Boer maak plan vir insigte, hoop

Toe daar weer een Sondagoggend ’n ontstoke medekerkraadslid op hom afpyl en die kerk kritiseer op grond van iets wat hy iewers gelees het, het dié Karooboer besluit dit is tyd vir planmaak en begin reëlings tref om die inligtingskrane ’n bietjie wyer oop te draai.

“In onse wêreld lees mense meestal net die boodskappies op sosiale media en is dan diep beswaard oor óf wat Agri SA sê óf ontevrede oor die feit dat die NG Kerk hom uitlaat oor grond,” het Christof Cloete verduidelik.

Spoel vorentoe na die dag waarop Cloete buite die kerksaal in Laingsburg se hoofstraat staan en die voorsitter van die NG Kerk se algemene sinode asook Agri SA se hoof van Landbou-ontwikkeling inwag.

Die plaaslike landbougemeenskap het heelwat gehad om voor dankbaar te wees: Koup Produsente Koöperasie vier sy 75ste jaar en hulle was buitendien besig om dié mylpaal te vier. Maar daar is kennelik ook kommer en spanning oor droogte en politiek. Laasgenoemde is waarmee Cloete gehoop het die gaste sou kon help. Natuurlik is nóg ds Nelis Janse van Rensburg nóg Annelize Crosby vreemdelinge tot die onderwerp waaroor hulle gevra is om te gesels: “die gronddebat”. Cloete verduidelik die “brief”. “Annelize het vroeër die jaar ’n toespraak gemaak met die volgende tema : ‘The heart of the law and the law of the heart’. Ek het haar gevra om weer teen (dié) lyn te praat. Aan die ander kant maak die NG Kerk, by monde van onder andere Nelis, ook dikwels uitsprake oor grond ens. So, die doel is om tydens middagete ook ’n gesprek / paneelbespreking aan die gang te kry oor die onderwerp waarby die twee wonderlike mense dan koers en rigting sal kan aandui, glo ek!” So het dit ook gebeur. Vrae is gevra, middagete is geëet.

Buite het ’n boer gaan rook. “Die afgelope ses jaar kon ek nog net een nag weg van my plaas (in die Moordenaars­karoo) deurbring,” vertel hy terwyl hy aan ’n sigaret suig in die stowwerige parkeerplek buite die saal. En dit was vir ’n siekebesoek in die stad. Die droog­­te en voortspruitende spanning op die boerdery hou hom eenvoudig te besig, sê hy. Lê dinge lam.

Hy was dalk al weer op pad terug plaas toe teen die tyd dat Janse van Rensburg die geleentheid afgesluit het met ’n ver­wysing na die profeet Jeremia, wat die beeld gekry het van ’n kante­lende pot asook dié van ’n amandeltak. “Ons moet beide vashou,” het Janse van Rensburg gesê. “Bedreiging maar ook nuwe hoop … Ons moet baie versigtig wees dat ons nie net die kantelende pot sien nie. Ons is in ’n tyd van hervorming, maar ons moet die amandeltak bly vashou en doen wat die Here ons vra om te doen.”