK as om een te wees nie. Ons kan nie wegkom daarvan nie.”

Die prentjie van die Touwsrivier-gemeente lyk taamlik donker. Daar is slegs 140 belydende lidmate. Volgens Andrew het die VGK-gemeente reeds lankal nie meer ’n predikant nie en word sowat een keer per maand deur hulle konsolent, ds Malcolm James, bedien. Anders staan lidmate in.

Die pad na eenheid

Volgens Andrew volg hy basies twee benaderings om dié droom ’n werklikheid te maak. “Die een is om deur die amptelike kanale kontak te maak en van daar om die dinge amptelik te doen. Die tweede is ’n organiese benadering om soos geleenthede ontstaan en hulle voor­doen, dit te benut. Dit is dikwels in dié toevallige geleenthede en ontmoetings wat daar baie betekenis­volle verhoudings gevestig word en dit ontwikkel dan in groeipunte en gee energie wat mense opgewonde maak oor wat kan gebeur.”

Soos ’n toevallige ontmoeting met ’n VGK lidmaat toe Andrew ’n pastorale besoek gebring het aan ’n NG lidmaat nadat haar pa oorlede is. “Ek kry toe ’n boodskap dat die buurman oorkant die pad graag met my wil gesels na my besoek. Die buurman het toe vir my gevra of ek na my preek by die NG Kerk nie by hulle wil kom preek op ’n Sondag nie. Hier in ’n onbeplande gesprek, vra gewone lidmate oor moontlikhede. Hulle sien dus nie struikelblokke nie, maar geleenthede waar ons met mekaar kan saamwerk.”

Wat die formele proses betref, vertel hy hy het onlangs met die ringskommissie van Worcester, waarvan Touwsrivier deel is, ontmoet.

“Ek het hulle iets vertel van die droom van die NG gemeente op Touwsrivier en die moontlikheid dat ons dit wil ondersoek. Dié ringskommissie was baie opgewonde daaroor en het dit voorgedra tydens die ringsitting en aanbeveel dat die ring hierdie poging ondersteun.”

Intussen het hy ook al met Malcolm, konsulent vir VGK Touwsrivier en leraar by VGK Worcester-Suid, gesels. “Ons het ’n goeie gesprek gehad en hy is heeltemal ontvanklik vir die idee om gesprekke te voer.”

Malcolm het by navraag gesê hy is baie positief oor die hereningsproses, maar voel dit moet nie aangejaag word nie. “Ek en Andrew gesels eintlik al ’n geruime tyd oor dié visie en droom. Maar, ons moet nie haastig wees nie. Dit moet met versigtigheid deurgetrap word, want die wonde van die verlede lê nog diep.”

Intussen het Andrew ook met die VGK Touwsrivier se kerkraad gaan gesels en die kerkraad was glo positief oor ’n gesprek om eenwording te ondersoek. Die plan is dan om ’n taakspan aan te stel wat die proses verder sal begelei, sê hy.

Oor sy ervaring by Touwsrivier tot dusver is Andrew “aangenaam verras”. “Ek is so verras deur die hartlikheid en openheid waarmee ek ontvang is in die gemeente. So asof daar absoluut geen mure tussen ons is nie. Ek word ontvang as die dominee van die gemeente. Ek voel tuis, ek voel deel. Mense praat met my oor intieme dinge wat beteken ek word aanvaar as pastor. As versorger van mense. Dit laat my voel dat mense nie net die diens wat ek lewer nie, maar vir my as mens aanvaar.

Andrew lag. “As alle VGK-predikante in die NG Kerk só ontvang word, sal VGK-kerkrade mooi met hul predikante moet werk om hulle te behou.

“Ek voel tuis waar ek is. Ek glo dis die regte plek vir my om nou te wees,” sê Andrew wat 26 jaar predikant in die VGKSA gemeente Kraaifontein was. Gerhard sê vinnig: “Mense raak onmiddellik lief vir Andrew. Hy is so passievol oor sy werk.”

Andrew besef tog dat daar wel uitdagings sal wees. “Mense wil dikwels hê dinge moet dieselfde bly al is daar nie ’n volhoubare toekoms nie. Mense het persepsies en vooroordele van mense wat anders is. Ek voel nie ongemaklik daaroor nie en ons hanteer dit soos dit kom. Eintlik deur blootstelling aan mekaar sal ons leer die ander mag anders wees, maar ons deel dieselfde waardes.

“Die uitdaging is wanneer mense van ’n laer ekonomiese klas deel word van ’n middelklas-gemeente dat mense daarmee sal sukkel om mense te integreer en om te aanvaar. Maar dis hoekom ek hier is – om daarmee te help.”

Kyk video hier

Karwagte kry ’n ‘pratende Bybel’

Vir ’n handjievol karwagte, van veral die Kongo en Bu­rundi, is die lang dag in die son deesdae ’n bietjie draagliker. Hulle kan nou na die Bybel in hulle eie taal luister terwyl hulle motors oppas by die Tygervallei-winkelsentrum.

Soos vir Nembona Fernando (25) wat in 2015 uit Bu­rundi gevlug het as gevolg van die geweld wat daar voortduur. Dit beteken dat hy nie eens ’n Bybel by hom gehad het toe hy die land verlaat het nie.

Gelowiges met “’n hart vir Afrika” wat elke Saterdag ’n kerkdiens vir dié groep karwagte hou, het van Goeie Nuus Media (GNM) te hore gekom. En so het dié bediening van Bybel-Media ingestem om aan van die kar­wagte oudio-Bybels in Frans, Swahili (Kongo, Tanzanië en Kenia), Engels, Kirundi (Burundi) en Kinyar­wan­da (Rwanda) te skenk.

Volgens dr Hennie van Deventer, hoof van die be­die­ningsafdeling by Bybel-Media, is dit Envoy-spelertjies van Megavoice waarop óf die volledige Bybel gelaai is, óf slegs die Nuwe Testament. Dié spelertjies word gewoonlik aan ongeletterde, blinde of swaksien­de mense gegee, wat moontlik is as gevolg van donasies.

Stephen Ndiadia, ’n pastoor van Redemption Ministries wat in 2003 van die Kongo gekom het, en Cesco Swa­nepoel van Logos Christian Church in Bellville stap al ’n geruime tyd ’n pad saam met dié manne. Hul­le vertel dat hulle elke Saterdag ’n preek in vyf tale vir die karwagte voorberei en ook notas skriftelik aan hulle gee. Die idee is dat die karwagte dan weer die bood­skap gaan deel by die huis.

Vir dié karwagte is dit lekker om deel van ’n geloofs­ge­meenskap in die vreemde te wees en bring die “pratende Bybeltjie” hoop.

Nembona sê terwyl Stephen tolk dat hy die Here net kan prys dat Hy hom hier na ’n omgewing van gelowiges gelei het. Toe hy in 2015 uit sy tuisland ge­vlug het is hy in Botswana in die tronk gestop. Eers na ’n jaar en ’n half het ’n man moeite gedoen en ’n tolk gekry sodat hy Nembona kon verstaan. Voor hy vrygelaat kon word moes sy familie by die huis eers 200 Amerikaanse dollars probeer insamel. Hulle kon op die ou einde nie daarin slaag nie, maar het toe die oorblywende bedrag geld geleen. “Dit is hoekom ek hier in Kaapstad is. Sodat ek die skuld wat my familie moes aangaan, kan afbetaal.”

Juma Saidi (27) van die Kongo is die afgelope ses maande ’n karwag. Hy vertel hy het as ’n Moslem groot­geword. Nadat sy pa oorlede is het sy ma weer ge­trou met ’n stiefpa wat hom nie liefgehad het nie. “Ek het soos ’n weeskind grootgeword en moes vir myself sorg. Hulle het my uiteindelik weggejaag.” Sy le­wenspad het na Burundi en ook na Tanzanië geloop waar hy ’n Christenvrou ontmoet het. Hy sê dié vrou het hom saam kerk toe gevat en hy het uiteindelik daar tot bekering gekom. Maar toe sy Moslemfamilie uit­vind dat hy tot bekering gekom het, moes hy vlug vir sy lewe. “Ek prys die Here, want iemand wat my nie eens ken nie het my uiteindelik gehelp om na Kaapstad te kom.

“Ek is baie opgewonde oor die Bybel,” sê Juma terwyl hy reeds die spelertjie begin uittoets. “Dit gaan my help om die Bybel te leer wat ek nog nie goed ken nie.”

Ismael Ndayishima (27) is ook ’n vlugteling uit Burundi. Sy politieke betrokkenheid het hom gedwing om dié onstuimige land te verlaat. Hy vertel hy het in ’n Christelike huis grootgeword, maar het in ’n stadium die Moslemgeloof aangeneem om by ’n maatskappy te kon aanbly in Tanzanië. “Maar ek het elke oggend wakker geword en geweet ek het ’n fout gemaak.” Hy kon dit nie volhou nie en het uiteindelik na Johannesburg en toe na Kaapstad gekom omdat sy broer ook hier woon.

Met ’n groot glimlag hou hy die oudio-Bybel by sy oor en sê: “Terwyl ek nou so luister onthou ek die By­bel­stories wat my ouers as kind vir my vertel het.”

– Stuur ’n e-pos na hennie@bmedia.co.za vir meer inlig­ting en navrae oor Goeie Nuus Media.

Vonkk-liedere nou ook in braille

“Dié twee boeke het nie sommer uit die lug geval nie,” lag Susan Muller, braillemusiektranskribeerder by Pionierdrukkery oor VONKK, die laaste korpus gereformeerde kerkliedere wat nou in braille beskikbaar is.

Schalk Hugo, hoof van dié nie-winsgewende orga­ni­sasie in Worcester wat skoolhandboeke, musiekstukke en -vraestelle vir blindes brailleer en druk, verduidelik dat die braillering van musiek ingewikkeld is.

“Dit neem sowat ’n maand om ’n wiskundehandboek klaar te maak. Jy benodig kundiges wat die boek kan brailleer en dan ’n siende en ’n blinde proefleser wat almal vergoed moet word. Met musiek is die prentjie effe donkerder omdat die persone ook oor substantiewe musiekkwalifikasies moet beskik.”

By die braillemusiekafdeling in dié gebou in Worcester verduidelik Susan, die enigste persoon wat dié tipe werk in Suid-Afrika kan verrig, hoe die VONKK-liedere na braille omgeskakel is.

Sy vertel hulle doen werk slegs op versoek. Nadat Susan ’n versoek vir VONKK in braille ontvang het van­af Susan van Wyk, ’n blinde persoon wat vir Blind SA in Johannesburg werk, het hulle die nodige toe­stem­ming by Bybel-Media gekry en die bal aan die rol gesit.

Daarna het Susan die enkelreëlmusiek na braille omgeskakel. “Hier is my Bybel,” sê Susan toe sy na die duidelik gebruikte internasionale reëlboek vir die omskakeling na braille wys.

Die volgende stap is die “proefleespaar”. Mor­ne van der Merwe is blind en het mu­siek aan Universiteit Stellenbosch geswot voor hy hier kom werk het. “Ja, VONKK is deur ons hande,” lag hy. Mor­ne lees die musiek hard­op terwyl Mada Engelbrecht, ’n afgetrede musiekonder­wy­se­res, elke noot op die oor­spronk­like musiek nagaan.

Vir albei is hulle werk ’n plesier. “Vir my is dit net ge­nade om op dié ouderdom voltyds te werk en só my musiekagtergrond te benut,” sê Mada.

Morne, ook ’n orrelis, voeg by: “Behalwe dat ek myself verryk, maak ek dit ook vir ander blinde musici moontlik om musiekstukke self te interpreteer.”

Ds Faani Engelbrecht, bestuurder van Bybel-Media Musiek, sê: “Ek het altyd gedink dat braillering net ter wille van die blinde lidmaat is. Nou besef ek dis ook ter wille van die siende lidmaat wat bedien word deur die blinde orrelis. En daar is ’n hele paar.

“Bybel-Media Musiek is trots op die besondere samewerking en spesiale verbintenis wat ons met die Pionierdrukkery gebou het.”

Die Liedboek en Flam is onderskeidelik in 2003 en 2016 gebrailleer.

Opstande: ‘Kerke moet proaktief wees’

Kerke moet proaktief betrokke raak in gemeenskappe om opstande te voor­kom, sê dr Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuie­nis.

Dit kom na ’n vlaag opstande in kleiner gemeenskappe die afgelope ruk waarvan die Overbergse dorpie, Kleinmond, onlangs onder gewelddadige beto­gings deurgeloop het.

Hanekom het betrokke geraak by onderhandelings in dié kusdorp.

Volgens Hanekom het gemeenskapsleiers mense gevra om te betoog nadat ’n tender aan ’n persoon in Hermanus toegeken is. Die betogings het hand uit geruk nadat misdadigers ook betrokke geraak het en winkels en geboue geplunder is, is op Net­werk24 berig.

Hanekom het verduidelik dat dié tender eintlik net “’n vonk in ’n kruitvat” was. “Dit was eintlik net arm mense wat totaal hoop verloor het.”

Volgens Hanekom was die gemeenskap ook ontevrede oor, onder meer, ’n gebrek aan grond om geliefdes te begrawe, die feit dat daar nie ’n volledige hoërskool is nie en die tekort aan ligte vir sekuriteit in informele nedersettings.

Aanvanklik het Hanekom met die hulp van dr Chris Malan, leraar van NG gemeente Kleinmond, kerkleiers in die omgewing bymekaar gekry om saam te bid en in gesprek te tree.

Nadat Hanekom ’n noodroep gestuur het na die provinsiale regering, het Dan Plato, die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, hom genooi om betrokke te raak by die onderhandelings.

Hanekom voeg by: “Dit was egter veral met die latere inisiatiewe van plaaslike kerke dat die gemeenskapsleiers se ‘vyandigheid’ algaande verander het na hoop en samewerking.”

Die leiers het ook nou versoek dat die kerke voortaan saam met hulle met die munisipaliteit sal vergader.

Volgens Hanekom wag hulle vir terugvoer van die munisipaliteit maar is hulle besig om ’n “gemeenskapsforum” te stig wat alle betrokke rolspelers, bruin, wit en swart, in die gemeenskap sal verteenwoordig.

“Ek glo kerke moet proaktief werk en gemeenskapsforums in hulle gemeenskap­pe op die been bring. Daar is nie genoegsame kohesie in gemeenskappe nie, daarom is dié forums uiters belangrik.

“Ek het gevind mense is bereid om na die kerk te luister. Dit verg net moed en oortuiging om die foon op te tel en betrokke te raak.”

Ruimtes van stilte

Ds Marié Britz wil haar merkwaardige stiltereis met ander deel. Sy sien haar roeping om ruim­tes van stilte te skep waar mense God kan ontmoet. Nie net in haar bedie­ning nie, maar ook by die retraiteplaas wat sy en haar man, Stephan, in 2018 open. CONETTE LE ROUX het met haar gesels.


“Ons leef al meer in ’n post-kerklike tyd. Daarom wil ek alternatiewe ruimtes skep waar mense God kan ontmoet,” sê ds Marié Britz, predikant by die Moedergemeente in Stellenbosch.

Nie net in haar rol as predikant nie, maar ook vir men­se wat nie deel van gemeentes en geloofgemeen­­skap­pe is nie.

Sy sê: “Ek sien my rol in die bediening as iemand wat ander wil help om God in hulle lewe en die wêreld raak te sien.”

En wanneer sy namiddag die pad aandurf na ’n plaas buite Stellenbosch, met Tafelberg aan die een kant en die Bolandse berge en Bottelary-heuwels aan die ander, werk sy en haar man, Stephan, aan Anathoth – ’n retraiteplaas wat in 2018 sy deure geluidloos gaan oopgooi.

Anathoth is ’n plaas wat Pat Stephenson, ’n Amerikaanse vrou, in 1997 gekoop en aan die Anathoth Trust geskenk het. Die uitsluitlike doel was om die plaas vir Christelike retraites aan te wend. Pat het die eerste paar jaar die plaas self be­stuur maar is op 83 weer terug Ame­rika toe om by haar familie te wees. Pat is vandag al 91.

Stephan het in Junie 2016 die bestuur van die plaas oorgeneem en die Britz-familie het Stellenbosch in Desember 2016 vir dié plaas verruil.

“Ons leef in ’n besige, opper­vlakkige tyd. Stilte help ’n mens om God se stem te hoor en dieper met jouself en God te reis,” sê Marié.

Sy het dit ook aan eie lyf ge­voel ’n paar jaar gelede.

Eerstens het sy twee miskra­me gehad en ook ’n persoonlike krisis oor haar roeping ervaar. “Ek het in ’n stadium gedink: ‘Ge­nade, waar is ek. Is dít werklik waar die Here my wil hê?’”

In dié tyd het haar man ’n hart­aanval op 42 gehad en moes hul­le as gesin deur finansiële kri­sis­se worstel.

Dié jare beskryf Marié as ui­ters moeilike jare, maar ook haar “mees vormende jare”.

Richard Rohr, ’n Katolieke priester van die Franciskaanse orde, sê net twee dinge gee ’n mens opregte ontmoetings met God: Verwondering (wonder) en ver­wondheid (suffering).

Dit het vir haar ’n realiteit geword.

In 2006 het prof Denise Ackerman vir haar ’n geestelike begeleier geword en voorgestel sy moet ’n 7 dag-retraite in Constantia bywoon. “Hier het die verhaal van die blinde Bartolomeus myne geword. Die skille het van my oë afgeval. Ek het ’n diep bewustheid van my eie gebrokenheid ervaar. Ek het ook my diepste iden­ti­teit in God ontdek as geliefde kind. As jy besef daar is niks wat jy kan gee of bied nie, besef jy dat God jou net uit genade liefhet. Ook in jou gebrokenheid.”

“Sedert 2006 het jaarlikse retraites en stil dae deel van my en Stephan se lewensritme geword en stilte ook deel van my daaglikse ritme.”

In 2015 het Marié ook die voorreg gehad om ’n 30 dae-retraite van totale stilte by te woon.

St Beuno’s, ’n Jesuïtiese spiritualiteitsentrum by ’n ou klooster in Noord-Wallis, was vir haar ’n plek van “stilte, afsondering en eenvoud”. Die retraite het ’n daaglikse ritme gehad met spesifieke geestelike dissiplines maar elke aand het jy weggedraai van jou eie reis en vir ander gebid. En dan vra jy jouself elke aand: “Waar was God vandag?”

St Beuno’s beoefen die geestelike dissiplines van Ignatius, ’n Spaanse soldaat wat teoloog geword het nadat ’n kanonkoeël hom eers ses maande lank bedlêend gemaak het. Hy was ook ’n tydgenoot van Martin Luther. In dié tyd het hy besef hy wil Jesus volg en toe hy gesond is het hy 40 dae in ’n grot in die woestyn gaan woon waar dié oefeninge ontstaan het in sy soeke na God.

Dit is hierdie geloofsgewoontes, wat Marié gehelp het om God werklik te beleef, wat sy nou aan ander wil oordra.

“Party mense dink ’n retraite is ’n luukse, maar as jy uitvind wat dit vir jou beteken, besef jy dit is ’n nood­saaklikheid.”

Marié en Stephan se droom is om Anathoth bekos­tigbaar en toeganklik te maak vir alle mense.

“Ons wil nie ’n elitistiese plek skep wat ontoeganklik is vir mense wat dit nie kan bekostig nie. Ons wil eerder ’n retraiteplaas hê waar almal sal welkom voel en weet dat ons gelyk is voor God – ongeag ons agtergrond, denominasie, taal, kultuur of finansiële vermoëns,” sê Stephan.

– Navrae oor Anathoth kan gerig word aan anathoth@stillebosch.co.za

Ignatius-spiritualiteit in NGK

Marié is baie opgewonde oor die oplewing van spiritualiteit in die NG Kerk. Volgens Marié het ons “uitstekende voedsel” (teologie), maar benodig ons net “skeplepels” (maniere om dit te verteer). Sy sê: “Dit is nie alleen kennis van God wat ons verander nie, maar die ken van God wat ons dikwels leer in die gebruik van geloofsgewoontes soos Bybellees, stilte, gebed, geestelike begeleiding en diens.” Sy glo retraitesentrums en spiri­tualiteitsbeoefening wil ons juis hiermee help. Marié is daarom nou besig met ’n doktorsgraad oor Ignatius-spiritualiteit. 12 NG predikante gaan 18 maande lank deel van haar navorsingstudie uitmaak. Hulle gaan drie 10 dag-retraites bywoon en terugvoer gee oor in watter mate dié geloofs­oefeninge kan bydra tot ’n meer geïntegreerde missionale spiritualiteit.

Dorkas-se-plek belê in mense

In ’n kerkkombuis in Stellenbosch kook ’n klomp mense tot die donker van werkloosheid en armoede verdwyn. Dorkas-se-plek doen spyseniering, maar hulle wins is nie in Rand nie, maar in die belegging wat in mense gemaak word. CONETTE LE ROUX vertel.


Op ’n Woensdagmiddag woel ’n klomp vroue in die kombuis van die NG gemeente Stellenbosch-Wes.

Roosterbroodjies en burgers word flink voorberei, want die dansskool is elke weeksdag in die kerksaal. Dit beteken goeie besigheid vir Dorkas-se-plek, wat spyseniering doen en verversings verkoop.

Klein dogtertjies in tutu’s kan net-net oor die toonbank loer om ’n koeldrank of pakkie skyfies te koop. Mammas sit en wag by tafels met ’n drinkding of ’n broodjie.

Sommige kinders kom direk na skool vir hul dans­klas en is honger, vertel Magdaleen Erasmus later in haar kantoor.

Magdaleen is ’n maatskaplike werker en kliniese berader wat ’n kantoor by die kerk huur. Sy is deel van die kerk se barmhartigheidsdiens en het sowat twee jaar gelede Dorkas-se-plek saam met Settie de Koker tot stand gebring.

’n Gereelde verskynsel in haar praktyk het Mag­da­leen genoop om te probeer help.

“Ek het verskeie jong- en middeljarige mense in my praktyk gesien wat werkloos is. Hierdie mense is almal in die eerste plek verwys met een of ander emosionele of maatskaplike probleem. Nadat hulle berading ont­vang het, was die probleem van werkloosheid nog altyd daar. Dit is geweldig demotiverend om sonder ’n werk of inkomste te wees. So ’n situasie lei ook gewoonlik na gevoelens van hopeloosheid en hulpeloosheid en kan uiteindelik tot depressie aanleiding gee. Hierdie leemte in die hulp aan mense op ’n holistiese manier het gelei tot dié idee.”

En mense moet altyd eet, so daarom het hulle op ’n spysenieringsbesigheid besluit, vertel Magdaleen.

Ma en dogtertjie: Rikie-Louise en haar dogtertjie Claudi Nel. Rikie-Louise sit en wag gereeld met ’n koppie tee by Dorkas se restaurant terwyl Claudi dans.

Die naam van die projek, wat deur ’n lidmaat gekies is, is uiters gepas. Die verhaal van Tabita, of Dorkas in Grieks, in Handelinge 9 was die inspirasie. Haar huis was ’n plek waar behoeftige mense bygestaan en gehelp is. Daarom heet die projek, wat deel vorm van die kerk se barmhartigheidsdiens, Dorkas-se-plek. Hier word mense wat as gevolg van “psigo-sosiale proble­me” nie werk nie, opgelei en werk gegee.

Behalwe om ’n weeklikse loon aan werkers te betaal, ontvang die werknemers ook berading en die werkers se gesinne word ondersteun. Lewensvaardighede en die bou van elkeen se selfbeeld kry baie aandag, sê Magdaleen.

Die projek is ook nie op wins ingestel nie, maar ploeg die geld terug in aankope en die werknemers se betaling.

Magdaleen verduidelik sy help hulle ook om deurentyd aan ’n “Eksodus-plan” te werk. Die plan behels hoe hulle weer terug in die gemeenskap gaan aanpas en werk. Wanneer die individue kans sien om “buite” werk te soek, word hulle ook van getuigskrifte voorsien.

Hulle werk ook nou saam met die ACVV, Straatlig (’n bediening aan haweloses) en Abba (Badisa se projek wat gesinne ondersteun wat deur middelafhanklik­heid geraak word), sê sy. Daar is ook verhoudings met psi­giaters en beraders van staatsinstansies wat hulle dienste gratis aan Dorkas bied.

Intussen het daar ook vier ander vrywilligers van die gemeente betrokke geraak. Linda Koetsier is verantwoordelik vir die spyskaart, Adele Alberts vir die snoepie, Annelie van Velden is die kombuisbestuurder en Colleen Carinus bestuur die skoonmaakdiens. Saam tree almal op as bestuurders van die projek om sodoende te help om in mense se toekoms te belê.

Die skoonmaakdiens het ontstaan nadat Stellenbosch-Wes se vorige skoonmaker daar weg is. Die kerk betaal nou die skoonmaker se salaris aan Dorkas en behalwe vir hulle spysenierswerk is die werkne­mers ook nou verantwoordelik vir die skoonmaak van die kerk en die saal-kompleks.

“Dis uiters prakties. Die werkers is vir agt ure elke dag op die perseel om voor te berei en skoon te maak na begrafnisse, die dansklasse, opleiding ensovoorts.”

Volgens Magdaleen het die projek die afgelope jaar baie uitgebrei en is hulle verantwoordelik vir die spy­se­niering van begrafnisse en ander funksies, maar ook daaglikse etes.

“Daar is ’n weeklikse spyskaart wat na omliggende besighede en individue gestuur word om etes te koop.”

Spaghetti Bolognese, beeskerrie met rys en salsa, hoen­derpastei en ander resepte pryk op hulle spys­kaart.

Maar Dorkas se doel het eintlik min met hulle lekker kos te make. Dit is om werklose mense wat dikwels sonder hoop is, weer in hulleself te laat glo.

’n Belegging in mense

Dorkas-se-plek getuig reeds van talle sulke sukses­stories. Dar was byvoorbeeld ’n polisieman wat bedank het weens werkdruk. Hy het vir ’n tydperk by Dorkas gewerk.

“Ons hele doel is om mense hulle menswaardigheid terug te gee sodat hulle weer buite in die samelewing kan funksioneer. Vandag is hy ’n sekuriteitsbeampte in Mosambiek. Hy kom loer gereeld in. Hy het nou die dag selfs vir ons ’n yskas geskenk om dankie te sê vir wat ons vir hom gedoen het.”

Annemarie Joubert was skottelgoed voor hulle toemaak vir die dag.

Tot dusver is daar vyf persone wat gevoel het hulle is reg om Dorkas te verlaat. “Drie werk in die arbeidsmark en pas baie goed aan. Een is nou ’n entrepreneur en die ander se situasie is onseker op dié stadium,” sê Magdaleen.

Dit is moeilik om die “uitset” te meet, maar hulle sien Dorkas as “’n belegging in die ontwikkeling en be­magtiging van mense”.

In die Dorkas-kombuis is daar tans vier werkers wat floreer in hulle omstandighede. Twee van hulle is enkelouers en hulle lone hier is die enigste inkomste vir die gesin.

Dr Almatine Leene, predikant by Stellenbosch-Wes, sê dis lekker as die kerkgronde juis vir sulke doel­eindes gebruik word. “Kerk-wees is iets wat elke dag gebeur in ons daaglikse gebeure. Die lewe is nie mak­lik nie, en as jy ook nie werk het nie dan is dit nog moeiliker. Ek dink dit sal beslis ook werk vir ander NG gemeentes. Ek is diep dankbaar dat ons as gemeente ’n verskil in mense se lewe kan maak, nie net op ’n geestelike vlak nie maar juis ook as dit gaan oor werk. In ons land is daar groot sosiaal-ekonomiese pro­bleme en dit is wonderlik as die kerk dit op ’n manier kan beveg. In ons gemeente se getuienisskrif staan dat ons lewende lote wil wees en ek glo Dorkas-se-plek getuig daarvan.”

Settie, wat verantwoordelik is vir Dorkas se finansies, sê: “Dorkas het my oë, ore en hart oopgemaak vir mense met baie seer wat sukkel om buite aan te pas. As ek terugkyk na die twee jaar sien ek mense wat gegroei het en dankbaar is vir wat hulle by Dorkas kry en ervaar. Alle eer aan Hom.”

Handelinge 9:36 is geraam en hang in die restaurant. Hier wil hulle ook soos Dorkas se huis, ’n plek van hoop wees vir moedelose mense.

Vir Magdaleen is haar inspirasie Johannes 15:16: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.”

“Ek glo vas dat die saad wat by Dorkas gesaai word, nie net tydelike verligting sal bring nie, maar standhoudend sal wees.”

‘Ek het nie geweet watter kant toe nie’

nnemarie Joubert (19) werk sedert Mei vanjaar by Dorkas-se-plek. Sy vertel sy het einde 2016 by Stellenzicht Hoërskool in Stellenbosch matriek ge­slaag, maar kon nie werk kry nie. Haar omstandighede tuis is ook nie ideaal nie.

“Ek het nie geweet watter kant toe nie. Ek het net by die huis gesit en was baie depressief. Ek het so sleg oor myself gevoel.”

Die vrou vir wie haar ma in die huis werk het haar na Magdaleen verwys. Magdaleen het terapiesessies vir Annemarie aangebied en uiteindelik voorgestel dat sy by Dorkas kom werk.

“Dit het regtig baie vir my beteken. Ek het nie voorheen geweet hoe om met mense te werk nie. Nou kan ek al die orders vat.

“My droom is om speurder óf maatskaplike werker te word. Ek wil mense se lewe ver­ander. Magdaleen is besig om my met aansoeke te help sodat ek volgende jaar kan begin.”

n Vroegoggend-trein na hoop

acqui Beckett (50) bestuur die Dorkas-kombuis al sowat twee jaar. Sy werk al jare in die gasvryheidsbedryf. Trots vertel sy dat sy ook vir ’n tydperk by die Kasteel in Kaapstad met spyseniering gehelp het. Sy stry al jare teen mid­delverslawing en is in ’n stadium na Mag­da­leen verwys. Só het sy haar “happy place” uiteindelik gevind.

Jackie en haar agtjarige laatlammetjie staan elke oggend 4:00 op om ’n vroegoggendtrein van­af die Paarl na Stellenbosch te haal. Volgens Magdaleen borg die ACVV Jacqui se dogtertjie se skoolfonds.

“Ek is al deur so baie saam met die mense hier by Dorkas. Maar ek kon nie vir ’n beter on­der­steuningsgroep gevra het nie. Magdaleen en my kollegas is wonderlik. Ek het op dié ouderdom uiteindelik ’n plek gevind wat maak dat ek 4:00 wíl opstaan,” vertel sy laggend.

Volgens Magdaleen het hulle besluit om Jacqui as kombuisbestuurder by Dorkas te hou, aan­gesien sy so bekwaam is.

Ons kan steeds Christenskap in skole uitleef

Christenskap kan steeds in openbare skole uitge­leef word, solank billikheid en regverdigheid geskied.

Dít was ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, se boodskap op 27 Augustus by die NG gemeente Durbanville. Dié ge­sprek rakende godsdiens in openbare skole in Suid-Afrika volg nadat daar onsekerheid was oor die hof­uitspraak wat in Junie vanjaar hieroor gemaak is.

Die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demo­kra­sie (Ogod) het die hooggeregshof versoek om ses skole, wat hulle met die Christelike geloof verbind, se godsdiensbeleid ongrondwetlik te verklaar. Die hof het egter nie die aansoek om interdikte toegestaan nie, maar geoordeel dat dit nie billik sou wees teenoor leer­ders van ander godsdienstige oortuigings as ’n openbare skool hom sou beskryf as ’n Christenskool of Moslemskool nie.

Janse van Rensburg sê dat hy onder meer by oud­regter Albie Sachs gaan aanklop het rakende die grond­wet se bepalings oor gods­diens in skole.

Die regter het in sy uitspraak bevestig dat ons grondwet nie ’n sekulêre grondwet is nie, maar ruimte bied vir die uitleef van jou geloof in staatsinstellings. Die beoefening van godsdiens moet egter altyd billik wees en vrywillige deelname is ’n vereiste. Die uitspraak beteken dat uitwaartse tekens wat ’n godsdiens­tige identiteit aan ’n openbare skool koppel, onaanvaarbaar is.

Janse van Rensburg het sy verduideliking met ’n paar voorbeelde toegelig: ’n Skool mag steeds ’n Chris­te­like opening hê, maar terselfdertyd moet daar ook met billikheid as maatstaf vir ander godsdienste ’n ope­ning soos moontlik gereël word. Skole kan steeds ’n godsdiensperiode hê en ’n leerkrag kan steeds van­uit sy/haar geloofsperspektief met leerders praat. Wanneer die voorreg vir ’n Christen gegun word, moet dit natuurlik ook vir leerkragte van ander godsdienste geld. Hierdie sake moet in die skool se beheerliggaam se godsdiensbeleid uitgespel word.

Geld dié hofuitspraak ook vir skole, wat hulle tot an­der gelowe verbind? was ’n vraag uit die gehoor.

“Dit geld vir álle openbare skole,” het Janse van Rensburg gesê.

Hy het die gehoor aangemoedig om dié uitspraak as ’n “uitdaging” te sien, en nie as ’n “bedreiging” nie. “Die uitdaging is om só te leef dat mense van ander godsdienste ons geloof begeer. Dit is ’n begeerlike ge­loof.”

Jan Slabbert, ’n ouer op die beheerliggaam van Hoër­skool Durbanville, het gesê: “Ek het vanaand ge­leer ’n skool is nie ’n Christelike skool omdat dit op die web­blad staan nie. Jy moet dit lééf.”

Dié moeder van ‘mamas’ lééf haar geloof

Prof Elain Vlok glo sy het nog báie werk op aarde om te doen. In haar persoonlike lewe, maar ook in Khayelitsha, Ashbury, Mdantsane, Tembisa, Montagu of waar ook al die Mama Afrika-projek haar lei. Want sy doen en dien met dankbaarheid. CONETTE LE ROUX vertel haar storie.


Prof Elain Vlok, ’n lidmaat van NG gemeente Randburg-Suid, onthou dikwels haar oorlede suster se woorde: “Lainie, jy het nog werk op die aarde om te doen”.

Sy het vroeg reeds haar ouers en later haar broer én twee susters aan kan­ker afgestaan. Ook haar man, Deon, is vyf en ’n half jaar gelede oorlede. En sy self veg ook teen die Groot K.

Maar die pas waarteen Elain, wat tans met haar derde doktorsgraad in korporatiewe kommunikasie besig is, doen én dien, het nog nie een dag verswak nie.

“Ek het nooit dat my persoonlike issues soos gesondheid of verlies aan my gesin my lewe beïnvloed nie – my familie sou dit ook nie wou hê nie. Ek is op hierdie aarde met ’n doel geplaas.”

Elain en mama Rosemary Machogo van Mangaung buite Bloemfontein rangskik blomme.

Sy is die bestuurder van Clover se korporatiewe dienste en die Mama Afrika-projek is haar breinkind. Dié projek, wat sy die afgelope 13 jaar reeds bestuur, be­mag­tig vroue om na mishandelde, verwaarloosde vigswesies en bejaardes om te sien.

Tot dusver is 43 “mamas” en 2 054 individue opgelei. Hulle statistiek bewys dat 15 500 kinders reeds positief deur hierdie vroue aangeraak is.

Vir Elain is hulle ook háár kinders: “Ek sê vir almal ek is nie ’n ma nie, maar ek het die voorreg om ma te wees vir die meer as 15 500 kinders na wie al my Mama Afrikas kyk!”

Die opleiding van die mamas behels die aanleer van talle vaardighede. “Ons gee hierdie vroue die nodige hulpmiddele, opleiding en vaardighede om aktiwiteite soos naaldwerk, broodbak, mosaïek, haarsalonne en selfs sweiswerk te leer doen waar­mee hulle ’n inkomste kan verdien vir hulle sentrums,” verduidelik Elain.

Dit is vir haar ook “ongelooflik lekker” omdat die vaardighede wat hulle vir die vroue aanleer, ’n verlengstuk van haar eie passies is. En dié lysie is lank.

Sy bak graag vrugtekoeke, doen professionele blommerangskikkings en is ’n gekwalifiseerde Bio-sculpture-naeltegnikus. En dan droom sy boonop van verpleegster-wees en om ’n haarkapperkursus te doen.

Vanjaar het sy verskeie vetkoekbak-, melktertbak- en vrugtekoekbakkursusse vir dié vroue aangebied. Vir mamas, hulle werknemers of nuwe werknemers nadat vorige werknemers besluit het om groener weivelde te soek, verduidelik Elain. Dít beteken haar taak hou nooit op nie.

Maar dit pas haar. “Jy kan nooit wegstap nie. Ek is soos ’n druppende kraan en hou die hele tyd kontak. Ons hou ook gereeld kompetisies waar die vroue groot pryse kan wen wat hulle aanmoedig.”

Sy het vanjaar ook reeds duisende kilometers afgelê om 26 van dié mamas te besoek. En sy besoek boonop elke mama drie keer per jaar.

Mamas op ’n sonskyn-missie

Soos mama Mirriam Makamu van Tembisa wie se broodbakbesigheid bykans vervierdubbel het. Haar permanente personeel het van 11 na 21 vermeerder en haar oorspronklike huisie is in ’n bakkery omskep. 

Haar bynaam is nie verniet “Elain-lekkerlag” nie.

Mama Nondumiso Mpitimpiti van Amalinda Forest net buite Oos-Londen het van uit die staanspoor hard gewerk en ’n groot prys ontvang om haar sentrum uit te bou met ’n teetuin. Elain sê haar bakkery doen ook baie goed. 

Selestien Moses (37) van Montagu doen reeds die afgelope 15 jaar werk in haar gemeenskap. Haar passie vir die gemeenskap is gebore uit haar eie seerkry, vertel sy. Nadat sy jare gelede twee keer haar babas verloor het, het sy vir die Here gevra wát die doel vir haar seer is.

Selestien sê die Here het vir haar ’n stuk in Nehemia gegee, waar die opdrag gegee word om vroue en weduwees te voed.

Elain kyk saam met mama Florence Nyakiso van Botshabelo, ’n informele nedersetting buite Bloemfontein, na haar groentetuin.

Sy is in 2007 aangewys as ’n mama en sedertdien bied sy naaldwerkklasse aan, bestuur sy ’n bakkery wat ook werk skep vir gemeenskapslede, doen spyseniering én help kinders met hulle huiswerk by haar nasorgsentrum.

Selestien sê: “Ek glo die Here het my uitgekies om sonskyn te wees daar waar dit donker is.”

Elain sê dis juis dié vroue, wat in hulleself begin glo en sodoende lig in hulle gemeenskappe bring, wat haar die brandstof gee om voort te gaan.

“Hulle belangrikste eienskap is hulle onselfsugtigheid, want hulle gee die bietjie wat hulle het en deel alles wat hulle het, met ander. Nie almal sal hulle huise vir vreemdelinge beskikbaarstel, kos, klere en liefde so mildelik gee soos ons Clover Mama Afrikas nie. Hulle kinders is ook wonderlik gedissiplineerd en menige ouer sal met verbasing toekyk hoe ordelik en ordentlik die kinders is wat by die mamas se sentrums is.

“Elkeen van hierdie vroue het ’n eie persoonlikheid en die wonder is hoe ek hulle gevind het, gesien verander het en hoe sterk elkeen is en vandag sonder skroom hul vrou kan staan en waarlik bemagtig is.”

Die engele op haar pad

Dit is nog ’n wonder dat Elain tyd kry vir alles wat sy met soveel passie doen.

“As jy iets gedoen wil hê, gee dit vir die besige mens,” lag Elain.

“Ek streef daarna om goed te doen, in my werk en in my persoonlike lewe, by die kerk … ek probeer oral net my beste gee en doen.”

Natalia Visagie, ’n predikant by Elain se gemeente waar sy ouderling is én in die kerkkoor sing, sê dit is vir haar merkwaardig in hoe baie mense Elain belê, wat weer op hulle beurt in ander belê.

“Ek is ook aangeraak deur die feit dat haar Christenskap in die werksplek uitge­leef word. Haar Christenskap word nie aan- en afgeskakel vir Sondag voor kerk nie, maar word juis aangevuur wanneer sy die erediens verlaat en haar wêreld binnegaan. Dis hoe dit hoort. Ek vermoed baie gelowiges leef nie noodwendig hul Christenskap elke dag uit nie omdat hulle nog nie die volle identiteit aangeneem het nie. Elain bring Christus vir mense deur die wyse waarop sy genade en liefde vir alle mense wys. 

“Sy is een van die min mense wat ek ken wat ’n hele feesmaal sal opkook om Kersfees vir die sekuriteitswagte by haar kompleks spesiaal te maak.”

Elain kuier by mama Sibongile Ndwandwa van Ubombo-kinderhuis in Zoeloeland.

Wanneer Elain oor haar ouerhuis en ma gesels, is dit baie duidelik waar háár inspirasie vandaan kom.

“Ek kom uit ’n huis waar ek aangemoedig is om dinge te ontdek, om te doen en ek dink dit het my veral gehelp. ’n Kind wat ’n goeie selfbeeld het, kry alreeds ’n wonderlike geskenk.”

Maar dis haar ma se voorbeeld en liefde wat haar vandag steeds staande hou.

“My oorlede ma was ’n ystervrou, ’n regte lady wat ongelooflik hard kon werk en vir alles ’n oplossing gehad het.  Sy het vir almal gegee en sy kon alles doen. Sy het in my geglo en ek sal haar nooit wil teleurstel nie. Ek hoor steeds haar stem as sy my aangemoedig het, ek voel haar liefde en aanraking en dit hou my staande. Sy het geglo en die beste geskenk wat sy my kon gee was my geloof in Hom en in myself.”

Elain sê sy sien bewustelik ook die engele op háár pad raak.

“Ek lewe ’n lewe van dankbaarheid, en is ongelooflik gelukkig en geseënd. Ek is alleen maar nooit eensaam nie, ek het so baie engele op my pad. My mamas, my vriende en oud-studente, my kollegas, my kerk, ag almal om my maak net my lewe een groot plesier en ek kom niks kort nie. 

“My Vader is voor my, langs my, oral met my en ek volg net – dit is maklik, want ek weet op wie ek kan vertrou. Ek is op ’n wonderlike plek in my lewe en ek hoop dat met die liefde en aandag wat ek aan ander gee, mense ietsie van sy groot liefde in my ook kan sien.”

Andrew Murray wou tot seën wees

“Omdat Andrew Murray sr gewillig was om gehoorsaam te wees aan God en na Suid-Afrika te kom, ontvang ons steeds die seën.”

So het emeritus-predikant Eugene Louw, ’n Andrew Murray-nasaat, by die onlangse Andrew Murray-tee by die Kweekskool in Stellenbosch gesê. Dié geleenthede word kwartaalliks gehou en die keer was dr Isabel Murray, navorser by die NG Kerk Argief, ver­antwoordelik vir die samekoms en reëlings.

Lizette Murray, vrou van George wie se oupagrootjie Charles Murray was (een van Andrew Murray jr se broers), het die oorsprong van dié seën gedeel wat met die geslagte oorgedra is.

Met Andrew Murray sr se aankoms in Tafelbaai in 1822 moes die Arethusa-skip vir ’n paar dae in die hawe voor anker lê.

“Andrew Murray het na Tafelberg en die wye Afrika-kontinent gekyk. Hy het besef dat hy waarskynlik nie weer sou terugkeer Skot­land toe nie en dat Afrika sy tuiste gaan word. Daar word ver­tel dat hy homself aan Abraham se roeping herinner het en dat hy – terwyl hy op die dek staan – gebid het dat God hom asseblief op hierdie kontinent moet seën, sodat hý tot seën kan wees. Hy het ook gebid vir die vrou wat God aan hom sal gee en dat sy nageslag – indien hy kinders sou hê – ook tot seën vir ander sal wees.”

Andrew Murray sr is toe getroud met die 16-jarige Maria Stegmann en die bekende Andrew Murray jr – predikant, kerkvader en skrywer van Wellington – was hulle tweede oudste seun van elf kinders.

Prof Hendrik Bosman, dekaan van die Fakulteit Teologie, het gesê hy hoop die stories en staaltjies wat vandag hier gedeel word, sal dien as verdere inspirasie in die nasate se verskeie bedienings en leefwêreld.

Vir Laurette Murray (66), wat voorheen getroud was met ’n af­stammeling van Andrew Murray jr se broer George, is dié ont­moe­tings ’n absolute inspirasie vir haar geloofslewe. “As jy die spore volg waarvandaan die nasate kom kan jy nie help om geïn­spi­­reer te wees deur hulle sterk geloof nie.”

Marieta du Plessis (79) van die Strand se oupagrootjie was Andrew Murray jr se jongste boetie George. “My pa was ook predikant. Hy het ’n ontsaglike voorbeeld as gelowige gestel. En as jy dink Andrew Murray senior het die hele Vrystaat plat gery met ’n perdekar om huisbesoek te doen toe hy predikant in Graaff-Reinet was!”

Dr Willie van der Merwe, rektor van Hugenote Kollege, het ook tydens die geleentheid kom terugvoering gee oor die beplan­de Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington. Volgens hom sal die eerste fase, waarin Huis Samuel omskep sal word in blyplek vir retraitegangers, vroeg in 2018 afskop.

Geld vir KB-Kersfonds, vra intekenaar met 100ste verjaarsdag

Kerkbode se oudste intekenaar het onlangs met die viering van haar 100ste verjaardag ’n spe­sia­le versoek aan haar gaste gerig. Vergeet van geskenke, skenk eerder geld vir die Kerkbode se Kersfonds, was haar versoek.

Dirkie Fourie, ’n inwoner van Ametis-aftreeoord in die Strand, het voor haar verjaarsdag besluit sy het tog nie geskenke vir haarself nodig nie. Die geld moet vir kinders in tehuise gaan, was haar wens.

Nadat haar familie besluit het om vir haar twee partytjies te hou met dié groot dag – een vir die inwoners van haar aftreeoord en een vir familie – is haar versoek met uitnodigings aan die gaste oorgedra, het haar seun, dr Pieter Fourie, verduidelik.

Dirkie Fourie tydens haar 100ste verjaarsdag. Foto: Sulet Fourie

Die inwoners van die aftreeoord is op 10 Junie deur die Kaapse mezzo-sopraan, Minette du Toit-Pearce, bederf.

Op haar verjaarsdag, 11 Junie, het haar kinders, klein­kinders en agterkleinkinders saam met haar fees gevier by die Erinvale-landgoed in Somerset-Wes. By albei geleenthede het gaste graag hulle beursies vir dié goeie doel oopgemaak.

R4 200 is uiteindelik aan Kerkbode se Kersfonds oor­betaal. Sy en Pieter het saam besluit Kerkbode se Kersfonds is die beste voertuig aangesien dié fonds ’n jarelange instelling is wat hul opbrengs onder sowat 32 kinderhuise verdeel.

Waarom lees “tannie Dirkie” steeds die Kerkbode? “Daar is dan gereeld die wonderlikste verhale in oor die verskil wat Christen- en kerkmense in die lewe van hulle gemeenskappe maak,” sê sy.

“Die lewe skuld niemand van ons iets nie. Maar dit is wonderlik as ons terug ontvang nadat ons maar net gehoorsaam aan die Here ons medemens gedien het,” is haar raad aan ander.

“En verder glo ek dit is ons as Christene se verantwoordelikheid om te sorg dat geestelike lektuur kan voortbestaan deur daarop in te teken, soos in die geval van Kerkbode en LiG-tydskrif.”

Dit gaan oor brûe, nie mure nie

Die moderatuur van Wes-Kaapland het onlangs ’n groep jong predikante op ’n geskiedkundige reis geneem sodat hulle saam kon droom “van­uit hul historiese wortels” oor die toekoms.

Die reis het begin by die Groote Kerk in Kaapstad, waaruit meer as ’n 1 000 gemeentes oor die jare ont­staan het.

Later het die groep van 29 predikante saam met die moderatuur vanaf die Nelson Mandela Gateway-museum na Robbeneiland vertrek, vertel ds Charl Stan­der, skriba van die sinode.

Op die eiland het twee begeleide toere, ernstige ge­sprekke en nadenke gevolg waarna hulle in die tronk oor­nag het.

“Om stories te hoor wat ons eie stories uitdaag, verruim en verryk, was absoluut transformerend. Nuwe insigte is gedeel en ’n blik op die pyn van die verlede het ons erg ontwrig. Maar dit het ons gehelp om wortel te skiet in ons geskiedenis en ons uitgedaag om as kinders van Afrika ons identiteit helder uit te klaar en ons roeping in hierdie land beter te artikuleer,” sê Stander.

Een van die jonger predikante was diep geraak deur die toergids, Itumeleng Makwela, wat self sewe jaar lank ’n politieke gevangene op die eiland was.

“Itumeleng se broosheid en intense seer het ’n bewustheid by my gekweek dat daar genesing lê in tyd, ja, tyd leer en tyd gee perspektief. Nou sit ek in die Karoo terwyl die windpomp saggies in die agtergrond lê en fluister. Gebombardeer met frustrasies van die verlede, maar tog vasgevang in die hoop wat net God bied,” sê ds Fritz Kotze van Fraserburg.

Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die sinode, sê die metafoor van Robbeneiland is “dik mure van skeiding”. Maar dié jong predikante weet húl roeping het te doen met brûe, nie mure nie, sê hy.

“Ons het nou nuwe verbeelding nodig vir die inbreek van die koninkryk in ons tyd. Ons jong dominees is gereed daarvoor – nie oorversekerd met al die antwoorde nie, maar gereed om brûe te bou, gereed om te dien, gereed om te lei.”

Susterkerk toon gebaar van omgee na ramp

Die Reformed Church in Japan (RCJ) het onlangs hulle solidariteit aan die NG Kerk getoon na die verwoestende brande wat die Suid-Kaap geteister het.

Volgens dr Stéphan van der Watt, predikant-sendeling van die RCJ, het hulle sinode se Diakonale Aksie-komitee tydens ʼn vergadering in Toyohashi eenparig besluit om ʼn onmiddellike bydrae van 500 000 JPY (sowat R58 000) aan die Wes-Kaapse rampfonds te maak.

Dit nadat hy die geleentheid gehad het om foto’s en inligting rakende die uitdagings na die brande by die vergadering te deel.

“Dis ’n diep gebaar van omgee en solidariteit, en ek is regtig dankbaar vir ons Japannese susters en broers se meelewing. Mag ons vennootskap (RCJ-NGK-familie) aanhou verdiep en groei – om mekaar se laste wedersyds te dra. Dit weerkaats konkreet God se sorg in ons lyding en nood!” sê Van der Watt.

Dr Gideon van der Watt, sekretaris van Missie Japan, het RCJ se bydrae as ʼn “wonderlike gebaar van Christelike deernis” bestempel. Grootliks omdat die RCJ nie ʼn groot kerk met baie lede is nie én omdat hulle self steeds besig is met noodverligting na die rampe.

In 2011 het ʼn ramp die RCJ geraak nadat ʼn massiewe aardbewing die noordoostelike kus van Honsjoe-eiland geskud het én ʼn reuse-tsoenami ontketen het wat sowat 15 903 lewens geëis het.

In dié tyd het Missie Japan ʼn rampfonds gestig en individue en gemeentes van die NGK het hul meelewing getoon deur sowat R1000 000 aan die RCJ te skenk om slagoffers te help.

“Na die onlangse Kyushu-ramp in 2016 het ons weer hulp gestuur, onder andere sodat teologiese studente vanaf Kobe Reformed Theological Seminary (waar Stephan dosent is) meer kere uitreike na die rampgebiede kon onderneem om daar noodlenigingswerk te gaan doen,” sê Gideon.

’n Stortvloed hulp aan Suid-Kaap se rampgebiede

Grootskaalse hulp, wat finansies en noodvoorrade insluit, het van regoor die land vanuit gemeentes en die gemeenskap gekom na die verwoestende brande in die Suid-Kaap wat plekke soos Knysna, Sedge­field en Plettenbergbaai getref het.

Volgens ds Nioma Venter, PSD: Diaconia in Wes-Kaapland wat ook verantwoordelik is vir dié sinode se rampfondsbestuur, het die Wes-Kaapse rampfonds teen Kerkbode se spertyd sowat R390 875 finansiële donasies ontvang. Dit sluit fondse uit wat direk by gemeentes wat geraak is se rekeninge inbetaal is.

Fondse in die rampfonds kom vanuit die gemeenskap en organisasies sowel as gemeentes. Die Vrystaat­se Sinode het daarbenewens R1 000 000 bewillig en ge­meentes van so ver as Brits, Moreletapark en die Kru­gerwildtuin het noodbesendings gekoördineer. Die Diensgroep Diaconia van Wes-Kaapland het ook ’n verdere R125 000 bygedra.

“Elke dag word die geld wat in die rampfonds inbetaal word, oorbetaal aan die Ring van George wat dit nou in oorleg met die gemeentes sal verdeel,” sê Venter. Die Ring van George is ’n buurring van die Ring van Knysna waar brande verwoesting gesaai het. Venter verduidelik die reëling is met die Ring van George getref omdat hulle nie hulleself midde-in krisisbestuur bevind nie.

Fisiese noodvoorrade word ook by versamelpunte, soos onder andere die Shofar-kerk in George en in boere se pak- en koelstore, geberg en uitgesorteer. Vry­willigers het tot dusver volgens behoefte wat van­uit die gebiede ontvang is, noodvoorrade na veral Knys­na en Plettenbergbaai aangery.

Ds Pieter van Santen, voorsitter van die Ring van George, het gesê dat hulle net op een dag ’n astronomiese 25 ton nood­voorraad ontvang het. “Ons het die VGK en NG do­minees gevra om kundige persone van­uit hulle gemeente saam te bring met wie ons gaan koppe bymekaar sit oor effektiewe verspreiding van die nood­­voorraad na Knysna en Plet­­ten­bergbaai.”

In Knysna is die grootste gevaar verby, hoewel se­ke­re gebiede nog smeul. Volgens Venter neem die mu­ni­sipaliteit van Knysna ’n leidende rol in die krisis. “Om samedromming by die NG gemeente se kerksaal te voorkom word noodartikels by die betrokke wyke afgelaai.”

Volgens Charmaine Smith, predikantsvrou van die Suiderkruiswyk-gemeente in Plettenbergbaai, het hul­le aanvanklik mense vanuit Kranshoek, ’n Griekwa-nedersetting, waar brand gewoed het in die kerksaal gehuisves. Later het hulle fokus na die brandbestryders geskuif toe die brand bedaar het.

Smith vertel die brandweerstasie is reg oorkant hul­le kerk en daarom kon dit nie anders as om hulle te help nie. “Op die oomblik bestuur ek met die hulp van my huishulp Zelda Pluim, ons gemeentelede en die Noor­derkruiswyk-gemeente ’n versorgingsentrum vir die brandbestryders. Hulle kan in die pastorie stort en ons neem vir hulle drie etes per dag. Ook asmapom­pies, oogdruppels en samboksalf.”

Teen druktyd het daar nog brande by die plotte in Harkerville en by die Kransbos-bosboustasie gewoed, sê Smith. Venter sê die gemeente in Plettenbergbaai het besef hulle kan nie alles doen nie, maar hulle gaan op iets fokus en dit góéd doen.

“Die groot ramp het my laat besef rampbestuur is nie ons elkedagse besigheid nie, maar gemeentes kan doen wat hulle kan met hulle beperkte vermoëns en steeds ’n reuse-verskil maak.”

Help só na Knysnaramp

“Verstommend!”

Só beskryf ds Pieter van Santen van die NG gemeente George-Tuinedal die “ongelooflike samewerking van die gemeenskap oor kerkgrense heen” nadat die onlangse Knysna-brand sowat 439 huise verwoes het.

Volgens Van Santen, voorsitter van die Ring van George, het Knysna al soveel noodvoorrade ontvang dat hul stoorruimte nou ʼn versadigingspunt bereik het. Daarom wil hulle diegene wat nog wil bydra vriendelik versoek om eerder ʼn finansiële bydrae te maak aan die NG Kerk in SA se rampfonds (sien onder).

Maar indien iemand steeds noodvoorrade wil stuur moet hulle dit eerder direk na George stuur waar dit gesorteer en gekanaliseer sal word, sê Van Santen.

“Hier is soveel mense wat wil help. Van mense wat help sorteer tot die boere in die gemeenskap. Hulle het hulle pak- en koelstore beskikbaar gestel waar ons voorrade ook sal berg,” sê hy.

Van Santen se gebedsversoek is dat daar vir logistieke hantering van noodvoorrade en goeie reën gebid sal word omdat verskeie gebiede nog na die brand smeul.

‘Ons glo’ wil gesinne help

Die Jeug- en Familiebediening van Wes-Kaapland het ’n paar nuwe inisiatiewe bekend gestel. Onder andere, ’n toep en webblad wat die 500 jaar van Reformasie herdenk.

Die Ons glo-toep, waarvan die inligting ook op ’n webwerf beskikbaar is, bied ’n reis deur die belangrike temas van die gereformeerde Christelike geloof, lui die Ons glo-webwerf.

“Met die herdenking van die 500 jaar van Reformasie wou ons opnuut gaan kyk na wat ons as gereformeerdes nou eintlik glo,” sê ds Anriëtte de Ridder, predikant in sinodale ­diens van die Wes-Kaaplandse Jeug- en Familiebediening.

“Hierdie is ’n dissipelskap-hulpmiddel wat deur kleingroepe, gesinne, kategesegroepe of individue gebruik kan word. Die 25 kerntemas word in die vorm van ’n Bybelstudie aangebied en die onderwerpe is gegroepeer rondom die vyf bakens van die Gereformeerde tradisie naamlik: genade, geloof, Jesus Christus, die Bybel en die spreuk ‘Aan God die eer’,” verduidelik De Ridder.

Elke tema bevat ’n inleiding, ’n teoloog se samevatting van die tema, ’n teksgedeelte, vrae, praktiese voorstelle hoe om die onderwerp te leef en gebedswenke.

Maar met hulle bediening se fokus op die gesin, sê De Ridder, is daar ook ’n tienergedeelte met ’n uitdaging of wenk vir tieners sowel as ’n gesinsfokus met ’n praktiese voorstel hoe om met kinders hierdie onderwerp verder kreatief te ontdek.

Nog ’n inisiatief, “dink jeug”, is ’n webwerf wat mense in die kerk weer wil aanmoedig om oor jeugbediening te dink. “Ek wil voorkom dat dominees heeltyd voor die rekenaar sit om kategeselesse te skryf, en met dié webwerf hulle tyd gee om meer te dink: Hoe­kom doen ons jeugbediening? Wat wil ek hiermee bereik?” sê De Ridder.

Sy sê predikante en jeugwerkers regoor Suid-Afrika deel graag op dié webwerf kategese-idees, kindermomente, jeugpreke, Pinkstermateriaal en vele meer en so word dit ’n same­wer­king vir vars idees.