Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Vroueverhale tref diep


My mother’s mother’s mother: South African Women’s Writing from 17th century Dutch to contemporary Afrikaans deur Pieta van Beek en Annemarié van Niekerk
Uitgewer: Leiden University Press, 2019


In my soeke na goeie boeke vir Vrouedag, kom ek af op hierdie stewige werk. Hoewel die fokus nie per se Christelik is nie, is die aard van vroue se ervaring in Suid-Afrika soda­nig dat daar ’n bykans deurlopende Christelike ondertoon is.

Van Beek en Van Niekerk gee vir ons ’n heerlike versameling van meer as 70 vroueskrywers se werk. Die fokus is linguisties, naamlik om die ontwikkeling van Nederlands na Afrikaans na te speur. In die proses word natuurlik ook geskiedenis en letter­kunde toegelig. In hulle eie woorde word die leefwêreld van ons voormoeders oopgebreek. Suid-­Afrika se geskiedenis – sosiaal, polities en godsdienstig – word lewendig in die dagboeke, briewe en selfs lyste van vroue.

Die piëteit wat diep in ons wortels lê, kom veral in die vroeëre geskrifte helder deur. Die leser ontmoet vroulike pio­niers, sendelinge, predikers wat in die laat 1700’s sakramente bedien het! Be­kende sendingfamilies soos Murray, Neethling en Pauw is goed verteenwoordig.

Tog is dit die gewone lewe van gewone vroue wat diep tref. Dikwels word daar geskryf oor die dood van ’n kind. ’n Tragiese liefdesverhaal speel af op Meerendal in Durbanville. Die Groot Trek word beleef in die woorde van die vroue wat daar was.

Natuurlik spring ons nie die gebrokenheid van ons geskiedenis vry nie. “De schandelijke … vrijhijt van onser slaven … heeft … ons so seer niet verdreven als … de gelijkstelling met de Christenen … Dat het onverdraaglijk was … waarom wij dan ons liever verwij­deren,” skryf Anna Steenkamp (néé Retief), terwyl ander vroue hulle beywer vir die vrylating van slawe. Na Eva/Krotoa, is Dido die eerste vrou van kleur wie se stem gehoor word – eers op bladsy 746. Suid-Afrika se geskiedenis met kolonia­lisme, slawerny, apartheid en rassisme is, nes die piëteit, soos ’n goue draad deur­gaans teenwoordig.

Die bundel is in Engels geskryf, met telkens ’n baie interessante biografiese inleiding oor die skrywer, waarna haar teks in Nederlands/Afrikaans volg, saam met ’n Engelse vertaling. Die groot aantal skrywers, die vertalings as­ook foto’s maak die 960 bladsye maklik leesbaar. Van Eva/Krotoa, deur die Voor­trekkervroue, sendelingvroue, die feminis Marie du Toit tot moderne skry­wers soos Lina Spies, Joan Hambidge, Ronel­da Kamfer, noem maar op … hierdie is ’n heerlike boek om Vroue­dag mee te gedenk.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top