Nelis Janse van Rensburg

Onthullings

Die een publikasie na die ander onthul die stand van morele verval in die staatsdiens van Suid-Afrika. Die bekendste hiervan is The President’s keepers van Jacques Pauw. Selfs mense in die regering is verras, maar nie heeltemal verbaas oor wat die boek onthul nie. So is daar ook die boek van Pieter-Louis Myburgh, The Republic of Gupta: A story of state capture, openbarend van ’n patologiese sug na meer en meer geld en mag en vryheid om die staat te beroof.

Die gevolge van leierskap wat nie gefokus is op die beste belange van die land nie, word gesien in die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Eskom, Prasa, die SAUK, staats­departemente soos Sosiale Ontwikkeling en talle ander.

Die gebrek aan morele leierskap kring uit tot in die verste uithoeke van die samelewing. Verskeie sosiale euwels soos die hoë moordsyfer, insluitende plaas­moor­de, misdaad, gesondheidskrisisse, waaronder die Esidimeni-gesondheidsramp, MIV/Vigs-ramp, tuber­kulosesterftes en malariabesmetting is byna die direkte gevolge van leierskap wat nie meer verantwoordbaar­heid opeis nie. Omdat die leiers nie meer self ver­­ant­woordbaar wil en kan wees nie. Dissipline is immers die grondreël vir staatsdienste se goeie funksione­ring.

Die onthullings in dié boeke dui op ’n grootskaalse verval in morele, administratiewe en finansiële dissi­pli­ne. Telkens word sogenaamde nuwe beleide ont­werp om ’n antwoord te bied op die krisis waarin ons ingelei is.

Die nuutste is die vernietiging van sogenaamde “white monopoly capital”. Die meeste mense in Suid-Afrika sal saamstem dat diegene wat oor die kapitaal van ons land beskik, verteenwoordigend moet wees van die totale bevolking van Suid-Afrika. Gelukkig is daar reeds groot verbetering in die verspreiding van rykdom in die land. Maar retoriek wat maar net ’n gemeenskaplike vyand probeer vind om interne proble­me mee te verdoesel, los niks op nie.

Daar is ’n ander gemene deler in al hierdie beleide: sentralisering en staatsbeheer. Ons sien dit nou weer in die voorgestelde nuwe skolewet. Ons sien dit ook in die feit dat die staat landbougrond koop, maar dit ­nooit oordra aan nuwe eienaars nie. Dit bly in staatsbesit. Ons sien dit in beleide waarin die samewerking tussen publieke en privaat instellings getermineer is in onderwys, gesondheidsorg, welsynsdienste, die ver­skaf­fing van energie en op vele meer terreine. Daar­teen­oor is konsultasie, samewerking en ooreenkomste tus­sen die staat en dienswilliges in die beste belang van Suid-Afrika.

Ons het nou nuwe politieke leiers nodig wie se morele kompas ’n ware Noord gevind het en beleid uitdink waarmee alle Suid-Afrikaners se belange gedien word. Die armes s’n en die rykes s’n, die voorheen be­na­deeldes s’n en dié wat tans werk verskaf en voedsel produseer.

Hierdie politieke leiers het dan die steun van die breë massa welwillende Suid-Afrikaners nodig wat nie net in eie belang optree nie, maar dit ook goed bedoel met mense van ander oortuigings, kulturele gewoon­tes, tale en geloofsoortuigings. Dis mense wat bekommerd is oor al Suid-Afrika se kinders, al ons land se vroue, al ons land se siek mense, almal se toegang tot die ekonomie, almal se geleerdheid.

Die NG Kerk posisioneer ons binne hierdie groep van welwillende mense wat in ’n versoende verhou­ding met ander leef, wat geregtigheid vir mekaar najaag, wat sorg dra vir vreemdelinge se welstand, wat goeie onderwys vir alle kinders beding, wat alle kin­ders wil skoolgereed maak, wat aan honderde duisende men­se wat nie lidmate van die kerk is nie, maatskaplike dienste lewer, wat hande vat met NRO’s en plaaslike regerings teen geweld en verval.

Frans Cronje skryf in sy boek ’n Tydsreisigersgids vir Suid-Afrika in 2030, dat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge se navorsing in 2016 aan­gedui het dat die groep welwillende mense in Suid-Afri­ka by verre die meerderheid is en dat rassisme glad nie so ’n groot faktor is as wat politici wil voorgee nie.

Die NG Kerk doen baie van ons publieke getuienis deur die SA Raad van Kerke (SARK). Die SARK se South Africa We Pray For-veldtog fokus op vyf aksies: genesing en versoening, armoede en ongelykheid, eko­nomiese transformasie, die herstel van familie­ban­de en die ankering van ons land se demokrasie.

In die komende jaar gaan daar onder leiding van die SARK uitgebreide konsultasies plaasvind waarin re­­geringslui, nie-regeringsorganisasies en kerke betrek word om op al hierdie terreine beleid te vorm wat ge­skoei is op gesonde morele grondbeginsels. Die kerk moet in die lig van die reuse morele vakuum in Suid-Afrika, nou leiding gee. Die vertroue in politici en ander rolspelers is nou net te laag.

Die grootste onthulling van alle tye bly egter onge­twyfeld dat die Jesus-kind die Seun van God is. Ons gaan in die komende Adventstyd weer oor hierdie ont­hul­ling besin. Dit het die gang van die geskiedenis ra­di­kaal beïnvloed. Die bevrydende krag van die evange­lie het mense die lig laat sien en telkens laat uitbreek on­der magsmisbruik en vergryp. Mag die Kersfees wat kom ons almal weer laat verstaan wat die genade van God vir ons en vir ander beteken. En mag hierdie ont­hul­­lende boodskap aan ons nuwe verbeelding gee vir die moontlikhede van 2018.

Ds Nelis Janse van Rensburg is die voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Reformasie: 500 jaar later

Ek hoor getuienisse van oor die hele NG Kerk van die talle vieringe en herdenkingsgeleent­hede van die 16de eeuse reformasie. Ek hoor van preekreekse oor die solas, herbevestigende preke oor die voorrang van genade, die heerskappy van Chris­tus, die gawe van geloof, die gesag van die Bybel, en die eer van God as ons enigste mandaat. Ek aanvaar dat in baie gevalle die motief van dié herdenkings is om ou waarhede asook die identiteit van die kerk te her­bevestig.

Maar ek hoor ook getuienisse van baie gevalle waar die duidelike bedoeling van die ad fonte-oproepe (te­rug na die bronne) is om nuwe denke aan te moedig oor die toekoms van die kerk. Die manier waarop ons tans die effek en impak van die Westerse kultuur op ons verstaan van die evangelie ondersoek, is beslis ’n voorbeeld en teken van die ware gees van die Reforma­sie. Die po­gings om die inhoud van ons geloof te deko­lo­niseer, is ook so ’n poging, om ontslae te raak van al die baadjies wat oor die eeue vir die evangelie aangetrek is.

Daar was oor die afgelope dekades ’n sterk klemver­skui­wing in ons verlossingsteologie van persoonlike verlossing en vroomheid na geregtigheid en menslike florering. Die bevrydende krag van verlossing word vandag beslis nie meer net verstaan as die poort na die hemel nie, maar ook as ’n nuwe manier van leef met mekaar.

Op baie maniere het ons verbeelding vir hierdie wê­reld baie gebaat by ons hernude verstaan dat Christus ons roep om nou reeds sy koninkryk in ontvangs te neem met ’n lewe van geregtigheid, vrede, vergifnis en liefde. Ons het geleer dat gelowiges ’n groot verant­woor­delikheid het om teen magsmisbruik en ongereg­tigheid te stry. Ons Algemene Sinode het vervolgens in 2011 besluit om die Belydenis van Belhar deel te maak van ons belydenisgrondslag. Daarmee is uit­druk­­king gegee aan ons oortuiging dat die kerk sonder vrees moet getuig teen alle magte van onreg­ver­digbare verdeeldheid, onreg en liefdeloosheid.

Maar in hierdie reformasie-tyd moet ons evalueer wat die impak is van al hierdie verskuiwings in be­klem­toning op die lewe van die kerk. Ons moet deeglik kennis neem van onder meer Wolfgang Huber, bis­kop van die Duitse Evangeliese Kerk, se denke oor die self-sekularisering van die kerk (Kirche in der Zeitenwende: Gesellschaftlicher Wandel und Erneuerung der Kirche).

Hy meen dat die kerk deur sy eie aksies, woorde en besluite bygedra het tot die sukses van die huidige pro­ses van sekularisering. Vir Huber is die sterkste aan­dui­ding hiervan die kerk se besluit om morele uitda­gings sy hooftema te maak. Die ontmoeting met die Heilige en ervaring van die transendente het ’n sekon­dêre tema geword. Met die meervoudige aanbod van mo­rele oriëntasies in die wêreld, kyk mense nie meer net na die kerk vir morele leiding nie.

Max Weber (The sociology of religion en The Protestant ethic and the spirit of capitalism) het natuurlik al heelwat vroeër gesê intellektueles neig om op rasionele ma­niere na betekenis in die werklikheid te soek. Ra­sio­­nalisme onderdruk die geloof in die bo-natuurlike en eindig met ’n ontnugterde wêreld. Dit wat beskou is as misterieus word op rasionale maniere verduidelik, sό dat die wêreld agtergelaat word sonder misterie, geheime en gode. Rasionalisme laat geen ruimte vir die transendente om binne die teenswoordige wêreld te opereer nie.

Voeg by hierdie belangrike skrywers se werk die reu­se-bydrae van Charles Taylor (A secular age), waar­in hy die metafoor gebruik van die sportstadion waar­van die dak stadig toegaan sonder dat die skare dit ag­ter­kom. Hulle is so gefokus op die spel met sy reëls wat voor hulle afspeel, dat hulle nie agterkom dat hulle alles daarbuite begin uitsluit nie. Uiteindelik eindig geseku­la­riseerde mense sό, met ’n geslote wêreldbeeld.

Ons sal in ons nadenke oor die betekenis van die Reformasie moet vra tot watter mate die rasionele aard van ons tradisie ons geloof in Christus oor die eeue beïnvloed het. Die missionale beweging se nuwe taal van deelname aan God en aan sy beweging in die wê­reld, resoneer met die taal van die evangelie. Maar ons sal moet teruggaan na die wortels van ons beweging en weer leer praat oor die koningskap van Christus en die krag van die bevryding wat Hy gebring het. Ons sal moet teruggaan na die betekenis daarvan om jou te bekeer tot Christus.

Dit moet immers ook beteken dat jy jou bekeer tot ’n lewe met Hom as Koning, tot die ontvang van die koninkryk, nou, maar ook in die ewigheid. Dit moet beteken dat ons nou reeds die koninkryk sien kom in geregtigheid, eenheid en liefde, alles tekens van die ewi­ge koninkryk waarin ons eendag ten volle gaan deel.

Dalk is ons gebrek aan ’n helder evangelisasiestrate­gie, tekenend van ’n verlammende onsekerheid oor die betekenis van bekering, bevryding, gehoorsaamheid, dissipelskap, die koninkryk hier en nou, die hemel op aarde en die opstanding uit die dood. Met ’n onsekerheid hieroor sal geen kerk groei nie.

In die Wêreldraad van Kerke het die “evangelicals” en die “ecumenicals” mekaar as bondgenote gevind met ’n merkwaardige helderheid. Ons kan beslis hier­by leer en weer reformeer.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Kerkeenheid en multikulturaliteit

Wit Suid-Afrikaners sal teen 2030 ongeveer 3% van die land se totale bevolking uitmaak. So het prof Flip Smit, bekende de­mo­graaf, al twee jaar gelede voorspel. Hy’t ook gesê die getal witmense in Suid-Afrika neem vanweë ’n ne­ga­tiewe bevolkingsaanwas en emigrasie met onge­veer 40 000 persone per jaar af. Ook in Namibië word die wit bevolking toenemend ’n kleiner minderheid.

Teen hierdie agtergrond kon die Algemene Sinode nie in 2013 ’n beter besluit neem as dat die NG Kerk moet transformeer om ’n missionale kerk te word nie.

Missionaliteit beteken immers dat jy God volg in sy beweging in die wêreld. Dit beteken ook dat jy verstaan dat van die geboorte-uur van die kerk af taalgren­se oorgesteek is (Hand 2) om die evangelie die wêreld in te neem.

Dit beteken ook dat die Heilige Gees se gee van nu­we verbeelding, soos Petrus in Handelinge 2 verduidelik, beteken dat grense tussen mense oorgesteek word. Oud en jonk, man en vrou, ryk en arm word ingeneem in die beweging van die Gees na die wêreld. En die eer­ste verbeelding wat die Gees aan mense gegee het, so ver­tel Handelinge 2, is ’n nuwe soort gemeenskap waar­in die grense tussen ryk en arm ook deurbreek word.

’n Kerk kan met ’n keuse vir enkelkulturaliteit homself uitrangeer uit die groter bewegings van God in die land.

Indien die kerk sou kies om ’n slegs Afrikaanse kerk te wees, is die poel van mense met wie hy die evangelie in Afrikaans kan deel in Suid-Afrika en veral in Namibië natuurlik heelwat groter. Maar ’n besluit tot eentaligheid klop nie met die geboorteverhaal van die kerk nie. Dit klop ook nie met die soort verbeelding wat die Heilige Gees aan mense gee om oor grense te beweeg nie. Dit bly beperkend.

Vir baie jare was die kerk se enigste strategie vir die multikulturaliteit van ons lande om verskillende denominasies tot stand te bring.

Daarna het ons besluit om die kerk te verenig en om as een multikulturele kerk te bestaan met verskil­len­de kulturele gestaltes om die verskeidenheid van tale te akkommodeer. Ons het nou ’n tussenorde wat ons in staat gaan stel om dit reg te kry, ten minste tussen ons en die VG Kerk. Ons gaan aan die begin van volgende jaar baie hard begin werk om dit ’n werklikheid te maak.

Baie mense het oor die jare gesê hulle is ten gunste van kerkeenheid, maar die eenheid moet “van onder af” groei. Hulle het waarskynlik bedoel van die ge­meen­tes en ringe af, terwyl ons nie glo dat dit “onder” is in die kerk nie.

Die feit is egter dat ons nuwe strategie juis nou is om eerstens tussen gemeentes en ringe en sinodale strukture die eenwording van die kerk te sien gebeur.

Maar selfs kerkeenheid kan nie meer ons enigste strategie tot multikulturaliteit wees nie. Daar is reeds heelwat gemeentes wat hulle missionale roeping so ver­staan dat hulle dit moontlik maak vir mense van ander agtergronde en tale om deel te neem aan die aktiwiteite van die gemeente.

Moderne tegnologie maak dit byvoorbeeld moontlik om tolkdienste by eredienste en samekomste te hê. Ander gemeentes hou alternatiewe Engelse dienste. Ander hou dienste in ’n ander amptelike taal van die land. Daar word selfs ruimte gemaak vir die bediening van Chinese mense wat in ons land woon.

Waar ons voorheen ver moes reis om by mense van ander wêrelde te kom, het dié mense van hierdie wêrelde die afgelope jare tussen ons kom woon. Miljoene mense het uit Afrika hierheen geëmigreer. Gemeentes sal goed doen as hulle byvoorbeeld in Swahili of Chichewa bedieninge tot stand kan bring. Ons het regtig nou verbeelding nodig vir die “wêreld” op ons voorstoep.

Nie een van hierdie aksies hoef ons as kerk se ver­bon­denheid aan Afrikaans te bedreig nie. Afrikaans is immers die gebedstaal van die meeste van ons lidmate en dit sou net onregverdig wees om nie in jou eie taal die evangelie te kan hoor en deel nie.

Ons uitdaging is daarom nie om die een vir die ander te verruil nie, maar om die Heilige Gees te volg na waar Hy ons roep. En as dit beteken dat ons op nuwe ver­beeldingryke maniere taal- en kultuurgrense moet oorsteek, dan sal ons dit eenvoudig in gehoorsaamheid moet doen.

Daar is nou moontlikhede om hele gemeentes uit ander bevolkingsgroepe in ons geledere te akkommodeer. Daarom sal ons eenvoudig ook ons kerkorde mooi moet bekyk om seker te maak dat dit die inslui­ting van andersoortige geloofsgemeenskappe as die tradisionele, ondersteun.

’n Missionale kerk is ’n verbeeldingryke kerk. Kom ons bid dat die verbeelding wat die Gees gee ons almal buite die spreekwoordelike boksies waarin ons dink, sal neem sodat die koninkryk op ongekende maniere sal kom in Suider-Afrika.

Ds Nelis Janse van Rensburg is die voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

’n Nuwe vuur in die NG Kerk

Ons almal het dit al in ons gemeentes beleef, hoe rampe en krisisse ons laat saamstaan. Dan sê ons dit met ’n klank van genoegdoe­ning: Ons lidmate staan darem bymekaar soos min wan­neer daar nood is. Daarop kan jy reken in hierdie ge­meente.

Maar die afgelope jare het dit waar geword van die hele kerk. Ons mense het bymekaar gestaan in tye van nood. Wat met die droogte gebeur het in die binneland en nou weer met die brande in Knysna en Plettenbergbaai, is eenvoudig merkwaardig.

Hulp het ingestroom van gemeentes en sinodes van oor die hele Suider-Afrika. Ek praat van massas hulp. Daar was droë en nat store, koue store en store met kom­berse en beddegoed in George. Die hulp is met vragmotors afgelaai. Ongelooflike verhale van welwillendheid en omgee het ontvou.

’n Fabriek in die Baai het byvoorbeeld 300 000 bokse geskenk om die noodvoorrade in te verpak. Toe raak die vragmotor se remme op pad na George on­klaar en die gloeiende remme steek die kartonne aan die brand. Die sleepwa en kartonne brand toe alles uit. Asof daar nie genoeg brande was nie. Toe skenk die fabriek nog 300 000 bokse. En binne enkele ure vind die sinodale kerkmense in die Baai ’n nuwe vragmotor om dit veilig in George af te laai. Merkwaardig!

Miljoene rande se finansiële bydraes is gemaak. Die Sinode van die Vrystaat het R1 000 000 geskenk. Die Sinode van Oos-Kaap het in hulle eie rampgebiede groot verligting help bring, maar boonop R300 000 aan die ringe in die Wes-Kaap waar dit gebrand het, gestuur. Uit Goudland Sinode en die Oostelike Sinode, ja, vanuit elke sinodale gebied het daar hulp gekom vir die mense van Knysna en Plettenbergbaai.

Die Wes-Kaapse Sinodale rampfonds het die dag nadat die brande begin verwoesting saai het, uit eie bronne begin oorbetalings doen aan die plaaslike ringe. Soos die bydraes van oor die land van sinodes, gemeentes en lidmate in die Wes-Kaapse fonds inbetaal is, is die geld aangewend om die nood van al die inwoners van die geteisterde omgewing te verlig. Die NG Kerk het ook met ander kerke saamgewerk en men­se vanuit die totale gemeenskap het bygedra.

En plaaslik het die kerkmense hulle stokflou gewerk. Kerksale en selfs pastorieë is as noodsentrums ingespan om brandweerpersoneel te help en ontredderde mense by te staan. Uiteindelik is daar selfs berading gereël vir diegene wat verliese gely het en met die verskriklike gevolge daarvan moes begin saamleef. Ons predikante het in die voorste linies van hulp en ondersteuning aan die lydendes gestaan.

Met die droogte in die binneland was dit nie anders nie. ’n Noodfonds is in die Kaap gestig en uitgebrei na die res van die kerk. Veevoer is van regoor die land na die droë gebiede versprei, vervoer is betaal, gras is in pilvorm beskikbaar gestel, finansiële skenkings kon die sink van boorgate moontlik maak, watertenks is by kerke aangebring en biddae is gehou.

Die NG Kerk het sy arms gevou om diegene wat ly. Mens en dier is versorg. Natuurlik het baie ander kerke, organisasies en mense ook gehelp. Maar binne die NG Kerk self was daar ’n wonderlike gesindheid van omgee, sorg en leierskap uit die boonste rakke.

Die waarheid van die evangelie is tog dat as een lid van die liggaam van Christus ly, ly almal saam. Die waarheid is ook dat ons verbondenheid aan mekaar oor veel meer gaan as eenstemmigheid rakende standpunte oor morele kwessies en vraagstukke. Ons ver­bon­­denheid en eenheid lê onpeilbaar dieper as wat ons meningsverskille soms verraai. Laat dit ’n les wees vir almal van ons wat so maklik praat oor skeuring en verdeeldheid. Ons is vir mekaar gegee en het mekaar ongelooflik nodig.

Die ekologiese krisis waarin die wêreld tans verkeer, gaan waarskynlik in die jare wat kom ons diepste gesindhede jeens mekaar soos selde vantevore blootlê. Die ware aard van ons eenheid en ons verantwoordelikheidsgevoel vir mekaar sal oral sigbaar wees. As die droogte van die afgelope twee jaar of die brande van die Tuinroete ’n voorskou is, gaan ons in die jare wat kom baie naby aan mekaar te staan kom – lotsverbonde, saamgevang in die greep van die aarde se stryd om oorlewing.

Die tien voorsitters van die samestellende sinodes van die Algemene Sinode en die lede van die modera­tuur het die afgelope week vir drie dae in Wildernis byeengekom, baie naby aan Knysna waar dit gebrand het. Daar het egter na afloop van ons byeenkoms ’n ander vuur in ons gebrand. Die vuur van die Heilige Gees het ons geïnspireer tot verbondenheid aan mekaar en tot nuwe verbeelding vir ons lande waarin God aan die werk is. Ons ontmoeting met God en met mekaar het ons diep bewus gemaak van ons broosheid, maar ook van ons heerlike roeping om in nood en vreugde deur ons eenheid te getuig van die nuwe lewe in Christus Jesus.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Nog ’n hoogtepunt in Wittenberg

Wittenberg is ’n plek van historiese hoog­te­pun­te. 

Op 31 Oktober 1517 kap Martin Luther hier sy 95 stellinge vas teen die deur van die kasteelkerk. Hy het dit veral teen die pous se gewaande gesag en sy mis­bruik van mag en die wyse waarop die kerk God se ge­nade vir alle mense aantas.

En op 5 Julie 2017, in Wittenberg, hou die wê­reld­kerk as ’t ware asem op wanneer vier van die grootste kerk­like strominge ’n ooreenkoms teken waarin hulle saam bely dat God se genade die enigste grond vir ons verlossing is. 

Die dramatiese gebeurtenis van 5 Julie 2017 is ingelui deur die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Ker­ke (met 129 lidkerke wat 80 miljoen lidmate ver­teen­woordig) en die Lutherse Wêreldbond wat ’n oor­eenkoms teken wat sê dat daar nou geen substantiewe teo­logiese verskille meer is wat die twee teologiese stro­­minge uitmekaar behoort te hou nie. Die twee stro­me behoort ineen te vloei en een beweging te word.

Tydens die reformasie het die paaie van die volgelinge van Martin Luther, die leier van die Duitse refor­ma­sie en Ulrich Zwingli, die leier van die Switserse reformasie, natuurlik geskei. Hulle meningsverskil het gehandel oor die wyse waarop Christus in die nagmaal teenwoordig is.

Daar was ook later groot meningsverskille oor Luther se sogenaamde twee-ryke leer, die ryk van God en die ryk van die wêreld. Johannes Calvyn en sy ondersteuners daarteenoor het onwrikbaar geglo daar is net een ryk – die ryk van God. Elke vierkante sentimeter behoort aan die Here.

Calvyn se leer van God se voorsienigheid het ook baie Lutherane se wenkbroue laat lig. Die oortuiging dat goed en swaar, vreugde en pyn, uit die hand van die Here kom, was vir sommige net te moeilik om te aanvaar.

Biblioteke vol boeke is sedert die 16de eeu geskryf oor die teologiese verskille tussen Lutherane en Calviniste. Uiteindelik, op 5 Julie 2017, kondig die twee stro­minge aan dat hulle hulle groot geskille bygelê het. Ons staan op dieselfde teologiese grond. Dit is ’n bui­ten­­gewone moment in die geskiedenis van die prote­s­tan­tisme. 

Maar, asof die ondertekening van hierdie ooreenkoms nie genoeg is nie, kom die internasionale kerk in dieselfde erediens weer ’n slag tot stilstand. Dis amper te veel om te verteer. Die Lutherane en Gereformeer­des, die Metodiste en die Katolieke Kerk teken op dieselfde dag ’n dokument oor die leer van regverdi­ging.

Vyfhonderd jaar tevore was die wyse waarop mense die ewige lewe bekom, die oorsaak van ’n revolusie. Duisende lewens is opgeoffer. Die waarheid van die evangelie was op die spel. Martin Luther se lees van Romeine 1:17 het ’n aardskuddende omwenteling ingelei. ’n Mens word sonder verdienste gered op grond van God se genade, en jy ontvang die vryspraak alleen deur geloof. Alleen genade en alleen geloof red. 

Die ondertekening van ’n gesamentlike verklaring van hierdie kerklike strominge oor die leer van regverdiging is dus van groot teologiese en kerklike belang. Die handtekeninge getuig natuurlik van diepgaande voorbereidende gesprekke en werk wat gedoen is. Dit getuig van eerlike worsteling en diepe selfondersoek. Dit getuig van ’n groeiende besef dat gelowiges mekaar nodig het. Dit getuig van die wêreldkerk se erns met sy getuienis. Eenheid en getuienis het immers alles met mekaar te doen. 

Elke erediensganger in Wittenberg wat die omvang van die gebeure verstaan het, het asem opgehou toe die Katolieke biskop naderstaan om te teken … so on­der die wakende oë van die 1 000 afgevaardigdes van die gereformeerde kerke van oor die wêreld.

En om alles te kroon is die Mennoniete en ver­teen­woor­digers van Episkopaalse Kerke ook daar om in hulle gelukwensinge hulle behoefte te betuig om deel te wees van die proses tot groter eenheid.

En toe lees die Roomse biskop ’n skitterende brief van versoening van Pous Franciskus. En selfs meer be­te­ke­nisvol as die inhoud van sy brief is die slot daarvan: “From the Vatican, Francis.” Niks van die “Pontif” of “Pope”, of “Hoof” of wat ook al nie. Hy skryf vir die Ge­reformeerdes en Lutherane en Metodiste som­mer net sy naam. Want hy verstaan waarskynlik hulle verset teen enige pous en hoof, anders as Christus, die Hoof.

En op ’n manier verklank dit sy eie lewenstyl van dienskneg-wees van die armes en verstotenes, dié titelloosheid. En hy begin dalk selfs iets verklank van die ander solas van die reformasie, sola Scriptura en solus Christus. 

Die vraag is natuurlik nou wat die implikasies van hierdie reuse-Wittenberg-gebeurtenis is vir die eenheid van die kerk in Suid-Afrika. As die wêreldkerk soveel brûe kan bou, kan gereformeerdes en hervor­mers en presbiteriane en kongregasionaliste en wie ook al wat oor sovele sake eenders bely, nog elkeen in hul eie orde en strukture kerk wees?

En die susterskerke, en die drie Afrikaanse kerke en die Lutherse Kerk? As die wêreldkerk diepgaande teo­lo­giese verskille kan oorkom, kan ons seker ook ons sake uitsorteer, ter wille van ons getuienis oor die ver­an­derende krag van die Heilige Gees wat aan die kerk sy lewe gee. 

Ons land roep vir ’n nuwe beliggaamde getuienis vanuit die kerk. Die grond is voorberei.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Die ekumeniese kerk

Die woord “ekumene” beteken eintlik “alle inwoners van die hele wêreld”.

Aanvanklik het die Grieke met die term na hulleself verwys: “Alle Grieke in die ganse wêreld”. In die Romeinse tyd is die betekenis uitgebrei na “almal in die ganse (bekende) wêreld”. Vandag gebruik die Christelike kerk die term om te verwys na “alle Christene in die hele wêreld”.

Die onderliggende oortuiging wat verklank word, is dat alle Christene met mekaar te doen het. Ons is verbonde aan mekaar. Die drie-enige God het met ons in verhouding getree. Hy verlos ons. Hy roep ons. Ons is sy liggaam.

Die versplintering van die liggaam van Christus is vir die Nuwe Testament ondenkbaar. Ook Augustinus het die idee van skeiding tussen gelowiges totaal on­aan­vaarbaar gevind.

In 1552 skryf Johannes Calvyn aan aartsbiskop Tho­mas Cranmer. Hy sê die liggaam van Christus “lê ­bloeiend” en hy (Calvyn) is gewillig om “met plesier 10 ose­ane oor te steek” om ’n konferensie by te woon, soos deur Cranmer beplan, ter wille van die eenheid van die kerk. “Dit moet gereken word as een van die grootste eu­wels van ons era dat die kerke so geskei is van mekaar,” skryf Calvyn. Calvyn argumenteer dat sake soos liturgieë en kerkordes tot die media res behoort wat vir groot verdraagsaamheid tussen Christene vra.

Dit is een van die belangrikste verpligtinge van die Algemene Sinode om te verseker dat die NG Kerk aktief deel is van die liggaam van Christus in die wêreld. Ons behoort daarom aan talle ekumeniese liggame waaronder die Wêreldraad van Kerke, die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (wat begin Julie in Leipzig vergader), en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke.

Ons het ook bilaterale verhoudings met talle kerke.

Gedurende die jare van politieke en kerklike isolasie het ons onsself wys gemaak dat ons op ons eie kan regkom. Maar die skade aan ons getuienis was omvattend. Die evangelie van Christus eis immers ’n ander benadering.

Terwyl daar sommiges is wat dink jy kan die ware kerk vind deur al meer af te stig, al meer isolerend op te tree en al meer eenstemmig te wees, leer die Bybel en tradisie dat hoe meer jy afskei, hoe minder vertoon jy die beeld van Christus. Ware kerkwees en eenheid het dus alles met mekaar te doen.

Om saam ingeneem te word in die beweging van God in die wêreld, laat diversiteit vervaag. Om saam die koninkryk van God in ontvangs te neem waar dit inbreek in ’n stukkende wêreld, is die heerlike roeping van die kerk.

Wêreldwyd is daar nou groot beweging in die verhoudings tussen kerke. Kleiner verskille word onder­ge­skik gestel aan die groter belang van die koninkryk. In Europa herdenk die Katolieke Kerk byvoorbeeld saam met die protestantse kerke die reformasie en word daar gedink oor die implikasies daarvan vir die lewe en getuienis van die liggaam van Christus.

Ook die NG Kerk se kerklike verhoudings het die af­gelope tyd baie ontwikkel. Ons terugkeer na die Wê­reld­raad van Kerke het vir ons nuwe geleenthede ontsluit. In die plaaslike ekumeniese omgewing is ons ont­vang en gelukgewens soos die verlore seun wat te­rug is by die huis. En ons voel weer tuis en gemaklik met die wysheid van soveel welmenende mede-gelo­wi­ges tot ons beskikking.

Die Algemene Sinodes van die VG en NG Kerk het nou ’n tussenorde aanvaar wat dit moontlik maak vir kerk­like vergaderings om te verenig: gemeentes, ringe en sinodes. Ons onlangse gesprekke was hartlik, indringend en konstruktief. Die 17 voorsitters van die twee kerke se sinodes vergader in Augustus om die uit­voering van die twee sinodes se besluit verder te neem.

Ons word vanjaar hopelik ook lid van die Church Unification Commission (CUC). Die CUC bestaan uit die Uniting Presbyterian Church in Southern Africa, Anglican Church of Southern Africa, Methodist Church of Southern Africa en die United Congregational Church of Southern Africa. Waar kerke van hier­die groep nie alleen gemeentes tot stand kan bring of onderhou nie, word daar saamgewerk om kerk te wees. Dit bied nou skielik opwindende geleenthede vir ons op baie plekke in SA.

Ons het ook ’n gesprek met die Hervormde Kerk in vooruitsig. Ons volle moderature gaan in Augustus vir ’n dag saam in afsondering om te dink oor die pad vorentoe. Die Uniting Presbyterian Church of Southern Africa (UPCSA) het ons ook genooi vir gesprekke oor groter eenheid. Hierdie is maar enkele van die inisiatiewe waaraan die Moderamen tans werk. Ons glo dat die eenheid van die kerk ’n wesenlike deel van ons opgaaf is.

Die uitdaging is nou om in alle plaaslike kontekste die eenheid van die kerk te bevorder. Ek het in die Pinkstertyd diep onder die indruk gekom van die wyse waarop die Heilige Gees mensgemaakte grense ignoreer en die beweging van God na die onwaarskynlikste plekke neem. Hy gee verbeelding aan die kerk.

My gebed is dat die Gees aan elke gemeente en ring en sinode die verbeelding sal gee om saam met ander gelowiges van ander denominasies in elke gemeenskap te getuig van die veranderende krag van die liefde van Jesus. Dit is nou die tyd. Ons land is reg daarvoor. Die kerk se getuieniskrag sal nou lê in die nuwe verhoudings waarin ons drome droom en gesigte sien van God se inbrekende koninkryk in ons wêreld.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Godsdiens in skole

Die saak oor godsdiens in skole is eersdaags in die hof. Die saak is van belang vir elke landsburger, Jode, Moslems, Christene – ook diegene wat nie met ’n bepaalde godsdiens assosieer nie. Die saak word gevoer teen ses skole wat na bewering buite die voorgeskrewe wetlike ruimte godsdiens be­oe­fen, maar dit het groot praktiese en veral prinsipiële implikasies.

Die Suid-Afrikaanse grondwet se Artikel 15 ver­klaar: “(1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening. (2) Gods­diensbeoefening kan by staats- of staatsondersteunde instellings geskied, mits – (a) daardie beoefening reëls na­kom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is; (b) dit op billike grondslag geskied; en (c) bywoning daarvan vry en vrywillig is.”

Die tersaaklike openbare gesag word deur die SA Skolewet, Wet 84 van 1996, as volg aangedui: “(7) Vryheid van gewete en godsdiens in openbare skole behoudens die Grondwet en enige toepaslike provinsiale wet kan godsdiensbeoefening by ’n openbare skool gehou word ingevolge reëls wat deur die beheerliggaam uitgevaardig is, indien sodanige beoefening op ’n billike wyse geskied en bywoning daarvan deur leer­ders en personeellede vry en vrywillig is.”

Daar is ingevolge die Skolewet van 1996 twee soorte skole in Suid-Afrika: openbare skole en onafhanklike skole. Die filosofie onderliggend aan ’n openbare skool is dat die gemeenskap betrokke is en die etos en godsdiensbeleid van ’n skool bepaal. Die skoolgemeenskap word verteenwoordig deur die beheerliggaam wat ver­kies word en waarin personeellede en leerders ook ver­teenwoordig word. Openbare skole is dus nie staatskole nie. Dis gemeenskapskole.

Tot dusver is die beginsel goed gehandhaaf dat beheerliggame ingevolge die wet die gesag het om die etos en godsdiensbeleid van skole te bepaal. Die vraag is of beheerliggame daarin slaag om billik te wees en om bywoning van godsdiensbeoefening regtig vrywillig te maak, sonder dat daar direk of indirek teen kin­ders gediskrimineer word.

Verskeie teologiese vrae word nou ook gevra. Is dit nie maar primêr ouers en kerke se verantwoordelikheid om die godsdienstige onderrig van kinders te behartig nie? Is die gevaar van indoktrinasie by skole nie so groot dat die versigtiger weg eerder gevolg moet word en heeltemal weggedoen moet word met gods­diens­onderrig en byvoorbeeld ’n Christelike etos nie? Moet daar volstaan word met prof Kadar Asmal se 2003-beleid van onderrig in kennis van die godsdienste?

Die dieper teologiese onderskeidings gaan verder terug in ons tradisie, van Martin Luther se twee ryke tot by AA van Ruler se Religie en Politiek in 1945 waar­in hy godsdienstige neutraliteit van die staat ernstig bevraagteken. Later is hierdie debat in SA verder ge­voer deur verskeie gereformeerde teoloë.

Op ’n filosofiese vlak moet die vraag na neutraliteit in die onderwys egter nou weer gevra word. René Descartes (1596-1650) maak as grondlegger van die mo­derne wetenskap die aanname dat slegs dit wat waar­neembaar en meetbaar is, tot die terrein van die wetenskap behoort, en dat slegs dit wat absoluut seker is, as goeie wetenskap kan tel.

Intussen het die wetenskap bewys dat niks in die wetenskap seker is nie. Einstein het met sy relatiwiteits­teorie wetenskaplike sekerheid nek omgedraai. Lees maar Charles Taylor se A secular age (2007) om te verstaan hoe die wetenskap ontbloot is as nie neutraal nie en nie sonder groot aannames wat ’n groot invloed het op die keuses wat bv in natuurwetenskaplike on­der­soeke gemaak word nie. Hy ontbloot die morele hoë­grond-posisie van rasionaliteit as ’n keuse vir ’n ge­slote wêreldstruktuur wat op irrasionele aannames be­rus. Dis soos ’n sportstadion waarvan die dak toegemaak word. Die fiksasie is dan so op die spelreëls dat die wêreld buite die stadion by wyse van keuse totaal bui­te rekening gelaat word. Die resultaat is ’n beper­ken­de kennisleer.

Die aanname dat die onderrig van kinders in ’n “neu­trale wetenskaplike ruimte” kan geskied, is daarom myns insiens per definisie vals. Leerders kom uit hulle ouerhuise en wêreldblootstelling met oortuigings en geloof, met aannames en idees. So kom hulle leerkragte ook by die skool aan, met oortuigings en aannames. So skryf ander leerkragte ook aan kurrikulums en vakinhoude, met aannames en ’n wêreldbeskouing.

Godsdienstige neutraliteit is ’n mite. Selfs sekulari­teit berus op mense se oortuigings en aannames. En die skeidsregter oor wie se aannames (en mites) die beste is, kan beslis nie die staat wees nie. Daarom is openbare skole die regte ding vir ’n land met ’n duurverworwe grondwet wat gelykheid, en menswaardigheid respekteer en daarom vryheid bied vir ’n diversiteit van oortuigings. Openbare skole moet eenvoudig ’n keuse kan maak vir ’n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing, etos en geloofsoortuiging.

Maar die Bybel en ons land se grondwet vereis ook geregtigheid. Daarom behoort skole met ’n Christelike etos vanuit hulle diep oortuiging oor hoe God verhoudings tussen mense sien, kliphard te fokus op godsdienstige praktyke in skole wat niemand in verleentheid stel, domineer, dwing, teen hulle diskrimineer en hulle onwelkom laat voel nie.

Daar rus ’n dure plig op skoolgemeenskappe wat gekies het vir ’n Christelike etos vir hulle skool, om nie so daarmee om te gaan dat hulle eerder “preaching” as “teaching” beoefen nie. Die God wat hulle aanbid, vra juis groot sensitiwiteit vir andersdenkendes en onseker mense, versigtigheid, deernis, geregtigheid en liefde. Skole wat hulle godsdienstige keuses, selfs onbedoeld, op ’n dwingende wyse aanbied, voldoen nie aan die eise van die wet nie, maar sal ook weer moet dink of hulle so Christelik is as wat hulle bedoel om te wees.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Protes

Die politieke gebeure die afgelope weke in ons land was intens en uitdagend. Die president en sy medeleiers moet eenvoudig verantwoor­de­lik gehou word vir die politieke en ekonomiese toe­stand waarin ons land verkeer.

Verskeie staatsdepartemente het oor die afgelope aantal jare hopeloos gefaal in hulle verantwoordelikheid teenoor die mense van Suid-Afrika. Hierin het swak aanstellings plus ’n gebrek aan ’n kultuur van ver­antwoordbaarheid ’n groot bydrae gelewer.

Die president is nooit deur sy party of die parlement verantwoordbaar gehou vir onder meer die Nkand­la-skande nie. Die konstitusionele hof moes hom dwing om verantwoordelikheid te aanvaar. Die hof het ook gesê dat hy as president nie sy verantwoor­de­likheid teenoor die grondwet van Suid-Afrika nagekom het nie. Ook het ministers die een mislukking na die ander in hulle portefeuljes aangeteken sonder dat hul­le verantwoordelik gehou is óf hulle posisie in die regering in gedrang gekom het.

Die onlangse kabinetskommeling het klaarblyklik niks te doen gehad met die meriete van ministers se werk nie. Die sekerste bewys hiervan is die heraanstelling van Batabile Dlamini. Die hoogste hof het pas aangedui dat sy misluk het as Minister van Welsyn met haar hantering van die uitbetaling van staatstoelae. Sy het die land gelei tot op die rand van ’n afgrond. Maar sy is weer aangestel in die nuwe kabinet.

Bekwame ministers moes egter waai. Die uiters verdagte verslag oor Pravin Gordhan wat kwansuis die re­gering in die buiteland sou gaan saboteur, spreek boek­dele oor die moraliteit wat in hierdie prosesse ge­geld het. Ministers wat die president se leierskap be­vraag­teken het, het in die slag gebly.

Dis duidelik dat ons land by ’n kruispad gekom het.

Die frustrasie van opposisiepartye en die burgerlike samelewing, waarby ingeslote ekumeniese liggame soos die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), The Evangelical Alliance of South Africa (TEASA), die Nasionale Kerkleiersforum, en die Tussenkerkli­ke Raad (NG Kerk, Gereformeerde Kerke en die Her­vorm­de Kerk) met die president en die regering se on­be­­­kwaamheid in baie departemente, het kookpunt be­reik.

Die land ly tans ongekende skade, nie net oor Stan­dard & Poor se rommelstatusbesluit nie, maar ook as gevolg van ontoereikende basiese onderwys, gebrek­ki­ge naskoolse opleidingsgeleenthede, te min werksge­leenthede, mislukte polisiëring op talle plekke, be­denk­like ekonomiese transaksies en … en … en.

Die vraag is hoe ons protes kan aanteken. In ’n de­mo­kratiese staat is daar ’n veeltal opsies. Die stembus het waarskynlik die sterkste impak. Daar is egter ook die parlement waarin openbare debat gevoer word en misbruike aan die kaak gestel kan word. Daar is die openbare media waarin debat gevoer kan word, en beweerde onreg aan die lig gebring kan word. Daar is ge­leenthede vir openbare protes by wyse van petisies en op­togte as ’n demonstrasie van verset. Daar is howe waarin leiers tot verantwoording gedaag kan word op grond van wetlike of gemeenregtelike oorwegings. Daar is die Artikel 9-instellings soos die Openbare Be­sker­mer en die Ouditeur-generaal. Daar is burgerreg­te­like organisasies en talle nie-regeringsorganisasies wat geleenthede bied om op ’n ordelike wyse protes aan te teken.

Die NG Kerk het onlangs saam met TEASA ’n baie sterk appèl gemaak op ANC-LP’s om die president ver­­antwoordbaar te hou en nou in belang van Suid-Afrika se mense op te tree. Hierdie oproep het gevolg op talle ander appèlle op die president en die regering.

Christene het ’n dure verantwoordelikheid om hier­die opsies te benut en te stry teen die verontregting van mense. Dit is immers armes en randfigure wat die implikasies van swak leierskap die ergste voel.

Ons moet profeties onreg uitwys en op die naam noem. Ons moet doelgerig deelneem aan die geleent­hede vir protes en verset. Maar, en dit is baie belang­rik, ons moet dit doen met behoud van ons Christelike waar­digheid.

Vloek en skel pas immers nie by ons getuienis nie. Karaktermoord is nie ons ding nie. Rassisme is nie hoe Jesus ons geleer het nie. Moedeloosheid en neerslagtigheid is nie die styl van dissipels van Jesus nie. Die verkondiging van onwaarhede net omdat die doel die middele heilig, sal ons net so skuldig maak soos diegene teen wie ons protesteer. Veralgemenings oor men­se, dit wil sê om mense in groepe te plaas en dan as sodanig te vervreem met afwysende of neerhalende uitsprake, pas nie by ons nie.

Geesvervulde mense is mense met hoop. In Handelinge 2 sê Petrus, dit is mense wat gesigte sien en dro­me droom van Jesus se heerskappy. Die Heilige Gees gee ons oë vir ’n beter toekoms en laat ons ’n wêreld vi­sualiseer wat ’n voorloper is tot die ewige koninkryk. Daarin is liefde en goedgesindheid teenoor alle mense die onderliggende motief. Daarin is vergifnis en ge­na­de die fondasie. Daarin is geregtigheid ’n hoek­steen. Ons sal nie goed doen as ons in die komende maan­de praat soos almal, protesteer soos almal, haat en rasse-ste­reotipes versterk soos baie nie.

Ons ware karakter blyk dikwels die beste wanneer ons kwaad is. Ons moet nou ons ware kleure wys. Dis die kleure van mense wat Paasfees gevier het, en die heerskappy van Jesus ook in hulle protes en verset beliggaam.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

State of the Church

Dit was met verslaentheid waarmee ons toegekyk het na die tonele wat voor ons op die televisie afgespeel het tydens die “State of the Nation”-toespraak. Die gebrek aan respek vir die instelling van die parlement en die amp van die president, gepaardgaande met ’n verval van ’n basiese kultuur van hoflikheid, het ons oorbluf.

Oor die president se toespraak, oor wat hy gesê het en wat hy nie gesê het nie en wat hy moes gesê het, is deeglik geredekawel. Dit is soos dit hoort in ’n demokratiese land. Oor die detail daarvan wil ek nie hier skryf nie. My ergste vrees oor die aand se gebeure, insluitende die futloosheid van die toespraak, is egter dat dit ’n ware refleksie is van die toestand van die nasie.

Onbeholpe leierskap, interne magstryde, ’n gebrek aan vertroue in die integriteit van leiers, opgeblaasde ego’s, misbruik van mag, swak aanstellings, persoonlike verryking, ideologiese blokvorming en talle ander faktore het waarskynlik help bou aan die prentjie van die nasie wat ons in die parlement sien ontvou het.

Die vraag is of daar ’n ander kant aan die verhaal is. Gelukkig is die antwoord ’n besliste ja. Want verreweg die meerderheid landsburgers is welwillende mense wat daagliks saam werk, saam in gemeenskappe diens lewer, saam skoolgaan en studeer, saam op fabriek­vloere staan, saam tegnologie ontwikkel en benut, saam besigheid doen, saam koop en verkoop, saam in hospitale lê, wat na mekaar omsien en mekaar se be­lange op die hart dra.

As dit nie vir hierdie welwillendheid was nie, ten spyte van die diversiteit van die samelewing, was ons nou baie dieper in die moeilikheid. Die algemene ver­draagsaamheid en welwillendheid van gewone lands­burgers dra ons nasie deur ’n baie moeilike tyd.

As jy ’n Bell-kurwe sou trek van die welwillendheid van gewone Suid-Afrikaners jeens mekaar, is die klok­vorm waarskynlik nog redelik rond en groot. Hierdie werklikheid is die enigste buffer wat keer dat dit wat ons in die parlement sien, oorspoel na die uithoeke van ons samelewing.

Die verdraagsaamheid tussen die verskillende gods­dienste in Suid-Afrika is ’n goeie voorbeeld van die wyse waarop ons in Suid-Afrika geleer het om vir mekaar ruimte te gun. Leiers van die onderskeie godsdienste se voorbeeld in hierdie verband is van kritiese belang om te verseker dat ons nie in Suid-Afrika godsdienstige onverdraagsaamheid het wat lei tot anargie en geweld nie.

Ons moet egter nie die fout maak om die welwillendheid van die land se mense jeens mekaar as vanselfsprekend te aanvaar nie. Die gebeure op die formele politieke terrein plaas tans ongekende druk op gewone mense se goedgesindheid. Terwyl ons hoop dat daar sterker middelgrond in die partypolitiek in Suid-Afrika sal ontwikkel, is die kragte van verwyde­ring en polarisasie egter sterk en aktief.

Die rol van die kerke in Suid-Afrika om mense se goedgesindheid te ondersteun en te bevorder, raak nou belangriker as ooit. Die kerk moet nou verdraag­saamheid beliggaam. As kerk moet ons verskeidenheid omarm. As kerk moet ons wys hoe mense met ver­skille met mekaar omgaan en mekaar vashou.

Die slegste wat kan gebeur is dat die kerk fragmenteer, dit wil sê in stukke spat, in magsblokke funksioneer, verskeidenheid bo eenheid stel en deel word van ’n polariserende nasionale en internasionale werklikheid.

Ek het daarom gewonder oor die vraag hoe ’n “State of the Church”-byeenkoms nou sal lyk as dit op nasionale televisie uitgesaai sou word. Sou die nasie diep onder die indruk kom van ons verbondenheid aan mekaar?

Sou die nasie beïndruk word deur ons gerigtheid op die koms van die koninkryk? Sou die nasie ons re­spek vir mekaar en ons fokus op die waardigheid van alle mense beleef? Sou die nasie sien dat ons mense is wat die Kruisevangelie ons eie gemaak het en dat ons ’n dienskneggestalte aangeneem het? Dat die kerkverslae getuig van ’n kerk wat versoening bewerk in elke plaaslike gemeenskap, wat diensbaar is aan die koninkryk deur in die wêreld diensbaar te wees?

En dalk die heel belangrikste: Sou die nasie sien dat dit regtig nie vir ons om onsself gaan nie, maar om die heil en die florering van die mense van ons mooi land? Sal die nasie kennis neem van die verhoudings tussen gemeentes van verskillende kerke op plaaslike vlak en kerke nasionaal en internasionaal?

Sou die nasie sien hoe ons die buffer van veiligheid en selfverwesenliking laat groei deur die verkondiging van God se liefde en genade vir alle mense?

Ek wonder wat sal die Hoof van die kerk in sy toespraak sê?

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Ek voorspel reën vir 2017

Die hemele het geopen op 1 Januarie 2017. Die dorre aarde het hom dikpens gedrink en wat oor is laat bymekaarkom in panne, damme, lopies en riviere. Die gebede van soveel gelowiges is verhoor en die ergste droogte in dekades is op baie plek­ke gebreek.

Die jaar kon vir duisende landbouers en talle gemeenskappe nie beter begin nie. Die breë gemeenskap van gelowiges juig saam oor hierdie uitkoms uit die hand van die Here. Oral hoor jy hoe mense hulle reënstories vertel. Hulle vertel van die millimeters en hoe die waters geloop het en hoe hulle weet die wêreld om hulle gaan verander.

Dit is natuurlik pynlik om in sulke tye te hoor van landbouers wat nog nie reën gehad het nie. Jou hart krimp ineen oor hulle beproewing.

Die jaar begin ook met die goeie nuus van ’n matriekslaagsyfer van 72,5%. In talle huise word wonderlike matriekprestasies gevier. Nuwe geleenthede wink en die optimisme is groot. Die kerk juig ook hieroor saam met ouers en leerders wat presteer het.

Maar dié droogte is nie gebreek nie, nie eens amper nie. Net 36,6% van die leerders wat in 2005 skool toe is, het matriek geslaag. Die hartseer oor die ander 63,4% is vir die kerk baie swaar om te dra.

Die kans dat hierdie laasgenoemde ongeveer 700 000 mense ooit ’n positiewe bydrae sal kan maak tot die land se ekonomie is besonder klein. Die 27,1% werk­loosheidsyfer gaan trouens ’n opwaartse hupstoot kry. Die 36% wat geslaag het en deel gaan word van die belastingbetalende bevolking gaan uiteindelik moet help om die druk te verlig om aan diegene sonder werk en heenkome te voorsien.

Die talle suksesverhale van matrikulante wat in die moeilikste omstandighede kon deurdruk en slaag, herinner ons natuurlik aan die werklikheid dat daar vir elkeen wat die omstandighede te bowe kon kom, talle was vir wie dit net té beperkend was. Net te veeleisend, net te emosioneel brekend, net te aftakelend, net te oorweldigend om sukses te behaal te midde van die swaarste omstandighede.

Ons land het nou groot reën nodig. Dis die reën van die Kersevangelie. Die Kersfeesdienste van 2016 is bygewoon deur honderdduisende mense. Ek en my gesin was by ’n wonderlike diens, dit was die tweede van drie dienste. Die kerk was elke keer volgepak met mense wat lus was om die Goeie Nuus te hoor, om die reën te ontvang. Die Goeie Nuus wás toe verkwikkend soos reën. Ek het geweet, dis dié reën wat ek en die land nodig het.

Die Goeie Nuus is dat Christus regeer en dat sy heerskappy strek tot aan die uiteindes van die wêreld, maar ook tot in alle omstandighede.

In die oggendkoerant met al die matriekstories vertel ’n jongman hoe hy die enigste een is in sy huis wat nie die pad byster is nie. Sy pensioenarispa se R1 500 is hulle enigste inkomste. Sy ma het ’n drankprobleem, maar hy’s nie vir haar kwaad nie. Hy is die enigste een in sy huis wat die Here dien. Dis hoekom hy matriek kon maak.

’n Mens het nie geld nodig om die Here te dien nie. Ook nie goeie omstandighede nie. Maar jy’t Christus nodig om verbittering te verruil vir vergifnis. Jy’t Christus nodig om te bly hoop. Jy’t Christus nodig om jouself en jou gawes in perspektief te sien. Jy’t Christus nodig om met deernis te bly leef. Jy’t Christus nodig om ’n roeping te hê om te dien. Jy’t Hom nodig om te volhard. Jy’t Hom nodig om te oorwin oor die kwaad en die neerdrukkendheid van omstandighede. Jy het die Goeie Nuus nodig om te kan leef.

Die Goeie Nuus is natuurlik ook dat die Koning se navolgers in afhanklikheid van Hom leef. Hulle treur saam met die wat treur (of nie deurgekom het nie, of nie werk het nie, of nie kan studeer nie, of moedeloos is) en is vredemakers. Hulle is rein van hart en honger en dors na geregtigheid. Hulle herinner almal aan hulle belangrikheid in die Koning se ryk en die droom wat Hy vir hulle droom. En hulle help mense om dié Koninkryksdroom in ontvangs te neem. So word hulle deel van die reën.

Ek het dikwels in die Noord-Kaap met groot medelye in droogtetye by boere gekom. En net so dikwels het hulle my herinner dat as die nood op sy hoogste is, die uitkoms op sy naaste is. Die Goeie Nuus-reën het reeds in hulle hart geval.

Mag God dit vanjaar laat reën in Suid-Afrika met sagte deurdringende reën. Mag dit in die besonder reën op ons land se voorskoolse kinders – dat hulle reg sal wees vir die twaalf jaar lange reis.

En mag die reën ons verkwik teen moedeloosheid in, en mag Hy ons dan deel maak van die Goeie Nuus-reën. Hulle sê ’n mens moet jou mond uit die weer uit hou, maar ek voorspel reën vir 2017.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Vrede vir julle

Die buitengewone Algemene Sinode was ’n intense ervaring. Soos in die res van die wêreldkerk bly homoseksualiteit maar net ’n baie verdelende onderwerp en enige gesprek daaroor ontlok uiteenlopende menings.

Ons moet nou goed dink oor die waarde van kerk­eenheid. Die Nuwe Testament ken net een kerk wat bestaan uit gemeentes wat saam dink, dien, stuur, getuig en mekaar versorg.

Hierdie gemeentes sluit mense uit diverse agtergronde in. Daar is ook meningsverskil oor talle kwessies in hierdie Nuwe-Testamentiese kerk. Besnydenis, offervleis, die verhouding tussen man en vrou, die uitverkiesing, seksuele gedrag en die opstanding van Jesus is almal onderwerpe waaroor daar verskil is.

Maar die kerk van die Nuwe Testament bly ’n enkelvoudige liggaam, nie liggame nie, die volk van God, ’n huisgesin, die bruid van Christus.

Kerkeenheid en waarheid behoort ook nie sommer teen mekaar afgespeel te word nie. Eenheid bestaan ter wille van die waarheid. Verskillende perspektiewe dien immers die waarheid, herinner aan werklikhede wat nie vergeet mag word nie, ontsluit ruimtes vir ver­kennende ondersoek, wys op die relatiwiteit van oortuigings wat in bepaalde kontekste verabsoluteer word, stel nog bronne van kennis aan die orde, bring insig, bring wysheid.

Ons het mekaar dus in hierdie tyd baie nodig. Na elke moeilike en dapper besluit moet ons mekaar vertrou, goed luister én soek na bevestigende wysheid.

In ons onderskeidingsproses oor selfdegeslagverbin­tenisse het dit duidelik geword dat die NG Kerk baie ernstig is oor die Bybel as geïnspireerde Woord van God. Die besluite van vorige sinodes oor die hantering van die Skrif, oor die wyse waarop die waarheid van die Bybel ontsluit word, die historiese konteks wat ernstig in ag geneem moet word, die groot afstand tussen verlede en hede wat gerespekteer moet word, die wêreld van die leser wat ernstig opgeneem moet word, die verstaansbril waarmee elke leser lees, is almal herbevestig. Die verbintenis hiertoe was eenparig.

Daar behoort ook na die sinode nie onsekerheid te wees oor die NG Kerk se verbintenis tot die huwelik as ’n heilige lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou nie. Dit is ’n oortuiging wat onder meer ge­skoei is op Jesus se radikale uitspraak teen die dominante patriargale diskoers van die Jode dat ’n vrou die eiendom van die man se familie word wanneer ’n huwelik gesluit word.

“Nee,” sê Hy: “Daarom sal ’n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een.” Die Algemene Sinode is ernstig oor die huwelik.

Die Sinode is ook ernstig daaroor dat die huwelik die enigste plek is waar seksuele omgang beoefen mag word. Hierdie oortuiging van die Algemene Sinode volstaan dus met ’n vroeëre besluit dat lukrake seksuele verhoudings en saamwoonverhoudings waar twee mense in ’n seksuele verhouding met mekaar leef, nie Bybels aanvaarbaar is nie. Dit sluit ook die moontlikheid van die kerklike aanvaarding van seksuele verhoudings tussen mense wat homoseksueel is, uit.

Die Algemene Sinode het ook duidelik verklaar dat geen mens minderwaardig behandel mag word nie, maar dat daar met respek en liefde teenoor alle mense as beelddraers van God opgetree moet word.

Al die ampte van die kerk is daarom ook toeganklik vir enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is. Kerkrade moet vir alle mense dieselfde Christelik-etiese standaarde aanlê.

Die Algemene Sinode het by die aanvang van sy stel besluite oor selfdegeslagverhoudings besluit om “nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing waar­­van die Gees die gemeentes nie oortuig het nie.”

Die Algemene Taakspan Regte het egter nou die funk­sie om aan te dui waar die grense lê van kerkrade se plig en voorreg om besluite te neem oor lidmate wat in homoseksuele verhoudings is. Dit lyk of die dringendste vraag is of kerkrade selfstandig kan besluit om homoseksuele verhoudings te seën. Die doel van die Algemene Sinode se beleid is immers om ’n raamwerk te bied vir kerklike optrede.

Ons het voor die buitengewone Algemene Sinode geantisipeer dat daar moeilik ’n besluit geneem gaan word waarmee almal gaan saamstem. Dit blyk nou uit die reaksie van kerkrade en lidmate dat daar inderdaad weerstand is teen die besluite van die sinode. Dit opsigself is nie ’n verrassing nie.

Die kuns is egter nou vir diegene wat verskil om selfbeheersing aan die dag te lê. Diesulkes het kerk­regtelike opsies om hulle besware te laat oorweeg.

Ons moet nou hiervandaan vorentoe gaan as die één kerk van Christus. Ons is immers soos die kerk van die Nuwe Testament ’n bruid van Christus, volk van God, liggaam en huisgesin.

Daar mag verskille tussen ons wees. Maar ons het nou die geleentheid om ’n sterk getuienis te lewer van die krag van die liefde van Christus, ons Hoof, waarmee Hy ons aan mekaar bind.

Mag daar in hierdie Adventstyd ’n diep bewussyn by ons almal kom van die vrede van Christus, vrede wat argumente en verskille te bowe gaan. Mag ons hier­die vrede na afloop van al die komplekse gesprekke mooier en beter ervaar as ooit vantevore.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Eenheid en diversiteit

Ek en Gustav Claassen het die afgelope tyd besoeke gebring aan ’n aantal van die samestellen­de sinodes van die NG Kerk. Dit was ’n goeie ervaring om te sien hoe hierdie wonderlike kerk op ver­skillende plekke aan die Here diensbaar is.

Elke sinode se omgewing verskil van die ander. Elke sinode het sy eie geleenthede, uitdagings en roe­pings­ver­staan. Elke sinode het ook sy eie groeiverhaal. Daar is ook in elke sinode teologiese aksente wat minder of meer aandag geniet. Op ’n manier het elke sinode daar­­om ’n unieke teologiese identiteit.

Die NG Kerk in KwaZulu-Natal is waarskynlik die kleinste in verhouding tot die bevolkingsgetalle van die provinsie. Maar moenie waag om die kragtige getuienis van hierdie gemeentes te onderskat nie. Hulle is eintlik ons voorlopers in die uitleef van ’n missionale kerkbegrip. Hulle is ’n sprekende voorbeeld van die lewe in die Koninkryk van Christus waar klein dikwels groot is.

Die Noordelike Sinode se baie goedtoegeruste le­raars en kerkraadslede het onlangs in Modimolle gesorg vir diepgaande gesprekke oor die belangrikste ko­ninkryksuitdagings van ons kerk. Die openhartigheid en die geestelike volwassenheid waarmee daar met mekaar verskil is, was opsigself ’n kragtige getuie­nis van ’n opregte soeke na die wil van die Hoof van die kerk. En die omvang van die werksaamhede van dié gemeentes is baie inspirerend.

Gustav vertel dat die afgevaardigdes na die Noord-Kaap Sinode met wonderlike openheid na mekaar luis­ter. Sterk klem op die gesag van die Bybel, gepaardgaande met ’n diepe pastorale sensitiwiteit, het in hulle gesprekke gegeld. Noord-Kaap bied oor die jare tel­kens onmisbare perspektiewe, soos nou weer onder meer oor missionaliteit, aan die Algemene Sinode.

Tydens ’n onlangse besoek aan hierdie sinode se verteenwoordigers, was hulle verbintenis om dienend binne die algemene sinodale verband te leef, versterkend.

Ons het ook gesprek gevoer met die moderatuur van die Sinode van Namibië. Watter kragtige gestalte van die kerk van Christus is die NG Kerk in Namibië nie. Nie dat hulle hulle krag uit hulle eie vermoë put nie, maar juis omdat hulle in diepe afhanklikheid van God leef. In tye van oorlog en droogte, in tye van trans­formasie en onsekerheid, het hulle geleer om hul­le hoop op God te plaas.

Ons is uit Windhoek weg, natuurlik met gasvryheid oorlaai, diep onder die indruk van hoe nodig ons die NG Kerk in Namibië het om kerk te wees in Suider-Afrika. Die Namibiërs se verbintenis aan die Algeme­ne Sinode is stewig en gesond.

Die Goudland Sinode se kwaliteite herinner aan hulle mooi nuwe naam. Plattelandse en stedelike gemeen­tes vind mekaar ook hier in ’n sterk roeping en ver­bintenis om ’n verskil te maak in elke konteks waar hulle leef.

Ons sou inderdaad oor elke sinode wonderlike goed kon sê. Oor die vrug van die werksaamhede van gemeentes sou ons ’n dik boek kon skryf.

Maar dan sal ons ook oor die onderskeie sinodes moet boekstaaf dat daar groot verskeidenheid is in die gestaltes van die kerk. Eiesoortige strukture, verskillen­de finansieringsmodelle en teologiese beklemto­nings kom van sinode tot sinode voor.

Maar ons het ook gehoor hoe daar oral dieselfde verlossingsboodskap verkondig word. Ons het ook gehoor hoe die missionale beweging reeds vastrapplek gevind het en groot hoeveelhede nuwe energie losgemaak het. Die Here gaan iets nuuts doen in en deur sy kerk.

Ons het gehoor hoe ons belydenis ons aan mekaar verbonde hou – oor die skepping en sorg van God die Vader, oor die gesag van Christus as Verlosser en Hoof, oor die Heilige Gees wat ons laat fokus op Christus en ons diensbaar maak.

Ons stem ook saam dat die Bybel deur God geïnspireer is. Ons stem oor die lengte en breedte van ons lande oor baie dinge saam.

My waarneming is dat ons ook saamstem oor die werklikheid dat gay gedooptes in die kerk hoort en in die ampte moet kan dien. Ons hoor in elke sinode talle verhale van gemeentes waarin gay lidmate hulle volle lidmaatskapregte uitoefen.

Nêrens het ons enige verhaal gehoor van ’n gay lidmaat wat spesifiek oor sy/haar gay-wees weggewys is nie. Ons is ook nie bewus van een tugsaak teen ’n lidmaat net op grond van die persoon se seksualiteit as sodanig nie. Dit wil selfs voorkom dat kerkrade nie optree teen persone wat in gay-verhoudings is nie. Die de facto-konsensus is waarskynlik dat gay-wees en selfs verhoudings as sodanig nie veroordeel word nie. Kerk­rade se pastorale sensitiwiteit en vermoë om plaaslik met hierdie medegelowiges ’n pad te loop, moet waardeer word.

Die meningsverskil in die kerk oor homoseksuali­teit gaan dus klaarblyklik hoofsaaklik oor die amptelike legitimering van gay persone in verhoudings, en die aanvaarding van gay persone wat in amptelike ver­hou­dings is in die besondere ampte.

Hieroor bestaan diverse menings wat nie deur enige sinodale besluit opgehef gaan word nie. Hieroor gaan ons ná die komende sinode nog verskil. Dit wil vir my lyk of ons oor hierdie verskille vir mekaar sal moet ruimte maak.

Ons is teologies en roepingsgewys sterk verbonde aan mekaar. Ons het mekaar nodig. Ons is reeds geoefen in diversiteit. Ons sal eenvoudig ook hierdie stuk diversiteit moet akkommodeer.

Op soek na ’n weg om saam kerk te wees

’n Buitengewone Algemene Sinode word van 7 tot 10 November gehou waar die saak van verhoudings tussen mense van dieselfde geslag opnuut bespreek sal word. DS NELIS JANSE VAN RENSBURG, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, gee perspektief.


Die moderamen het besluit om ’n buitengewone Algemene Sinode te hou oor die besluit van 2015 oor selfdegeslagverhoudings.

Dit is teen hierdie tyd duidelik dat die kerk diep verdeeld is oor die teologiese regverdigbaarheid van die 2015-besluit. Ek ontvang briewe oor die aangeleent­heid van mense wat nie genoeg hulle waardering kan uitspreek vir die ruimte wat die kerk nou vir gay perso­ne bied nie. Ek ontvang egter ook briewe van diegene wat met geweldige ontsteltenis te kenne gee dat hulle hulle distansieer van die kerk se besluite oor die aange­leentheid.

Die hele kwessie oor die hantering van die besware teen die Algemene Sinode se besluit het veroorsaak dat die wesenlike debat na die 2015-sinode nie vol­doen­de gevoer is nie.

Die appèlproses gaan nou voort en word deur die appèlkommissie afgehandel. Hulle hanteer die tegniese appèlle teen die 2015-sinode se werkswyse. Die be­sware en appèlle op grond van teologiese oorwegings word verwys na die buitengewone algemene si­no­de.

Daar het oor die afgelope maande by my ’n paar perspektiewe al helderder geword:

1. Die hele wêreld is verdeeld oor die kwessie van homoseksualiteit.

2. Dit is dus nie die NG Kerk se Algemene Sinode wat die verdeeldheid veroorsaak het nie. Bykans elke mens het ’n opinie oor homoseksualiteit en min mense is nie seker dat hulle doodreg is nie.

3. Die noodsaaklikheid om aan die gesprek deel te neem, berus op die werklikheid dat duisende gay dooplidmate van die kerk en hulle families dikwels trauma beleef oor die standpunte van die samelewing en die kerk.

Hulle het by die doop die volle toesegging van God se trou en guns ontvang, maar oordeel dat die kerk nie die volheid van hulle menswees dienooreenkomstig wil erken nie.

Daarom, so meen hulle, word hulle effektief uitge­sluit van die kerk of vind hulle dit moeilik om in die kerk tuis te kom. Hulle sê ook dat dit vir hulle groot pyn veroorsaak en hulle dikwels nie net vervreem van die kerk nie, maar ook van God. Met so ’n bewering kan dit nie anders dat ’n verantwoordelike kerk self­ondersoekend dink nie.

4. Uit die debat in die NG Kerk leer ons dat daar twee duidelike teenoorstaande standpunte is wat beide ernstig probeer rekening hou met die eise van die Bybel.

Daar is diegene wat meen dat al die Ou-Testamentiese wette en reëls, selfs dié wat nog in die Nuwe Testament kop uitsteek as oorblyfsels van die Joodse skrywers se godsdiens-kulturele agtergrond, soos die hoe­­de in die kerk en die eet van offervleis, deur Christus se leer en voorbeeld nuwe betekenis kry.

Hulle beweer dat daar reeds in die Ou Testament ’n beweging was van groterwordende insluiting en dat Christus hierop voortbou. Jesus definieer die grense van God se genade al wyer en wyer. Hy sluit al meer mense in.

Aan gelowiges wat homoseksueel is en met hulle volle menswees, insluitende hulle seksualiteit, God wil dien, moet dus ruimte gegee word. Dit is wat die Bybel leer, so meen hulle.

Hierteenoor staan die oortuiging dat die Bybel konsekwent negatief oordeel oor alle vorme van homoseksualiteit en homoseksuele gedrag. Dit sluit in die erkende praktyk van homoseksuele verbintenisse van die Nuwe-Testamentiese tyd en nie net homoseksuele verkragting en misbruike nie.

Die afwysende lyn loop regdeur die Bybel. In Paulus se denke oor die aangeleentheid speel sy Joodse agtergrond inderdaad ’n rol. Hy werk immers steeds met ’n Joods-Christelike etos. Soms bring Jesus radikale veranderinge of verruiming aan aan die Joodse beskouinge oor kwessies, maar nêrens in die Bybel is daar ’n “reg­stelling” oor hierdie aangeleentheid soos in die geval van Paulus se opmerkings in Galasiërs 3:28 oor mans en vroue, Jode en Grieke, slawe en vry mense nie.

Die Bybel het konsekwent niks goeds te sê oor homoseksualitiet nie. Daarom moet die 2015-standpunt van die sinode afgewys word.

Beide die groepe beroep hulle dus op die Bybel met sterk argumente dat hulle absoluut reg is.

5. Dit is vir my baie duidelik dat die sinode nie hierdie meningsverskil gaan oplos nie.

Na die sinode gaan die kerk en die samelewing steeds verdeeld wees. Mense sal nie sommer wegstap van hulle oortuigings nie.

Maar ons het nog oortuigings, onder andere dat die verbondenheid van gelowiges aan mekaar, juis ten spyte van verskille, ’n kragtige getuienis lewer.

Ons kan van die situasie ’n getalle-oorlog maak en kyk wie wen. Of ons kan verstaan dat niemand wen as die kerk in ’n anti- en pro-gay kerk verdeel nie. Ek hoor van niemand wat ten gunste is van skeuring nie.

Trouens, by die pas afgelope moderamenvergade­ring was die verbintenis tussen lede wat sterk van mekaar verskil om saam ’n pad te loop, opsigself ’n getuie­nis. Daarom sal ons nou almal moet dink aan maniere om mekaar te vind.

Ons sal in ’n styl van respek en luister met mekaar moet omgaan. Dit help nie om mekaar verder te ver­vreem deur etikette om mekaar se nek te hang nie. Almal dink hulle staan by die Woord en die evangelie. Daar is volhoubare egte argumente aan beide kant van die spektrum van menings.

6. Ek meen ons moet as vertrekpunt in ons beredene­ring oor homoseksualiteit die verbondsdoop neem.

Ek meen ook ons moet seker maak dat ons die huwelik as instelling tussen een man en een vrou ten alle koste beskerm.

Ek meen ook dat ons die menswaardigheid van gay-mense ten volle moet erken en nie hulle seksuali­teit as sodanig verdag maak nie.

Oor gay-verhoudings moet ons genuanseerd praat. Ons doen dit immers ook met hetroseksuele verhoudings. Eers dan kan ons oordeel waaroor mense saamstem en verskil. En ons moet eers daarna praat oor die kerk se verpligting, al dan nie, om hierdie verhoudings amptelik te legitimeer.

Op die oomblik is my afleiding uit die talle en talle mense wat met my hieroor praat dat baie van ons ui­ters ongenuanseerd is oor die verskille tussen ons.

Ek het volle vertroue in die lidmate en leiers van ons kerk dat ons uiteindelik ’n weg sal vind om met integriteit, met ons verskille, saam kerk te wees. Daar is immers net te veel wat ons aan mekaar bind.

Ds Nelis Janse van Rensburg is die voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Dis tyd vir ernstige protes

Op baie plekke was die stempersentasie in die munisipale verkiesing laag. Is dit ’n aandui­ding dat mense begin glo dat die demokrasie nie vir hulle die verwagte uitkoms gaan bring uit hulle nood en ellende nie?

Eersdaags verskyn daar ’n nuwe witskrif wat die regerende party se beleid en rigting sal aandui ten aansien van die versorging van arm en sukkelende mense. Maar die hoop dat daar daaruit grondliggende verbete­ring in dienste sal voortspruit, is nie groot nie.

Die kerk word op baie maniere geraak deur hierdie beleid van die staat. Tot baie onlangs het die onderskeie sinodale welsynsdienste van die NG Kerkfamilie, asook die ACVV, SA Vrouefederasie en enkele ander nie-regeringsorganisasies omvangryke dienste aan die mense van Suid-Afrika gelewer. Dit het natuurlik altyd gebeur met finansiële ondersteuning van die staat.

Sedert die Carnegieverslag van 1932 en daaropvolgende Volkskongres in Kimberley in 1934 het hierdie verstandhouding tussen kerk en staat bestaan en kon die nie-regeringsorganisasies onmisbare dienste lewer. In die eerste jare is dié dienste gelewer aan die blan­kes van Suid-Afrika. Maar gedurende die laaste dekades is hierdie dienste uitgebrei na Suid-Afrika­ners van oor die breë spektrum van die land se bevol­king.

Die maatskaplike werk-professie maak ’n buitengewone bydrae om mense te versorg en te begelei. Net die NG Kerk en die VGK se welsynsdienste alleen het in die vorige boekjaar professionele dienste gelewer aan meer as ’n miljoen kliënte.

Vermenigvuldig jy dit argumentsonthalwe met vyf, die persone in die gesin van die kliënt wat direk geraak word deur die versorging en diens wat gelewer is, raak die omvang van die impak van hierdie dienste enorm. Ons sou gemaklik kon sê dat ongeveer 10% van die land se bevolking geaffekteer is deur die professionele maatskaplike dienste van die NG Kerkfamilie.

Kinder- en gesinsorg is altyd die eerste verantwoordelikheid van maatskaplike werk. Talle kerklike poste is met die ondersteuning van die staat geskep om dienste aan broos mense en veral kinders te lewer.

Die staat kon op baie plekke nie alleen die nodige dienste lewer nie, maar die kerke ook nie. Die NG Kerk het oor die jare die taak van maatskaplike wer­kers so belangrik geag dat ’n kollege vir die opleiding van meer werkers as ’n prioriteit gesien is.

Die Hugenote Kollege en universiteite het só, oor die jare, duisende uitstekend opgeleide professionele mense aan die land se welsynsdienste gelewer. Hulle moes onder meer massas statutêre werk doen. Hierdie werk word ingevolge die streng voorskrifte van wetgewing gereguleer.

Dit het hoë eise aan die werkers gestel, maar verse­ker dat die bevolking van ons land wetlike beskerming geniet teen misbruik en uitbuiting. Wette sonder toe­pas­sers daarvan het immers geen waarde nie.

Die Kinderwet is geskryf om beslag te gee aan Artikel 28 van die Grondwet. Die bepalings in hoofstuk 2, die Handves van Regte, verklaar onder meer: “(1) Elke kind het die reg (a) op ’n naam en nasionaliteit vanaf geboorte; (b) op gesinsorg of ouerlike sorg, of op gepaste alternatiewe sorg wanneer die kind uit die ge­sins­omgewing weggeneem word; (c) op basiese voe­ding, skuiling, basiese gesondheidsorgdienste en maat­skaplike dienste; (d) om teen mishandeling, verwaar­losing, misbruik of vernedering beskerm te word; (e) om teen uitbuitende arbeidspraktyke be­skerm te word …”

Daar is op die oomblik diepe kommer in die welsynsgemeenskap oor die jongste beleidsrigting van die regering oor maatskaplike werk. Meer en meer poste van maatskaplike werkers word gesluit.

Op 26 Augustus 2013 is berig dat die minister van wel­syn, Bathabile Dlamini, in die parlement geantwoord het op ’n vraag en gesê het 66 329 maatskaplike wer­kers word benodig om die Kinderwet te implementeer. In Junie 2013 was daar egter slegs 16 164 geregi­streer­de maatskaplike werkers. Dit verteenwoordig ’n 77% tekort en kan die implementering van kritieke welsyn- en maatskaplike wetgewing baie nadelig beïnvloed.

Die fokus van die regering op vroeë kinderontwikkeling is lofwaardig. Die ongelukkige werklikheid is egter dat ons moontlik op die vooraand staan van die inploffing van ons professionele maatskaplike dienste.

Die probleem is beslis nie dat die kerk gaan skade lei nie, maar dat die mense van ons land, en veral die kinders wat die uiters noodsaaklike dienste wat deur die grondwet gewaarborg word, die dienste ontbeer.

Terwyl die regering behep is met die gee van sosiale toelae, word die fokus al meer weggeskuif van die diens­te wat eintlik die Grondwet en die Nasionale Ont­­wik­kelingsplan se uitkomste moet verseker.

Die implikasies van hierdie benadering vir die maat­skaplike werk-professie is amper te erg om aan te dink, om nie eens te praat van die gevolge vir honder­de maat­skaplike werkers wie se werk in gedrang kom nie.

Die kerk kan nie oor hierdie toedrag van sake swyg nie. Die Seisoen van Menswaardigheid bring die ver­sor­ging en beskerming van kinders, armes, bejaardes en gestremdes skerp in die fokus van die kerk. Geregtigheid is hier op die spel. Dit het tyd geword vir ernstige nasionale protes teen ’n beleid en personeel wat God se mense in die steek laat.

‘Together towards life’

Jesus is die Here. Dit is die vroegste belydenis van die kerk. Dit is ook dié belydenis wat die 348 lidkerke van die Wêreldraad van Kerke (WRK) aan mekaar verbonde hou.

Daar is onder die lidkerke Ortodokse en Pentekos­talistiese kerke, Anglikane en Kwakers, onafhanklike kerke en Gereformeerdes, ’n verskeidenheid perspek­tie­we en oortuigings. Uit bykans elke teologiese stroom kom die lidkerke van hierdie merkwaardige lig­gaam wat meer as 500 miljoen lidmate verteenwoor­dig.

Die WRK is in Augustus 1948 in Amsterdam gestig. Reeds sedert die middel van die 19de eeu het die Wes­terse Protestantse sendingbeweging tienjaarliks byeen­gekom. Dit was tydens so ’n byeenkoms in 1910 in Edin­burgh, Skotland, waar ’n visie gebore is van ’n wê­reld­wye sendinggemeenskap wat die evangelie na die wêreld neem.

Die WRK het in 1948 as ’n voortsetting van die Edin­burgh-droom tot stand gekom. Verskillende teo­logiese strome het ineengevloei in dié wêreldliggaam.

Metterjare sou dit duidelik word dat dit diepgaande dialoog sou benodig om die evangelikaliese en die eku­meniese strome ineen te laat vloei. In 1951 het Lesslie Newbigin se invloedryke werk oor die onlos­maak­baarheid tussen eenheid en sending die toon aangegee vir die hartgrondige teologiese gesprek wat sou volg oor die aard van die sending van die kerk.

Die Eurosentriese sendingvisie van 1910, waarin westerlinge, wat oor die nodige koloniale mag en middele beskik, die evangelie na die “wêreld” neem, is ver­vang met ’n evangeliese begrip dat God se missie na die wêreld ’n beweging is wat ontspring op duisende plek­ke in die wêreld.

Reeds dekades voor die gesprek in Suid-Afrika oor ’n missionale teologie het die WRK begryp dat ge­lo­wiges God volg in sy beweging na die wêreld, dat elke ge­lowige geroep word om vanuit ’n lewe in die Drie-eenheid sy beweging na mense mee te maak.

Vandag word onder meer verstaan dat die bewe­ging van God al te dikwels vanuit die rand van die same­lewing kom na diegene wat oor mag beskik.

Die WRK se stryd teen apartheid en rassisme het ui­teraard ons prentjie van dié organisasie gekleur. Die Kaap­se en Transvaalse Sinodes se bedanking uit die WRK in 1961, na Sharpeville en Cottesloe, staan histo­ries uit as ’n simbool van die impak van volksideologie.

Toe die WRK in die sewentigerjare finansiële steun begin gee aan die bevrydingsbewegings in Suider-Afri­ka, is dié organisasie getipeer as internasionale vyand van die waarheid. Hierdie optrede van die WRK het ook intern diepgaande spanning en dialoog ver­oor­saak. Die argument vir oorlog teen ongeregtigheid het sedertdien ver­ander na ’n teologiese regverdiging vir vrede en geregtigheid. Ook die WRK is in dié pro­ses getransformeer deur sy diepe besinning oor die evan­gelie as alternatief vir die waardes en oortuigings van die wêreld.

In 2010 is daar weer in Edinburgh vergader met waarskynlik die grootste spektrum ooit van Christene in die wêreld met die oog op ’n gedeelde verstaan van die kerk se missie.

Klem is gelê op die uniekheid van Christus, jongmense as deelnemers aan die missie, die natuurlike om­gewing as fokus van die kerk se missie, kritiese inter­aksie met magstrukture met die oog op die aan­spreek van ongeregtigheid, die geestelike aard van die mis­sie onder leiding van die Heilige Gees, die Bybelse oproep tot eenheid en gemeenskaplike getuienis, beke­ring en die vind van ’n nuwe lewe in Christus.

In 2013 in Busan, by die WRK se tiende algemene ver­gadering, het die slagspreuk “Together towards life” beslag gekry.

Die werksaamhede van die WRK word in drie afdelings behartig: 1. Eenheid, missie en ekumeniese ver­hou­dings, 2. Publieke getuienis en diakonia, 3. Eku­me­niese formasie.

Die WRK doen reusewerk in terme van geskil­be­sleg­ting met die oog op wêreldvrede en geregtigheid. Trouens, sy program Pilgrimage of justice and peace hou op baie plekke brose onderhandelinge tussen ower­­hede en magte aan die gang en skep internasio­naal talle ruimtes vir helende dialoog. Die teologiese werk in sy afdeling Faith and Order verteenwoordig om­vangryke ekumeniese teologie. 

Die wyse waarop die NG Kerk nou terug verwel­kom is in die WRK, is opsigself ’n getuienis. Die blyd­skap van die lede van die Sentrale Komitee in Trondheim, Noorweë, was hoorbaar en tasbaar. Niemand was eg­ter blyer en hartliker as ons mede- Suid-Afrikaanse lid­kerke en die kerke uit Afrika nie.

Ek was diep beïndruk deur die verbintenis van al die lede van die Sentrale Komitee tot die WRK se agen­da. Hulle weet hoe om diversiteit te bestuur en on­derlinge verskille te bowe te kom. Die dominante ver­haal is dié van God se koninkryk wat moet kom. Hul­le skryf saam aan nuwe hoofstukke. Die WRK is in­der­daad ’n merkwaardige gestalte van die liggaam van Christus.

Ons moet dié twee liedere saam sing

Ek was verlede week by die begrafnis van Winnie Rust in Wellington. Die meeste mense by die begrafnis het haar beter as ek geken.

Sy was egter ’n buitengewone mens. Selfs ’n enkele ontmoeting met haar sou jou laat verstaan dat jy in die teenwoordigheid was van iemand met karakter, met diep insigte en met ’n omarmende persoonlikheid.

Sy is vermoor, baie moontlik deur een van die talle mense in Wellington vir wie sy buitengewoon goed was.

Daar was baie mense by die afskeidsdiens. Natuurlik dr Manie, haar bejaarde man, haar kinders en kleinkinders – almal bedroef, ontredder en ontwrig. Daar was honderde ander familielede en vriende, mense wat diepgaande beïnvloed is deur haar lewe, maar ook aangeraak is deur die skokkende verlies van haar teenwoordigheid in die gemeenskap.

Mense vertel vir my die dorp het tot stilstand gekom tydens die diens. Die winkels was leeg en die strate stil. Ek het die diens bygewoon om aan Winnie eer te betoon, maar ook om my solidariteit te betoon met ’n gemeente en gemeenskap in rou.

Die liturgie van die diens was aangrypend. Die Hugenote Hoërskool se koor, onder leiding van Johann Enslin, het die isiXhosalied Indodana aangrypend gesing.

Ngob’umthatile umtwana wakho, uhlale nathi hololo helele (The Lord has taken his Son who lived amongst us), Indodana ka nkulunkulu bavi’bethelela hololo helele (The Son of the Lord God was crucified).

Dan sing die mans ’n koorgedeelte: Hololo Baba Jehova, Hololo Father Jehovah (Hololo verteenwoordig “om te huil” en kan nie vertaal word nie). Zjem zja baba, Zjem zja Father (Zjem zja is ekspressief en kan nie vertaal word nie).

Ek is onder die indruk van die rou emosie van miljoene mense in ons land wat die afgelope jare by die grafte gestaan het van geliefdes wat wreed die reg op lewe ontneem is.

By elkeen van die, vir my, naamlose slagoffers van die duisende plaasmoorde, townshipmoorde, moorde waar verhoudings skeefgeloop het, of die talle moorde waar baie geld en bates by betrokke was, was daar telkens eggenotes, ouers, kinders, families, gemeenskappe in ’n kerk gevul met verslaentheid, ontreddering en ontwrigting.

Voeg nog by al die moorde die geweld teen vroue en kinders, die verliese wat ons beleef aan veiligheid en sekerheid, die anargie en opstand van ontevrede mense, en die woorde van Indodana kry swaar betekenis.

“Die Here het sy Seun wat tussen ons gewoon het weggeneem.” Hy is ook vermoor. Ja, die Seun van God is gekruisig.

Dit is ’n stelling waaroor daar baie teologies gedink en gedebatteer kan word. Die ironie is dat dit die woorde sonder woordeboekbetekenis is, in die lied, wat die meeste sê: “hololo, zjem ja baba”.

Ek het saam met die koor gehuil tot God. Ek wou huil saam met die familie en al die miljoene mense van Suid-Afrika wat al so in kerke gesit het, en saam met die koor sing: “hololo, zjem zja Vader”.

Hoe het ons so gekom? So sonder respek vir mekaar? So sonder waardigheid? Dit is immers nie op ander plekke so nie, nie in Europa of in Afrika nie. Wat het met ons gebeur dat óns so gewelddadig is? Dis immers nie net “hulle” wat so is nie. Kyk maar na die brutaliteit van mense op facebook. Die rou rassisme, die kru veroordelings, die bitter vervloeking van mekaar. Moord en ge­weld het kom woon, diep in ons aannames en oordele.

Toe preek ds Lettie Büchner kragtig en troostend by Winnie Rust se diens uit Johannes 20. Dit is die  opstandingsverhaal.

Maria het buite die graf staan en huil, “hololo, zjem zja Vader”. Toe praat Jesus met haar en sê: “Maria, hoekom huil jy?” Die noem van haar naam, laat haar Hom herken. En sy sê vir Hom: “Rabboeni!” Dié slagoffer van verlies, “omdat God Hom weggevat het”, word ’n nuwe leerling, volgeling, dissipel.

Die mense van Suid-Afrika wat glo in die opstan­ding van Christus, in die teenwoordigheid van God, aan God se persoonlike omgee vir elke mens, aan sy ken­nis van elkeen se naam en storie, sal nou nuut leerlinge moet word. Ons sal in hierdie Seisoen van Mens­waardigheid by ons “Rabboeni” nuut moet leer van re­spek vir mense, omgee, nederige diensbaarheid, self­­prysgawe. Ons sal nie langer uit ons pyn of ons ver­lies of swaarkry of verlede kan leef nie, maar uit die krag van die opstanding, aangevuur deur die Pinkstergees.

Winnie se diens is afgesluit met die Oorwinningslied. “Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer … ” Ons sal met oorgawe die twee liedere saam moet sing, die lied wat huil oor die stukkendheid en die lied van hoop.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.