Jacobie M Helena

Louwtjie Bouwer wil vredeplase help vestig

“Die evangelie veréis transformasie en versoening op plase in Suid-Afrika,” sê afgetrede veranderingsbestuurder van Nedbank en voormalige kapelaan, Louwtjie Bouwer. Louwtjie het onlangs, in samewerking met AgriSA, ’n projek begin wat sosiale transformasiewerk op Suid-Afrikaanse plase doen. JACOBIE M HELENA berig.


Die klem wat die evangelie op vrede plaas, lê Louwtjie al ’n geruime tyd op die hart.

“Ek het in verskillende Afrika-lande as kapelaan in die oorloë gedien. Ná die oorlog het ek met baie vrae rondom die evangelie geworstel.

“Ek ontdek toe die doktors­proefskrif uit 1970 van professor Jan-Harm van Wyk. Die titel van die doktorsgraad is ‘Etiek van vrede: ’n teologies-etiese evalue­ring van die Christenpasifisme’. Die proefskrif het baie vrae oor vrede in my gemoed na vore gebring. Ek het besef dat niks van die oorlog evangelies is nie. Mense het die Bybel gebruik om die oorloë te regverdig. Daar was nie een troep wat nie gedink het die Here is aan óns kant nie. Ons het geglo ons deelname in die oorlog is ons werk. Ek het dit met groot entoesiasme en toewyding gedoen,” sê Louwtjie.

Maar ná die oorlog het daar ’n draaipunt in Louw­tjie se lewe gekom oor sy nuwe verstaan van die evangelie van vrede. Hy het as kapelaan uit die kerk en uit die weermag, bedank.

“Op 2 Augustus 1989 het ek vir die bevelvoerder gesê ek bedank. Ek is klaar met die oorlog. Die kolonel wou my ’n hoër posvlak van hoofkapelaan van die leer aanbied met die verse­kering dat ek ’n kapelaan-gene­raal gaan word. Ek het die aanbod van die hand gewys. Ek sit toe sonder werk. Ek moes na dié geloofsprong besluit wat ek gaan doen.”

Louwtjie lag en vertel verder: “Die Here stuur my volgende in die rigting van veranderingsbestuur. Ek sien toe daar is ’n leierskapskonferensie wat Nedbank geborg het en besluit om dit by te woon. Die hoof- uitvoerende beampte van Nedbank het in ’n gesprek gehoor hoe ek oor leierskap dink en vir my gesê om hom te kom sien. Ek gaan sien hom en hy besluit daar en dan om my by Nedbank aan te stel as veranderingsbestuurder. Ek was daarna vir die volgende 20 jaar in beheer van enige verandering wat in die maatskappy plaasgevind het.”

In 2015 was nog ’n groot draaipunt in Louwtjie se lewe. “Ek het binne drie dae ’n groot hartaanval en beroerte gehad. Ek kon nie sluk, loop of praat nie. En hier sit ek vandag. As die Here jou een keer gevat het dan los Hy jou nie weer nie.

“Interessant hoe mense steeds gedurig vir my vra, ‘Louwtjie, is jy nog in die bediening?’ Ek meen wat is dié bediening? Die kerk is nie vir my bediening nie. Ek het my eie konsep van die bediening rondom versoe­ning ontwikkel. Daar is baie vlakke aan ’n bediening van versoening, maar die belangrikste is dat versoe­ning en transformasie opoffering vereis,” sê Louwtjie.

Vandag help Louwtjie AgriSA om versoening op plase te bewerkstellig.

“Die plek in Suid-Afrika waar transformasie die broodnodigste is, is op die plase. Daarom het ek met AgriSA gesels en ons is besig met ’n projek om vredes­plase daar te stel. Daar is ’n baie sterk persepsie dat alle Suid-Afrikaanse plase sentrums van dehumanisering en rassisme is. Maar daarteenoor is daar plase wat dit anders doen. Hulle is vredesplase.

“Die eerste kenmerk van ’n vredesplaas is ’n doel­bewuste besluit om vrede na te streef. Die boere en die werkers op die plase moet besluit om na versoe­ning te werk. Bloot omdat die evangelie dit van ons vereis. Die krag van die evangelie is ’n goue draad in die geskiedenis van versoening en ons moet hierdie voorbeelde plaaslik ontgin. Daar is boere wat dit reeds doen. Ek ken sulke boere.”

“Die tweede kenmerk van ’n vredesplaas is dat die boere ook wetlik inskiklik moet wees. Daar is sekere ver­eis­tes van trans­formasie waaraan die boe­re moet voldoen. Boere móét bereid wees om opofferings te maak. Die plan is om navorsing te doen oor die plase waar boere reeds transformasie leef en te kyk watter metodes van transformasie geïmplementeer is. Ons wil suksesvolle modelle ontwikkel om dit op ander plase te implementeer,” sê Louw­tjie.

Watter rol kan die NG Kerk in plaastransformasie en versoening speel?

“Die NG Kerk moet aktief betrokke raak met die transformasie op plase. Dit is ’n keuse wat ’n persoon moet maak om hulle toe te wy aan transformasie in Suid-Afrika. ’n Mens moet bereid wees om op te offer.

“’n Groot probleem is dat die boere nie eens hul mense ken nie. ’n Essensiële deel van die proses van transformasie op plase gaan wees dat die boere die mense wat vir hulle werk, leer ken. Die plaaswerkers het name en stories en die boer moet dit ken.

“Ek dink nie die NG Kerk besef watter belangrike rol die kerk in boere se bewussyn van transformasie kan speel nie. Ons kan nie niks doen nie. Die evangelie vereis dit.”

‘Ek wou wéét wat Maria se storie is’

Maria is deur die kerk gekeer om in kraam te gaan.”

Só sê dr Lisel Joubert op 30 Mei by die bekendstelling van haar boek, Mosaïek van Maria, Miriam van Nasaret: Ingeweef in God se verhaal, by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Die sentrale vraag wat agter dié boek lê is wat met die Maria van die Bybel deur die eeue gebeur het. Joubert vertel: “Ek het gewonder hoekom Maria in die Protestantse spreekwoordelike kas beland het. Ek wou verstaan wat met hierdie karakter wat nie vir haarself kan praat nie, gebeur het. Ek wou wéét wat Maria se storie is.”

Lisel Joubert met haar boek oor Maria. Foto: Jacobie M Helena

Joubert het ongemaklik gevoel met die storie van Maria wat deur die eeue vertel is. “Daar is soveel komponente van haar lewe wat bloot geïgnoreer is. Ek het gevoel die prentjies wat van haar geskets is, het ’n bepaalde verstaan van die inkarnasie, seksualiteit, liggaamlikheid en hoe God werk, onderstreep. Ek kon myself nie met dié prentjies vereenselwig nie. Ek het die behoefte gehad om terug te gaan na die storie van Maria in die kerk en dié storie te dekonstrueer. Ek wou vrae oor die prentjies wat my gepla het vra. Die interessantheid van die storie van Maria is dat daar nie net één storie is nie, maar duisende. Daar is nie net één Maria nie,” vertel Joubert.

Mense het deur die eeue Maria op verskillende maniere beleef. Joubert brei uit: “Ek wou aan die een kant krities wees oor die storie van Maria wat die inkarnasie, seksualiteit en liggaamlikheid ondermyn, maar aan die ander kant wou ek ook geregtigheid laat geskied aan die ervarings wat mense van Maria gehad het. Ek het probeer om ’n balans te vind tussen krities-wees oor die narratief en die ervarings van mense vir wie Maria ’n werklikheid is.

“Al wat ek geweet het, is dat al is daar al duisende en duisende dinge oor Maria deur die eeue geskryf, is daar nuuskierige gelowiges wat niks van Maria se storie weet nie. Daar is mense in my gemeente; mense met gesigte, wat meer oor Maria wil weet. Ek het met hierdie boek probeer om die kern van die storie van Maria weer te gee. Maria het deur die eeue haar naam verloor. Sy het die maagd en moeder van God geword en na 2 000 jaar weet ons nie regtig wie sy is nie. Ek dink ons is beter af in die Protestantse tradisie omdat ons nie ’n storie van Maria het nie. Ons kan haar van vooraf leer ken,” sê Joubert.

Joubert sê dat Maria ’n belangrike rol in vroue se lewe in die moderne samelewing kan speel. “Maria kan ’n baie bevrydende figuur vir hedendaagse vroue wees. In die kerklike tradisie is daar hoofsaaklik op haar beeld as moeder en maagd gefokus, maar sy was óók ’n dissipel en profeet. Sy het ’n baie sterk roeping gehad. Hoe ons oor Maria nadink is hoe ons oor God nadink. Maria wys vir ons hoe God wérk,”
sê Joubert.

Kontemplasie help om konflik te hanteer

Kontemplatiewe spiritualiteit kan mense help om konflik beter te hanteer.

Dit was die boodskap van dr Wilhelm Verwoerd, navorser by die Beyers Naudé Sentrum, by vanjaar se Winterskool.

Dr Wilhelm Verwoerd. Foto: Jacobie M Helena

Verwoerd deel uit sy ervaring as fasiliteerder van groepe mense wat in konfliksituasies verkeer, dat blote dialoogvoering en die vertel van stories in groepe nie die proses van versoening diep genoeg laat infiltreer nie. Verwoerd verbind in sy toespraak, spesifiek van-uit ’n wit persoon se perspektief, kontemplatiewe spiritualiteit in die proses van versoening en vredeswerk.

“Dit is wetenskaplik bewys dat kontemplatiewe spiritualiteite ons brein herprogrammeer. Dit verskuif die plek in die brein waarvan ons reageer wanneer ons met konflik gekonfronteer word. Gewoonlik reageer ons uit die agterkant van die brein met die veg-of-vlug-reaksie, maar kontemplatiewe spirituele rituele verskuif die fokus in die brein na die voorkant. Wanneer ons uit die voorkant van die brein reageer, reageer ons met empatie, insig en verbeelding,” sê Verwoerd.

Verwoerd sê dat kontemplatiewe spiritualiteit help om gelowiges bewus te maak van die feit dat hulle as mense verbind is aan mekaar en met mekaar in verhouding staan. “Ware kontemplasie laat die individu toe om oor te gaan tot aksie. Dit laat ’n mens toe om meer van jouself te gee en vanuit ’n dieper plek van jouself oor te gaan tot ’n dieper vorm van aksie. Dit help jou na ’n dieper proses van versoening wanneer jy die spreekwoordelike ‘ander’ ontmoet.”

Gelowiges moet egter waak daarteen dat dit nie ’n modegier word nie. “Die gebruik van kontemplatiewe spiritualiteit in die proses van versoening kan nié net individueel en slegs in wit spasies gebruik word nie. Dit moet in ’n spasie gebeur waar mense uit hulle gemaksones geneem word en met die realiteite van mense se behoeftes gekonfronteer word. Dis daarom belangrik om vir jou eie individuele spirituele lewe die kontemplatiewe rituele te doen, maar óók saam in situasies met die spreekwoordelike ‘ander’.

“Wanneer ’n persoon deur die proses van kontemplatiewe spirituele rituele gaan, berei dit ʼn mens op ’n besondere manier voor vir prosesse van versoening. Nie net dwing dit ’n mens om in ongemak in die spreekwoordelike donkerheid te sit nie, maar ook om van die onvoorwaardelike liefde van God in die diepste wese bewus te word. Hierdie proses van diep versoening, vanuit die perspektief van ’n wit mens, help ons om bewus te word van die historiese, politieke, institusionele en strukturele ongeregtighede in ons land.

“Dit help wit mense om afstand te doen van die verwagting van vergifnis van mense van kleur. Dié rituele skep ook veilige ruimtes vir wit Suid-Afrikaners om met die trauma van die oorloë en die verlede in aanraking te kom en dit te verteer. Kontemplatiewe beliggaming kan ons as Suid-Afrikaners help om ons vermoë te versterk om met ons hele wese met oopgevoude hande na die pyn van die ander te luister,” sê Verwoerd.

‘Geregtigheid is liefde’

“Geregtigheid is liefde.”

Dit is met dié gedagte wat die sessie van Eleanor du Plooy, projekbestuurder by die Institute for Justice and Reconciliation, eindig. Sy was eerste aan die woord by die jaarlikse Winterskool by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Die tema van vanjaar se Winterskool was: “Justice, reconciliation and unity: rediscovering the power of the Gospel”.

“Daar is ’n noodsaak vir ’n verhoudinggedrewe benadering tot versoening. Dit gaan nie oor ’n skielike bekering tot versoening nie, maar versoening moet eerder deur ’n proses van leer plaasvind. Versoening gaan oor ’n nuwe manier van lewe. Dit vra nuwe houdings oor en verhoudings met diegene waarvan ons dikwels vervreem is,” sê Du Plooy.

“Dié tipe verhouding wat geregtigheid nastreef, plaas dialoog en wederkerigheid sentraal in die soeke na geregtigheid. Dit gaan daaroor om mekaar se menslikheid ten vólle te erken. Wanneer mense vervreem is van mekaar kan hul volle menslikheid nie tot verwesenliking kom nie. ’n Beginsel wat ons van apartheid se dae af tot met die nuwe demokrasie afgeskeep het, is die beginsel van ubuntu. Ek gebruik die woord doelbewus en nie ligtelik nie. ’n Mens is net ’n mens deur ander mense,” brei Du Plooy uit.

Sy verduidelik verder: “Versoening kan nie gebeur sonder geregtigheid nie. Die heling van herinneringe is baie belangrik in die proses van versoening. As die nasionale herinnering sterk genoeg is om na die toekomstige gruweldade te kyk, moet die toekomstige generasie bereid wees om ook na die gruweldade van die verlede te kyk. Ons moet prosesse fasiliteer wat meer fokus op wie ons kan word as wie ons tans is.”

Hoe kan ons ’n nuwe Suid-Afrika en nuwe wêreld word? “Dis belangrik om te besef dat ons die tydsgleuf waarin ons ons kollektiewe verwondheid verstaan, wyer strek as die apartheidera. Ons moet die geskiedenis van verowering, slawehandel en rassemoorde insluit. Éérder as om te probeer terugkeer na die fantasie dat ons in Suid-Afrika voorheen eenheid gehad het, moet ons nou nuwe verbintenisse van behoort, geregtigheid en diepe demokrasie skep.

“Ek droom oor ’n werklikheid in Suid-Afrika waar die dogter van ’n plaaswerker dieselfde geleenthede kan hê as die seun van die boer,” sê Du Plooy.

“Wat is geregtigheid sonder liefde?” word uit die gehoor gevra.

Du Plooy antwoord: “Liefde is só rewolusionêr en só radikaal vir die tyd waarin ons nou leef. Om mekaar lief te hê en mekaar lief te hê ten spyte van alles wat in die wêreld gebeur – is rewolusionêr en radikaal. En dit kán verander en het transformerende krag. Wanneer ons aan die tema van vanjaar se Winterskool dink, is dit nie waaroor die evangelie gaan nie? Dit gaan oor liéfde. God is liefde. Jesus is in sy wese liefde en ons word geroep om God se hande en voete te wees, maak nie saak hoe moeilik dit is nie. En al moet jy jou kop laat sak van die seer van ’n rassistiese onsensitiewe opmerking of grap en al neem dit jou drie weke om dié onsensitiewe mense weer in die oë te kyk, moet jy dit doen, want ons word geroep na ’n hoër roeping van geregtigheid,” sluit Du Plooy af.

Salem, ’n Bybelse tuin wat vernuwe

Teen die Paarlberg is daar ’n Bybelse tuin wat help om ’n mens se verstaan van verskeie Bybelverhale aan te vul. Ds Toit Wessels neem groepe op toere deur die tuin. Jacobie M Helena vertel van so ’n toer wat sy bygewoon het.


Die Hebreeuse woord “Salem” het verskillende betekenisse. Dit beteken onder meer “om veilig te maak”, “om heel en goed te maak” en “om te vernuwe”. Hoe gepas, want dít is presies wat ’n mens by Salem Biblical Garden (Salem) in die Paarl beleef.

Mari van der Spuy, wat saam met haar man Spikes die opsigters van dié unieke tuin is, vertel die storie van Salem.

“Mnr Jack Carstens, die eienaar van Salem, het in Israel by die ambassade gaan werk. In dié tyd het hy en sy vrou in Israel rondgereis. Hulle het al die bekende plekke besoek. Hy het die geestelike inspirasie gekry en homself voorgeneem dat wanneer hy na Suid-Afrika terugkom, wil hy iets saambring van wat hy daar gesien en beleef het. Hy soek toe die geskikte stuk grond, want die grond moet ’n berg en baie olyfbome hê. Nadat mnr Carstens hierdie grond gekoop het, het hy eerste met die tuin begin. Iemand het die tent om as ’n aanbiddingsplek te dien, geskenk. Ons het die piek-niekplekke ingerig en daarna is die kiosk gebou.”

Salem bied ’n reeks aktiwiteite aan. Mense kan in die tuin deur die Bybel reis, die gebedspad teen die Olyfberg op vir refleksie en gebed loop, Bybelse maaltye bywoon, piekniek onder die wilde olyfbome hou en bergklim in die Paarlberg Natuurreservaat,” vertel Mari entoesiasties.

Hoe Mari en Spikes by Salem betrokke geraak het, is óók ’n geloofstorie.

“Dit was absoluut ’n antwoord op ’n gebed. Ek en Spikes het in ’n posisie beland dat die plek wat ons gehuur het onder ons uitverkoop is. Ons pensioen was toe te min om ’n ander plek te kry. My oudste seun het op hierdie plaas gewerk en gesê ons kan na hom toe kom. Nadat ons seun die plaas verlaat het, het mnr Carstens ons gevra of ons hier kan aanbly. Dít is vir ons só ’n seën,” vertel Mari.

Ds Toit Wessels en die groep kinders by die altaar waar die verhaal vertel word van Abraham en Isak en die offer wat voorsien is.

Mari, ’n NG lidmaat wat al op ’n paar kerkrade gedien het, vertel dat Jack gewonder het hoekom daar nog nie mense van die NG Kerk die tuin kom besoek het nie. “Ek het vir hom gesê hy moet net geduldig wees en wag. Die Here sal ook iemand van die NG Kerk stuur. En toe stuur die Here vir ds Toit Wessels, predikant by die NG gemeente Agter-Paarl, na Salem.”

Mari beklemtoon verder: “Salem is ’n plek vir alle gelowiges. Dit maak nie saak watter kerk of geloof nie. Dit is ’n aanbiddingsplek. Ek glo dat as jy met die regte gesindheid na Salem kom om die Here te aanbid, is Salem ook vir jóú. Salem gaan daaroor om in die stilte die Here te dien.”

Toer deur Salem

Salem is vandag egter nié so stil en rustig soos dit gewoonlik is nie. Vandag neem Toit ’n groep laerskoolkinders van die NG gemeente Wellington-Noord op ’n reis deur die tuin. ’n Mens kom gou agter dat ’n toer deur Salem nie bloot ’n toer deur ’n tuin is nie, maar deur die Bybel.

Die eerste stop in die tuin is by ’n mosaïekkunswerk van ’n boom. Die boom staan sentraal in die kunswerk en rondom die boom ’n voël, blomme en ’n hand wat ’n vrug vashou. Toit verduidelik dat hierdie kunswerk Genesis 1 – 3 uitbeeld. Die gesprek brei uit en hy vra die kinders waar bome orals in die Bybel voorkom. Daar word gesels oor Moses by die brandende bos, Saggeus wat in die boom geklim het en die boom van Psalm 1 wat by waterstrome geplant is.

Ons stap verder na ’n altaar. “Die altaar is ’n weerspieëling van die offerande op Moria waarvan daar in Genesis 22 vertel word,” sê Toit. By die altaar vertel Toit vir die kinders van Abraham wat bereid was om sy seun, Isak, te offer. Hy gesels verder oor verskillende tipes offers wat in die antieke tyd voorgekom het.

Volgende stap ons na ’n standbeeld van Moses wat die slang op n paal in die woestyn na bo lig. Eksodus 20, Numeri 21:4-9 en Johannes 3:14-16 kan saam met hierdie beeld gelees word. Nadat Toit oor die figuur van Moses gesels het, lees hy uit Johannes 3:14-16 voor. Toit vertel vir die kinders dat God die wêreld so lief gehad het dat Hy vir Jesus gestuur het om ons te red.

By drie kruise teen die hang van die Paarlberg word die verhaal van Golgota lewendig as ds Toit Wessels dit vir die kinders vertel.

Die vyfde stop is by ’n grot wat vol kleikruike is. Toit vertel die storie van die skaapwagter wat die Dooie See-boekrolle by Qumran ontdek het. “Dit is ’n hele biblioteek van geskrifte wat ooreenstem met ons Bybel en ons help om opnuut te besef hoe kosbaar die Bybel is,” vertel Toit.

Die groep stap verder na ’n standbeeld van Dawid wat deur Samuel gesalf word. Toit vertel die storie van Dawid in 1 Samuel 16:1-13 wat deur God uitverkies is om die volgende koning te word. Hy gesels ook met die kinders oor die Psalms en hoe waardevol dit vir ons alledaagse geloofslewe is.

Ons beweeg intussen na die Nuwe Testament en staan by ’n veelkantige struktuur stil. Die verskillende hoeke van die struktuur beeld vyf stories van Jesus uit. Toit gesels met die kinders oor Jesus wat op die water geloop het, Jesus wat die kindertjies na Hom genooi het, Johannes die Doper wat vir Jesus in die Jordaanrivier gedoop het, Jesus wat sy dissipels se voete gewas het en Jesus wat die blinde man gesond gemaak het.

Volgende stap ons na ’n oop area waar daar drie prominente kruise staan. Toit gesels oor Paasfees wat om die draai is en watter betekenis Lukas 23:33-43 het as ’n mens dit by die kruis sit en lees. Nadat hy oor die vernedering en lyding van Jesus aan die kruis gepraat het, beweeg ons aan na die uitbeelding van die oop graf. Toit verduidelik hoe antieke grafte gewerk het en dat die klip voor die graf weggerol is omdat Jesus opgestaan het.

Ons beweeg na losstaande antieke pilare wat ’n herdenking van die gemartelde apostels weerspieël.

Volgende besoek ons ’n kunswerk wat Handelinge 2:1-10 uitbeeld. Toit vertel vir die kinders die storie van Hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. Ons loop verby ’n klei-uitbeelding van die verhaal van die verlore seun op pad na die laaste stop van die toer – die replika van ’n argeologiese terrein.

Toit sluit die toer af deur meer van argeologie in Israel te verduidelik en hoekom dit belangrik is om meer te leer oor die antieke wêreld waarin die Bybel geskryf is.

“Argeologie is vir ons baie kosbaar omdat dit die stories van die Bybel só inkleur dat ons dit beter kan verstaan,” sê Toit.


’n Tuin wat ‘vernuwe’

Nadat Toit die Bybelse tuin ontdek het, het hy besef watter kragtige hulpmiddel dié tuin vir kinder- en tienerbediening kan wees.

“Ek het gereeld verby die bordjie van Salem Biblical Garden gery aangesien die tuin slegs 1,2 km van die Agter-Paarl se kerkgebou is en was nuuskierig oor wat die plek is. Ek besluit toe verlede jaar om een middag hier in te ry en nadat tannie Mari my op ’n toer deur die tuin geneem het, het ek die waarde van die tuin vir die bediening besef,” vertel Toit.

Die toer van vandag is die vierde toer wat Toit in die tuin aanbied. Hy het al toere vir kinders, tieners en belydenisklasse aangebied én selfs predikante van die Paarlse ring deur die tuin geneem. “Hierdie tuin help mense om die Bybel in te kleur en beter te verstaan. Die kinders wil nie net elke Sondag by die kerk sit nie. Ongelukkig het ons ook nie altyd die taal om vir hulle die Bybel te verduidelik nie. Ek bring graag eerder die kinders hiernatoe en praat hier met hulle terwyl hulle die verskillende simbole en uitbeeldings kan sien en ervaar,” gesels Toit.

Spikes en Mari van der Spuy, opsigters van die Bybelse tuin, by die mosaïek waar die toer deur die tuin begin.

Toit vertel tydens die toer nie net vir die kinders ván die Bybel nie, maar hy lees ook úit die Bybel.

“Hulle sien die ooreenkomste tussen die teks, die simbole en tekens in die tuin. Die aard van die toer hang natuurlik ook af van die toergroep se ouderdom, maar watter kragtige hulpmiddel is die tuin nie as jy die belydenisklas voor die kruis in die natuur kan laat sit en byvoorbeeld Lukas 23:33-43 by die kruis saam met hulle lees nie! Ek het hierdie jaar op Goeie Vrydag die gemeente uitgenooi om saam met my negeuur voor die kruise te kom sit. Dit was ’n baie spesiale ervaring,” vertel Toit opgewonde.

Mari beaam dat Salem ’n spesiale plek is. “Salem is ’n plek wat geken word aan die diversiteit van mense wat die tuin besoek. Mense van álle rasse, klasse, ouderdomsgroepe, denominasies en gelowe besoek die tuin. Einde Maart het daar twee dames hul verjaarsdae in die tent kom vier – die een het 94 geword en die ander een 97. En wat ’n absolute fees was dit nie! As mense nie geloof, liefde en vrede hier op Salem kan vind nie, dan weet ek nie waar hulle dit gaan vind nie.”

Toit beaam: “Persoonlik herinner die tuin my aan die hele reis van mense van en in die Bybel. Mense, soos ek, wat na hul eie verstaan van God op soek is. Die tuin is my eie Volmoed-retraitesentrum 1,2 km weg van my kerk. Die plek waar ek stap om te dink, te skryf en stil te word. Die plek waar ek elke keer voor die drie leë kruise of die leë graf opnuut iets van God ontdek. Die laaste keer wat ek deur die tuin geloop het, het die uitbeel-ding van die verlore seun en die pa se hand wat so na die seun uitgestrek is, my geraak. ’n Plek wat vernuwe.”

Jesus bring nuwe perspektiewe op gender

Dr Nina Müller van Velden het onlangs haar doktorsgraad suksesvol by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. Die titel van haar ­proefskrif is: “When the lines are blurred: A gender-critical reading of the narratives of John 12:1-8 and John 13:1-17.” JACOBIE M HELENA het met haar daaroor gesels.


“Die radikale optrede van Jesus in sy eer­ste-eeuse konteks kan binne ons ge­loofs­gemeenskappe ons eie persepsies van gender en dit wat ons as vanselfsprekend aanvaar uit­daag en ons uitnooi om te droom oor ’n ander werk­likheid,” sê Nina.

Die manier waarmee Jesus met die karakters in die Johannes-evangelie omgegaan het, spesifiek met die fo­kus op die gender-dinamika in die verhale, het haar ge­motiveer om oor die temas van voete-was en maaltye in die Evangelie van Johannes navorsing te doen.

Oor die genderdubbelsinnigheid in Johannes, sê Nina: “Ons sien in Johannes 12 hoe Maria, ’n ongetrou­de vrou, Jesus se voete met baie duur olie salf en met haar hare afdroog. Jesus het hierdie gebaar met oor­drewe gemaklikheid ontvang. Dié toneel sou in die an­tieke konteks as ’n baie erotiese toneel beskou word en tog het Jesus dit tot só ’n mate aanvaar dat hy vir Judas gekonfronteer het toe Judas teenkanting daaroor gebied het.

“In Johannes 13, sien ons weer hoe Jesus, met die was van sy dissipels se voete, die gendergrense oorskry deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem. Dié gebaar was ten diepste ’n oorskryding van die norme van die tyd aangesien slawe as genderloos gesien is en gebruik­lik seksueel uitgebuit is. Dit was vir my baie interessant om te ontdek dat Jesus nie net die oorskryding van bepaalde gendergrense toelaat nie, maar dat Hy dit ook sélf uitbeeld.

“Verder in Johannes 13 Jesus vir sy dissipels dat hulle ook soos Hy moet doen. Uit ’n genderhoek be­skou, sê Jesus basies vir hulle dat hulle die strukture en die rolle, waarbinne hulle as manlike Joodse persone leef, by die spreekwoordelike venster moet uitgooi. Jesus sê hiermee vir hulle in sy koninkryk werk dinge totaal en al anders.

“Interessant genoeg neem Jesus met dubbelsinnigheid genderrolle aan, laat dit toe en reageer daarop vanuit sy eie posisie van manlike gesag in sy konteks. Maar hierdie mag en aansien wat Hy teenoor sy vriende en sy dissipels het, wend Hy op lewegewende maniere aan. Jesus, as eerste-eeuse rabbi, klim nie noodwendig uit die sisteem nie, maar Hy gebruik die mag wat die sis­teem vir Hom gee, op maniere wat vir mense ruimte gee.”

Dié ontdekking van Jesus se optrede het vir Nina ’n waardevolle les geleer. “Dit was vir my ’n treffende oomblik toe ek besef dat ’n mens altyd met sisteme van mag, wat baie deur genderpatrone beïnvloed word, te doen gaan hê. Maar bínne hierdie sisteme is daar ander maniere om goed te doen. Dit hóéf nie op ’n ma­nier te wees wat mense uitsluit nie, maar dit kan júis op maniere wees wat mense insluit. Ons sien baie keer Jesus se optrede as totaal en al anders, maar ons kyk graag mis dat Jesus ook byvoorbeeld die bestaande patriargale sisteem gebruik het om sy roeping op aarde uit te leef. Dít kan ons bemoedig dat ons nie eers strukture en sisteme heeltemal hoef af te breek om ’n verskil te maak nie, maar dat ons binne afbrekende sis­teme steeds lewegewende verandering kan bewerkstellig.”

Nina is opgewonde oor dié lewegewende rol van insluiting en verandering wat die NG Kerk rakende gender-geregtigheid in Suid-Afrika kan speel.

“Ons as NG Kerk het ’n baie waardevolle rol te speel in ’n stukkende land waar die misbruik van genderverhoudinge en gendermag aan die orde van die dag is. Ons het die geleentheid om dit te verander eerder as om dit in stand te hou met ons teologiese nadenke soos wat ek beleef dit meestal nog die geval is. Verandering sal beteken dat ons veilige teologiese ruimtes moet skep waar ons mekaar kan hoor en steeds oor kwessies kan verskil. Éérder as wat ons maar net ’n Bybelse sousie oor die opinies wat ons reeds het gooi, kan Bybelverhale soos Johannes 12 en 13 ons tot nuwe insigte lei,” sê Nina.

Nina vertel van die opgewondenheid wat sy by lidmate ervaar het wanneer sy met hulle oor haar navor­singsprojek gepraat het.

“Ek het agtergekom mense is regtig geïnteresseerd om die Bybel op ánder maniere te lees en te hoor. Ek sal graag wil hê dat my navorsing tot huidige gesprekke van gender, seksualiteit en die Bybel in die kerk moet bydra en die geleentheid vir lidmate bied om dieper te reflekteer oor hoe bekende verhale soos Johannes 12 en 13 in ons eie konteks nuwe betekenis kan kry. Wanneer ’n mens die geleentheid kry om te besef watter radikale verskil daar in die uitleef van gender in die antieke tyd en vandag se konteks is, word daar nuwe moontlikhede geopenbaar van hóé radikaal Jesus óók oor gendergrense opgetree het,” sê Nina opgewonde.

Vergifnis vind plaas as dit gevoel word

“Ware vergifnis vind nie plaas wanneer ons die klank van vergifnis hoor nie, maar wanneer ons die ge­voel van vergifnis begin voel.”

Dís maar één gevolgtrekking oor vergifnis wat dr Dion Forster, dosent in sistematiese teologie, op 20 Februarie by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch met die bekendstelling van sy boek The (im)possibility of forgiveness gemaak het. Die boek handel oor ’n empiriese studie wat Forster gedoen het toe hy Matteus 18:15-35 saam met wit, bruin en swart Suid-Afrikaners gelees het om te sien of vergifnis in die Suid-Afrikaanse konteks wel moont­lik is.

Dr Wilhelm Verwoerd, paneelspreker by die geleentheid, meen die taak van vergifnis vir wit Suid-Afrikaners is eers om net te erken en te luister. Hy sê Forster se boek nooi wit Suid-Afrikaners uit om die ongemaklike realiteite te proe wanneer die taal van vergifnis gebruik word. “Die boek konfronteer ons en moedig ons aan om nederig en versigtig te wees wanneer ons as wit Suid-Afrikaners oor die proses van vergifnis praat,” sê Verwoerd.

“Wit en swart Suid-Afrikaners het verskillende ma­niere om vergifnis te verstaan. Wit Suid-Afrika­ners is geneig om vergifnis te spiritualiseer en te indi­vi­dualiseer waar swart Suid-Afrikaners vergifnis in gemeenskaplike en politieke uitdrukkings sien. Ver­gif­nis word eers vir swart Suid-Afrikaners ’n werklikheid wanneer hulle dit fisies sien gebeur. Ons moet ma­niere kry om die Bybelse taal van vergifnis in eko­no­­miese, sosiale en politieke terme te vertaal,” sê Forster.

“Maar as ’n Christen is ek meer as ooit oortuig dat die taak van die Christelike gemeenskap is om ’n kom­binasie van genade en waagmoed te beliggaam waar die lewende evangelie die onmoontlikheid van ver­gifnis in ons Suid-Afrikaanse konteks tóg moontlik maak,” sê Forster.

Die vraag is egter hoe só ’n proses van vergifnis in die NG Kerk en deur die NG Kerk gefasiliteer kan word? Forster en Verwoerd sê albei dat die kerk die po­tensiaal het om ’n unieke plek te wees waar fasilite­rings­prosesse van vergifnis kan plaasvind.

Verwoerd meen die NG Kerk moet eers ruimtes skep waar bereidwillige lidmate oor die trauma van hul eie verlede, spe­sifiek militêre trauma van die oorloë, te praat. “Die lidmate van die NG Kerk moet eers by hul eie seer begin voor hulle aan ’n proses van vergifnis tussen ver­skillende ras- en klas­groe­pe kan deel­­neem,” meen Verwoerd.

Forster brei uit dat die kerk ’n veilige ruimte moet wees waar brawe en weerlose gesprekke kan plaasvind. “En die Bybel help ons spesifiek in hierdie opsig. Die Bybel kan op kragtige maniere as raakpunt in ge­sprek­ke tussen mense van verskillende rasse en klasse gebruik word en ons help om ’n gedeelde identiteit te ont­dek. Dié teks is só belangrik omdat dit vir mense woorde gee vir dit wat hulle glo. Die Bybel is ’n kragtige geskenk wat ons help om oor die moontlikheid van ’n nuwe toekoms te droom. Die Bybel gee aan ons as Suid-Afrikaanse Christene die woorde om op ’n gedeelde reis menslikheid aan mekaar te erken. Wanneer die Bybel egter sáám gelees word, word die onmoontlikheid van vergifnis tussen mense in Suid-Afri­ka moontlik,” sê Forster.

Wees self die leiers, sê Thuli

“Neem die eerste stap na ’n wêreld waarin jy wil leef.”

Só het prof Thuli Madonsela, vorige Openbare Beskermer van Suid-Afrika, gesê tydens die jaarlikse Teologiese Dag van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die tema van die dag was: “Onverskrokke woord en daad in hierdie tyd: teologie, etiek en burgerlike moed”. Madonsela, wat per video haar toespraak gelewer het, beklee van Ja­nua­rie 2018 af die leerstoel van sosiale geregtigheid in die Fakulteit Regte aan die US.

“Wanneer ons praat van ’n tyd soos hierdie, erken ons dat ons in ’n geweldige gebroke wêreld lewe. In 2017 het ons van die grootste uitdagings rondom dade van etiek en demokrasie op nasionale en internasionale vlak beleef. Hoe hanteer ons die uitdaging van armoe­de en ongelykheid in ons land?” het Madonsela gevra.

Madonsela sê die antwoord is om soos die tema lui “onverskrokke” op te tree. “Eienaarskap is ’n groot kwes­sie in ons land,” sê sy.

Sy het die gehoor uitgedaag om eties en met integri­teit te leef. “Hierdie is die tyd om as etiese leiers te lei. Die meerderheid van die uitdagings in ons land het te doen met die gebrek aan etiese en geskikte leierskap. As ons wil strewe na ’n land waar almal gelyke kanse het, moet ons terugkeer na lewens van etiek,” sê sy.

“Hoe keer ons terug na ’n etiese land? Die eerste stap is om jouself as ’n leier te beskou. Jy het nie ’n titel no­dig om ’n leier te wees nie. Elke persoon het sfere van in­vloed en van al die mense wat jy kan beïnvloed is daar ten minste één persoon vir wie jy kan lei – jouself.”

“Dit is ons tyd om te lei. Die mense vir wie ons wag om ons gebroke wêreld te verander, is bloot onsself,” het Madonsela die digter June Jordan aangehaal.

Om die fondasie van die stad te skud

Die klok van die Metodistekerk in Kaapstad se oud-gotiese katedraal weeg 3,5 ton. Dit het in 1897 laas gelui, vertel ds Alan Storey tydens die jaar­likse Teologiese Dag van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Die rede hiervoor,” verduidelik hy, “is omdat siviele in­genieurs bevind het dat wanneer die klok gelui word, dit die fondasies van Kaapstad skud. Dit skud letterlik die fondasies van die omliggende geboue. Dié beeld het ons gemotiveer om die klok spreekwoordelik te lui en met hel­dergeel baniere die fondasies van die stad op ’n stil, maar visuele manier te skud.”

Die verhaal van die geel baniere word ’n illustrasie van die tema van die Teologiese Dag: “Onverskrokke woord en daad in hierdie tyd: teologie, etiek en burgerlike moed”.

Dié Metodistekerk gebruik die baniere om die inwo­ners van Kaapstad bewus te maak van aktuele kwessies soos xenofobie, geweld teen vroue, gelyke opvoedings­regte vir almal, die treinvervoerkrisis en gelyke regte vir “queer” mense in Afrika.

Hulle beoog om op 3 Maart, Internasionale Sekswer­kers­dag, ’n banier teen die kerk se muur te plaas ter on­der­steuning van die dekriminalisering van sekswerk. Die banier sal lui: “Jesus het eerste sekswerk gedekriminaliseer.”

Storey bieg dat die kerk in die meeste gevalle nie die liggaam is wat aktuele sake direk aanspreek nie, maar dat dit vanuit die burgerlike samelewing gebeur. “Die burgerlike samelewing leef die evangelie en herinner die kerk só aan die evangelie,” sê Storey.

Hy neem dit ’n stap verder: “Ons as kerk moet ophou om die probleem by ander te soek, aangesien veral Chris­tenskap die bron van die probleem van die onder­drukking en van die sonde is.”

Storey daag kerke uit met vier kerngedagtes, wat ook die motivering agter elke boodskap op die geel baniere is:

“Eerstens moet kerke nie net Christus preek nie, maar hulle moet die gekruisigde Christus preek. Christus kan ’n motiveringspreker, ’n geneser of ’n wonderwerker wees. Die kwessie wat ons moet aanspreek is dat as die Christus wat ons vir mense aanbied nié die status quo uit­daag en onsself kruisig nie, het dié Christus niks met die evangelie te doen nie.

“Tweedens word die kerk nie geroep om te oorleef nie, maar eerder om sy lewe weg te gee. Ons word ge­roep om pro­fete te wees wat die waarheid praat.

“Derdens moet ons glo dat die wêreld ons gemeente is en nie die gemeente ons wêreld nie. Ons moet na hier­die wêreld omsien en ons lidmate só uitdaag.

“Vierdens moet ons versigtig wees vir die struikelblok van vrees, want vrees verhoed dat ons die waarheid oor ons land praat.”

Storey sluit af met ’n gebed: “Here, help my om U lief te hê, help my om die skepping lief te hê en help my om ander lief genoeg lief te hê dat die liefde wat ek het genoeg is om die vrees te verdryf dat ek kan waag om die waarheid te praat, of dit onverskrokke is of nie.”