Nuwe gids vir ramphulp

Daar word ’n nuwe strategie vir hoe NG ge­meen­tes barmhartigheid kan be­wys te midde van rampe tydens die Wes-Kaapse Si­no­de in Goudini bekendgestel.

Die gids wat fokus op die unie­ke rol van die kerk, sal voortaan gratis in boekvorm aan gemeentes beskikbaar wees.

Ds Nioma Venter, wat aan die stuur staan van Diaconia, die barmhartigheidsarm van die NG Kerk in die Wes-Kaap, sê dié strategie se geboorte is te danke aan die Moderamen van die Wes-Kaapse Sinode. Hulle het in 2018 gevra dat Diaconia iets moet ontwikkel wat gemeentes tydens rampgebeure kan help.

Venter, wat in 2017 by Diaconia begin het, is toe aan die “diepkant ingegooi” na die Suid-Kaapse brande, wat in Knysna begin het, groot verwoesting gesaai het.

“Ek het destyds ’n oproep gekry en hoor skielik die ondersteuning is Dia­co­nia se verantwoordelikheid. Ek het toe besef daar is ’n behoefte vir ’n hand­leiding tydens rampe.”

Volgens Venter het sy besef dat daar talle organisasies is wat uitstekende ramp­ondersteuning gee.

“Ek het begin dink oor die unieke rol van die kerk,” sê Venter.

Venter het op navorsing afgekom wat aandui dat mense tydens die trauma van rampe ’n “geestelik-emosionele afwaartse ervaring beleef”.

“Dit wil sê daar moet twee keer so hard gewerk word om die menslike gees weer op te lig en te versterk. Die maalkolk van verlies moet doelbewus omgekeer word om spirale van hoop te bewerkstellig,” aldus Venter.

Volgens Venter is dít waar die NG Kerk se unieke rol lê.

NG gemeentes is ideaal hiervoor geposisioneer as gevolg van individue se verbintenis met mekaar, reeds gevestig­de sosiale netwerke en wedersydse be­grip, sê Venter.

Venter verduidelik daar is vier fases waartydens die kerk na ’n ramp betrok­ke kan raak. Die eerste twee fases, ont­wrigting en assesering, is waar die ba­sie­se behoeftes van individue aangespreek word. Dié fases gaan spesifiek daaroor om ’n sisteem in plek te kry wat werk sodat verseker kan word dat die individue se basiese behoeftes aangespreek is en dat hulle veiligheid verseker is. Hier is bestaande netwerke uiters belangrik.

“Hóé ’n mens gee, bepaal ook of dit menswaardigheid bevorder en opregte empatie met mense se verliese kommunikeer. Skoon, netjiese kleredonasies, ver­pak volgens grootte en geslag en seisoenspesifiek is maar een voorbeeld van gepaste skenkings tydens rampgebeure,” sê Venter.

Terwyl daar baie ander hulporgani­sasies ook is wat tydens die eerste twee fases betrokke is, is dit veral die laaste twee fases wat unieke geleenthede aan die kerk bied.

Die derde fase, heropbou en genesing, het in Plettenbergbaai met groot sukses plaasgevind nadat die NG gemeente Plettenbergbaai ’n span studente van Potchefstroom gekry het om huise in ’n Griekwa-nedersetting te kom herstel.

“Die geld hiervoor het van die Reformed Church in Japan en van die ramp­fonds gekom. Op pastorale vlak het ’n kundige op die gebied van trauma vir ’n tydperk slagoffers en vrywilligers ook met berading bygestaan,” sê Venter.

Die laaste fase van die rampstrategie is florering. Venter lig weer ’n voorbeeld uit. “In die VGK gemeente Knysna is ’n bydrae van ’n ander gemeente in die streek gebruik om informele behuising wat afgebrand het, te vervang met Wendy-huise. Die lewensomstandighede van die gesinne is in die proses verbeter.”

“Ek sê allermins die strategie is perfek. Maar dit is ten minste ’n beginpunt waarop ons kan voortbou,” sê Venter.

  • Die Spirale van hoop-strategie word Donderdag, 16 Mei by die Wes-Kaapse Sino­de bekendgestel en ’n kopie is aan elke afgevaardigde gegee. Spirale van hoop kan by diaconia@kaapkerk.co.za aange­vra word.