Marileen Steyn

Die vraag wat elke gemeente moet vra

Wat kan ons volhoubaar anders doen sodat jong volwassenes van­uit egte gemeenskap meer ‘fully alive’ kan lewe?”

Dít is die vraag wat die Jong Volwasse Leergemeenskap (JVLG) graag op die lippe van elke gemeentelid, en op die agenda van elke kerkstruktuur wil sit.

Die JVLG, wat in opdrag van die Wes-Kaapse Sinode oor jong volwassenes en die kerk besin, het op hul jongste vergadering gesoek na wyses waarop die JVLG se navorsing op gemeentevlak reeds ’n bydrae tot die gesprek kan maak. 

Na afloop van hul byeenkoms, is die JVLG van die oortuiging dat die ernstige besinning oor die bostaande vraag, gemeentes sal kan ondersteun in hul nadenke oor jong volwassenes en die kerk.

In hulle navorsing het die JVLG gevind dat daar drie dinge is waarna die kerk in hul bediening aan jong volwassenes moet kyk: om egte verhoudings (gemeenskap) te kweek en te koester, om ’n sin vir roeping te ontdek en te ontwikkel, en om te midde van ’n inligtingsbelaaide konteks te onderskei hoe ’n mens met wysheid kan leef en floreer (“fully alive”).

Deur die bostaande vraag te vra, kan gemeentes saam met hul jong volwassenes ’n pad begin stap om te kyk hoe hierdie dinge binne hul unieke konteks kan lyk. Die fokus is egter eerder op die ontwikkeling en daarstel van volhoubare strukture en ruimtes, as op eenmalige programme.

Die JVLG nooi alle kerkrade om ’n groep in die gemeente te identifiseer of te vorm wat spesifiek op die bogenoemde vraag kan fokus. Hierdie groepe is welkom om die JVLG te kontak by jeug@sun.ac.za vir hulpmiddels wat hulle in hierdie proses kan begelei.

Die hulpmiddels, wat teen einde Augustus beskikbaar sal wees, kan deur hierdie groepe gebruik word om kerkrade, taakspanne, kleingroepe en gemeentelede te begelei in ’n luisterproses. Op hierdie manier kan elke gemeentelid, op elke vlak, genooi word om aan die gesprek deel te neem. 

Verder is die JVLG ook betrokke by navorsing in gemeentes wat reeds besig is om met hierdie vraag te werk. Hiervoor, nooi hulle alle gemeentes wat reeds met jong volwassenes werk en al oor dié vraag begin nadink het, om hulle ook te kontak.

Hier is hulp vir gesprekke oor seksualiteit

Die NG Kerk in Wes-Kaapland se Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (STLAS) het hulp­middels beskikbaar gestel wat gemeentes kan help om gesprekke oor sek­sualiteit te voer.

Dit is gedoen teen die agtergrond van die besluite van die Algemene Si­no­des van 2015 en 2016 en die gesprek oor ver­houdinge tussen mense van dieselfde geslag.

Die Gespreksbord van Seksualiteit is deur STLAS in samewerking met Bybel-Media ontwikkel. Die doel van die gespreksbord is om ’n veilige ruimte te skep waar mense van verskillende agtergronde en standpunte saam oor seksua­li­teit en selfdegeslagverhoudings kan praat en dink.

Groepe van 6 tot 8 kan die gespreksbord gebruik om ’n oop gesprek te voer sonder om mekaar van ’n standpunt te probeer oortuig. Die bord wil eerder men­se help om meer inligting te verkry en om geloofsonderskeidend daarmee om te gaan as om ’n mening te vorm.

Die bord sal binnekort by Bybel-Media be­skikbaar wees.

Die “Terugvoerblad” is ’n hulpmiddel wat die Wes-Kaapse Sinode wil gebruik om te bepaal waar verskillende ge­meentes hulle in die gesprek rondom seksualiteit en selfdegeslagverhoudings bevind. Dié blad, wat tot dusver baie goeie terugvoer ontvang het, sal aan gemeentes in die Wes-Kaap uitgestuur word. Gemeentes wat daarvoor kans sien, sal dan die blad kan gebruik om saam te gesels en aan te dui waar die gemeente oor dié sake staan.

Die terugvoer van hierdie prosesse sal dan weer deur STLAS gebruik word om verdere navorsing te doen.

STLAS hoop dat hierdie hulpmiddels kan wees wat ’n meer oop gesprek sal fasiliteer. Hierdeur kan gemeentes aanhou om oor hierdie sake te praat sonder om meer gepolariseer te word.

Gemeentes word ook daarop gewys dat Inclusive and Affirming Ministries, bekend as IAM, ’n organisasie is wat fokus op gesprekke oor seksualiteit en seksuele diversiteit in kerke.

IAM bied geleenthede vir gemeentes om met gay medegelowiges in gesprek te tree sonder om enigiemand van stand­punt te probeer oortuig.

Ds Nioma Venter het een van hierdie werk­winkels bygewoon en haar bele­we­nis was besonder positief.

“Ek het besef ons is arm as dit daarby kom om ons eie seksualiteit te verwoord. Die geleentheid het my verryk. Dit het nie hier gegaan oor hetero of homo nie, maar oor die geleentheid om ’n deel van jou identiteit waaroor jy baie meer woord-arm is as wat jy besef, saam met ander te verken.”  

Belangstellendes kan dr Pieter van der Walt of ds Ankia du Plooÿ by Communitas kontak vir meer inligting.

Ken ons ons jong volwassenes?

Hoe lyk die jong volwassenes van Suid-Afrika?

Dit is met hierdie vraag in gedagte wat die Jong Volwassene Leergemeenskap (JVLG) ’n Skype-onderhoud met Adriaan Adams gevoer het ty­dens hul ontmoeting op 6-8 Februarie.

Dit is die tweede ontmoeting van hierdie groep as deel van hul proses om ’n strategie ten opsigte van jong volwassenes vir die Wes-Kaapse sinode te ontwikkel.

By hierdie geleentheid is daar verder gekyk na be­staande navorsing oor millennials (jong volwasse­nes van ouderdom 18-30) en die kerk. Ongelukkig is die mees­te hiervan buitelandse navorsing.

Op soek na meer Suid-Afrikaanse navorsing en insigte, is daar met Adams gesels. Adams is die uit­voe­ren­de direkteur van GenerationIndex.com, en werk die laaste 20 jaar baie nou saam met jongmense in verskeie spektrums wêreldwyd.

Hy waarsku dat daar nie te vinnig veralgemeen moet word wanneer dit by millennials kom nie. Millennials se gedragspatrone is gewortel in ’n bepaalde wê­reldbeskouing wat deur ’n spesifieke konteks gevorm word.

Terwyl globalisasie en tegnologie wel tot gevolg het dat daar vele ooreenkomste tussen millennials oor die wê­reld heen is, is die invloed van diverse kontekste eg­ter te groot om te veralgemeen.

Daarom sou dit foutief wees om te aanvaar dat die jong volwassenes van die VSA dieselfde as dié in Suid-Afrika is.

Maar hierdie verskille lê nie net op internasionale vlak nie. Die verskille tussen die jong volwassene in Pre­toria en dié in Kaapstad kan net so diepgaande wees, maan Adams. Daarom kan daar gerus van na­vor­sing in ander kontekste kennis geneem word, maar dit kan nie direk in ander kontekste toegepas word nie.

So hoe kan gemeentes die millennials in hul ge­meen­skap leer ken? Adams identifiseer vier areas wat millennials se wêreldbeskouing en gedragspatrone vorm.

Die eerste is die beskikbaarheid en gebruik van tegnologie onder jong volwassenes. Toeganklikheid tot die internet speel byvoorbeeld ’n groot rol in toegang tot inligting en populêre kultuur.

Die tweede faktor wat millennials vorm, is hul fa­mi­lie, vriende en sosiale interaksie. Die aard en funksie van verhoudings in die jong volwassenes se lewe is van belang. Hier kan daar onder andere gekyk word na die impak van die afname in die tradisionele kerngesin­struktuur.

Onderrig is die derde faktor wat millennials vorm. Die toeganklikheid en formaat van onderrig gee heelwat leidrade oor jong volwassenes se wêreldbeskouing.

Laastens, moet daar gekyk word na die groot ge­beur­tenisse wat millennials kon help vorm. Ekonomie­se resessie en politieke onstabiliteit word as moontlike redes gegee waarom millennials ’n groter behoefte aan opregtheid het.

Die JVLG meen verder dat vrae na jong volwasse­nes se kerkagtergrond sowel as hul huidige geloofs­praktyke en -ervaringe moontlik ook gemeentes kan help om die jong volwassenes en hul verhouding met die kerk te verstaan.

Indien gemeentes en gemeenskappe hierdie faktore binne hul kontekste kan ondersoek, sal hulle nuwe insigte kan kry in die wêreldbeskouing en gedragspatro­ne van die jong volwassenes onder en tussen hulle.

Die JVLG sien uit daarna om meer plaaslike navor­sing oor jong volwassenes te doen. Maar intussen wil ons gemeentes nooi om hulleself te vra: Ken ons ons jong volwassenes?

– Lees ook die rubriek “Jong Stemme” op bladsy 7.