Dominee oor Comrades: ‘Dis ’n geestelike reis’

Die uitdaging is wêreldberoemd: Atlete spring om 5:30 in Durban weg en het dan 11 uur 59 minute en 59 sekondes om sowat 90 km tot in Pietermaritzburg te hardloop.

En nou het ’n groep gelowiges in Kaapstad hul laaste stukkie voorbereiding vir die Comrades-padwedloop ingesit nie met ’n ligte drafsessie nie, maar met ’n koffie, ’n koeksister en ’n stewige skeut lof en aanbidding.

“Daar was meer as 100 atlete. Saam met die families en ons eie lidmate was daar 300 mense in die kerk,” het ds Theo Swart van NG gemeente Parowvallei-Oos oor die “Comrades-erediens” wat op 2 Junie gehou is, gesê.

Hierdie diens het al ’n instelling in voorstedelike Kaapstad geword. Dit word jaarliks gehou op die naweek voor die Comrades wat vanjaar weer derduisende deelnemers en ondersteuners na KwaZulu-Natal sal lok voor die wegspringgeweer op Sondag 9 Junie klap.

“Ek het gepreek uit Psalm 121 en die 5 groot bulte wat op die Comrades roete is gebruik as voorbeelde van hoe die Here elke tree van die pad met ons is. Ons moet die bulte kruis (“Cross Training” is hiervoor nodig) en ons hoef nie op te kyk na die bulte nie, maar na die Here wat ook die bulte gemaak het. Ek het veral aandag gegee aan Polly Shortts – die laaste en ergste bult so 8 km van die einde af en gesê dat die Here juis beloof dat Hy elke tree, van die wegspring tot die einde, ons Bewaarder sal wees. Dit geld nie net vir die Comrades nie, maar ook vir die ‘bulte’ in ons lewe,” het Swart oor sy boodskap gesê.

Atlete daag gewoonlik in hulle spesiale Comrades-T-hemde op by hierdie geleentheid waar koffie en Parowvallei-Oos se dames se beroemde koeksisters geniet word, het die leraar gesê. Hy het benadruk dat die gemeente inklusief is. “Alle eredienste en veral dan ook die Comrades-diens, is tweetalig sodat almal dit gemaklik verstaan,” aldus Swart, wat ook self die Comrades 27 keer voltooi het en steeds gereeld aan wedlope deelneem. “Elke atleet weet dat hardloop en veral ’n ultramarathon van 90 km ’n groot uitdaging is. Ons weet dat dit ’n geestelike reis ook is wat ’n mens net aanpak met die beste moontlike voorbereiding en ondersteuning. Die atlete het almal ingestem dat die Here in hierdie geestelike ervaring onontbeerlik is. Ek hardloop nog so vyf keer per week en dit bly vir my die manier om my kop skoon en my voete op die grond te hou – letterlik en figuurlik.”