Lourens Bosman

’n Baie gestuurde Kersfees

Adventstyd is hier. Ek lees in koerante dat dit maar ’n treurige Kersseisoen gaan wees want mense het minder geld om te spandeer. Dit is nogal ’n skrikwekkende gedagte: Die sukses van Kersfees hang af van of jy genoeg geld het om te spandeer. Ek hoop nie dit is waar nie, al is dit te verstane. Vir baie mense is die Kersvakansie ’n blaaskans in die drukte van werk en eise. En daarvoor help ’n bietjie ekstra geld. So, kom ons maak ’n duidelike onderskeid tussen die somervakansie en Kersfees.

In ons nadenke oor die kerk se gestuurde roeping, is Kersfees ’n baie belangrike merker. Kersfees gaan oor God wat tussen ons kom woon. God red ons nie van ver af nie, Jesus kom woon en loop tussen mense. Waar Hy kom, word mense gered, die wêreld heel.

Die teoloog Joachim Jeremias maak ’n groot saak daarvan dat God die stilte breek wanneer Jesus na die aarde kom. In die vier eeue tussen die Ou en Nuwe Testament het die stem van God al hoe stiller geword. Daar was nie profete nie, die wettiese lees van die Ou Testament word al sterker en mense beleef dat God ver is en dat dit moeilik is om God te ken en te dien.

En dan, skielik, boem! Jesus word gebore. Hy is Immanuel, God by ons.

Dr Willem Nicol vertel dat daar in Koptiese kerke in Noord-Afrika, permanent ’n krip en ’n kruis voor in die kerkgeboue staan. In Katolieke kerke en in kuns­galerye is daar amper net soveel skilderye wat gaan oor Jesus se menswording as van sy lyding. Die wonder van God se genade word net soveel uitgedruk deur die krip as deur die kruis.

Vir gestuurde gemeentes en gestuurde mense is dit wesenlik. Die feit dat God ons nie vergeet of aan ons lot oorlaat nie, dat die groot plan met die wêreld insluit dat Jesus mens word, sê iets fundamenteel vir ons lewe. Ons volg Jesus na die wêreld. Soos Jesus, is ons gestuur om ín die wêreld, tussen mense te leef en te werk.

God red nie op ’n afstand nie. Hy kom naby. So is ons ook bedoel om tussen mense te leef, in die wêreld ons lig te laat skyn. Daar is altyd ’n gevaar dat gestuur­de gemeentes op ’n afstand met mense werk, dat ons ander stuur en betaal om namens ons in die wêreld te wees. Kersfees herinner ons aan ’n God wat nie net stuur nie, maar self kom.

’n Baie geseënde en gestuurde Kersfees vir almal!

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Vra vir die Here wie is jou een

Partykeer kry mens die prentjie uit gesprekke oor die gestuurde kerk dat dit hoofsaaklik gaan oor groot programme waarby duisende mense betrokke is en wat duisende mense gelyk bereik – ’n groot beweging wat oor die land vee en alles verander. Miskien kom hierdie prentjie uit die groot evangelisasieveldtogte in die verlede waar duisende mense kom luister, aangeraak word en terugkeer na die Here.

Jesus vertel drie stories in Lukas 15 wat ’n ander prentjie gee. Dit is die stories oor die skaap, die geldstuk en die seun wat weggeraak het. Hier gaan dit nie oor die skare nie, dit gaan oor die een.

Die eerste twee stories vertel hoe twee mense intense soektogte op tou sit om die een skaap en die een geldstuk te vind. In die derde storie kom die een seun tot inkeer, keer terug en ontdek dat sy pa hom met oop arms ontvang.

Hierdie stories herinner ons dat God mense een vir een soek. Dit is ook wat Jesus doen: Soms praat Hy met die skares, maar Hy gaan staan ook stil by individue. Jesus wil hê ons moet verstaan hoe belangrik is die een.

Hoe kan jy deel word van God se soektog? Gewone mense voel dikwels onbekwaam en onseker: “Ek weet nie wat om te sê nie. Sê nou hy of sy vra moeilike vrae?”

Die beste plek om te begin, is waarskynlik met gebed en die eerste saak om voor te bid, is oop oë. Jy kan nie deel wees van God se soekgeselskap as jy nie met God se oë kyk nie!

Bid dat die Here vir jou sal wys wie is jóú een. Waarskynlik is dit iemand wat jy reeds ken, iemand wat naby jou woon of saam met jou werk. Moontlik iemand oor wie jy bekommerd is. Bid dat die Here jou sal laat kyk soos wat Hy na mense kyk – met liefde en besorgdheid.

Bid dan gereeld vir hierdie een. Bid vir die persoon se behoeftes soos jy dit verstaan. Bid dat die Here julle paaie sal laat kruis. Bid vir geleenthede om kontak te maak en te gesels. En wees gereed vir die geleenthede wat jy gaan begin raaksien: ’n kans om oor te stap, om te hoor hoe dit gaan, om iets goed vir hierdie een te doen.

Jy kan met verwagting bid want eintlik is dit God wat soek. Ons is lede van sý soekgeselskap en Jesus herinner ons: God soek en Hy vind.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Die dinge wat ons verbaas, of nie …

Een van my goeie vriende sê: “As iets jou nie meer verbaas nie, moet jy weet dit is nou deel van die kultuur.” Dit verbaas niemand as ’n gemeente ’n basaar hou nie, maar as ’n gemeente hulle basaar so organiseer dat hulle ook goedkoop kos aan die armes in die gemeenskap verskaf, let mense dit op. Dit verbaas niemand as ’n gemeente ’n Sondagskool het nie, maar as daardie Sondagskool vol kinders van buite die gemeente is, is dit merkwaardig.

Die kultuur van ’n gemeente word nie bepaal deur die dinge wat ons nou en dan doen of in die groot gebaar nie. Die kultuur word bepaal deur die dinge wat ons oor en oor doen, dit lê in ons gewoontes.

Een van die redes waarom ons die woord “missio­naal” in plaas van “missionêr” gebruik, is om te sê dat ons oor iets nuuts praat. Tevore het ons van ’n missionêre gemeente gepraat as een met uitreikprojekte. “Missionaliteit” gaan oor gemeentes wat op ’n nuwe manier leef. Dit beteken dat nie net ’n groepie entoe­siaste besig is met uitreik nie maar dat die kultuur van die gemeente verander. Almal is op een of ander ma­nier deel daarvan dat die gemeente nie ter wille van homself leef nie, maar om sout en lig vir die wêreld te wees.

’n Baie goeie manier om so ’n kultuurverandering te laat gebeur, is om dinge wat die gemeente reeds doen, anders te doen. Dit is meestal ook nie baie moei­lik nie.

Alle gemeentes hou eredienste. Die idee is nie nood­wendig om ’n nuwe uitreik-erediens te begin nie, maar om te kyk hoe ons bestaande erediens vriendeliker en oper kan wees. Dalk moet ons tyd gee dat almal mekaar groet en nuwelinge verwelkom. Miskien moet die dominee sy taal aanpas dat dit meer klink soos die gewone taal wat mense praat. Ander sal die liturgie meer toeganklik maak vir besoekers. Die gewoonte waaroor dit gaan, is gasvryheid.

Ons het die goeie gewoonte om vergaderings te open deur uit die Bybel te lees en saam te bid. Vir ’n missionale kultuurverandering sal vergaderings meer tyd begin spandeer om God se roeping uit die Woord te onderskei. Die gewoonte wat ons wil kweek, is geloofsonderskeiding.

In die begin is nuwe gewoontes ’n bietjie vreemd, maar geleidelik word dit normaal. Dan verbaas dit niemand as nuwe mense deel word van die gemeente of as lidmate hulle roeping in die wêreld uitleef nie. En dan het die kultuur verander.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Die krag van saamstaan

Iets wat opval van gemeentes wat ’n impak maak in die samelewing, is dat hulle dit nie alleen probeer doen nie. Hulle het baie vennootskappe in die gemeenskap: met ander kerke, met die skole, maat­skaplike dienste, die gemeenskapspolisie en ander organisasies.

Waarom sou ’n mens moeite doen hiermee? Dit lyk net na ekstra werk.

Gemeentes wat begin om hande te vat, vind meest­al dat die opbrengs uit die vennootskappe baie groter is as die belegging. Baie organisasies werk reeds in die gemeenskap, hulle ken die behoeftes en verstaan die plaaslike politiek.

Een gemeente het vertel hoedat hulle op geen ma­nier ’n afspraak met die burgemeester kon kry nie, hy was net nooit beskikbaar nie. Toe hulle egter deur die dorp se “pastors forum” werk, gaan die deure skielik oop en is die dorpsraad bereid om met hulle te praat.

Die kerk se maatskaplike dienste behoort altyd ons eerste vennoot in die gemeenskap te wees. Die hoë geloofwaardigheid van maatskaplike werkers is iets baie kosbaar en ons moet nooit hulle kundigheid on­derskat nie. Boonop is die meeste maatskaplike wer­kers honger om nouer met die kerk saam te werk. Praat met hulle, vat hande, gee vir hulle die geleentheid om met die kerkraad en gemeente te praat. Hulle stories gryp die verbeelding aan.

Die volgende logiese plek om verhoudings te bou, is met ander kerke. Word deel van die plaaslike leraars­kring of stig een. NG dominees is gewoonlik goed met organiseer en om sinvolle vergaderings te hou. Kennisgewings uitstuur, agenda opstel, besluite notuleer en opvolg is amper tweede natuur vir die deur­snee dominee. Moenie hierdie vaardighede ge­ringskat nie. Dit is dinge wat maak dat ’n “pastors forum” op ’n dorp aan die gang kom, werk en volhoubaar is.

’n Vennootskap met skole is eintlik onontbeerlik as ons die gemeenskap wil dien. #imagine is baanbrekers om hierdie verhoudings te bou. Hulle is reeds op meer as 300 dorpe aktief en hulle doen dit saam met 40 verskillende denominasies. Hulle kry dit reg om, ten spyte van die Skolewet, by skole betrokke te raak en te bly. Die taakspan vir Geloofsvorming: Jeug hou ook werkswinkels oor hoe gemeentes by skole betrokke kan raak.

Ons leef in ’n land waar verreweg die meerderheid mense Christene is. Wanneer ’n mens begin soek na vennote in die gemeenskap, sal jy vind daar is talle instansies wat gretig is om hande te vat. Die kerk kan ’n baie groot impak maak deur mense saam te bind vir ’n beter samelewing. Daar is groot krag in saamstaan.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Wees teenwoordig soos Jesus tussen mense

Van die heel belangrikste woorde wat vorm gee aan ons roeping as gestuurdes hoor ons wanneer Jesus sê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Die implikasie hiervan is dat ons baie mooi moet kyk wat Jesus doen, want dit bepaal ons agenda.

Die voorbeeld van Christus gaan oor die dinge wat mense Hom sien doen het, maar ook oor die gesindheid waarmee Hy dit gedoen het. Een van die mooiste gedeeltes wat oor Jesus se voorbeeld praat (Fil 2), gaan juis oor sy gesindheid van nederigheid, om ander hoër as jouself te ag en om jouself ter wille van ander op te offer.

Dit verg ’n diep skuif in die manier waarop ons betrokke raak in die wêreld. Vir baie lank het die Wes­terse Christendom na die res van die wêreld uitgereik met geld, goed en kennis. Hierdie dinge het aan kerke mag gegee. En alhoewel ’n mens nooit die diens en selfopoffering mag miskyk of vergeet nie, was dit ­meestal tog ’n baie ongelyke verhouding tussen die ge­wers en die ontvangers.

Deesdae vind baie gemeentes skielik dat hulle klei­ner en armer word. Hulle het net eenvoudig nie meer so baie om uit te deel nie. Ons hoor soms dat gemeen­tes dink hulle het geen bydrae om te maak as hulle nie goed of geld kan uitdeel nie.

Miskien bring so ’n situasie ons eerder nader aan die voorbeeld van Christus. Filippense 2 sê dat Jesus mens word tussen ander mense. Hy klou nie vas aan sy Goddelike gestalte en regte nie, maar kom woon tussen ons as ’n nederige slaaf. Ons noem dit inkarnasie of vleeswording. En dan gaan Hy selfs verder: Hy ver­neder Homself deur sy kruisdood.

Hierdie vleeswording van Jesus wys vir ons hoe dit lyk as God se liefde hande en voete kry. Dit nooi ons om sy inkarnasie-leefstyl na te streef.

Dit beteken dat ons nooit van die wêreld kan ont­trek nie maar teenwoordig moet wees. Dit herinner ons dat liefhê en omgee kosbare geskenke is. Dit roep ons om nie net te dink aan wat ons kan gee of uitdeel nie, maar oor hoe om by ander mense te wees as gely­kes.

Die evangelie word nie net gepreek nie, maar ook beliggaam deur gelowiges wat tussen ander mense leef.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

’n Goeie bril om die Bybel mee te lees

Daar word nogal baie gesê oor die bril wat men­se op het as hulle die Bybel lees en hoe dit bepaal wat jy raaksien. Niemand kom neutraal na die Bybel nie, almal kom met ’n verwag­ting van wat jy sal kry en dit is dan die dinge wat jy eerste raaksien.

Nie alle brille is ewe goed nie. Ons het almal al ge­sien hoe iemand die Bybel op ’n manier lees wat glad nie by die teks pas nie.

’n Goeie leesbril vir die Bybel sal altyd beteken dat ek bereid is dat my voorverstaan getoets en verander word aan dit wat in die teks staan. Dit vra dat mens baie goed in ag neem onder watter omstandighede die teks geskryf is, vir wie en met watter bedoeling. Wat was die leesbril waarmee die eerste lesers die gedeelte gelees het?

Die meeste mense lees die Bybel vandag met die bril van persoonlike geestelike groei: “Wat wil die Here vir my sê wat my sal help om geestelik te groei en die lewe te hanteer?” Dit is nie ’n ongeldige vraag nie, maar dit neem nie die bedoeling van groot gedeeltes van die Bybel genoegsaam in ag nie. En dit privatiseer geloof tot die vraag oor wat ek uit my verhouding met die Here kan kry.

Dit maak ’n baie groot verskil as ons die Bybel, en veral die Nuwe Testament, lees met die bril van ge­stuur­des. Dit was hoe die eerste Christene die Nuwe Testament gelees het en ook ’n belangrike doel waarvoor dit geskryf is: Dit moes die vroeë kerk toerus vir hulle roeping as gestuurdes.

Die oomblik as jy die Bybel só begin lees, gaan daar ’n wêreld vir jou oop. Dan let jy op hoe Jesus se woorde, dade en houdings vorm gee aan jou eie roeping. Jy lees skielik minder met ’n ontvangsmentaliteit en meer met ’n gee-mentaliteit. Jy voel hoe Jesus se liefde vir mense jou hart begin vorm. Jy leer om anders te kyk, anders te oordeel en anders met mense te praat. Jy sien klein merkers in die teks wat jy tevore nie eens opgemerk het nie: die mense wat Jesus raaksien, met wie Hy praat, aan wie Hy raak en die plekke waarheen Hy gaan. Hierdie dinge kry skielik betekenis.

As dit gebeur, begin jy die Bybel lees met die leesbril van ’n gestuurde.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Jesus se invloed vloei diep én breed

Kom ons dink bietjie oor invloedryke mense.

Wie was verlede jaar die Nobelpryswenner vir fisika? Of vir chemie? Wie het in die vorige Olimpiese Spele die goue medalje vir die 5 000 m ge­wen? Wie is die Amerikaanse minister van buitelandse sake?

Aan die ander kant: Wie was jou graad 1-onderwy­seres? En die skoolhoof toe jy in matriek was? Wie was jou sportafrigter op hoërskool? Noem ’n paar van jou Sondagskool-onderwysers.

Die meeste mense kan bitter min van die eerste groep vrae antwoord maar vaar uitstekend met die twee­de groep. Die rede is eenvoudig: Dit gaan oor men­se met breë invloed teenoor mense met diep in­vloed. Sommige mense hoor jy oor die nuus en sien jy op TV, maar hulle het min diep, vormende invloed.

Diep invloed vloei uit lang en diep verhoudings. Die meeste vorming vind plaas waar mense mekaar in die oë kyk en ’n lang pad saamloop. Diep invloed kom daarom primêr van ouers, onderwysers, sportafrig­ters, kategete en direkte hoofde by die werk. Politici en mense uit die vermaaklikheidswêreld het min persoon­like invloed.

As ons Jesus se verhaal in die Evangelies volg, sien ons hoedat Hy die meeste tyd spandeer met die mense naaste aan Homself, die twaalf en die groter kring dissipels. Hierdie was die mense wat ná sy hemelvaart die boodskap van die koninkryk die wêreld ingedra het.

Aan die ander kant sien ons hoedat Jesus ook breë invloed uitoefen. Dit is belangrik hoe Jesus heen en weer beweeg tussen sy naaste volgelinge en diegene wat die groter magte in die samelewing verteenwoordig: godsdienstig en polities. Jesus daag die kultuur, die magstrukture en leiers van die destydse samele­wing uit. Daar is ’n patroon van diep, persoonlike sowel as breë, strukturele invloed. Die tweede sou Hom uiteindelik sy lewe kos.

As Jesus vir ons sê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook,” dan het diep en breë invloed albei ’n plek. Ons almal het mense op wie ons direkte en diep invloed kan uitoefen. Miskien is die belangrikste mense wat die Here in gelowiges se invloedsfeer plaas, hulle kinders. Ons roeping as gestuurdes begin by die mense in ons huishoudings, ons vriende, werkkring, die mense met wie ons die meeste tyd deurbring.

Jesus se voorbeeld wys egter vir ons dat breër in­vloed ook belangrik is. Wanneer ons die geleentheid kry, moet ons ook die groter kragte in die samelewing beïnvloed, al is dit moeiliker.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

‘Volg my voorbeeld’

“Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.”

Hierdie is nie woorde wat mens ligtelik sê nie. Dit voel amper arrogant. Tog is hierdie beginsel onverhandelbaar vir enige geestelike leierskap en nog meer so as ons praat oor leierskap wat ’n gemeente terugneem na sy gestuurde roeping.

Die voorbeeld van die dominee en die ander leiers trek die gemeente vorentoe. Sonder leiers wat die
koers aandui en die pas aangee, sak die meeste mense terug in ’n gemaksone waar dit primêr gaan oor hulle eie geestelike belewenis, hulle eie geestelike groei en hulle eie behoeftes. Nie dat hierdie dinge onbelangrik is nie, maar ons verstaan tog al duideliker dat dit nie ’n doel insigself is nie. Dit vorm die basis vanwaar gemeentelede na die wêreld beweeg.

Daarom is ’n gemeente se leierskap ook nie bedoel om ’n demokrasie te wees nie. In ’n demokrasie gaan dit oor die stem van die volk, en die volk soek gewoonlik hulle eie voordeel. Gestuurde leiers, daarenteen, neem mense saam op die pad wat Jesus vir ons aandui. En dit is nie ’n pad waar eie gerief en voordeel eerste kom nie.

Wanneer Paulus die gemeente in Korinte oproep om sy voorbeeld te volg soos hy die voorbeeld van Christus volg, gaan dit nie vir hom oor abstrakte moraliteit nie, maar oor ’n leefstyl wat daarop gerig is dat ander mense gered kan word. Hy sê: “Maak soos ek: Ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word. Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.”

Ons weet dat die voorbeeld van die leiers, en veral die predikant, deurslaggewend is om ’n gemeente te begelei van ’n selfgerigte na ’n gestuurde gemeente. Men­se kan eenvoudig baie beter sien as wat hulle kan hoor. Lidmate weet dat die gestuurde roeping werklik hulle gemeente se erns is as hulle sien die leiers leef dit uit.

Om Jesus se voorbeeld te volg, gaan oor ’n hele klomp dinge. Die goue draad wat egter deur alles loop, is sy besorgdheid oor mense en om mense te red. Daarvoor gee Hy sy goddelike voorregte prys, Hy word ’n mens, Hy neem die gestalte van ’n slaaf aan en gee uiteindelik sy lewe.

Sulke selfprysgawe is nie iets wat natuurlik vir mense kom nie. Voor ’n gemeente dit sal begin doen, moet hulle dit sien gebeur in die lewe van diegene wat voorloop.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Jesus steek die grense oor

As ’n mens die evangelies lees, word daar kort-kort ’n plek se naam genoem. Jesus reis na allerhande plekke. Gaan kyk net ’n bietjie na ’n kaart: Ons vind Jesus in klein dorpies soos Nasaret, in groot dorpe soos Kapernaum en die hoofstad Jerusalem. Ons vind Hom ook in dorpe buite die grense van Joodse gebied – in dorpe soos Sesarea-Filippi, Tirus en Sidon, Betsaida en Gadara.

Net in hierdie lys name is daar reeds ’n sterk teologiese boodskap: God het nie net die Jode in die oog nie, maar die wêreld. Toe Jesus uiteindelik die apostels uitstuur met die opdrag om sy getuies te wees in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld, het hulle geweet om Hom ernstig te neem. Hulle het Hom dit immers self sien doen.

Hulle het verder gesien dat om Jesus te volg, vat jou ook oor ander soort grense: die onsigbare grense soos dié van klas, taal, volk, ras en geslag. Daarom was dit van meet af aan deel van die lewe van Christene om ook oor hierdie soort grense te gaan. Dikwels is hierdie onsigbare grense tussen mense en groepe sterker as landsgrense.

Gemeentes wat hulle roeping as gestuurdes ernstig opneem, neem Jesus se manier van doen ernstig op. Leiers wat Jesus volg, weet dat Hy ons oor grense lei na plekke en mense waar ons nie vanself sou kom nie. Een van die uitstaande gewoontes van gestuurde gemeentes is om oor grense te gaan.

In Suider-Afrika is ons bevoorreg dat die grense meestal sommer naby ons lê. Jy hoef nie ver te reis om by mense te kom wat anders is as jy nie. ’n Mens moet jou dit ook afvra: Watter geloofwaardigheid is daarin om halfpad om die wêreld te reis as jy nie eens oor die grense in jou eie omgewing gaan nie?

Dit is ook belangrik om hieraan te dink as ’n “gewoonte”. Gestuurde mense en gestuurde gemeentes het die gewoonte om oor grense te gaan. Hulle doen dit gereeld georganiseerd maar ook as ’n dag-tot-dag gewoonte waar hulle met mense te doen kry wat anders is as hulleself. Die krag van die vroeë kerk se getuienis het daarin gelê dat die gewone mense, in hulle eie dorpe, as ’n gewoonte, oor grense gegaan het met God se liefde. Dit is ook vandag die krag van gemeentes wat erns maak met hulle identiteit as gestuur­des.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Gelowig, gehoorsaam en dapper

Watter soort leiers het ’n kerk nodig om sy gestuurde roeping uit te leef? Iets wat in ons kerk se eie navorsing na vore gekom het, is die drietal van geloof, gehoorsaamheid en dapperheid. Hierdie drie kom meestal voor by leiers en gemeentes wat erns maak met hulle roeping en wat ’n verskil in die wêreld maak.

“Gelowig” in hierdie konteks beteken dat jy God se beloftes ernstig neem, dat jy Jesus glo as Hy sê: “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Geloof beteken om jou vertroue op God te plaas: vir die ewigheid en vir die hede. Baie leiers brand uit omdat hulle begin dink alles hang van hulle af. Gelowige leiers werk hard en doelgerig maar met die verwagting dat God baie meer doen as wat ons kan droom.

Gelowig beteken ook dat ons vertrou dat God goed is en dat jy dit daarom kan waag om gehoorsaam te wees. Gehoorsame leiers plaas hulleself onder die gesag van God, nie uit dwang nie, maar met die diep oortuiging dat God se wil vir hulleself en vir die kerk ’n goeie wil is.

Ons moet nooit ons natuurlike geneigdheid om ons eie gerief en ons eie voordeel te bevorder, onderskat nie. Dit gebeur so maklik in gemeentes. Ons instink is maar om ons eie mense te dien en om die gemeente se voortbestaan te verseker. Vir ’n gemeente se leierskap om gehoorsaam te wees wanneer dit selfopoffering vra, is nie so maklik nie.

Ek weet van geen gemeente wat eksplisiet sal sê: “Ons bestaan ter wille van onsself” nie. Ons weet ons bestaan vir God en vir die roeping wat Hy ons gee. Maar wanneer hierdie roeping selfopoffering vra, word gehoorsaamheid ’n daad van vertroue: vertroue dat God goed is en dat sy wil ’n goeie wil is. 

En dan ook dapperheid. Gestuurde mense gaan oor grense na mense en plekke waar hulle nie vanself sou kom nie. Gestuurde gemeentes maak hulle deure oop en betoon gasvryheid teenoor mense wat anders is as hulleself. Dit vra dapperheid om die sekuriteit van die bekende te verlaat.

Die geloof, gehoorsaamheid en dapperheid van gestuurde mense en gemeentes is ineengevleg. Gehoorsaamheid word gebore uit geloof, dapperheid uit gehoorsaamheid én geloof. En dit alles kom voort uit ’n diep liefde en verbondenheid aan God self.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

In diens van die Koning

Die koninklike troue van Harry en Megan verlede week het ons herinner aan konings en koninkryke en wat daarmee gepaard gaan. Maar eintlik weet ons niks van hoe dinge in ’n regte koninkryk werk nie. Die Britte, met al die glans en seremonie, is ook maar net ’n konstitusionele monargie waar al die mag by die verkose leiers lê. En hulle is, soos die Engelse term onderstreep: “public servants”. Die leiers is in diens van die volk wat hulle verkies het.

Wanneer Jesus begin preek en die opdrag waarmee hy die kerk uitstuur, is die boodskap van die koninkryk van God. Die koninkryk kom orals waar die heer-skappy van God deurbreek op aarde. Die gebed wat Jesus vir ons leer om te bid, sê wat moet eerste op ons agenda wees: dat God se Naam geheilig word, dat sy koninkryk kom en dat sy wil op aarde sal geskied.

Daar is geen onduidelikheid hier nie: God is nie ’n “public servant” nie, God is ’n “sovereign”. God is nie in ons diens nie, ons is diens in van sý heerskappy, die heiliging van sý Naam en om sý wil op aarde te doen.

Daarby moet ons sê: Die koninkryk van God is kruisvormig. Jesus se woorde, sy voorbeeld en, bo alles, sy kruisdood laat ons sien watter soort Koning ons dien en vir watter soort koninkryk ons bid en werk. Dit is ’n koninkryk waar liefde en diens en selfopoffering voorop staan. Dit is ’n koninkryk waar dit die soewereine Koning se wil is dat ons sal omgee vir die wêreld en vir die mense daarin soos wat die Koning self omgee.

Die evangelie van die koninkryk van God beteken dat God die hele werklikheid red en heelmaak. Ons word geroep om hierdie goeie nuus te deel en daaraan mee te werk. Gemeentes wat hulle roeping ernstig opneem, verstaan dat God se koninkryk groter is as die kerk.

Die koninkryk kom waar mense die Here leer ken as hulle Verlosser, maar dit kom ook as mense skoon water het om te drink, as daar goeie mediese sorg is, as meisies goeie skoolonderrig kry of as kleuters skool-gereed gemaak word.

Dit is ’n trotse gereformeerde tradisie dat die kerk deelneem aan die koms van God se koninkryk, in mense se harte en ook in die wêreld. “In diens van die Koning” beteken ook in diens van die wêreld wat Hy liefhet.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Die kerk keer terug na normaal

In ons gesprekke oor wat dit beteken om ’n gestuurde kerk te wees, praat ons dikwels oor die kwessie van moeilike woorde en hoe dit mense vervreem. Vreemde woorde waaroor mense onseker is, is woorde wat vervreem. Een van hierdie woorde is “missionaal” en om te praat van ’n missionale kerk. Ek probeer om dit so min as moontlik te gebruik.

Ek wens in elk geval dat dit glad nie nodig was om die kerk te beskryf as ’n gestuurde of missionale kerk nie. As jy in die Bybel lees van hoe Jesus die fondamente vir die kerk lê, is dit duidelik dat om te praat van ’n  “missionale” of “gestuurde kerk” ’n oorbodige beskrywing is. Dit is soos om te praat van ’n “plantaardige boom”. ’n Boom is per definisie ’n plant. God roep die kerk in die lewe om die kerk te stuur. Die kerk is per definisie gestuur.

Die rede waarom ons deesdae moet praat van ’n gestuurde kerk is omdat kerkwees losgeraak het van die roeping en bestaansrede vir die kerk. Nie moedswillig of eiewillig nie, dit was tot ’n groot mate deel van die verloop van die geskiedenis. Soos wat die Christendom in die wêreld gegroei het, het gelowiges al meer begin voel hulle werk in die wêreld om hulle is voltooi. Omtrent almal in die omgewing is gelowiges of het ten minste al die boodskap van verlossing gehoor.

Die werk van die kerk verskuif dan daarna om homself in stand te hou, om lidmate te versorg en om hulle kinders van die Here te leer. Sendingwerk is iets wat op ander plekke en onder ander volke gebeur, daar waar mense nog nie die evangelie gehoor het nie. Dit was vir ’n lang tyd normaal.

Ons leef nou in ’n nuwe normaal. Dit is baie nader aan die normaal van die Nuwe Testament as wat die normaal van die afgelope dekades was.

Al meer mense maak hulleself los van die kerk. Baie mense in Suid-Afrika noem hulleself nog Christene maar is in werklikheid nie meer volgelinge van Jesus nie. Die waardes en kultuur van die wêreld waarin ons leef raak al verder verwyderd van die waardes en kultuur van God se koninkryk.

Die nuwe normaal is dat gelowiges en gemeentes weer ons roeping in ons onmiddellike omgewing, soos wat God dit bedoel het, sal onthou en opneem. Die nuwe normaal is eintlik nie nuut nie, dit is die oorspronklike normaal. Die normaal vir die kerk is dat ons as gestuurdes in die wêreld  leef.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Van opdrag na trekkrag

As kind was daar min dinge wat my so moedeloos gemaak het soos om rondgestuur te word. My pa het dikwels projekte in en om die huis gehad en ek moes die gereedskap gaan haal.

Die moeilikheid daarmee is mos dat ’n laerskoolkind nie altyd mooi weet wat dit is wat jy moet gaan haal nie en dikwels ook nie waar om dit te kry nie. Intussen kom die opdragte: “Gaan soek hierdie, gaan haal daardie …”

Die opdrag wat die Here vir sy kerk gee, is nie te betwyfel nie. Dit is om met die evangelie van die Koninkryk na die wêreld te gaan, om te gaan soek wie verlore is, om heel te maak wat stukkend is. Hierin voer ons Jesus se groot opdrag uit: “Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Soms raak gelowiges egter moeg en lam van al die gestuurdery, soos ’n laerskoolseun op ’n Saterdagoggend.

“Gaan wees my getuie, gaan wees sout, gaan maak lig.” Die opdragte raak partykeer te veel en die taak te groot. Boonop voel ʼn mens maar alleen en uitgelewer as jy so gestuur word. Jy moet allerhande dinge gaan doen maar jy weet nie aldag presies wat dit is en hoe jy dit moet doen nie.

Een van die belangrikste nuwe insigte oor wat dit beteken om ’n gestuurde kerk te wees, is dat God ons nie net stuur nie, maar ook nooi om te deel in wie God self is en wat God doen. Ons kry nie net opdragte nie, ons voel ook die trekkrag van die uitnodiging: “Kom wees deel!”

God word mens en Jesus kom woon tussen ons. Sy menswording nooi jou om tussen mense te gaan staan en by mense te wees.

Jesus kom wys vir ons hoeveel krag het dit as iemand hom- of haarself prysgee. Sy gesindheid en voorbeeld maak jou vry daarvan om jou eie belange eerste te stel.

Die eenheid van die Vader, Seun en Gees wys vir ons wat gebeur as daar diep harmonie tussen mense kom. Dit inspireer jou om eenheid en harmonie met ander mense te soek.

Die genade en vergifnis wat ons ontvang, herinner jou wat is die krag wat mense verander.

Wie God is, sê vir ons wie die kerk kan wees. Wat God doen, inspireer ons om te maak soos God maak.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Te klein om gestuur te word?

Klein gemeentes kla soms dat hulle uitgesluit voel in die gesprek oor gestuurde kerkwees: “Ons is so klein, al wat ons kan doen is om te oorleef en die bediening aan die gang te hou. Die groot drome van ’n gestuurde kerk wat ’n impak maak, is nie vir ons nie. Los dit maar vir groot en ryk gemeentes in die voorstede. Hier waar ons bly, het ons geen mag en invloed nie.”

Hierdie aanvoeling is belangrik omdat dit ’n verkeerde diskoers oor gestuurdheid ontbloot. Baie gemeentes dink onwillekeurig hulle gestuurde roeping in die gemeenskap is om vanuit hulle oorvloed en hoër posisie vir ander te gee en te help. Dit is dan dat gelowiges en gemeentes begin dink: Ons is te klein, te arm en te swak om aan onsself te dink as ’n gestuurde gemeente. Ons het skaars genoeg vir onsself, wat nog om vir ander uit te deel.

Die landskap waarbinne die kerk sy gestuurde roeping uitleef, het die afgelope twee dekades dramaties verander. Twintig jaar gelede kon die kerk dalk nog praat en optree vanuit ’n posisie van mag en status, vandag is so iets heeltemal uit pas met die omge­wing. Die tyd vir so ’n houding, hoe goed dit ook al bedoel was, is verby.

Maar eintlik was dit nog altyd uit pas. Die kerk volg Jesus en Jesus het gekom om te dien. Lydenstyd en Goeie Vrydag moet eenvoudig op ons afgee. Jesus is inderdaad Koning van alles, maar die kruis wys vir ons watter soort koning. Hy is nie een wat beïnvloed met mag en status nie, maar ’n koning wat Homself laat kruisig. Hy behaal sy oorwinning in swakheid.

Jesus stuur sy volgelinge (dit is nou ons) om in sy voetspore te volg. Dit beteken dat ons doen wát Hy doen en ook sóós Hy dit doen.

Die tyd wat die kerk die vinnigste gegroei het, was die tyd van die vroegste Christelike gemeentetjies. Hulle was allesbehalwe ryk en sterk, maar hulle het gemaak soos Jesus gemaak het. Daarin lê die krag van ’n gestuurde gemeente. Jesus het gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Ons moet Hom ernstig opneem.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Hier is ek, stuur my

Die slot van die nuwe president se toespraak op 16 Februarie het by baie Christene geresoneer. Hy het ’n lied van Hugh Masekela aangehaal. Dit eindig so: “I wanna lend a hand. Send me.”

Die woorde van die lied het diep wortels in die kerk. Die oorspronklike Thuma Mina (Stuur my), is ook in ons eie liedboek opgeneem. Die lied gaan daaroor om ja te sê as die Here jou roep en om in sy Naam te gaan waar Hy jou stuur.

Enige goeie missionale leier wil graag soveel moont­lik van die gemeente saamneem na die gesa­ment­like roeping van die kerk. Dit is een van die groot insigte wat wêreldwyd plaasvind: Die Here stuur sy kerk na die wêreld, nie net ’n kommissie of ’n paar en­toe­siaste nie. En dit is nou maar eenvoudig so: As ons saam loop, loop ons stadiger.

Ons het egter ook baanbrekers nodig wat voor loop.

Wanneer ’n trop buffels deur die veld beweeg, loop hulle nie almal op dieselfde spore of teen dieselfde pas nie. Party loop dié kant en ander daai kant om ’n digte bos, ander vat ’n wye draai. En dan is daar ook die voor­lopers wat soms ver voor die res van die trop uit beweeg.

In die kerk is sulke voorlopers dikwels mense met ’n sterk belewenis dat die Here hulle persoonlik vir iets spesifiek en uitdagend roep. Hulle het ’n sterk visie en hoë energie om dit te bereik. Die uitdaging vir leiers in die gemeente is nie om hierdie mense aan die beweeg te kry nie, maar om hulle energie te bestuur en om hulle deel te maak van die groter werk van die kerk. Mense met ’n sterk roeping word dikwels nie so maklik georganiseer nie en soms sukkel gemeentes met hierdie mense omdat hulle roeping nie binne die konvensionele bane val nie.

As ’n gemeente se leiers alles en almal wil beheer en organiseer, beperk dit die beweging van die kerk. Dit frustreer ook dikwels mense wat ’n sterk persoonlike roeping het en maak dat hulle buite die gemeente gaan soek na ander plekke waar hulle die roeping kan uit­leef. Die slegste wat soms gebeur, is dat hulle ontnugter raak en hulle roeping prysgee.

Ons geskiedenis is vol stories van mense wat gehoor het hoe die Here hulle roep en toe geantwoord het: “Hier is ek, stuur my.” Hierdie is die soort mense wat die kerk help om aan die beweeg te kom en te bly.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Verken die landskap om jou só

Een van die belangrike vaardighede van goeie mis­sionale leiers is die vermoë om ’n kaart te maak van die landskap om hulle.

Die landskap waardeur die kerk se roeping beweeg is nie ’n teerpad oor ’n vlakte nie. Dit is eerder soos die veld waardeur ’n trop buffels stadig na hulle weiding loop. Hoe die landskap lyk het ’n baie groot invloed op hoe hulle beweeg. Die groter koers mag vas wees, maar die slote, die bosse en bulte bepaal hoe hulle daar­heen aanstap.

Gemeentes bestaan en leef in uiteenlopende landskappe. Gestuurde gemeentes steur hulle aan hierdie landskap en hulle leiers het ’n prentjie in hulle kop van waar die gemeente in die groter prentjie pas.

Gemeentes wat ’n impak maak, het die kuns bemeester om in die wêreld te gaan wandel. “Die wêreld” verwys dan na hulle onmiddellike omgewing. Wat gaan aan in die gemeenskap, wat gaan aan in mense se lewe, waar is die nood en wat is die tendense?

Om dit uit te vind is eintlik nie so moeilik as wat dit klink nie. Jy moet net gaan vra. Verskillende sleutel­persone in die gemeenskap gee vir ’n mens verskillende perspektiewe. Die skoolhoof kan nogal baie vertel van wat in die gesinne van sy leerders aangaan. Die polisiebevelvoerder weet van die misdaadtendense, die maatskaplike werker kan vir jou vertel van die nood en behoeftes in die gemeenskap. Die mediese dok­ter het ’n prentjie van die gesondheid en ook van die geestesgesondheid en die haarkapper sal vir jou kan vertel waaroor skinder hulle. Dit is natuurlik ook goed om by ander leraars in die gemeenskap te gaan hoor, veral dié in gemeentes van ander tale en rasse.

Talle gemeentes se hele verstaan van hulle roeping het al dramaties geskuif nadat hulle geluister het wat in die gemeenskap om hulle aangaan. Hulle ontdek nood waarvan hulle nie geweet het nie, maar ook vennote met wie hulle kan handevat. Om dit uit te vind moet jy bereid wees om te gaan luister.

Om ’n kaart van die landskap te maak, gebruik gemeentes twee van die kernkapasiteite wat gestuurde gemeentes nodig het. Dit is die vermoë om te luister en die vermoë om te waag om oor grense te gaan. Julle kan nie ’n kaart maak deur net met mekaar te praat of net deur die Bybel te lees nie (hoe belangrik hierdie twee ook al mag wees!). Julle moet uitgaan en gaan luis­ter. En so met die uitbeweeg en luister kry ’n mens ’n prentjie van waarheen God julle roep en hoe om daar te kom.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.