Hoe gemaak … as almal ver is?

Anita Goosen

“Party aande as ek gaan lê, huil ek agter ’n toe kamerdeur van verlange na my seun, dogter en twee kleinkinders,” sê 57-jarige Anita Goosen. Haar seun het ses jaar gelede na Amerika geëmigreer. Sy het onlangs ook ouma van ’n twee­ling geword, maar sy kan hulle nie gaan vashou nie omdat hulle finansies dit nie toelaat nie, vertel sy.

Anita vorm deel van ’n groot groep ouers wat in Suid-Afrika agterbly nadat hulle kinders vir verskeie redes Suid-Afrika vir ’n ander land verruil het.

“Party dae berus ek daarby, maar ander dae as hulle foto’s stuur dan loop my trane. Dis nie maklik nie. Dit voel ek is ’n ouma, maar ek is ook nie.”

Ezla Ritter

Vir Diana Louw, wie se dogter in China woon, is die verlange na haar kleinkinders ook die swaarste. “Ek mis my twee kleinkinders geweldig. Maar ek het met die verloop van tyd vrede gemaak. Veral as ek na die situasie van ons land kyk en die geweld. Dan sê ek aan die een kant dankie.”

Twee van Ezla Ritter (72) se kinders het onderskeidelik na Amerika en Italië geëmigreer. Sy vertel: “Aan die begin was dit baie moeilik. Maar ons het ’n Whats­App-groep en weet elke dag wat almal doen. Ons praat natuurlik oor wanneer ons mekaar weer sien. Maar ons praat ook oor die toestand van Suid-Afrika en Amerika. En van Trump se arrogansie!”

Graham Pienaar

“Ek mis my kinders en kleinkinders in Wellington, Nieu-Seeland vreeslik baie. Maar ons het goeie kontak op ons WhatsApp-groepie,” sê Graham Pienaar (82). “Hulle kom kuier elke jaar. Ek vind tog hulle hunker nog na Suid-Afrika en stel vreeslik belang in die nuus. My kleindogter het selfs onlangs hier in Tulbagh met haar Poolse man kom trou,” vertel Graham.

Raad vir dié wat agterbly

Moenie te veel tyd afstaan aan ge­dagtes oor wat kon gewees het nie. Fokus op dit wat is en probeer om die nuwe werklikheid te aanvaar.
Fokus op die positiewe wanneer jy met jou kinders kontak maak sodat hulle graag met jou in kontak wil bly.

Vind uit oor hulle nuwe wêreld om sodoende by hulle lewe betrokke te bly.

Talle ouers vind uit dat dit goed gaan met hulle kinders oorsee. Die wete sal dit makliker maak om jou verlies te aanvaar.

Geloof kan in dié tyd jou anker wees. Jy kan steeds oor kontinente heen op ’n geestelike vlak by hulle betrokke bly. Wanneer jy vir jou kinders bid, kommunikeer jy tog ook met hulle.

*Die wenke van dr Sulette Ferreira, emigrasie-spesialis wat ook berading gee, het in die Augustus-uitgawe van LiG, Kerkbode se susterpublikasie, verskyn.