Bybelvertalers meen dié teks dalk te ‘onverbiddelik’

In die hersiening van die Nederlandse Bybelvertaling – waaraan tans gewerk word – kan die tweede van die Tien Gebooie anders geformuleer word.

Die tweede gebod verbied die aanbidding van afgodsbeelde. Daarop volg dít (Eks 20:5) in die Nederlandse Bybelvertaling: “Voor de schuld van de ouders laat ik de kinderen boeten, en ook het derde geslacht en het vierde, wanneer ze mij haten …”

In die Afrikaanse vertaling (1983) staan: “Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde verslag van dié wat My haat …”

Dr Matthijs de Jong, hoof van die afdeling Vertaalwerk aan die Nederlandse Bybelgenootskap (NBG), wil egter dié vertaling wysig.

In die huidige vertaling staan dat die nageslag gestraf word vir die sondes van hulle ouers. In ’n onderhoud met die oggendblad De Volkskrant sê De Jong baie mense het beswaar teen dié idee. “Hulle het moeite met die onverbiddelikheid wat daarin verwoord word, en hulle vra hulleself af of die Hebreeus geen ruimte bied vir ’n minder streng vertaling nie.”

Luidens die berig in De Volkskrant het ’n kollega van De Jong, dr Jaap van Dorp, Ou-Testamentikus in diens van die NBG, pas ’n artikel in die vaktydskrif Met Andere Woorden daaroor geskryf. Hy behandel veral die uiteenlopende maniere waarop die Hebreeuse woord pakad vertaal kan word.

Sy voorstel is om die Nederlandse “te laten boeten” te vervang met “ter verantwoording roepen”. Luidens die koerantberig was dit nie die bedoeling om de “God der Wrake” uit die Bybel te skryf nie, want die God van die Ou Testament wás nou eenmaal streng. Dié strengheid word in die ou geskrifte weerspieël.

Van Dorp sê in die Hebreeuse bronteks het die vertalers ’n “agterdeurtjie” gevind na ’n sagter vertaling: “Die gedagtegang is dat God die nageslag op die matjie roep vir die foute van die ouers. Maar straf is daarby nie die eerste middel waarna God gryp nie, maar die uiterste. Daar is altyd die moontlikheid tot inkeer waardeur die verbondsverhouding tussen God en mens herstel kan word. Daarom is ‘ter verantwoording roep’ ’n goeie alternatief.”

’n Woordvoerder van die NBG, Peter Siebe, meen die kwessie is aktueel: “Of dit nou gaan om die repatriëring van Islamitiese-Staat-kinders, om ons omgang met slawerny of die dekolonisasieoorlog in Indonesië, die huidige geslag dra die gevolge van wat die ouers verkeerd gedoen het. Dit wys hoe aktueel die diskussie oor dié Bybelvers eintlik is.”