Marius Nel

Die koninkryk gaan oor mense en die aarde

Daar bestaan by Nuwe-Testamentici min twyfel daaroor dat die verkondiging van die koninkryk van God ’n wesenlike element van sowel Jesus as die vroeë kerk se verkondiging was.

Daar bestaan egter nie ’n soortgelyke konsensus oor wat presies met dié frase bedoel word nie. Dui dit op ’n fisiese koninkryk soos dié van Dawid wat in ’n spesifieke land of tydvak gelokaliseer kan word? Of is dit eerder ’n innerlike ingesteldheid wat die opperge­sag van God erken sonder dat dit konkreet vorm aanneem in ’n bepaalde plek of instelling?

Dit is moeilik om die vrae klinkklaar te beantwoord. Jesus self praat naamlik op ’n kriptiese en beeld­ryke manier oor die koninkryk van God sonder om die detail daarvan uiteen te sit.

Die presiese uitdrukking “die koninkryk van God” kom ook nie in die Ou Testament voor nie. Die naaste formulering daarin is in 1 Kronieke 28:5 wat van “die koningskap van die Here” praat.

Ondanks die afwesigheid van die presiese term “koninkryk van God” in die Ou Testament verwoord dit volgens Karl Kuhn egter spesifiek Israel se wêreldbeeld en is dit daarom nodig om laasgenoemde te verstaan ten einde Jesus se verwysing na die koninkryk van God te kan begryp.

Volgens Israel se wêreldbeeld is God die koning van Israel asook die heerser oor die ganse heelal. Die belydenis van God se heerskappy oor alles word helder verwoord in Psalms 93, 95 – 99.

Ten tye van die Nuwe Testament was nóg die toestand van die skepping nóg die posisie van Israel egter in lyn met God se wil. So beskryf Genesis 1–11 die ver­val van die skepping terwyl die herhalende patroon van die ongehoorsaamheid van Israel in die narratie­we gedeeltes vertel word. Nie eens die ballingskappe van Israel en Juda kon die patroon deurbreek nie.

Ondanks die toedrag van sake het daar ’n groeiende hoop in Israel se profetiese tradisie (vgl Jer 31:1-14) posgevat dat God self sou ingryp om sowel die skepping as Israel met sy wil te belyn. Volgens Esegiël 36:33-38 sou Israel in ’n Eden omskep word en die volk self in mense met ’n nuwe hart en gees (Eseg 36:25-30). As dit sou gebeur sou die koninkryk van God aanbreek.

Dit is dan ook die hoop wat Jesus in sy woorde en dade aanspreek. Om in die boodskap van Jesus te glo vereis daarom van die kerk om op sowel die vernuwing van mense as die aarde te fokus.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

‘Die koninkryk van God het naby gekom’

In die Evangelie volgens Matteus is die eerste verkondiging van Johannes die Doper (3:2), Jesus (4:17) en die dissipels (10:6) telkens dieselfde: Men­se moet hulleself bekeer want “die koninkryk van God het naby gekom”.

Soos in die ander Evangelies is die uitdrukkings “koninkryk van God” (3 keer), en die wisselvorm “ko­ninkryk van die hemele” wat Matteus meer dikwels ge­bruik (34 keer), van sleutelbelang vir Matteus.

Só gebruik hy verwysings na Jesus se verkondiging van die goeie nuus oor die koninkryk in 4:23 en 9:35 om sy versamelings van Jesus se woorde (Matteus 5 – 7) en dade (Matteus 8 – 9) aan mekaar te verbind. Al­les wat Jesus gesê en gedoen het staan dus vir Matteus in verband met die koninkryk van God.

Presies wat Jesus met die uitdrukking “koninkryk van God/die hemele” bedoel het, is egter onseker. Alhoewel die gedagte van God se heerskappy wel in die Ou Testament voorkom, kom die vaste uitdrukking “koninkryk van God” nie daarin voor nie. Dit wil ook voorkom asof Jesus se hoorders dit meestal nie korrek verstaan het nie.

Talle van Jesus se gelykenisse het byvoorbeeld ten doel om te verhelder wat Hy daarmee bedoel het (bv 18:23-35). Die korrekte reaksie op die koms van die koninkryk van God was belangrik, want nie almal wat Jesus aangeroep het as Here sou outomaties toegang daartoe verkry nie (7:21). Verder het die verkondiging daarvan ’n heftige teenreaksie van die Satan en sy koninkryk ontlok (12:26).

Om as Christen te lewe vra daarom dat gelowiges duidelikheid verkry oor die aard en die spelreëls van Jesus se koninkryk.

Belangrike vrae wat beantwoord moet word, is of God se koninkryk teenwoordig of toekomstig is, of dit net na God se heerskappy verwys en of dit ook ’n gebied in die hede veronderstel waaroor God regeer en wat die verhouding tussen die kerk en die koninkryk van God is.

Wat duidelik is, is dat Jesus se koninkryk ’n vreemde stel waardes veronderstel het wat dié van die wêreld op hulle kop gekeer het. So was die belangrikste mense in God se koninkryk diegene wat bereid was om hulleself soos kinders te verneder (8:1-4) en is die vernames of eerstes, laaste daarin (20:1-16).

Dit is dan ook dié vreemde waardes van die koninkryk van God wat ons in die volgende paar rubrieke gaan verken.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.