Le Roux Schoeman

Neels was ‘aktivis vir vrede’

Kerksake se Riaan Cruywagen groet

Nes kansel of kollektebordjie, is Neels Jackson behoor­lik deel van die NG Kerk-meubels, skryf LE ROUX SCHOEMAN oor dié uittredende Kerkbode-redakteur.


Op 57 het Neels Jackson, kom ons noem hom maar die Riaan Cruywagen van die beleërde beat van Afrikaanse kerksake-verslaggewer, besluit dis tyd.

“Ek gaan aftree, maar beplan om vryskutwerk ook te doen (en) my groot stokperdjie is fotografie,” het hy onlangs vertel.

Neels is iemand wat ’n stokperdjie nogal na harde werk kan laat klink. As voëlkyker het hy al byna 700 van Suider-Afrika se 950 voëlsoorte gesien en as krani­ge fotograaf het hy, oor drie eksterne hardeskywe verspreid, 156 000 foto’s wat hy geneem het. So hy gaan nou nie in die son sit en duime draai nie!

Toe Neels in 2013 by Kerkbode begin het, het hy reeds 23 jaar joernalistieke ervaring gehad – hoofsaaklik by Beeld – en het hy pas spesiale erkenning by die Andrew Murray-Prysfonds ontvang. As kerkperd was hy op volle galop. Nou, ’n halwe dekade en ’n paar taai sinodes later, het ’n mens die kans om te vra: Hoe was dit aan die stuur van dié klein maar historiese publikasie waarvan die eerste uitgawe in 13 Januarie 1849 verskyn het. “Daar was uiteenlopende terugvoer, né,” sê Neels met ’n deadpan wat enige Poker-speler sal ja­loers maak. “Daar was mense wat verskriklik waarde­ring gehad het. Wat vir my goed sê soos dis die beste wat Kerkbode nog ooit gelyk het. En dan’s daar die ouens wat sê daai laaste koerant wat jy gepubliseer het, was die laagste laagtepunt van almal. Dis maar enige koerantman se ervaring.”

In November laasjaar het ek oor Neels se skouer gekyk hoe hy vanuit sy kantoor in Pretoria 2018 se laaste gedrukte Kerkbode-uitgawe persklaar maak en rolpers toe stuur. “Selfs meer as voorheen glo en bely ek nou: Jesus is die Here!” lui die laaste sin van Neels se afskeidsboodskap in die publikasie waarvan hy slegs die derde redakteur was wat hom nie eers as dominee bekwaam het nie.

Tussen die vele boeke in sy kantoorboekrak, die kosblikkie op sy wye lessenaar of pynlik netjiese fol­ders op sy werkkomper, moet die besoeker op soek na ’n leidraad na die man se binnelewe nie die halwe li­niaal­tjie miskyk nie. Dis waarmee “Mnr Jackson”, soos sy nuwe werkgewer destyds in die persverklaring rond­om sy aanstelling na hom verwys het, die Bybel lees.

Hy praat klokhelder oor sy geestelike reis. “Die storie was, ek het grootgeword met ’n baie sterk reëlsgodsdiens. In die SKJA het ons debatte gevoer oor wat mag jy en wat mag jy nie doen nie. Mag jy op ’n Son­dag ag­terplaaskrieket speel?” Hy’t gaan onderwys swot en la­ter as verslaggewer by Beeld be­gin werk en oor kerksake begin skryf. Daar ontdek die jong man van Pretoria toe skielik ’n groter geloofswê­reld. Verskillende denominasies en “almal aanbid vir Jesus, maar by elkeen lyk Jesus anders. So wie is die regte Jesus? En toe het ek die Evangelies gaan lees om Jesus beter te verstaan. En ek het begin by Markus. Ek het da­rem op daardie stadium ge­weet Markus is die oudste Evangelie,” vertel Neels.

Hy wou veral Jesus se be­na­dering tot die Wet en die Sabbatsgebod verstaan. Sy ge­volgtrekking? “Jesus som die wet op in terme van lief­de,” sê Neels. “Jesus gee voorkeur aan die liefde. Hy kry iemand jammer en Hy maak iemand gesond, al is dit op die Sabbat, al is dit werk.”

Nog ’n leidraad is ’n afdruk van ’n skildery wat oorkant die ingang tot sy kantoor pryk: Pablo Picasso se Guernica. “Dis ’n protes teen geweld. Waarskynlik die sterkste visuele protes teen oorlog in die hele kuns­geskiedenis,” sê Neels byna driftig. Hy praat breedvoe­rig oor kruisigingsmotiewe wat in die kunswerk, wat in 1937 voltooi is, “versteek” is en lees ’n gedig wat hy self oor hierdie kraaines van vertrekte gesigte van mens en dier geskryf het. Ons praat oor oorlog, kon­flik. “Toe ek diensplig gedoen het, het ek Godsdiensbeswaar aangeteken omdat ek nie glo oorlog is ’n ­goeie ding nie,” vertel Neels. “Ek is ’n pasifis, van vroeg af (in my lewe),” vertel hy en skakel oor na onnie-modus: “Dit het niks te doen met passief wees nie. Dit kom van die woord vir vrede. Die Latynse woord pax. So ’n pasifis is eintlik ’n aktivis vir vrede.”

Hierdie einste aktivisme het Neels veel lof van binne kerkgeledere besorg. “In ’n tyd waarin mense baie sinies geraak het oor die kerk, (het Neels) tog altyd ook die waarde van die kerk kon raaksien,” meen ds Danie Mouton, voorsitter van die Bybel-Media­direksie. “Ek dink Neels se bydrae was ook regtig dat hy ’n oog het vir diegene wat gemarginaliseer is, wat nie ’n stem het nie,” het Mouton einde laasjaar by navraag gesê. “(Neels) was ’n stem vir hulle en het hulle verhale na die hoofstroom gebring.”

Vlamme, puin, hoop …

Daar was al makliker preke om te lewer as die een wat ds Juani­ta Grey­­venstein op haar eerste Son­­­dag ná haar vakansie moes waar­neem.

“Ons bevind onsself op ’n ander plek as baie ander gemeentes,” het sy langs ’n sy­paadjie in die bedrywige Voortrekkerweg in Kaapstad aan die gemeente gesê. Voor haar het sowat 30 lidmate van Mait­land Gemeenskapskerk gesit – som­mi­ge op hulle eie kampstoele, enkeles op hulle hurke en ander op stoele wat die vlam­me vrygespring het. Want dié ge­meen­te se 115-jarige kerkgebou is in die dood­snikke van 2018 in ’n brand verwoes.

Onder die lidmate by die onlangse buitelugdiens van die Maitland Gemeenskapskerk was Aletta Kline (83) wat meer as 60 jaar hier aanbid het. Sy en Marie de Wee (70), wat by Kline in die huis werk, het vertel hoe De Wee in die 1980’s dienste hier begin bywoon het. “Toe ek uittree as diaken, toe sê ek sy moet my plek oorneem,” het Kline geskerts. En nou is dié vriendinne vol moed dat die Maitland-gemeente uit die as sal herrys. Foto: Le Roux Schoeman

“Dit is vir ons moeilik om voorspoed te sien as ons hierna kyk,” het die leraar aan kerkgangers gesê en oor haar reg­terskouer gewys in die rigting van die gebou wat van preekstoel tot orrel, van klavier tot galery verwoes is. “Maar dit is wat die mense van die Here kenmerk. Dat ons kan hoop vind, dat ons kan blydskap vind, dat ons kan dankbaar wees al sê ons omstandighede vir ons die teenoorgestelde,” het sy gesê.

Nes die vorige Sondagoggend, toe die brandreuk nog swaar op die perseel gehang en die dominee uitstedig met verlof was, het getroue kerkgangers dié Sondag weer op die plaveisel voor die gebou saamgetrek om lofliedere te sing en mekaar te bemoedig.

So lyk die Kanselbybel van die Maitland Gemeenskapskerk voor en ná die herstelwerk. Die tydsberekening van dié herstelwerk het daartoe gelei dat die boek die brand, waarvan die oorsaak nog onbekend is, vrygespring het. Foto’s: Verskaf

Die kloktoring en twee aangrensende vertrekke het behoue gebly, maar rook- en hitte-beskadiging is daarin sigbaar. 

Emily Maarman, die koster, is die aand van die brand (29 Desember) deur ’n medelidmaat na die toneel ontbied: “Dit was net tonge vuur gewees,” het sy gesê. “Dit was verskriklik om te sien.” Do­minees van nabygeleë gemeentes het na die toneel gehaas en ook ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die algemene sinodale moderamen, het daardie eerste Sondag deur die puin kom loop. Janse van Rensburg het vertel dat die ou Kanselbybel op interessante wyse die ramp vrygespring het: Dit is vroeër weggestuur vir herstelwerk en het eers die oggend ná die brand opge­daag. “Die Woord is hier, die Gees is hier, die mense is hier, so hier is steeds ’n gemeente al is die gebou weg,” het hy gesê.

Ds Greyvenstein het lidmate op haar beurt kans gegee om stories te vertel oor wat hulle van die gebou onthou en daarna gebid: “Here, kom verras ons met u troos en liefde … Al het ons nie woorde nie, kom luister.”

  • Indien jy die gemeente wil help, kontak ds Greyvenstein op 081 219 4750.

Kerk brand af, maar lofliedere klink steeds op

Hul kerk het Saterdagnag afgebrand, maar lidmate van Maitland Gemeenskapskerk het Sondag steeds saam gesing en gebid. 

Voor die smeulende puin van die 115-jarige gebou in Voortrekkerweg in Kaapstad, het gelowiges mekaar getroos en lofliedere gesing, het ds. Karlien van Wyk van die nabygeleë NG Kerk Welgemoed op die toneel aan Kerkbode gesê. 

Van Wyk en haar mede-leraar by Welgemoed, ds. Nelis Janse van Rensburg, was een van ’n aantal dominees, besorgdes, Maitland-lidmate en nuuskieriges wat Sondagoggend (30 Desember) deur die as en verkoolde oorblyfsels van dié aanbiddingsplek rondgeloop het. Die brand het omstreeks 20:00 Saterdagaand van kansel tot orrel verwoesting gesaai. Slegs die kloktoring en twee aangrensende vertrekke het die vlamme vrygespring, hoewel die rook- en hitte-beskadiging oral sigbaar is.   

Emily Maarman, die koster, is die aand van die brand deur ’n mede-lidmaat na die toneel ontbied: “Dit was net tonge vuur gewees,” het sy gesê. “Dit was verskriklik om dit te sien.” 

Ds. Riaan de Villiers van Groote Kerk is ook die vorige aand gevra om by te staan en was die volgende oggend weer daar om aan die spontane diens voor die kerkgebou deel te neem. “Ons het partykeer nie woorde nie, maar ons kon sug voor God. So mense het gesug voor God en het toe so stukkie gelees uit Jesaja 58, saam gebid … so op ’n manier het die hartseer en die treur ook ’n mate van hoop begin reflekteer wat vir my roerend was,” het De Villiers gesê.

Die Maitland-gemeente se leraar, ds. Juanita Greyvenstein, was met vakansie tydens die voorval. Sy het by navraag gesê dis ’n afskeid van baie wat in daardie ruimte gebeur het. 

Die oorsaak van die brand was nog nie bekend toe Kerkbode Sondag op die toneel was nie.