Wat ons by Afrikaner-dissidente moet leer

“Kom ons onthou daardie Christen-gelowiges wat van die eerstes was om bínne Afrikanerdom weerstand teen apartheid te toon.”

Dit was op die tweede dag van Excelsus se Lentekonferensie in Pretoria die oproep van prof Christi van der Westhuizen van die Sentrum vir die Bevordering van Nie-rassigheid en Demokrasie aan die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth.

Van der Westhuizen het gepraat oor baie wit mense se onwilligheid om verantwoordelikheid te aanvaar vir die skade wat apartheid aangerig het.

Sy het as voorbeelde verwys na peilings wat getoon het dat net 22% van wit respondente erken dat hulle gebaat het by die stelselmatige verarming van swart mense. Altesame 56,6% van wit mense het ontken dat baie swart mense arm is weens die standhoudende uitwerking van apartheid, en 47,2% ontken dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was.

Hierdie ontkenning van die kwaad van apartheid gebeur omdat ’n erkenning daarvan wit mense se sin vir hul eie menslikheid bedreig. Deur die ontkenning bevestig hulle hul eie identiteit. Terselfdertyd ondermyn hierdie ontkenning egter swart mense se menslikheid.

Op haar eie vraag hoe ons verby hierdie skaakmat-posisie kan beweeg, het Van der Westhuizen gevra: “Wat daarvan as ons eerder gemeenskaplikheid probeer bewerkstellig?”

Sy het verwys na Pumla Gobodo Madikizela wat gewonder het of die grootste skade van apartheid gelê het in die “onmeetbare verliese van die menslike gees”, en gesê het dat die menslike gees herstel moet word in die soek na ’n gedeelde menslike idioom. “Ons menslikheid is die sterkste wanneer ons gefokus is op wat mense verenig: deernis, en ’n etos van van versorging teenoor mekaar …” Mense moet dit wat hulle aan mekaar verbind, naamlik empatie, ontdek.

LEES OOK: ‘This little light of mine, I’m gonna let it shine’

Van der Westhuizen het aan die hand gedoen dat dit Afrikaners kan help om diegene te onthou wat in ’n tyd toe eendersdenkendheid geëis is, daar andersdenkendes was. Dit is mense soos dr Beyers Naudé wat hulle laat lei het deur waardes van empatie en medemenslikheid.

Naudé het byvoorbeeld in 1961 gesê: “Die Kerk moet ’n aanvoerder wees vir die armes, die onderdruktes, diegene wat honger ly, die stemloses, diegene wat onregverdig behandel word – nieteenstaande of hulle wit of swart is.”

Sy het ook verwys na prof Albert Geyser van die Hervormde Kerk en na proff Bennie Keet en Ben Marais en na die prys wat hierdie teoloë betaal het vir hulle andersdenkendheid.

“Die Afrikaner-dissidente van die verlede binne die kerk demonstreer vir ons die vermoë om met die ander te identifiseer. Hul lewensverhale wys hul vermoë om nie hulself te isoleer en ’n muur te bou teen diegene wat anders as hulle is nie, maar om bo die vrees waarin hulle grootgemaak is, uit te klim, en die menslikheid van swart mense te erken,” het Van der Westhuizen gesê.

Die goue draad wat deur hulle verhale loop, het sy gesê, is die bevestiging van almal se menswaardigheid.

One thought on “Wat ons by Afrikaner-dissidente moet leer

  1. Lukas Rootman says:

    Interesant dat die vroeë protesbeweging die Torch Commando soos gelei deur Sailor Malan heel uit die geskiedenis geskryf is en die groot anti-apartheid optogte wat eers dekades later deur die onderdruktes kon gedugedupliseer en nooit genoem word nie.

Comments are closed.