’n Streep deur Christelike geloof?

WAT MOET ONS MET ONS KERK DOEN?
Deur Jurie van den Heever
Uitgewer: Naledi, 2017
Resensie deur Frits Gaum


Jurie van den Heever, paleontoloog van naam en faam, se nuwe boek is bedoel om opslae te maak. So skryf hy trouens self in sy voorwoord.

En Jean Oosthuizen se uitasem-resensie in Rapport, soos ook ander resensies daaroor, bevestig dat hy in sy doel slaag. Hy gryp die kerk, by name die NG Kerk, voor die bors … en hy trek ’n dik, rooi streep deur geloofswaarhede – nee, wat my betref, deur die hart van die Christelike geloof.

Van den Heever ken sy vak en maak geldige punte. Soos dat fundamentalisme nog ’n groot rol by baie lidmate van die NG Kerk speel. Soos dat die teologie wel baie te leer het by die biologie en ander wetenskappe. Soos dat die waarheid veelkantig is en dat nie een van ons daarop kan aanspraak maak dat ons die volle waarheid in pag het nie.

Maar Jurie maak na my mening ’n ernstige fout: Hy oorskat die (eksakte) wetenskappe en gee aan die wetenskap die laaste woord oor ons wel en wee op aarde. As ek hom reg verstaan meen hy dat die wetenskap op die ou end min of meer ál ons lewensvrae sal kan beantwoord. Wat, glo ek, nie sal gebeur nie.

Natuurlik het die wetenskap al formidabele prestasies behaal. Hartoorplantings, die internet, ’n man op die maan, ’n man op Mars … oeps, nog nie, maar wag maar!

Oor die allerdiepste vrae van ons bestaan – en waar alles, ons ook, vandaan kom as ons vir God buite rekening laat, het die wetenskap, en Jurie van den Hee­ver, nie antwoord nie. Wél het die wetenskap ons geleer dat God deur evolusie geskep het. En dat die skeppingsdae waarvan Genesis praat, oor miljarde jare kon gestrek het. Maar hoe het “niets” “iets” geword? Hoe is die allervroegste roering aan die gang gesit – wat die potensiaal gehad het om tot ’n ontsaglike heelal te ontwikkel – as dit nie God was wat uit die ewigheid ingegryp het en tyd geskep het nie?

Van den Heever maak staat op die menings van enkele geselekteerde teoloë (soos Sakkie Spangenberg), en verwys nêrens na die belangrike publikasies van vooraanstaande teoloë soos Wentzel van Huyssteen en John de Gruchy wat oor hierdie sake diepgaande en gesaghebbend geskryf het nie. Soms lyk dit asof hy dink die deursneedenke in die NG Kerk en ander teo­loë van die NG Kerk het in die apartheidsera of vroeër vasgesteek. Wat nie meer waar is nie.

Van den Heever verwerp op die ou end vir Jesus Christus as die Seun van God, die nodigheid van sy werk op aarde, die betekenis van sy kruisdood, sy opstanding, sy wederkoms. Jurie het nie sy Bybel goed gelees nie, want hy skryf dat Matteus, Markus en Lukas nêrens van Jesus as Seun van God praat nie. Wat dan van byvoorbeeld Matteus 16:16?

Op die vraag wat ons met “ons kerk” moet maak, meen Van den Heever ons kerk behoort ons te help tot “’n vryer en minder egoïstiese vorm van selfverwesenliking” (bl 136), en ’n “groen teologie” moet ontwikkel wat toegespitste aandag gee aan die ekologie. Goed en wel, maar as dít die eintlike “taak” van die kerk sou word, kan hy/sy goedskiks die kerkdeure toemaak. Want dan is die kerk dood. Ander organisasies kan daardie werk net so goed en beter as die kerk doen. Die kerk het die unieke taak om uitvoering te help gee aan die Groot Gebod. En dit is, eerstens, liefde vir God (waarvan Jesus Christus die verpersoonliking is), en daarmee saam liefde vir die naaste (soos Jesus Christus dit vir ons voorgeleef het).

Jurie van den Heever het ’n prikkelende, boeiende boek geskryf. Maar hy het misgekyk dat, as ons raad-op raak met die kerk, daar op stuk van sake maar één antwoord is: Jesus Christus, die sentrum van die kerk en die sentrum van die Christen se lewe.

Frits Gaum is die skrywer van God op soek? Oor geloof in ’n taai tyd (Naledi, 2016).