Wat kies julle – die tafel of die tablet?

Ons slimfone ondermyn ons menswees en ons saamwees. Dit plaas ons onder ongekende druk, in plaas daarvan dat dit ons lewe vergemaklik. Ook gesinsbande ly daaronder. Deur Fourie Rossouw


Die wêreld het een groot dorp geword waarin mense mekaar nie meer regtig ken nie. Ten spyte van al die tegnologiese hulpmiddels wat ontwikkel is om mense bymekaar te bring, het ons eintlik geen idee wat “agter die skerms” aan die gang is nie.

Ja, dit mag dalk wees dat mense deesdae soos nooit tevore nie regstreeks aan mekaar verbind is, maar dis ook ’n feit dat baie mense hul wêreld as geweldig gefragmenteerd beleef. En so alleen is soos nooit tevore nie.

Hierdie eensaamheid is veral waarneembaar tydens die groot feestye, onder meer Paastyd en Kersfees. Wanneer dit voel asof die meeste mense op die mooiste strand baljaar of iewers in die Wildtuin ’n glasie by ’n gesellige vuurtjie klink, beleef die eensames dat hul lewe onbelangrik is, selfs onsigbaar.

Die invloed: sosiaal én persoonlik

Onlangse navorsing deur die sielkundige Susan Pinker wys hoe mense dit van hul geboorte af nodig het om deel van ’n groep te wees.

In haar jongste boek, The village effect, verduidelik sy dat ’n mens nie anders kán as om die een of ander verbintenis met ’n ander mens te wil hê nie. Terwyl die sosiale platforms ’n groot bydrae hiertoe lewer, is Pinker daarvan oortuig dat om van aangesig tot aangesig in ander se teenwoordigheid te leef steeds die kragtigste vorm van geborgenheid is.

Navorsing wys ook uit dat ons hierdie fisiese geborgenheid nodig het om te floreer, selfs om bloot te oorleef. Dis broodnodig in ’n kind se ontwikkeling, en dit blyk ook ’n groot rol te speel in ons vermoë om baie oud te word.

Vandat die internet verskuif het van die rekenaar op ons lessenaar na ons foon in ons handpalm en onder ons duime, het die druk om iemand anders se beste lewe te leef dramaties gestyg. Dit gebeur dus nie net meer wanneer jy saam met Jan Tuisbly in die kar klim of alleen ’n Kersboom moet versier nie.

Jy word feitlik elke oomblik van die dag daaraan herinner dat ander mense se lewe, se beroep, se huis en se lyf beter en mooier en lekkerder as jou eie is …

En dis eintlik vanselfsprekend dat jou “verhouding” met die skerm waarop jy kyk ten koste van jou verhoudings met jou geliefdes geskied. Volgens onlangse navorsing in Brittanje kyk mense gemiddeld 85 keer per dag op hul foon, en bring die gemiddelde slimfoongebruiker tot vyf ure per dag aktief met dié foon deur.

Tegnologiereuse soos Apple en Google is terdeë daarvan bewus dat mense hopeloos te veel en te lank op hul slimfoon en tablet kuier en speel en dat dit bepaalde gevare inhou. Een van die maniere waarop Apple dit tans bestuur, is om teen die einde van die week vir jou ’n opsomming van jou “skermtyd” te gee.

Ek verstom my telkens daaraan dat my gemiddelde daaglikse skermtyd altyd meer is as wat ek gedink het dit is …

Dis egter nie net die tyd wat ons voor die skerm deurbring wat saak maak nie, maar ook die impak wat dit op ons maak. Byvoorbeeld die druk wat dit op ons verhoudings plaas.

Ons weet dat baie mense se “digitale lewe” nie volledig strook met hul werklike ervaring van die lewe nie. Vir sommige is dit selfs makliker om hul sogenaamde “beste lewe” op sosiale media uit te leef, eerder as in die werklike ruimte waarin hulle hulle bevind.

Dit beteken onder meer dat jy hoogs beïndruk is met jou selfie op Instagram – méér so as met jou ware self.

Terug tafel toe!

’n Klompie jare gelede, toe eet voor die TV nog die norm was, was daar mense wat die waarde van die etenstafel begin herontdek het. Dit was hier, aan tafel, waar geliefdes en vriende opnuut moes leer om mekaar in die oë te kyk en elke dag na mekaar se stories te luister.

Dit was veral ook ’n belangrike skuif in die kerk se nadenke oor jeug- en familiebediening. Die pleidooi om gesinne rondom ’n tafel te kry, is vandag nog net so relevant soos in die tyd van Beverly Hills 90210.

Die etenstafel het die potensiaal om ’n tempel in die kleine te wees – want aan tafel kan ons elke denkbare geloofdissipline beoefen: Ons kan hande vat en bid, boeke vat en lees, stories vertel en luister. Ons kan ons glas lig en met dankbaarheid mekaar se menswees vier.

En soos met die herontdekking van die tafel as ontmoetingsplek vir die moderne gesin en vriendekring, leer die tafel ons opnuut wat dit beteken om mekaar se medemens te wees. In ’n aanlynwêreld leer ons om “van lyn af” te wees.

In teenstelling met allerlei digitale platforms wat almal se lewe beter laat lyk as wat dit in werklikheid is, vier ons mekaar se regte lewe. In ’n virtuele tydvak leer ons weer om ’n ander aan die hand te vat. Ons leer om ons dag in woorde en stories te vertaal en te vertel, eerder as met behulp van emoji’s.

Ons oefen om langer as sestien sekondes op iets anders of iemand anders te fokus. Ons leer weer hoe om kos te waardeer. In ’n wêreld vol opgraderings vind ons rus in die dankbaarheid van ’n eenvoudige tafelgebed.

Dis natuurlik nie noodwendig waar vir die gemiddelde gesinsete nie, want slimfone maak steeds aanspraak en inbreuk op ons mees intieme lewensmomente.

Maar al hoe meer gesinne het deesdae streng reëls oor selfone vir hul tye saam. Ek het trouens gehoor van ’n groepie tieners wat mekaar beboet as iemand in die geselskap op ’n foon doenig is terwyl hulle saam eet.

Ek weet van ’n ander gesin wat tydens elke ete hul onderskeie fone op ’n hopie in die middel van die tafel pak. Hulle noem dit “die stack” – en as iemand deur die loop van die ete sy of haar foon van die hopie haal, moet hy of sy alleen skottelgoed was. Of as dit tydens ’n uiteet gebeur, moet die oortreder vir die ete betaal. In daardie spesifieke gesin is dit glo die pa wat dikwels opdok, of voor die opwasbak eindig …

’n Kers help keer

Oorweeg gerus ’n teenvoeter vir die rol wat tegnologie en sosiale media op ons verhoudings het. Wat daarvan as julle byvoorbeeld ’n kers opsteek? ’n Brandende kers is ’n belangrike simbool vir twee antieke geloofsdissiplines, naamlik gebed en feesviering. Plaas die kers in die middel van ’n etenstafel en jy skep die moontlikheid vir ’n heilige ontmoeting tussen jou, jou geliefdes en God.

“Pappa besig?”

Op ’n dag trek my tweejarige aan my broekspyp en vra vir die heel eerste keer: “Pappa besig?”

Uit die aard van my beroep moet ek gereeld tuis by die rekenaar werk. Dis gewoonlik ’n stryd om hom te laat verstaan dat ek nie met die rekenaar speel nie. Maar om my kind op so ’n jong ouderdom aan die woord “besig” bloot te stel, bly ’n teleurstelling.

Ek maak die rekenaar toe en tel my seuntjie op. Ek wil nie hê dat hy oor sy pa moet dink as “te besig” nie. ’n Mens sou gehoop het dat die tegnologie ons kon help om juis minder besig te wees – maar die waarheid is dat dit ’n al hoe groter aanspraak op ons kosbare tyd maak.

Ons twee loop deur die huis en ek sien my Bybel op die rusbank lê. Toe ek dit optel om op die lessenaar neer te sit, druk hy met sy vingertjie op die Boek en sê: “Pappa werk.”

Hierdie storie het oorspronklik in Kerkbode se susterpublikasie LiG verskyn. Die Julie-uitgawe van LiG is nou op die rakke.


Het jy van hierdie artikel gehou? Lees ook ander LiG-stories: