Wreed en mooi

Hoekom sal ’n mens ’n boek oor die dood saamstel?

Dié vraag verklap reeds iets van ons vermyding van die dood wat op sigself veelseggend is. Die vraag is eer­der: “Waarom probeer ons iets ontken wat intrinsiek deel van die lewe is?” En wat bowendien nie ontwyk kán word nie.

Volgens kundiges is daar verskeie redes vir die vermyding van dié onder­werp. Hiermee net twee: Eerstens die menslike hubris; ons matelose ingeno­menheid met onsself en die oorskatting van ons belangrikheid. Dit maak die gedagte aan ’n verskynsel wat ons dikwels sonder waarskuwing tot stof reduseer, eenvoudig ondraaglik.

Tweedens, die feit dat ons altyd méér wil hê: meer besittings, meer plesier, meer aansien, dalk selfs meer godsdiens­tigheid en altyd meer tyd. Vanselfsprekend word die dood ’n natuurlike vyand, maar omdat ons dit ondanks al die tegnologiese en mediese wonderwerke steeds nie kan hokslaan nie, is vermyding en ontkenning die enigste uitweg.

Die doel met die boek was om die stilte rondom die dood te help verbreek. Die boek is egter alles behalwe stil ontvang; dit beleef nou reeds sy derde druk en daar kom steeds versoeke vir be­kendstel­lings en besprekings. My afleiding is dat mense se swye oor die dood min­der te make het met ’n kop-in-die-sand-houding en eerder spruit uit ’n soeke na die taal en verhale om oor die dood te dink en te praat.

’n Belangrike element van die boek is essays deur verskeie gesiene Afrikaanse skrywers wat op een of ander manier ’n intieme interaksie met die dood beleef het: Karin Brynard, Marita van der Vy­ver, Antoinette Pienaar, Dana Snyman, Valda Jansen, Kerneels Breytenbach, Heindrich Wyngaard … om enkeles te noem. Ma­rita se versugting is klaarblyklik vir baie mense vervul: “Wat oor­bly van my ervaring van my kind se dood, is die woorde waarmee ek die storie kan vertel. My woorde is nie naas­tenby so magtig soos Or­feus se mu­siek nie, maar dit kan moontlik ’n paar men­se bekoor of troos of bloot min­der alleen laat voel terwyl hul­le oor die dood van ’n geliefde treur.”

Die boek is ook méér as dit. Daar is onder meer ’n fassinerende gesprek met ’n sterwensbegeleier; ’n paramedikus se belewing van sy gereelde ontmoetings met die dood; ’n beknopte geskiedenis van ons houding jeens die dood; raad met verlies en die hantering van trauma; ’n stuk oor die belangrikheid van rituele rondom die dood; verskillende geloofsgroepe, asook ’n niegelowige, se sie­ning van die dood en wat daarop volg; die verslae van drie mense wat nadoodse erva­rings beleef het; ’n “dis­seksie van die dood” deur ’n pato­loog; drie humo­ristiese sketse …

Wat ek danksy die werk aan dié boek besef het: dat veral ’n mens se eie dood nie ’n neerdrukkende gewaarwording hoef te wees nie. Trouens, daar is oor­vloedige getuienis dat niks ’n mens se waardering en belewing van die lewe so intensiveer nie as ’n gesonde bewustheid van die dood.

▶ Tobie Wiese is die samesteller van Wreed én mooi is die dood (Jonathan Ball, 2019).