Gustav Claassen

Ekumene verryk en verruim die NG Kerk

Ekumene is afgelei van die Griekse woord oikoemene wat “die hele bewoonde wêreld” beteken. Die woord ekumene impliseer dat die kerk, dwarsoor die hele bewoonde wêreld, deel is van die een Liggaam van Jesus Christus. Ekumene is nie maar ’n opsionele saak vir ’n kerk nie – dit is, saam met baie ander dinge, deel van dit wat ’n kerk “kerk” maak.

Elke Sondag bely lidmate om hierdie rede tydens die erediens saam met die Apostoliese Geloofsbelydenis: “Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges” of saam met die Geloofsbelydenis van Nicea: “Ons glo aan een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels”. Die NG Kerk is besonder bevoorreg om op verskeie vlakke die eenheid van die kerk op hierdie vlak te kan beleef. Dit is ’n verrykende en uiters verruimende ervaring van kerkwees.

Die afgelope paar maande het vier geleenthede bygedra tot ’n ruimer ekumeniese belewenis en gepaardgaande daarmee ’n beter verstaan van kerkwees.

Die World Mission and Evangelism-konferensie van die Wêreldraad van Kerke (WRK) is van 8 tot 13 Maart in Arusha, Tanzanië gehou. Meer as ’n duisend afgevaardigdes, wat by sending en evangelisasie betrokke is, het die geleentheid bygewoon.

Die tema van die byeenkoms was “Moving in the Spirit: Called to transforming discipleship”. Die klem het veral geval op die uitreik na die gemarginaliseerdes in die samelewing. Die uitdagings van die akkumule­ring van rykdom en groeiende gapings van ongelykhede tussen ryk en arm, uitbuiting en hebsug, eko­lo­giese vernietiging van die omgewing, groeien­de voor­koms van internasionale konfliksituasies en die gepaardgaande gevolge wat miljoene mense kwesbaar en uitgeslote laat, het aandag gekry.

Die konferensie het kerke opgeroep om hierteen te getuig en te handel teen magsvergrype, elitisme, ’n verbruikersmentaliteit en uitbuiting van watter aard ook al. Protes deur die kerk en ’n soeke na gereg­tigheid en vrede moet plaasvind deur ’n transforme­rende dissipelskap wat diensknegleierskap in die lig van die kruis en opstanding van Christus vra. Die konferensie is deur Marelize Malherbe, Rupert de Koning en Gustav Claassen namens die NG Kerk bygewoon.

Die tweede groot geleentheid was die 70ste herdenking van die stigting van die WRK wat van 15 tot 21 Junie tydens die Sentrale Komitee-vergadering in Genève plaasgevind het. Die NG Kerk kon die feesvie­ringe bywoon as gevolg van die feit dat daar ook tydens die geleentheid besluit sou word oor die plek waar die volgende Algemene Vergadering van die WRK sal plaas­vind.

Die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk het met die Evangelies Lutherse Kerk in Duitsland gekompe­teer oor die aanbieding van die vergadering. Helaas het ons nie die bod gewen nie, maar die feesvie­ringe was een van diepe ekumenisiteit. Een van die hoog­­te­punte was die teenwoordigheid van afge­vaar­digdes van Noord- sowel as Suid-Korea. Die doelgerigtheid van die twee kerke om saam te werk en instrumenteel te wees tot vrede en versoening in ’n ver­e­nigde Korea het konferensiegangers emosioneel geroer.

’n Ander hoogtepunt was die besoek van pous Fran­ciskus. Hy het met sy boodskap besondere uitdrukking gegee aan die sterker wordende ekumeniese beweging wêreldwyd. Sy boodskap van “walking together is an act of obedience to the Lord and love for our world” sal ’n kompas wees vir kerke, van watter tradisie ook al, om in die toekoms steeds hegter eenheid en samewerking met mekaar te soek. Dit is waar die getuieniskrag van die kerk lê.

Die derde geleentheid was die vergadering van die African Communion of Reformed Churches (ACRC) van 28 tot 30 Junie in Kibuye Karongi, Rwanda. Die ACRC is die Afrika-liggaam van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK). Die tema van die vergadering was “Living God, renew and transform us”.

Aandag is gegee aan konflik binne die konteks van Afrika. Fokus is geplaas op hoe kerke die rol van vredemakers kan speel. Die byeenkoms is deur Nelis van Rensburg en Gustav Claassen namens die NG Kerk bygewoon.

Die vierde geleentheid, die vergadering van die All African Conference of Churches (AACC), het direk na die ACRC, van 1 tot 7 Julie, in Kigali, Rwanda plaasgevind. Die tema tydens die konferensie was “Respecting the dignity and God’s image in every human being (Genesis 1:26-27)” en is deur 800 afgevaardiges van dwars oor Afrika bygewoon.

Voor die konferensie was daar byeenkomste wat aandag gegee het aan jeug- en vrouesake. Werkloosheid en konflik is deur die jeug uitgewys as van die hoofoorsake van migrasie en mensehandel in Afrika. Mensehandel, migrasie, geweld teen vroue en die herstel van vrede was op die agenda van die vrouebyeenkoms.

Die groter konferensie het klem gelê op die mens­waardigheid van God se beelddraers. Etniese en denominasionele verskille, gebrekkige politieke leierskap, korrupsie en oorbevolking is aangespreek omdat dit ’n hindernis is vir die aanspreek van Afrika se uitdagings. Die NG Kerk is hier verteenwoordig deur Fay van Eeden, Rion Britz, Nelis van Rensburg en Gustav Claassen.

Hierdie ekumeniese geleenthede, en al die ander ook op plaaslike vlak, help die NG Kerk om ruimer en dieper kerkwees te beleef. Die ervaring is altyd tydens ekumeniese geleenthede dat baie geleer kan word van ander kerke en kontekste maar ook dat die NG Kerk in sy teologiese rykdom baie te bied het aan ons ekumeniese vennote.

▶ Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.

Die kerk se protesstem

Die NG Kerk neem op ’n gereelde basis aan openbare diskoerse deel as deel van sy pro­fe­tiese taak. Onlangse voorbeelde hier­van is die kerk se kommentaar op voorgenome wetge­wing oor haatspraak, die regulering van godsdiens en wysigings ten opsigte van die Skolewet.

Meestal is daar waardering vir die profetiese rol wat die kerk in die publieke arena speel. Tog is daar ook soms verwytende kommentaar, hoewel in die min­derheid, wat wil hê dat protes nie tot die taak van die kerk hoort nie. Die kerk, word dan geargu­men­teer, moet hom net besig hou met voorbidding en die verkondiging van die evangelie.

Hierop sou geantwoord kon word dat dit deel van die Christelike tradisie is om te getuig vir ’n be­ter samelewing van menswaardigheid, geregtigheid, vre­de en vreugde vir almal, en om te protesteer teen enigiets daarteen.

Geloof en teologie kan nooit in ’n donker hoekie be­dryf word nie maar is altyd publiek. Dit gaan vir die kerk om die besinning oor die betekenis van die Christelike geloof vir die openbare lewe binne die konteks van, in ons geval, ’n demokratiese samele­wing. Dit is die presiese rede waarom ons bid: “Laat u koninkryk kom!”

Dit is die taak van die kerk om altyd oë te open vir die teenwoordigheid en werksaamheid van die lief­devolle God op alle lewensterreine. Die kerk weeg die samelewing en die gehalte van mense se le­wens in terme van die geregtigheid van God.

Dit is omdat die kerk ’n ander vraag vra, naamlik: Hoe reflekteer die samelewing die waardes wat met God vereenselwig kan word? Deur hierdie vraag te vra, kan selfs sisteme wat binne die grondwet en die reg funksioneer, uitgewys word as nie in oor­een­stemming met God se geregtigheid nie.

Indien die kerk dit nie sou doen nie, verval ons in ’n totaal geïndividualiseerde geloof wat geen ver­ant­­woordelikheid vir die gemeenskap wil aanvaar nie.

Dit is inderdaad waar dat sommige kerke so ’n in­dividualistiese swaai gemaak het in ’n poging om nie lidmate te verloor nie. Hulle spits hulle toe op die persoonlike behoeftes van lidmate en ignoreer wat op die publieke toneel gebeur.

As ’n kerk van die Reformasie weet ons dat die droom van Luther en Calvyn ’n kerk was wat God se heil vir die totale lewe op aarde wil dien. Die God van die Bybel, het hulle geglo, is nie net ’n God wat die gelowiges wil versorg en help met hulle persoon­like probleme nie, maar wat die wêreld wil red, ver­an­der en nuut maak – sodat vrede, geregtigheid en versoening daarin kan woon.

Samelewings is nooit afgehandel en voltooi nie. Dit is dinamiese entiteite. Die perspektief wat die kerk en elke Christengelowige kan bydra tot hierdie pro­ses, is dié van geloof en hoop. Ons is gerig op die toe­koms en so ver dit in ons vermoë is, gee ons daar­­aan gestalte deur dienooreenkomstig te leef en te getuig waarin ons glo.

Deur die blye boodskap van versoening met God kry elke mens se lewe nuwe inhoud en betekenis en staan ons vir geregtigheid – nie net vir onsself nie, maar vir alle mense. Die kerk kan nie bekostig om sy profetiese stem te verloor nie.

Dr Gustav Claassen is die Algemene Sekretaris van die NG Kerk.