Pieter Coetzee

Eerlike antwoorde asseblief

Pieter Coetzee van Pinelands skryf in ’n brief:

As onigeligte en dalk dom, maak ek graag ’n paar stellings rondom die vraagstuk wat ek hoop eerlik beantwoord sal kan word.

Waarom word die probleem voor die deur van die NG Kerk gelê, terwyl ander Christelike kerke en gelowe soos die Jode, Moslems en self Boediste nie aangeval word nie? Die aanslag is baie eensydig en beslis nie die gevoel van ‘n meerderheid nie, maar wel ’n paar wat die Bybel wil herskryf.

Ek verwys na ’n paar Bybelverse: Genesis 1: 27 noem dat God die mens geskep het en hul man en vrou genoem het. In Levitikus 18:22 en 1 Timoteus 1:9 word geskryf dat gay vehoudings sonde is en ook op ander plekke in die Bybel.

Nêrens word gesê ons moet diesulkes veroordeel of verneder nie. Dit is belangrik, hoewel die daad verkeerd is en ons nie die Bybel se letters mag verander nie. Ek voel jammer vir gay mense, want maklik is die probleem nie, maar die wat hulle veroordeel is egter ook skuldig, want ons almal is Sy kinders.

Onregverdig is dit dalk, maar wat moet die blinde, kreupele en minder aansienlike wat nie kan trou nie dan sê? Ongelukkig ook het gay vehoudings mode en dus sonde geword. Kyk maar na die filmsterre en ander wat in sulke verhoudings betrokke raak net omdat hulle kan en nie gay is nie. Daar is net geen skaamte meer nie en te veel aanslae teen Die Woord van God, want ons weet beter.

Sulke verhoudings moet diskreet beoefen word en gay predikante in verhoudings kan nie op die preekstoel toegelaat word nie. Ek glo hulle kan uitstekende bedienaars van Die Woord wees, maar nie terwyl hul strydig met God se Woord optree nie.

Ek veroordeel niemand, maar weet ook wat die Woord van ons verwag en diesulkes wat sulke huwelike en verhoudings wil goedkeer is nie in lyn met wat God verwag nie. Hartseer dalk, maar waar.

Weereens vra ek hoekom wil sekere mense die Christelike Kerk veroordeel, maar nie ander godsdienste wat ook teen sulke huwelike en verhoudings is nie? Die feit dat ander groepe dit ook veroordeel is ‘n bewys van geestelike waardes wat die meeste mense in die wêreld beoefen en respekteer. Godsdiens is ’n werklikheid net soos morele waardes, en die wat nie daarmee wil saamstem nie moet dan maar hulle eie kerk stig en ander uitlos wat probeer om God se waardes uit te leef.

Niemand is volmaak of sonder sondes nie. As gelowiges moet ons die gesag van Die Woord uitleef!

NG Gemeente Cedarville-Matatiele

VAKATURE: Twee jaar Kontrakpos

Opsie van nog 1 jaar met wedersydse goedkeuring

SLUITINGSDATUM: 11 Augustus 2017 

GEMEENTEPROFIEL:

Die NG Gemeente Cedarville-Matatiele is suid-oos van Lesotho naby die skilderagtige suidelike Drakensberge geleë, 70 km vanaf Kokstad. Dit is ’n landbou- en dorp omgewing.  Sowat 120 belydende lidmate en 25 dooplidmate is deel van die gemeente.

LERAARSPROFIEL:

Gelegitimeerde emeritus leraar van die NG Kerk.

Aangesien die gemeente oor twee / drie jaar weer ’n voltydse leraar wil beroep, word van die kanditaat verwag om die gemeente te begelei tot ’n volhoubare toekomsbediening.

VERGOEDING:

Salaris gelykstaande aan kerf 1 sonder medies en pensioen.

HUISVESTING: Gratis gemeubileerde huisvesting word op Matatiele verskaf.

Die gemeente beskik oor ’n gemeentevoertuig vir amptelike gebruik.

BESKIKBAARSTELLING:

Emeritus leraars wat in die pos belangstel, word versoek om die volgende aan die kerkraad voor te lê: ’n Tersaaklike CV, en kontakbesonderhede van 2 referente. Onderhoude mag met kandidate gevoer word, asook ’n preekbeurt.

POSADRES: Pre-Advies, e-pos: ngkerk@mtnloaded.co.za

NAVRAE: Voorsitter van die Kerkraad: Oudl Arno Smith, 083 278 8157

Admin en Finansies: Oudl Hendrik Botha, 083 305 4726 of 087 151 1809

SLUITINGSDATUM: 11 Augustus 2017 

Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling te maak uit leraars wat hulle op bogenoemde wyse beskikbaar stel nie.

NG Gemeente Hertzogville

VAKATURE: VOLTYDSE LERAARPOS

Sluitingsdatum: 31 Augustus 2017

GEMEENTEPROFIEL:

Hierdie gemeente is geleë  binne in ‘n boerderygemeenskap in die Noord Wes Vrystaat en ongeveer 140 km vanaf Bloemfontein. Ons is ’n behoudende gemeenskap. Daar is 298 belydende lidmate, 78 dooplidmate en bestaan uit ses plaaswyke en vyf dorpswyke. Hertzogville het ’n baie goeie laerskool en het ook ’n Bejaarde Dienssentrum vir selfversorgende bejaardes.

LERAARSPROFIEL:

  • Gereformeerde en evangeliese prediker wat die gesag van die skrif aanvaar.
  • Leraar wat sal aanpas in plattelandse gemeenskap.
  • Leraar se vrou moet betrokke wees.
  • ’n Herder wat in spanverband kan saamwerk en met ‘n visie vir geestelike vernuwing – nie net suiwer verandering nie.
  • ‘n Kreatiewe dinamiese persoon wat nie net oor tegnologiese vaardighede beskik nie, maar wat ook bestuursvernuftig is.
  • ’n Energieke persoon met ‘n passie vir mense.
  • Kontak deur middel van huisbesoek is baie belangrik
  • Iemand wat met entoesiasme leiding, motivering en samewerking kan bewerkstellig en die Lewende Woord in alle omstandighede suiwer bedien.

WERKSPROFIEL:

  • Ampspligte: Ingevolge Artikel 9 van die Kerkorde.
  • Vergoeding: Totale vergoedingspakket – onderhandelbaar “binne Sinodale riglyne”. Die gemeente bied ‘n gerieflike, ruim en netjiese pastorie vir inwoning.

AANSOEKE:

  • Gee ’n duidelike uiteensetting van hoe u, u rol as leraar sien, ’n CV, met drie referente, moet u aansoek vergesel.
  • Rig u aansoek en CV per e-pos aan, nghzvl@gmail.com

Sluitingsdatum: Aansoeke sluit  31 Augustus 2017

Diensaanvaarding: 1 Januarie 2018

Vir enige verdere navrae, kontak vir

  • Martie de Koker (skriba) by 053 421 9112 (k), of vir
  • ds Francois du Plooy (konsulent), by 082 737 1792, of vir
  • Johan van Rensburg (Voorsitter van die Kerkraad) by 082 374 7898.

DIE KERKRAAD BEHOU HOM DIE REG VOOR OM NIEMAND UIT DIE BELANGSTELLENDES TE BEROEP NIE.

NG Gemeente Klerksdorp Doringkruin

VAKATURE: JEUGLERAAR Twee jaar Termynpos

Sluitingsdatum: 14 Augustus 2017

GEMEENTEPROFIEL

NG Klerksdorp Doringkruin is ’n makro-gemeente op die platteland met 2 500 lidmate

(Belydend en Doop), waarvan 83% in die ouderdomskategorie van 0 tot 59 jaar sorteer.

Ons visie is: IN VERHOUDING MET JESUS VANDAG, en staan op die volgende 4 pilare:

1. VERHOUDINGS 2. GENESING 3. TOERUSTING 4. DISSIPELSKAP

Die gemeente het ’n dinamiese Jeugbediening waar al die verskillende ouderdomsgroepe, vanaf peuters tot jong werkende lidmate bedien word.

Die gemeente word tans deur 2 leraars bedien.

PROFIEL VAN KANDIDAAT

  • Moet tussen 25 en 35 jaar oud wees
  • Moet ‘n passie vir Jeugwerk hê
  • Dit sal voorkeur geniet indien die kandidaat ‘n musiekinstrument kan bespeel

TAKE

  • Alle aspekte van Jeugbediening, met klem op hoërskole in Klerksdorp
  • Alle ander pligte soos vervat in Artikel 9 van die Kerkorde

VERGOEDING

  • Allles-insluitende Pakket

AANSOEKE

  • Verskaf ’n verkorte CV voor of op 14 Augustus 2017
  • Diensaanvaarding so spoedig moontlik.
  • Onderhoude sal gevoer word met kortlys-kandidate
  • CV’s kan aan die Kerkkantoor gerig word, per e-pos na: kommunikasie@ngdoringkruin.co.zaof per faks na e-pos by 086 407 0246

NAVRAE:

  • Ds Q Scholtz: 079 899 4017.
  • Ds L van Niekerk: 082 785 7463
  • Me C Mynhardt (skakelbeampte): 018 468 1280 (kies opsie 1)
  • Maandag-Vrydag van 08:00-13:00

NG Gemeente Toringkerk, Paarl

Vakature: Orrelis

Sluitingsdatum: 4 Augustus 2017

Die orrelis is verantwoordelik vir die sang en musiek tydens die oggenddiens en ander geleentheidsdienste. Begeleiding op die pyporrel is die vertrekpunt. Die orrelis is verant- woordelik vir die kreatiewe uitbou en ontwikkeling van die musiek by die diens en moet as deel van ’n span kan funksioneer.

Ons gemeente se musiekbedieningskultuur is een van samewerking tussen orrel en kontemporêre musiekgroep. Ons verwagting is dat die twee style mekaar komplimenteer en bystaan deur saam te werk en dat daar bereidwilligheid is om nuwe liedere te leer en saam te speel. Ons verwag ook van die persoon om een oefensessie per week saam met die musiekgroep te oefen.

Vereistes: Die kandidaat moet verkieslik oor die volgende kwalifikasies, vaardighede en ondervinding beskik.

  • ’n Vierjarige BMus-graad met orrel as hoofvak op 3de jaar of byvak op 4de jaarsvlak of enige ander toepaslike kwalifikasie
  • Die begeleiding van gemeentesang met ’n pyporrel
  • Vermoё om klavier te speel sal ’n aanbeveling wees
  • Ondervinding met die afrigting van gemeentekore en of sanggroepe sal ’n aanbe-beveling wees
  • Toegang tot ’n netwerk van musici.

Vergoeding: Onderhandelbaar volgens die riglyne van die Suid Afrikaanse Kerkorrel Vereniging (SAKOV)

Aansoeke: Volledige CV’s kan gestuur word aan:

  • Die Sameroeper Musiekpos: Diensverhoudinge
  • Per pos: NG Toringkerk, Posbus 304, Paarl 7620
  • Per e-pos: kantoor@toringkerk.co.za

Sluitingsdatum: 4 Augustus 2017

Indiensneming: Nie later as 1 Oktober 2017 nie, of soos onderhandel.

Navrae: Kerkkantoor 021-8726730 of Jana Visagie 0839484233

NG Kerk (Moedergemeente) George

VAKATURE: ORRELIS

Sluitingsdatum: 11 Augustus 2017

Posvereiste:  Die geskikte persoon moet:

  • ’n Belydende lidmaat wees van een van die Susterskerke, waar sy/haar Christenskap uitleef
  • Beskik oor:
    • bogemiddelde orrelvaardigheid;
    • ’n  musiekkwalifikasie met orrel as een van die vakke;
    • ‘n kwalifikasie en ondervinding in kerkmusiek;
    • vaardigheid in klavier;
    • kennis van ander instrumente wat as begeleiding vir geestelike musiek en sang in die kerk geskik is; 
    • ’n grondige kerkmusiek agtergrond.
    • Beskik oor goeie beplanning- organisering en ander bestuursvaardigede.
    • Rekenaargeletterd wees in die aanwending en gebruik van programme soos Powerpoint, Excell en Word.

Aanbevelings: Dit sal as aanbeveling dien indien die persoon:

  • Beskik oor vorige toepaslike ervaring as orrelis en musiekleier,
  • ’n Passie het vir musiek en die kunste,
  • Gemotiveerd wees om beide die Klassieke en Kontemporêre styl van musiek in die eredienste te integreer.
  • Die  visie het om in oorleg met die Erediensbediening die Musiekbediening te kan uitbou en om die bediening voortdurend lewendig te hou.

Pligte: Die verantwoordelikheid vir die leiding en bestuur van alle fasette van die Musiekbediening. ‘n Volledige taakomskrywing is op aanvraag  by die kerkkantoor beskik-baar.

Vergoeding: Die  SAKOV salarisskale sal as riglyn dien.

Aansoeke: Aansoeke vergesel van ’n volledige CV van nie langer as 2 bladsye en ten minste 2 referente, moet gerig word aan: Die Gemeentebestuurder by: ngmoeder@caw.org.za

Sluitingsdatum: 11 Augustus 2017

NG Gemeente De Rust

VAKTURE: VOLTYDSE LERAAR

Sluitingsdatum: 31 Augustus 2017 | Aanvangsdatum: 1/2/2018

  1. Gemeente Profiel:
    • Die Gemeente is geleë in die De Rust, Oudtshoorn gebied. Dit bestaan uit dorp sowel as plaaswyke. Dit is ’n dinamiese diverse plattelandse gemeenskap. Daar is belydende en dooplidmate.
  2. Leraarsprofiel:
    • Kandidaat moet volwaardige en Evangeliese Predikant wees wat die gesag van die Skrif aanvaar.
    • Moet bewese ervaring hê en in plattelandse gemeenskap kan aanpas.
    • Moet getroud wees en eggenote moet verkieslik Gemeente aksies/projekte georienteerd wees.
    • Moet goeie interpersoonlike verhouding handhaaf, ’n spanwerker wees en deelne- mende bestuurstyl handhaaf.
    • Moet innoverende denker met visie en aanvoeling vir die tradisioneel sowel as die moderne vernuwende insprake en uitgangspunte hê.
    • Rekenaarkundigheid en Tegnologiese vaardighede sal goed te pas kom.
  3. Werksprofiel:
    • Ampspligte volgens Artikel 9 van die Kerkorde.
    • Huis –en hospitaal besoeke asook samewerking met ander Kerkgenootskappe, besoek aan en be-arbeiding van nuwe intrekkers en ander denkendes noodsaaklik.
    • Aktiewe betrokkenheid en belangstelling in gemeentelike aksies.
    • Passievolle en energieke betrokkenheid by insamelings aksies en werksaamhede van die Kerkkantoor.
  4. Vergoedingspakket:
    • Traktement en ander voordele onderhandelbaar
    • Sinodale aanbevelings sal as riglyn dien
    • Gemeente beskik oor ’n gerieflike pastorie.
  5. Aansoeke, met kort weergawe oor hoe u, u rol as leraar sien.
    • Moet voor 31 Augustus 2017 aan die NG Kerkkantoor De Rust, Posbus 17,De Rust, 6650 gerig word. E-pos: ngderust@scwireless.co.za
    • Vir Aandag: A Schoeman (Voorsitter DVK ) 082 843 8824 | P Schoeman (Hoofouderling)  082 377 0547 | Z vd Westhuizen (Skriba) 082 808 3277 / 044 241 2114

Die Kerkraad behou die reg om geeneen van die aansoekers te beroep nie.

Vakature by ‘n GF4GF Sentrum

BESTUURDERSPOS

Sluitingsdatum: 22 Augustus 2017

Die A-Maize-ing Sentrum Bothaville Vrystaat | GF4GF – Good Foundations for Good Fruit

Posbeskrywing

Kandidate moet ongeveer 10 gematrikuleerde jongmense uit verskillende kulture op ‘n klein plaas buite Bothaville mentor en dissipel vir ‘n  “gap year” wat loop van Februarie tot November elke jaar.

Die GF4GF program sluit die volgende in:

Morele herstel en karakter ontwikkeling; waardes van dissipelskap; leierskap; lewensvaar

hede; probleem oplossing; kommunikasie en konflik hantering; alkohol -en dwelm voorkoming; seksualiteit en verhoudings; familiewaardes; basis in pastorale gesprek voering; fasilitering; leer deur ervaring; groepswerk; misdaad voorkoming; gemeenskaps-ontwikkeling en –transformasie; kinderbediening en jeugwerk; loopbaan begeleiding; Ububala sport; persoonlike finansies; basiese besigheids-beginsels; basiese boerdery-beginsels en groente tuine.

Vi rmeer besonderhede oor die aard van die getuieniswerk/gemeenskapsdiens gaan na http://gf4gfcentres.co.za/about-us

Vergoeding:

Vry inwoning en etes as die sentrum in bedryf is, ’n voertuig met brandstof vir die uitvoering van die opdrag. Die maandelikse vergoeding sal tydens ’n onderhoud onderhandel word.

Vereistes:

Persone wat persoonlike verhouding het met Jesus Christus, ’n liefde het vir die jeug en oor kultuurgrense brûe kan bou. Die persoon moet die oor die vermoë beskik om te inspireerdeur ‘n goeie rolmodel te wees, kursusse aan te bied, dissipline te handhaaf, verhoudings te bou met die boerderygemeenskap en bowenal ’n koninkryksperspektief uitleef. Die gebruik van Sesotho sal ‘n aanwins wees. Formele teologieseopleiding is ‘n vereiste en samewerking met plaaslike leraars en pastore moet voortgesit word.

Sluitingsdatum: 22 Augustus 2017    Diensaanvaarding: 1 Januarie 2018

Adres:  ngbothaville@telkomsa.net of Posbus 267, Bothaville 9660

Navrae: Ds Johan Lessing 082 873 0930 of Dr Pieter van Jaarsveld 082 852 5702

NG Gemeente Waterberg

VAKATURE: MEDELERAARSPOS

Sluitingsdatum: 31 Augustus 2017.

Ons nooi leraars en proponente uit om hul CV’s en ander inligting in te stuur na die NG Gemeente Waterberg met die oog op ’n beroep as medeleraar.

  1. Gemeenteprofiel: Waterberg is ’n plattelandse gemeente in Limpopo en wel in die pragtige bosvelddorp Modimolle (voorheen Nylstroom). Die gemeente is 157 jaar oud, het 1 014 belydende- en 71 dooplidmate en sluit twee groot aftree-oorde, beroepslui en ‘n deel van die boeregemeenskap in.
  2. Leraarsprofiel: ’n Kreatiewe dinamiese geesvervulde Jesus-volgeling met:
    • besondere menseverhoudinge en kommunikasievaardighede,
    • ’n goeie organisasie- en beplanningsvermoë en sterk leierseienskappe,
    • energieke leiding om die gemeente en veral die jeug, werkende jongmense en gesinne te motiveer tot betrokkenheid en
    • die vermoë om al die pligte van Art 9 van die Kerkorde uit te voer.
    • Vir meer inligting kan u gerus ons webblad besoek by www.ngwaterberg.co.za.
  3. Vergoedingspakket volgens sinodale riglyne. Pastorie beskikbaar.
  4. Stuur u CV (maak asb. gebruik van die lys vrae op die webwerf vir die CV – nie meer as 3 bladsye lank nie), minstens twee verwysings en ook u MBTI (Myers Briggs Temperament Index) profiel (indien reeds gedoen), aan die saakgelastigde by ngwaterb@esnet.co.za
  5. Navrae: Mnr. William van Coller by 082 321 1806, wfvcol@gmail.com of die kerkkantoor 014 717 3897.
  6. Sluitingsdatum: 31 Augustus 2017.
  7. Bevestiging: Januarie 2018

Gereformeerde jeug laat hoor hulle stem

Waar kry ek ’n genadige God?

Dié vraag wat 500 jaar gelede die Reformasie ontketen het, skemer telkemale in die temas rakende sosiale, ekonomiese en ekologiese geregtigheid van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke se byeenkoms in Leipzig deur. Ek het die besonderse voorreg gehad om as ’n afgevaardigde vanuit die perspektief van die jeug hierdie geleentheid te kon meemaak.

Die jeug se voorafvergadering het die tema “Buen Vivir”, of “The good life.” Dis aanvanklik voor-die-hand-liggend dat almal ’n goeie lewe wil lei, maar dan word ons gekonfronteer met die term “Degrowth”. ’n Bewustheid om te protesteer teen die oorbenutting van hulpbronne. Om te protesteer teen ongeregtigheid teen die ekologie. Om te protesteer teen gierigheid wat armes marginaliseer. Die globale krisis van magsbehebdheid oftewel “Empire” noop ons as gereformeerdes opnuut om God se stem in die wêreld te verteenwoordig.

Die goeie lewe beteken ’n lewe wat strewe daarna om af te skaal met produksie en verbruik met die doelwit om deur middel van mededeelsaamheid ’n samelewing te kweek wat meer gelukkig en gesond is. Dis ’n lewe wat spruit uit die verstaan wat die beliggaming van Christus in die wêreld beteken. In ’n paneelbespreking in die Gereformeerde kerk in Leipzig bespreek ons moontlike maniere om sosiale-ekologiese-ekonomiese probleme aan te spreek, onder andere alternatiewe saambly-gemeenskappe wat ingestel is om kennis en hulpbronne te deel, om krities op politieke sisteme te wees en nie net te protesteer as ’n saak ons individuele behoeftes raak nie, maar om aan die geheel te dink en om nie kosse te benut wat skaars is in dele waar dit nie ekologies volop is nie.

As jeugafgevaardigdes stel ons ’n dokument op vir die algemene vergadering waarin ons protesteer. Vanuit Afrika, Noord- en Suid-Amerika, Europa, Asië, Australië en die omliggende eilande, stem ons saam dat geregtigheid ’n fokuspunt in die kerk behoort te wees. Uit een mond, roep ons vir ’n kerk wat mense opvoed rakende die oordeelkundige benutting van hulpbronne, gesondheid, gesinsbeplanning en ’n fokus op ekologie. Ons vra dat ’n sosiale bewustheid gekweek word wat selfsugtige behoeftes vervang met ’n bewustheid vir sosiale welstand. Ons vra vir ’n hernieude soektog na identiteit en die de-kolonisasie van gekoloniseersde paradigmas. Ons vra dat die kerk vroue en mans gelyke kanse gun in die bediening en die stem van die jeug as ’n gelyke vennoot in die kerk sien.

Die WGGK het ons protes gehoor met die aanstelling van vyf jeugdiges in leierskapsposisies waarvan een ’n vise-president is. Die WGGK stuur ’n sterk boodskap uit dat die Gereformeerde familie omgee vir die toekoms, vir geregtigheid en die uitlewing van die beliggaming van Jesus Christus.

Die seëngroet tydens die erediens in Wittenberg bly my by: “Tussen my en jou sal God altyd wees.”

NGK sê nee vir staatsbeheer oor godsdiens

Die NG Kerk het haarself gedistansieer van voorstelle van die Kommissie vir die berskerming en bevordering van Kulturele, Godsdiens- en Taalregte wat sou neerkom op ’n vorm van staatsbeheer oor godsdienste. Dié voorstelle kom nadat die kommissie allerlei misbruike deur godsdienstige randgroepe ondersoek het. Die volledige verklaring van dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, lui soos volg:


Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (hierna NG Kerk) het kennis geneem van die Cultural, Religious, Linguistic (CRL)-kommissie se verslag oor die kommersialisering van godsdiens en die misbruik van mense se geloofsisteme. Die NG Kerk het geen keuse nie as om hulle te distansieer van die sleutelvoorstelle in die verslag. Ons het die voorstelle bestudeer vanuit die gesigspunt van die Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en -vryhede, wat onderskryf is en ondersteun word deur die meerderheid van Christelike denominasies en kerke, lede van die Joodse gemeenskap, die Moslemgemeenskap, die Hindoegemeenskap en verskeie tradisionele Afrika-godsdienste. Ons glo dat die voorstelle nie versoen kan word met die filosofie agter en die bepalings in die Handves nie.

FUNDAMENTELE SKUIF IN GODSDIENS-STAAT-VERHOUDING EN SKENDING VAN GODSDIENSVRYHEID

Ons belangrikste beswaar, wat uiteengesit word in ’n omvattende reaksie wat aan ons lede en ondertekenaars versprei is en aan die Parlement voorgelê is, is dat die voorstelle neerkom op staatsregulering van en staatsbeheer oor godsdiens, wat die volgende ernstige gevolge sal hê:

(a) Dit sal, eerstens, ’n fundamentele skuif veroorsaak weg van die bestaande samewerkingsverhouding tussen godsdiens en die staat na een van staatsbeheer oor godsdiens deur wetgewing.

(b) Tweedens sal staatsregulering en staatsbeheer oor godsdiens die reg tot vryheid van godsdiens skend wat in afdeling 15 van die Grondwet gewaarborg word.

In terme van die voorstelle sal alle godsdiensinstellings, sentrums van aanbidding en godsdiensbedienaars volgens wet verplig word om by staatsaangestelde liggame te registreer en aan staatsbepaalde vereistes te voldoen. Nie-voldoening kan daartoe lei dat iemand se registrasie geskrap word. Verskeie sogenaamde sambreel- en oorsigliggame verteenwoordigend van godsdienste, spesifieke godsdienste en denominasies sal deur die staat aangestel en beheer word, en sal optree in terme van die wet wat hulle magte en funksies bepaal. Die CRL-Regskommissie sal die finale gesag wees oor alle godsdiensaangeleenthede. Dit kom neer op ’n stelsel van staatsregulering en staatsbeheer oor godsdiens, wat die samewerkingsmodel van godsdiens-staat-verhoudings sal omkeer en die reg tot godsdiensvryheid soos gewaarborg in afdeling 15 van die Grondwet op ’n ongrondwetlike manier sal skend.

DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK BETREUR EN BEROU MISBRUIKE

Volgens die verslag, het die voorstelle ontstaan uit koerantberigte en klagtes by die CRL-Regskommissie, asook die daaropvolgende ondersoek deur die kommissie na vergrype wat in sekere godsdiensinstellings plaasgevind het. Die NG Kerk betreur en berou baie ernstig enige voorvalle van misbruik in die naam van godsdiens. Enige persoon of instelling wat skadelike of onwettige optredes in die naam van godsdiens pleeg, misbruik godsdiensvryheid en handel nie onder die beskerming van die Handves nie. Die NG Kerk skaar hulle by die CRL-Regskommissie in die veroordeling van sulke vergrype en in die soeke na behoorlike maniere om dit te elimineer uit die godsdienspraktyk in Suid-Afrika. Verder behoort godsdiensinstellings wat nie voldoen aan aanvaarbare wettige vereistes en norme nie, opgevoed te word in hulle burgerlike verantwoordelikhede, en maniere moet gevind word om die wet meer effektief af te dwing.

STAATSREGULERING EN -BEHEER IS NIE DIE ANTWOORD NIE

Tog beklemtoon ons dat, hoe laakbaar die misbruike deur sommige godsdiensbedienaars wat deur die kommissie ontdek is, ook al mag wees, hulle effektief hanteer kan word deur die reeks regsmiddele wat beskikbaar is in die goedontwikkelde, gevestigde en gerespekteerde Suid-Afrikaanse regstelsel. Staatsregulering en -beheer van godsdiens is nie die geskikte manier om sulke misbruike te beveg nie. Die reg op godsdiensvryheid is ’n fundamentele en gekoesterde reg in ’n oop en demokratiese gemeenskap, wat nie opgeoffer mag word ter wille van aksie teen die misbruike wat deur ’n skynbaar klein minderheid godsdiensbeoefenaars gepleeg word nie. Dit sal godsdiensvryheid vernietig, juis dié reg wat die kommissie voorgee om deur hierdie voorstelle te beskerm.

DIE BESTAANDE REGSRAAMWERK IS VOLDOENDE

Ter regverdiging van die voorstelle vir nuwe wetgewing om godsdiens te reguleer, voer die verslag aan dat bestaande wetgewing óf nie die kwessies effektief aanspreek nie, óf dat godsdiensinstellings nie die toepaslike wetgewing gehoorsaam nie, óf dat bestaande wetgewing nie behoorlik afgedwing word nie. Hierdie argument is foutief en is gebaseer op ’n verkeerde interpretasie van die wet. Die bestaande regsraamwerk is inderdaad voldoende om die saak effektief aan te spreek. Die aktiwiteite van godsdiensinstellings word alreeds aan verskeie wette onderwerp, wat net waar nodig nougeset afgedwing moet word. Nuwe wetgewing om hierdie beweerde tekortkomings aan te spreek, wat die effek sal hê dat dit godsdiens kontroleer en godsdiensvryheid op ’n ongrondwetlike manier skend, is nie die toepaslike voertuig om die misbruike te beveg wat in die verslag genoem word nie. Dan hang die erkenning van ’n fundamentele mensereg af van die staat se vermoë of gewilligheid om sy wetlike verpligtinge na te kom.

TEENSTRYDIGHEID MET AFDELING 185 VAN DIE GRONDWET

Ons tweede beswaar is dat die voorstelle afhang van die toekenning van omvattende afdwingingsmagte aan die CRL-Regskommissie as die sogenaamde finale gesag oor alle godsdienskwessies. Volgens afdeling 185 van die Grondwet is die kommissie egter ’n raadgewende liggaam ten opsigte van die regte van kulturele, godsdiens- en taalgemeenskappe. Nêrens in afdeling 185 word die kommissie bemagtig om ’n regulatoriese of afdwingingsliggaam te wees nie. Afdeling 185 maak nie voorsiening vir die fundamentele skuif in die kommissie se status en magte wat deur die voorstelle geïmpliseer word nie. Die wet wat die werk van die kommissie reguleer, Wet 19 van 2002, is onderhewig aan afdeling 185, en kan nie op ’n wettige wyse gewysig word om magte van afdwinging aan die kommissie oor te dra sonder om die Grondwet te beïnvloed nie.

Om hierdie magte aan die kommissie oor te dra sou dan (op die heel minste) ’n wysiging aan Wet 19 van 2002 verg, sowel as aan afdeling 185. So ’n wysiging sou dan óf die CRL-Regskommissie uit die kader van Hoofstuk 9-instellings haal, óf dit sou impliseer dat ’n Hoofstuk 9-instelling uitvoerende gesag aanvaar, wat teenstrydig sou wees met die gevestigde aard van die kommissie as ’n raadgewende liggaam. Om aan die CRL-Regskommissie die beslissende en finale gesag ten opsigte van godsdienskwessies toe te ken is strydig met die Grondwet, en sal ongrondwetlik en ongeldig wees as dit geïmplementeer word. Om hierdie rede moet die voorstelle deur die CRL-Regskommissie ook misluk.

GEVOLGTREKKING

Verpligte registrasie van godsdiensinstellings, sentrums van aanbidding en godsdiensbedienaars, wat godsdiensorganisasies en ander liggame voorskryf waaraan godsdiensinstellings verplig sal wees om te behoort en wat die CRL-Regskommissie sal adviseer oor godsdienssake, asook ’n staatskommissie as finale gesag oor alle godsdienskwessies, is duidelik in konflik met die gevestigde benadering tot die verhouding tussen en staat en godsdiens in Suid-Afrika. Meer nog, dit kom ooglopend in konflik met die reg tot godsdiensvryheid in afdeling 15 van die Grondwet, wat die reg insluit om in bepaalde geloofsartikels te glo en dit te beoefen, om te kies om aan te sluit by godsdiensinstellings, om vryelik godsdiensinstellings te vestig en organiseer met onafhanklike jurisdiksie oor leersake en interne aangeleenthede. Godsdiensvryheid beteken nie dat godsdiensinstellings bo die reg verhewe is nie: Soos alle liggame van die burgerlike samelewing funksioneer hulle binne die regverdige en billike grense wat deur die reg vasgestel word. Die staat het egter die verantwoordelikheid om ’n omgewing te skep wat die vrye beoefening van die reg tot godsdiensvryheid bevorder en godsdiensinstellings nie onnodig reguleer of belas nie. Die voorstelle van die CRL-kommissie sal nie alleen onnodige laste op godsdiens lê nie, ook finansieel: Dit sal die vrye beoefening van godsdiens tot ’n ondraaglike vlak beperk.

As ’n grondwetlike liggaam het die CRL-Regskommissie ’n invloedryke rol om te speel in die beskerming en bevordering van die regte van godsdienstige gemeenskappe. Die rol wat egter deur die Grondwet in die vooruitsig gestel is, is om by te staan, te ondersteun en raad te gee, en nie om godsdiens te beheer nie. Van die kant van die Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en -vryhede, sien ons uit na ’n verhouding van wedersydse bevoordeling met die kommissie op die basis van die rol wat die Grondwet in die vooruitsig gestel het. Om dié rede moet die verslag van die kommissie nie voortgaan nie.

Homo sapiens het korrupte verhouding met Skepping

Tiaan Boshoff van Grootbrakrivier skryf:

Vuurstorms het in Knysna plaasgevind, soortgelyke brande met groot lewensverlies in Australië, Portugal, Amerika en in Rusland. Waarom?

Pool-ys smelt en miljoene ton metaangas wat in die ys vasgevang was, word in die atmosfeer losgelaat, baie meer as wat die totale mensdom met sy grypsug tot dusver in sy bestaan kon vervaardig. Waarom?

Kan ons as denkende gelowiges nie maar die gewaande strydbyl tussen wetenskaplikes en Christene begrawe nie? Vir ons voortbestaan op planeet aarde het ons mekaar onsettend nodig. Ons rigtingaanwyser, die Bybel, maak dit baie duidelik dat net jou verhouding met God, met jou medemens, asook jou verhouding met Sy skepping belangrik is. Kerke en geloofsgemeenskappe spandeer 99% van hul aktiwiteite aan eersgenoemde twee verhoudings.

Die Groot Gebod noem nie net dié twee nie. Gaan lees weer, die teks eindig met: “soos jouself”. Kan jy jou naaste liefhê as jy jouself, jou totale menswees, ingesluit jou volhoubare harmonieuse voortbestaan in en met die skepping, nie liefhet nie?

Kyk na die heel eerste opdrag. Genesis 1:28 gaan duidelik oor ons verhouding met die skepping. As hierdie verhouding misluk, kan daar geen volhoubare verhouding met jou medemens wees nie. Wat doen ons in ons alledaagse lewe, asook in ons geestelike gemeenskappe om die oorsaak vir die stelselmatige vernietiging van die Skepping te identifiseer en te probeer omkeer? Bid? Dit spreek vanself. Lig ons onsself uit ons warm gebroeide kerkbanke om beskikbaar te wees as instrumente in Sy hande? Wat doen ons om die oorsaak van alle soorte besoedeling, water en voedsel tekorte, aardverwarming, werkloosheid, renosterstropery, plaasaanvalle, roofmynbou, vandalisme, en dies meer te identifiseer?

Natuurlik is daar baie mense wat daagliks uitstekende werk doen vir die oplossing van elk van dié afsonderlike probleme. Ongelukkig word elke probleem op sy eie hanteer.

Staan ons egter terug en sien bogemelde probleme as ’n geheel, spring Genesis 1:28 na vore, ’n gelowiges se heel eerste opdrag. “Vul die aarde en heers” (bestuur). Ons het tot dusver net die aarde gevul, tot oorlopens toe gevul. Van bestuur (heers) het niks gekom nie.

Tyd vir die versuikerde leuens (politieke korrektheid) is vinnig aan die verbygaan. Ons, wêredwyd, is bloot te veel mense vir planeet aarde. Elk van bogenoemde probleme is aanmekaar verweef. Ons getalle neem eksponensieël toe, daarmee ook elk van genoemde probleme. ’n Simplistiese voorbeeld: minder mense sou ’n mindere koolstofvoetspoor hê, aardverwarming sou ’n kleiner effek hê, brande sou beheer kon word, pool-ys sou nie smelt nie, metaangas sou in die ys vasgevang gebly het.

Het dit nie tyd geword dat Christene en Christenwetenskapikes wêrelwyd help om die probleem van oorbevolking op kerklike en regeringsforums te pak nie? Noudat ons wêreldwye verteenwoordiging op kerklike forums het, kan ons asseblief wegkom van die versuikerde leuen?

Vriend, sien in jou geestesoog ’n driebeenpotjie op ’n kampvuur, waarvan twee pote 99% langer as die derde een is. So ’n pot kan nie staan nie, dit het omgeval, jou kos lê in die as, oneetbaar, jy gaan honger ly, tensy …

Kerke vind mekaar oor regverdigingsleer

Delft (Nederland). – Ná 500 jaar het gereformeerdes en Rooms-Katolieke eindelik die strydbyl oor die regverdigingsleer begrawe.

Dit het gebeur tydens ’n indrukwekkende, hoogs simboliese erediens op Woensdagoggend 5 Julie in die stadskerk in Wittenberg, dieselfde stad waar die vader van die Hervorming, Martin Luther, sy 95 stellings op 31 Oktober 1517 teen die deur vasgespyker het.

Reeds in 1999 het die Vatikaan en die Lutherse kerke ’n verklaring onderteken waarin die geskil oor die regverdigingsleer uit die weg geruim word. Sedertdien het die Metodiste bygekom en nou het die WGGK hom nou hierby aangesluit.

Die diens in die Wittenbergse Kerk was die hoogtepunt van die WGGK se sewejaarlikse Algemene Vergadering wat vanjaar in Leipzig gehou word. Die WGGK verteenwoordig 225 kerkgenootskappe en sowat 80 miljoen Christene wêreldwyd.

Die Algemene Vergadering is ook toegespreek deur die Duitse seremoniële president, Frank-Walter Steinmeier, lidmaat van ’n konserwatiewe Duitse gereformeerde kerkgenootskap.

Die regverdigingsleer was die sentrale punt waarop Luther destyds van die Katolieke weggebreek het. Sy oortuiging was dat ’n mens slegs deur geloof en Christus se genade gered word, pleks van deur aflate te koop en goeie werke te doen, soos die Katolieke geglo het.

Gesprekke tussen Katolieke en Protestantse teoloë vind al sedert die vroeë jare sewentig plaas.

In die gesamentlike Lutherse en Katolieke verklaring wat die grootste Gereformeerde liggaam nou ook onderteken het, word gewag gemaak van ’n “welkome mate van samestroming oor die regverdigingsleer”, en dat die “historiese leerverskille … ons nie langer skei nie”. Albei verbind hulle tot ’n “konsensus oor die grondwaarhede van die regverdigingsleer”.

In die verklaring staan uitdruklik: “Die geregverdigde leef vanuit die geloof wat uit die Woord van God kom en in die liefde werk wat die vrug van die Gees is.” En: “Gemeenskaplik bely ons: Alleen uit genade in die geloof aan die heilsdaad van Christus, nie op grond van ons verdienste nie, word ons deur God aangeneem en ontvang ons die Heilige Gees, wat ons hart vernuwe en ons tot goeie werke oproep.”

In sy eie verklaring herbevestig die WGGK dat die mens slegs deur geloof geregverdig kan word. Die WGGK stem saam met die Lutherane en Katolieke dat die regverdigingsleer ’n “sentrale plek in die essensiële leerstellings van die Christelike geloof het”.

Hiermee is ’n wesenlike teologiese verskil tussen Protestante en Rooms-Katolieke uit die weg geruim deurdat laasgenoemdes in wese die Protestantse oortuiging oor die regverdigingsleer aanvaar het.

Uitspraak oor godsdiens by skole laat geen spanning

Dr Gustav Claaassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, skryf in ’n brief aan die kerk se predikante dat daar vanuit ʼn kerklike oogpunt gesien geen spanning ten opsigte van die uitspraak is nie. Hier is die volledige teks van sy skrywe:


Beste kollega

Die afgelope week of twee het die kerk kennis geneem van die CRL se reaksie op onder meer die NG Kerk se kommentaar op die regulering van godsdiens. Die NG Kerk het reeds daarop gereageer en ʼn artikel in Rapport van 2 Julie het berig dat die regulering van godsdiens baie sterk teengestaan sal word. Die NG Kerk se reaksie doen ʼn baie sterk beroep op die vryheid van godsdiens soos in die Grondwet verskans.

Die hofuitspraak rondom godsdiens op skole is ook bekendgemaak. Ek deel graag met jou ʼn perspektief of twee op hierdie uitspraak.

UITSPRAAK OOR GODSDIENS OP SKOLE

In die media is daar die afgelope week kennis geneem van ʼn belangrike hofuitspraak in die Suid-Gautengse Hooggeregshof oor godsdiens in skole. Uitspraak is gelewer deur regter Willem van der Linde in die saak OGOD (Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie) versus ses skole. Die beheerliggame van hierdie ses skole is almal lid van FEDSAS, wat die skole in die hofsaak bygestaan het. Dié belangrike toetssaak het sy oorsprong in 2014 toe die applikant OGOD die hof versoek het om dit ongrondwetlik te verklaar dat sekere godsdienspraktyke in skole voorkeur bo ander geniet.

Die hof het sy ondersoek op drie vrae gerig. Die eerste het betrekking op sy bevindings of ʼn skool ʼn spesifieke godsdiens ten koste van ander kan bevorder. Die tweede saak aan die orde was of ʼn openbare skool self godsdiensbeoefening kan uitvoer en of dit slegs deur buitepartye op die skole se perseel gedoen mag word. Die derde vraag was of leerders gevra kan word met watter geloof, indien enige, hulle hulle vereenselwig. Die tweede en derde vraag is albei in die skole se guns beantwoord.

Berigte in die media interpreteer die uitspraak wat gelewer is as ʼn oorwinning vir OGOD. So ʼn interpretasie verteenwoordig egter nie die inhoud van die hofuitspraak behoorlik nie. OGOD se hofaansoek het 77 bevele teen ses skole aangevra en slegs twee van hierdie bevele is toegestaan. Die hofuitspraak bevestig in werklikheid die feit dat ʼn openbare skool behoort aan die onmiddellike gemeenskap waarbinne die skool geleë is. Dit bevestig dat die skool se beheerliggaam verteenwoordigend van die breër skoolgemeenskap is en dat hulle ooreenkomstig die Grondwet (Artikel 15b) en die Skolewet (Artikel 7) die gesag het om besluite te neem ten opsigte van belangrike aspekte soos ʼn skool se taal- en toelatingsbeleid en hoe godsdiens by die skool beoefen word. Dié belangrike aspek van die gesag van ʼn skool se beheerliggaam as liggaam wat ʼn skool namens die onmiddellike skoolgemeenskap bestuur, word deurentyd in die uitspraak bevestig. Die hof bevestig verder dat die Nasionale Beleid oor Godsdiens en Onderwys nie afdwingbare reëls daarstel nie, maar eerder ʼn belangrike dokument is wat riglyne oor godsdiens in onderwys verskaf.

Die Applikant mag nie die gedrag van die skole teen die Grondwet of teen die Skolewet uitdaag nie; dit mag dit net uitoefen teen die skool se eie reëls vir die uitvoering van godsdienstige oefeninge. ʼn Openbare skool mag nie die nakoming van ʼn enkele godsdiens bevorder nie. Die maak van beleid ten opsigte van die gedrag van godsdiensbeoefening by ʼn skool bly egter die reg en verantwoordelikheid van elke individuele skool se beheerraad. Die skool sal wettig optree solank sy godsdienstige nakoming met reëls van sy beheerraad ooreenstem.

Die NG Kerk het nog altyd van die standpunt uitgegaan dat die Godsdiensbeleid en -beoefening by openbare skole op ʼn billike, gelyke en vrywillige grondslag geskied. Hierdie beginsel word baie duidelik verwoord in die Skolewet na aanleiding van die Grondwet. Die NG Kerk was van die begin af ten gunste van vrywillige godsdiensbeoefening. Vanuit ʼn kerklike oogpunt gesien, is daar dus geen spanning ten opsigte van die uitspraak nie.

FEDSAS het die totale verwydering van enige vorm van godsdiensbeoefening vanaf die skoolterrein teengestaan. Die Suid-Afrikaanse Grondwet is nie soortgelyk aan die Amerikaanse model van ʼn waterdigte skeiding tussen kerk en staat nie, maar lê klem op verdraagsaamheid en diversiteit. Hierdeur het die hof die plek van godsdiens in die publieke sfeer bevestig.

Dit is die mening van regskenners dat die hof se motivering vir die toekenning van deeltydse verligting aan die applikant verrassend dun is. FEDSAS het reeds te kenne gegee dat die uitspraak bestudeer sal word en dat verdere regsprosesse nie uitgesluit is nie.

Vriendelike groete uit Leipzig

Gustav Claassen

Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk

Gereformeerde jeug kom byeen in Leipzig

Leipzig. – “90 miljoen mense – dit is jóú kerk-familie …”

Dit was die woorde van Chris Ferguson, die algemene sekretaris van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke, aan sowat honderd gereformeerde jongmense by ʼn jeugbyeenkoms voor die Wêreldgemeenskap se 26ste Algemene Vergadering  van 29 Junie tot 7 Julie in Leipzig.

Die doel van die byeenkoms was vir jongmense van regoor die wêreld om na te dink oor die tema “Lewende God, hernuwe en verander ons”. Dit is ook die tema van die Algemene Vergadering. Dié jongmense, tussen die ouderdom van 18 en 30, is spesifiek afgevaardig om sodoende jonger mense in die samelewing se stemme te laat hoor.

Die afgevaardigdes het temas van geregtigheid vir die aarde, sosiale transformasie en ander plaaslike sowel as globale uitdagings aangepak deur gesprekke te voer, musiek saam te maak, te dans en poësie te skryf.

Daar is ook sterk klem gelê daarop om ekumeniese bande te versterk op die mees organiese vlak, naamlik vriendskappe wat oor kulturele grense strek.

Raissa Brasil, van die Verenigde Presbiteriaanse Kerk van Brasilië, het gesê dat die jongmense van haar kerk wíl betrokke raak in die samelewing en in hulle gemeente. Sy sê dat dit vir haar baie beteken het om die uitdagings van haar eie gemeenskap te kan deel met ander jongmense wat haar dan help om nuwe insigte te kry.

Febrima Yuliana Moulaka van Indonesië, is ook oortuig dat die jeug ʼn baie positiewe bydrae sal lewer in die jaar se vergadering.

Vir Jolanda Boelens van die Verenigde Protestantse Kerk in België, was dit ʼn besonderse ervaring om saam met ʼn klomp verskillende kulture te bid, al verstaan sy nie almal se tale nie.

’n Groen sinode

Een van die kenmerke van 2017 se Vrystaatse sinode is die groen voetspoor daarvan. Van meet af is beplan om die ekologiese impak van die sinode so lig as moontlik te maak.

Anders as met vorige sinodes is plastiekwaterbotteltjies glad nie gebruik nie. Elke sinodeganger en besoeker het ’n glasbottel gekry wat hervul kon word by verskeie waterpunte in die sinodesaal. Die bottels en waterpunte behoort aan die sinode.

Dr. Carin van Schalkwyk, skriba van die sinode, sê dis reeds gebruik in die sinodekantoor dat plastiek tot die minimum beperk word. “Een van die fokusareas van die Vrystaatse sinode die laaste vier jaar was die ekologie, so dis vanselfsprekend dat ons sensitief moes wees daarvoor.”

Die groot hoeveelheid afvalpapier wat tydens so ’n vergadering genereer word, word herwin. Agendas is so ver moontlik elektronies versprei en vir die eerste keer sal die Handelinge van die sinode net elektronies beskikbaar wees tensy iemand spesifiek een bestel.

Bothaville se gemeentes het die etes vir die week voorsien. Hulle is versoek om so ver moontlik voedsel uit die plaaslike omgewing te gebruik, voedsel wat in seisoen is en waar moontlik vars produkte om die voetspoor van vervoer en vervaardiging te beperk.

Afgevaardigdes is ook aangemoedig om met so min voertuie as moontlik na die vergadering te kom. So is daar ook geld gespaar.