Fanie Cronjé

Rigters relativeer manlike leierskap

Soos geslag, ras en klas, is patriargie ’n samele­wingverskynsel wat tans nuut bedink word. Die kerk se posisie ten opsigte van patriargie word in besonder uitgedaag deurdat die Bybel, ’n versameling geskrifte wat ons as “woord van God” bely, uit ’n patriar­gale wêreld kom. Die populêre indruk is dat die Bybel patriargie legitimeer en dat kerklike diskoerse, besluite en praktyke deur hierdie populêre beskouing geïnformeer word.

Indien ’n mens egter die Bybel noulettend teen sy patriargale agtergrond lees, gaan daar interessante perspektiewe oop. In die boek Rigters, val die plek en rol van vroue uit ’n patriargale wêreld op.

Die kern van Rigters is gevorm rondom uiteenlopende voor-ballingskapverhale van plaaslike Israelitie­se helde. Hierdie stories het gegroei en ontwikkel en is uiteindelik ook in die na-ballingskapse gemeenskap se soeke na identiteit en die wil van die Here oorgelewer.

In sy huidige vorm is daar verhale in Rigters wat die mag van manlike karakters relativeer en selfs ondermyn. Vir die oorleweraars van Rigters was heldhafti­ge, manlike militêre leiers nie noodwendig ideale leiers nie. Een manier waarop Rigters hierdie punt maak, is deur verhale van magtige, manlike leiers en krygers te vertel wie se lot deur vroue se leierskap en optrede bepaal is. Enersyds beklemtoon sommige verhale in Rigters die rol van vroue as leiers, terwyl dit andersyds heelparty manlike leiers as ’t ware “ontman”.

Een so ’n voorbeeld is die verhaal van Barak se oorwinning oor Sisera – ’n verhaal waarin Debora die sen­trale leiersfiguur is. Daarby word Sisera nie deur die manlike Israelitiese leier, of deur ’n sterk kryger om die lewe gebring nie, maar deur die Kenitiese vrou, Jael (Rig 4 – 5). Beide Barak en Sisera word van hulle mag en manlikheid gestroop, terwyl vroue die leiding neem in die oorwinning wat behaal word. Binne ’n patriargale wêreld is dit nie sonder betekenis nie.

Binne ’n patriargale konteks getuig van die verhale in Rigters dat kragtige, manlike leiers nie die mag in God se koninkryk besit nie. Nee, dit is die Here wat die ge­skie­denis van sy mense deur mans én vroue se leierskap en optrede skryf. Deur die relativering van manlike leierskap en mag word die Here se betrokkenheid in die wêreld duideliker sigbaar. Deur ’n eensydige klem op patriargale mag en leierskap, loop die geloofsgemeenskap gevaar om hulle hoop op sterk, manlike leiersfi­gure te bou en God as Here van sy koninkryk te misken.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.

Die koninkryk van God is ’n ryk van vrede

Een van die mees algemene oortuigings oor die koninkryk van God is dat dit ’n ryk van vrede is. Talle tekste in die Bybel laat gelowiges ook tereg sulke afleidings maak. Die vraag is: Hoe moet ons vrede kragtens die koninkryk van God verstaan?

Wanneer ons van vrede praat, bedoel ons gewoonlik die afwesigheid van konflik en ’n lewe soos ek meen ek verdien om te lei. Hierdie vrede lyk egter nie vir elkeen dieselfde nie, want ons voorwaardes vir vrede word deur eie belang bepaal. Met vrede bedoel ons gewoonlik niemand moet my, my gesin of my groep se lewe en wyse van bestaan bedreig nie en ek sal nie jou en jou groep se lewe en bestaan bedreig nie. Hierdie vorm van vrede staan in noue verband met mag.

Die Hebreeuse woord met sy vervoegings wat in die reël met “vrede” vertaal word, is een van die belangrikste woorde in die Ou Testament. Die algemene bete­kenis van dié woord se drie Hebreeuse stamkonsonante is dié van “voltooiing”, “afhandeling” of “vervulling”, ’n “toestand van heelheid” en van “eenheid” en dié van “herstelde verhoudings”.

Die Bybelse woord vir “vrede”, dui dus op veel meer as die blote afwesigheid van oorlog of konflik. Die werkwoordvorm van die Hebreeuse woord word byvoorbeeld gebruik om die voltooiing van belangrike geboue soos die tempel of die mure van Jerusalem uit te druk, of dit word gebruik in die sin van enige vorm van herstel, of die terugbetaling van skuld.

Die selfstandige naamwoord het ’n wyer gebruik. So word dit byvoorbeeld as groet gebruik. Dit word ook gebruik om ’n gevoel of toestand van vergenoegdheid, rustigheid of heelheid uit te druk.

Wat die betekenis en inhoud van die koninkryk van God betref, is dit belangrik om daarop te let dat “vrede” dikwels in verband met geregtigheid gebruik word, terwyl dit by die profete en dan in besonder na-bal­lingskap in profetiese tekste ’n etiese kleur kry.

Dit word as kenmerkend van die messiaanse tyd geskets en dan in besonder in verband met die dekonstruksie van (vorige) magstrukture en die versoening tussen mense en groepe, veral waar daar sprake was van verdrukking, verslawing, ongelykheid of onreg­ver­dige oorheersing. In ons land, máár in besonder bin­ne die NG Kerk het ons hierdie soort vrede dringend nodig.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.

Die volle spektrum van Bybelse getuienis

Die “koninkryk van God” is ’n belangrike tema in die missionale diskoers in die NG Kerk. Die missionale dimensie van kerkwees word egter dikwels aangebied asof dit die enigste kenmerk van “ware” kerkwees behels.

Uit die aard van die saak is die kerk se sending ’n belangrike aspek van kerkwees. Gemeentes is onder meer gestuurde gemeenskappe en gelowiges is onder meer geroepenes en gestuurdes. Dit is egter te betwyfel of gestuur wees die volle wese van die kerk en geloofslewe omvat. 

In die Ou Testament se na-ballingskaptekste val die klem baie sterk daarop dat die nasies na die volk van die Here toe kom. Die volk van die Here gaan nie na die nasies toe nie. Die geloofsgemeenskap is hier nie gestuurdes nie, maar draers van God se lig op God se berg, op Sion (Jerusalem). Die nasies kom na waar die volk van die Here is om God se wil daar te kom leer (vergelyk Jes 60 en Sag 8:20-23). 

Deur God se daad van bevryding is al die inwoners van God se stad nou regverdiges. Hulle leef geregtigheid uit daar waar hulle “geplant” is. So vermeerder “die roem van die Here” (Jes 60:21). In hierdie vers val die klem baie sterk op wat die Here doen en nie op die volk wat gestuur word nie.

’n Oordrewe klem op stuur kan maklik daartoe lei dat ons vergeet dit is God wat handel. Die bevestiging van God se heerskappy, sy koninkryk, hang nie af van hoe missionaal die kerk is nie – “hulle is die loot wat Ek self daar geplant het, die werk van my hande …”

Jesaja 2:3 stel dit waarskynlik die duidelikste: “Baie volke sal daarnatoe gaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer, en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.” God word ook geopenbaar waar sy volk byeen is, nie net wanneer hulle gestuur word nie.

Soortgelyke tekste sou vermenigvuldig kon word. Die punt is, ons moenie in ons entoesiastiese omhelsing van ’n populêre tendens, kerkwees reduseer tot een dimensie nie. Alles in die Bybel is nie missionaal nie en daarom durf ons nie alles in die kerk buig tot dit missionaal is nie.

Kom ons bly ook in dié verband die diverse getuienis in die Bybel omhels. 

Dr Fanie Cronjé is leraar van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.

Die roeping is om God na te doen

In sy huidige vorm word die grootste deel van Deuteronomium aangebied as ’n afskeidsrede van Moses pas voordat die volk van die Here die beloofde land intrek. Dit is as ’t ware ’n preek wat vir God se mense beduie hoe jy uitdrukking gee aan die koninkryk van God in die land wat Hy aan hulle gee om in te woon. Indien ons Deuteronomium 10:12 – 11:1 as ’n afgeronde eenheid lees, kom daar interessante perspektiewe na vore.

Deuteronomium 10:12-13 is ’n oproep om die Here te vrees, sy gebooie te gehoorsaam en Hom lief te hê. Hoofstuk 11:1 herhaal die opdrag om God se gebooie te gehoorsaam en Hom lief te hê. In die destydse wêreld het liefde onder meer beteken om jou aan iemand te verbind en om vanuit hierdie lojale verbintenis te leef.

Deuteronomium 10:14-15 sluit aan by die skeppingstradisie dat die Skepper van hemel en aarde sy mense uit al die geslagte gekies het en Hom aan hulle verbind het. Vers 21-22 ondersteun die gedagte, maar deur nou by die uittog-tradisie (verlossing uit Egipte) aan te sluit. Ons leef dus uit ons lojale verbintenis aan die Here, omdat Hy, die Skepper van die hemel en aarde, die Een wat ons verlos, Hom eerste aan ons verbind het (ons eerste liefgehad het).

Deuteronomium 10:16 en 20 bevestig die oproep dat God se mense vanuit sy verbond met hulle moet lewe. Daar staan in vers 16 letterlik “besny die voorhuid van julle hart”. Om vanuit God se liefde vir ons te leef, moet deel van ons wese wees en nie kosmetiese vertoon nie.

Mense wat vanuit God se lojale verbintenis aan hulle leef, is mense wat God naboots – mense wat God se koninkryk sigbaar, tasbaar vir mekaar en ander maak.

Oor dít waarin ons God moet nadoen, staan in Deuteronomium 10:17-19 die Here wat ons God is, is (letterlik vertaal) “die God van die gode en die Heer van die here, die grote, die magtige, die ontsagwekkende”, Hy trek vir niemand party nie en sy guns kan nie gekoop word nie. Hy handhaaf die regte van die vaderlose en weduwees, terwyl Hy die vreemdeling “lief het” (Hom óók aan die vreemdeling verbind) deur hulle kos en klere te gee. Omdat ons verloste vreemdelinge is, moet ons God hierin nadoen. 

Hoe maak ons die koninkryk van God sigbaar in Suider-Afrika? Deur vanuit ons, wat vreemdelinge vir mekaar was (steeds is), se lojale verbintenis aan mekaar te leef (deur mekaar lief te hê), omdat God ons eerste liefgehad het en as vreemdelinge verlos het.   

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.

Die ‘koninkryk van God’ en ’n herstellende gemeenskap

Die einde van die Dawidiese koninkryk, gepaard met die val van Jerusalem en die ver­nie­tiging van die tempel in die jaar 587 vC, het tot ’n geloofs- en bestaanskrisis onder die volk van die Here gelei. Die tempel, die stad en die Dawidiese koningshuis – die pilare van die Judese gemeenskap – is vernietig.

Wanneer die Persiese koning, Kores, Babel sonder slag of stoot inneem, breek daar ’n nuwe tyd in die destydse wêreld aan (Jes 45:1-8; Esra 1). Die Persiërs gee aan diegene wat deur die Babiloniërs ontwortel is, ge­leentheid om terug te keer na hulle onderskeie lan­de. Hulle kon hulle eie kulturele en godsdienstige lewe daar uitleef en bestuur, solank hulle net getrou hulle be­lasting aan die Persiese koning betaal.

Vir die na-ballingskapse gemeenskap van die Here in en om Jerusalem, is die groot vraag: Hoe gee ’n mens uitdrukking aan die koninkryk van God wanneer jy as gemeenskap herstel ná intense trauma? Hoe lyk die lewe van ’n gemeenskap wat in die lig van ’n ge­skiedenis van verdrukking, verlies en ontworteling as ’n herstellende gemeenskap in die teenwoordigheid van die Here wil leef?

Oorvereenvoudig gestel: Daar was groepe in pries­tergeledere wat die ideale koninkryk van God gesien het as ’n soort teokrasie waarin die priesters die dominante rol speel, terwyl die tempeldiens en die letterlike, nougesette onderhouding van die Wet van Moses aan God se koninkryk uitdrukking gee.

Daar was ook die meer militante groepe wat van mening was dat God se koninkryk sal kom wanneer ’n koning uit die geslag van Dawid weer in Jerusalem heers en die vyande van God se volk met geweld aan hom onderwerp.

Hierteenoor was daar diegene wat alle hoop op ’n herstelde gemeenskap binne die bestaande wêreldorde laat vaar het. Wat hulle betref, gaan daar ’n tyd kom wanneer die Here op kosmiese skaal gaan ingryp en sy koninkryk gaan laat kom deur ’n nuwe wêreldorde te skep met gelowiges as die heersers.

Jesus en die Nuwe-Testamentiese skrywers sluit egter aan by die tradisie van daardie groepe wat die Here as die universele God verstaan het. Hy word oral en deur verskillende mense aanbid. Sy genade is vir almal en sy heerskappy is oor almal. Deur skuld te dra en nie te verplaas nie en deur lyding te verduur en nie te bekla nie, word God se koninkryk en sy heil vir alle mense sigbaar.

In hierdie tradisie speel gedagtes soos die Here se wêreldwye heerskappy, sy genade en liefde vir alle men­se, die klein oorblyfsel wat aan sy reg en geregtigheid gestalte gee en skuld wat gedra en lyding wat verduur moet word, ’n belangrike rol (vergelyk Jes 40 – 55, Rut en Jona).

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.

Gestroop van aansien, voorspoed en mag

Die begrip “Koninkryk van God” speel ’n be­langrike rol in die Evangelies én in die gesprek oor missionale kerkwees. Die Ou Testament gebruik die term nie net so nie, maar dit moet ons nie ont­moedig om te besin oor die Ou-Testamentiese getuienis oor die God van Israel nie.

Die einde van die Dawidiese koninkryk, wat gepaard ge­gaan het met die val van Jerusalem en die vernieti­ging van die tempel in die jaar 587 vC, het tot ’n ge­loofs- en bestaanskrisis onder die Judeërs gelei. Die Natansbelofte (2 Sam 7) en belofte aan Salomo (1 Kon 9) het immers met die ballingskap tot ’n einde gekom. Die tempel, die stad en die koningshuis was die pilare van die Judese gemeenskap voor die ballingskap. Nou is al drie vernietig.

Die vraag is: Hoe praat ’n mens oor die koninkryk van God wanneer God se stad, koning en tempel nie meer bestaan nie? Vir talle profete van die Ou Testament, was die antwoord duidelik. Die koninkryk van God bestaan nie by die grasie van ’n volk, nasie of groep wat die politieke, ekonomiese of militêre mag in die hande het nie. Sy heerskappy is nie afhanklik van ’n heiligdom, ’n gebou of tempel nie.

Nee, volgens die getuienis van talle Ou-Testamentiese tekste, is die koninkryk van God nie alleen sigbaar in die skepping en die natuur nie, maar ook in God se verbintenis aan mense (Jes 46:3-5).

Hier hou dit egter nie op nie. Volgens Jesaja 49:1-6 is Israel die Here se dienaar en hy maak sy mag deur hulle bekend (Jes 49:3). Die volk wat hulle stad, hulle koning en hulle tempel verloor het, hulle is getuies van God se koninkryk (Jes 49:6). Anders gestel, diegene wie se teologie in duie gestort het, hulle is die sigbare getuienis van God se heerskappy op aarde.

Wanneer ons Jesaja 52:13–53:12, die bekende vierde “Kneg-van-die-Here-lied”, binne sy literêre konteks (Jes 40–55) lees, word die koninkryk van God op ’n verrassende manier aangebied. Jesaja 49:3 getuig immers dat die na-ballingskap-gemeenskap in die Per­siese provinsie Jehud (Israel) die “Kneg-van-die-Here” is en dat Hy sy mag deur hulle bekend maak.

Sou ons in dié lig kon sê dat God se koninkryk sigbaar word waar mense lyding verduur en nie skuld ver­plaas nie, maar dit dra? Sou ons kon sê dat God se heer­skappy sigbaar word waar sy mense van alle aansien, skoonheid, voorspoed en mag gestroop is? In­dien dít waar is, is dit nie dalk dié plek waar die kerk nou behoort te wees nie?

▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.