Hedendaagse slawerny ‘erger as in Bybelse tyd’

“Mense dink slawerny (men­sehandel) in die By­­­belse tyd was erg, dit is nou veel erger.”

So het sanger en skrywer Nadine Blom onlangs by die bekendstelling van haar jongste boek Skarlakenkinders, wat mensehandel as tema het, gesê.

“Mensehandel is ongelukkig versteek in Suid-Afrika. Ons kan nie deur die mure van huise sien waar vroue aan beddens as seksslawe vasgeketting is nie. Ook nie deur vragmotors waarin vroue dikwels na haar koper vervoer word nie,” aldus Blom.

Blom en haar medeskrywer, Anzil Kulsen, het dié fiksieverhaal se karakters op die “ware verhale” van “ware mense” in Suid-Afrika gegrond.

Baie van my drie jaar se navorsing en Anzil se jarelange werk in weerlose Noord-Kaapse gemeenskappe is vervat in die storielyn,” het Blom gesê.

In Suid-Afrika is seksuele handel nie die grootste nie, volgens Angela Pegoraro de Abreu van die organisasie A21, wat ’n voorlegging by die boekbekend­stelling gedoen het. A21 beywer hulle­self vir die geveg teen mensehandel.

Gedwonge arbeid is selfs nog groter. “Net laasweek het iemand in George ons noodnommer geskakel omdat hulle ’n konstante geskree by hulle bure gehoor het. Dit was toe ’n Zimbabwiese vrou wat ’n goeie werk in Suid-Afrika deur iemand (wat deel van ’n sindikaat is) belowe is. Sy is slegs R250 per maand betaal en moes 18 uur per dag werk en op ’n koue teëlvloer slaap,” het Pegoraro de Abreu vertel.

Die vrou is gered en vorm deel van slegs 1% van mensehandelslagoffers wat uit hulle omstandighede wêreldwyd ge­red word.

Blom, wat ook ’n toegelate prokureur is, het haar meestersgraad in internasionale reg, met mensehandel as navor­singstema, voltooi en so onder meer met slagoffers van mensehandel onderhoude gevoer.

Kulsen is projekorganiseerder vir die ATKV in die Noord-Kaap en bied skryf­­werkwinkels aan. “Ek werk in afgeleë gemeenskappe waar maatskaplike probleme aan die orde van die dag is en deur hulle stories te skryf vind my deelnemers dikwels genesing,” sê Kul­sen. Dit is ook hier waar sy dikwels met mensehandelslagoffers te doen kry, het Kulsen aan gaste by die boekbekend­stelling in ’n koffiewinkel by Woodbridge-winkelsentrum gesê.

Een van die karakters in die boek is byvoorbeeld deur haar enkelpa as seksslaaf in die middae na skool uitgehuur en later weer deur ’n sindikaat as seksslaaf aangehou, voor sy uiteindelik ontsnap het. Sy het een van die skrywers se pad gekruis en so het sy ook ’n plek in die boek gekry.

Blom gesels oor mensehandel by kerke en skole en gee ook opleiding oor aanlynveiligheid en selfbeveiliging. Kontak haar by blomnadine63@gmail.com

Skarlakenkinders kos R220 en word deur Lux Verbi uitgegee.