Annalise Wiid

‘Ons dans ’n boodskap van hoop – en dít genees’

As laerskooldogtertjie in Pretoria was balletprentjies vir haar die mooiste. En ’n volkspele-tiekiedraai het haar laat voel sy wil net aanhou draai en draai. Caroline Kotzé van NG gemeente Nelspruit het vir ANNALISE WIID vertel hoe dans mettertyd vir haar ’n uitdrukkingsvorm van die evangelie geword het.


Caroline Kotzé se eerste koordansklas was eers as getroude vrou met drie seuns. Sy het so gesukkel dat sy gedink het sy gaan dit nooit regkry nie. “Maar,” vertel Caroline, “met ons eerste dans in The Reeds (die NG gemeente in Pretoria waar sy toe lidmaat was) het daar iets in my hart begin gebeur toe ons op There is none like You gedans het. Ons het daarna I was made to love You, I was made to worship at your feet gedans. En met hierdie lied het my hart vlam gevat.

“Dans bring my nader as naby aan die Here. Dit bring my by alles gee. My hele liggaam word met energie gevul. En diepte, wat wegraak-oomblikke word, bring daardie vreugde wat my hart te klein laat voel vir die oorvloed. Dan kom die vryheid, die oorgawe, om God net te eer, te loof, te aanbid en te dans van sy grootheid, goedheid, genade en liefde. Asof ek vlerke kry, om dieper, groter te glo. En dit te wil deel.”

Mettertyd het Caroline gesien hoe lofdanse ’n werklike bediening word; nie meer as net “danse” gesien word nie. Sedert hulle verhuising in 2008, skakel sy in by Nelspruit Moedergemeente se lofdansbediening. Daar vul dans maandeliks die Sondagboodskap aan.

Tydens geloofsbedieningsvergaderings ontvang sy ’n lys van preekbeurte en temas. Daarvolgens soek sy dan geskikte aanvullende dansliedere en lê dit as be­die­ningsmoontlikhede voor aan die predikante.

“Mense word werklik daardeur verryk. Die mooiste woorde is wanneer ’n hartseer vrou sê: ‘Julle dans het vanoggend baie vir my beteken, ek het dit so nodig gehad,’ of as iemand anders sê: ‘Julle bewegings saam met die woorde het my hart vanoggend so geroer.’ ’n Ouer leierfiguur in ons gemeente het onlangs opgemerk dat die danse genesend is.  

“Om deel te neem moet ’n mens net kan beweeg, al is dit stadig!” sê Caroline. “Ons dans met ons hart. Geen dansonderrig is daarvoor nodig nie.”

Nelspruit se dansgroep saam met die kinders van die Brakfontein Education Centre, op ’n plaas buite Citrusdal. Tydens hulle onlangse toer na die Wes-Kaap, het die dansgroep pakkies met lekkergoed en ’n speeldingetjie daar uitgedeel. Agter die kinders staan Lorraine Duvenhage, Maritha du Plessis, Lieze Loots en Caroline Kotzé tussen die personeel van die kleuterskool.

Tog choreografeer sy met keurigheid. “Party van die vroue kan weens swak knieë nie meer kniel nie, dan staan hulle terwyl ander kniel. Party kan nie draai nie omdat hulle duiselig word, dan doen hulle net die armbewegings terwyl die ander draai. En dié wat onfiks is, leer gou om korter paaie te vat. Ons het selfs ’n vrou met veelvuldige sklerose wat saamdans.”

Ouderdomme wissel van hoë 20’s tot 72. Caroline lei ook ’n junior Lofdansgroepie, van voorskool tot graad 7. “En dis soveel vreugde om te beleef hoe die dogtertjies dit met oorgawe doen!”

Die danse kring veel wyer as hulle gemeente uit. Na Witrivier en Sabie. Sowel as Nelspruit se Hervormde gemeente. Waar die danse aanvanklik ná die diens geplaas was, sodat mense kon loop as hulle nie daarin belang stel om te kyk nie, is dit nou volledig deel van die erediens. Hulle dans ook nie net in kerke nie, maar by vrouegeleent­hede in ’n tuin, by ’n skoolopening, by ’n karnaval op ’n rugbyveld en vele meer.

Selfs so ver van die huis as Citrusdal: “Tom en Hanneke Ferreira het jare lank ’n plaas bestuur hier in Nelspruit. Hulle is baie lief vir die Here en het ’n passie om mense te verryk en op te lig tot beter. Ons het soms hier by hulle kerk gaan dans. Later het hulle Citrusdal toe verhuis, maar kontak met ons dansgroep behou.

“Toe hulle in 2014 hoor dat ons Lofdansbediening gaan doen tydens blommeseisoen in die Kaap, het Tom gevra of ons nie asseblief hulle werkers wil kom bedien nie. Dit het ’n instelling geword en gegroei. Vanjaar kon ons, buiten lofdansbediening, ook pakkies gaan uitdeel een oggend by ’n kleuterskool op die plaas. Dit was groot lekkerte om die kindertjies en personeel se vreugde te beleef toe ons vra hulle moet saam met ons dans. Die middag het ons ’n ouetehuis in Citrusdal met dans bedien, asook die siek mense besoek, bietjie gesels en boekmerkies uitgedeel.

“Die aand terug op die plaas, het al die plaaswer­kers en kindertjies in die skuur bymekaar gekom, waar ons ’n boodskap gebring het saam met elke lofdans wat ons gedoen het. Dit was lekker om ook daar verrassingspakkies aan almal te kon uitdeel. Voor ons die aand uitmekaar gegaan het, het álmal ’n kring om ons gemaak en vir ons gebid vir die pad vorentoe. Kinderhandjies het warm op ons gerus.

“Een vrou se seëngebed het die Here gedank omdat ons dink hulle is waardig genoeg dat ons hierdie tyd aan hulle afstaan, ‘om die Woord op hierdie manier te bring’. Ons dans ’n boodskap van hoop – en dít genees.”

Gebed, geraas, stilte

Die oproep wat gemeentes vroeër die maand ontvang het “na ’n landwye geleentheid vir verootmoediging en voorbidding op Woensdag 8 November”, het my opnuut oor ons verstaan van gebed laat wonder. Uit antieke tekste wat byvoorbeeld opgegrawe is in daardie gebiede wat gedurende die Bybelse tye deur die Egiptenaars, Arameërs, Hetiete, Kanaäniete, Assiriërs en Babiloniërs bewoon is, is dit sonder meer duidelik dat gebed deel van alle antieke volke se geloof was. Israel en ook die Christelike geloof is hierin nie uniek nie.

Soos in Bybelse tye die geval was, verwag meeste mense vandag nog dat God (of die gode) op hulle gebede moet reageer. Gebede het dan ook dikwels te doen met versoeke aan God (of die gode) om proble­me of krisisse op te los. Mense het nog altyd gepoog om God (of die gode) deur woorde en dan veral luidkeels te beïnvloed.

Vandag nog is die uitroep van spesiale biddae waar mense genooi word om in massas byeen te kom, algemene praktyk – ook in die NG Kerk. Eweneens ondersteun talle NG lidmate en predikante ook sulke oproepe wat deur individue of ander kerke gemaak word.

Om oor gebede in die Ou Testament te probeer skryf, is reeds ’n groot opgaaf. Deur een vorm daarvan uit te lig, mag selfs onbillik wees. Nietemin, gebed as stilte spreek my nou reeds vir jare aan. Twee bekende navorsers maak in dié verband in ’n onlangse boek die volgende opmerking “Excessive noise is characteristic of the ungodly in the Hebrew Bible,” met verskeie Ou Testament tekste in ’n voetnota gelys ter ondersteu­ning van die punt.

Wat my egter meer interesseer is die vertaling van Psalm 65:2 in die meeste Bybelvertalings. In die Hebreeuse teks staan daar letterlik “Vir U, stilte is lof, o God in Sion”. Bitter min vertalings vertaal dié vers egter so. Die meeste vertalings volg die Ou Grieks van die Septuaginta en vertaal derhalwe min of meer soos volg “Aan U kom ’n lofsang toe, o God, in Sion”. Waarom swyg oor die “stilte” – veral indien mens dit lees in verband met die rumoer van die volke wat in Psalm 65:8 afgewys word?

Ek moet egter eerlik wees, gelowiges het reeds in die Ou Testament gevoel dat hulle darem nie heeltemal kan stilbly in God se teenwoordigheid nie (vergelyk Psalm 40). Daarom is gebed as stilte alleen maar een kant van die munt. Wat wel uit die Ou Testament duidelik is, is dat uitspattige geraas in die tempel vermy moes word. Aan die ander kant was absolute stilte onmoontlik en ook nie heeltemal gewens nie.

Dr Fanie Cronjé is ’n Ou-Testamentikus en predikant van die NG gemeente Jakaranda-Riviera in Pretoria.

CLF se eerste 60 jaar

IN ELKEEN SE EIE TAAL: DIE KLEURRYKE VERHAAL VAN DIE CHRISTELIKE LEKTUUR­FONDS
Uitgegee deur Christelike Lektuurfonds, 2017
Resensie deur Frits Gaum


Christelike Lektuurfonds (CLF) is vanjaar 60 jaar oud. In ’n jaar van baie feesvierings – die Kerk­hervorming het 500 jaar gelede plaasgevind, die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria is ’n eeu oud, die gesinstydskrif LiG, die eer­tydse Voorligter, is 80 – mag CLF se 60 jaar nie uit die oog verloor word nie. Hulle het rede om fees te vier!

CLF is 60 jaar gelede gestig om te voldoen aan die behoefte vir literatuur in verskillende tale om gebruik te word in die kerke wat uit die sending van die NG Kerk gebore is. Van der Watt vertel ’n verhaal met uit­son­derlike hoogtepunte, ’n verhaal van idealisme en daadkrag, van die toewyding van mense wat hulle ganse lewe in diens van ’n droom gegee het.

“Die verhaal gaan egter ook oor teleurstellings en, tot beskaming, onderlinge twis en spanning,” skryf hy, en voeg dan by: “Tog gaan dit uiteindelik, soos met enige kerk- of sendinggeskiedenis, oor hoe God met sy kerk, met sy kerk se mense en bedieninge op weg gaan en dan, ondanks die kerk en ten spyte van mense, groot dade verrig”.

In die geskiedenis van CLF is daar etlike mense wat ’n deurslaggewende rol gespeel het om ’n sterk fonds vir Christelike publikasies op te bou: die broers Bernard en Andries Odendaal, Japie Jacobs, Abraham Dekker, Sam Pellissier, Dawid Snyman, Johan Botha, Giep Louw, Japie du Plessis, Piet Meiring, Willem Botha, Gerrit Lotz, en ander.

In die onlangse jare het vroue as uitvoerende amptenare ’n groot bydrae gelewer – eers Christelle Vorster en toe Charmaine Stoffberg. CLF spits hom (of haar?) deesdae veral toe op die publikasie van pamflette, plakkate en boeke.

Terwyl CLF deur die jare bekend geword het vir hulle “traktaatjies”, word met “pam­­flette” doelbewus iets an­ders as die traktaatjies van ouds bedoel. Die pam­flet­te wat gepubliseer word, is visueel, aktueel, informatief en oorredend met as doel om vaardighede en ingesteldhede ten goede te verander.

Onder CLF se boeke, tel amptelike kerklike mate­riaal in verskeie Afrikatale, boeke vir geloofsvor­ming, en veral ook boeke gerig op kinders. In hierdie verband is CLF se reuse-projek, “Een miljoen Bybels vir een miljoen kinders,” van groot belang. Die be­ken­de Kinderbybel, God se kinders: Verhale uit die Bybel, soos vertel deur Desmond Tutu, maak deel van die pro­jek uit, soos ook die reeks Ja! Kleuter.

Van der Watt het ’n besonder eerlike boek geskryf. Vanselfsprekend skryf hy uit ’n bepaalde perspektief; daar is ook ander perspektiewe wat van syne sal verskil. Hy vertel van die prestasies van CLF, maar ook van struwelinge en onmin in die vroeë 2000’s toe ernstig probeer is om al die NG Kerk-verwante media-bedrywighede onder een dak tuis te bring. CLF moes in die proses sy Bloemfonteinse wortels uittrek en Wel­lington toe skuif.

Die on­der een dak-ideaal het egter nie uitge­werk nie, en daar is op die ou end eerder gekies vir goeie samewerking tussen CLF, as afsonderlike organisasie met eie beklemto­nings, en Bybel-Media, wat ’n mediahuis met baie kamers geword het. Die huidige leiers van die NG Kerk se media openbaar groot begrip en waardering vir mekaar se strewes en bydraes, en die samewerking is waarskynlik beter as ooit. Daarvoor kan ’n mens baie dankbaar wees. Hartlik geluk aan CLF vir ses dekades se toewyding en harde werk om die evangelie van Jesus Christus in baie tale uit te dra!

Op die Tussenorde kan Wesland behoorlik begin dans

Die Wesland Verenigende Ring (WVR) se verhaal is nie ’n feëverhaal nie. Dis nie die toonbeeld van ’n moeitelose herenigingsproses met ’n storieboekeinde nie. Wat dit eer­der is, is ’n opregte verhaal van omarming te midde van uitdagings en pyn; opwinding te midde van versigtigheid; van eenheid te midde van diversiteit; en van Goddelike genade te midde van menslike tekortkominge en foute.


In 2003 gebeur die wonderbaarlike: die NG Kerk se Ring van Vredenburg en die Verenigende Gerefor­meer­de Kerk se Ring van Malmesbury verbind hulleself tot kerkeenheid en tot mekaar en vorm die Wesland Verenigende Ring.

Só word hulle een van die eerste ringe in die land om as eenheid te funksioneer.

Hierdie eenheid het gou sy uitdrukking gevind in gesamentlike Pinksterdienste, kanselruilings en visitasies. Beroepe, finansies en konflikhantering is ook gesamentlik hanteer.

Twaalf jaar lank het die ring op hierdie manier saam­gewerk. Hierdie tydperk was vir sommige ’n tyd van euforie, maar in 2015 is die ring gekonfronteer met die komplekse realiteit van kerkhereniging.

Die verhouding tussen die NG Kerk en VGK het in gedrang gekom toe van die NG gemeentes in die WVR nie die voorstel vir die wysiging van Artikel 1, om die Belydenis van Belhar deel van die Kerkorde te maak, goedgekeur het nie.

Dié uitslag het die VGK se gemeentes in die ring só diep geskok en ontstel dat die samewerking tussen die VGK en NG Kerk tydelik tot stilstand gekom het. Ty­dens hierdie tyd is die eenheid van die ring heroorweeg.

In 2016 is daar egter verskeie kere vergader en is daar besluit om, te midde van die seer, wantroue, te­leur­stelling en onsekerheid, steeds as een ring saam te stap.

Sedertdien het die ring weer hulle gesamentlike funksies hervat waaronder ringsbeplanningkommis­sie­vergaderings, ’n gesamentlike ringsitting, kansel­rui­lings en plaaslike kommissiebyeenkomste.

Verder is hulle ook besig om aandag te gee aan ander praktiese punte soos ringsgrense en visitasie.

Op die pad vorentoe, sê ds Chris Stout van VG gemeente Hopefield, sal hulle egter nie tevrede kan wees met ’n blote informele eenheid nie. Dit moet lei tot volledige, formele eenheid. Ds Richard Holloway van die NG gemeente St Helenabaai, mede-voorsitter van die WVR, sê dit beteken dat daar eenheid op grond­vlak bereik moet word.

Ds Kobus van Schalkwyk van die VG gemeente Xhosa Vredenburg is ook besorg dat die eenheid wat die ring tans geniet, nog hoofsaaklik tot die leierskap beperk is en dat daar nog gewerk moet word om eenheid onder lidmate te bevorder.

Tog sê ds Lysander Prins van die VG gemeente Moorreesburg, mede-voorsitter van die WVR, dat die Tussenorde nou baie hegter eenheid moontlik maak.

Die Tussenorde, wat in 2015 deur die Algemene Sinode van die NG Kerk en in 2016 deur die Algemene Sinode van die VGK aanvaar is, bevat die kerk­regtelike reëlings vir die samewerking tussen die ker­ke binne die NG kerkfamilie wat in die proses staan van kerkhereniging.

Ds Thys du Toit van NG Vredenburg, wat ook op die Sinodale Taakspan Regte vir die Wes-Kaapse Si­node dien, is dit eens met ds Prins en beskou die Tus­se­norde as ’n verhoring van gebede.

Hy gebruik die metafoor van kerkhereniging as ’n dans tussen die VGK en NGK om die waarde van die Tussenorde te illustreer.

“Die impak wat die kerkordes op die ring gehad het, kan beskryf word as ’n ongelyke dansbaan vol klippe, stompe en gate. Die dansbaan het gereeld ver­oorsaak dat die ritme gesteur is, selfs van tyd tot tyd gemaak dat die dans gestop is. Die Tussenorde help hier ontsaglik baie deurdat dit ’n gelyke oppervlak voor­sien waarop behoorlik gedans kan word.”

Maar hoe kan die NGK en VGK saam dans in ’n ring waarvan nie al die gemeentes ten gunste van die Be­lydenis van Belhar se insluiting in die belydenisskrifte is nie?

Die oorspronklike vereniging van die ring in 2003 was immers moontlik omrede al die betrokke gemeen­tes op daardie stadium die belydenis onderskryf het.

Juis daarom was dit só ’n skok toe van die NG gemeentes nie die moontlike insluiting van die Belyde­nis van Belhar goedgekeur het nie.

Holloway sê dat die belydenis se waardes van eenheid, versoening en geregtigheid steeds vir die ring belangrik is.

Tog meen hy dat dit nie die belydenis self is wat sentraal tot die ring se verbintenis aan mekaar staan nie, maar eerder sy waardes van eenheid, versoening en geregtigheid. Om hierdie rede is dit moontlik om ten spyte van die besluite van 2015 steeds saam te loop.

“Veral na die breuk na Artikel 1, het ons weer en weer probeer,” vertel Stout. En dit is juis dít wat hom opgewonde maak oor die ring: “Ondanks ons verskille en probleme wat ons van tyd tot tyd ervaar, hou ons mekaar nog vas.”

Om meer te ‘khulumani’

As deel van hul poging om mekaar steeds stywer vas te hou, het die WVR besluit om vir hulle ringsretraite Robbeneiland te besoek.

Afgevaardigdes van die Wesland Verenigende Ring ontdek saam die waarde van saam-wees op Robbeneiland.

Op 17 Augustus 2017 het 11 NGK en 7 VGK predikante van die WVR saamgery na Kaapstad, saam op die boot geklim na Robbeneiland, saam geluister na die verhale van ander, saam geloop op die eiland, saam grappies gemaak en saam geëet.

Dit was ’n dag van saam-wees.

Dit was in daardie saam-wees wat die WVR ’n hupstoot in hulle verhoudings met mekaar ervaar het. Vir ds Lysander Prins was die dag ’n keerpunt in die verhoudinge binne die ring omdat dit die brose verhou­dings help versterk het.

Volgens ds Erik Basson, van die NG gemeente Vredenburg, was hierdie versterking moontlik omdat daar dinge in die oomblikke van saam-wees kon uitkom wat nie noodwendig uit diep teologiese gesprekke kan kom nie.

Want verhoudings, soos ds Willie Greeff van NG gemeente Vredenburg Akkerdyk sê, is nie net iets wat in ons kop gebeur en dus bevorder kan word deur diep teologiese gesprekke nie. Soms is dit nodig om jouself oop te maak vir die persoonlike ervaringe van ander en vir saam-wees-geleenthede.

Ds Cassie Zincke van die VG gemeente Vredenburg stem hiermee saam. Hy meen dat minder moeite dikwels tot geleenthede kan lei wat meer betekenis kan hê. Geleenthede wat ringsverhoudinge versterk, gaan eerder daarom om ’n veilige ruimte te skep waar almal gemaklik kan word met mekaar en waar daar nie druk is om te “perform” nie.

Na afloop van dié dag se gebeure het dit vir die ring weer opnuut duidelik geword dat kerkhereniging nie net op ’n strukturele of funksionele vlak kan plaasvind nie, maar waaraan daar ook op ’n verhoudingsvlak gewerk moet word.

In ’n herderlike brief van die sitting van die WVR skryf die voorsitters van die ring: “Ons het onlangs juis ervaar dat strukture alleen nie eenheid waarborg nie. Eenheid en samewerking moet belyn word met die roeping van die kerk as gestuurde kerk tot uitbreiding van die koninkryk … Om dit te vermag moet die gemeentes van die Ring meer by mekaar uitkom.”

Dít is hoekom dit vir Van Schalkwyk so belangrik is dat daar nog baie oomblikke van khulumani (om met mekaar te gesels en mekaar se hart te hoor) sal wees.

In hierdie khulumani, moet dit moontlik wees om met mekaar eerlik te wees, om gemaklik te praat en om vir mekaar die spasie te gee om foute te maak, sê Zincke.

Ds André Botha van die VG gemeente Darling voel ook dat die verhoudings slegs kan groei as goeie maniere en ordentlike maniere soms opsy gesit word sodat daar eerlik gepraat kan word.

Die ring het ook gevind dat dit nodig is om ’n ruimte te skep waar daar van mekaar verskil kan word sonder vrees vir kleinserigheid of beskuldigings.

Hierdie gesprekke, is die ring dit eens, is nie maklik nie. Maar tog bly die ring tot hierdie gesprekke verbonde as gevolg van hul diepe oortuiging dat kerkher­eniging ten diepste deel van die kerk se roeping is.

“Ons ring se eenheid is ononderhandelbaar,” sê Du Toit. “Nie omdat ons VGK en NGK is nie, maar omdat ons kinders van God is en die Heilige Gees dit in ons hart skryf. Ons is in die proses om te word wat God ons bedoel het om te wees.”

En dit is wat dit is: ’n proses.

By die WVR se gesamentlike ringsitting in September 2017 is daar weer opnuut bevestig dat die ring nie daarop wil aanspraak maak dat sy ’n verenigde ring is nie, maar juis ’n verenigende ring.

In hierdie enkele woord erken die ring met dankbaarheid dat hulle al ’n ver pad gestap het na kerkher­eniging. Juis daarom voel Holloway dat hy tog ’n bie­tjie sou wou spog – nie soseer omdat die WVR vol­­maak is nie, maar omdat die ring, ten spyte van die uitdagings, al so ver kon kom.

Aan die ander kant, bely die woord verenigende dat die eindbestemming nog nie bereik is nie en dat die pad wat voorlê nog besaai is met beide geleenthede en uit­dagings, seëninge en seer.

Dit is om hierdie rede dat Prins met nederigheid verklaar: “Ons is maar net ’n korreltjie sand in die bou­steen van Hoop.”

Dit is in hierdie spanning tussen wat reeds bereik is en dit wat nog bereik moet word, tussen trots en ne­derigheid, tussen omarming en seer, tussen moede­loosheid en hoop, wat die Wesland Verenigende Ring se verhaal homself uitspeel.

Maar wanneer die predikante oor die ring gesels, is daar een konstante: ’n helder “genade alleen!”

Daarom voel ds Kobus de Kock van die NG gemeente Langebaan dat die eenwordingsproses nooit “’n showpiece van prestasie” mag word nie. Die verhaal is immers, soos ds Jakes Barnard, van die NG gemeente Saldanha, dit stel: “’n verhaal van genade en, telkens, die Here se ingrype”.

“Dis ’n gebroke verhaal, vol foute en seerkry,” sluit sy kollega, ds Kotzé Olivier, by hom aan, “maar die geskenk van vergifnis is groter as ons foute. Die liefde wat ons in God en in Christus beleef, inspireer ons telkens om meer te wees as wat ons tans is en hierdie omarmende liefde weer teenoor mekaar te gaan leef.”

Waar en wanneer is kerk?

Ek het twee jaar lank die voorreg gehad om in die ingenieurswêreld te werk, waar jy met ’n wye spektrum van mense te doen kry. Mede-gelowiges, eks-moslems, nie-gelowiges, Afrikaanse, Engelse, Setswana-, Sesotho-, Zoeloe-mense, en selfs ’n buitelander – almal mense soos ek en jy.

Ek het die kerk in die wêreld beleef. Beleef hoe ’n lawaaierige staalfabriek ook ’n gemeente van die Here kan wees. Hoe ’n “makwerekwere”, soos die boorlinge van Suid-Afrika buitelanders noem, ’n eks-moslem, sy geloofsreis met my kon deel. Vir my kon vra om vir hom en saam met hom te bid. En wanneer ek gefrons het, het hy my nader geroep om te hoor wat fout is en of hy vir my kan bid.

Kerk-en-wêreld het een geword! ’n Pa kon sy kommer oor sy kinders uitspreek en by sy dominee-kollega raad vra. Saam kon ons trane afvee oor die afsterwe van ons Setswana-vrag­motorbestuurder. Ons het saam kwaad geword oor Bushi en Clinton se motors wat gesteel is. Soos ’n gemeenskap van ge­lowiges het ons saam met oom Lukas bekommerd op sy kan­ker­uitslae gewag. En was ons saam met hom bly toe sy tel­lings gedaal het.

Paulus skryf in Romeine 12 dat ons nie aan die sondige wêreld gelyk moet word nie. Met die klem op die sondige. Ons bly egter in hierdie stukkende, dog mooi wêreld.

Dikwels maak ons ’n direkte koppeling tussen die “sondig” en die “wêreld” en raak ons bang vir die wêreld. Bang om met mense “kerk” te praat, terwyl ons maklik oor stokperdjies en belangstellings praat.

Wanneer jy egter met mense jou geloofsreis deel, word dit soos die stokperdjies en belangstellings: Mense praat skielik saam: deel hulle vrae, hulle blyd­skap, hulle hartseer en bekommernisse.

In Matteus 28 gee die Here Jesus die opdrag: “Gaan na al die nasies toe, en maak hulle my dissipels.” Ons moet hulle leer, die goeie nuus met hulle deel.

Die wonder van in-die-wêreld wees, is dat die nasies nie meer daar ver is nie. Hulle is in die kantoor of werkswinkel langs jou. Die Here het die nasies na ons toe gebring. Ons het die voorreg om die evangelie met hulle te deel – sommer hier om ons waar die Here ons geplant het. Of dit in ’n raserige fabriek is, ’n kantoor of op die stowwerige landerye – orals het ons die voorreg om die opdrag van die Here uit te leef.

En skielik is werk ook kerk.

Ds Jan Nel is verbonde aan die NG gemeente Tetelestai in Randfontein.

Dankie, Thapelo en Bongani

Dr Hannes Theron van Helderberg-gemeente, Somerset-Wes, skryf:

Op ’n vlug tussen Kaapstad en Gauteng beland ek tussen twee jongmans: Thapelo, ’n 20-jarige, links van my, en Bongani, ’n 30-jarige, aan my regterkant. Toe die vliegtuig net so wil begin beweeg, sê Thapelo baie benoud: “Ek het so ’n hol kol op my maag; ek voel naar; dit is die eerste keer dat ek vlieg; ek is bang.

Ek probeer hom kalmeer en vertel wat die doel van die papiersakkie voor hom is. Bongani, wat lid is van die Springbok-vrouerugbyspan se afrigtingspan en baie vlieg, help ook kalmeer.

Ek en Bongani het mekaar eers leer ken en Bongani sê vir Thapelo: “Jy is so gelukkig om langs ’n dominee te sit; hy sal jou help om kalm te bly.” So begin ons drie kuier, onder andere om vir Thapelo kalm te hou.

Thapelo vertel ons sy storie: hoe daar probleme was met sy geboorte en sy familie vir hom gebid het. Daarom is hy Thapelo gedoop; dit is die Sotho-woord vir “gebed”. Hy het grootgeword in ’n plakkerskamp in Johannesburg by sy ouma wat ’n sjebien en bordeel vir oorlewing bedryf het.

Vier jaar gelede ontmoet hy ’n meisie wat uit ’n Christelike huis kom, haar familie ontferm hulle oor hom en hy ontdek die vreugde daarvan om kind van die Here te wees. Ons gesels lekker saam oor God, sy genade en sy wil vir ons lewe.

Hierdie 20-jarige jongman begin met my gesels oor geloofsonderskeiding en roeping. Sy droom is om te skryf en te “rap”.  Hy wil so graag ’n verskil onder die jongmense maak deur sy skryfwerk en rap-musiek. Ons gesels lekker saam oor jazz, blues en klassieke musiek.

Ons wou nog gesels oor Bongani se storie toe land die vliegtuig. Bongani is ’n toonbeeld van liefde, vriendelikheid en hulpvaardigheid. Hy is ’n afgestudeerde student in sportwetenskap aan Kovsies. Toe die vliegtuig land, sluit die mense om ons aan by ons gesprek.

 Ek het vandag die gesig van Jesus op die vliegtuig beleef. Ek het met soveel hoop afgeklim en opnuut besef hoe belangrik dit is om juis in dié tyd met mekaar oor grense heen kontak te maak en net te luister. Thapelo en Bongani kon my seuns gewees het en ek het vandag so baie van hulle twee geleer en ontdek van wie God is. “Thapelo en Bongani – julle was nie gelukkig om langs ’n dominee te kon sit nie; die dominee was bevoorreg om vandag tussen julle twee jongmans te kon sit. Dit was so spesiaal”.

 Ek dank God om juis in dié deel van God se koninkryk hier in Suid-Afrika te kan wees.

’n Oomblik van waarheid

Die kerk is die plek waar verwarde gewetens (perplexis conscientiis) ontvang en vertroos word, en “my rol” – skryf Martin Luther – “is om arme, verwarde gewetens te vertroos”. Dit is juis hierdie oortuiging wat Luther telkens sou dring om homself ondubbelsinnig te posisioneer binne die de­batte van sy dag; binne oomblikke van waarheid.

“Gewete” was vir Martin Luther belangrik, en hy sou hom telkens op sy eie gewete beroep. Die mees bekende voorbeeld is waarskynlik sy toespraak voor Prins Frederick III by die Ryksdag van Worms (1521), waar hy gekonfronteer is met die klag van leerdwaling. Hierop antwoord Luther dat sy gewete hom bind aan die Woord van God. Hy weier om sy standpunte te herroep omdat dit ongeoorloof en verkeerd – teenoor God en sy gewete – sou wees om dit te doen.

Dit is ’n aangrypende oomblik, juis omdat Luther se “nee” aan die pous sowel as die keiser verreikende rimpelingsgevolge sou hê; gevolge wat ook binne die Gereformeerde tradisie sou uitkring. Gereformeerde kerke is immers soekende kerke wat binne die woelinge van die geskiedenis, binne oomblikke, die drie-enige God bely.

In ’n Oomblik van waarheid (1984) word so ’n oom­blik beskryf as ’n beslissende en gewigtige oom­blik; ’n oomblik waarin die evangelie self op die spel is. So ’n oomblik is anders as ander oomblikke, want dit vereis die vermoë om die erns van die oomblik te begryp. Dit is ’n uur van beslissing, sou Willie Jonker sê, waarin die kerk voor ’n keuse gestel word; ’n oomblik wat roep om belydenis, die verwoording van geloofs­waarheid.

Hierdie waarheid is egter nie ’n waarheid wat ons probeer uitvang nie. Dit is ’n waarheid wat ons bevry. In Bevrydende waarheid (1993) skryf Willie Jonker dat die evangelie ons troos en bevry omdat dit die evangelie van God se genade is.

Verder is daar ook géén kompetisie tussen geloofs­waarhede nie. ’n Oomblik van waarheid kan slegs deur hierdie één waarheid gedra word. Daar is geen ander geloofswaarheid wat ons gewete kan vertroos as heils­waarheid nie.

Tog is dit weliswaar in die naam van “die waarheid” wat kerke en gelowiges sou dwaal; dat leerdwalings en afdwalings teologies regverdig sou word; dat hierdie waarheid verbuig sou (kon) word om die trooswoord van God se genade te vertroebel.

Daarom bely ons dat ons slégs onder leiding van Woord en Gees – en saam met al die heiliges – die rykdom van die waarheid van ons verlossing kan begryp, want ’n oomblik van waarheid is niks minder nie as die Heilige Gees se aanraking van die kerk in ’n uur van beslissing.

As mense van die Mensgeworde Woord word die kerk geroep om te getuig aangaande God se bevrydende waarheid. Dit gaan om ’n belydenis van dié Woord, van Christus Self, wat ons versamel, versorg, en vertroos. Ons is immers die ontvangers van hierdie heilswaarheid. 

Maar dit gaan ook om óns woord; om ons te hou by ons woord, om ons woorde te tel, om daad by woord te voeg – want oomblikke van waarheid ontmasker óók ons diepste vooroordele en inkonse­kwenthede.

Dit beteken dat ons nie “ja” kan sê vir selfdege­slag­verhoudings by een sinodesitting, net om daarna weer ons eie “ja” deur ’n regstegniese interpretasie om te keer na ’n “nee” nie.

Dit beteken dat ons nie “ja” kan sê vir die Belydenis van Belhar by een sinodesitting, en daarna weer ons eie “ja” deur ’n demokratiese stemproses omkeer na ’n “nee” nie.

Dit beteken dat ons “ja” vir vroue in die bediening niks beteken as ons nie vrouepredikante beroep en afvaardig na kerklike vergaderings nie.

Vroeër vanjaar sou Najla Kassab, die nuutverkose president van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke, haar preek in die Kasteelkerk in Wittenberg begin deur te sê: “Hier staan ek …” Dit was ’n gewigtige oomblik om juis hiérdie vrou – ’n vrouepredikant van die Gereformeerde kerk in Libanon en Sirië – in juis hiérdie tyd – te midde van die oorlog in Sirië en die vlugtelingkrisis in Europa – op hiérdie preek­stoel hiérdie woorde te hoor sê: “Here I stand, a Middle Eastern woman in the pulpit of Luther; if just Luther imagined that, this could have been his 96th question to the church – not why is there a woman in this pulpit, but why did it take this long?”

’n Oomblik van waarheid toets ons aan ons eie diep­ste oortuigings; verál waar dit gaan om “verwarde gewetes”. Die kerk is immers ’n waarheidsoekende gemeenskap; ’n gemeenskap wat lééf binne oomblikke van waarheid; ’n gemeenskap wat bevrydende waarheid bely.

Laat ons “ja”, “ja” wees, en ons “nee”, “nee” (Matt 5:37).

Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Geweld

Hoe behoort gelowiges te reageer op geweld om hulle: geweld op plase teen boere en werkers; geweld in stede deur bendes en ander booswigte; geweld teen vroue en kinders; geweld in al sy vorms teen al sy slagoffers?

Die ou kerkvaders het ’n spreuk in Latyn gehad: “Ora et labora”, oftewel: “Bid en werk.”

Dit is belangrik dat gelowiges tot die lewende God bid om in te gryp. Baie mense getuig vandag nog hoe hulle met Suid-Afrika se politieke oorgang in die vroeë 1990’s gebid het dat God sal keer dat die land oor ’n afgrond stort – en dat hulle dit as ’n antwoord op gebed beleef het dat die oorgang vreedsaam verloop het.

So is dit ook nou tyd om te bid.

Maar wat doen ons as ons klaar gebid het?

Dis belangrik dat ons nie op die geweld reageer deur soos die geweldenaars te word nie: vol haat en woede – al is die versoeking daartoe ook hoe groot.

Dit is belangrik om in sulke tye juis te hou by die instrumente wat Jesus vir ons, sy volgelinge, kom gee het: liefde, diens, genesing – en ’n weerstand teen onreg.

Jesus het die tafels omgekeer van die geldwisselaars wat die armes uitgebuit het. Ons moet ook kreatiewe maniere van protes teen die onreg vind.

Maar ons moet ook die alternatief op daardie onreg uitleef: deur verhoudings te bou, deur projekte wat armoede teëwerk, deur gebroke gemeenskappe te help heel word, deur hande te vat oor grense heen.

In heel konkrete terme gaan dit onder meer oor gro­ter eenheid tussen kerke. Dit gaan ook daaroor dat gelowiges in gemeenteverband én in hulle daaglikse lewe, by die werk en waar hulle ontspan, so leef dat dit nie die gemeenskap verder polariseer nie, maar dat dit begrip en waardering vir mekaar bevorder.

NGK, Lutherane en Katolieke vier Reformasie saam

Op 31 Oktober, op die herdenking van die begin van die Reformasie 500 jaar gelede, het verteenwoordigers van die NG Kerk, Katolieke en ander denominasies saam ’n erediens gehou om, teen die agtergrond van die gebeure van vyf eeue gelede, uitdrukking te gee aan die eenheid wat tog steeds bestaan.

Agter dié gebeure lê ’n lang aanloop. Dit sluit die herontdekking van die Trinitariese teologie in die werk van die Protestantse teoloog Karl Barth en die Katolieke teoloog Karl Rahner in. Vir Katolieke het dit byvoorbeeld die deur geopen om te begin praat oor die soeke na eenheid met ander Christene.

Hans Küng, bekende Katolieke teoloog, het voor­gestel dat hierdie eenheid gesoek moet word deur die innerlike vernuwing van die Katolieke Kerk. Dit sou insluit dat die geregverdigde punte van kritiek van die kant van die Protestantisme ernstig opgeneem moet word. Daar was ’n groeiende besef by Katolieke teoloë dat daar in die kerk self reformasie tot stand moet kom as eenheid van alle Christene ’n prioriteit vir die Katolieke Kerk is.

’n Logiese gevolg van hierdie gesprek was die ondertekening deur Katolieke en Lutherane van die Joint Declaration on the Doctrine of Justice (JDDJ) in 1999. Hierdie dokument, waarin die dispuut oor die regverdigingsleer uit die weg geruim word, is ook in 2006 deur die Metodiste onderteken en op 5 Julie 2017 deur die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Ker­ke (WGGK).

Plaaslik het die NG Kerk se gesprek met die Katolieke reeds onder leiding van prof Johan Heyns begin. Die gespreksgroep vergader steeds jaarliks. Kennis word geneem van teologiese verskille maar punte van ooreenstemming kry meer aandag. Daar is ’n wedersydse waardering tussen die twee kerke vir mekaar.

Daarby het die Church Unity Commission (CUC) ook oor jare groter samewerking tussen veral Engelse hoofstroomkerke bevorder.

Binne die CUC is ’n gespreksgroep wat fokus op die implikasies van die JDDJ. Die NG Kerk is deel van die JDDJ-gespreksgroep en het voorgestel dat ’n gesament­like Reformasieviering iets van kerklike eenheid moet vergestalt. ’n Geleentheid is deur verteenwoordigers van die NG Kerk, Lutherane en Katolieke gereël vir 31 Oktober en al die lede van die CUC is genooi.

Sowat 45 kerkleiers, onder wie lede van die NG Kerk en die VGK, het die geleentheid bygewoon. ’n Liturgie is gevolg wat elemente van die JDDJ en die Wittenbergse deklarasie bevat het. Belydenis is gedoen oor die verskeurdheid van die kerk. Elke denominasie het sy posisie ten opsigte van die JDDJ verklaar en ’n verbintenis gemaak tot groter kerkeenheid. Van groot betekenis was die feit dat die Katolieke nie net deel was van die verrigtinge nie maar dat hulle as gasheer almal by hul fasiliteit, Padre Pio ontvang het.

Met die Lutherane word daar oor die afgelope paar jare baie heg saamgewerk. Die Lutherane maak byvoorbeeld van NG emeriti in kontrakposte gebruik en lei hulle teologiese studente by Stellenbosch op. Op verskeie ekumeniese forums word gesamentlike bydraes gemaak. Die moontlikheid van groter samewer­king word eersdaags met hulle leierskap bespreek en kan moontlik in ’n ooreenkoms van samewerking kon­kreet gestalte vind.

Amptelike nuus, 17 November 2017

Stuur Amptelike Nuus na Lida Viljoen by lida@tydskrifte.co.za

NG KERK

BEROEPE NA NG KERK-­GEMEENTES

BEROEP – Ds Jac Johannes Pienaar van Taaibos­spruit na Potchefstroom-Wes.
AANVAAR – Ds Izak du Toit van Elspark na Delmas.

WES-KAAPLAND

Bevestiging

Ds Francois Cilliers is op 18 September 2017 na NG Plettenbergbaai beroep en hy het die beroep aanvaar. Sy intreepreek was op 5 November 2017. (Francois Cilliers, 27.10.2017).

NG GEMEENTE SENEKAL

Vakature: Leraar – vastetermyn (Drie jaar-kontrak)
Sluitingsdatum: Vrydag, 15 Desember 2017.

Gemeenteprofiel:

Senekal is ’n plattelandse dorp, 175 km noordoos van Bloemfontein. Daar is ongeveer 358 belydende en 85 dooplidmate. Die dorp beskik oor ’n goeie hoër- en laerskool, ’n aftreeoord, ’n ENGO-kantoor en ’n bejaardesorg-tehuis.

Leraarsprofiel:

  • Bedieningsgeleenthede volgens Artikel 9 van die Kerkorde.
  • Liefdevolle en minsame persoon met ’n passievolle uitlewing van sy/haar roeping.
  • Gemeentelike ervaring en wat met oorgawe huisbesoek sal doen.
  • Skrifgetroue en aktuele Woordverkondiging met entoesiasme.
  • ’n Spanbouer wat gemaklik klein en groot groepe kan lei tot die opbou van die gemeente as ’n hegte eenheid met ’n gevoel van samehorigheid.
  • Saam met sy/haar huisgesin betrokke wees binne en buite die gemeente.
  • Beskik oor eie vervoer wat ook op plaaspaaie gebruik kan word.

Vergoeding en voordele: Onderhandelbaar.

Huisvesting: Pastorie met munisipale dienste, landlyn- en selfoontoelae.

Aansoeke: U aansoek moet ’n volledige CV en minstens ses verwysings, asook kontak­nommers insluit. Stuur asseblief per e-pos aan die NG gemeente Senekal by ngsenekal@telkomsa.net – bevestig ook ontvangs van u aansoek met die skriba van die kerkkantoor. Aansoekers wat die kortlys haal, sal genooi word vir ’n onderhoud en moontlik ’n preekgeleentheid. Indien u getroud is sal u gade welkom wees om die onderhoud by te woon.

Sluitingsdatum vir aansoeke: Vrydag, 15 Desember 2017.

Navrae: Mnr Phillip Fourie (kerkraadsvoorsitter) op 083 465 1311, of die kerkkantoor op 058 481 2701 (k/u Ma-Vr 09:00 – 13:00).

NG GEMEENTE HEUWELSIG, BLOEMFONTEIN

Vakature: Medeleraar (Voltyds – onbepaaldepos)
Sluitingsdatum: 15 Desember 2017.

Die kerkraad nooi gelegitimeerdes met volle ampsbevoegdheid binne die NG Kerk om aansoek vir bogenoemde vakature te doen.

1. Gemeenteprofiel

  • Die visie van die gemeente is: “Lewe tot eer van Christus die Heer!”
  • Die voornemende aansoeker moet kennis neem dat die kerkraad van die gemeente die Belydenis van Belhar aanvaar het en die Algemene Sinode se besluit van 2015 oor selfdegeslagverhoudings onderskryf.
  • Ons het 1 665 belydende en 484 dooplidmate.
  • Die bedieninge vind deur bedieningsgroepe plaas, wat fokus op die jeug, families, seniors, uitreik, getuienis en kleingroepe.
  • Hier is twee voltydse leraars en een gekoppelde leraar.
  • ’n Kantoor waaruit die leraars funksioneer, word by die kerkkantoor voorsien.

2. Leraarsprofiel:

A. Verantwoordelikhede soos uiteengesit in Artikel 9 van die Kerkorde.

B. Verantwoordelikhede rakende jeug en gesinne.

Die leraar sal saam met gewone gemeentelike bediening ook vir die familie- en jeugbedieningsgroep verantwoordelik wees. Dit behels onder andere die verdere uitbou van die familie- en jeugbedieningsgroep in die gemeente wat insluit laerskoolbediening, tienerbediening en bediening aan naskoolse jongmense. Vorige ondervinding in jeug- en familiebediening sal as ’n aanbeveling dien.

Die betrokke kandidaat moet oor die volgende vaardighede en karaktereienskappe beskik:

  • Reeds 4-8 jaar ervaring as gevestigde predikant hê.
  • Interpersoonlike vaardighede met inagneming van die uiteenlopende ouderdomsprofiele in die gemeente, met die fokus op jongmense.
  • Dinamies om met die veranderende behoeftes en uitdagings van die gemeente tred te hou.
  • Missionaal gerig.
  • Deursettingsvermoë.
  • Vaardig in die gebruik van tegnologiese hulpmiddels wees.
  • Aanpasbare bedieningsmetodiek vir tradisionele, sowel as alternatiewe dienste.
  • Passievol, energiek, inspirerend, verbeeldingryk, innoverend en kreatief.

3. Aansoekprosedure:

Belangstellendes stuur ’n beknopte CV (2-4 A4’s) met kontakbesonderhede van drie referente aan die kerkkantoor. Sluitingsdatum is 15 Desember 2017. Kandidate moet tot ’n onderhoud en ’n preekbeurt bereid wees, indien so versoek word. Aansoeke moet aan die administratiewe beampte, Anmar Potgieter, by admin@ngkerkheuwelsig.co.za­ gestuur word.

4. Vergoeding:

Volgens die riglyne van die Algemene Sinode van die NG Kerk soos aanbeveel in die skrywe van die saakgelastigde van die NG Kerk in SA. Behuising sal met die geskikte kandidaat onderhandel word.

5. Diensaanvaarding: Nie later as 1 Mei 2018 nie.

6. Provisio:

Die kerkraad behou die reg voor om, sonder opgaaf van redes, nie ’n aanstelling/beroep uit die aansoekers uit te bring nie.

7. Navrae:

Die kerkkantoor: 051 436 1967, admin@ngkerkheuwelsig.co.za

NG GEMEENTE MURRAYSBURG

Vakature: Leraar
Sluitingsdatum: 7 Desember 2017.

In biddende afhanklikheid nooi die NG gemeente Murraysburg leraars en proponente om aansoek te doen vir hierdie vakante leraarspos.

GEMEENTEPROFIEL: Murraysburg is ’n kleiner plattelandse dorp in die Karoo, onge­veer 90 km noordwes van Graaff-Reinet, waar hoofsaaklik skaap-, Angorabok- en bees­boer­dery bedryf word. Die gemeente bestaan uit 179 belydende en 33 dooplidmate wat in twee dorpswyke en vier plaaswyke ingedeel is. Ons dorp bied ’n mooi omgewing, gesonde vars lug, ’n aktiewe gemeenskap en voorsien in die noodsaaklike behoeftes en infrastruktuur. Tal­le jonger mense het hulleself in die laaste paar jaar in die gemeente gevestig.

LERAARSPROFIEL:

• ’n Jong leraar of gelegitimeerde proponent in die NG Kerk.

• Normale pligte soos in die Kerkorde Art 9 uiteengesit.

• Meelewing met aktiwiteite van die gemeenskap.

• Gemaklik wees met lidmate van alle ouderdomme.

• Samewerking met en dienslewering aan plaaslike VGK-gemeente, asook goeie ekumeniese betrekkinge met die Engelssprekende gemeenskap.

• Administratiewe vaardighede sal ’n aanbeveling wees.

POSBESKRYWING:

• Hierdie pos is vir ’n twee jaar-termyn.

• Indien dit tot die voordeel van die gemeente en leraar strek, en binne die vermoë van die gemeente is, kan die termyn deur die kerkraad as verteenwoordigers van die gemeente, verleng word.

VERGOEDING:

• Sal onderhandel word binne sinodale skale.

• ’n Ruim pastorie word voorsien.

AANSOEKE:

• Stuur ’n kort aansoek met CV (totaal 3-4 bladsye).

• Kontakbesonderhede van drie verwysings.

• Kandidate mag vir ’n onderhoud en preekbeurt genooi word.

Rig aansoeke aan: Die Kerkraad, e-pos: ngmurraysburg@gmail.com

SLUITINGSDATUM VIR AANSOEKE: 7 Desember 2017.

Navrae: Kotie van den Berg (ouderling) 049 853 9921
Izak van der Merwe (ouderling) 049 844 9622 (082 579 9031)
Ben van Tonder (konsulent) 049 891 0093 (082 378 0613).

NG GEMEENTE ELARDUSPARK

Vakature – voltydse pastorale leraarspos
Sluitingsdatum: 31 Januarie 2018.

GEMEENTEPROFIEL

Elarduspark is ’n makrogemeente in die ooste van Pretoria wat tans deur vyf voltydse leraars, elk met ’n eie spesialisasieterrein, bedien word. Die gemeente beskik ook oor ’n CMR-kantoor wat deur twee maatskaplike werkers en ’n administratiewe beampte bedryf word.

VERGOEDING

Volgens sinodale riglyne waarby ingereken ’n huissubsidie.

DIENSAANVAARDING: 1 April 2018.

AMPSPLIGTE

Die hantering van die pastorale spreekkamer, bestuur van die CMR-kantoor en aan-verwante projekte onder die missionêre en liefdesdiensbediening van die gemeente en prediking.

LERAARSPROFIEL

  • Gelegitimeerde predikante van die NG Kerk met ’n verdere kwalifikasie in pastoraat.
  • Lief om met mense om te gaan en bewese ervaring in pastorale versorging.
  • ’n Volle spanspeler en dinamiese leierskap.
  • Aanbieding van verskeie verhoudingskursusse.
  • Bestuursvaardigheid soos nodig in ’n makrogemeente.
  • ’n Goeie en gemaklike prediker wat die Skrif aktueel binne die lewenswêreld van die stedelike lidmaat kan vertolk.

BELANGSTELLENDES WORD VERSOEK OM OP DIE VOLGENDE TE LET:

  • Aansoeke moet aan kerkkantoor@ngelarduspark.org.za gestuur word waarna vollediger inligting aan belangstellendes gestuur sal word.
  • Aansoekers wat die kortlys haal moet beskikbaar wees vir ’n onderhoud 12-15 Februarie 2018.
  • Die kerkraad hou die reg voor om nie die vakature te vul indien daar nie ’n geskikte kandidaat gevind word nie.

SLUITINGSDATUM: 31 Januarie 2018.

NAVRAE

Ds Leon Westhof (leonwesthof@ngelarduspark.org.za) of 012 345 1144.

NG GEMEENTE NEWTONPARK, PORT ELIZABETH

Vakature: Bedienaar van die Woord (Onbepaalde termyn)
Sluitingsdatum: 19 Januarie 2018.

Gemeenteprofiel

Die NG Kerk Newtonpark is in ’n dinamiese voorstad geleë, omring van verskeie laer- en hoërskole, hospitale en winkelsentrums. Die gemeente bestaan uit sowat 340 belydende en 35 dooplidmate.
Die gemeente het oor die afgelope paar jaar verouder, maar het goeie potensiaal. Danksy brugbediening het die opbou van die gemeente suksesvol begin. Die groeimoontlikhede moet verder ontsluit word.

Leraarsprofiel

Die leraar moet die gemeente begelei in ’n lewende verhouding met Jesus Christus, ons Verlosser en Here. Inspirasie en opbou deur die Woord tot liefde, diens en uitreik is vir ons belangrik.
Ons soek ’n goeie luisteraar met ’n fasiliterende styl van leierskap wat lidmate mobiliseer, bemagtig en verenig om hul gawes in die bedieninge van die gemeente uit te leef.Spanwerk, goeie verhoudinge en persoonlike kontak met ouer en jonger persone is ’n vereiste.
Ons hart is oop vir kinders, jongmense en hulle ouers. Die nuwe leraar moet help om meer jongmense by ons te verwelkom. Die kleuterskole en skole in ons omgewing is natuurlike vennote, en ’n bedieningsfokus vir die gemeente.
Netwerkvorming met rolspelers in die gemeenskap is ’n prioriteit.

Opdrag

Artikel 9 van die Kerkorde, soos ooreengekom met die kerkraad.

Vergoeding

Die vergoedingspakket word op kerf 1 van die Oos-Kaapse sinodale riglyne vasgestel.
’n Pastorie (gratis inwoning) word aangebied.

Aansoeke

Vraelys: Voltooi asb die vraelys wat aanlyn beskikbaar is by http://ngkok.co.za/gemeentes/newtonpark.doc.
Stuur u CV, nie langer as drie A4-bladsye nie, tesame met die voltooide vraelys, aan newtonpark@ngkok.co.za OF lewer persoonlik af in verseëlde koevert gemerk “Leraarspos Newtonpark” by Die Bybelhuis, Cotswoldlaan 31, Cotswold, PE 6045.

Sluitingsdatum: 19 Januarie 2018.

Navrae: Rig navrae aan:

1. Brugpredikant: Ds Gerald Ehlers, sel: 082 226 8066
2. Ouderling André van Heerden, sel: 072 376 8310
3. Skriba: Me Heleen Schutte, 041 365 2169

Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling uit die aansoekers te maak nie.

NG GEMEENTE KENHARDT

Vakature: Tentmakerpos
Sluitingdatum: 8 Januarie 2018.

GEMEENTE:

Ons is ’n plattelandse gemeente in die Boesmanland, suid van die Oranjerivier, met 180 belydende en 33 dooplidmate. Hoofsaaklik veeboerdery. Ons leef na aan mekaar en is nou gemoeid in ons gemeenskap.

PREDIKANT:

Ons bid vir ’n leraar wat sal aard in die platteland en bereid sal wees om ons gemeente te begelei deur inspirerende eredienste, ’n pastorale aanvoeling en die vermoë om oud en jonk te inspireer om die Here se getuies in ons omgewing te wees. Hy/sy moet goeie gesondheid geniet.

DIE POS:

Dit is ’n tentmakerspos, 70% van ’n gewone leraarspos. Die kerkraad voorsien ’n doelmatige pastorie, wat op versoek gemeubileer kan word en landlyn vir amptelike gebruik. Die TKVI is R290 581, alle toelaes ingesluit.
Diensaanvaarding is 1 April 2018 of soos onderling ooreengekom.

AANSOEKE:

Aansoeke, vergesel van ’n CV van hoogstens drie bladsye en die kontaknommers van drie referente, moet ons voor 8 Januarie 2018 bereik.
E-pos: ngkenhardt@gmail.com of per pos aan: Die Skriba, Posbus 20, Kenhardt 8900.

NAVRAE:

Voorsitter Beroepingskommissie: Willie Blomerus – carolblomerus@gmail.com, 083 941 2474.
Leierdiaken: Louis Booysen – voorryboerdery@gmail.com, 083 259 5226.
Brugleraar: Ds Barend Piek – piek.barend@gmail.com, 054 651 0030, 072 185 4297.

Die kerkraad van Kenhardt behou die reg voor om nie ’n aanstelling te maak nie.