‘Brugbediening is ’n onontdekte skat’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Gavin Meistre van Garsfontein-gemeente in Pretoria skryf per e-pos:

Ek was een van die persone wat die brugbedieningskursus van 2018 aan die UP bygewoon het. Ek wou dit nog altyd doen – uit pure nuuskierigheid. Ek was nogal verras oor die omvang en inhoud van die kursus. En nou, met Week 1 van hierdie jaar se kursus by Tukkies wat op 29 Julie begin, deel ek my ervaringe hier met Kerkbodelesers.

My verwagtinge was dat dit net twee seminare sou behels waarby ek as blote observeerder teenwoordig sou wees. Groot was my aanvanklike skok dat hierdie seminare ’n volbloed kursus is met verreikende betekenis en waarde. Ek bedoel: ’n groot klomp voorgeskrewe boeke wat ordentlik gelees moet word, ’n oopboektoets en twee take (Harvard-metodiek!) is genoeg om enige voltydse hardwerkende leraar die skrik op die lyf te jaag – veral as jy lanklaas ’n behoorlike akademiese kursus bygewoon het.  Dit kom toe ook nog op ’n tyd dat ek op persoonlike vlak verskeie uitdagings die hoof moes bied. “Die tyd … prof Malan en ds Christoph, waar gaan ek en my mede-kursusgangers die tyd kry vir alles!” Maar my Pa en my Ma het my geleer: as jy vir iets gaan, doen dit voluit en maak klaar! Ek het toe!

Hierdie kursus het my opnuut weer teruggebring na my roeping as gemeenteleraar. Dit het op ’n tyd gekom toe ek dit baie nodig gehad het. Al was die leeswerk straf te midde van ’n oorvol program, het dit my gedissiplineer om tyd te maak daarvoor. Toe ek eers begin lees, kon ek nie die boeke neersit nie. Dit het met my kop en hart gepraat – van Callaghan tot Osmer, van Nicholson tot Armour. Nou verstaan ek waaroor brugbediening alles gaan. My nuuskierigheid is bevredig. Die interimbediening sal ek bemark waar ek kom. Ek het met die kursus tot die ontdekking gekom dat ek reeds in my bediening in sommige gemeentes ’n tipe oorgangsfiguur was – waar ek gemeentes kon begelei tot ’n nuwe hoopvolle fase. Wat ’n voorreg is dit nie! Ek besef ook dat die brugbediening in die toekoms ’n groter-wordende rol kan vervul, in die lig van baie kwynende gemeentes in die hoofstroomkerke wat net wag vir brugleraars om ’n pad met hulle te stap na ’n nuwe begin. Die vraag is of kerkleiers dit gaan insien en sal verstaan watter waarde dit kan hê. Dankie aan uitstaande aanbieders (Prof Malan Nel en ds Christoph Müller), asook al die ander wat hulle bygestaan het. Julle het goed gedoen!