Danie Mouton

Oos-Kaapse kerk help brandslagoffers

“As hulle nie nou reeds gevlug het nie, is hulle vandag sekerlik dood.”

Hierdie gedagte flits deur Lawrence Bernard se kop toe hy en Carol, sy vrou, net-net die grootpad haal. Hulle moes van hul plaas vlug, voor woedende vlamme, aangedryf deur ’n stormwind wat skielik skerp rigting verander het.

Terwyl hulle veiligheid haal, dink hulle aan hul bejaarde bure, oom Walter en tannie Myrna van der Riet. Sou hulle betyds kon wegkom?

Vir die Van der Riets was dit helaas te laat. Hoewel Myrna (72) ’n wanhopige oproep na familie gemaak het, kon niemand hulle bereik nie. Haar verkoolde liggaam is naby die motorhuis gevind, met oom Walter (73) wat ernstige brandwonde opgedoen en kort daarna oorlede is.

Lawrence en Carol Bernard het alles op hulle plaas verloor. Die woonhuis, met ’n leeftyd se kosbaarhede en herinneringe, is weg. Elke buitegebou en voertuig is verwoes. Hulle is platgeslaan.

Hulle was nie die enigste nie. In Junie 2017 het wind en vuur in die Loerie- en Thornhill-omgewing sowat 17 000 hektaar bos en plantegroei verwoes, woonhuise en geboue vernietig en lewens geëis. Wild het in groot getalle omgekom. Geboue van die privaatskool Woodridge Kollege is deels in puin gelê.

Een van die Bernard-egpaar se skure nadat dit deur die brand verwoes is.

Die gebied is tussen Port Elizabeth en Jeffreysbaai geleë.

Die brande het saamgeval met die soortgelyke verwoesting wat in Knysna, Plettenbergbaai en omgewing aangerig is.

Dit is nou maande later, maar die pyn lê nog vlak in Lawrence en Carol se oë en stemme. Die skok is nog nie heeltemal uit hulle gestel nie. Hulle kry swaar.

Hulle is ook dankbaar. Hulle lewe. Hulle kan weer ’n begin maak.

Ons gesels terwyl hulle ondersteuning in die vorm van twee watertenks en ’n elektriese pomp in ontvangs neem. Dit is deur kerkmense geskenk.

Vandag is 27 Februarie 2018, ’n pragtige windstil dag. Die son skyn heerlik neer op groen velde na onlangse reën teen die kusgebied. Die groen omgewing bring nuwe hoop na die trauma van die brand.

Rondom ons staan 52 vyfduisend liter watertenks wat met kerklike donasies aangekoop is. Meer as 25 waterpompe en waterpype lê voor ons.

“Sê asseblief dankie vir die mense wat ons nood raakgesien en so ruim gegee het. Ons is bemoedig dat mense ons nie vergeet het nie. Die kerk dink aan ons.” Vir hulle is dit salf vir die seer.

Ander omstanders, wat ook hul watertenks in ont­vangs neem, beaam die dank.

Gemeentes en lidmate van die NG Kerk het spontaan geld, kos en klere ingesamel vir die Sinode van Oos-Kaapland se rampfonds. Hoewel die grootste deel van die geld aan die Ring van George geskenk is, kon die sinode R225 000 bydra vir die slagoffers van die brande in Loerie, Thornhill en omgewing.

’n Stewige donasie is bykomend van Eskom ontvang.

Sommige van die slagoffers het krediet op hul koöpe­rasierekenings ontvang. Ander het watertenks gekry.

Die projek is deur ’n ouderling van Loerie-gemeen­te, Marius Blignault, en ’n komitee gekoördineer. Hulle het ’n deeglike opname gemaak en in oorleg met die boe­regemeenskap op gepaste hulp besluit.

‘Openbaring’ vra dissipelskap

READING REVELATION RESPONSIBLY, UNCIVIL WORSHIP AND WITNESS: FOLLOWING THE LAMB INTO NEW CREATION
Deur Michael Gorman

Cascade Books, 2011


Sommige boeke fokus jou lewe nuut. Reading Revelation responsibly, uncivil worship and witness: Following the Lamb into New Creation deur Michael Gorman is in my geval so ’n boek.

Openbaring is vir baie Christene ’n boek wat die eindtye voorspel. Ons weet daaruit hoe naby Jesus se tweede koms is. Ons kan uitwerk wanneer die wêreld eindig. Ander weet verseker wie vandag die Antichris is, en teken daarmee punte teen opponente aan.

Moenie die “wegraping” vergeet nie. Men­se dink gelowiges gaan weggeraap word, waarna oordeel oor die agtergelate ongelo­wiges losbars. ’n Hele reeks Left Behind-boe­ke dramatiseer hierdie fiktiewe projeksies.

Gorman skryf die boek uit empatie met mense wat slagoffers is van ’n skeefgetrekte uitleg van Openbaring. Hy kommunikeer op die vlak van gewone gelowiges.

Die eerste helfte van die boek doen moei­te om Openbaring se doel, inhoud, litera­tuur­soort en boodskap te beskryf. Foutiewe, sensasionele uitleg word afgewys.

Openbaring handel nie oor die Antichris nie, maar oor die lewende Christus. Dit pro­pa­geer nie wegraping uit die wêreld nie, maar getroue dissipelskap in die wêreld. Open­baring help ons om Christus beter te verstaan en te volg.

Die doel is om God se mense te versterk, veral in tye van krisis waar boosheid en verdrukking hoogty vier. Openbaring lei tot “uncivil worship and witness”, want Christene leef anders as die wêreld se maghebbers.

Openbaring teken Jesus pakkend as die Getroue Getuie, ondanks sy lyding en dood. Jesus is by sy volgelinge, die teenwoordige Here. Hy troos en daag ons uit. Hy is die Lam wat geslag is en nou as Lam saam met God regeer. Hy is soos die Vader ons toewy­ding, lofprysing en aanbidding waardig.

Jesus is ook die komende Here, wat God se bedoeling met die skepping vervul. Hy sal met die volk van God oor ’n nuwe hemel en aarde regeer. Vandaar die subtitel van die boek: Following the Lamb into New Creation.

Vir my is die tweede helfte van die boek die hoogtepunt. Hier blaai Gorman oorsig­te­lik deur Openbaring en vat die boodskap saam. Hy toon aan hoe grondig missionaal en eietyds-relevant Openbaring is.

God se pad met sy kerk en wêreld wys ge­weld af, maak nuut en eindig heerlik.

Dalk moet die laaste boek in die Bybel in ons eeu die eerste boek van ’n missionale kerk word.

▶ Ds Danie Mouton is ’n predikant van Port Eliza­beth.

Graaff-Reinet versoen na 9 dekades van skeuring

Op Graaff-Reinet in die Oos-Kaap het taalnasionalisme nege dekades gelede tot ’n kerkskeuring gelei wat die hele gemeenskap verdeel het. Nou is die wonde geheel, het daar versoening gekom en is die twee kerke weer een. DANIE MOUTON vertel die verhaal.


Geesdriftige handeklap begroet lidmate wanneer hulle by Nuwekerk op Graaff-Reinet uitstap. Dit is die erediens om die herstel van een­heid in Graaff-Reinet te vier. Hulle het in Nuwe­kerk begin, en stap nou straatlangs as simbool van een­heid na Grootkerk. Die erediens sluit daar af.

Christene van ander kerke staan weerskante van die straat. Hulle klap hande, is bly oor die eenheid en moedig die lidmate op die nuwe pad aan. Byna ’n eeu van skeuring en verdeeldheid kom vandag tot ’n einde.

Die datum is Sondag, 21 Januarie 2018. Nuwekerk, waar die erediens begin, is in 1927 as die Protesteren­de Gemeente Graaff-Reinet gestig. Dit was destyds die uit­einde van ’n bloedige kerkskeuring in Graaff-Reinet.

Christene van ander kerke, veral die Assemblies of God, staan langs die straat en klap hande as aanmoediging vir die lidmate op die pad van eenheid.

Vandag, vier geslagte later, word die era van verdeeldheid begrawe. Die verband word herstel met die trotse ou moedergemeente van Graaff-Reinet, sesde oud­ste gemeente van die NG Kerk in die vierde oudste landdrosdistrik in Suid-Afrika.

Die aanvang van die erediens in Nuwekerk se gebou was somber, met die trane wat vryelik vloei. Die ge­bou word vir die laaste keer as NG Kerk gebruik. ’n Era is verby. Terwyl lidmate handevat word Nuwekerk se gemeentelied die heel laaste keer gesing.

Tog is almal moedig. “Hereniging is die wil van God,” soos dr Trix Truter, leraar van Nuwekerk, pas in die erediens gesê het.

Die geskiedenis

Die NG gemeente Graaff-Reinet is in 1792 gestig. Toe die gemeente 30 jaar oud was, word ’n jong Skotse pre­di­kant in 1822 daar bevestig, ’n man wat die geskie­denis van die dorp diep sou beïnvloed, en wie se nage­slag die kerklike toneel in Suid-Afrika onherroeplik sou verander. Andrew Murray senior was 28 jaar oud en sou die gemeente vir 44 jaar tot 1866 bedien.

Ds Charles Murray, vierde seun van Andrew, predikant van 1866 tot 1904. Pa en seun het die gemeente vir 82 jaar bedien.

Hy is deur sy seun, Charles Murray, opgevolg. Charles was tot 1904 predikant van Graaff-Reinet.

Beide pa en seun het diep spore getrap. “Godsdiens­tig was Graaff-Reinet vir sy tyd ’n modelgemeente on­der die leiding van die Murrays,” skryf dr Schalk du Toit in sy boek oor die latere skeuring.

Naas die sierlike huidige kerkgebou, word Charles Murray se arbeid op die gebied van onderwys en die jeug beskou as die “ewigdurende monument” van sy be­diening. Twee skole het uit sy bediening ontstaan, en die Sondagskool (destyds ’n vereniging) is in 1879 deur 388 kinders bygewoon.

Siende dat die Murrays Skotte was, was die gebruik van Engels ’n natuurlike deel van hulle bediening. Die taalgroepe op die dorp het goed oor die weg gekom. Hoewel Nederlands in die bediening gedomineer het, is Engelse eredienste aanvanklik gehou en in 1894 heringestel om jongmense daarvan te weerhou om na ander kerke oor te gaan.

Engels in die kerk was egter teen die einde van die 1800’s omstrede. 300 lidmate teken in 1897 ’n petisie teen die gebruik van Engels in die jeugbediening en by buitenagmaaldienste. Die sentiment teen Engels is deur die Anglo-Boereoorlog aangespoor. In 1900 be­sluit die kerkraad dat geen Engels in ons “Hollandsche Ge­reformeerde Kerk” gebruik sal word nie.

Charles Murray het dié verbod intens emosioneel beleef en as ’n bitter beker beskou wat hy moes drink.

By die ringsitting van 1900 vra ouderling Te Water van Graaff-Reinet dat die kerk Nederlands beter be­skerm.

Agter die protes teen Engels lê die ontwakende volks­gevoel en nasionalisme van die Afrikaner. “Die kerkraad het vanuit ’n nasionale gevoel standpunt in­ge­neem teen die verengelsing van die kerk,” skryf Du Toit.

Met die stryd teen Engels op Graaff-Reinet besleg, ver­skuif die toneel na die spanning tussen Afrikaans en Nederlands.

Ds Jozua Naudé, predikant op Graaff-Reinet van 1921 tot en met sy dood in 1948.

Na Murray in 1904 sterf, beroep die kerkraad dr DF Ma­lan (latere eerste minister) as leraar. Malan het ’n sterk politieke bewussyn gehad en hom beywer vir die Afri­kaner se taalregte. Na Malan redakteur van Die Bur­ger word, dra sy opvolger, dr Bennie Keet, die vaan­­del vir Afrikaans.

In 1919 neem die Sinode van die Kaapse NG Kerk die besluit dat Afrikaans naas Nederlands op die kansel gebruik kan word.

Die besluit het verreikende positiewe gevolge gehad vir die Afrikaanse taal, maar het landswyd ook groot ontevredenheid by baie mense veroorsaak wat Afrikaans as nie geskik vir die kansel beskou het nie.

Afrikaans was vir baie mense nog ’n “kombuistaal”. Selfs die vertaling van die Bybel in Afrikaans waarmee daar kort daarna begin is, was onaanvaarbaar. Veral die Murray-gesinde meer evangeliese Christene op Graaff-Reinet het groot probleme met Afrikaans gehad.

Na Keet se vertrek om professor in teologie op Stellenbosch te word, is ds Jozua Naudé, vurige Afrikaner, taalstryder en stigterslid van die Afrikaner-Broederbond, in 1921 na Graaff-Reinet beroep.

Naudé begin dadelik in Afrikaans preek. Dit is ’n rooi doek.

Naudé, die vader van Beyers Naudé, word beskryf as moedswillig en dikwels taktloos. As taalaktivis het hy gemeentelede in twee kampe verdeel: diegene vir Afri­kaans teenoor die lidmate wat om hierdie rede sy opponente was.

Konflik rondom Naudé het geëskaleer en verskeie mense en instellings op die dorp betrek. ’n Uitgerekte kerkstryd wat ring en sinode betrek, volg. Veral Naudé se taalstryd, saam met ongelukkigheid oor verskeie ander sake, lei tot die stigting van die Protesteren­de Gemeente Graaff-Reinet op 4 September 1927.

Die nuwe gemeente het 621 lidmate gehad, maar was nie in die NG Kerkverband nie. Die getalle het ge­groei tot 800 lidmate in 1933, dieselfde jaar wat die eer­ste volledige Bybel in Afrikaans verskyn het. Op sy hoogtepunt het Nuwekerk in 1952 ongeveer 1 100 lidmate teenoor die 1 436 van die NG Kerk Graaff-Reinet self gehad. Aan die einde van 2017 het die getalle tot 38 doop- en 291 belydende lidmate gedaal.

Op 3 November 1927 doen die Protesterende gemeente aansoek om tot die NG kerkverband toegelaat te word. Die sinode keur die aansoek in 1928 goed.

Op 13 Desember 1928 verskyn ’n kennisgewing in Die Kerkbode dat die Protesterende Gemeente Graaff-Reinet nou as “Die Nuwe Kerk Graaff-Reinet” by die NG verband ingelyf is. Die grenslyne van die gemeente is dieselfde as dié van die NG gemeente Graaff-Reinet.

Die verdeeldheid onder gelowiges het daarmee amp­telik beslag gekry.

Nuwekerk het selfs sy eie begraafplaas gekry aange­sien die moedergemeente hulle sy begraafplaas ontsê het. Twee tennisklubs is vir die groepe gestig. Die verdeeldheid het die hele gemeenskap deursuur.

Die begin van hereniging

Deur die jare het verhoudinge versag. Predikante soos ds Ben Fourie van Nuwekerk en ds Johan Esterhuizen van die moedergemeente het reeds sedert die 1980’s vir hereniging gevra.

Lidmate van die herenigde gemeente stap van Nuwekerk se gebou na die Grootkerk om die diens af te sluit. Die leraars, dr Trix Truter en dr Ben van Tonder stap vooraan.

Die finale vonk vir hereniging is in ’n onlangse krisistyd in Nuwekerk gebore. Na spanning rondom die optrede van ’n leraar is die gemeente in 2012 diep verdeeld en verswak gelaat. Ds Attie Beetge, emeritus van Jeffreys­baai, het as pastorale hulp in die gemeente gaan help. Lidmate moes versoen en die gemeente op­ge­bou word.

Beetge vertel hoe die Here hom die Sondagoggend van sy afskeidspreek baie vroeg wakker gemaak het. Dit was 1 Desember 2013. “Ek het dit nie vooraf beplan nie, maar die Here het ’n drang in my hart geplaas om ’n verklaring en belydenis te skryf. Ek het dit aan die kerkraad voorgelê en hulle gevra om dit verder te neem,” vertel hy. Die kerkraad het dit goedgekeur en die gemeente het die verklaring en belydenis omhels.

Ds Andrew Murray sr, predikant op Graaff-Reinet van 1822 tot 1866.

In die kort dokument bely die gemeente die ver­deeld­heid wat deur die “ongelukkige kerkskeuring” groot ska­de aangerig het. Baie families het swaargekry en die effek van die skeuring word steeds gevoel, word gesê.

Dit is nou ’n nuwe tyd: “Ons is oortuig dat ons nou ’n nuwe seisoen betree, waar ons vergeet wat agter is en ons uitstrek na wat voor is. Ons wil ’n nuwe toekoms bou van geloof, hoop en liefde. Ons wil die boek van die verlede toemaak. Ons maak ons hart vir ons moedergemeente oop en verklaar ons liefde en eenheid. Ons is gebonde aan mekaar en reik ons hand van samewerking uit.”

Beetge se kort bediening van 14 maande het ’n dra­ma­tiese impak gemaak. Die gemeente het ’n foto van hom in die konsistorie geplaas met as onderskrif: “Ons pa wat ons kom heelmaak het.”

Dr Trix Truter het Beetge opgevolg en inisiatief geneem om daadwerklik na die moedergemeente uit te reik. Truter vertel dat dit baie geduld gevra het. Hoewel samewerking reeds gevestig was, moes historiese wan­troue telkens oorkom word. Daar was ook legitie­me oponthoude, soos ’n beroepingsproses in die moe­der­gemeente.

Die model was ook ’n bruggie wat oorkom moes word. Aanvanklik wou Nuwekerk dat beide gemeentes ontbind en ’n nuwe eenheidsgemeente vorm. Dit het nie byval gevind nie.

Uiteindelik het Nuwekerk op 31 Mei 2017 ’n teolo­gie­se vertrekpunt gekies: Hulle sou ontbind en terugstig na die moedergemeente om daarmee die eenheid van die kerkverband op Graaff-Reinet te hervestig.

Ds Ben Fourie, voormalige leraar van Nuwekerk, bring ’n groe­te­boodskap en vertel oor die geskiedenis van die skeuring.

Nadat die hereniging deur beide kerkrade afson­der­lik goedgekeur is, het die eerste gesamentlike kerk­raads­vergadering op 3 Augustus 2017 op die praktiese strategie besluit. Dit is geformaliseer in ’n ooreenkoms wat in September 2017 gesluit, deur die gemeentes geapprobeer en daarna deur die Ring van Graaff-Reinet goedgekeur is.

So is die formele eenwording tydens die erediens op 21 Januarie gevier. Na die eerste gedeelte in Nuwe­kerk is die diens met prediking en samesang in Grootkerk afgesluit. Die twee leraars het mekaar se voete ge­was, as simbool van diens, eenheid en wedersydse on­derdanigheid.

Dr Truter emeriteer eersdaags, wanneer die here­nig­de gemeente ’n nuwe beroep sal uitbring.

Verskeie ringsgemeentes het boodskappe van gelukwense gebring. Ouderling Sieg Nel van Aberdeen het ’n stel windpompratte aan die gemeente gewys wat glad op mekaar loop. Dit help nog niks nie, het hy gesê. Dit is eers wanneer die windpomp lewegewende water aan mens en dier gee dat hy sy roeping vervul.

Nel het die sentiment agter die hereniging goed raak­gevat. Graaff-Reinet begeer om deur ’n eenheid van missie God se lewegewende water vryelik te laat vloei.