Johan Van der Merwe

Migrasie gee die evangelie vlerke

Die migrasie van mense is van die oudste tye af deel van die geskiedenis van die mensdom. Dit is hoe kulture en godsdienste regoor die wêreld versprei het. Dit is ook soos ’n goue draad van die begin af in die geskiedenis van die NG Kerk ingeweef.

Die NG Kerk het sy ontstaan te danke aan die koms van Jan van Riebeeck en ’n groepie mense wat uit Ne­derland na die suidpunt van Afrika gekom het. Toe hulle op 6 April 1652 hier aangeland het, het hulle nie net ’n verversingspos gestig nie, maar ook die kerk hier geplant.

Vanaf 1835 het meer as 10 000 mense na die binneland van Suid-Afrika getrek in ’n migrasie wat be­kend geword het as die Groot Trek. Ook hulle vesti­ging in die binneland het tot die stigting van gemeentes en kerke aanleiding gegee.

In die laat tagtiger- en vroeë negentigerjare van die vorige eeu het duisende lidmate van die NG Kerk Suid-Afrika verlaat om hulle elders te gaan vestig. Dit het gelei tot die stigting van Bybelstudiegroepe, huis­kerke, gemeentes en onafhanklike kerke regoor die wêreld.

Terwyl hierdie verskillende migrasies van lidmate gesorg het vir die ontstaan van die NG Kerk en die ver­spreiding van die evangelie, is dit ongelukkig deur die NG Kerk by geleentheid in sy sinodes veroordeel. Tydens die sinode van 1837 is die Groot Trek beskryf as ’n daad van verset en die optrede van die emigrante is ten sterkste afgekeur. Geen predikant het hulle ver­gesel nie en die sakramente kon nie aan hulle bedien word nie. Nie-amptelik was hulle onder tug!

’n Verslag wat in 1998 voor die Algemene Sinode gedien het, het dieselfde gees geadem: “Die Ned Geref Kerk behoort die emigrasie van lidmate wat nie werklik uit noodsaak geskied nie, te ontmoedig.” Die verslag het voorts gelui: “As hoofrede vir hierdie ontmoediging word die gereformeerde standpunt dat gelowiges daar waar God hulle geplaas het, hulle gelowige roeping moet vervul. Hulle sal daarom ook nie te gou padgee uit moei­like omstandighede nie, omdat dit kan beteken dat hulle hulle Godgegewe roeping versaak.”

Volgens berigte kan die besluit van die regering om grond sonder vergoeding te onteien tot ’n volgende groot emigrasie lei. Miskien is die uitdaging van ons dag om uit die geskiedenis te leer en eerder na hierdie migrasie deur ’n missionale te bril kyk. Dan gee emigrasie aan die evangelie vlerke “tot aan die verste uit­hoeke van die aarde”.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Geloof wat ’n verskil maak

Het die NGK nog ’n rol om te speel in ’n post-apartheid-Suid-Afrika? Kan die kerk nog ’n sinvolle bydrae maak? Het die omstandighede in die land nie sodanig verander dat die kerk wat apart­heid Bybels fundeer het, se rol uitgespeel is nie?

Hierdie vrae wat al meer gevra word, het die potensiaal om retoriese vrae te word – vrae wat eintlik ’n ant­woord veronderstel – dat die NGK se rol in die sa­me­lewing uitgedien is. Dalende lidmaatgetalle en gemeentes wat “toemaak” dreig om aan hierdie antwoord vleuels te gee.

Die geskiedenis van die NGK, die plek waar ons wor­tels diep geanker is, vertel egter ’n ander verhaal. Dit daag ons uit om anders te dink oor ons rol in ’n ve­randerende Suid-Afrika. Dit herinner ons dat op­reg­te geloof en toewyding ’n daadwerklike verskil in die sa­melewing kan maak.

Die merkwaardige verhaal van die Franse Hugenote bevestig hierdie stelling.

Die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 het die einde van godsdiensvryheid in Frankryk beteken. Franse protestante moes vir hulle lewe vlug. Op 31 Desember 1687 het ’n groep uit Nederland op die skip, die Voorschoten, na die Kaap vertrek. Hulle het in April 1688 in Saldanhabaai voet aan wal gesit en is in die Drakensteinvallei hervestig.

Die ontwikkeling wat gevolg het, getuig van moed, durf en geloof. Op 6 Desember 1690 het hulle ’n eerste kerkraad verkies en in 1691 het die gemeente Drakenstein onstaan. Teen 1717 het die gemeente die grond bekom waarop die huidige Strooidakkerk in die Paarl staan. Teen 1729 is die gemeente beskryf as die ywerig­ste gemeente in die kolonie!

Die Hugenote het egter nie net op godsdienstige gebied ’n verskil gemaak nie. Hulle het met groot ywer die land help ontwikkel. Vier jaar na hulle vestiging is die eerste wingerdoes gemaak en as gevolg van hulle ywer het Olifantshoek Franschhoek geword. Die Hu­ge­notemonument, wat in 1949 ingewy is en wat die koms van hierdie groep gelowiges herdenk, vertel die verhaal van geloof wat in vreemde omstandighede op die terrein van godsdiens, kultuur, landbou en nywerheid ’n verskil kom maak het.

Baie lidmate van die NGK beleef die veranderende omstandighede in Suid-Afrika as vreemd en selfs bedreigend. Dit is egter juis die verandering en onse­kerheid wat nuwe uitdagings bring en wat deure na nu­we geleenthede oopmaak.
Ons hoef nie die vreemde in te vaar om ’n verskil in ’n vreemde, woeste land te gaan maak nie. Lidma­te van die NGK kan dit sommer hier doen. Die vraag is of ons geloof van so ’n aard is dat ons in hierdie om­­stan­dighede ’n verskil wil maak om so op die voetspo­re van ons voorouers te loop.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Benut jou vryheid om ’n verskil te maak!

Dit is tyd vir die kerkraadsvergadering in die plaas­like gemeente. Die predikant droom.

Alles is gereed. Dit is 19:00. Die lede van die vergadering sit en wag. Dan stop ’n blink swart mo­tor voor die kerkgebou. Die deur gaan oop en die nuut aangewese “Kommissaris Politiek” klim uit. Na die afgelope verkiesing is besluit dat daar op elke kerk­raads­vergadering ’n verteenwoordiger van die plaaslike owerheid teenwoordig moet wees. Sy trek haar rooi werkersoorpak reg, sit haar rooi baret op haar kop en stap die gebou binne …

Die predikant skrik papnat gesweet wakker.

Alhoewel hierdie droom vergesog klink, is dit min of meer hoe sake in die eerste gemeentes aan die Kaap verloop het. Die goewerneur en die politieke raad is op elke kerkraad deur ’n Kommissaris Politiek verteen­woordig.

Hierdie gebruik, dat die staat op plaaslike kerkrade verteenwoordig word, het om en by in 1575 in Nederland ontstaan en was aanvanklik bedoel om as ’n buf­fer tussen die Remonstrante en Kontra-Remonstrante op kerkrade te dien.

Met die vestiging van die eerste gemeentes aan die Kaap, is die gebruik voortgesit en is daar vir elke gemeente ’n Kommissaris Politiek aangewys. Dit was hulle taak om die besluite van die goewerneur aan die kerkraad oor te dra, om die besluite van die kerkraad vir goedkeuring aan die politieke raad voor te lê en om seker te maak dat daar nie opstand teen die regering gestook word nie.

Die name van verkose kerkraadslede moes ook vir goedkeuring aan die staat voorgelê word. Gemeentes was vasgevang in die ystergreep van die staat.

Wanneer so teruggeblaai word deur die geskiedenis, is dit duidelik dat die vryheid wat gemeentes het in die tyd waarin ons leef, nie vanselfsprekend is nie. Dis ’n voor­reg en ’n geleentheid wat met verantwoordelikheid gebruik moet word om ’n verskil in die plaaslike omge­wing te maak. Die uitdagings en geleenthede is legio.

Na sy nagmerrie raak die predikant weer aan die slaap. Hy droom steeds van die kerkraadsvergadering.

Voordat die vergadering moet begin, stop ’n verval­le en onpadwaardige minibus-taxi voor die kerkgebou. Die passasiers: 20 laerskoolkinders op pad huis toe. Die bestuurder, sonder die nodige lisensies en per­mitte. Hy droom hoe kerkraadslede naderstaan en begin planne maak om die taxi reg te maak, ander reël alternatiewe veilige vervoer vir die kinders, terwyl daar seker gemaak word dat die bestuurder die nodige opleiding kry om die taxi te bestuur.

Hy word wakker. Dit is nie net ’n droom nie. Hy is innig dankbaar dat dit voor die vorige vergadering reg­tig gebeur het. Die gemeente maak so op ’n praktie­se manier ’n verskil in die samelewing!

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Gemeentes sonder predikante is niks nuuts nie

Meer en meer kleiner gemeentes kan nie meer predikante bekostig nie. Die vraag word hard en selfs verwytend gevra: “Wat doen die kerk daaraan?” So asof geestelike werk in ’n gemeen­skap stop die oomblik wanneer die laaste predikant vertrek.

Terwyl daar in vergaderings gepraat word en naar­stigtelik na oplossings gesoek word, kan die geskie­de­nis van die NG Kerk ons dalk help – en wel met die “amp van sieketrooster”. Vir die eerste 13 jaar na die koms van Van Riebeeck in 1652, was die gelowiges aan die Kaap immers aangewese op die geestelike versorging van “sieckentroosters”. Die kerk onder hulle leiding het so ontwikkel en gegroei dat daar in 1665 ’n eerste predi­kant beroep kon word.

Voornemende sieketroosters moes ’n getuigskrif oor hulle leer en lewe gee waarna hulle oor hulle leer-, lees- en sangvermoë getoets is. Daarna is hulle deur die Ring van Amsterdam uitgestuur.

Hierdie manne het ’n veeleisende taak gehad. Hulle moes Sondae die gemeente vermaan, die samesang lei en uit die Bybel en erkende preekbundels voorlees. Benewens hulle werk op Sondae, moes hulle gedurende die week die oggend- en aandgodsdiens lei en siekes besoek. Hulle was ook verantwoordelik vir kategese.

Onder leiding van die sieketroosters is daar uitgereik na die plaaslike bevolking. In April 1664 het die sieketrooster gerapporteer dat kinders van slawevroue en ’n aantal Khoi-kinders die Ons Vader-gebed kon opsê en verstaan.

Vanaf 1652 tot 1665 het vier sieketroosters gelowi­ges aan die Kaap bedien. Willem Wijland, wat in 1652 saam met Van Riebeeck op die Drommedaris aangekom het, Pieter van der Stael, Ernestus Back en Jan Jorisz.

Dit was veral Wijland wat groot moeite gedoen het om kontak te maak met die plaaslike Khoikhoi. Hy het van die Khoi-jongmense by hom laat woon en met groot ywer probeer om hulle taal aan te leer. Hy het ook pro­beer om hulle te leer lees en skryf.

Uit die geskiedenis is dit duidelik dat die eerste gemeente in die Kaap aanvanklik goed sonder ’n predikant klaargekom het. Alhoewel die ideaal altyd was om ’n leraar te beroep, het geestelike werk voortge­gaan onder leiding van die sieketroosters. Met die verspreiding van lidmate in ’n groter wordende kolonie en die stigting van nuwe gemeentes, sou predikante ’n luukse bly.

As die eerste gemeente in die Kaap sonder ’n predikant kon groei, kan bestaande gemeentes sonder pre­di­kante mos ook! Gemeentes sonder predikante is immers van die begin af niks nuuts nie! Miskien moet die kerk, met die voorbeeld van die amp van sieketrooster in ge­dagte, vars dink oor nuwe moontlikhede vir die toekoms.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Sal gelowige pioniers asseblief opstaan!

Ons leef in pioniersomstandighede. Dit is die gevolg van ’n samelewing wat voortdurend aan die verander is. Niks is of bly dieselfde nie – buiten die NG Kerk. In ’n samelewing wat radikaal anders lyk en radikaal anders funksioneer, het gemeentes op enkele uitsonderings na, dieselfde gebly as dekades gelede – wit en Afrikaans.

Alhoewel daar op die oog af nie iets daarmee verkeerd is nie, is die belangrike vraag hoe gemeentes wat eintlik vreemd aan hierdie veranderende samelewing is, ’n verskil kan maak en hoe die NG Kerk haar roe­ping kan uitleef.

’n Deel van die antwoord op hierdie vraag is die her­nude bewussyn binne die kerk om missionaal kerk te wees. Om dit in praktyk te laat slaag het die kerk egter meer as goeie teologie en goeie planne nodig. Wat nodig is, is gelowige pioniers.

Dit is egter niks nuuts nie. Die geskiedenis van die NG Kerk is ’n verhaal van gelowige manne en vroue wat juis in pioniersomstandighede kerk geplant en gemeentes gevestig het.

Met die koms van Jan van Riebeeck in 1652 was dit in die woorde van Van der Watt volksplanting en kerkplanting. Dit is gedoen deur pioniers – mense wat bereid was om die gemaksone van ’n bekende omgewing te verlaat – om ’n nuwe woeste wêreld te gaan tem maar ook om die evangelie daar te vestig. Gemeente op gemeente wat gestig word soos wat die kolonie groei, bevestig bogenoemde stelling.

Wanneer die Franse Hugenote in 1688 voet aan wal sit, word daar nie net in Olifantshoek wingerde geplant nie, maar ’n Franssprekende gemeente word gestig.

Wanneer die Voortrekkers teen 1835 die binneland begin intrek, neem hierdie pioniers die Christelike godsdiens op hulle reis met hulle saam en word gemeentes en kerke in die binneland gestig.

Lidmate van die NG Kerk wat in die afgelope deka­des uit Suid-Afrika geëmigreer het, het die kerk met hul­le meegeneem en in pioniersomstandighede oral in die wêreld kerke en gemeentes geplant.

Om gelowige pioniers te wees is deel van ons DNS.

Wat nodig is, is dat gelowige lidmate van die NG Kerk hierdie pioniersgees hier in Suid-Afrika in gemeentes in ’n veranderende samelewing weer sal laat herleef. Dit beteken dat gemaksones iets van die verlede sal wees, dat grense afgebreek en oorgesteek sal moet word en dat opofferings gemaak sal moet word. Dit is die enigste manier waarop die NG Kerk regtig weer ’n mis­sionale kerk sal kan wees.

Sal alle gelowige pioniers in gemeentes asseblief opstaan?

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.