Neels Jackson

Neels Jackson was voorheen godsdiensjoernalis van Beeld. Sedert 2014 is hy redakteur van Kerkbode.

‘Om te gee is regtig lekkerder as om te ontvang’

Die bedrywigheid rondom die NG gemeente Villieria se kerkgebou is dié van enige lekker kerkbasaar.

Daar is ’n tou by die pannekoektafel en mense kuier oor koek by die teetuin. By die worsbroodjiestalletjie sukkel die braaiers om voor te bly. Langsaan is daar kerrie en rys. Daar is hoeveel potjies aan die prut vir middagete. Saam met die witolifanttafel in die saal is daar tafels vol klere. Om die draai is die tweedehandse boeke.

Kinders se gesigte word geverf, hulle baljaar op die springkasteel en gril in die spookhuis.

Die een groot verskil met ’n gewone kermis is dat geen geld hier hande verwissel nie. Op Villieria se gee-basaar is alles verniet. Jesus het mos gesê: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Tafels vol klere by die gee-basaar. Daar sou selfs meer klere gewees het as die gemeente nie onlangs ’n klomp klere Knysna toe gestuur het nie.

Ds Derick du Toit gaan haal die verhaal in 2008 toe die gemeente ’n veertig-dae-oor-liefde gehou het. Dis toe dat die gedagte aan die gee-basaar ontstaan het – as ’n manier om die liefde prakties uit te leef. “Ons kan nie net praat nie, ons moet doen,” het Derick, sy kolle­ga, ds Rehan Rheeder, en van die lidmate vir mekaar gesê.

Sedertdien hou Villieria elke drie jaar ’n gee-basaar. Onlangs was dit hulle vierde een. En by só ’n basaar is almal welkom. Daar word uitnodigings gestuur na instansies soos kinderhuise en ouetehuise en skuilings vir armes. Lidmate nooi hulle huishulpe. Die gemeente adverteer nie die basaar nie, maar die woord versprei.

By die basaar herken De­rick ’n boemelaar wat langs die spruit bly wat deur die buurt vloei. Hy is ook wel­kom. Waar Echo se potte ge­stook word, word ’n bedelaar beduie waar hy kan gaan klere haal, en gesê dat die potjiekos teen 12:00 gereed sal wees. In dié konserwatie­we omgewing in Pretoria se Moot is die bonte mengelmoes van mense by die gee-basaar opsigself iets om jou oor te verwonder.

John Holland-Muter en Letitia Nel agter die koektafel help besoekers aan die gee-basaar.

Elke omgee- of ander groep wat ’n potjie vir midd­ag­­ete maak, maak vir dubbel soveel mense kos as wat hul­le self is. As daar 10 mense in die groep is, maak hul­le vir 20 kos. En as daar kos oor is, word dit gegee aan instansies waar daar nood is.

Die gee-basaar, vertel Derick, het hulle gemeente se kultuur verander. Mense het begin verstaan wat dit beteken om te gee sonder om iets terug te verwag.

Daar het nuwe mense by die gemeente begin aan­sluit. Hulle het gesien hierdie is nie ’n kerk wat net op sy eie behoeftes gerig is nie. Dis nie ’n kerk wie se prio­riteit die instandhouding van sy gebou is nie. Dis ’n kerk wat vir die gemeenskap om hom ’n baken van hoop geword het.

Selfs hulle vergaderings is anders, sê Derick, want hulle kultuur het verander.

Vroeër is die gemeente se visie geformuleer as: “’n Hand van liefde en hoop.” Nou sê hulle dit nederi­ger. Nou sê hulle hulle probéér ’n hand van liefde en hoop wees.

Aanvanklik was daar lidmate wat gewonder het of hulle by die gee-basaar saam mag eet aan al die lekkernye. Vir hulle is daar gesê hulle móét saam eet. As daar arm mense is wat kom kos kry, moet hulle nie arm voel nie. Een van die slagspreuke van die Echo-bediening in die gemeente is immers: “It is not about charity. It is about community.”

Dít sien ’n mens by die gee-basaar: ’n vrolike, brui­sende gemeenskap waar iets waar geword het van die uit­nodiging in Jesaja 55 om te kom koop sonder geld.

En soos Derick sê: “Om te gee is regtig lekkerder as om te ontvang.”

Nooit weer laat SA sy waardes in politici se hande

“Nooit weer sal Suid-Afrikaners hulle openbare waar­des aan die grille van politici oorgee nie.”

Met dié woorde het biskop Malusi Mpumlwana, algeme­ne sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, by ’n me­diakonferensie die motivering gegee vir ’n nasionale kon­­vensie oor waardes en standaarde waarmee die SARK nou begin.

Die gedagte is dat die konvensie ’n konsensus ontwikkel oor die waardes waarop Suid-Afrika se samelewing moet be­rus en standaarde formuleer waaraan daar in die openbare lewe voldoen moet word. In die proses moet die gate van korrupsie toegestop word.

Die nasionale konvensie, sê Mpumlwana, gaan ’n proses eerder as ’n geleentheid wees. Daar gaan ’n stuurkomitee en ’n aantal werkgroepe wees wat in September begin grond­werk doen, voordat ’n groot byeenkoms moontlik van 21 tot 24 November gehou word.

Daarna sit die werkgroepe hulle werk voort tot met ’n twee­de groot byeenkoms moontlik in Mei of Junie 2018. Daar kan ook ’n derde groot sessie in September 2018 gehou word. Hulle wil die hele proses in sowat ’n jaar afhandel.

Mpumlwana kon nog nie name van deelnemers gee nie, maar het gesê hulle wil mense uit die godsdiensgemeenskap­pe, uit die arbeidsorganisasies, die sakesektor, die akademie en buite-parlementêre organisasies betrek.

Die NG Kerk gaan ook deelneem, sê dr Gustav Claassen, alge­mene sekretaris.

Daar is drie breë temas geïdentifiseer waarop gefokus moet word.

Een daarvan is versoening en heling. Mpumlwana het ge­sê daar wil hulle onder meer vra hoe beweeg Suid-Afrika se mense van 100% Venda, 100% Afrikaner en 100% Zoeloe na 100% Suid-Afrika­ner. Hulle wil ook kyk na kwessies soos gesinsver­brok­keling en na godsdiens­tige misbruike.

In die tema oor ekonomiese transformasie gaan onder meer alle aspekte van onderwys, van vroeë kin­deront­wik­keling tot by tegniese en beroepsopleiding, behandel word.

Die derde tema is die ver­sterking van demokrasie. Daar­in moet daar ge­fo­­kus word op standaarde in die rege­ring waardeur korrupsie voorkom kan word; op die professiona­lisering van die staatsdiens teenoor politieke aanstellings; op die voor­ko­ming van die misbruik van die staat se vei­lig­heidsinstel­lings en die regstelsel; en op die versekering dat verkiesings vry en regverdig sal wees, veral met die oog op 2019.

Oor die finansiering van die proses het Mpumlwana ge­sê hulle sal ’n beroep op Suid-Afrikaners doen om deur ska­refinansiering bydraes te maak, maar die SARK sal ook gaan aanklop by oorsese kerklike vennote wat die raad in die stryd teen apartheid ondersteun het.

Mpumlwana sê hulle wil ’n interaktiewe webwerf en so­siale media gebruik om gewone landsburgers ook te betrek. Politieke partye en ander belanghebbendes kan na die groot sessies genooi word. Hy het beklemtoon dat alle Suid-Afri­ka­ners verantwoordelikheid moet neem om die waardes en standaarde in die land te help herstel.

Hy het ’n ou Afrikaanse struggle-liedjie uit die Wes-Kaap aangehaal om dit te beklemtoon. Dié liedjie lui:
Die pappas en die mammas,
die oupas en die oumas,
die oompies en die tannies,
die honde en die katte
is almal in die struggle.

Gemeentes en ringe kan nou oor eenheid praat

Die tyd is nou ryp vir goeie gesprekke tussen ge­meentes en ringe van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika oor hoe groter eenheid tussen hulle bewerkstellig kan word.

Dit het duidelik geblyk op ’n vergadering in Kemptonpark waarheen sinodale en algemene sinodale leiers van albei dié kerke onlangs genooi is. Die vergadering is belê om koppe bymekaar te sit oor hoe die ge­leentheid benut kan word wat oopgegaan het deur die aanvaarding van die Tussenorde deur die twee ker­ke se algemene sinodes.

Die Tussenorde werk soos ’n kerkorde tussen die twee kerke. Dit maak dit kerkregtelik moontlik vir gemeentes, ringe en sinodes om eenheidstrukture tussen bestaande gemeentes, ringe en sinodes tot stand te bring. Die Tussenorde maak dit byvoorbeeld moontlik dat ’n NG gemeente en ’n VGKSA-gemeente saam as een gemeente kan funksioneer en saam bindende be­sluite kan neem, terwyl die oorspronklike regspersone bly voortbestaan.

In praktiese terme beteken dit dat kerkeenheid, die ideaal waartoe albei kerke hulle al herhaaldelik ver­bind het, nou van gemeentevlak af kan groei. Die Tussenorde stel die visie dat daar hieruit een nuwe kerk sal groei. Hieroor, sê ds Nelis Janse van Rensburg, voor­sitter van die Algemene Sinodale Moderamen, praat die Tussenorde in geestelike taal.

Ds Pieter Grove, Kaapse moderator van die VGKSA, het by die vergadering gesê hulle benadering is nou nie meer dat die NG Kerk eers Belhar moet aanvaar voordat daar eenheid kan kom nie, maar dat die eenheidsproses moet uitloop op die aanvaarding van Belhar.

Uit die vergadering was dit duidelik dat die eenheid wat nou tussen gemeentes, ringe en sinodes kan groei, op goeie verhoudinge gebou moet word. Daarom is daar baie klem gelê daarop dat daar goeie gesprekke moet wees waarin mense respekvol na mekaar moet luister en mekaar se stories moet leer ken.

Ds Eric Ngema van die VGKSA in KwaZulu-Natal en ds Dirkie van der Spuy, ondervoorsitter van die NG Kerk se Algemene Sinodale Moderamen, in gesprek met mekaar.

By die vergadering is daar selfs ’n oefening gedoen waarin verteenwoordigers van die twee kerke een-tot-een met mekaar kon gesels en na mekaar kon luister.

Een van die gedagtes uit die vergadering was dat die sinodale leiers die gemeentes en ringe in hulle gebiede moet help om sulke gesprekke te voer. Daar was selfs ’n gedagte dat sinodes fasiliteerders oplei om sulke ge­sprekke te begelei.

Omdat die oprigting van eenheidstrukture egter ook ’n kerkregtelike komponent het, was die gedagte daar dat ’n geleentheid georganiseer word waarheen die aktuariusse van die onderskeie sinodes van die twee kerke genooi word. By so ’n geleentheid sou die aktuariusse dan die Tussenorde saam kon deurwerk sodat hulle op die hoogte is van presies hoe dit in werking gestel kan word. Hulle sou dan die gemeentes en ringe in hulle sinodale gebiede met hierdie kundigheid kon bystaan.

Dit sou twee gemeentes van die onderskeie kerke wat wil een word, kon help om dit op die korrekte kerk­­ordelike wyse te doen, sodat al die betrokke partye veilig kan voel in die proses.

Janse van Rensburg het by navraag gesê daar is gemeentes waar daar reeds sterk verhoudinge gebou is. In sulke gemeentes kan daar nou gepraat word oor een­heidstrukture tussen hulle.

Verder is daar ook ringe van die NG Kerk en die VGKSA wat al nou saamwerk. As sulke samewerking nie tot groter eenheid lei nie, ly die verhouding dikwels skade. Die Tussenorde maak nou groter eenheid moontlik.

Janse van Rensburg wys ook daarop dat dit vir baie gemeentes moeilik geword het om op hul eie ’n bedie­ning in stand te hou. Waar twee sulke gemeentes van onderskeidelik die NG Kerk en die VGKSA in dieselfde omgewing egter saamwerk, kan dit vir hulle moontlik word om saam nuwe bedienings te ontwikkel. Daar is baie sulke voorbeelde, sê Janse van Rensburg.

Hy meen dat die ringe in die beste posisie is om momentum aan die proses te verleen, omdat hulle die plaaslike omstandighede van hulle onderskeie ge­meen­tes ken.

Lees ook wat prof Leepo Modise skryf.

Stellenbosch-Welgelegen doleer oor 2016-besluite

Die NG gemeente Stellenbosch-Welgelegen treur nou amptelik. Die kerkraad het op 29 Augustus besluit om te doleer (treur) na aanleiding van die buitengewone Algemene Sinode van 2016 se besluite oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Die kerkraad sê in ʼn verklaring dolering “gee uitdrukking aan die gemoedstoestand van die gemeente en die belewenis van kerkwees wat die gemeente binne hierdie situasie beleef”. Die kerkraad het haar reeds vroeër van die 2016-besluit gedistansieer.

Die kerkraad se besluit sê onder meer:  “Die kerkraad treur ómdat sy oortuig is daarvan dat die goeie nuus van die evangelie vir alle mense beskore is. God se genade kan slégs ontvang word, aangesien dit nie op grond van ras, gender, of seksualiteit geskenk word nie. As begenadigdes treur ons ómdat die kerk in die naam van die evangelie genadeloos handel met mense.

“Die kerkraad treur óór die hantering van kerklike besluite en kerklike gesprekke oor selfdegeslagverhoudings en erken ons eie aandadigheid hieraan. As begenadigdes treur ons óór kerklik geregverdigde diskriminasie wat bykomende kriteria of voorwaardes aan gay lidmate stel vir insluiting by sekere ampte van die kerk.

“Die kerkraad treur sáám met gay lidmate, familielede en vriende van gay persone en alle mense wat pyn en geweld aangedoen is deur die ASM en AS se hantering van besluite oor selfdegeslagverhoudings. As begenadigdes treur ons sáám met mense wat deur die kerk pyn en geweld aangedoen ís en aangedoen word.”

Die kerkraad beklemtoon verder dat die dolering op kerklike wyse en in kerklike taal uitdrukking gee aan haar betreuring van kerklike sake. Die doel is nié afskeiding of afstigting nie. Dis nié skeurmakery nie. Die kerkraad koester eenheid en bly verbind tot die hereniging van die kerk.

Die kerkraad vra die Wes-Kaapse sinode om ʼn gravamen op te stel wat by die volgende algemene sinode beswaar maak teen die Algemene Sinodale Moderamen se hantering van die Algemene Sinode se besluit van 2015 oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Dit moet ook beswaar maak teen die regstegniese hantering van gravamina en appèlle teen die 2015-besluite by die sinode van 2016.

Verder vra die kerkraad die Wes-Kaapse sinode om ʼn alternatiewe besluit te neem teen enige vorm van diskriminasie teen mense op grond van hulle seksuele oriëntasie, en om dié besluit deur te stuur sodat die Algemene Sinode van 2016 se besluit oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag daardeur vervang kan word.

Stellenbosch-Welgelegen het ook ʼn Hervormingsdaggetuienis uitgereik wat sterk klem lê op die insluitende genade van God. Die volledige getuienis lui:

Hervormingsdaggetuienis

Vanjaar herdenk Protestantse kerke wêreldwyd die 16de eeuse Hervormingsbewegings, en dan spesifiek die feit dat dit 500 jaar gelede is dat Martin Luther volgens oorlewering sy 95 protes-stellinge teen die deur van die Kasteelkerk in Wittenberg vasgespyker het.

Hierdie herdenking is vir ons as gemeente van Stellenbosch-Welgelegen ‘n geleentheid om in ‘n gees van dankbaarheid en verootmoediging ons Protestantse en gereformeerde nalatenskap te vier. Die fokus op die regverdiging deur die geloof uit genade alleen behoort tot die hart van dié erfenis.

As gemeente van Christus getuig ons graag aangaande die oorvloedige genade van God wat ons ryklik en vrylik in Christus ontvang het en deur die Gees deel aan het. Ons is inderdaad begenadig. Ons glo dat almal dié genade nodig het. Ons glo dat hierdie genade vir álmal is.

As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons as kerk nie altyd hierdie genade weerspieël nie. Baie mense assosieer die kerk daarom nie met genade nie, maar met uitsluiting en veroordeling. Ons treur oor die harde ongenaakbaarheid en liefdeloosheid wat dikwels op subtiele maniere, maar soms ook heel kras, in ons harte en in ons midde leef.

Ons glo egter dat daar in die lig van die ruimhartige genade van God geen ander kriteria of voorwaardes vir volledige aanvaarding, lidmaatskap, en deelname aan ál die ampte in die kerk kan wees as geloof in Christus nie – nie ras, klas, gender of seksuele oriëntasie nie. Christus alléén is die hoeksteen van die kerk.

Dáárom verbind ons onsself, hier en nou, om verwelkomend te wees teenoor alle mense en waarderend ten opsigte van mekaar se unieke gawes.

As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons dikwels leef asof God se genade net vir mense is wat op ‘n manier maar soos ons is en lyk; mense wat óns taal praat, óns kultuur deel, óns gewoontes het. Ons treur oor hoe hierdie houding ons verlede moreel verarm het en hoe die logika van geskeidenheid en rassisme in ons harte en praktyke ‘n tuiste gevind het.

In ‘n land en wêreld waar daar opnuut weer kragte aan die werk is wat ons wil laat terugtrek in nouer verbande van bloed en groep, glo ons wel dat die kerk – as die een liggaam van Christus – ‘n alternatief op hierdie verharding van grense en groeiende polarisasie moet en kan bied. Ons glo dat die kerk wat in Christus één is aan hierdie eenheid sigbare gestalte moet gee. In Christus het immers één nuwe mensheid tot stand gekom.

Dáárom verbind ons onsself, hier en nou, om die kragte teen te staan wat verdeel en vernietig, en om ons te beywer vir dit wat heelmaak en lewe gee.

As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons nie altyd die materiële seëninge wat ons uit genade uit God se hand ontvang, genoegsaam raaksien of uitdeel nie. Ons treur oor die ekonomiese ongelykheid, sistemiese onreg, onmenslike uitbuiting en blatante korrupsie wat ons samelewing stempel, en erken dat ons eie voorspoed en teenspoed ten nouste hiermee verweef is.

Ons glo nogtans dat ons ‘n God aanbid wat die krete hoor van hulle wat uitroep te midde van hulle ervarings van nood, verontregting, pyn, en ontworteling. Die God wat ons in Christus en uit genade alleen regverdig verklaar is die God wat geregtigheid herstel.

Dáárom verbind ons onsself, hier en nou, om dit wat ons uit genade ontvang het vrymoedig met ander te deel, om te protesteer teen onreg en ontmensliking, en om mee te werk aan ‘n wêreld waar mense en die hele skepping floreer.

As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons nie altyd weet hoe om die goeie nuus van God se genade uit te leef nie. Te midde van groeiende sekularisme, ook in ons eie harte, en skadelike vorme van godsdiensbeoefening, ook in ons eie kringe, is ons daarvan bewus dat ons dikwels faal om die evangelie op ‘n geloofwaardige wyse aan ons kinders, ons vriende, en aan vreemdelinge oor te dra.

Ons glo desnieteenstaande dat die evangeliewoord van genade, al lyk dit broos, en praktyke van genade soos die doop en nagmaal, al lyk dit vreemd, ‘n vernuwende en lewegewende krag besit.

Dáárom verbind ons onsself, hier en nou, om as geroepenes en gestuurdes gedurigdeur oop te bly dat die evangelie van genade ons verras en verander, en om voortdurend aangaande die hoop wat in ons leef, te getuig.

As gemeente van Stellenbosch-Welgelegen – as begenadigdes wat genadig wil leef – dank ons God, die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is, vir die standhoudende genade wat in Christus aan ons geskenk is.

Om aan Christus, ons Heer, te behoort, is nie net ons beste troos nie, maar ons énigste troos.

NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen
29 Augustus 2017

’n Spirituele begeleier help om oë vir God te open

Spirituele begeleiding is ’n geloofsgewoonte wat baie waardevol kan wees en wat besig is om veld te wen in die NG Kerk. NEELS JACKSON het met dr Willem Nicol en sy vrou, Joke Nicol, daaroor gesels.


Dr Willem Nicol nooi ’n persoon om te kom sit. Daar word ’n bietjie gesels, gehoor hoe dit gaan. Dan staan hy op, steek ’n kers aan. Dis ’n ritueel om ’n heilige ruimte te skep. Hy gaan sit en nooi die persoon om te ontspan: bene, skouers en nek, arms en oë, asemhaling. Dan laat hy tyd vir stilte, tot die persoon self reg is om te begin praat.

En as die mens wil begin, maar nie weet waar om te begin nie, vra hy ’n vraag soos: “Watter aartappel lê nou bo in jou sak?”

So begin nog ’n sessie van spirituele begeleiding.

Nicol was jare gelede ’n voorloper daarin om die kontemplatiewe spiritualiteit aan en in die NG Kerk be­kend te stel. Die spiritualiteit van stil word en om God se teenwoordigheid in jou lewe te beleef.

Nou is dit ’n gevestigde manier van doen in baie dele van die kerk, hoewel dit nie een is wat skares lok nie, en dit waarskynlik nooit sal wees nie.

Spirituele begeleiding, sê die Nicols, is nog so ’n skat uit die kerkgeskiedenis wat nou deur die Protestantse wêreld herontdek word. Dit is een van die geloofsgewoontes wat dateer van lank voor die Reformasie en wat met die groot kerkhervorming verlore gegaan het.

Dit gaan daaroor dat ’n gelowige iemand het, ’n spirituele begeleier, wat hy of sy vertrou en met wie hy of sy volgens ’n ooreengekome ritme (maandeliks werk goed) oor sy of haar lewe en geloof gesels.

Die begeleier dui nie koers aan nie, maar stap as ’t ware langs die gelowige. Die begeleier is ’n klankbord wat luister, maar wat die gelowige ook help om self te ontdek waarmee God in sy of haar lewe besig is.

Die veronderstelling is dat ’n mens nie net uit die Bybel en uit die natuur iets oor God leer nie, maar ook deur jou eie ervaring. Die Reformasie het ’n verstandsding geword, sê Willem. Spirituele begeleiding gooi die net wyer. Dit gaan oor die daaglikse lewe saam met God en dat jy God ook daar leer ken.

Daarom begin die gesprek met die vraag na die aartappel bo in jou sak, die ding waarmee jou gedagtes nou besig is, dit wat nou jou lewe oorheers. En dan help die begeleier ’n mens om te dink oor waar en hoe God by hierdie saak betrokke is.

Dis soos twee bokke wat langs mekaar loop en die een blaas die stof uit die ander se oë sodat hy beter kan sien, sê hy.

Dit help ’n mens om te sien dat jou geloof deel is van jou alledaagse lewe. Geloof gaan nie net oor kennis, oor vrae en antwoorde nie. God is nie ’n veraf wese wie se reëls jy net moet gehoorsaam nie. Dit is die lewende God saam met wie jy hier leef.

Spirituele begeleiding is anders as ’n sessie met ’n sielkundige. Dit werk nie so diep nie, maar dit gaan wyer, want dit gaan oor God se teenwoordigheid.

Dit is ook anders as pastoraat, want pastoraat het ’n element van leiding gee. Daar is ’n probleem wat gehanteer moet word. Spirituele begeleiding is nie daar om probleme te hanteer nie. As iemand ’n probleem het wat gehanteer moet word, verwys die spiritue­le begeleier die persoon na iemand anders.

Dit beteken die aartappel wat bo in die sak lê, hoef nie ’n vrot aartappel te wees nie. Dit kan ’n vreugdevolle saak wees waaroor ’n gelowige met die geestelike begeleier gesels. Die begeleier se rol is om die gelowige te help om voortdurend bewus te wees dat God hier teen­woordig is. God is nie ’n veraf abstraksie nie.

Maar die gesprekke gaan tog dikwels na plekke van pyn, want dit is die plekke wat groeipunte in ’n mens se geestelike lewe kan word.

Daarom is spirituele begeleiding ’n goeie geloofsgewoonte wat enige gelowige kan oorweeg. Mense wat gaan vir spirituele begeleiding, vind dit waardevol. Daar is mense wat al 10 jaar lank gereeld na Willem Nicol toe kom daarvoor.

In Pretoria, waar die Nicols werk, word die opleiding van spirituele begeleiers gedoen deur die Sentrum vir Spiritualiteit van die NG Kerk se ring van Suidoos-Pretoria. Dit geskied in samewerking met Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.

Sedert 2006 is daar reeds 113 spirituele begeleiers opgelei. Die sentrum ontvang nou aansoeke vir die volgende kursus wat in 2018 begin en oor 15 maande en sewe blokke strek. Meer inligting oor dié kursus is by www.sentrumvirspiritualiteit.co.za beskikbaar.

Mense wat die kursus deurloop het, sê dit het ook baie vir hulle eie geestelike lewe beteken. Ds Derick du Toit van die NG gemeente Villieria skryf byvoorbeeld dat hy al baie kursusse bygewoon het waarvan die impak op lewenstyl en bediening maar min was. “Ek wil graag getuig dat die wyse waarop die kursus aangebied word waarskynlik die mees blywende veranderings van al die kursusse veroorsaak het.”

– Vir meer oor spirituele begeleiding, lees Willem Nicol se boek Ingestel op die fluistering van God (Lux Verbi).

Daphney is soveel meer as haar arms

Dit is ’n heerlike wintersoggend in Pretoria. By die Pierneefteater in die Moot is daar ’n be­dry­wigheid. Dis die bekendstelling van Daphney Twala se digbundel.

Sy noem die bundel Purposely designed en daarin skryf sy persoonlike gedigte, gedigte oor haarself wat so anders ontwerp is as die meeste ander mense, haar arms en hande wat so anders lyk.

Daar is gedigte wat vertel van oningeligte mense wat mense soos Daphney verstoot, maar ook gedigte wat vertel van ’n menswees wat soveel groter as ’n ge­stremdheid is. Dit is gedigte wat uitstyg bokant die gestremdheid, wat selfs skertsend daarna verwys, soos die een waarin sy haar hande vergelyk met dinosou­rus­spo­re met net twee tone.

Sy lees van haar gedigte voor, beduie met die arms, maar dit is nie wat die aandag hou nie. Dis haar onblusbare gees wat ’n mens bybly.

Nie net vir Daphney nie, maar vir die Nasionale Raad vir Mense met Gestremdheid is dit ’n goeie og­gend, want Daphney is ’n inspirasie vir ander mense met gestremdhede. Sy word ’n stem vir hulle.

Jannie du Toit sing ’n lied by die bekendstelling van Daphney Twala se bundel. Hy kom ’n lang pad saam met die Nasionale Raad vir Mense met Gestremdhede.

En agter dit alles lê ’n storie wat al oor jare kom, ’n storie van gelowiges, gewone lidmate, wat dít wat hul­le het, gebruik om mense soos Daphney te help om hul­le talente te ontwikkel, om hulle eie menswees te ont­wikkel.

Een van hulle is Jopie Koen van die Pierneefteater waar Ten spyte van jaarliks aangebied word. Dit is ’n reeks geleenthede waar gestremdes hulle talente op die verhoog kan kom ten toon stel en slyp. Deur die jare het Daphney meermale haar gedigte daar voorgedra. By die bekendstelling van Daphney se bundel word die teater se nuwe lusstelsel wat gehoorgestremdes help om beter te hoor, ook getoets.

Nog een is dr Fanie Marais van die Cordis Trust wat Ten spyte van sedert 2003 borg as deel van die trust se deerniswerk. Cordis Trust, wat ook by Bybel-Media betrokke is, het Daphney se bundel uitgegee.

’n Derde een is Jannie du Toit, sanger wat ’n lang verhouding het met die Nasionale Raad vir Mense met Gestremdheid, en wat vanoggend weer gratis kom sing by die bekendstelling van Daphney se bundel.

Danksy hulle en soveel ander mense word dit ’n vrolike oggend, ’n oggend waarop ’n mens vir Daphney sien blom as iemand wat, in haar eie woorde, nie net ’n mens is nie en nie net ’n gestremdheid nie, maar ’n mens met ’n gestremdheid – spesifiek so ontwerp.


“Dis ’n wonderlike verhaal,” sê ds Lourens Bosman oor die manier waarop lidmate gehelp het om Daphney Twala se talent te ontwikkel, haar digbundel uit te gee en die bekendstelling daarvan ’n feestelike ge­leent­­heid te maak.

Bosman is voorsitter van die Algemene Sinode se taakspan wat missionale kerkwees bevorder. Ja, hulle werk met gemeen­tes en dit is belangrik dat gemeentes hulle mis­sionale werk as gemeentes doen, maar uiteindelik moet ’n missionale le­wen­styl ’n werklikheid word in lidmate se daaglikse handel en wandel.

‘Ons leer om in die sagte juk van Jesus te leef’

Nog ’n groep gemeentes van die Oostelike Si­no­de het hulle aangesluit by die groeiende golf in die NG Kerk wat hulle verbind tot missionale kerkwees. Dié gemeentes gaan in die volgende drie jaar saam met ds Gys van Schoor se Sentrum vir Ge­loofs­vorming op reis.

Dr Lourens Bosman, ondervoorsitter van die Oos­te­like Sinode se sinodale diensraad, het tydens ’n ge­leentheid by Lux Mundi-gemeente in Pretoria verdui­delik waarom dit nodig is.

Hy het verwys na navorsing waarvolgens die NG Kerk in vergeleke met ander kerke baie hoog meet as dit kom by aspekte van mense se innerlike geloof, soos Bybel lees, bid en die belewing van inspirasie daardeur.

Die NG Kerk meet egter laag as dit kom by sake soos of die gemeente ’n helder visie het en op die toekoms gerig is, en of die gemeente verwelkomend is, nuwelinge in sy eredienste het en of lidmate hulle geloof met ander mense deel.

Kerke wat só lyk groei nie, het Bosman gesê. Hy het gesê dit is deel van die wêreldwye tendens van privatisering van die geloof.

Wat nodig is, het hy verduidelik, is ’n skuif van ’n ver­skraalde teologie waarin daar net op die kruis en persoonlike verlossing gefokus word, na ’n teologie van die koninkryk van God. So ’n skuif neem niks weg van die kruis nie, maar is baie ruimer.

Van die materiaal wat gemeentes kan gebruik op hulle ge­loofs­reis.

Van Schoor het verduidelik dat ’n eng kruisteologie net van ’n mens vra om, by wyse van spreke, een maal sy of haar hart vir die Here te gee. Hierteenoor vra ’n ko­ninkryksteologie van mense om Jesus daagliks te volg as die Here van hulle lewe.

Hy het aan die hand van die groot opdrag in Matteus 28:18-20 gesê die probleem is dat vers 19 – die opdrag om dissipels te maak – agterweë gebly het.

Bosman het gesê om ’n gemeente hierin te lei, is nie iets wat in ’n paar maande gebeur nie. Dit verg lang­asem-leierskap.

Daar is gemeentes soos Elarduspark en Lux Mundi wat hierdie pad reeds ’n paar jaar gelede begin stap het. Vir ander gemeentes wat dit nou wil doen, is daar dus materiaal beskikbaar wat reeds beproef is.

Dit sluit in materiaal vir veldtogte van 40 dae waarby al die groepe in die gemeente betrek word. Ds Frikkie Coetzee van Lux Mundi het volledig verduidelik hoe hulle gemeente so ’n 40 dae-veldtog aanpak.

Een aspek daarvan is byvoorbeeld dat Lux Mundi hulle gemeente, van die kleuters tot die seniors, geleer het om Lectio Divina te doen. Dit is ’n manier van Bybellees waarin die klem geplaas word op stil word en luister na die teks. Die gedagte is dat ’n mens nie soseer met die Bybelteks werk nie, as dat jy toelaat dat die teks met jou werk.

Dit gaan nie oor informasie nie, maar oor formasie, het Coetzee gesê.

Die kinders het die Lectio Divina bo verwagting goed beleef, het Rayline Coetzee van die gemeente se kinderbediening gesê.

Bosman het gesê daar was volwasse lidmate met sterk linkerbreinfokus, soos ingenieurs, wat aanvanklik skepties was oor dié manier van Bybellees, maar toe hulle dit gesnap het, het hulle dit aanvaar en so gedoen.

Van Schoor het gesê die gemeentes moet dit wat hulle gaan doen, nie sien as ’n program nie. Dis nie ’n reeks antwoorde nie, maar ’n geloofsreis. Dis ’n uitno­diging aan mense om hulle oop te maak vir Jesus self.

“Ons leer om in die sagte juk van Jesus te leef,” het hy gesê.

Vroue vra meer erns met gelyke deelname

Die kerk moet baie meer erns maak daarmee om die gelyke deelname van vroue en mans op alle vlakke van leierskap en binne die ampte moontlik te maak.

Dit was ʼn sterk boodskap van ʼn vergadering van vroue in verskillende vorms van bediening in die NG Kerk in die Wes-Kaap.

Die vergadering is die dag ná Vrouedag gehou en het gevolg op ʼn proses in die Wes-Kaapse sinode waarby vroue uit verskillende bedieninge betrek is, en nadat van die vroue ʼn vooraf-konferensie by die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke se vergadering in Leipzig oor die posisie van vroue bygewoon het.

Onder die vroue wat die Wes-Kaapse vergadering bygewoon het, was daar predikante, akademici, vrouelidmate in leierskapsposies, en vroue in nie-gelegitimeerde bedieninge soos jeugwerkers.

In  ʼn verklaring wat na afloop van die byeenkoms vrygestel is, sê die vroue hulle glo dat alle mense gelykwaardig na die beeld van God geskape is en dat God vroue en mans roep en toerus vir bedieninge.

Hulle is ook dankbaar oor die manier waarop vroue op verskeie kerklike terreine die leiding neem en goeie rolle speel.

Daar is egter twee sake waaroor die vroue weeklaag.

Die een is die afmetings wat geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika aanneem. Dr Elize Morkel, lid van die Wes-Kaapse moderatuur, sê dit sluit in fisiese, emosionele, finansiële en seksuele geweld. In die verklaring vra die vroue gemeentes om groter erns met hierdie probleem te maak.

Die tweede saak is die verhale van vroue in die bediening “wat getuig van ervarings van stemloosheid, diskriminasie en marginalisering”. Die vroue sê hulle “treur oor die talle vroue wie se gawes langs hierdie weg vir die kerk verlore gaan”.

Melanie Thirion, lid van die Wes-Kaapse moderatuur, het hieroor by die vergadering onder meer gesê: “In hierdie vertrek is daar van ons wat al moes hoor dat ons vroulike stemtoon nie geskik is vir prediking nie. Dat ons liewers langbroeke moet dra terwyl ons preek omdat ons bene mans se aandag aftrek. In hierdie vertrek is daar van ons wat moes aanhoor dat ons nie geskik is vir bediening nie omdat die wêreld se seer ons te emosioneel maak.”

Die uiteinde van sulke verhale is dikwels dat sulke vroue dan ander werk buite die kerk gaan soek.

In die verklaring sê die vroue: “Ons dring aan op strukturele veranderinge, die ondermyning van patriargale denke, praktyke en taal wat die gelyke deelname van vroue en mans op alle vlakke van leierskap en binne die ampte moontlik sal maak.”

Morkel sê hulle verwys hiermee onder meer na die gedagte dat mans en vroue verskillende rolle het. Sulke denke beperk mans en vroue.

Sy wys ook op die manier waarop die Bybel soms gebruik word wanneer mense die patriargale kultuur van die Bybelse tyd direk so op vandag van toepassing wil maak.

Die verklaring sal nou na die Wes-Kaapse moderamen geneem word om verder daaroor en oor ʼn weg vorentoe te besin.

Die volledige verklaring van die vroue lui:

Boodskap vanuit die Vroue in Bedieninge byeenkoms van die Wes-Kaapse Sinode

10 Augustus 2017

As vroue in bedieninge en leierskap van die Wes-Kaapse Sinode van die NG Kerk, verbind aan mekaar tot diens binne die liggaam van Christus, verklaar ons as volg:

Ons glo dat alle mense gelykwaardig na die beeld van God geskape is en daarom met gelyke respek en waardigheid behandel behoort te word (Gen1:27). Ons bely die eenheid van alle gedooptes (Gal 3:28). Ons getuig dat God beide vroue en mans roep na bedieninge van geestelike leierskap en dat God hulle seën met gawes om hierdie rolle te vervul. In 2017, waar ons 500 jaar sedert die aanvang van die Reformasie herdenk, herdenk ons die geskenk van die priesterskap van alle gelowiges – die reg van alle gedooptes om voor God vir mekaar te bid en God se genadige liefde en vergifnis te verkondig.

Ons dank God vir vroue wat in die amp van predikant en kerklike jeugwerker leiding neem. Ons dank God vir vroue wat die amp as ouderlinge en diakens opneem. Ons vier die manier waarop vroue binne die akademie leiding neem en waardevolle teologiese bydraes lewer. Ons kan getuig van vroue se toenemende aktiewe deelname in posisies van leierskap binne ons kerkstrukture. Ons is dankbaar vir die toewyding waarmee vroue mekaar binne gemeentes en ringe ondersteun en geestelik versorg om bydraes te maak en te floreer. Ons pluk met groot dankbaarheid die vrug van die pynlike pad wat vrouepioniers gekom het om die weg te baan na meer gelykheid en geregtigheid vir vroue binne ons kerk en samelewing. Die toewyding en doelgerigtheid waarmee vroue as aktiviste werk om onregte uit te wys, mense in siekte, geweld, armoede en diskriminasie by te staan en transformasie te bevorder, vul ons met verwondering en dankbaarheid.

Ons weeklaag oor die afmetings wat geslagsgebaseerde geweld in ons land aanneem. Die brutaliteit waarmee soveel vroue behandel word, reflekteer ‘n oortuiging dat vroue minderwaardig teenoor mans is, gebore is om mans te bedien en dat vroue nie respek en waardigheid verdien nie. Die lyding van vroue in ons land as gevolg van die wisselwerking tussen ras, armoede, siekte en geslag vul ons met diep kommer en pyn. Dit is vir ons pynlik om te luister na die stories van vroue in die bediening en leierskap van die kerk wat getuig van ervarings van stemloosheid, diskriminasie en marginalisering. Ons treur oor talle vroue wie se gawes langs hierdie weg vir die kerk verlore gaan.

Ons bely ons skuld aan diskriminasie, stereotipering, misbruik, onderdrukking en apatie wat bydra tot die lyding van vroue, ook binne ons eie kringe. Ons bely dat ons dikwels self ‘n teologie van onderdanigheid van vroue bevorder – idees dat vroue op grond van hul biologie ondergeskik aan mans is, dat vroue minder van God se beelddraers is, of dat vroue se plek en rol beperk is tot voortplanting en die huishouding wat hulle uitsluit van publieke verantwoordelikheid vir die skepping.

Ons pleit by die kerk en elke gemeente om groter erns te maak om standpunt in te neem teen geslagsgebaseerde geweld. Ons dring aan op strukturele veranderinge, die ondermyning van patriargale denke, praktyke en taal wat die gelyke deelname van vroue en mans op alle vlakke van leierskap en binne die ampte moontlik sal maak. Dit impliseer ook dat die kerk en elke gemeente sal besin oor strategië om deelname vir vroue veilig en gelykwaardig te maak. Ons versoek die kerk en elke gemeente om te besin oor die manier waarop met die Skrif omgegaan word sodat die gelykwaardigheid en eenheid van vroue en mans duidelik verkondig en geleef word.

Ons verbind ons tot

  • Voortgesette gesprek met mekaar binne al die groeperings van vroue in die kerk;
  • die insluiting van mans by die gesprek oor geslagsgelykheid;
  • die aanspreek van seksuele en geslagsgebaseerde geweld en
  • bereidheid om te dien waar God ons roep.

Ons diepste verbintenis is tot solidariteit binne ons geledere as vroue in diens van God tot bevordering van ‘n waardige en gelyke bestaan vir alle vroue in ons kerk en land.

Gustav help mense om Johannes 10:10 te lewe

Dr Gustav Gous reis die wê­reld vol as motiveringspre­ker. Die sin van sy bestaan lê daarin om ander mense te help om sinvol te leef. Vir hom is dit nie net ’n werk nie. Dis ’n bediening. Dis die manier waarop hy sy roe­ping uitleef. NEELS JACKSON ver­tel meer.


Vandat hy in standerd ses tydens die Jeug-tot-Jeugaksie sy hart vir die Here gegee het, het Gustav Gous homself beleef as “a man with a message”. Daarom dat hy (soos sy pa, dr Andries Gous, en broers Henk en Ig) besluit het om in die teologie te studeer. Hy wou ook ’n dominee word.

Sy belewenis van die teologie was egter dat dit antwoorde gee, maar nie die vrae vra nie. Die vrae het hy in die sielkunde en filosofie gaan soek. Die teologie sou relevant word as hy vrae en antwoorde bymekaar kon uitbring, het hy gedink.

Dit was in die tyd voor positiewe sielkunde op die toneel verskyn het, vertel Gustav. Toe het sielkunde nog net daaroor gegaan om probleme op te los, om ’n mens van ’n minus tot by nul te bring, sê Gustav. Daar was nog niks om ’n mens van normaal tot optimaal te bring nie.

Die enigste terrein waar hy iets daarvan kon kry om mense van 0 tot 100 te neem, was as motiveringspre­ker. Dit het hy deeltyds begin doen.

Intussen het hy voortgegaan met sy doktorsgraad in teologie oor die NG Kerk se verhouding met die Wê­reld­raad van Kerke. Hy het ook as assistent vir prof David Bosch gewerk en later self dosent geword.

Gous vertel van ’n prentjie in Bosch se kantoor wat die evangelie in ses woorde opgesom het: “Van Bo, na binne, na buite.” Dit beskryf die vloei van God se liefde na sy mense toe en deur sy mense na die wêreld toe. Vandag word dit “missionale kerkwees” genoem.

Die eerste groot probleem was dat die kerk so na binne gekeer was dat daar min was van die deurvloei van God se genade na die wêreld toe. Die tweede was dat die kerk gewerk het met ’n model dat mense kerk toe moet kom, pleks daarvan dat die kerk na mense toe gaan.

Teen dié agtergrond het Gustav ’n akademiese artikel geskryf oor “Die kerk by die werk”. Iemand by Sasol het dit raakgesien en hom genooi om twee dae per week as interne berader by Sasol te kom werk.

Daar het hy met almal gewerk, van die uitvoerende hoof tot by die fabriekswerkers. Hy moes na hulle pro­bleme luister en hulle help om die lewe te navigeer. “Ek het gevoel ek doen wat Jesus doen. Ek help mense met hulle probleme,” sê Gustav.

Maar, het hy na ’n tyd besef, dit is ook maar weer om mense te help om van minus tot by nul te kom. Hy het begin wonder hoe kan hy mense help dat hulle nie by minus uitkom nie, dat hulle nie in die slaggate van die lewe vasval nie.

Om dit te doen, het hy gaan kyk na die verskillende soorte probleme waarmee hy mense moet help. Dit het gewissel van mense wat voel hulle is nie in die regte werk nie tot by substansafhanklikheid, van mense wat konflik in hulle verhoudings beleef het, tot by die mense in senior posisies wat gesukkel het om hulle werk en lewe te integreer.

Gustav het die verskillende probleme in breë kategorieë georden en begin om kursusse te ontwerp om mense te help om dié kwessies te hanteer. Deur die jare is meer kursusse ontwerp, dis geslyp en uiteindelik het dit uitgeloop op ’n kursus wat nou aangebied word onder die vaandel Get a Life in 40 days.

Johannes 10:10, waar Jesus sê dat Hy gekom het om lewe te bring, en dit in oorvloed, is ’n sleutelteks wat agter die kursus lê. Nog so ’n teks is Psalm 16:11: “U leer my hoe om te lewe.”

Gustav onderskei verskillende lewensareas soos gesondheid, gesinslewe, werk en finansies. Dan vra hy dat mense vir hulleself ’n punt gee om aan te dui hoe goed dit met hulle gaan in elkeen van dié areas. Dit help mense byvoorbeeld om te sien as hulle so opgaan in hulle werk dat hulle hulle gesinne verwaarloos – en dan kan hulle doelgerig beplan om so ’n wanbalans te herstel.

Een van die lewensareas is die geestelike en emosionele lewe. In korporatiewe situasies of in Moslemlande kan hy nie ’n Christelike preek afsteek nie, maar op dié manier kan hy tog die saadjie saai wat mense laat dink oor hulle geestelike lewe.

En omdat sy aanpak vir Moslems aanvaarbaar is, is die kursusmateriaal al, met Bybelversies en al, in Moslems se tale vertaal.

Kursusgangers word ook gekonfronteer met die vraag oor wat hulle nalatenskap gaan wees, sodat hulle aangemoedig word om nie net vir hulleself te leef nie, maar om iets vir mense terug te gee.

En nou het Gustav ook, in samewerking met vennote, begin met Loving thy Neighbour, ’n internetplatform wat mense wat vir ’n goeie saak wil gee, help om in kontak te kom met organisasies wat sulke skenkings nodig het.

Daaroor is hy baie opgewonde. Op nog ’n manier kan hy daardeur die boodskap van die evangelie uitleef wat hy soveel jare gelede in prof David Bosch se kantoor gesien het: “Van bo, na binne, na buite.”

Vir meer inligting gaan na www.gustavgous.co.za

Broodbak is ook kerkwees

Broodbak kan deel van ’n dominee se werk wees.

Dit het die NG Kerk se finalejaar-teo­logiestudente in Pretoria gesien toe hulle tydens hulle kontakweek saam met prof Johan van der Merwe by die gemeente Jan Niemandpark ’n draai gemaak het.

Van der Merwe het die studente tydens hul­le kontakweek blootstelling gegee aan ’n verskeidenheid aspekte van praktiese kerkwees. Dit het gewissel van hoe die bevestiging van troues werk, tot by die pensioenfonds en van ’n besoek aan die middestad van Pretoria om te sien hoe kerkwees daar in die praktyk gebeur, tot by ’n plat­telandse gemeente.

Jan Niemandpark is ’n klein stadsgemeente in ’n taamlik arm omgewing wat sy eie bakkery op die been gebring het.

Ds Danie van Rensburg het vir die studente vertel dat die gemeente drie jaar gelede in ’n oorlewingstryd was. Hulle wou iets doen wat standhoudend kon wees en vir mense kon help om ’n inkomste te verdien.

Om die bakkery te vestig, het egter heelwat werk geverg waarvoor ’n dominee nie opgelei word nie. Behalwe dat Van Rensburg self ’n kursus in broodbak gedoen het, moes hulle al die re­gi­strasies doen wat nodig was, daar moes marknavorsing gedoen word en die infrastruktuur moes gevestig word.

Hy het vertel dat daar aanvanklik heelwat weer­stand in die gemeente was teen die gedagte, maar die mense het gesien die bakkery ontwrig nie die kerk nie en nou is hulle trots op “hulle bak­kery”.

Die bakkery probeer nie met groot bakkerye kompeteer nie, maar lewer op bestelling brood aan skole, sopkombuise, ouetehuise en kinderhui­se. Een ouetehuis het al laat weet dat hulle R140 000 per jaar bespaar deur hulle brood hier te koop. Daardeur lewer die bakkery dus ’n diens.

Die bakkery verskaf ook werk aan ’n handvol men­se, en daar is ook ’n storie van ’n seun sonder selfvertroue wat by die bakkery begin werk het, en daar soveel selfvertroue opgebou het, dat dit ’n plat­form geword het waarvandaan hy die wêreld kon ingaan.

In hierdie stadium lewer die bakkery nie vir die kerk ’n inkomste nie, maar dit sou kon, hoewel dit heelwat aanpassings sou verg, sê Van Rens­burg.

Vir die studente was die groot boodskap dat iets soos ’n bakkery, wat ver verwyderd is van preek maak of Bybelstudie hou, maar wat diens lewer en help om mense op te hef, ook deel kan wees van kerkwees.

Luther het met minder hubris gepraat

Daar is ’n wydverspreide opvatting dat die kerkhervormer Martin Luther met groot bravade en hubris verklaar het: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie!”

Histories is dit nie akkuraat nie, het dr Kobus Ger­ber, redakteur van ’n nuwe boek oor die Re­for­masie, by die bekendstelling daarvan gesê. Lu­ther se eintlike woorde getuig van baie meer ne­derigheid.

Die nuwe boek oor die Reformasie.

In Afrikaans vertaal, lui dit só: “Tensy ek oortuig word deur die getuienis van die Skrif of heldere rede (want ek verlaat my nie alleen op die pous of die konsilies nie, omdat dit welbekend is dat hulle dikwels gefouteer en hulleself weerspreek het), bly ek gebonde deur die Skrif wat ek aangehaal het en my gewete is gevange vir die Woord van God. Ek kán dit nie afsweer nie en ek wíl nie, want dit is nóg vei­lig, nóg reg, om teen jou ge­wete op te tree. God help my. Amen”.

Gerber het ge­­sê in hulle nu­we boek (Re­for­ma­tion 500 – some South Afri­­can perspectives, uitge­gee deur die Christelike Lektuurfonds) is daar ook niks van dié gewaande hubris nie. Dit be­vat wel baie ­goeie mate­riaal oor die ge­­skie­­­denis van die teo­lo­­­gie van die Re­­formasie.

Hulle het verteenwoor­digers van ’n wye spektrum ker­­ke ge­nooi om uit hulle perspektief bydraes tot die boek te le­wer. Verteenwoordigers van 12 ker­ke het gereageer, onder wie die Katolieke Kerk, die Apostoliese Geloofsending en die Zion Chris­tian Church.

Gerber sê hy is jammer dat nie een van die vroue wat genooi is om bydraes te lewer, gereageer het nie.

Hy was egter bly oor die bydrae van biskop Gra­ham Rose van die Katolieke Kerk wat ge­skryf het oor die ooreenkoms tussen die Kato­lie­ke en Lutherane oor gesamentlike bediening. Gerber het na die Katolieke verwys as “ons moe­d­er” en gesê die verhoudings is deesdae baie beter as vroeër.

Ds Peter Azuana van die NKST, die NG Kerk se susterkerk in Nigerië, het gesê by hulle is dit nie die geval nie. Hulle keur byvoorbeeld nie huwelike tussen hulle lidmate en Katolieke goed nie. Mense sal selfs onder tug geplaas word daaroor.

Hierop het Gerber gesê hy weet van gevalle in Suid-Afrika waar ’n NG dominee en ’n Katolieke priester saam beplan het aan ’n huweliksdiens.

Dis belangrik om sulke stemme te hoor

GOD, GAY, GENADE
Deur Retha Benadé
Uitgegee deur Naledi, 2017


Die Vrystaatse Sinode het by sy jongste sitting gevra vir ’n rond­te gesprek oor verhou­dings tussen mense van dieselfde geslag. Ook in ander sinodes is sulke gesprekke aan die gang.

Omdat dit belangrik is dat daar ook in sulke ge­sprekke na die stemme van gelowige, gay mense ge­luis­ter word, is Retha Benadé se boek God, gay, ge­na­de ’n belangrike boek. Sy vertel daarin haar storie. Maar haar storie is ’n tipiese storie van baie gelowige gay mense. Haar storie is ook baie ander se storie.

Enkele aanhalings om iets te illustreer van dit wat gelowige, gay mense beleef:

“Hoekom is ek so, wat is fout met my?” (p xv)

“My Christenskap het vir my ’n swaar las eerder as ’n vreugde geword.” (p 28)

“Vrees sou uiteindelik die fondament word waarop ek my Christenskap sou bou en waarop ek keuses vorentoe in my lewenspad sou maak.” (p 28)

“Eensaamheid het my partykeer ondergekry. Party dae het ek met seer wakker geword wat soos ’n kom­bers oor my gelê het.” (p 36)

“Dit was die begin van ’n al groter mate van selfveragting en selfverwerping.” (p 39)

“Die kerk het my meer en meer laat voel soos ’n mislukking en ek het myself alreeds so veroordeel.” (p 43)

“My naïewe antwoord was altyd net: ‘Vertrou op God, Hy sal jou nie ’n kruis gee om te dra wat jy nie kan hanteer nie.’ Baie vroom woorde, wat so Bybels en so reg geklink het, maar soveel skade aangerig het.” (p 63)

“Dis nou al sestien jaar dat ek met myself worstel en steeds is daar geen lig in die tonnel nie …” (p 90)

“Ek het God as ’n ‘boelie’ ervaar en daarom was dit met vrees dat ek Hom gedien het.” (p 101)

“Selfdood is nie toevallig nie. Selfdood vind dikwels plaas in die konteks van ’n gelowige gay persoon wat nie langer met die verwerping kan saamleef nie; die verwerping van geloofsgemeenskappe, maar ook die selfver­werping wat hulle ervaar juis omdat hulle die gemeenskap se verwerping internaliseer; wat nie langer die isolasie en eensaamheid kan verwerk nie.” (p 189)

Dit is nie mooi woorde nie. Dis nie maklik om daar­na te luister nie, maar dis belangrike woorde want dis egte woorde. Dis woorde wat gehoor moet word in die kerk se gesprekke oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

‘Ons glo nie in die Bybel nie, ons glo in God’

Soveel verskille in die kerk kan teruggevoer word na verskille oor die Bybel en die verstaan daarvan. Daarom het die Noordelike Sinode in samewerking met Excelsus drie konferensies oor die Bybel gehou. NEELS JACKSON het die konferensie in Brits bygewoon.


Daar word op verskillende maniere oor die Bybel gepraat, het dr James Kirkpatrick van die gemeente Stellastraat in Pretoria gesê. Soms word dit die “Woord van God” genoem, ander kere “God se Woord in mensetaal”, en soms “geïnspireerde mensewoorde oor God”.

Kirkpatrick, wat self gemaklik is om die Bybel die “Woord van God” te noem, sê met al hierdie formule­rings probeer die kerk eintlik twee dinge sê. Die een is dat die teks gesag het. Die ander is dat dit ’n eg menslike boek is, nie ’n orakelboek nie.

Hy het egter gevra of die Bybel werklik ’n boek is. Eers in 1454, met die ontwikkeling van die boekdrukkuns, het die Bybel in boekvorm verskyn. Voor dit was daar ’n Bybel, maar nie in die vorm van ’n boek nie. En nou, met Bybels wat op selfone gelees kan word, is die Bybel steeds daar, al is dit nie langer ’n boek nie.

Tog het dit in gereformeerde kringe vir baie ’n boek geword wat objektiewe waarhede bevat wat deur rasionele analise ont­dek kan word.

Dít, het Kirkpatrick aan die hand van ’n aanhaling van Ferdinand Deist gesê, het die onbedoelde gevolge gehad dat die gereformeerde tradisie ver­splin­ter het in ’n magdom ker­ke op grond van verskillende in­ter­pretasies van die teks.

Hy het ook verwys na Karl Barth wat gemaan het daarteen dat die Bybel los van die misterie van Jesus Christus en die Heilige Gees ’n gesag in homself kry en as ’t ware ’n papierpous word.

“Ons moet seker maak dit gaan nie vir ons oor die Bybel in plaas van oor God nie,” het Kirkpatrick gesê. “Ons glo nie in die Bybel nie, ons glo in God.”

Hy het ’n skets vertoon van ’n man wat met sy vin­ger na die maan wys. So is die Bybel. Dit wys heen na God. En net soos die man in die skets wil hê dat jy na die maan kyk en nie na sy vinger nie, so word die aandag deur die Bybel op God geplaas en nie op die Bybel wat na God wys nie.

Die Bybel verteenwoordig daarom ’n lewende tra­disie met die doel, in die woorde van artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, “om ons geloof daar­na te rig”.

Dit het Kirkpatrick gebring by die beeld van ’n dam teenoor ’n stroom.

Party mense sien die Bybel as ’n dam waarin ’n klomp waarhede vasgevang is. ’n Mens moet by wyse van spreke net jou geloofsvisstok vat, oor die eeue wat verby is ingooi in daardie dam in en ’n paar vissies in die vorm van tekste vang en dan het jy die waarheid.

Hy verkies die beeld van ’n stroom waarin jy nie tyd­lose waarhede nie, maar verdedigbare oortuigings kan vind. Dit werk so: Jy neem die tekste, jy interpre­teer dit en dan sê jy: “Ek dink dit is wat die Here se wil is.”

Kirkpatrick het daarop gewys dat daar groot verskille is tussen hoe mense in Bybelse tye gedink het, en hoe mense vandag dink. Dit sluit in verskille oor hoe hulle die wêreld sien, hoe hulle oor mense dink, hoe die bose gesien word en hoe daar oor die ekonomie gedink word.

As ’n mens dié twee wêrelde in ag neem wanneer jy die teks interpreteer, ontstaan betekenis daar waar dié twee ontmoet.

In besprekingstyd het iemand gesê daar is soms die gevoel dat lidmate se sekerheid weggeneem word sonder dat daar vir hulle ander sekerheid gegee word.

Hierop het Kirkpatrick gesê die hele gedagte van sekerheid word bevraagteken. Sekerheid, het hy gesê, is ’n gefluit in die begraafplaas. Dit laat ’n mens in die steek en dit lei tot ontnugtering.

Pleks van sekerheid het hy gepleit vir geborgenheid. Dit beteken iemand se geloof bied vir hom of haar ’n veilige ruimte waar hulle kan ontspan. Binne die geborgenheid kan ’n mens vrae vra, jy kan twyfel en jy kan worstel.

Dr Andries Kritzinger van Orkney het aangesluit by Kirkpatrick en gesê die Bybel is nie ’n doen-dit-self-handleiding met al die antwoorde nie. Soms word dit omskep in ’n wetboek om alles te antwoord, terwyl dit eintlik weerbarstige vertellinge is van God wat verrassende dinge doen. Dit is vertellinge wat ’n mens meeneem en nuwe per­spek­tiewe oopmaak.

Hy het gesê die gesag van die Skrif is nie iets wat van die mens se kant af verklaar word nie. Dit is iets waardeur ge­lo­wi­ges oorrompel word wanneer hier­die verhale in hulle lewe in breek.

Dr Fanie Cronjé van die gemeente Riviera-Jakaranda het gesê die manier waarop die Bybel vandag in die etiek gebruik moet word, is om eerstens te pro­­beer verstaan hoe die norme in die teks in die destydse etiese situasie inpas.

Pleks van om dit dan direk so vandag toe te pas, doen ’n mens ’n dinamiese vergelyking van kontekste. Die gedagte is dat die Bybelse tekste dan her­be­nut word om nuwe rigting in veranderde omstandighede te bied.

Elarduspark en Ivory Park se potjiekos is lekker kos

Die NG gemeente Elarduspark in Pretoria en die Verenigende Gereformeerde Kerk se gemeente Ivory Park in Tembisa se verhouding kom al se­dert die Wêreldbekersokkertoernooi van 2010. Vanjaar het die kontakweek tussen dié twee gemeentes se tieners ’n nuwe hoogtepunt bereik. NEELS JACKSON berig.


Dr Daniel Maluleke, predikant van die VGKSA se gemeente Ivory Park, hou van potjiekos. Nie stew nie, potjiekos. Dié soort gereg waarin ’n mens ’n klomp verskillende bestanddele in een pot gooi – maar dit nie roer nie. Dan bly ’n wortel ’n wortel, en ’n aartappel bly ’n aartappel. Elke bestanddeel bly wat dit is, maar die verskillende bestanddele neem mekaar se geure op.

“Dis lekker kos,” sê hy.

Maar dit het ook die metafoor geword waarmee hy praat oor die kontak tussen die tieners van Elarduspark en die tieners van Ivory Park. In die kontak met mekaar hou niemand op om te wees wie hy of sy is nie, maar almal word deur die kontak met mekaar verryk.

Die aard van die kontak het mettertyd verander. Aanvanklik, vertel ds Danie Vermaak van Elarduspark, het hulle daaraan gedink as ’n uitreik, ’n geleentheid waarby hulle vir die mense van Ivory Park iets gaan gee of gaan doen. Nou het dit ’n gesamentlike byeenkoms geword waar jongmense mekaar op gelyke vlak ontmoet.

Daarom dat Maluleke daarop aangedring het dat Ivory Park se kinders dieselfde inskrywingsgeld vir die week se saamwees betaal as die kinders van Elarduspark. Ivory Park se mense moenie ’n bakhand-kultuur aanleer nie.

“Hand-outs make you stupid,” sê Maluleke met die wysheid van sy 71 jaar.

Vroeër het Elarduspark met ’n kleinerige groep, dalk 20 tieners, na Ivory Park gegaan waar hulle ’n program met 400 tieners sou volg. Maar só kan ’n mens nie verhoudings bou nie. Daarom dat hulle vanjaar met net nege tieners van elke kant ’n week lank “gekamp” het.

Saam het hierdie tieners oor vier dae verskillende ervarings deurgemaak waarin hulle mekaar beter leer ken het, maar ook saam oor die lewe besin het.

Die tieners het in drie groepe van ses mense elk gewerk. Elke groep moes byvoorbeeld besluit oor hulle kos vir die week. Na aanleiding daarvan dat die 20% armstes in Afrika klaarkom met minder as $2 per dag, het hulle ’n toekenning van R25 per persoon per dag gekry om kos te koop vir die week.

Hulle het gou besef dat hulle baie meer gaan vermag as hulle saamwerk. En uit hulle verskillende kulture het hulle by mekaar geleer oor kosmaak.

Die groep tieners van Elarduspark en Ivory Park by die Hindoetempel waar hulle besoek afgelê het.

Die eerste dag, as bewusmaking van die belangrikheid van omgewingsorg, het almal ook saam in die Moreletakloof-natuurreservaat gaan help om indrin­gerplante uit te roei.

Op die tweede dag is hulle saam na die middestad van Pretoria, na die historiese Bosmanstraatkerk, na die Queenstraatmoskee daar naby en na Kerkplein toe. Dié middag het hulle by die Mandelabeeld by die Unie­gebou ’n draai gemaak en saam op die grasperk gesit en gesels oor die politiek van die land.

Vermaak sê dat dit hom opgeval het dat die tieners uit Ivory Park meer polities bewus en ingelig is as die tieners van Elarduspark. Na die gesprek het hy ook gevoel dat as die toekoms in die hande van sulke tie­ners is, dan het sy dogtertjie van 2 jaar ’n mooi toekoms in Suid-Afrika.

Op die derde dag is die groep na Laudium, die histories Indiërwoonbuurt aan die westekant van Pretoria. Daar het hulle eers ’n moskee besoek en toe ’n Hin­doetempel. Die benadering waarmee hulle gegaan het, sê Danie, is een van: “To love well, is to listen well.” As hulle as Christene goed luister, sal die Moslem en Hindoe met wie hulle in gesprek was, iets van hulle liefde beleef. En in die gesprekke het hulle dinge gehoor wat vir hulle wys daar is ooreenkomste en verskille tussen die godsdienste.

Dié aand, toe hulle weer op hulle eie was, het hulle onder mekaar ’n lang gesprek oor twee vrae gevoer: Die eerste was: “Waarom is ek ’n Christen?” En die twee­de was: “Hoe leef ons as Christene saam met men­se van ander gelowe?”

Die laaste dag was ’n pretdag waarop die groep saam gaan trampolien spring het en sommer net saam vrolik was.

Vir almal was dit ’n goeie ervaring. Marius Schoombie, teologiestudent van Elarduspark wat besig is met sy gemeentejaar, sê hy was vooraf gespanne oor wat die week sou oplewer, maar daar was geen probleme nie. Die eerste dag was daar nog ’n bietjie van ’n ongemaklikheid, maar toe die tieners mekaar eers leer ken het, was dit iets van die verlede.

Vermaak sê hulle droom is dat ander kerke soortgelyke goed doen. En as sulke kerke by hulle wil kom kers opsteek, sal hulle graag die ervaring wat hulle opgedoen het, wil deel.

Maluleke sê so ’n ervaring help om stereotipes af te breek wat deur ouers aan hulle kinders oorgedra word. Hy meen dis belangrik dat die kerke dit nou by jongmense doen.

In die week tydens die vakansie dat van hulle tieners saam geleef het, saam gepraat en gedink en gedoen het, lyk dit of hulle iets daarvan reggekry het.

En die potjiekos wat hulle so saam berei, maak almal lus vir meer. Soos Maluleke sê: “Dis lekker kos.”

‘Ons was verbaas toe ons begin skryf’

“Remarkable stories of God’s grace.”

So staan dit op die voorblad van A Family of Reformed Churches in Africa, ’n nuwe boek waarin die geskiedenis opgeteken is van die kerke in Afrika wat uit die NG Kerk se sendingwerk ontstaan het.

Dr Gideon van der Watt, mederedakteur van die boek, het by die bekendstelling gesê: “Ons was verbaas toe ons begin skryf het.” Hy het verwys na die talle merk­waardige verhale wat hulle kon opteken.

“Die sendelinge het ’n mooi rol gespeel. Die vroue het mooi bydraes gelewer. Maar diegene wat die boodskap ontvang het, die evangeliste en ouderlinge, hulle het die meeste gedoen,” het Van der Watt gesê.

Die boek bestaan grootliks uit kort hoofstukke met kleurfoto’s daarby oor 14 verskillende kerke wat deel is van die groter familie van gereformeerde kerke van die NG Kerk en kerke wat uit haar sendingwerk tot stand gekom het.

Onder hierdie kerke, het Van der Watt gesê, is die NG Kerk eintlik maar van gemiddelde grootte. Party ramings plaas die aantal lidmate van die NG Kerk nou op 750 000. Hierteenoor het die Reformed Church in Zambia amper ’n miljoen lidmate. Die Verenigende Ge­reformeerde Kerk se lidmaattal word op 1,1 miljoen geraam en die Church of Central Africa Presbiterian in Malawi het ook ’n miljoen of meer lidmate.

Die Nongo u Kristu u i Ser u sha Tar (NKST), ofte wel die Universele Gereformeerde Christelike Kerk in Ni­gerië is ook baie groot, maar weens die aanvalle deur Islamitiese groepe in dié land is hulle nou so verstrooid dat dit moeilik is om ’n lidmaattal te bepaal.

Hierteenoor is daar ook klein kerke in die familie.

Die gedagte aan die boek het by ’n vorige vergade­ring van die Gereformeerde Familieforum ontstaan. In daar­die stadium het daar reeds op inisiatief van Ma­riëtte Odendaal, die ander mederedakteur, ’n reeks oor dié kerke in Kerkbode verskyn.

Met dít as basis is daar met die ver­skillen­de kerke ge­ska­kel en ’n hoofstuk oor elk­een geskryf.

Ds Peter Azuana van die NKST het by die be­kend­stelling ge­sê hulle leer hulle kerk se geskie­de­nis vir hulle kinders in die Sondagskool. Ver­teen­woor­di­gers van ker­­ke het eg­ter gesê by hulle be­­staan die gevaar dat die ge­skie­de­nis vergete sal raak. Daar­om is die versky­ning van hierdie boek vir hulle baie belangrik.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het gesê in die Ou Testament word daar dikwels teruggekyk na die groot dade van God in die ver­le­de. Net so kan hierdie boek help om die kerke daar­aan te herinner dat die God van gister ook die God van vandag en die God van môre is. Dit gee hoop vir die toekoms.

Philippolis se mense gee om vir mekaar

Dr Carin Van Schalkwyk is predikant van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk se gemeentes op Philippolis in die Suid-Vrystaat. NEELS JACKSON het daar gaan kuier.


Karin van Schalkwyk dink terug aan ’n dag dat sy by Ouma Nan Padda gestaan het in haar kombuis in Bergmanshoogte, die tradisioneel bruin woonbuurt van Philippolis.

Die meel was min en dit was Maandag. Betaaldag was eers Donderdag. Maar Ouma Nan het al haar meel in die pot gegooi.

Carin het probeer kapsie maak, gedink die meel moet spaarsaam gebruik word sodat daar vir elke dag tot betaaldag darem iets sou wees.

Toe vertel Ouma Nan dat sy die vorige dag in haar kombuis gestaan het. Uit haar kombuisvenster en by die bure se kombuisvenster in kon sy sien hulle meel is heeltemal op. Die kind gaan net op water skool toe. Toe vat Ouma Nan ’n klomp van haar meel en maak vir die bure ook pap.

Môre, sê Ouma Nan, sal iemand anders sien haar meel is op, dan sal hulle vir haar help. So sorg hulle vir mekaar.

En sy herinner vir die dominee aan die teks van die voëls van die hemel en die lelies van die veld en die Vader wat sal sorg. Glo die dominee dit, wou Ouma Nan weet?

Hierdie eenvoudige geloof en hierdie soort sorg vir mekaar het sy nie vir die mense van Bergmanshoogte, geleer nie, sê Carin. Sy het dit by hulle geleer.

Voor Philippolis en voor Bergmanshoogte was Carin ’n jeugwerker in ’n welvarende gemeente in die Boland. Mense het vir haar gesê dat sy goed gedoen het daar, maar dit was nie die soort bediening waarin sy tuis gevoel het nie.

Die Here het met haar gepraat deur Matteus 25, die teks waar Jesus vertel dat hy honger en dors was, ’n vreemdeling en sonder klere, siek en in die tronk – en dat party vir Hom gesorg het en party nie. En as hulle Hom vra wanneer dit gebeur het, sê Hy vir sover hulle dit aan die geringstes gedoen het, of nié gedoen het nie, het hulle dit aan Hom gedoen, of nié gedoen nie.

Daarom, toe daar ’n pos by die VGK in Bergmans­hoogte geadverteer word, het sy aansoek gedoen. Toe sy 19 jaar gelede oor die Oranjerivier ry, was sy in tra­ne, vertel Carin. Sy het geweet dit is waar sy moes wees.

Ragel Padda

Die gevoel was wedersyds. Ragel Padda vertel toe Carin daar aankom was die gevoel: “Waar was sy al die tyd?” Ragel is ’n dogter van Ouma Nan wat intussen oorlede is.

Só ver was Philippolis se wit en bruin mense van mekaar af, beduie Ragel Padda. Nou is hulle al baie nader aan mekaar.

  Van Carin praat Ragel as “ons do­mi­nee wat haar spreekkamer op die stoep het”. Sy sit maklik op ’n stoepmuurtjie op die sypaadjie met mense en gesels. “Sy praat dieselfde taal as ons. Sy het een geword met ons,” vertel Ragel.

Die eerste agt jaar was Carin net die predikant van die VGK. Deur die oor­een­koms tussen die NG en VG gemeen­tes het sy ook op die kerk­raad van die NG Kerk gedien.

Dit was moeilike tye. In 1999 het hulle hulle eerste vigssterfte gehad. Aanvanklik het hulle nie verstaan wat gebeur nie.

Dit het ’n vloedgolf geword. In die begraafplaas wys Carin die paar rye grafte wat daar was toe sy in Bergmanshoogte aangekom het en die rye en rye grafte wat bygekom het weens vigs.

Daar was Saterdae wat sy drie of vier begrafnisse moes lei. Van ’n koor van 20 lede was daar net vyf wat sy nie begrawe het nie. Sy het soms soos die doods­engel gevoel.

In Bergmanshoogte se kerkraad het hulle daaroor gepraat en besluit hulle sal enigiemand begrawe – terwyl daar ander kerke was wat geweier het om mense te begrawe wat vigs gehad het.

In hulle gemeente het hulle die stigma oor MIV en vigs verbreek. Toe medisyne beskikbaar geraak het, het hulle gesorg dat hulle mense dit kry. Hulle het men­tors en tuisversorgers opgelei. Hulle het hulle sie­kes versorg.

En soos die kerk van die eerste paar eeue wat gegroei het toe die Christene al was wat bereid was om die siekes te versorg, so het Philippolis se VGK gemeente gegroei ondanks al die sterftes onder hulle men­se. Dit was die kerk wat mense met MIV nie ver­oordeel het nie.

Philippolis het nie een straatkind nie, sê Carin, want hulle het vir die kinders wat sou wees word, ander sorgouers gevind nog voor hulle eie ouers gesterf het.

Intussen het die NG gemeente op die dorp al klei­ner geword. Landbougrond is opgekoop vir ander doel­witte en die aantal boere in die omgewing het met die helfte verminder.

Die NG gemeente het gesukkel om te verstaan wie hulle was, sê Carin. Die draaipunt het gekom toe hulle aanvaar het hulle is nou ’n klein gemeente – te klein om ’n voltydse predikant te beroep. Daar is met die VGK onderhandel oor Carin se tyd en sy is beroep in ’n 40%-pos. Deur die afskaling van die predikantspos het daar geld losgekom vir barmhartigheid.

Noudat sy predikant van albei gemeentes is, kry die wit en gekleurde mense van die NG Kerkfamilie op Philippolis elke Sondag dieselfde boodskap. Wat sy by die een preek, preek sy by die ander. Hulle bly in een konteks en kry een boodskap, sê Carin. Dit is ’n boodskap van mens­waardigheid, van respek vir ander men­se en van omgee vir mekaar op grond van die liefde van Christus.

En die gemeentes groei al nader aan mekaar.

Destyds toe Carin in Philippolis aangekom het, was die gemeentes ver van mekaar af, sê Ragel Padda terwyl sy haar arms uitstrek om met haar hande die groot afstand te probeer aandui.

Mettertyd het hulle al nader aan mekaar gekom, sê sy terwyl sy haar hande nader aan mekaar bring. As sy haar palms teen mekaar druk, sê Ragel dat hulle nog nie só bymekaar is nie, maar hulle vorder.

Ada Botes, koördineerder van Philippolis se ouetehuisprojek, by pakkies wat weggebring word na die ouetehuis op Trompsburg. Die hulp wat die mense van Philippolis op dié manier bring wissel van sjokolades tot toiletpapier.

Carin vertel hoe daar 19 jaar gelede NG lidmate was wat opgestaan het en uit die kerk uitgestap het omdat ’n koor van die VGK daar gesing het.

Ragel vertel hoe ongemaklik sy self vroeër gevoel het om na die groot NG kerk toe te gaan. Nou is daardie gevoel weg. Nou stap sy in en sit waar sy wil.

In Desember, vertel Carin, het hulle ’n gesamentlike biddag vir reën in die NG kerk gehou. Van alle kleure was mense daar en bruin en swart gelowiges het opgestaan om vir die boere te bid.

Saam met die NG Kerk se aanvaarding van die feit dat hulle ’n klein gemeente is, het groter lidmaatbetrokkenheid gekom. Lidmate het besef hulle moet self verantwoordelikheid aanvaar.

Die twee gemeentes se komitees vir barmhartigheid dink ook nou saam oor hulle bydraes in die gemeenskap. Hulle werk saam en hulle sorg saam vir die mense in nood.

Carin vertel van die sopkombuis. Vroeër het die NG gemeente se lidmate gegee en daar is kos gegee vir lidmate van die VGK. Maar dit het verander. Daar is lidmate van die VGK wat nou goeie poste het en salarisse kry. Sy het hulle uitgedaag om ook nou bydraers te word. En onder die NG Kerk se lidmate is daar ook mense wat swaar kry en wat versorg word.

Sy is ’n brug tussen die twee gemeentes, maar sy druk niemand in ’n blik nie. Dinge ontwikkel baie spontaan en normaal. Al meer bruin en swart mense bly nou in die dorp waar vroeër net wit mense gebly het. Hulle is bure.

Ragel vertel dat sy ’n passie vir bejaardes ontwikkel het. Die vriendskap wat ontwikkel het tussen haar en tannie Chrisna van den Berg, en van die bejaarde NG lidmate op die dorp, het hulle so naby aan mekaar gebring soos familie.

Maar nou het tannie Chrisna se kinders haar Bloem­fontein toe geneem waar sy beter versorg kan word en Ragel se hart is seer van die verlange. Maar sy sal wel meer by van die ander bejaardes betrokke raak.

Danie Vrolikheid

Danie Vrolikheid is een van die NG lidmate wat sy geloof in omgee vir ander mense uitleef. Hy is eintlik Danie Cilliers, maar soos dit op Philippolis gaan, het hy ’n bynaam gekry om hom te onderskei van ander Danies op die dorp. En omdat sy plaas se naam Vrolikheid is, het hy Danie Vrolikheid geword.

Danie Cilliers, ook bekend as Danie Vrolikheid. As hy nie geglo het nie, sou hy lankal die slagpale gesluit het en dan sou talle mense sonder inkomste gesit het. Danie help ook op baie ander maniere. So het sy vragmotors al die boumateriaal vir die kleuterskool in Bergmanshoogte aangery.

Danie bedryf ook die slagpale op die dorp. Eintlik moes hy die slagpale lankal toegemaak het, sê hy. Dit sou baie makliker wees. Die probleem is dat watertoe­voer op die dorp weens wanbestuur deur die munisipaliteit baie problematies geraak het. En sonder water kan jy nie slag nie.

Maar by die slagpale werk daar 30 mense. Een ou, vertel Danie, het twee vroue en nege kinders. Daar is 12 mense in dié man se huis wat leef van dit wat hy by die slagpale verdien.

Carin sê daar is gemiddeld seker vyf tot ses kinders per gesin. En dan is daar baie mense wat ook vir uitge­breide families sorg.

Daarom het Danie laat boor vir water. Om die slagpale oop te hou. Om mense in diens te hou. Omdat hy omgee vir sy mense en vir die dorp.

Die mense is sy mense nie net omdat hulle vir hom werk nie. Danie vertel dat die swart mammas hulle as kinders help grootmaak het. Hy het dikwels saam met swart mense pap geëet, en een keer (waarvoor hy slae gekry het), ook saam met hulle van hulle bier gedrink, lag hy.

Hy doen dit omdat hy ’n Christen is, sê Danie. As dit nie daarvoor was nie, kon hy homself onttrek en op sy plaas gaan sit.

So gaan die omgee in Philippolis oor allerlei grense.

Carin vertel van ’n jong Bangladesji wat, soos ander Moslems, in die dorp ’n winkeltjie kom bedryf het. Toe hy swaar kry, het die kerk vir hom ook ’n kospakkie gegee.

Maar toe het daar ’n verhouding tussen hom en ’n wit vrou op die dorp ontstaan. Toe hulle weer sien, is sy swanger en daar word ’n dogtertjie gebore. Hy is terug Bangladesj toe en die ma kon nie alleen vir die kind sorg nie. Toe help die kerk weer.

Op ’n dag, toe die kerk weer blikkieskos insamel, loop iemand in die staat af om blikkies by die huise te gaan haal. Een van die Moslems keer die man voor en vra wat hy doen. En hy vertel.

Wie word almal gehelp? wou die Moslem weet.

Almal wat hulp nodig het, kom die antwoord.

Soos dié dogtertjie ook? vra die Moslem.

Soos die dogtertjie ook, word bevestig.

Dan wil hy ook bydra, sê die Moslem.

En hy laat weet al die ander Moslems op die dorp en nou dra hulle gereeld by tot die kerk se omgeewerk. En wie weet, dalk help dit die sendelinge wat uitreik na Philippolis se Moslems om die evangelie by hulle tuis te bring.

En so leef die evangelie op Philippolis in mense se omgee vir mekaar.