Vroeëkinderontwikkeling: ‘Dís wat ons kinders skort’

Net na 6:00 soggens kom die eer­ste kleuters al by Natasha Smith se tweeslaapkamerhuis in Ravensmead aan.

“Somtyds sit ek en die kinders sommer vroegoggend hier op die banke in die voorkamer en slaap tot ons wakker genoeg is om te begin leer,” lag Smith.

“Dit kan nie anders nie,” verduidelik sy. “Die meeste van my kleuters se ma’s moet vroegoggend ’n trein haal na hulle werk toe en dan kom hulle ook eers van­aand 18:00 by my aan om hulle kin­ders te kom haal.”

Smith se skooltjie is ’n voorbeeld van vroeëkinderontwikkeling wat onlangs deur president Cyril Ramaphosa as ’n vereiste vir alle Suid-Afrikaanse kleuters aangekondig is.

Tydens Ramaphosa se staatsrede het hy gesê dat daar twee jaar verpligte vroeëkinderontwikkeling (VKO) sal wees voor kinders graad 1 betree.

Talle kundiges het hierna in die media gesê dat dit nie so maklik gaan wees nie. Veral nie in armer gemeenskappe waar goeie voeding en vroeë leer nie altyd beskikbaar is nie.

Luidens die National Income Dynamics Study (2018) is 25% van Suid-Afrikaanse kinders te kort as gevolg van ondervoeding. Die studie het ook getoon slegs 40% van kinders in armer gebiede het toegang tot ’n vorm van vroeë leer, wat boonop soms twyfelagtig is.

Die NG Kerk fokus die afgelope paar jaar reeds op VKO in ’n poging om armoede en bogenoemde probleme aan te spreek.

In die Wes-Kaap is Little Seeds ’n eenstopdiens waar Diaconia en Badisa saam vir gemeentes en ander leiding verskaf om VKO vir kinders in armer gemeenskappe te bring.

Volgens dr Marinda van Niekerk, wat aan die hoof staan van die middestadbediening PEN in Gauteng, is vroeëkinderontwikkeling ook een van hulle hooffokusse. PEN het meer as 20 jaar gelede Pennies-kleuterskool en la­ter ook Sun Sparrow-kleuterskool in Sunnyside in Pretoria begin. “Maar ons het besef ons kan 40 kleuterskole begin, maar ons gaan nie ’n verskil maak en genoeg kleuters bereik nie.” Vandag het hulle ’n model ontwikkel om informele kleuterskole in die middestad van Pretoria te ondersteun, waarvan sowat 30 infor­mele kleuterskole deel vorm. Hulle verskaf opleiding en ondersteuning aan die onderwysers. PEN is ook in die pro­ses om die model in Hillbrow, Kagiso, Winterveldt en Nelmapius te dupliseer, sê Van Niekerk.

Daar is vele uitdagings in dié gemeenskappe.

Smith vertel van die twee boeties wat onlangs deur ’n maatskaplike wer­ker na haar verwys is. Hulle ma het haar lewe omgekeer, dwelms gelos en het nou ’n vaste werk, vertel sy.

“Die twee outjies is baie besig. Hulle sukkel om stil te sit. Selfs as hulle slaap is hulle baie onrustig en vroetel die hele tyd,” verduidelik Smith. “Maar,” sê sy, “hulle word geleidelik rustiger.”

Op haar sitkamervloer is gekleurde sponsteëls met die alfabet op. Op ’n tafel is deurskynende houers vol apparaat wat die kleuters by Bubble & Squeak-kleuterskool daagliks stimuleer. Gekleurde plastiekdoppies, toilet­rolle wat in die helfte gesny is en veters wat hierdeur geryg word. Roomysstokkies, wat verskillende kleure geverf is, strootjies …

“Die koningin van herwin,” noem Rouxanne Opperman haar. Opperman is vroeëkinder­ont­wikkelingsbeampte by Little Seeds wat SmartStarters on­der­steun en seker maak hulle werk is op stan­daard.

“Dit kos my niks om die kleuters te stimuleer nie,” vertel Smith beslis.

Sy moes net eers leer hóé goeie leer lyk. En dit, sê sy, het die SmartStart-kursus haar geleer.

“Wat ek nou weet en wat ek destyds geweet het … Daar is ’n groot verskil. Die ander vroue wat nou SmartStarters is, maar al jare ’n kleuterskool het, sê dit voel hulle het al die jare nie eintlik iets gedoen nie, al was hulle besig met die kinders. Dís wat onse kinders nodig het.”